Posts Tagged ‘Plakboek’

Evette Weyers. Op reis deur visuele en woord landskappe

Wednesday, March 17th, 2010

Blogfokus

Evette Weyers

Hierdie blog wat beide visuele en woordbeelde aanspreek, is tergend interessant. Ek is gulsig en wil eers oor ‘n boek en daarna oor ‘n bepaalde gedig praat as van my gunsteling visuele digbeelde.  Maar eerstens iets oor beelde.

Die krag van visuele beeld en woordbeeld is onteenseglik. Dink aan die twee foto’s wat die publieke opinie in die VSA oorgekantel het téén die Viëtnamoorlog en die hele wapenindustrie se masjinerie tot stilstand gebring het. Die een was van ʼn Viëtnamese teregstelling op straat, die ander van ʼn dogtertjie wat straat langs hardloop en haar brandende klere afskeur na ‘n napalmbom.

Tydens die vloede In Mosambiek het ‘n swanger vrou vier dae in ‘n boom gesit en oplaas geboorte gegee aan ‘n dogtertjie, Rosetta. Binne een uur het ‘n reuse voël (helikopter) haar raakgesien en opgepik – ‘n kameraman in die helikopter het dit vasgevang. Weens die beeldsending hiervan het aandag van heinde en verre gefokus op Rosetta en op Mosambiek.. Vanuit die VSA het geldhulp die land binne gestroom. ‘n  Groep Zoeloe mans het ʼn liedjie geskryf vir Rosetta en ek het vyf verskillende beelde gemaak oor hierdie insident wat die kreatiewe drif van Afrika op amper argetipiese wyse  blootgelê het. Ongeag katastrofes gaan kreatiwiteit hier voort, al is dit soms net op die oorlewingsvlak.

Die krag van woordbeelde is legio. Saartjie Baartman het huis toe gekom op die rug van ‘n gedig geskryf deur Diana Ferrus. Dit het die betrokke wette in Frankryk verander.

Plakboek

 

In Breyten se boek, Plakboek,  verdig en verbeeld hy met woorde en visuele beelde sy reis saam met Yolande  deur  Frankryk na Rome toe.  Hierdie handgeskrewe boek het hy vir Yolande gemaak. Die visuele en woordbeelde vleg  organies deur mekaar soos die klanke en woorde van ‘n lied. Dis ook ‘n reis deur emosionele landskappe. Daar is ego’s van kopreise wat soos byskrifte uit ‘n ander taal registreer. Hoe intiem is gedigte nie. Yolande kon die visuele beelde lees, maar nie die woorde of byskrifte nie. Ironies.

 

jy het ‘n lyf soos ‘n duif in sy vere bly

terwyl  jy vatplek aan die verbeelding probeer kry

(al is dit slegs om die illusie te bevredig)

en die trein in ‘n klein halte bly staan

Saterdagmore:  uit ‘n warm huis tree ‘n man

so rooigewang en so swart geklee

dat hy seker op pad na ‘n begrafnis toe is

twee honde  karnuffel mekaar sorgeloos

snuffelende  jagpyle na waar gepluimde drome mag val,

gidse na ‘n onderwêreld

 

later sien jy dat die heuwels groen

maar kaalgepluk is

en die see bevlek is met fabrieke en sentrales

se afvoer

 

jy het 'n lyf soos 'n duif

Die intimiteit van ‘n gedig , is reeds oor jy jou eie visuele beeld skep. Dit  word nie deur Breyten  se tekeninge  oorrompel nie. Breyten  verplaas nie jou eie skepping nie. Dis ‘n driebeen saam-dans. Vir my is die saamloop van skilderye of tekeninge en gedigte diep bevredigend.  Jy tower steeds jou eie subteks op, in woorde of beelde.  Interessant  is dit dat Breyten hierdie reis vroeg in 1975 onderneem het en later dieselfde jaar in SA gearresteer was. Dis ook nou deel van die subteks. Hierdie bundel is eers in 1994 deur HOND uitgegee. My vriendin, Francis Galloway, wat betrokke was by die reis van handgeskrewe dokument tot publikasie, het my hiervan vertel.

Later het Breyten sy doekboeke geskep: Meesterlik! Nog ‘n dimensie wat hy oorskry  bloot met die skaal, die fisieke grootte.  Jare gelede toe ek vir nege dae deur die Kuiseb Canyon in die Namib woestyn gestap het met net kos en slaapsak op my rug,  het ek besef  hoe jy jou eie lyf as maatstaf gebruik om die afstand of grootte van iets te bepaal  in die grenslose wildernis om jou. Gedigte lei jou in konseptuele ruimte in, deur die verskuiwende landskappe van jou eie verbeelding.  Sulke groot doeke eis egter fisieke ruimte op, hulle hang letterlik van die dak af en lyflik weet jy van hulle selfs nog voor jy die beelde sien of die woorde eien. Steeds bly die grootste betowering van ‘n gedig dat dit so evokatief is.

 

eers kom die wind

die voël die vis die boom

die kind (die wind)

en ‘n begin van woorde

wat kleuterkleure aan geheue bind

met ‘n lint van klanke

 

die sterwe kom uit die lyf

 

soos getye tyd gestoot

deur  ‘n larwe lewe van sterre en sinne

gestring aan wat         om die oog

se einders       knetter en brand

die verstrengelde voël,                        die vaste vis,

die ketter,                                die kindse kind

die asem                                 weemoed

die hand                      ‘n blinde hond

snoep-snoet teen        die bederfenis     

 

van soet wind

 

Een van my vriendinne aan wie ek die gedig gestuur het wou by my weet wat Breyten nou eintlik sê want sy kan nie die kloutjie by die oor kry nie. Ek het terug geskryf:

Breyten is meer soos ‘n rukwind wat  deur die vergete boorde van jou verbeelding waai, deur jou oerwoude en landerye,  deur jou huis en haard. Die betekenis vir my is alles wat hy losgeruk het , oopgekloof het en al die klokke wat hy laat beier het. Dit is reeds die persoonlike intimiteit van ‘n gedig . Om dan gevra te word om logies  betekenis te skep uit al die paadjies wat oopgegaan het, vrugte wat los gewaai het , soms dakplate wat afgewaai het en die ego’s van assosiasie, wat wyer en wyer uitkring deur jou lewe, is ‘n heel ander reis. Wat ook sy eie openbaringe bied.

Die gedig begin as asem,wind, lewe en gaan oor na die sterwe as uitstoot, uitval uit verval;  (verstrengelde voël, kindse kind) . Die twee getye van lewe en sterwe.  ‘n Vriend wat in die Angola-oorlog was, het my vertel hoe die dood eers soos ʼn katjiepiering ruik. Breyten se “die bederfenis van soet wind” ruik dus vir my na katjiepieringMet linte van sterre en sinne string hy die heelal se ontstaan aan lewenssiklusse van larwe tot mens,  van sein, bewussyn tot kwyn en verdwyn.

Breyten is so aansteeklik kreatief. In antwoord op hierdie Lappaseit-doekboeke het kunstenaars hulle sluise oopgetrek en hulle riviere laat vloei. Die kunswerke en musiek was pragtig  en ‘n bulderende verering van een van ons grootste digter-skilders. Eugénie Grobler en Pedro Kruger het die gedigte getoonset en dit ingebrand op ‘n CD. Party van ons het beeldgemaak oor die gedigte. Die toneelstuk Wemeltong was geskep en die doekboeke was fisies in  die opvoering gebruik. Sandra Prinsloo en Andrew Buckland  speel o.a. daarin met Ilse van Hemert as regisseuse.  Breyten se gedigte en die doekboeke het ons almal net so geraak soos Rosetta se geboorte en die Mai Lai dogtertjie met brandende klere se nood, en nog meer.  In hierdie geval  was ons verruk, vreugdevol verruk. Ons moes iets skep  om in balans te bly met soveel  kreatiewe uitmuntendheid, iets skep om ons te anker aan die aarde anders sou ons wegwaai met die volgende orkaan van ʼn gedig.