Engels, Engels, alles Engels
Tuesday, March 2nd, 2010Vir die eerste maal sedert ons die Poetry Crawl begin het, voel ek toe die naweek so verlate soos ’n uil in die woestyn. Water, water everywhere and ne’er a drop to drink. Want deur die jare het ons lede een-een weggeval – opgegee of afgesterf of weggetrek – en meteens is ek die enigste van die “stigterslede” wat oorgebly het. Erger nog, ek is die enigste Afrikaanssprekende.
Ek sit daar met my Mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (want al het ons reeds liefde as tema gehad, is daar genoeg gedigte vir ’n herbesoek) en Boerneef en Eybers en Breytenbach sidder daarbinne van wanhoop. Want vanaand is alles Engels, selfs Antjie Krog. Nie dat die meeste van die lesers en luisteraars nie tot ’n mate Afrikaans magtig is nie, maar as mens ’n gedig moet parafraseer in ’n ander taal, gaan iets verlore.
Ja, ja, ek weet ek het al voorheen gesê jy kan maar vir my gedigte lees in Kreools en Arabies en Swahili en ek sal dit nog mooi vind. Dit geld steeds. Immers het een van ons vorige lede dikwels vir ons gedigte in die oorspronklike Russies gelees. Maar as mens aan die ander kant van die draad staan … Dan lees mens maar eerder sonder verduideliking en miskien ’n lang ritmiese gedig wat jy net om sy klank kies.
Ek is nie ’n fanatiese kampvegter vir Afrikaans nie. Ek sal dit in en om my koester en dit praat waar ek kan, maar ek gaan nie petisies teken of toyi-toyi daaroor nie. As dit moet uitsterf op Cullinan se Poetry Crawls, dan is dit maar so. Maar miskien, na nege jaar waarin ek nie een Crawl gemis het nie, moet ek maar my taal vat en loop. Elke ding het sy bepaalde tyd. ’n Tyd om te kom en ’n tyd om te gaan.





