Posts Tagged ‘Poetry Crawl’

Engels, Engels, alles Engels

Tuesday, March 2nd, 2010

Vir die eerste maal sedert ons die Poetry Crawl begin het, voel ek toe die naweek so verlate soos ’n uil in die woestyn. Water, water everywhere and ne’er a drop to drink. Want deur die jare het ons lede een-een weggeval – opgegee of afgesterf of weggetrek – en meteens is ek die enigste van die “stigterslede” wat oorgebly het. Erger nog, ek is die enigste Afrikaanssprekende.

   Ek sit daar met my Mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (want al het ons reeds liefde as tema gehad, is daar genoeg gedigte vir ’n herbesoek) en Boerneef en Eybers en Breytenbach sidder daarbinne van wanhoop. Want vanaand is alles Engels, selfs Antjie Krog. Nie dat die meeste van die lesers en luisteraars nie tot ’n mate Afrikaans magtig is nie, maar as mens ’n gedig moet parafraseer in ’n ander taal, gaan iets verlore.

   Ja, ja, ek weet ek het al voorheen gesê jy kan maar vir my gedigte lees in Kreools en Arabies en Swahili en ek sal dit nog mooi vind. Dit geld steeds. Immers het een van ons vorige lede dikwels vir ons gedigte in die oorspronklike Russies gelees. Maar as mens aan die ander kant van die draad staan … Dan lees mens maar eerder sonder verduideliking en miskien ’n lang ritmiese gedig wat jy net om sy klank kies.

   Ek is nie ’n fanatiese kampvegter vir Afrikaans nie. Ek sal dit in en om my koester en dit praat waar ek kan, maar ek gaan nie petisies teken of toyi-toyi daaroor nie. As dit moet uitsterf op Cullinan se Poetry Crawls, dan is dit maar so. Maar miskien, na nege jaar waarin ek nie een Crawl gemis het nie, moet ek maar my taal vat en loop. Elke ding het sy bepaalde tyd. ’n Tyd om te kom en ’n tyd om te gaan.

Poetry Crawl

Monday, July 13th, 2009

As ek reg onthou, was dit Saterdag 1 Desember 2000. Die aand van ons eerste Poetry Crawl. Somer en wyn en rondslenter van huis na huis, waar ons telkens gedigte lees. Die stand van die hemelliggame op daardie eerste aand kan ek nie onthou nie, maar sedertdien het dit tradisie geword om dit so na as moontlik aan volmaan te hou. Omdat mens dan in die maanlig kan stap. ’n Groep filosoferende woordliefhebbers halfdronk aan poësie en OBS sal sekerlik nie ’n maklike teiken wees vir enige aspirerende krimineel nie.

   Laas week was dit weer volmaan en, as gevolg van ’n handvol troues en uitstallings en die sonnewending, reeds vyf maande sedert ons vorige Crawl. Kom Saterdag was dit dus weer hoogtyd. Om een van ons getroue “lede” tegemoet te kom, ’n Ingelsvrou uit die Orkney-eilande wat altyd geduldig saamluister na die Afrikaanse gedigte sonder om veel te verstaan, was die tema dié keer Engelse gedigte.

   Gooi nou só ’n spul saam voor die kaggelvuur: Shakespeare, Blake, Ted Hughes, Sylvia Plath, T.S. Elliot, Seamus Heaney, Robert Frost, Wilfred Owen en andere, en jy kry nie net wonderlike poësie nie, maar driftige geselskap. Elke gedig het kommentaar ontlok óf oor die woorde self óf oor die digter daaragter. Wat my weer eens laat besef het hoe een enkele gedig die kruispad na ’n duisend wêrelde kan wees.

   Of jy dus loop of draf of slenter of kruip, doe so voort die wêrelde in. Daar voor wag woorde.

 

   NS: Met baie van ons plaaslike Poetry Crawl-lede wat mettertyd weggedryf het, wend ons ons nou tot ander belangstellendes wat ons van tyd tot tyd saamnooi. As jy naby genoeg bly om ’n aand in Cullinan te vertoef en ons hou genoeg van jou, kan jy dalk ons uitnodigingslys haal.