Posts Tagged ‘Poetry International’

Louis Esterhuizen. Februarie is liefdesmaand, inderdaad

Tuesday, February 19th, 2013

Februarie is inderdaad die maand van die liefde en om dié geleentheid te vier, het Poetry International ‘n spesiale uitgawe verlede week as deel van die wêreldwye Valentynsdagjubelinge geplaas. Volgens die lokteks die volgende: “To help you celebrate (or ignore) Valentine’s Day in style, we’ve collected a number of articles, poems, audio recordings, and videos for the occasion. In several articles from our substantial archives, poets from India, Israel, and Japan talk about having to fight those we love, the torments of love, and poetry as love.”

En dit is veral die artikel oor die Israeliese digteres, Haviva Pedaya, wat my oog gevang het; veral vanweë die verband tussen haar digkuns en die van Emily Dickinson wat deur Rami Saari, skrywer van die oorsigartikel “The Torments of Love”, getref word: “A search for God and for love is riddled with doubt and phrased in a language that borrows from the old and makes use of the new; poet and scholar Haviva Pedaya might be considered Israel’s contemporary Emily Dickinson. A rather special weave creates the poetic fabric of Haviva Pedaya’s From a Sealed Ark. This book presents to its readers a poet who faces many existential problems and often feels that she is on the edge of frustration and hopelessness. However, it should be noted that Pedaya does not immediately block all the openings to hope, and that she does provide a way out from the moments of crisis and despair in her poetry, and also an escape into meaning.”

By wyse van illustrasie haal Saari dan die slotreëls van Pedaya se bundel, From a Sealed Ark aan:

One thing have I asked and it I seek
your dwelling in me your giving me a spirit
one thing I cried when I remembered myself
for then when I prayed I lacked nothing
and now that I desire nothing
everything is trampled in me please be gracious to me and pity
bless my days purify them
raise them like a daughter crying over the apple of her eye
please if you can.

Haviva Pedaya

Na ‘n nogal indringende bespreking van die betrokke bundel, en tipering van haar digstyl, sluit Saari sy betoog met die volgende samevatting: “Pedaya mixes well-known literary quotations with expressions from spoken Hebrew. Her language draws on earlier forms of the language, sometimes ancient Hebrew, and therefore she can be difficult for those whose linguistic knowledge is superficial. Haviva Pedaya’s first book is witness to the talent of a real poet, to her deep knowledge of the Hebrew poetry that preceded her, and to her ability to create a brilliant combination of form and content somewhere inbetween old and new.”

Inderdaad. Gaan kyk gerus. Daar is sommer nog heelwat voorbeeld van dié uitsonderlike digter te vind by Poetry International.

Maar – die lekkerste aspek van Poetry International se lifedesdoepa is die reeks liefdesverse wat hulle uit hul argiewe saamgestel het. ‘n Twintigtal gedigte wat jou telkens verras met die verskeidenheid van aanbod; gedigte van die heel vernaamste digters wêreldwyd … En ja, die heerlike verrassing dat Charl-Pierre Naudé hom eweneens in dié uitgelese geselskap bevind met sy onvergeetlike vers “Teen die liefde”. Vir jou leesplesier plaas ek dit hieronder. Die Engelse vertaling daarvan (deur die digter self) kan ook op Poetry International gelees word.)

***

Teen die liefde

Is dit waar ons nou is? Hiér,
reg langs mekaar, en tog so ver uiteen;
twee liefdesvoëltjies wat na mekaar toe vlieg
in ’n transmissie waarvan die sein verbrokkel
tot vier liefdesvoëltjies – en verder opbreek – ’n hele sardientjieloop
wat nimmer die ander se strand sal haal nie.

Ek is teen die liefde, die hele storie van vermenigvuldiging:  
Die Vatikaan se mooibroodjiesbakkery,
sowel as die viswinkel langsaan.

Jou opgeprikte borsies flous my nie,
jy’t maar net jou pantser uitgeklop.
Die metafore is soldate, die gebare almal draagbare,
en jy’s ’n baboesjka-poppie
gevul met napoleons wat net al hoe kleiner word.
Stroop die vredemakers kaalgat en gooi hulle by die vensters uit,
Paasbolletjie-kant eerste! Die middelgrond traak my nie meer nie.
Kom ons breek op, laat ons die atoom kloof;
dít sal ons minstens nie in die steek laat nie, tot in die oneindigheid.
Ons soet woordjies? Dié het suur geword –
die giftige kersiekoekies van ’n versaakte voodoo-ritueel.
Al goeie hiervan is om te sien hoe die beraders
en priesters op die vlug slaan,
daardie swart poue in hul nuttelose sandale.
Ek is teen die liefde. Laat die kontinente uitmekaar dryf.
’n Nuwe wêreld maak. Nuwe ontdekkers.
’n Ander godsdiens.

Ek is teen sin. Ek is teen onsin ook.
Nou die dag nog is ’n vark se vrug
met ’n menslike spermsel gekruis.
Ek’s heeltemal daar voor.
Dankie meneer meisiedemone,
mevrou kolonel vlieënde vis,
vir paddas reën op die buikspreker,
dat jy die goëlaar só moes vasketting
aan die boord se hangende lemoene;

en die gilspoke wat die Trappis gery het,
jy kan nooit ’n nagmerrie vertrou nie.
Nou moet ek weer voor begin –
was dit nodig om my Drie Apies te steel?

Poplappie Zeus, Moedertjie Son,
jy was my Pantheon gefotostateer
en deur die wind tot lewe gewaai;
nou flapper die verinneweerde tempel
die ene vlêrmuise.

Wat het van ons geword? Waar is die herinneringe?
Ons is aan mekaar se kele soos arende,
verstar in ’n opgediepte familiewapen.

Dit word somer op die hoëveld, waar ons albei woon.
Hulle noem hierdie streek die Wieg van die Mensdom,
waar die eerste mens-ape rondgeloop het.
Die geraamtes van die oertiere lê weggepak
in die kalksteen soos virtuele vleuelklaviere.
Nog ’n jaar verstryk. Die naakte savanne sing. En die weerlig flits
soos my rekenaarskerm – wat dié dokument nou bêre.
Skarrelende makelaars van die jong republiek verbeel nuwe markte
en vergruis met hulle rondgetrap die oeroue skedels.
Maar terwyl alles weer begin lewe, het ons liefde gesterf.
Kyk, tarentale kom wikkel-wikkel uit die gras in hul tjalies van grafiet.
Hulle is die poue, die donsvuurwerke, van lank, lank gelede –
wat verdof het op die retinas van ons twee se lyke.

Liefde: die verborge kategorieë,
die beskilderde deure van die heuningkatakombes.
En nou dít. Verdomp. Fokkit. Vervolging.

Tyd: ’n klip versteende aarbeie,
die piekniekmandjie wat deur ’n  bobbejaan gesteel is
naby Sterkfontein Grot,
en die vermiste paartjie.
Ja dít. Móér.

Ons slaap nou op die bodem van ’n see.
Ons gesigte kyk in teenoorgestelde rigtings,
twee profiele op afsonderlike munte.
Ons hare wat kon lig op die briesie van die oomblik,
lê nou geslaan in die wind van die ewigheid.
Ons is ’n verlore skat.
Die skip het in onweer gestrand.

Maar eendag, op ’n mooiweersdag in die verre toekoms
sal twee duikers, ’n ou en ’n meisie,
verliefde skattejagters in die vlak water,
my en jou opnuut daar vind,
met hul splinternuwe lywe
ons weer opdiep
uit hierdie vergete wrak.

 

© Charl-Pierre Naudé

 

Louis Esterhuizen. ‘n Nuwe baadjie vir Poetry International

Wednesday, May 30th, 2012

 

Een van my gunsteling webtuistes, Poetry International Web, het onlangs nog onder fel kritiek (deur veral Nederlandse digters) deurgeloop weens onvoldoende fondsbesteding en webbeheer. Pas het hulle egter ‘n gans ander baadjie aangetrek en ‘n indrukwekkende nuwe webblad gevestig; ‘n webblad wat nie net meer gebruikersvriendelik is nie, maar wat inderdaad gaan poog om die totale reikwydte van internasionale digkuns te verbreed … En ek kan nie wag op die plesierige ure van leeswerk wat hier gevind (gaan) kan word nie!

Volgens die webmeesters se verklaring, die volgende: “We are very excited to launch the new website of Poetry International, which merges the online poetry magazine and archive of Poetry International Web (PIW) with the website of the Poetry International Foundation, organiser of the annual Poetry International Festival in Rotterdam.”

In die argiewe (wat oorgehewel is van die vorige PIW-blad), kan letterlik duisende digters se werk, asook 1,147 artikels gevind word; gedigte wat in sowel die Nederlandse as Engelse vertaling beskikbaar gestel word. Luidens die verklaring word 81 lande hierdeur verteenwoordig. Maar nog is het einde niet: “With new poets and poetry being published all the time, this new website is an ever-growing, dynamic resource of international poetry, which will never be truly finished.”

En sommer met die intrapslag word daar gefokus op die Noorweegse digkuns. Digters wat met die mees onlangse uitgawe aan die bod gestel word, is: Inger Elisabeth Hansen, Steinar Opstad en Jan Erik Vold.

Pure lekkerte!

Vir jou leesplesier volg ‘n gedig van Jan Erik Vold hieronder.

***

In Memory of Radka Toneff

Norwegian jazz vocalist, 1952-1982

It’s autumn. Leaves are falling. A friend
drives her car

into the woods, she who was always with us
with her smile and her

thoughtfulness – yet she was
sans canoe? The ballad of the sad young men is not

the song of the birch, turning golden
when the wind gusts

hit. Or the frost
pulls out his wire cutter. What kind of garments

lie on the ground, where the birch tree
stood? Radka, we miss you. The sun shines

like a bedpost
above the spruce grove.

 

© 1988, Jan Erik Vold (Uit: Blåmann! Blåmann! (CD)
Uitgewer: Hot Club Records, 1988

 

Poetry International Web fokus op Christine D’haen

Friday, February 11th, 2011
Christine D'haen

Christine D'haen

Met die nuutste uitgawe van Poetry International Web word daar gefokus op die Vlaamse digter, Christine D’haen, wat in 2009 oorlede is. Hierdie erkenning is inderdaad welverdiend aangesien D’haen ‘n besonder begaafde digter was wat op haar kenmerkende stil manier ‘n beduidende bydrae tot die Vlaamse digkuns gelewer het. Volgens Patrick Peeters se oorsigartikel, die volgende: “Christine D’haen was undoubtedly the most important female poet of post-war Flemish and Dutch poetry. Her poetical work is unique in its voice, remarkable in its wide spectrum and incomparably rich in its content and form. As the first woman in the list of illustrious predecessors to that date, she was awarded in 1992 the highest literary prize possible to obtain in the Dutch-speaking area, the three-yearly Prize for Dutch Literature.”

Soos dit die geval is met Cas Vos hier ter lande, was D’haen veral bekend vir die wyse waarop sy klassieke tekste binne eietydse konteks kon herkonstrueer. Haar debuut in 1943, die lang narratiewe vers “Abélard and Héloïse”, staan steeds as ‘n indrukwekkende voorbeeld hiervan. “Her early poems at first sight looked like pre-war neo-classical poetry, with their refined ideas about form and their common theme of conflict between a sensual eroticism and an intellectual desire for spiritualisation.”

Dit is egter Peeters se opmerkings ten opsigte van tyd as tema in D’haen se werk, wat my oog gevang het: “From the beginning, time has been the central theme of her poetry. Christine D’haen has always been fully aware of the short time people were given during their life span. With her poems she sought to erect little monuments of perfection that could withstand time. About her favoured form, the elegy, she once said in an interview: “Every elegy is a sort of eternalisation.” At the same time, she was convinced that nearly all her poems were in fact imperfect, and therefore could be affected by time.”

As huldeblyk aan hierdie besonderse digterskap, plaas ek haar gedig “Dodecaëder Twaalf Douzains, I”  onder aan vanoggend se Nuuswekker. (Terloops, op die webblad by Poetry International Web is daar nog etlike ander gedigte wat gelees kan word.) En – indien dit jou interesseer – kan jy ook Yves T’Sjoen se essay oor D’haen se gebruik van peritekste lees. Om ook nie van Zandra Bezuidenhout se vertelling van haar ontmoeting met Christine D’haen te vergeet nie …

***

Sedert gister het twee bydraes bygekom. In die Buiteblik het Marie-Alice Boshoff ‘n stuk geplaas oor Alice Nahon, ‘n relatief onbekende Vlaamse digter, terwyl Andries Bezuidenhout weer oor landskappe skryf in sy stuk oor die paradys deur motorvensters.

En daarmee is die naweek op hande. Nuuswekker hervat weer Maandag.

Mooi bly.

LE

 

Dodecaëder. Twaalf douzains, I

 

Als Tijd was, zaten, praatten wij, zolang tijd was:
over de dood. Tijd had alles, maakt tijd, aan tijd
bestaat steeds meer. Je bent een baby’tje, nu schreit
je stemmetje natuurlijk nog, je bent er pas.
Elk ogenblik word ik in zijn, wist ik, altijd
wist ik mijn wortel daar, hier nu moet uitgerukt,
uit aardes voet: het oog en brein, nog zo verrukt
blijven; wat was blijft, zijn wij ‘t niet geweeste kwijt?
Als Tijd was, zaten wij, zo vol geluk, en praatten
over ‘t gedicht: dat daar de tijd, door ons geteld
stolt, fonkelt, van al ‘t niet geweeste zwelt,
dus zitten wij daar samen nu zoals wij zaten.

Zurbarán
Hiëronymus met Paula en Eustochium
Washington

 

© Christine D’haen (Uit: Miriors. Gedichten vanaf 1946, 2002: Querido Uitgevers)

 

Donderdag, 18 Junie 2009

Thursday, June 18th, 2009

 

Gert Vlok Nel
Gert Vlok Nel

Die veertigste Poetry International te Rotterdam loop môre ten einde. By De Contrabas kan ’n kostelike berig hieromtrent gelees word. So is daar byvoorbeeld die volgende verbluffende eerlikheid deur Martin Mooij (78) wat dié wêreldberoemde poësiefees in 1969 geïnisieer het; toe hy gevra is wat vir hom die vernaamste indruk is van die 26 jaar wat hy as hoof-organiseerder van die fees opgetree het, was sy antwoord: “Mijn onvermogen. Ik was niet zo’n goede organisator”. Op ’n vraag na die belang van die fees vir die stad Rotterdam het hy soos volg geantwoord: “Dit is de haven van de poëzie, met import en export.’ Inmiddels zijn er dichtregels gestold in neon op kantoren in de stad en trekken ze op vuilniswagens van de Roteb door de wijken.” (’n Meer uitgebreide berig kan by De Volkskrant gelees word.) Digters wat aan vanjaar se fees deelgeneem het, is onder andere Jacques Roubaud (Frankryk), Bei Dao (China), Gerrit Kouwenaar (Nederland), Matthew Sweeney (Ierland) en Valzhyna Mort (Rusland). Ons eie digkuns is verteenwoordig deur ons literêre ambassadeur, Charl-Pierre Naudé, en soos vroeër berig: ons immergroen troebadoer, Gert Vlok Nel. Terugvoer wat ek reeds ontvang het van iemand wat hul sessie bygewoon het, is dat hulle albei skitterend was en algemeen byval gevind het. (Gaan lees hul gedigte op hierdie webblad en luister veral na Gert se voordrag van “in die begin was die woord”.)

 

Terloops, die relletjie rondom die “Rotterdamse aand” waaroor Nuuswekker op 12 Mei berig het, het toe sonder voorval plaasgevind; Rien Vroegindeweij en Jules Deelder ten spyt. Lyk my asof Martin Mooij reg was toe hy in bovermelde onderhoud die opmerking gemaak het dat “de poëzie in de harten van de Rotterdammers (zit).”

 

Mag jy pret hê vandag in alles wat jy doen. Of nié doen nie. En gaan kyk en luister na die video-grepe wat ons webmeester onder “Lees meer” begin plaas het. Dié lysie sal met verloop van tyd aangevul word.

 

Mooi bly.

 

LE

 

Onderhoud met Alfred Schaffer

Monday, May 18th, 2009

Diversiteit in Nederlandstalige poësie

Alfred Schaffer in gesprek met Louis Esterhuizen

 

 

Alfred Schaffer (1973) woon van 1996 tot begin 2005 in Kaapstad, waar hy sy doktersgraad behaal aan die Universiteit van Kaapstad by die Departement Afrikaans en Nederlands. Vir Beeld en Die Burger skryf hy rubrieke oor Nederlandse poësie en saam met Antjie Krog is hy samesteller van Nuwe Stemme 3. Hy debuteer in 2000, met sy digbundel Zijn opkomst in de voorstad, en sy sesde en voorlopig laaste bundel, Kooi, het in 2008 verskyn. Tans bly hy in Amsterdam, waar hy werk by die literêre uitgewery De Bezige Bij.

 

Alfred Schaffer

Alfred Schaffer

 

Alfred, vir ons hier in die ander halfrond lyk dit asof die Nederlandse digkuns een van die mees dinamiese digkunste in wêreldliteratuur is; nie net vanweë produksie nie, maar ook in terme van gehalte. Kan jy vir ons ’n idee gee van hoeveel digbundels (min of meer) per jaar by die gevestigde uitgewerye verskyn en wat die gemiddelde verkope per bundel is?

 

Die internasionale ekonomiese krisis ten spyt, lyk dit vir my asof daar nie juis minder digbundels verskyn in die Nederlandse taalgebied nie – ons praat nou van Nederland en België saam. Die Vlaamse digter en kritikus, Herman de Coninck, het in 1996 begin met die uitgee van die honderd beste gedigte van die lopende jaar. Die boek met die honderd beste gedigte van 2008 is saamgestel deur die digter en kritikus Rob Schouten. In sy voorwoord skryf hy dat daar in 2008 106 bundels by gevestigde uitgewers verskyn het, wat meer digbundels is as in 2007. Vir so ’n klein taalgebied is dit sekerlik baie gedigte vir een jaar. Die gemiddelde verkope is moeilik om vas te stel. Ek dink die meeste digters verkoop so om en by die tweehonderd, driehonderd boeke, dan is daar verskeie digters wat tussen seshonderd en ‘n duisend verkoop. Jy het natuurlik ook dié wat meer as tweeduisend of drieduisend verkoop, struktureel of insidenteel, maar hulle is tog skaars. Die gemiddelde lê, dink ek, iewers rondom vyfhonderd eksemplare. Gehalte is moeilik om vas te stel – hoe kan mens so iets meet? Smaak word bowendien kultureel bepaal. Sekerlik word daar mooi en baie poësie geskryf in Nederland, maar ons het nie regtig kandidate vir die Nobel-prys nie; veral nie na Hugo Claus se afsterwe verlede jaar nie. In Afrikaans is daar darem steeds Breytenbach en Antjie Krog. Tog dink ek dat ons hier ’n groot groep kwalitatief goeie digters het; onder elke tien digters tel ’n mens dalk sewe sterk digters. Maar dit bly alles maar growwe veralgemening; poësie is immers nie ’n sport waar ʼn mens hoef te kompeteer oor wie die beste is nie. 

 
 

 

In Suid-Afrika is daar jaarliks ’n beduidende hoeveelheid bundels wat nié by gevestigde uitgewers verskyn nie; dikwels met wisselende sukses. Bestaan daar dieselfde tendens in Nederland en hoe word hierdie bundels in die algemeen ontvang?

 

 

 

Daar is wel digbundels van digters wat nie by gevestigde uitgewers verskyn nie, maar jy sal hulle nie maklik vind in die deursnee boekwinkel nie. Meestal is die verspreiding maar deur websites en blogs, sowel as vriende en familie. So daar’s nie eintlik ’n ontvangs vir sulke boeke in terme van resensies of ander publikasies nie. Digters wat op die lang termyn in “eie beheer” uitgee, is eintlik per definisie nie baie interessant nie, sou ’n mens kon sê, anders sou hulle al ontdek gewees het deur gevestigde uitgewers – ek wed jou hulle het almal op ’n slag hul luck probeer by een. Ook sal jy sien dis dikwels mense wat veral digter wil wees, nie noodwendig wil dig nie. Dis poësie vol clichés en platgewalste emosies. As redakteur by De Bezige Bij sien ek sulke manuskripte elke week weer met die pos kom, die een nog slegter as die ander. Gaande oor hul eie werk, en begeleidende briewe (nogal in die derde persoon enkelvoud gestel, asof hulle reeds ’n flapteks skryf) waar jy lees dat hulle vriende en familie mal, mál was oor hulle skitterende gedigte. En wat jy dan vervolgens lees, is so onstellend sleg dat jy wonder of hulle ooit een gedig gelees het.

 

Ten einde ’n bepaalde digkuns dinamies uit te bou en lewenskragtig te hou, word besonderse inisiatiewe en projekte vereis. Kan jy dalk ’n paar van hierdie inisiatiewe noem wat die Nederlandse literatuur van ander – en meer spesifiek die Suid-Afrikaanse – onderskei?

 

Daar is genoeg aktiwiteite, sowel in Nederland as in Vlaandere. Party digters dink selfs daar is te veel; dat dit die poësie vervlak, aangesien dit bloot die entertainment element van die poësie belig, en die moeiliker en uitdagender soort verse en digter negeer. ʼn Mens kan dink aan die reeds genoemde boek wat elke jaar 100 gedigte uitlig van die afgelope jaar, ’n soort klein jaarlikse kanon. As só iets in Afrikaans uitgegee sou kon word, sou dit ’n groot stimulerende tradisie ook in die Afrikaanse poësie kon skep. Miskien ietwat minder as 100 gedigte, aangesien daar in Afrikaans nie so baie digbundels in ʼn bepaalde jaar verskyn nie. Dan was daar die aandag rondom die verkiesing van die “Dichter des Vaderlands”, met gepaardgaande tv-optredes en interviews met die benoemde digters. Voorts kry jy festivals en geleenthede soos Poetry International, de Week van de Poëzie, Gedichtendag, Koningsblauw en Saint Amour (beide in Vlaandere), de Nacht van de Poëzie, en jaarlikse geldpryse, soos die VSB Poëzieprijs (€ 25.000) en talle ander groot en kleiner pryse.

Daar is nog altyd baie literêre tydskrifte wat primêre werk publiseer en analiseer, al is die intekenare dikwels bitter min. Gevolglik verdwyn meer en meer tydskrifte, enersyds as gevolg van die kompetisie met die internet, en andersyds as gevolg van die afnemende belangstelling vir kuns en kultuur in die algemeen. En natuurlik is daar baie subsidies beskikbaar. Die NLPVF (Nederlands Literair Productie -en Vertalings Fonds) en Het Fonds voor de Letteren, wat geld gee vir projekte (vertalings, reise, besondere uitgawes), en skrywers en digters geld gee om ’n bepaalde bundel of roman te skryf, met bedrae tussen € 10.000 en € 60.000. Dan is daar natuurlik ook nog die Poetry Slams, op klein skaal in kafees en op groter skaal op festivals, en daar is groot literêre festivals deur die land waar poësie en letterkunde welkom is te midde van ander kuns-dissiplines (teater, musiek, beeldende kuns), soos De Wintertuin (Nijmegen), Crossing Border (Den Haag), Winternachten (ook Den Haag) en Geen Daden Maar Woorden (Rotterdam). Literatuur het nie meer so ’n groot plek in die Nederlandse onderwysstelsel soos 10 of 20 jaar gelede nie, so al hierdie inisiatiewe is ’n manier om aandag te vestig op poësie. Maar dikwels is dit veral spoken word wat mense aantreklik vind, gesigte en persoonlikhede; of dit egter die boekverkope bevorder, kan ons ernstig betwyfel.

Dit help juis ook nie wanneer koerante al hoe minder aandag aan poësie bestee nie; dis amper minagtend. Daar verskyn wel resensies op internet, maar die impak (status) en die gehalte van dié artikels is dikwels maar bedenklik.

 

Indien ’n mens kyk na die aantal Afrikaanse digters wat die afgelope jare genooi is na Poësie-feeste in Nederland, asook die toenemende teenwoordigheid van Afrikaanse poësie in vertaling, wil dit voorkom asof daar ’n groeiende belangstelling in Afrikaanse digkuns daar in die noorde bestaan. Is dit ’n korrekte afleiding en indien wel – wat sou jy sê is die rede(s) hiervoor?

 

Daar is steeds belangstelling in die  Afrikaanse poësie, ja. Veral Gert Vlok Nel en Antjie Krog is regtig populêr, soos ook Ingrid Jonker. Gert Vlok Nel (‘Beautiful in Beaufort-Wes’) en Jonker (‘Korreltjie niks is my dood’) het hier gewild geraak deur dokumentêre-films op tv wat die Nederlanders aangrypend gevind het. Daarna het hulle poësie begin verkoop. En Antjie maak opslae deur middel van haar optredes en voordrag. Die mense is gaande oor haar skitterende gedigte ook, en dit werk baie goed saam met haar persona op die verhoog, en haar gedurfde en intense lees. Sy verkoop seker meer gedigte as die meeste Nederlandse digters. So, die Afrikaanse poësie is goed verteenwoordig, met die name wat tel daar in Afrikaans – Breytenbach en Stockenström is ook al in Nederlands vertaal. En dan is daar die besonderse geval van Elisabeth Eybers, wat op ’n manier ook ’n bietjie ’n Nederlandse digter geword het. Andersom is daar ongelukkig min belangstelling vir wat hier in Nederland en Vlaandere aan die gebeur is. De Coninck en Gruwez is vertaal, ja, en selfs Stef Bos se ‘gedigte’ word uitgegee in Afrikaans, maar dit is nie eintlik die digters wat régtig tel nie, en daar is genoeg, soos: K. Michel, Tonnus Oosterhoff, Astrid Lampe, Leonard Nolens, Hans Verhagen, Miriam Van hee, Mustafa Stitou, Esther Jansma, Arjen Duinker, Eva Gerlach, Peter Verhelst, Menno Wigman, Nachoem Wijnberg, you name it. Dit is asof die Afrikaanse leser tog veral iets wil lees wat nie te uitdagend is nie; iets wat maar net lekker gevoelens verwoord. Dalk het dit ook te doen met die behoudende smaak van die Afrikaanse vertalers wat uit Nederlands na Afrikaans vertaal. Ek het dit byvoorbeeld weer besef toe ek in Berlyn met Antjie gesels en haar vertel het van Harry ter Balkt. Dis een van die grootste lewende digters in Nederland. Ek het toe later van sy werk vir haar gestuur en sy was gaande daaroor, heeltemal oorrompel, geskok, omdat sy dit nie geken het nie. Daar is baie belangriker en kragtiger Nederlandstalige poësie as wat nou in Afrikaans beskikbaar is.

 

Is dit moontlik vir jou om ’n paar opmerkings rakende ooreenkomste en verskille tussen die Afrikaanse en Nederlandse poësie te maak? Vir my wil dit byvoorbeeld voorkom asof daar tans in die Nederlandse digkuns ’n voorkeur is vir meer kriptiese, serebrale verse terwyl daar in die Afrikaanse digkuns die afgelope jare ’n sterk neiging tot vertelverse met ’n meer anekdotiese inslag is. Ek besef dat hierdie ’n gruwelike veralgemening is, maar dit is tog ’n wesenlike verskil, is dit nie?

 

Ek dink die grootste verskil met die Afrikaanse digkuns is dat daar maar net méér gehalte digters is, omdat daar in totaal méér digters is wat publiseer in Nederlands. Dis bloot ’n kwessie van kwantiteit. Ek dink ook die poëtiese diversiteit is groter in die Nederlandstalige poësie. Jy kry hier praatverse, of konseptuele anekdotiek (K. Michel, Tjitske Jansen, Mustafa Stitou) tot hardcore eksperimentele poësie, wat in Afrikaans selde verskyn of geskryf word. By ons is daar byvoorbeeld die gedigte van die Vlaamse digters Paul Bogaert en Dirk van Bastelaere, en in Nederland Tonnus Oosterhoff (www.tonnusoosterhoff.nl), of Astrid Lampe, Nachoem Wijnberg, Arjen Duinker en F. van Dixhoorn. 

 Alhoewel die eksperimentele gehalte in Nederland en Vlaandere self nie te opvallend is nie, is dit wel so dat die eksperiment baie meer hoofstroom is hier as in Afrikaans. Duinker, Wijnberg, Bastelaere, Lampe, Oosterhoff; ek ken nie eintlik soortgelyke digters wat prominent in Afrikaans aanwesig is nie, behalwe Breytenbach miskien. Aan die ander kant is die Afrikaanse poësie baie meer betrokke by sy omgewing, sowel die politieke as die natuur. Die Westerse individualisme is by baie Afrikaanse en Suid-Afrikaanse digters sterk vermeng met protes, politiek en algemene betrokkenheid. Jy sien dit ook by die Suid-Afrikaanse digkuns in die breë, met name soos Tatamkhulu Afrika, Gabeba Baderoon, Keorapetse Kgositsile of Rustum Kozain. Hulle is vertellers, nie digters wat nuwe taalkonsepte uitdokter nie. Digters soos Antjie Krog en Gert Vlok Nel – en nou byvoorbeeld Ronelda S. Kamfer weer, of selfs Charl Pierre Naudé, is regtig anders, ‘Afrika’ digters – dit is waarskynlik hoekom hulle so gewild is hier. Hulle beskryf nie net wêrelde wat ons nie in Europa ken nie, hulle is inderdaad die beliggaming daarvan. 

 

Ons vra om verskoning vir die feit dat die laaste gedeelte van Alfred Schaffer se antwoord hier bo, beginnende met “Alhoewel …”, met die aanvanklike plasing van die onderhoud nie die oordrag van dokument na webblad meegemaak het nie.

 

 

 

 

 

Gedig deur Alfred Schaffer

IMPASSE

Vertier in wissewasjes zoeken, zo blijft een mens overeind.

Toonladders oefenen. Eindeloos van iemand houden. Maar,

wat een afknapper is de mens, dweepziek, een slaaf van zijn

agenda, en zint hem iets niet, dan verbreekt hij de verbinding.

 

Je ruikt hoe ik bederf, ook al ben ik er niet, je ligt, zo stel ik

me voor, verrukt te staren naar een monitor, naar de eerste

bewijzen van leven op Mars, daar beweegt iets onschuldigs,

iets wat kans van slagen heeft, en zonder je blik af te wenden

 

grijp je mijn hand – die er niet is, druk doende dit alles alvast

neer te krabbelen, ergens waar ik pelgrimstochten onderneem

naar hooggelegen gebouwen, ver voor Christus opgeleverd.

 

Mijn sleepdraad is geknapt, ik krijg me niet aan land gehesen.

Als straks het stadsgeluid bezinkt, zou ik met deze nachtkijker

meer moeten zien. Voor alle zekerheid. Maar meer is er niet.

 

(Uit: Kooi, De Bezige Bij, 2008)