Posts Tagged ‘Potch dam’

Andries Bezuidenhout. Postkoloniale malaise uit die water geblaas

Tuesday, February 23rd, 2010

Dis darem baie makliker om oor verval te skryf as nuwe infrastruktuur. En stories oor misdaad verkoop koerante soveel beter as goeie nuus oor die nuwe pad, trein, of die lofts in die middestad.

Saterdag ry ek deur Potchefstroom toe. Niel van Deventer, een van die digters in Nuwe Stemme 4, het ʼn geleentheid gereël vir hom, Kabous Verwoed, Wyn Roux (van Potchefstroom) en ek om ons gedigte voor te lees en ʼn paar deuntjies te brom.

Dís hoe ek toe Saterdagaand in die plek beland waar ek die laaste gedig in my bundel Retoer geskryf het; die River Café. Die kroegstoel waar ek gesit en skryf het, het ʼn uitsig op die wal van Potchefstroom se dam. Ek het sowat vier jaar gelede verder aan die gedig geskaaf tydens ʼn maandlange verblyf langs die Swanrivier in Perth. Dit gaan só:

DAM

Hier is ʼn dam
met ʼn grondwal –
sommer ʼn doodgewone, stowwerige
wal met sulke vaal wintergras,
jy weet.
Ook ʼn roeiboot
en ʼn motorboot
en verbleikte boeie
om astrante propellers en spane
van vislyne af weg te hou.
Hier kamp bont tente
en Jurgenskaravane
soos dit by ʼn staatsdiensoord
met mure wat afdop hoort.
Ver op die horison,
agter grasvelde en bloekombome,
staan kragdrade uit die weermag
van ʼn ander tyd met voete
wat in gelid roes.

Hoe lank
kan so ʼn grondwal bly staan?
wonder ek nou.
Hoe lank
kan klotsende water
nog aan hierdie verskansing
kabbel en knibbel?
Hoe lank
voor die damwal breek –
die tente opgevou word,
die woonwaens finaal op bakstene gaan staan,
die rondawels se nokke knak
en die hekwag vir die laaste keer
sy kasregister sluit, die kwitansieboek bêre
en ʼn ouer landskap terugkeer?

Vir eers
ry hier nog kinders
met sonstrepe in blonde hare
en polsende arms en musiek
wat by motors se vensters uithang.
Vir eers
verken onseker hande
nog tepels onder bloekombome.
Hoor jy die wind in die blare,
hoor jy die sonbesies in die gras?
Dis sulke
bekende geluide,
jy weet.
Deur blare maak die son
halfmane op ʼn skraal rug –
ʼn melkweg saam met sproete
en puisies op ʼn bleek vel.
Dit verbeel ek my nou,
want dit was lank gelede.
Ek staan nou buite
in die son. Met oë
op skrefies – deur ʼn donkerbril
kan ek nie meer sien nie,
nie meer wat in die skaduwee gebeur nie.
Om te kan lewe,
om te kan ontsnap,
om vir ʼn oomblik van alles te kan vergeet
en jou ore na binne te keer –
tuite hoor slegs die gesuis
van bloed deur are langs die brein,
die ritme van lewe
wat deur buise pols.
Om vir ʼn oomblik
my oë weer toe te knyp
en net      daar     te wees
in die skadu van bloekoms,
die reuk van varsgesnyde gras,
water wat op teer verdamp,
mense wat lag, ʼn motorboot se neurie
ver op die dam.

Sal daar waarskuwings wees?
Sal sirenes loei, benoude stemme
oor die radio mense vra om

asseblief
te
ontruim?

Of gaan ons bloot opstaan,
eendag miskien verbyry
en besef dat daar nou omgekeerde bote
tussen droë riete lê,
of dat die lelietrappers en die lepelaars
nou weg is?

Ek gaan sit weer op die kroegstoel met die uitsig oor die damwal. Met my vorige besoek het ek gesien daar word met stene en sement gewerskaf, maar ek was onder die indruk dat die bou-aktiwiteit iets met ʼn afgryslike Toskaanse kompleks te doen het en dat die laaste dae van die River Café se uitsig op die dam aangebreek het.

Dis toe nou nie die geval nie. Die grondwal is met ʼn pragtige nuwe konstruksie van klip en beton vervang. Francois, wat saam met sy vrou Marna die River Café besit, sê daar is nou selfs meer watervoëls.

Soms is dit lekker om jou eie woorde te moet sluk, ʼn bietjie soos die Jägermeissters wat ons laat die aand by die kroegtoonbank afgewurg het.