Posts Tagged ‘Prison Poetry Workshop’

Nini Bennett. Poësie en die rehabilitasie van gevangenes.

Monday, October 9th, 2017

 

 

Martin Bustamante druk sy notaboek teen sy bors. In sy gedagtes oefen hy die laaste reëls van sy gedig; binnekort gaan hy dit voor ’n gehoor van tienduisend mense lees. Hoeveel ure het hy en sy poësiementor, Cristina Domenech, nie voorberei vir dié belangrike geleentheid nie?

Hy kyk na die gehawende gesigte van die ander gevangenes om hom. Sy notaboek – sy kosbaarste besitting – het ’n spiraalrugband. Sou iemand hom probeer aanrand, kan hy die boek se rugkant afskeur en die draad reguit trek en as faca, ’n gemodifiseerde tronkwapen, gebruik. Bustamante bevind hom immers in een van die gevaarlikste plekke op aarde: ’n gevangenis in Buenos Aires. Die skryf van poësie het sy emosionele behoud geword.

In Argentinië word van die gewelddadigste gevangenisse aangetref, korrektiewe eenhede wat sinoniem is met die dood, die marteling van die gevangenes deur bewaarders en onmenslike lewensomstandighede wat selfs ’n lewe in Pollsmoor Maksimum Sekuriteit na ’n ironiese uitweg sou laat lyk. Swak ventilasie, min of geen mediese sorg of lopende water, besmette kos en oorbevolking is die daaglikse lot van die meeste korrektiewe eenhede. Tussen 2000 en 2005 het die tronkpopulasie met 45% toegeneem. Hier sterf ’n persoon elke tweede dag; van die bewaarders vergoed die gevangenes om hulle medegevangenes te vermoor, en minder as 1% van hierdie brutaliteit haal ooit die hofrol. Dit is in dié verontmenslikende omgewing waarin sommige poësieterapeute, soos die digter en filosoof, Cristina Domenech die waarde van poësie as werktuig in die rehabilitasie van gevangenes aanwend. In hierdie blog word daar nie gefokus op gevierde of gevestigde digters wat hulle in gevangesetting bevind nie, maar op veroordeeldes wat vir die eerste maal met poësie kennis maak.

 

 

Christina Domenech het in 2009 begin om haar program, Poetry that frees the Soul, aan te bied by die Eenheid 48-staatsgevangenis, soos onderverdeel aan die Nasionale Universiteit van San Martin in Buenos Aires. Daar het ’n groot behoefte onder die gevangenes ontstaan om verse te skryf, maar presies wat poësie behels het, het hulle nog nie besef nie. Ook was die wisselende vlakke van onderrig tussen die individue problematies. Domenech se uitgangspunt behels dat deur die vooropgestelde logika van taal te breek, daar ‘n ánder logika of sisteem in die plek hiervan kan ontstaan: en hierdie sisteem is onderhewig aan sy eie reëls, naamlik dié van poësie. Die gevangene breek figuurlik die versperrings van sy omgewing deur sy ‘nuwe’ poëtiese taal. In die tronk is woorde soos “wens”, “tyd”, “toekoms”, “droom” en “huil” taboe. Deur die geskrewe digterlike taal skep die gevangene sy vryheid. Om Domenech aan te haal: “We plunged ourselves, headfirst, into the seventh circle. And in that seventh circle of hell, our very own, beloved circle, they learned that they could make the walls invisible, that they could make the windows yell, and that we could hide inside the shadows. […] Poetry does that; it sews up the wounds of exclusion. It opens doors. Poetry works as a mirror. It creates a mirror, which is the poem. They recognize themselves, they look at themselves in the poem and write from who they are, and are from what they write.” Die herstel van die skeppende individu se vryheid lei ook tot die herstel van sy persoonlike waardigheid, want in vryheid is daar waardigheid. Domenech het ’n leeslys van kort, treffende verse aan die voornemende digters gegee om te bestudeer en sodoende te verstaan dat die vreemdmaking van selfs enkele woorde ’n mens se perspektief kan verander. Die program word afgesluit met ’n klein en intieme plegtigheid waartydens sertifkate oorhandig word en die gevangenes hulle verse voorlees. Die finale fase van dié suksesvolle program is wanneer die gevangenes uiteindelik hulle verse self druk en bind in een van die tronk se werkswinkels. Klik gerus op die onderstaande skakel om Domenech se kongresbydrae te sien: dit is ’n praatjie wat ook aandag geniet op gedragswetenskaplike webtuistes en reeds in verskeie tale vertaal is. Die digter en gevangene, Martin Bustamente, lees sy vers en het spesiale dagpas vir die glansgeleentheid gekry:  https://www.ted.com/talks/cristina_domenech_poetry_that_frees_the_soul/transcript#t-637595

Hier volg ‘n transkripsie van Bustamante se vers:

 

 

My heart chews tears of time

blinded by that light

it hides the speed of existence

where the images go rowing by

it fights; it hangs on

the heart cracks under sad gazes

rides on storms that spread fire

life chests lowered by shame

knows that it’s not just reading and going on,

it also wishes to see the infinite blue.

The heart sits down to think about things,

fights to avoid being ordinary,

tries to love without hurting,

breathes the sun, giving courage to itself,

surrenders, travels towards reason.

The heart fights among the swamps,

skirts the edge of the underworld,

falls exhausted, but won’t give in to what’s easy,

while irregular steps of intoxication

wake up,

wake the stillness.

 

Gevangenispoësie is ’n gevestigde en lewendige internasionele literêre diskoers.

 

 

Temas wat volop voorkom in die verse van gevangenes, is: morele bevlekking, skuldgevoelens, die verlies aan identiteit, stigmatisering, berou, en, interessant: die finale hofsaak, en verwysings na die uitspraak en vonnisoplegging. Daar is ’n bitterheid aan die kant van die veroordeeldes dat hulle saak nie na behore aangehoor is nie; dat die owerhede hulle versaak het, en dat hierdie persone slagoffers geword het van ’n sisteem waarin hulle hul stem verloor het.

Ná 8:30 saans is dit stil in die HMP Grendon in Buckinghamshire. Die gevangenes konsentreer; skryf, skrap en herskryf aan hulle sonnette, rymende koeplette, haikoe en villanelles.

As toegeruste terapeutiese korrektiewe eenheid ontvang die HMP Grendon-gevangenis in Brittanje net die hoogste lof. Die digtende prisoniers in Kategorie B se vlak van onderrig is gelykstaande aan dié van Graad 11 in Suid-Afrika, in teenstelling met Domenech se werkswinkel waar die onderrigpeil ‘n Suid-Afrikaanse Graad 4 ewenaar.

Twee digters van Oxford, Alan Buckley en Steve Larkin, bedryf die afgelope twee jaar die Grendon Live Literature Programme. Die gevangenes ontvang ’n leeslys met voorgeskrewe werk, asook modules, wat hulle skool in die skeppende skryf van poësie. Die rehabiliterende waarde van dié program is veelduidig: die gevangene skryf (oorwegend) in vaste versvorme: naas selfekspressie, leer dit die individu ook dissipline in die verwoording van sy pyn, vrees, verlange, ensomeer. Die gevangene skep met ander woorde ’n deursigtige, afgeronde artefak, een wat uit bloedsweet en vakmanskap gebore is; ’n vers waarop hy trots kan wees, en wat deur ’n praktiese, maar intellektuele benadering sy persoonlike wroeging konstrueer. Daarna word van die gevangene verwag om sy verse tydens werkswinkelsessies in die biblioteek voor te lees en oop te stel vir kritiek, analise, en die ander gevangenes se insette. Tydens ’n spesiale, maar informele vieringsgeleentheid word die verse eindelik ‘formeel’ voorgedra: dit is belangrik dat die gevangene voor ’n gehoor moet kan optree, ongeag sy persoonlikheidstipe. Hierdeur word ’n verdere herstel in menswaardigheid bewerk, en die digters word luid toegejuig. Van die gevangenes het erken dat dit die enigste applous was wat hulle ooit ontvang het.

Die Prison Poetry Workshop in Arizona, die program Between the Bars, asook Write A Prisoner bedryf projekte waar weldoeners die handgeskrewe verse van gevangenes ontvang, tik, en oplaai in hulle webtuistes. Só geniet die digters blootstelling aan hulle werk, en lesers wêreldwyd kan terugvoer op die verse gee – die replieke word dan weer oorgetik, uitgedruk, en teruggepos aan die gevangenes. Die webtuistes maak van multimedia-funksies gebruik, soos radioprogramme, waartydens van die verse voorgelees word, die argievering van potgooie, die maak van nuwe penvriende tussen gevangenes en lede van die publiek, of die uitruil van tweedehandse boeke.

Die jong veroordeelde Amerikaanse moordenaar, Johnny E. Mahaffey dien ’n lewenslange vonnis uit vir moord. Dié voormalige eienaar van ’n Pizza-eetplek en vader van vier het ondertussen sy graad in Besigheidstudies in die gevangenis verwerf. Hy skryf ook daagliks, en hierdie gedig het op 18 September 2017 op die Prison Poetry Workshop se webwerf verskyn. Ondertussen het Mahaffey begin skryf aan ’n roman oor die lewe in die gevangenis, en sy weldoeners blog die verhaalopvolg getrou en op ‘n gereelde basis vir die lesers wat hom volg. Maar vir hoe lank Mahaffey nog sal skryf binne ’n gewelddadige tronkomgewing – of hoeveel boeke daar uiteindelik uit sy pen sal voortvloei – sal net die tyd kan leer.

 

 

 

Verwysings

 

https://betweenthebars.org/campaigns/prison-poetry-workshop/

https://ideas.ted.com/how-poetry-can-free-a-prisoners-mind-2/

https://www.theguardian.com/uk/2007/aug/21/ukcrime.poetry

http://prisonpoetryworkshop.org/

http://www.writeaprisoner.com/

Reiter, S. 2010. Poets-behind-bars: A creative “righting” project for prisoners and poetry therapists-in-training. Journal of Poetry Therapy 23 (4).