Posts Tagged ‘professionele roubeklaers’

wicus luwes. handbreedtes, asemreise en professionele roubeklaers

Monday, April 11th, 2016

unique-careers-3

Hu Xinglian (sien foto) is ‘n professionele roubeklaer in Sjina. Haar dienste sluit ‘n volledige klankstelsel, veelkleurige kolbeligting en ‘n musiekgroep in. In Sjina en naburige Taiwan word die dooies met ‘n groot gedruis die hiernamaals ingestuur. Die dooie se gewildheid of status in die samelewing word deur baie gemeenskappe gemeet aan die hoeveelheid mense wat die begrafnis bywoon. Professionele roubeklaers word gehuur om begrafnisse of roudienste by te woon. Sulke roubeklaers kom natuurlik teen ‘n prys, maar jy is ten minste verseker van roubeklaers wat nie net jou reënboogbroodjies opeet en hulself uit die voete maak nie.

In sekere dele van die wêreld is professionele roubeklaers deel van die tradisie. Liu Jun-Lin van Taiwan is ‘n derde generasie professionele roubeklaer wat haar dienste elke dag van die week uithuur. Sy vermeng die roukrete met ‘n tipe dreunsang (haar broer speel tradisionele snaarinstrumente tydens die roudienste). Sy kruip na die kis op haar hande en knieë en roep na gelang van die geleentheid iets soos die volgende uit:
“My dierbare vader, jou dogter mis jou so baie! Kom asseblief terug.”
Volgens oorlewering is sekere roubeklaers selfs in die plek van familielede gehuur in die tye toe vervoer (en yskaste) nog minder gevorderd was. Die roubeklaers kon dus die rol van die afgestorwene se dogter vir die begrafnis speel.

 

vir oopmaak wanneer dood my oë toegemaak het
(‘n brandberig)

nou dit byna sulke tyd is
wil ek dit op skrif stel
dat alle afsprake, ondernemings, waarskuwings, profesieë,
aansprake en testamente hiermee gekanselleer word

in my hele lewe het ek
geen enkele gedagte of insig gehad
wat die moeite werd is om te onthou nie

vergeet die stellingnames /
die gedigte: trek so gou moontlik
‘n streep deur dit alles

moenie ernstig opneem die beloftes
wat ek aan dese en gene gemaak het nie /
die ewige liefde was toe maar net
‘n handbreedte ver
en hemde en skoene sal gou genoeg vergaan

wees goed vir my vrou
(vir geval sy my oorlewe) want sy was die hart
van alles wat goed en getrou was
en mooi               o so mooi

en help my dogter om haar vader te vergeet
soos ek my moeder en vader vergeet het
die vergeetleef van bewussyn het tog slegs
deur na haar gevloei
en verder niks

van monnimente gepraat:
geen gedenkdiens of rouberig of steen nie asseblief
(asof daar ooit rede vir so iets sou wees)
geen hopie grond vir bitter eende om te beskyt
neem geen notisie van nabetragting nie
dis gekwetterde fokkol vir voëls en fools

– gedeelte uit Breyten Breytenbach se ‘die beginsel van stof’

 

Die dood is die groot gelykmaker; die waarheid se laaste kans om woord te word of weg te kwyn/verdwyn saam met die kis. Die dood is ‘n komma vir die een en ‘n punt vir die ander. Ek wonder altyd hoekom my oë traan en ek weemoedig raak op vreemdelinge se begrafnisse. Ek neem aan dat dit iets met die omgewing te doen het en dat daar ‘n stukkie empatie iewers daarin opgesluit lê. In my kort tyd op aarde het ek al begrafnisse vir bejaardes bygewoon. Op sulke begrafnisse is die tema gewoonlik ‘sy het ‘n vol lewe gehad’ of ‘haar brein was nog skerp, maar die bene of die voete wou nie meer nie’. Ek het al begrafnisse bygewoon vir kindertjies wat minder as een week in hierdie wêreld deurgebring het en hoërskoolleerlinge wat in motors verongeluk het. Sulke begrafnisse volg gewoonlik die tema van ”n kind moenie voor sy ouer sterf nie’ of ‘die lewe is nie regverdig nie’. Ek weet al hierdie dinge, maar steeds hak my droë tong aan my verhemelte vas by begrafnisse en roudienste.

moirologist

Roubeklaers in Antieke Egipte

Daar is verwysings na professionele roubeklaers in Antieke Egipte en deesdae adverteer moderne moirologiste hul dienste in London op webblaaie. Daar is self roubeklaers op tuisbodem wat deeltyds die werk opneem en met die huidige finansiële toestande kan die meeste van ons doen met ‘n ekstra inkomste. Die weste het tradisioneel nie baie ooghare vir die soort ding by begrafnisse nie, maar so ‘n roubeklaer kan ‘n hele paar rolle vervul. ‘n Begrafnis werk mos in beide rigtings en die grafgrawers baat net soveel by die verrigtinge as die afgestorwenes. Dit bied ‘n vorm van afsluiting of finaliteit aan die dood. Ek is seker daar is al studies gedoen oor die uitwerking van begrafnisse of roudienste op die mense wat agterbly. Ek wonder of daar ‘n verskil in die termyn van rou sou wees van diegene wat nie so ‘n roudiens bygewoon het nie, teenoor diegene wat wel so ‘n geleentheid bygewoon het.

In die film ‘Fight Club’ speel Helena Bonham Carter die rol van Marla Singer. Sy woon verskillende ondersteuningsgroepe by – enigiets van ‘Alcoholics Anonymous’ tot groepe vir mense met dobbelprobleme. Die hoofkarakter in die verhaal, Edward Norton / Brad Pitt, woon ook ‘n paar verskillende ondersteuningsgroepe by. Edward Norton se karakter is verslaaf aan die anti-verslawingsgroepe omdat hy wil huil. Bonham Carter daarteenoor wil weer eerder as buitestaander sien hoe mense huil, om op haar manier lewendig te voel. Troos word dus ‘n soort metafoor en dit is miskien waar die professionele roubeklaers so ‘n belangrike rol speel. Die rol van huil in die troosproses is werklik interessant.

Liu Jun-Lin, die professionele roubeklaer van Taiwan, is gevra hoe sy die trane dag na dag naboots. Haar antwoord, of dit die waarheid is of nie, was dat dit werklike trane is. Die kollektiewe rouproses en troosproses is ‘n groot tema in alles wat daagliks met ons gebeur. Die rouproses lei ons deur die dood na die lewe. Dit is ook ‘n fase van lewe wat nie misgekyk moet word nie. Rou en troos as afsonderlike metafore, maar miskien onlosmaaklik deel van dieselfde lewensritme. Miskien moet ons eerder na professionele roubeklaers as professionele troosters verwys en die proses van rou eerder as metafoor vir troos inspan.

 

tussen gaan en bly

‘n brief vir Octavio Paz as antwoord op
Entre irse y quedarse

hier op melkbos huiwer alles tussen gaan en bly
die winterson steeds verlief op die see se glans

die lang strand is nou ‘n baai met wandelpaaie
waarlangs die dorpie stil soos ‘n eier blink

alles is ver: tafelberg en bote en meeue
alles is naby, maar ontwykend vir enige aftasting

by die damhuis sit ons as digters bymekaar
die biefstuk, die vis, die wyn rus in hul name se kleur

kinders herhaal ons jare wat was
woorde met geen verband val los oor die tafels

die lig verander die tuinbeelde in ‘n teater
terwyl karre verbyskuur na ander bestemmings

ek ontdek myself in jou oog, octavio
soos bloed vloei die dag se hart na sy einde

op pad huis toe verdwyn melkbos agter hawens en valleie
ons het gekom, en ja, ons het gegaan: ‘n asemreis ver

-uit bladspieël deur Marlise Joubert

professional-mourners

Bronne
1. Breytenbach B, die beginsel van stof, Human & Rousseau, Kaapstad, 2011
2. Joubert M, bladspieël, Human & Rousseau, Kaapstad, 2015
3. http://money.howstuffworks.com/10-unique-careers-you-wont-believe-exist2.htm
4. http://www.bbc.com/news/magazine-21479399
5. http://www.iol.co.za/news/south-africa/kwazulu-natal/fake-crier-for-hire-1856378
6. http://www.jobisjob.co.uk/blog/2015/01/bizarre-jobs/
7. https://en.wikipedia.org/wiki/Professional_mourning
8. https://en.wiktionary.org/wiki/moirologist