Posts Tagged ‘Program Versindaba 2010 poësiefees’

Program: Woordfees Versindaba 2010 Poësiefees

Monday, August 23rd, 2010

 

Woordfees

bied aan

 

Versindaba

 

Op die woord af

17 en 18 September 2010

Sasol Kunsmuseum

Ou Hoofgebou | De Kelder, Lanzerac

 

Toegang: R30 per sessie, tensy anders aangedui.

Spesiale dagkaart (alle sessies): R120.

Besprekings by Computicket vanaf 1 September 2010

Tel.: 083 915 8000, www.computicket.co.za. Kaartjies is

ook beskikbaar by die deur.

 

 

 

Vrydag 17 September 2010

 

Brief aan Suid-Afrika

Kollokwium aangebied deur die US se Departement Afrikaans en Nederlands

Die  kollokwium van die Departement Afrikaans en Nederlands neem vanjaar ′n buitengewone vorm aan, naamlik ′n poësievoorlesing rondom ′n tema. Ons noem dit  “Brief aan Suid-Afrika”. Marlene van Niekerk het etlike digters gevra om ′n antwoord of variasie, herdigting of vertaling te skryf van die berugte gedig van die beat-digter Allen Ginsberg waarin hy Amerika aanspreek met ʼn aantal vrae, aantygings en pleidooie. Ons hoop om op die manier ′n platform te skep vir die verwoording van ′n wydgevoelde onrustigheid oor die toekoms van ons land en om daarmee ′n bydrae te lewer tot die gesprek oor die politieke aktualiteit. Kom luister na digters soos Loftus Marais, Marius Crous, Diana Ferrus, Louis Esterhuizen, Melt Myburgh en Petra Müller se briewe aan Suid-Afrika, en bring u eie gedig saam vir die oop mikrofoon. Breyten Breytenbach het ook ʼn gedig gestuur wat voorgedra sal word deur Antoinette Kellermann. Distell sorg vir heerlike wyn.

19:00 - 21:00 Sasol Kunsmuseum ● Gratis

 

 

Saterdag 18 September 2010

 

 

Uys Krige: Die digter as briefskrywer

Uys Krige, die goue seun van die Afrikaanse digkuns, sou vanjaar 100 jaar oud geword het. Peet van Aardt gesels met uitgewer Petrovna Metelerkamp oor ʼn keur uit Krige se briewe: Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje, wat hy saamgestel het. Stemkunstenaar Nic de Jager bring Uys fassinerend tot lewe in sy voorlesings van die briewe.

09:00 – 09:45 Ou Hoofgebou R30

 

Dana Mouton-gedenklesing

Joan Hambidge, bekroonde digter en professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, lewer vanjaar die vyfde Dana Mouton-gedenklesing: “Die digteres as Lorelei: Ingrid Jonker se tweede lewe in enkele verse van Johann de Lange.” Drie groot digters in een lesing – ʼn belewenis!

10:00 – 10:45 Ou Hoofgebou R30

 

WOW Woelige werkswinkels

Ondersteun deur die ATKV

Die US Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek bring die wonderwêreld van die poësie aan laerskoolleerders van omliggende skole, en laat die Afrikaanse verskuns sing in die monde van seuns en meisies! Jongmense leer om gedigte te skryf, dit voor te dra en lirieke daarvan te maak.

10:00 – 13:00 ● Ou Hoofgebou Gratis vir genooide leerders

 

 

WOW Verf- en Vers

Ondersteun deur die ATKV

By die prettige Verf- en Verswerkswinkel verander penne en kwasse in towerstaffies waarmee ʼn wêreld van kreatiwiteit ontsluit word. Graad 1 tot 5-leerders word touwys gemaak in tegnieke om kunswerke met woorde en verf te skep. Hulle leer boonop om self goedkoop verf te maak vir hul eie vingertekeninge. Hierdie werkswinkels berei hulle voor vir die WOW-projek se Verf- en Verskompetisie waarvan die wenners tydens 2011 se WOORDtroFEES aangekondig word.

10:00 – 13:00 Ou Hoofgebou Gratis vir genooide leerders

 

 

Groen koring: Die piemp-digters van Scottsville

Versindaba stel graag vir Thérèse Hulme en die jongmense van Scottsville naby Kraaifontein bekend. Die jong digters vertel aan Fiona van Kerwel hoe hulle oor vier jaar ontwikkel het in ʼn kreatiewe mentorskapprogram van Afrikaanse drama, teater en poësie, en lees van hul eie werk uit hul bundel Piemp.

11:00 – 11:45 Ou Hoofgebou R30

 

 

Xhosa en Afrikaans: Koos Oosthuysen en Antjie Krog

Koos Oosthuysen is ’n afgetrede Xhosa-Bybelvertaler en leraar van die VGK, wie se insig Antjie Krog ruimskoots gebruik het by haar Afrikaanse vertalings van Xhosa-gedigte. Hulle het saam deelgeneem aan ʼn geroemde voordrag van gedigte by die Spier-poësiefees in 2006. Met Antjie se aansporing is ʼn aantal van sy vertalings tussen Xhosa, Afrikaans/Nederlands en Engels nou uitgegee as Twintig verse in vertaling. Kom luister hoe Oosthuysen en Krog brûe slaan tussen Afrikaans en Xhosa in nog ʼn roemryke gesamentlike optrede.

12:00 – 12:45 Ou Hoofgebou R30

 

 

Wilhelm Knobel 75

Die digter Wilhelm Knobel, wat in 1974 oorlede is, het in sy kort lewe ʼn pragtige nalatenskap vir die Afrikaanse poësie byeengebring. Op 26 Oktober vanjaar sou hy 75 geword het. Dr. Marius Crous en prof. Deon Knobel bring hulde aan die digter met ʼn oorsig oor sy lewe en sy werk. By dié geleentheid word Wilhelm Knobel se dokumente amptelik aan die Dokumentasiesentrum van die US se J.S. Gericke-biblioteek oorhandig, waar dit vir die nageslag bewaar sal word.

14:00 – 14:45 Ou Hoofgebou R30

 

 

Kraakvars!

2010 het ʼn handvol Afrikaanse debuutdigters opgelewer. Ronel de Goede stel vir Melt Myburgh (Oewerbestaan), Martina Klopper (Nadoodse ondersoek) en die volgende Nuwe Stemme 4-digters aan die woord om verse voor te lees: Willem Jansen, Pieter Hugo, Bibi Slippers, Marius Swart, Lewies Botha, Annie Klopper en Jannie Malan. Niël Rademan en Rika Vermeulen kom wys hoe heerlik gedigte neerslag kan vind in kabaret en musiek.

15:00 – 15:45 Ou Hoofgebou R30

 

 

Digters en nagelate werk – uitdagings en probleme

Amanda Botha, verantwoordelik vir die nagelate werk van Sheila Cussons en I.L. de Villiers, gesels boeiend met Etienne Bloemhof en Wium van Zyl oor die besluite waarvoor ʼn letterkundige kurator te staan kom met veral ongepubliseerde en onvoltooide werk van die ontslape digter. Moeilike vrae vra hier om nog moeiliker oplossings: Moet alle nagelate verse wel gepubliseer word? Watter weergawe van ʼn vers mag opgeneem word? Mag dié verse geredigeer word? Indien wel, hoe moet dit aangebied word? Kom luister na dié interessante gesprek deur kundiges en kry ʼn ander kyk op sake.

16:00 – 16:45 Ou Hoofgebou R30

 

Digtersgala

Politika-Uitgewers is die gasheer van hierdie spoggeleentheid waar die room van die Afrikaanse digkuns optree. Dorothea van Zyl en Johann Nel bring hulde aan M.M. Walters wat vanjaar sy 80ste lewensjaar vier. Marlene van Niekerk, Louis Esterhuizen, Joan Hambidge, Tom Gouws, Floris Brown en Johann Lodewyk Marais lees voor uit eie werk, terwyl Johann Nel en Elsabe Daneel die stemme word uit die werk van Breyten Breytenbach, Fanie Olivier, Lina Spies, Kobus Lombard en Hans Pienaar. Die gewilde Lize Beekman sorg vir musikale plesier. By hierdie prestige-geleentheid word die Protea-prys vir Poësie toegeken en Woordfeesmedaljes oorhandig. Lourensford se heerlike wyn word geskink.

19:00 – 21:00 ● De Kelder, Lanzerac Hotel R50

 

 

Verras!

Jong, opkomende digters laat hul stemme hoor by hierdie jolige geleentheid waar hulle ʼn podium deel met sangeres Lize Beekman. Kom luister na gatskopverse van André Trantraal, Fourie Botha, Pieter Odendaal, Lou-Ann Stone, Pieter Botha, Karen Kuhn, Pieter du Toit en Aniel Botha. Bring gerus jou beste voorlees-gedigte saam, want die mikrofoon is oop vir die wye wêreld. Lourensford sorg vir die vrug van die druif.

21:30 – 23:00 ● De Kelder, Lanzerac Hotel ● Gratis

 

 

Ons dank en waardering aan die volgende donateurs wat

Versindaba moontlik gemaak het:

 

Mnr. Jannie Mouton

Naspers

Politika-Uitgewers

Protea Boekhuis

Fonds Neerlandistiek