Posts Tagged ‘Raka’

Hannalie Taute. Dierbaar

Tuesday, January 17th, 2012

Einde laas jaar ontvang ek ʼn geskenk van my dierbare man: NP van Wyk Louw se Raka. Nou ja, ek moet bieg dat ek deur die boek geworstel het net soos ek deur DJ Opperman se Joernaal van Jorik op skool geworstel het. Ek gebruik die term worstel, want die bogenoemde gedigte was te langdradig na my sin- ek persoonlik verkies haiku’s. Kort en kragtig en tot die punt. Meer hieroor in die toekoms.

Onlangs ‘google’ ek gedigte wat die woord renoster bevat, aangesien die dierasies en hul saak deesdae na aan my hart lê. Tussen al die opsies verskyn daar ʼn webblad van Johann Lodewyk Marais wat handel oor niemand anders as onse NP van Wyk Louw en aangesien ek toe pas deur Raka gesloer het, kon ek myself nie keer om ondersoek in te stel nie.

Ek moet erken dat ek nog nie deur alles in die bogenoemde webblad gelees het nie, aangesien my kinders dink mamma is hul gunsteling speelding, en tussendeur maak ek renosters en ander speelgoed uit ou binnebande.

Ek het werklik nog nie die geleentheid gehad nie, behalwe om hier en daar ʼn paragraaf te lees. Al wat ek tot dusver kon wysword is dat die natuur baie na aan NP van Wyk Louw se hart gelê het:

Louw het egter nooit die natuur bloot as “tema” ondersoek nie, maar dit in ’n wyer sosiokulturele en -politieke verband geplaas en so sy vinger op veranderinge in die (Suid-)Afrikaanse samelewing gelê. Hierdie geskakeerde bemoeienis met die natuur kan as bewys dien van hoe belangrik hierdie enigsins verwaarloosde onderwerp in Louw se oeuvre is en waarvoor daar ook in sy daaglikse lewe ruim belangstelling was.”

Nog ʼn paragraaf wat my oog gevang het is:

“Gedurende die 1960’s het Louw ’n aantal tekste gepubliseer wat hom deel gemaak het van ’n wêreldwye beweging om die belangrikheid van die omgewing onder die aandag van beleidmakers, besluitnemers en die publiek te bring. Sy gedigte “Die narwal” en “Svend Foyn het die harpoenkanon bedink” is seminale gedigte in die voortgaande stryd om die wêreld se walvisse (en ander bedreigde spesies) te bewaar, terwyl Berei in die woestyn ’n sterk pleidooi vir die bewaring van Suid-Afrika se kosbare bogrond lewer.”

Was die mens al so lank terug besig om verwoesting te saai? Hier in my onkunde dag ek die stryd vir bewaring is n nuwe tendens.

Ek groet met hierdie gedig wat ek opgespoor het in my soektog – geskryf deur Heilna du Plooy:

 

Die donker binne en die donker buite

 

Met opgetrekte knieë sit die kind

en gril verruk vir elke nuk

van die wonderdiere wat hy uitdink:

 

‘n renoster met vlerke en ‘n vis met vier oë,

‘n waterskilpad met ‘n periskoop

en die stekeltongpadda is ‘n dik dubbeldoor.

 

Vlug van voet, van vlerk of vin,

skerp geklou en sterk gebou, kan almal

vreemd en verskriklik goed sien.

 

Die kind se droom is sonder grense.

Hy maak sy skrik met kreature mak

in ‘n wêreld wat uitdy onder sy wense.

 

Die vader sluit die hek en al die deure,

sit die vensters dig op knip,

daarna die buitelig en die sirene.

 

Van agter die hoekige raam

speur hy strak die tuin deur

vir wat in die skaduwee donkerlik roer:

 

die ene oog sodat sy seun kan speel,

weet hy sy drome het verstar, vereelt,

soos hande wat te veel swaar dinge dra.

 

© Heilna du Plooy. Mei 2009.

Johann Lodewyk Marais. Voortreflike poësiekritiek

Thursday, October 15th, 2009

Die vraag kom meermale by my op wat die mooiste, insiggewendste of bes geskrewe stuk literêre kritiek in Afrikaans is. ‘n Mens sou natuurlik eers goed moet besin oor die maatstawwe vir jou keuse en net so goed moet motiveer waarom die keuse op ‘n bepaalde stuk val. Hieroor gaan ek nie in soveel besonderhede uitwei nie.

Oor die jare heen was daar in Afrikaans kritici wat met besondere werk vorendag gekom het. Een van dié is Elize Botha, wat met haar voortreflike geselsstyl insiggewend en baie onderhoudend skryf. Dit is ‘n groot vreugde om te sien hoe sy met haar belesenheid, kennis van heersende literêre strominge en benaderings, en met groot respek oor skrywers en boeke skryf. Die leser het ook waardering daarvoor dat sy selde ‘n byl te slyp het, wat so dikwels die bydraes van ander prominente figure met groot gebare kenmerk en vertroebel.

Botha het die beste opstelle oor figure soos Eugène N. Marais, Jochem van Bruggen, Etienne Leroux en Henriette Grové geskryf, wat sedert die 1960’s daartoe bygedra het om aan die Afrikaanse prosakritiek ‘n prominente plek te besorg. Toe ek ‘n keer gekla het omdat ouer kritici kritiekbundels so oorheers, het die oud-Akademieman en -uitgewer Danie van Niekerk tereg opgemerk: “As jy Elize Botha vra, weet jy ten minste dat jy ‘n goeie bydrae gaan kry.” My gunsteling onder Botha se opstelle is haar bespreking van D.J. Opperman se gedig “Blom van die baaierd” in Merwe Scholtz (red.) se Woord en wederwoord: Bundel aangebied aan D.J. Opperman by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 29 September 1974 (1974).

Nog kritici wat ek graag lees, is Merwe Scholtz en T.T. Cloete. Scholtz was benewens kritikus ook ‘n digter van onder meer die vernuftige Grimas: 1969-1973 (1976), een van my gunsteling Afrikaanse digbundels. Dit verbaas nie dat Scholtz gedigte geskryf het nie, want sy opstelle is spitsvondig, speels en taalgevoelig. Hy slaag daarin om met verrassende insigte ‘n mens verwonderd te laat oor die werkinge van taal en taalvirtuose. Wie kan ooit sy ontleding van N.P. van Wyk Louw se “Dood in die berge” in Nuwe verse (1954) vergeet? Dit slaan die leser se asem as ‘t ware weg. Cloete weer is doodgewoon een van ons oorspronklikste lesers (kyk byvoorbeeld sy opstel oor “Die taalavontuur van ‘Die swart luiperd'” in Op die woord af: Opstelle oor die poёsie van N.P. van Wyk Louw (1963)).

Ek sou nog die name van, op hulle beste, E. Lindenberg, Louise Viljoen, Daniel Hugo, Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé wou noem, maar oor elkeen van hulle behoort ‘n mens by ‘n later geleentheid te skryf. Hoe veral die Afrikaanse poësiekritiek op die oomblik daar uitsien, is in elk geval ‘n onderwerp om (nog steeds!) oor te besin. Miskien is dit genoeg om te sê dat indien dit nie vir Bernard Odendaal se deeglike en ingeligte oorsig oor die onlangse poësie in Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 3 (2006), Louise Viljoen se Ons ongehoorde soort (2009) oor Antjie Krog se poёsie en Ronel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.) se Over grenzen: Een vergelijkende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёzie/Oor grense: ‘n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёsie (2009) was nie, ons vandag veel minder sou gehad het om oor opgewonde te wees.

Maar ek wil eintlik iets sê oor my gunsteling stuk kritiek in Afrikaans! Dit is naamlik drie bladsye in Opperman se Digters van Dertig (1954), spesifiek die inleiding tot “Die hooffiguur van Dertig: N.P. van Wyk Louw”. In hierdie evokatiewe bladsye gee Opperman sketsmatig biografiese inligting oor Van Wyk Louw se jeugjare en maak ‘n byna tasbare voorstelling van hoe die Louws se Rôeveldse wêreld gelyk het. Hy beskryf dit op so ‘n manier dat dit as ‘n sleutel by die interpretasie van Van Wyk Louw se gedigte kan dien. Lees byvoorbeeld hoedat die bokkoppe in die (Lord Milner-)hotel op Matjiesfontein die eerste prikkeling vir Raka (1941) geword het. Min woorde, maar slim!