Posts Tagged ‘Rapport’

Andries Bezuidenhout. Toeris in Hillbrow

Monday, July 19th, 2010

Ek het vir vyf jaar lank elke tweede week ʼn rubriek vir die Sondagkoerant Rapport geskryf. Daardie tyd is nou verby – dankie tog! – want dis straf om elke tweede week aan iets oorspronkliks te moet dink. Jou kop is konstant daarmee besig. Dis tóg ʼn goeie dissipline, veral die sweep van ʼn streng woordbeperking (623 woorde met Rapport se nuwe formaat, om presies te wees).

Jare gelede het ek ook ʼn rubriek vir LitNet behartig, maar het vinnig stoom verloor – ek dink deels dalk omdat ek sulke laaaaaaaaang stukke oor musiek en kultuur geskryf het.

ʼn Tyd gelede wil die uitgewers Human & Rousseau toe weet of hulle nie ʼn keur uit die rubrieke kan uitgee nie. Dis iets wat Anne-Marie Mischke ook voorgestel het, jare gelede toe sy nog die rubrieke vir Rapport behartig het, maar toe was daar nog te min om van te kies.

Verlede Desember het ek dus ʼn paar weke spandeer om deur al die rubrieke te werk – in Rapport en op LitNet – en ʼn keuse te maak. Rubrieke wat oor spesifieke nuusgebeure handel, meer as die helfte, moes snippermandjie toe – die medium gaan tog oor dinge van vlietende belang. Soms is daar egter ʼn rubriek wat iets meer sê – spesifiek oor dinge soos herkoms en identiteit. Sulke rubrieke het ek gehou. Ek het verdere tyd spandeer om te dink oor ʼn sinvolle, tematiese volgorde vir die klompie wat oorgebly het.

Die boek is nou op die rakke. Die titel is Toeris in Hillbrow.

Dis lekker as jy ʼn fase van jou lewe kan afsluit met iets soos ʼn boek. Nou het my kop weer meer ruimte vir gedigte, skilderye en musiek.

Andries Bezuidenhout. Radoma Court in Yeoville se storie

Tuesday, November 10th, 2009

Brendon Croft het die mooi foto van Clive Chipkin hier bo geneem. Dis saam met ʼn storie oor Clive se boek Johannesburg Transition: Architecture and Society from the 1950s in Rapport gebruik. Wat die onderskrif in die koerant nie noem nie, is dat die foto reg langs Radoma Court geneem is, waaroor daar in die artikel geskryf word. In die agtergrond kan ʼn mens Bedford Flats sien, waar Chipkin grootgeword het.

ʼn Mens het soms maar min woorde om oor baie interessante dinge verslag te doen. Daar is ‘n ander storie oor Radoma Court, wat ek eers ná my onderhoud met Clive uitgevind het. Ek het met Harry Kalmer oor die onderhoud gepraat en oor die feit dat Clive as kind in Yeoville gewoon het. Clive kan steeds onthou wie destyds op watter straathoeke gewoon het, hoe hy as kind oor Louis Bothalaan skool toe gestap het – die King Edward VII-skool in Houghton. Ongeveer 60% van Yeoville se inwoners was toe Joods.

Harry vertel dat hy in die 1980s in Radoma Court gewoon het. So ook James Phillips (ook bekend as Bernoldus Niemand) en Hanepoot (Jannie) van Tonder, tromslaner en tromboonblaser van die Gereformeerde Blues Band. Die gebou is dus ook belangrik vir die underground Afrikaanse movement van die tagtigs.

Radoma Court is nou heeltemal vervalle. Toe ek en Clive Chipkin dit besoek het, het hy so half by homself geprewel dat dit waarskynlik te laat is om die gebou te red. Hier onder is ‘n foto van hoe dit lank gelede gelyk het – ‘n monument vir modernistiese ontwerp.

Kyk byvoorbeeld hoe praat die gebou met Le Corbusier en Pierre Jeanneret se Pavillon Suisse (die Switserse paviljoen) in Parys (in 1932 ontwerp, in die foto hier onder). 

Gaan kyk gerus hoe Radoma Court vandag lyk. Dis op die hoek van Cavendish- en Yeostraat. Die gebou word deur die Stadsraad as ‘n gebou van historiese belang gelys, maar helaas, dit lyk nie of dit veel in die praktyk beteken nie. Ek wonder of iemand eendag sal kans sien om ʼn biografie van die merkwaardige gebou te skryf. Ek wens ek het die tyd en geld gehad om dit self te doen.

Andries Bezuidenhout. Rapport se nuwe baadjie

Tuesday, October 27th, 2009

Ek weet ek is nie objektief nie, maar ek hou nogal van Rapport se nuwe baadjie. Ek lees nooit veel van die sop-en-skinderstories nie (ek ken nie eintlik die celebs oor wie se skades berig word nie, want ek het nie ʼn TV nie). Ek stel ook nie juis belang in hoe die lesers se lywe lyk nie. Maar die nuwe Sake-blad werk vir my, ek hou baie meer van die tydskrifgedeelte (veral Harry Kalmer se uitstekende storie-rubriek), asook Weekliks se kleurvolle uitleg. Ek kan nie wag om te sien wat hulle met die Boeke-Rapport aangevang het nie.

Andries Bezuidenhout. Die gekouery met oop monde

Sunday, October 11th, 2009

Hier is my stuk in Rapport oor Oopmond by Aardklop. Lees ook Ronel Nel se bloginskrywing daaroor. En die artikel daaroor in Beeld, hier bo. ʼn Vorige klug wat ek geskryf het oor ʼn poësievoorlesing by Aardklop het tot ʼn bietjie van ʼn debat gelei – oor digters as popsterre of rocksterre. Daar is ook natuurlik Loftus Marais se gedig daaroor. Ek’s nuuskierig om te sien wat mense van hiérdie een gaan maak. Byt ons meer af as wat ons kan kou?

O ja, voor ek vergeet. Moet beslis nie Theunis Engelbrecht se heerlike artikel oor NuL en Thys Nywerheid misloop nie. ʼn Ruk gelede wou Antjie Krog weet hoekom Afrikaanse poësie nie die energie het wat rockmusiek het nie. Sedertdien, lyk dit my, het die energie in poësie vlamgevat, maar baie van die musiek het maar vervelig en beklemmend geraak (Ek verwys na lirieke, spesifiek). Dit lyk of daar weer iets gebeur!

Andries Bezuidenhout. Van die hand na die mond…

Wednesday, August 5th, 2009

Soms is ek nie lus om my rubrieke in Rapport volgens die resep te skryf nie. Blykbaar moet jy met ʼn stelling begin wat die leser sal prikkel of interesseer. Onthou, ʼn mens kompeteer met honderde ander stories, die televisie, en in my geval, mense wie se ooglede deur pense vol Sondagskaapboud en ertjies na onder getrek word. Ná jy die leser geprikkel het, moet jy op die stelling voortborduur en dan weer afsluit met ʼn verwysing na jou kernpunt.

Verlede Sondag het ek oor my besoek aan my oupa se geboortehuis geskryf. Dis in Belgravia, Johannesburg, ʼn woonbuurt wat ʼn slum geword het. Die huis word duidelik deur ʼn “slum lord”, soos ons hulle hier noem, besit of beheer. Vir my was die kern van die storie die haglike omstandighede waarin hierdie mense woon, asook my ongemaklike verhouding daarmee.

Ek het ook gewonder oor of die plek noodwendig soveel slegter lyk as hoe dit gelyk het toe my oupa in 1909 daar gebore is. Hulle was baie arm en my oupa, as jongste kind, kon slegs hoërskool en universiteit toe gaan omdat sy twee broers gaan werk het, een as ʼn grofsmit en die ander as motorwerktuigkundige. Hulle moes die skool in st. 6 verlaat om ambagskool toe te gaan hiervoor. My oupagrootjie het in Johannesburg beland omdat sy stiefpa hom van die plaas af weggejaag het. Hy het werk in die myne gekry en is aan myntering dood toe my oupa skaars drie jaar oud was. Op ʼn manier het ek dus my eie familie in die mense wat nou in daardie huis woon gesien.

Maar as ʼn mens nou na van die kommentaar op die storie kyk, lyk dit asof mense gefikseer het op die feit dat ek “umlungu” genoem is. Ek beskou die woord nie as ʼn belediging nie – ek het geen aggressie bespeur nie, al was my interaksie met die mense wat nou in die huis woon ietwat stram.

Ek weet nie altyd of die koerantwese en subtiliteit saamgaan nie. Of dalk skryf ek maar net onduidelik.

Lees die rubriek hier.

Johann Lodewyk Marais. Wilhelm Knobel van Bethlehem

Saturday, July 18th, 2009

Johann Lodewyk Marais

 

Met Wilhelm Knobel (1935–1974) het ek die eerste keer in koerantberigte oor die Sestigers kennis gemaak toe ek op hoërskool op Harrismith was. In daardie jare was skrywers op grond van hul teenkanting teen apartheid en sensuur baie in die nuus. Dink maar aan Breyten Breytenbach se toespraak in Februarie 1973 by die Sestigerkongres by die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad, wat tot groot omstredenheid gelei het. Veral die nuwe, verligte Sondagkoerant, Rapport, het die leser op die hoogte van die woelinge gehou.

 

Tydens die Sestigerkongres is ’n foto van Breytenbach saam met Chris Barnard, John Miles, P.G. du Plessis, Lina Spies, Jan Rabie, Berta Smit, Hennie Aucamp, George Weideman en (byna eenkant) Wilhelm Knobel geneem. Op die foto het Knobel soos tewens byna al die ander mans ’n pak klere en ’n das aan en dra hy ’n sonbril. Dit was ’n era toe skrywers nog ’n “sense of occasion” moes gehad het. Breytenbach en Miles was die enigstes sonder das! Hierdie foto het lank my visuele beeld van Knobel bepaal.

 

In hierdie tyd, waarskynlik in 1973, het Knobel ’n keer in my klas ter sprake gekom. Die skoolhoof, mnr. Johan Steyl, ’n oud-Vrystaatse rugbyspeler, het met die st. 8-klas oor die vorige kwartaal se punte en ons vakkeuses kom praat. Met sy borselkop, staalblou oë en regop houding het Steyl gesag afgedwing en dissipline streng toegepas.

 

Steyl was sterk partydig vir wiskunde. Ter illustrasie het hy verwys na ’n leerling wat op Bethehem, die buurdorp waar hy elf jaar lank wiskundeonderwyser aan die Hoërskool Voortrekker was, hom gevra het waarom jy wiskunde op skool moet neem as jy nie in hierdie rigting gaan studeer nie. Steyl het nie van die vraag gehou nie, waarmee seker nie fout gevind kan word nie, en duidelik onvleiend verwys na een van die Sestigerskrywers en dié se foto wat onlangs in die koerant saam met dié van die ander Sestigers verskyn het. Die Sestigerskrywer waarna Steyl verwys het, was gewis Wilhelm Knobel.

 

Sestigerskrywers was in daardie jare omstrede, selfs op skool. In my Afrikaans-onderwyser, mnr. Cas Steenekamp, se klas was daar iets van ’n openlike stryd teen hierdie skrywers. Behalwe die berigte in die pers het die Broederbond agter die skerms ’n verbete stryd teen die invloed van die Sestigers gevoer, wat tot in die Afrikaans-klaskamer deurgewerk het. (Dit is ’n stuk geskiedenis waaroor ek nog uitvoeriger wil skryf.) Ek volstaan egter deur te sê dat Knobel ’n vae bekende was toe ek van sy onverwagse dood in Januarie 1974 gehoor het.

 

Die eerste bundel wat ek van Knobel besit het, het ek by die lank reeds vergete tak van Perskor in Andriesstraat in Pretoria gekoop. Dit was die Nagelate gedigte wat deur Knobel se jongste broer, Deon Knobel, versorg is en in 1976 deur Perskor gepubliseer is. Veral die biografiese inleiding tot die bundel het my belangstelling in hierdie skrander man geprikkel, terwyl die voorbeelde van sy handskrif my gefassineer het. (Die gedigte was ongelukkig nie op dieselfde peil as dié in die twee bundels wat tydens sy leeftyd verskyn het nie.) Uit die inleiding en die gedigte self kon ’n mens aflei dat Knobel ’n nogal moeilike lewe gehad het en dat veral sy laaste lewensjare nie maklik was nie.

 

As boorling van die Oos-Vrystaat het Knobel my nog altyd geboei, maar tot dusver is geen indringende aandag aan sy werk gegee nie. Selfs sy mede-Sestigers wat oor sy dood getreur en gesê het dat hy ’n betekenisvolle bydrae gelewer het, het min gedoen om sy lewe en werk aan ons bekend te maak nie.

Andries Bezuidenhout. Jan Smart se hartseer Johannesburg

Tuesday, June 23rd, 2009

Hier is my stukkie oor Bloedskande se gig in Belavista Lounge verlede week.