Posts Tagged ‘redigering’

Versindaba byderhand. Mentorskap vir sowel die gevestigde as aspirant-digter

Monday, December 19th, 2016

images2

Versindaba byderhand

Mentorskap vir sowel die gevestigde as aspirant-digter

 *

Indien jy ‘n aspirant-digter is wat behoefte het aan skoling in die grondbeginsels van die ambag, is Versindaba byderhand vir jou.  Selfs vir die meer ervare digter wat ‘n kundige, objektiewe kommentator benodig vir die verdere verfyning van bepaalde gedigte, óf manuskrip, is Versindaba byderhand tot jou diens.

Daar is twee opsies beskikbaar:

Opsie 1: Gestruktureerde kursus

  • Hierdie kursus bestaan uit tien interaktiewe lesings.
  • Alle kommunikasie geskied via elektroniese media.
  • Jy werk dus in die gerief van jou eie blyplek en teen jou eie tempo, na gelang van omstandighede.
  • Elke les bestaan uit voorbeeldgedigte, beskrywende teks om die grondbeginsels van die betrokke onderwerp te verduidelik en opdragte wat self uitgevoer moet word.
  • Op elke opdragvers van jou sal jy uitvoerige kommentaar ontvang.
  • Na afloop van die kursus sal ʼn commendatio verskaf word.

 

Koste: R2,500. ‘n Deposito ter waarde van R1,250 sal vereis word ten tye van registrasie. Die balans sal betaalbaar wees na voltooiing van Les 3.

Skryf aan Versindaba byderhand indien jy belangstel om die gestruktureerde kursus te volg, of nog vrae het.

Opsie 2: Teksbegeleiding

Hierdie opsie is vir bedrewe digters wat reeds die grondbeginsels van die ambag onder die knie het en nogtans behoefte het aan ʼn objektiewe, onbetrokke beoordelaar om behulpsaam te wees met –

  • ‘n leesverslag;
  • die verdere verfyning van bepaalde gedigte;
  • manuskripontwikkeling, asook
  • taalversorging en redigering.

Stuur 5 van jou eie gedigte by wyse van voorlegging en oorweging tot verdere deelname. Indien jou gedigte van ‘n aanvaarbare gehalte is, sal jy genooi word om soveel gedigte as wat jy by wyse van Versindaba byderhand wil verfyn, in te stuur. Elke gedig sal uitvoerig behandel en van kommentaar voorsien word. Alle kommunikasie geskied via elektroniese media.

Koste: R250 per uur, of gedeelte daarvan, gewerk deur die teksbegeleier. Let wel: ‘n Deposito ten bedrae van 50% van die geskatte koste sal vereis word na die gedigte ontvang is. ‘n Faktuur vir die finale afrekening sal verskaf word nadat die opdrag afgehandel is.

Skryf aan Versindaba byderhand indien jy belangstel in enige van die interaktiewe dienste hierbo, of nog vrae het.

 

Louis Esterhuizen

INHOUDSBESTUURDER: Versindaba

 

(c) Versindaba / 2017

 

Marius Swart. Die “editing”-ding.

Tuesday, May 18th, 2010

Kort voor die naweek woon ek ’n Professional Editors’ Group-kongres by met die titel “The editing of fiction and narrative non-fiction”. Wanneer ’n mens nou dié kongres se titel in Afrikaans probeer vertaal, loop jy jou vas in ’n probleem wat die vorm aanneem van een van ’n paar vrae. Wat is “editing” tog nou? Is dit proeflees? Is dit redigering? Is dit taalversorging? Is taalversorging redigering? Is proeflees en teksredaksie dieselfde ding? Wat is ’n redakteur en wat is die verskil tussen ’n redakteur en ’n redigeerder? Is daar ’n verskil tussen ’n redakteur en ’n taalversorger?

Hoewel die begrippe vir die meeste mense seker nie vreeslik belangrik is nie, was daar duidelik by die (enkele) Afrikaanse deelnemers veel meer vrae oor hierdie definisies as by die (veel groter) Engelse groep. In die Engelse geval is “editing” nou maar “editing” en ’n paar van die dames het my met uitsonderlike verbystering aangekyk as ek vra “But what is editing?” en dan geantwoord met die antwoord wat duidelik na hulle mening alle twyfel by my (een van enkele manlike bywoners, terloops) uit die weg moes ruim: “Editing is just, well, you know, editing”.

Groot geeste uit hierdie gedeelte van die Afrikaanse boekmaakruimte het ook die storie bygewoon. Ek dink aan mense soos Danie Botha en Louise Steyn, om maar twee te noem. Albei sou beskryf kon word as “redakteurs”, maar doen tog ook proefleeswerk, redigering, taalversorging…duidelik nog nie ’n oplossing vir my aanvanklike vraag nie. Dit was interessant om te hoor hoe verskeie sprekers elk ’n verkose begrip het; party praat van “wanneer ek redigeer”, ander van “wanneer ek taalversorging doen”. Een sê prontuit “wanneer ek die boek sit en regkry”.

Deur die loop van die twee dae is dié kwessie in verskeie vraesessies geopper. Op die ou end het dit vir my gelyk asof daar ’n hiërargie is wat opgestel word in terme van die omvang van die wysigings wat die persoon mag aanbring. ’n “Redakteur” mag naamlik aan die storie krap en hoofstukke verskuif of skrap, maar ook paragrawe. (Danie Botha vertel met smaak hoe dit aan die begin van sy termyn in die bedryf letterlik met ’n skêr, ’n kwas en ’n pot gom gedoen is.) Volgende is daar dan die redigeerder of taalversorger wat kyk na formulering, sinskonstruksie, ensovoorts. Dié persoon kan ook nog wysigings aanbring deur byvoorbeeld sinne te herskryf of te verskuif, maar mag nie aan die storie self “krap” nie. Hierna word die boek geset en dan is dit die taak van die “proefleser” om die finale proewe te lees en al wat hier gewysig mag word, is dinge soos tik-, spel- en formateringsfoute.

So geordend en ideaal verloop die proses egter selde, indien ooit, veral vandat die meeste van die bogenoemde take by ’n gegewe teks deur hoogstens een persoon verrig word, indien enigsins. Dit is waarskynlik ’n simptoom van die era waarin jare se kundigheid na die vryskutmark verskuif vanweë allerlei soorte herstrukturering in die bedryf. Die konsensus is wel dat dit jammer is, want daar is nie ’n geleentheid vir jong redakteurs om by meer ervare redakteurs te leer nie en vryskutwerkers is op hulle beurt so afhanklik van die werk dat hulle ook nie kan bekostig om te leer deur te fouteer nie.

Verskeie mense het al geskryf oor die gebrek aan agting wat daar is vir die waarde wat ’n uitstekende redakteur tot ’n teks kan toevoeg. Ek vra dus toe op ’n paar plekke vir die gesoute redakteurs of hulle werk behels om ’n skrywer te laat briljant lyk. Die antwoord is deur die bank “ja”. Party verwoord dit diplomaties en elegant deur te sê hulle bring die skrywer se talent en werk duideliker na vore. Van my mede-afgevaardigdes vra ook of dit behels dat ’n teks soms redelik baie gewysig word, tot so ’n mate dat die redakteur amper spookskrywer is. Weereens is die antwoord grotendeels “ja”. Wanneer daar egter gevra word hoe ver die redakteur/redigeerder in die teks mag inklim en daaraan mag verander, is die antwoorde uiteenlopend, verskillend en meestal iets in die lyn van “Dit hang af van die verhouding tussen jou en die skrywer”. Of daar in die huidige stelsel plek is om hoegenaamd so ’n verhouding op te bou, is ’n ope vraag.

Ek het dus met meer vrae as antwoorde daar uitgestap, wat ’n goeie teken is vir ’n kongres. ’n Paar goed het egter by my vasgesteek. Eerstens is daar die heersende gevoel dat ’n resensent wat ’n beperkte aantal woorde vir ’n resensie het, nie sy tyd behoort af te staan daaraan om te kla oor hoe swak ’n boek geredigeer is nie, selfs as dit wel die geval is. Hiervan sou verskil kon word. Tweedens is daar nogtans die algemene neiging dat wanneer iets oor ’n boek se redigering gesê word, dit meestal negatief is, terwyl positiewe opmerkings daaroor nie genoem word nie. Die rede hiervoor is waarskynlik dat goeie redaksionele werk juis onsigbaar is. Die laaste opmerking wat ek onthou, is hoe Michiel Heyns sê hy het iewers gelees: “Editing is a lot like brushing your teeth”, menende dat daar nie werklik ’n groot beloning of erkenning daarvoor is nie, maar dat dit baie vinnig duidelik word as dit nie gedoen is nie, of as dit swak gedoen is. ’n Mens moet nogal wonder hoeveel “goeie” tekste is deur redakteurs en/of redigeerders goed gemaak.

Om af te sluit: iemand vra ’n paneel oor die kwessie van “moeilike” skrywers. Die konsensus is dat die skrywers wat die minste hulp nodig het, gewoonlik ook die toeganklikste is vir voorstelle, moontlik oor hulle juis weet hoe om hulle eie werk krities te beoordeel en hoe belangrik dit is. Daarenteen is die “hulpbehoewendstes” in baie gevalle juis die onwilligste om hulp of raad te aanvaar. Vir my is dit ook opmerklik dat skrywers wat in terme van aansien die minste nodig het om iemand te bedank, gewoonlik hulle redakteur en/of redigeerder pertinent noem, indien hulle wel bedankings in die teks het. Laat mens dink.

’n Mens sou kon vra: “Wat is ’n skrywer sonder ’n redakteur?”