Posts Tagged ‘Rene Bohnen’

Wenners van die lykdig-kompetisie!

Monday, August 4th, 2014


Wenners : Lykdig-kompetisie
Baie geluk!

 

EERSTE PRYS (R2000): Lykdig 23: René Bohnen. Peter Blum

TWEEDE PRYS (R1500): Lykdig 56: Dominique Botha. I always loved the wild things best

DERDE PRYS (R1000): Lykdig 40: Marius Crous. Lykdig vir Wisława Szymborska

EERVOLLE VERMELDING (R500):Lykdig 33: Louis Jansen van Vuuren. Maak dit ‘n dubbel

(more…)

Digstring: Brief aan Ebba (René Bohnen)

Tuesday, May 29th, 2012

 

Brief aan Ebba

 

nou is hierdie is my laaste faks aan jou

voor my foon afgesny word

en my verkoopte huis

agterbly

met arms vol bosveldbome

en die blou asem van ʼn wolklose dam

 

ek het alreeds ons wildepou

agtergelaat

 

ek het hadedas en kwêvoëls versaak

 

blousysies wat op bakke saad leer vertrou het

sal vergeefs opdaag

en rooibiskoppies sal die lente inwy

sonder my

 

ek het

my rug gekeer

op visvangers en vleiloeries

 

in my kar geklim waar olyflysters wei

 

weggery

van tiptolle en kraalogies

wat al mak was vir my

 

begin bestuur in die rigting

van ʼn vreemde adres

anderkant die krokodilrivier

 

met een laaste terugkyk was daar ʼn

stilte

op die waterkant

en oopgespreide vlerke van ʼn rietkormorant

 

© René Bohnen (Uit : In die niks alom, 2011 : Lapa Uitgewers)

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, René? Hoe het dit ontstaan?

In die winter van 2002 het ek met baie kort kennisgewing verhuis, alles was vreeslik deurmekaar en die vragte admin rondom die trek het my bietjie oorweldig. Fakse was toe nog vir baie mense die voorkeur vir kommunikasie, bo die internet en ek het die gedig in ʼn sakboekie geskryf terwyl ek op die mat in die leë huis gesit en wag het vir iemand om sleutels by my te kom haal.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?                 

Hierdie gedig is vinnig afgerond.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?                                                                                                                        

Díe gedig was ʼn geskenk. Dit is in een lang asemteug geskryf. Twee of drie woorde is verander en een of twee herhalings is uitgehaal. Strofe-indeling en reëlbreuke is al waarmee ek eintlik rondgespeel het, maar uiteindelik verskil die finale weergawe van die gedig baie min van die oorspronklike “draft”.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?                                                                              

Hierdie vers was eintlik bewussynstroom wat ek bloot toegelaat het. Ek kan wel die innerlike gewaarwording onthou toe die eerste voël in die vers verskyn en ek besef het ek moet maar net die deur oopmaak sodat die voëls in die reëls kan kom sit net waar hulle wil. Ek het dus meer dopgehou as georden terwyl die gedig gebeur.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n  vers werk?                                                                                                                             

Ek het die gedig aan ʼn vriendin gefaks en daaruit is die titel gebore. My mede-studente het ook kommentaar gelewer. Ek skryf gewoonlik eers klaar voordat ek verse wys en kommentaar vra.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?                                                                                                   

Tien jaar het verloop voordat die vers opgeneem is in my tweede bundel, in die niks al om. Ek het die vers al verskeie kere voorgelees by poësiegeleenthede en kunstefeeste.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?                           

Die vers lyk vir my heeltemal feitelik te wees, alhoewel ietwat  geteleskopeer. Die laaste strofe is ʼn verbeelde oomblik, ek het die rietkormorant soveel kere vantevore gesien en ek het die emosionele lading daarvan net verplaas na die “laaste terugkyk”. Die impak van hierdie verbeelde oomblik is egter so sterk dat dit vir my werklik voel en ek dit as ʼn feit ervaar. Boonop het ek al dikwels die gewaarwording gehad dat tyd stilstaan terwyl ek die kormorant dophou; dat dit die laaste oomblik van my aardse bestaan is en dat die oomblik vir ewig aanhou.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?                                    

Die spreker beeld haarself uit as die verraaier van voëls en as mislukte versorger.  Sy is vasgevang in die “vryheid” van gedwonge verhuising. Gevoelens van verlies word aan die voëls toegeskryf en die leser verstaan dat dit projeksie van die ek-spreker is. Dit is vir my interessant dat die onbewuste soveel ordening kan toepas wat die digter agterna bloot hoef te ontleed. Ek sien die voëls in hierdie vers as dubbelsinnige simbole van vryheid.  Dit tree in gesprek met die geykte aanname dat vlerke vryheid verteenwoordig en dat voëls kan trek.  

Uiteindelik is daar vir my net een wat nie vasgevang is in die bevrore oomblik nie en dit is die Ebba wat klaarblyklik die brief (en by implikasie die gedig) lees. Hierdie gedagte sluit aan by my oortuiging dat ʼn leser eintlik ʼn gedig voltooi deur dit met elke lees te laat leef. Ek hoop dat die leser vir ʼn oomblik bereid is om “Ebba” te wees.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?                                                                       

Dis die vreemdste ding: toe ek die eerste keer die gedig gelees het, nadat ek dit in so  ʼn bietjie van ʼn waas geskryf het, het ek die musiek van Ennio Morricone uit die fliek The Mission gehoor speel in my kop.  Die kormorant wat met sy oopgespreide vlerke bo die water sit het  nog altyd vir my gelyk soos iemand met ʼn toga of ʼn monikkekleed, iemand wat dalk ʼn seën uitspreek, maar ek voel altyd ʼn gevaar ook aan,  miskien omdat die vlerke so donker is. Het ek die kormorant en The Mission lank voor die tyd al onbewustelik aan mekaar gekoppel gehad sodat dit bloot na bo gedryf het tydens die skryf van hierdie gedig? Ek weet nie. Ek is doodgelukkig om dit ook nooit uit te pluis nie.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Gewoonlik nie, nee.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?                                         

Dit is een van die enkele gedigte wat in ʼn voltooide vorm aan my gegee is.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?                        

Dit is vir my suiwer Suid-Afrikaans, die inheemse voëls en bome anker dit. Die enigste uitheemse element is die pou. Maar daaroor is veel te sê en dit is ʼn hele subtema op sy eie.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek is tevrede dat hierdie gedig daarin slaag om ʼn oomblik vas te vang wat nou vir my verby is en ek sal nie daaraan verander nie. Die gedig mag dalk nie perfek wees nie, maar dit staan.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?        

Dit maak my gelukkig dat hierdie gedig goed ontvang word deur uiteenlopende mense – soms deur  ʼn bejaarde in ʼn stads-ouetehuis wat weemoedig raak oor die natuur en die voëls, soms omdat ʼn jongmens die vlakke van beelding wil ondersoek en soms omdat ʼn persoon kennis dra van wat elke voël beteken as totem. Alle gedigte vervul nie alle funksies nie, maar hierdie vers het my al baie onverwagse vreugde verskaf. Dit is baie maklik om te lees en dit is maklik verteerbaar.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?                        

Eerste ooit geskryf? Nee, ek onthou nie dat daar ʼn vóór en ʼn ná was nie, dit voel soos een lang vloeiende beweging. Eerste gepubliseer, was op die ouderdom van sewe of agt, ʼn gediggie oor ʼn wurm. Ek kan net die titel onthou, die versie is verlore en dis seker goed so. Party dinge moet liewer net herinneringe bly.  

*** 

 Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

 

Resensie: In die niks al om (René Bohnen)

Tuesday, February 21st, 2012

In die begin was die woord ‘n naam wat uit sy nate bars: in die niks al om – René Bohnen

 

Resensent: Marlies Taljard

omslag

omslag

René Bohnen se bundel in die niks al om kan maklik na die eerste lees te lig bevind word. Dit is ‘n bundel waarin die alledaagse en die metafisiese saam poësie word, ‘n bundel so deursigtig soos ‘n “bergkristalwaterval” (p.31) waarin diep die niet in gekyk word. Ten spyte van die eenvoud en oënskynlike deursigtigheid van die verse, is dit poësie wat met elke lees nuwe en diepliggende betekenis bykry. Hoewel die  meesleurende metafore reeds met die eerste lees bekoor, is dit verse wat hulle rykdom eers na deeglike lees en herlees prysgee.

Spiritualiteit is die oorkoepelende tema van die bundel – ‘n spiritualiteit wat in die Zen-Boeddhisme gewortel is, maar dogma oorskry deur ‘n kleurvolle hibridisering van die numineuse belewenis. Bohnen se gedigte illustreer die oeroue beginsel dat die groot geheel deur al die kleiner onderafdelings daarvan gerepresenteer word. Daarom is die geestelike ervaring vir haar nooit onafhanklik van die nietige alledaagse nie. Weerspieëling  in verskillende fasette kom dus by herhaling voor. Die beeld “waterlelies in die maankring” in die gedig kuswoudkus is byvoorbeeld ‘n variasie van die bekende Zen-simbool van die maan met sy weerkaatsing in die water wat illustreer hoe die groot maan in sy geheel in ‘n klein poeletjie water gereflekteer word – selfs in ‘n enkele druppel dou word die maan in sy geheel weerkaats.

In teenstelling tot die Westerse denke wat geskoei is op die konsep van teenstellings, lê die beginsel van nie-tweeledigheid aan die wortel van Zen-denke. Alle ander beginsels vloei daaruit voort of sluit daarby aan. Polariteit impliseer nie noodwendig konflik nie, maar eerder dat twee dinge in balans of in spanning met mekaar verkeer. Sienaert skryf in ‘n artikel oor die werk van Breyten Breytenbach: Hierdie relatiwiteit waardeur die heelal in balans gehou word is inherent harmonies en kreatief, omdat daar geen destruktiewe konflik kan wees tussen pole wat van mekaar afhanklik is vir hulle eie voortbestaan nie. Ook in Bohnen se gedigte speel balans, harmonie en ekwilibrium ‘n besondere rol, soos in die pragtige Nan Hua Bronkhorstspruit:

 

die oomblik is eenvoudig

sonder soeke

op die tempelbalkon

in die ooste rys die volmaan

wit tot blom

draakrooi in die weste sak die son

 

in die ekwilibrium van einde en begin

     op die stil punt tussen-in

 

bot

‘n huilboerboon

 

Hoewel die filosofie onderliggend aan in die niks al om basies dié van Zen-Boeddhisme is, vereenselwig die sprekende ek haar nie met ‘n bepaalde dogma nie: “ver van ons dogma is na aan ons waarde” skryf sy in dryfbedryf. Hierdie beginsel is natuurlik ook ‘n beginsel van Zen, wat oop is vir diversiteit. Hibriditeit loop soos ‘n goue draad dwarsdeur die bundel. In die derde gedig, vlamtong kom ‘n luisterryke vermenging van ritualistiese simboliek voor wanneer veral die Afrika-gelowe, die Rooms-Katolisisme en die Boeddhisme langs mekaar plek vind:

 

en toe hy die woord ukhalamba

spreek

was daar vuur in

sy mond

 

berg

het hy gesê en

om

het die pieke geantwoord om

eggo die amfiteater om

(…)

intaba yami, bid die paters

en die priesters in hul grotte, om

dans die bok-

beelde immer

om

 

In die gedig vanaf Mont aux Sources die Tugela vind ons dieselfde vermenging van heilige terme: “namaste corpus christi halala / in die berg van oorsprong”, soos ook in hibriede van die berge:

 

benedicte namaste ek is wie ek is

 

(…)

 

wierook en water die lama en die pater

 

(…)

 

lensies in my lotussop

sanctus shanti shanti

 

nkosi sikelela skree hadidas

om die boeddha se kop

 

Besonder betekenisvol is die gebruik van die term om in die bundel. Om verteenwoordig die vibrasie wat uiteindelik geluid geword het en waardeur die skepping in beweging gebring is. Dit kom ooreen met die Bybelse Woord/Logos wat aan die begin daar was (Johannes 1:1-4). In sommige Indiese dialekte word die woord naam gebruik vir die hoorbare vibrasie wat dwarsdeur die kosmos aanwesig is sedert die skepping – dus ‘n woord wat betekenisverwant is aan Om/Woord. Die alom-teenwoordigheid van Gees wat deur dié terme verteenwoordig word, word in die bundel ikonies geïllustreer deurdat sowel die eerste as die laaste gedig in die bundel met die woord “naam” afgesluit word:

 

donkermaan

van die agtste maand

die middellande is

wasig

soos my ma se wete

in haar keuse

van my

naam

(om in te kom)

 

en:

 

want alles was see

en alles was leeg

voor die sterre losgeskeur het

uit die niks alom

 

     in die begin

     was die woord

‘n naam wat uit sy nate bars

(ligspirale)

 

Albei dié gedigte handel oor ontstaan of begin: die eerste oor die geboorte van die sprekende ek en die laaste is ‘n soort Genesis-verhaal waarin teruggedelf word tot by die oorsprong van alle dinge. Let op die gebruik van al drie die terme wat min of meer dieselfde beteken as die Bybelse Heilige Gees (dié Gees wat aan die begin oor die water geswewe het, aldus Genesis 1:2), naamlik alom, woord en naam.

Gegewe die duidelike tekens van Zen-Boeddhistiese denke in die bundel, verbaas dit dan nie dat meditasie dikwels óf as tema in gedigte voorkom óf dat gedigte die meditasieproses ikonies vergestalt nie. Boeddhistiese meditasie is gemik op die verkryging van satori – ‘n toestand van verligting – deur die ontwikkeling van opmerksaamheid, konsentrasie, insig en ‘n kalm gemoed waarin die ego ten volle afwesig is en ‘n algehele stilpunt bereik word. Hierdie toestand word gekenmerk deur ‘n mistieke bo-verbale en bo-logiese ervaring van saambestaan van die mens en die wêreld. Deur opheffing van dualiteit word die Groot Niet betree, waar alles in omruilbare verhouding tot mekaar bestaan en niks duur nie – die een ding vloei uit die vorige voort en vervloei weer in die volgende. Verskeie gedigte in in die niks alom verwys implisiet of eksplisiet na die meditasiepraktyk. Ek dink hier aan gedigte soos Nan Hua Bronkhorstspruit, Nymphaea, mandala, oujaar in Aberdeen en Umzimkuku. Ek haal uit laasgenoemde aan:

 

nuut is ons

 

voor

die onvoorspelbaarheid

van vorm

die eenvoudige aksie

van hark

 

een naweek in retreat

waar ons sit soos klippe

en jy volledig

lig

word vir my

 

‘n Gedig soos die onderstaande illustreer ikonies die vrylaat en laat gaan wat noodsaaklik is in meditasie alvorens verligting bereik word:

 

sandskrif is ouer

as sanskrit

die bottel breek     kyk

‘n skuit

           vaar uit

tussen skerwe

kleurglas

in die son

 

Een van die onderskeidende kenmerke van die bundel as geheel is die gebruik van sterk argetipiese simbole soos tyd, water, vuur, die sirkel, mandala en spiraal, die maan en die maagd wat almal ook spirituele betekenis het.

Water is een van die mees antieke simbole wat dikwels met die onbewuste in verband gebring word. Dit verteenwoordig in die onderhawige bundel soms kennis van diep, verskuilde dinge en die misterie van die onbekende. Een van die sterkste water-simbole kom uit die gedig kuswoudkus:

 

die bul en die maagd swem

tussen tsoenami’s

deur ‘n rooi poort onder die see

 

Die vis-simbool (soos afgebeeld op die voorblad) hou verband met die water-simbool, maar is in die Boeddhistiese tradisie ook simbolies van vreugde en vryheid. Koi-visse het die addisionele betekenis van juwele:

 

in fluisterstil ornamentele mere

glim die swemmende koi-juwele

 

‘n Verdere water-simbool wat by herhaling voorkom, is die waterlelie wat hier natuurlik heenwys na die heilige lotusblom van die Boeddhisme en wat eweneens op die voorblad uitgebeeld word.

Ook die maan as simbool word in verskeie verse aangetref. Een van die mooiste beelde in die bundel is:

 

die maan verf

akwarelle

in die tugela

 

Die maan bly deur die eeue steeds ‘n mistieke simbool en staan dikwels in verband met sikliese prosesse, soos beskryf in die gedig eenmot waarin die spreker beweer: “die waarheid is krom / tyd is rond”. Die maan as antieke simbool van vroulikheid sluit sterk aan by die digteres se bewustheid van haar vrou-wees, soos dit byvoorbeeld spreek uit die gedig La Loba waarin die bekende boek van Clarissa Pincola-Estes, Women who run with the Wolves, as interteks gebruik word. Die gedig begin met die reëls:

 

in die donker kloof was watsonias van bloed

tydens daardie dooiemaan

en wilde vroue het in ‘n kring om my kom staan …

 

Met sy meesleurende ritme en sterk inkanterende aard, is dit beslis een van die beste gedigte in die bundel. Die metafore wat in dié gedig vir die vrou gebruik word, soos waterorrelvrou, bamboesfluitspeler en glasharmonika is oorspronklik en treffend. Die slot illustreer verlies van identiteit deur terugkeer na ‘n priomordiale toestand: “wolvin, ek leef al dieper in my trop in”. Die individuasieproses wat deur die gedig La Loba gesuggereer word, deursuur die bundel – steeds is die skrywende ek aan die ligter word, aan die afgooi, soos in middelrus:

 

maar vanoggend het ‘n gedaante uitgestap

in die swye van sneeu tussen bloekombome

by kamberg en griffin’s hill

 

winter van warm ontwaking

‘n wolk in die lug

my asem

‘n geboortegedig

 

hoe grensloos is my lewe nou

so volkome sonder

 

Die sirkel, spiraal en mandala met hulle hoofsaaklik esoteriese simboliek vervul ‘n belangrike ordenende rol in die bundel. Die bekende Zen-sirkel wat in een enkele virtuose kwashaal gemaak word, simboliseer die heelal en die fokuspunt van diep meditasie. Ek haal aan uit sjamaangrot:

 

mierleeutjies onder warm sand

 

hoe flikker hulle

in my hande as ek in sirkels

binne sirkels binne sirkels

die oerpad vat

 

Die spiraal is seker dié mees bekende Keltiese simbool en representeer meestal holistiese groei, oorgawe, bevryding, bewuswees van die self as deel van ‘n groter geheel en ‘n verbinding met esoteriese, kosmiese energie en die goddelike, terwyl die mandala ‘n baie komplekse simbool is wat onder andere in meditasie gebruik word om die gedagtes leeg te maak. Teenwoordigheid van hierdie simbole en ander, soos die draak, die labirint, voëls en vuur in die vlegwerk van die bundel dra daartoe by dat die lees van die gedigte ‘n spirituele ervaring word. In wese is hierdie ‘n bundel wat primêr steun op argetipiese simbole om betekenis en diepgang te genereer, want die gedigte self is dikwels minimalisties en selfs gestroop.

Een van die besware wat ek teen die bundel het, is dat daar min werklik substansiële gedigte voorkom, maar, soos ek vroeër probeer aantoon het, lê dit in die aard van die filosofie wat die meeste gedigte onderlê om juis substansie te verloor ten einde ‘n toestand van verligting te bereik. Sommige gedigte is egter ten spyte daarvan eenvoudig te yl en soms kan formulering meer eksak wees. Die metafoor “‘n melkweg kantel” kan eenvoudig nie weer gebruik word nie en die woord “tsoenami” het sedert 26 Desember 2004 ‘n stopwoord geword wat epidemiese afmetings in die Afrikaanse letterkunde aangeneem het.

Wat vormgewing betref, het die digter besondere selfbeheersing aan die dag gelê. Hoewel daar selde van rymwoorde gebruik gemaak word in die tradisionele posisies, het die gedigte oor die algemeen ‘n baie bevredigende musikaliteit en vloeibaarheid. Ook die strofebou is met sorg gedoen. Daar is verskeie ikoniese gedigte, onder andere enkeles wat die sirkel ikonies daarstel, soos huisraad wat ‘n sikliese einde het, asook die baie interessante spieëlgedig, familiekring waarvan die eerste en laaste strofes só lyk:

 

sakaboelas flap

deur die amfiteater

fluister spoelklippe

 

(…)

 

spoelklippe fluister

in die amfiteater

flap sakaboelas

 

Die oorkoepelende struktuur van die bundel is eweneens poreus. Daar is geen formele indeling in afdelings nie, maar met die lees word dit duidelik dat gedigte tog min of meer volgens temas ingedeel is. Ten aanvang is daar ‘n geboortegedig wat in die slot geëggo word deur ‘n tipiese Genesis-gedig waarin van dieselfde metaforiese materiaal gebruik gemaak word. Dan is daar gedigte waarin argetipiese simbole en rituele handelinge opgeroep word, ‘n Ars Poetica – die pragtige walvisnota met die klankryke reël “daar skuil korale in die klank van troglodiet”, dan volg gedigte oor geliefdes, die spirituele praktyk, die dood van ‘n geliefde moeder, geweld, die aarde en bewaring, vroue en dan weer enkele spirituele gedigte. Dit is dus duidelik dat ook die bundelstruktuur hibridisering verteenwoordig deur ‘n baie losse ordening, grensoorskryding en die feit dat die organisasie nie formeel daargestel word nie en dat ook nie slaafs by die losse skema wat ek hierbo uiteengesit het, gehou word nie.

Ek het in die niks al om ‘n besonder verrykende leeservaring gevind. Dit is baie jammer dat so ‘n bundel so swak uitgegee word: reeds toe ek die boek oopmaak, het die buiteblad begin losskeur, en nadat ek dit ‘n paar keer deurgewerk het, kom die meeste bladsye reeds los. Ook die skriftipe wat uit klein kolletjies bestaan, was vir my baie moeilik om te lees. Ek voel LAPA kon beter gedoen het as dit!

Tog is die bundel as geheel die moeite werd om te lees, al lees mens net ter wille van die spontane metafore wat vloei asof dit die natuurlikste taal op aarde is.

 

 

René Bohnen. Verder as die somer

Friday, November 11th, 2011

Die hittegolf tref die Hoëveld op ʼn Dinsdag. Heelweek hang ʼn soelte oor die N1 terwyl ek pendel tussen ʼn pers Pretoria en die jakarandas in Johannesburg. In Tauruslaan is drie Indiese kleure deurmekaargevleg: bloedrooi vlambome, cerise bougainvilleas en ‘n tapyt van pers bloeisels op die teer. So twee weke of wat gelede was dit Deepavali, onthou ek, met my gedagtes in bont, warm Durban.

Eienaardig hoe elemente soms op mekaar inwerk, want heel onbeplan duik Durban met ʼn ompad Vrydagaand weer op. Lam en tam is ons lus vir lekker onopgesmukte kos en ons val by ons naaste Portugese eetplek in. Hier woel dit en oumas sit aan tafel met babatjies op die skoot. Swartkopkinders hardloop rond, buite loop ʼn ligbruin hond en ons kry ‘n tafel in die hoek.  Yskoue drinkgoed word voor ons neergesit en die kelner skryf sy naam met ʼn filtpen op die bruinpapiertafeldoek.  Die spyskaart open vistas van ander plekke waar menige garnaal verorber is: Mpumalanga, Mosambiek…en Durban.

Fernando Pessoa is op 13 Junie 1888 in Lissabon gebore. Sy pa sterf in 1893, toe Fernando vyf jaar oud is. In 1895 trou Fernando se ma met ‘n weermagoffisier. In 1896 word Fernando se stiefpa aangestel as Portugese Konsul en die gesin verhuis na Durban.  In 1899, aan die Durban High School, raak hy vlot in Engels en raak hy geïnteresseerd in die literatuur. In 1903, in sy matriekjaar, wen hy die Queen Victoria Memorial Prize  vir Engels. Op 6 Julie 1904, plaas The Natal Mercury  sy gedig “Hillier did first usurp the realms of rhyme” onder die naam Charles Robert Anon en tussen Februarie en Junie 1905 plaas die koerant minstens vier sonette deur Fernando Pessoa.  Op ʼn vroeë ouderdom reeds het die digter verskillende name, oftewel personas begin gebruik, waarvan “Chevalier de Pas” waarskynlik die eerste was. Op sewentienjarige ouderdom verlaat Pessoa Durban, en Suid-Afrika, vir altyd en keer terug na Lissabon, waar hy in 1935 sterf.

Op skool in die destydse Natal, het ons nie van Fernando Pessoa geleer nie en ek het baie later eers uitgevind dat hierdie “Durbaniet” gereken word as ʼn groot Portugese digter. Ek leer nou nog maar sy werk so stadigaan ken. Miskien is dit hoekom ek op ʼn drukkende aand in Johannesburg, so oor  ʼn lieflike piri-piri-hoendertjie met kokos- en lemmetjiesous, dink aan enigmatiese tweetalige digters wat waarskynlik sou tuis voel so tussen die Portugese mama’s en Espatadas. My gedagtes dwaal ook na ʼn wandeling tussen kleurvolle Portugese huisies, ʼn klein Mosambiek-dorpie en ʼn dagbreekstrand, iewers in 2003.

sonsopkoms op die strand in Mosambiek, 2003

sonsopkoms op die strand in Mosambiek, 2003

 

o wat ‘n plesier… (bron Google)

Op die hoek van Pine en Gardiner-strate in Durban is daar ʼn standbeeld ter herdenking aan hierdie Portugese digter.

En omdat Ferdando Pessoa my verder kon laat sien as die Hoëveldse hitte, plaas ek VI uit The Keeper of Flocks, geskryf onder die heteroniem Alberto Caeiro da Silva.

 

“From my village I see as much in the Universe as you can see from earth…
So my village is as big as any other land
Because I’m the size of what I see,
Not the size of my height…
In the cities life is smaller
Than here in my house on top of this hill.
In the city the big houses shut your sight with a key,
Hide the horizon, push your eyes far away from all the sky,
Make us smaller because they take away what our eyes can give us,
And make us poor because our only wealth is seeing. “
 

Fernando Pessoa in Durban 1898 (bron Google)

 

 *****

René Bohnen

René Bohnen

Ons verwelkom een van ons nuwe digters wat aangesluit het by die groep SA (Binneblik) bloggers: René Bohnen skryf en neem foto’s. Soms tree sy op as fassiliteerder by kreatiwiteitswerkswinkels of spanbougeleenthede.  Sy woon in Johannesburg, is ʼn Nataller van geboorte, het al in 13 dorpe en 5 provinsies gewoon en dalk is dit nog het einde niet. Sy behaal in 2009 die graad M.A. Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Haar debuutdigbundel, Spoorsny verskyn in 2000 en in 2011 publiseer LAPA-Uitgewers haar tweede digbundel, in die niks al om.  (- Red.) 

 

 

Andries Bezuidenhout. Melville se poësiefees, 2011 – fotobeeld

Monday, October 17th, 2011

Dis nie met groot fanfare afgekondig nie. Die fees se baniere het ʼn underground kwaliteit gehad – dit is nie dwars oor strate opgehang nie, maar tussen die pilare van Melville se 1930s-geboue. Die Facebook-bladsy is eers ʼn week of wat voor die fees opgesit, die program selfs later. Maar nuwe bundels is die wêreld ingestuur (een van Gail Dendy), gesprekke is gevoer (een oor die nalatenskap van Wopko Jensma), gedigte is in binnehowe en restaurante voorgelees, weefwerk tussen beeldende kuns en woordkuns is teen mure opgehang (deur Hans Pienaar en Charl-Pierre Naudé), musiek is in teaters opgevoer, ʼn imbongi het van Melville se dakke af geroep (darem deur luidsprekers, spookagtig in die kalklig), gedigte is sommer op straathoeke voorgelees – enigiemand kon kom luister.

Ek wil nie veel hier sê nie, laat die foto’s eerder praat. Ek wil egter twee punte maak, oor wat die fees vir my besonders gemaak het:

Eerstens, die intieme skaal en aard van die voorlesings. Daar was twee geleenthede vir Afrikaanse gedigte – die een in ʼn restaurant se binnehof (“Melon Courtyard”) en die ander in ʼn aardige kroeg/restaurant (“Love & Revolution”). Daar was nie mikrofone en luidsprekers nie. Hans Pienaar het elke digter op sy rustige manier voorgestel en dan het mense sommer opgestaan waar hulle sit en hul gedigte voorgelees. In Love & Revolution het ek sommer op die vloer gesit, dalk die beste plek in tye van liefdeloosheid en revolusies wat skeef loop. Die spanning tussen van die digters het die geleentheid ʼn vreemde tipe energie gegee.

Tweedens, die ware Johannesburgstyl. Dit was ʼn Suid-Afrikaanse fees, waarin Afrikaans ook verteenwoordig was, as een van baie tale. Op ʼn persoonlike noot was dit vir my lekker om my musiek aan mense te kon voorstel wat nie andersins daarna sou luister nie. Ek het gepraat oor Voëlvry se verbintenis met Johannesburg en die vertoning met Kerkorrel se “Gee jou hart vir Hillbrow” afgeskop; dinge van daar af verder geneem. Al kon sommige van die mense in die gehoor – waarskynlik die meerderheid – nie Afrikaans verstaan nie, was die ontvangs tegemoetkomend en het ek welkom gevoel.

Gee jou gedigte vir Hillbrow...

Banier tussen pilare

Gedigte op straathoeke

Christo van Staden, ook bekend as Johannes van Jerusalem

Corné Coetzee lees voor, Hans Pienaar luister

Toast Coetzer lees: "Die Here is my herderspastei..."

Loftus Marais lees, Harry Kalmer heel links

Charl-Pierre Naude lees, Johann Lodewyk Marais in die gehoor

Rene Bohnen lees

En Cornel Judels

Heidi Papadopoulos

Johann Lodewyk Marais, oor Livingstone en Lamu

Woensdag, 10 Junie 2009

Wednesday, June 10th, 2009
Steak & Ale, Lyttelton

Steak & Ale, Lyttelton

Op sy blog-inskrywing verlede Vrydag vertel Andries Bezuidenhout van ‘n wonderlike geleentheid môre-aand, 11 Junie, by die Steak & Ale in Lyttelton. ‘n Hele span digters en musikante gaan naamlik die koue aanvat en daarvan iets plesierigs maak. Die digters wat gaan optree, is: HJ Pieterse, Johannes Prins, Ronel Nel, René Bohnen, Braam Smit, Niel van Deventer en Kabous Verwoed (wat gedigte lees op die maat van musiek deur Dawie de Jager) en (dalk) Martjie Bosman. Die musikante is Andries Bezuidenhout, Brixton Barnard, Riku Lätti en Jon-Henry Opperman van Klopjag. Wat ‘n program! En dit alles net vir R60, met kaas en wyn ingesluit. (Kyk hier vir al die inligting.)

Terloops, ons sien uit na jou verslag hieroor, Andries, want hierdie ene gaan ‘n gróóte wees; inderdaad, ‘n bloubulgeleentheid soos min. Sterkte vir julle almal, en ja – ons beny julle dié vreugde; veral om Die Hertog weer in aksie te kan sien! Ai, ai, ai. (As lusmaker kan julle solank Carina Stander se skitterende artikel, Die Heelalburg van Hertog Bloubaard, hier lees.)

Mooi bly.

LE

Andries Bezuidenhout. Woorde teen die winter…

Friday, June 5th, 2009

Gautengers, kom tog Donderdagaand, 11 Junie Steak & Ale toe! Ek hou van hierdie kroeg en restaurant in Lyttelton deels omdat dit so ‘n onpretensieuse venue is. Dis in Bothalaan langs ‘n treinspoor. Toe Koos du Plessis nog gelewe het, het hy daar uitgehang, alhoewel die plek toe ‘n ander naam gehad het. Dis in ‘n tipiese voorstedelike winkelsentrum met ‘n swop shop en ‘n apteek. Agter die verhoog is ‘n groot skildery van James Phillips en teen die een muur is ‘n opgestopte koedoekop. Die plek binne het egter ongelooflike akoestiek, deels weens die grasdak bo die kroeg, en ‘n killer ingeboude klankstelsel.

Die foto hier bo is daar geneem tydens ‘n tribute show aan Johnny Cash. Van links na regs is Piet Botha, Kapelaan Pat Plank, Paul Riekert en Jim Neversink. Maar dit was ‘n vorige geleentheid. Kom geniet hierdie Donderdagaand ‘n aand met Afrikaanse gedigte en musiek om die koue uit die winter te haal. Die eerste 50 mense wat bespreek kry gratis ‘n CD – “in die begin was die woord”, met gedigte en musiek van mense soos Gert Vlok Nel, Charl-Pierre Naude, Ronel Nel, Danie Marais, Paul Riekert, Henning Pieterse en Riku Lätti.

Digters wat van hul gedigte gaan voorlees is HJ Pieterse, Johannes Prins, Ronel Nel, René Bohnen, Braam Smit, Niel van Deventer en Kabous Verwoed (wat gedigte lees op die maat van musiek deur Dawie de Jager). Ek probeer nog om vir Martjie Bosman te oortuig om ook te kom. Die musikante vir die aand is ek, Brixton Barnard, Riku Lätti en Jon-Henry Opperman van Klopjag.

Almal hier ken vir Hennig Pieterse, so dis nie nodig om hom voor te stel nie. Ek is veral opgewonde omdat beide hy en Riku daar gaan wees. Riku het baie mooi toonsettings van Henning se gedigte gedoen.

Jo Prins was verantwoordelik vir “Leketaal”, ‘n gewilde rubriek oor digkuns in By, en is in die Nuwe Stemme-reeks gepubliseer. Ons kan uitsien na sy debuutbundel wat later hierdie jaar gepubliseer word.

Kabous Verwoed is onder andere bekend vir sy CD “Beenkamers en Gange”, waarop hy gedigte saam met musiek voorlees. Hy en Dawie de Jager het al meer as 50 keer reg oor die land saam opgetree en in die proses hulle verhoog gedeel met mense soos Bacchus Nel, Gert Vlok Nel, Riku Latti en Albert de Vos.

Ronel Nel se gedigte is in verskeie versamelbundels gepubliseer en haar debuutbundel “[en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark]” het in 2002 by Protea Boekhuis verskyn. Sy is ook verantwoordelik vir die saamstel van die CD “In die begin was die woord”, wat digkuns en musiek kombineer.

René Bohnen debuteer in 2000 met die bundel “Spoorsny” (finalis vir Ingrid Jonker-prys in 2001). Haar gedigte word ook in verskeie bundels en opgeneem asook in Ian Raper se CD-verse “Klikspinger”. Haar werk figureer ook op die Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn (Haikoes – gebede vir die landskap, die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe se installasie) wat later in ‘n feesbundel verskyn.

Braam Smit is ‘n digter van Pretoria wat self betrokke is by die organisering van geleenthede waartydens gedigte voorgelees word, gereeld ook in kombinasie met musiek. Van sy gedigte is gepubliseer in versamelbundels in Suid-Afrika en Nederland.

Niel van Deventer het in 2006 as musikant begin naam maak as die frontman van die Afrikaanse folk-rock groep Radio Suid Afrika. Hulle musiek het veral vanweë sy sterk lirieke hard geslaan en weldra het hy ook as skrywer en digter die oog gevang.

Oor die musikante net die volgende: Brixton Barnard is ook bekend as Drikus van die voormalige Brixton Moord & Roof Orkes. Saam met Esmé Evakwaad, sy partner in crime in die duo Trike, het hy al ‘n hele paar CD’s vrygestel. Hy is op die oomblik besig om aan ‘n solo-CD te werk. Riku is al ‘n gevestigde naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Hy is ook besig om gehore in Nederland en België met sy musiek te bekoor. Sy eerste trippel-CD, “Tussen Kontinente”, is pas uitgereik. Dis ook Riku se verjaarsdag! Jon-Henry Opperman is natuurlik die front man van die immer gewilde Klopjag kom doen ‘n paar solo-tunes.

Datum: 11 Junie 2009; Tyd: 19h00 vir 19h30; Toegang: R60 per persoon, sluit kaas en wyn in. Wyne geborg deur Vrede en Lust wyne. Tafelbesprekings: (012) 664 5155

Aanwysings hier.