Posts Tagged ‘Resensie Asof geen berge ooit hier gewoon het nie’

Resensie: Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Pieter Odendaal)

Friday, September 14th, 2018

Resensie: Asof geen berge ooit hier gewoon het nie – Pieter Odendaal

Resensent: Marlies Taljard

Omslag

My eerste indruk van Pieter Odendaal se “Asof geen berge ooit hier gewoon het nie” was dat dit ‘n besonder beleë debuut is. Pieter is beslis geen groentjie in die poëtiese wêreld nie. Hy is trouens ‘n bekende in die kringe van aanlynpoësie en ‘n gevestigde podiumdigter. Nou het sy digstem gestalte gevind in ‘n konkrete bundel wat, volgens ‘n onderhoud op Versindaba met Louis Esterhuizen, reeds lank aan die kom was. Gelukkig het die digter gewag tot hy genoeg sterk verse het voordat hy besluit het om te publiseer.

Die titel is ietwat ongewoon in dié sin dat dit veronderstel dat berge kan “woon” – en daarom trek dit dalk vroeg reeds die aandag van die leser. Dit het my egter gehinder dat dit meer as toevallige verband hou met ‘n bundeltitel van Louis Esterhuizen, “Die afwesigheid van berge”. In die bogenoemde onderhoud laat Odendaal hom soos volg uit oor die titel van sy bundel:

“Die titel kom uit een van my gedigte, en trek verskillende temas saam – eerstens, ons ongeërgde plundering van die natuur; tweedens, die blinde arrogansie van koloniale uitbreiding (wat op verskeie maniere vandag voortduur); en laastens, die relativerende perspektief van geologiese tyd, van berge wat ook ultimately, nes ons, sal verdwyn.”

Hierdie “verklaring” som inderdaad die tematiese materiaal van die bundel baie goed op. Dit was ook ‘n sinvolle strategie om die titel as laaste reël in die bundel te plaas, as sintese van ‘n poëtiese standpuntinname wat as goue draad deur die bundel loop:

ons klim uit onsselwe uit

en asem die reukloosheid van waterdamp in

ons word uitgevee –

die skerwe aardkors om ons ken ook dié patroon:

hulle skraap tot teenaan die blou plafon,

retireer dan in slow-mo

tot die grond weer gelyk word

en hier weer wolke kom lê

asof geen berge ooit hier gewoon het nie

Die digter verdeel die bundel in 5 afdelings, naamlik “re mang?”; “heil die planetêre skeppers”; “voor ons deurskynend word”; “as al my lovers” en “re mang?” Struktureel het ons hier dus ‘n soort sikliese gang wat begin en eindig met die vraag “re mang?” Inhoudelik is dit duidelik dat daar sterk progressie plaasvind vanaf die eerste “re mang?”-vraag totdat dieselfde vraag weer gevra word en daar – metafories gesproke – ‘n heel ander antwoord uit die verf kom. Myns insiens bevat die eerste en die laaste afdelings van die beste gedigte in die bundel.

Die motto van die bundel is ‘n belangrike ruimteskeppende merker en ek haal dit graag hier aan:

may we

turn here

       or return there

where a fractured rhythm from

the distant past moves us

– Keorapetse Kgositsile, “Like the tide: Cloudward”, My name is Afrika

Keorapetse (Willie) Kgositsile is ‘n digter wat ek nog baie selde in Afrikaanse geselskap hoor noem het en ek glo dat baie min Afrikaanssprekendes met sy werk bekend is. Vir die struggle was hy egter ‘n besonder invloedryke en kleurryke figuur. Hy het ‘n charismatiese persoonlikheid gehad wat hom ‘n geliefde digter onder Swart aanhangers gemaak het. Reeds in die jare toe hy as uitgewekene in Amerika gewoon het, het hy bekendheid verwerf as orale digter en dit het hom ook die titel “National Poet Laureate”, toegeken deur die South African Literary Awards, besorg. Dat Odendaal aan Bra Willie die ereplek voor in sy bundel gee én ‘n gedig aan hom opdra, is ‘n belangrike rigtingaanduiding: ook Odendaal is bekend vir sy oorwegend orale digstyl en sy aweregse inskryf teen die digtradisie van die vorige geslag. As voorbeeld van Odendaal se styl, maar ook ter ere van Bra Willi wat onlangs oorlede is, haal ek die volgende strofes aan:

Bra Willie, fiere brandwag, behoedende meerkat!

jy was voor jou geboorte reeds reus

jou gebrul skud die stront uit die berge uit

die riviere dans wanneer jy jou tande wys

jy sny jou verse met dieselfde kronkelende presisie

as Coltrane sy note

jy is ’n cheetah in die hart van ’n roos

jy kan nie ophou groei nie

Wysgeer, ek vier die grasieuse middelvinger van jou mond

die vuiste van jou werkwoorde

jou byvoeglike naamwoorde kerse vir jou gesig

dat ons jou beter kan lees

Die bostaande reëls is verteenwoordigend van gedigte en temas wat in die eerste afdeling van die bundel voorkom en illustreer ook in welke mate Odendaal as’t ware in metafore dink. Die meeste gedigte in dié afdeling hou tematies met die struggle verband en het ‘n besonder aangename melodiese klank en bevredigende metrum, soos in die volgende paar reëls uit die inleidende gedig, “die aand toe die see gesing het”, gehoor kan word:

ek lê halfwakker halfdronk teen

’n duin op bloubergstrand

die stad dryf

nes fosfor op die see

die berg is uit die nag

geknip

borrels kondig hulle terugkoms

soos ’n crescendo aan

koppe verskyn – boeie bo die golwe –

tussen my en die eiland

’n skare rys uit die see

’n akwatiese koor wat asem skep

senzeni na gorrel hulle

Dat Odendaal gemaklik is as podiumdigter (eintlik ‘n té vae term!), blyk daaruit dat hy in gedurige interaksie met ‘n veronderstelde gehoor skryf. Een van die gedigte in Afdeling I het dan ook die subtitel “performance vir mond en mic”. Ook elders in die bundel, veral in Afdeling IV, waar gedigte met losse struktuur voorkom, is dit duidelik dat die verse in eerste instansie geskryf is om gepraat te word en dat dit aan ‘n gespreksgenoot gerig word.

Die eerste afdeling van die bundel is ook in ander opsigte indrukwekkend. Soos ek reeds gesê het, is Odendaal se gebruik van metafore een van sy sterkste punte as digter. In “Gebed” word die afstand tussen “ons” en “hulle” metafories verwoord deur onder andere die volgende frases:

dankie vir dit alles en u genade wyd

soos die afstand tussen spa en longdrop

Die skreiende ironie van ons skeefgetrekte samelewing kom tot uiting in reëls soos die volgende uit dieselfde gedig:

dankie vir styfgespande drade

wat flenterhande van uitvoerdruiwe weghou

en die grond wat ons steeds nie ken nie

die grond waar ons voorouers saam ontbind

Ironie en skreiende teenstellings, soos onder andere spreek uit die bogesiteerde voorbeelde, is een van Odendaal se mees kenmerkende styleienskappe en verseker dat sy gedigte ‘n sterk impak op die leser het. Die saambring van disparate elemente uit uiteenlopende Suid-Afrikaanse kulture lê klem op die geweldige sosiale kloof wat daar tussen hoofsaaklik wit en swart in ons land bestaan. Tog is versoening moontlik:

’n Blinde man het opgeklim

op Soutrivier, sy oë was wit;

geluister vir die stiltes tussen

pendelaars en daar gaan sit.

Sy stem en sy kitaar was moeg:

hy’t skamerig en sag begin

om bo die groot gedruis in Xhosa

Koos Doep se Gebed te sing.

Die aunties van die townships en

die Zimmers en ’n vet, bles oom

het een-een ingeval en saam

oor god en ander goed gedroom.

In die volgende bundelafdeling staan hoofsaaklik gedigte oor eko-kwessies wat besonder sterk verwoord word, soos in die ironiese reël “die paradoks van olievlekke tussen windturbines”. In Odendaal se eko-verse is daar myns insiens ‘n aggressiewe ondertoon wat nog nie dikwels in die Afrikaanse poësie gehoor is nie. Sy uitgangspunt is beslis dat ons as mense deel is van die planetêre stelsel met sy interafhanklikheid van mekaar – niks kan los van mekaar gedink word nie. Die idee dat plante ook digter kan wees veronderstel dat ons op gelyke voet geplaas word met aspekte van die skepping wat ons as “los” van onsself beleef:

alle plante is digters

hulle laat stof blom

Hoewel Odendaal deur sy eko-gedigte by die meeste moderne digters in Afrikaans aansluit, is sy insigte in baie opsigte uniek. Tog voel ek dat hierdie afdeling van die bundel nie poëties gesproke op dieselfde hoë vlak as die eerste afdeling is nie.

Die derde bundelafdeling, “voor ons deurskynend word”, kan tematies as terugskryf teen die geskiedenis van wit Suid-Afrika bestempel word. “16 Desember 2009” is ‘n alternatiewe weergawe van Geloftedag waarin weer eens sterk ironies kommentaar gelewer word:

op pad see toe het mdantsane

se pondokke soos alles vantevore

ongesien verby die vensters

van ons double-cab geskiet

sus was karsiek en ooms op rsg

het oor geloftedag gestry

maar ons moes wag – daar voor was

’n ongeluk: taxi omgekeer op die teer

iemand het langs die pad gelê

’n navy kombers om haar lyf

haar arms oop asof sy die grond

ten laaste terugeis

sus was bleek en opgekrul op die back seat

sy wou weet of ons al die see kon sien

Die ironiese gebruik van woorde soos “geskiet” lewer skreiende kommentaar op die geykte weergawe van Geloftedag soos dit in die Afrikanergeskiedenis gesanksioneer geraak het. Ook die verwysing na “grond” is in dese dae ‘n sterk kulturele merker. Die ontluistering van die vaderfiguur in die gedig “my pa slaap” is enersyds ‘n distansiëring van die ideologie van apartheid, maar op subtiele wyse word die verbondenheid aan dié geslag gesuggereer deur die onbewuste handeling van voete vryf terwyl hulle slaap. Die implikasie dat ons situasie baie meer kompleks is en diep strek tot in die onderbewuste van die Afrikanerpsige, word deur hierdie gedig verwoord:

my pa slaap langs my op die bank

die onderste twee hempsknope oop

sy maag peul uit soos ’n struggle-song

teen die donkerte wat voorlê

hy sing soos hy snork

vryf sy voete oormekaar nes ek

sy bril hang aan sy ore

sy asem aan sy lippe

Die besef dat ‘n terugkeer na wat vantevore as ‘n ideale toestand geag is, onmoontlik is, lei tot diepe melancholie – depressie is die siekte van die moderne mens. In die gedigte “sy oë sonder rus” en “noudat my dae” word dié toestand uitgebeeld.

Afdeling IV word gekenmerk deur liefdesgedigte wat onversoenbaar is met die tradisionele liefdesgedig. Die aard van liefde en liefhê word veral belig deur disseksie en analise van wat tussen mens en mens bestaan. In “fisiologie-laboratorium” word wetenskaplike analise as metafoor aangewend om enersyds die banaliteit en andersyds die toepaslikheid van die assosiasie tussen “hart” en “liefde” aan te toon:

die tutor deel ’n mikroskoop

en ’n dwarssnit van ’n hartspier uit

ek skakel die ligbron aan

bring die beeld in fokus:

die selle lê soos lenige lovers langs mekaar

die kerne kyk stom die heldersiende lig in

die mitochondria is wurmrige konkavure

wat die hele storie aan die gang hou

Uit ‘n reël soos “oukei, nóú skryf ek jou klaar” blyk die skeppingskrag van die poëtiese woord – dat die geliefde deur woorde tot lewe geroep kan word – soos dit sedert onheuglike tye deur skrywers ingesien is.

Of die whatsapp-teks op p.84 as gedig uitwerk, betwyfel ek. Maar hier kom weer eens die hibriede aard van Odendaal se poësie na vore – die bisarre selfoontaal, die mengsel van Afrikaans en Engels, die práát met die aangesprokene, die alledaagse as gedig.

Die laaste afdeling, wat deur herhaling van die titel “re mang?” by die eerste aansluit is, soos die eerste afdeling, ‘n hoogtepunt in die bundel. Dit dwing die leser tot selfondersoek deur die sterk ironiese inslag. Die bemoeienis om Afrikaans sogenaamd te “behou” en te “bewaar” word deur die gedig “in praise of protest” onder verdenking gebring, tesame met al die Afrikaner se ander bewaringsaksies van die “eie” (selfs “volkseie”), dikwels ten koste van versoening en eenwording:

verdra daarom ons brandende tyres

en ons buitensporige eise

(’94 het ook eens anderwêrelds geklink)

beskerm ons lywe wat wild soos die son brand

ons voete is in vuur gedoop

ons betoog vorentoe

beoog ’n nuwe wêreld

wat nog in taal moet ontvlam:

die knettering van moontlikhede,

gesigte in die vuur

en dis goed so

want as die hetigheid ons skroei

word ons almal tog verenigend swart –

’n verbrande berghang –

fynbos blom die mooiste na die vlam

In hierdie opsig maak Odendaal hom los van die huidige debat oor wie en wat die Afrikaner sou wees en dink hy in beelde en drome van die nuwe geslag wat (idealisties) kleurblind is en dieselfde ideale koester. Lees mens egter fyn, blyk dit tog dat dit hom (ons/die nuwe geslag) tog nie altyd geluk nie!

Die gedig “for mzansi” is ‘n pragtige kontrapuntiese gesang wat sterk aansluit by Afdeling I. Dit is ‘n gedig waarin baie stemme fragmentaries en lukraak in die poëtiese ruimte resoneer sonder om op die mikrovlak sin te maak. As geheel werk dit egter deurdat dit metonimies ons gefragmenteerde samelewing simboliseer.

Een van die mees kritiese gedigte is “fragmente”, waarin die bewaring van museumstukke bevraagteken word deur ‘n beskrywing van die D.F. Malanargief:

DF, kom staan vir ’n oomblik

in hierdie Damaraman se skoene

en check hoe obseen jou nalatenskap

in die argief vol koloniale buit lyk:

die oorvloed van jou lewensdetails

teen die karige indeks van inheemse objekte

die witklank die sneeubeeld

van al hierdie mense se dae

waaroor jy so ontoereikend help beskik het

vir wie het jy almal jou hoed gelig, dominee?

watter eelte het hierdie skoene jou gegee

hoeveel weeg jou logge lyf?

Uit ‘n gedig soos hierdie blyk die krag van Odendaal se poësie. Hoewel gedigte in die bundel van wisselende kwaliteit is, tref gedigte soos hierdie hard en wil-wil mens vergeet van die enkele minder sterk gedigte. My insig is dat enige denkende mens hierdie bundel onder oë behoort te kry. Dit is inderdaad ‘n openbaring van toestande wat lank weggedink is en omstandighede wat net té ongemaklik is om te midde van ‘n bevoorregte en oorvloedige leefstyl te oordink. Pieter Odendaal het beslis iets te sê en hy skroom nie om dit in sterk bewoorde poësie te doen nie.