Posts Tagged ‘resensie bidsnoer pieter fourie’

Resensie: Bidsnoer (Pieter Fourie)

Friday, April 6th, 2018

 

Resensie: Bidsnoer – Pieter Fourie

  1. Tygervallei: Naledi. ISBN 978-1-928426-06-6

Resensent: Marlies Taljard

Bidsnoer van pêrels. Volkskuns as mini-teater. Gesprek met die Onsienlike in oeroue metafore. Dit sou ‘n mens Bidsnoer, Pieter Fourie se tweede poësieboek, kon noem. Ook ander tiperings, soos Daniel Hugo se “inventarisse en inkantasies” en “besweringe van die verganklikheid”, sou ewe gepas kon deurgaan. Feit bly: dis ‘n digbundel wat mens bybly, onder andere weens die primordiale aard daarvan, ‘n bundel wat alte maklik onderskat kan word.

Tereg tipeer René Bohnen die bundel in ‘n onderhoud met Fourie op Versindaba as “Volksrealisme” – ‘n term wat sy aflei van die Engelse term “Folk Realism”. David Barnett (https://www.independent.co.uk/news/long_reads/folk-realism-english-literature-countryside-legends-landscape-nature-gothic-writers-fantasy-a8234691.html) beskryf dié nuwe genre as literêre werk, “reminding us that under our veneer of sophistication we are of the soil that still breathes and remembers the old ways under the layers of tarmac and concrete we hide it beneath”. Dit is ‘n sub-genre wat ‘n liminale posisie inneem tussen “folk horror” en magiese realisme met ‘n sterk intuïtief-numineuse element. Dit is kuns wat nie op netjiese eindes of volledige verklarings bedag is nie, maar – aldus Barnett – “[the literary works] help us tether our transitory modern lives to the bedrock of all that has gone before”. ‘n Mens hoor in hierdie bundel, soos ook in Fourie se debuutbundel, Knapsekêrels, die sterk volkse poësie van Boerneef en Van Wyk Louw se Klipwerk (‘n afdeling in Nuwe verse) en talle moderne digters wat in streeksdialekte dig. In ‘n artikel in Stilet (September 2015) skryf Christo van Rensburg insiggewend oor Klipwerk as dialektaalspel. Baie van dit wat hy sê, tipeer ook Pieter Fourie se bundel Bidsnoer. Volgens van Rensburg vervleg Klipwerk-metafore mense en landskap en dialektaal; floreer betekenismoontlikhede op ondeursigtighede; verwoord die verse vreugde en pyn, eensaamheid, nadenke en soms intiem-persoonlike sake; gedy verhullende metafore, suggestie en konnotasie; is dit dikwels humoristies en word dit soms gekenmerk deur liriekboupatrone. Hy haal wyle A.P. Grové aan wat beweer het die verse “besit nou eenmaal iets orakel-agtigs”. Ek lees Fourie se bundel teen die agtergrond van hierdie teoretiserings oor Klipwerk waarmee Bidsnoer meer as ‘n toevallige verband vertoon.

Die bundel Bidsnoer is georganiseer in 8 benoemde afdelings en ‘n woordelys. Die eerste afdeling, “Toktokkie”, bestaan uit ‘n tiental fris, verrassend-mooi liefdesgedigte; “Kontrei” bevat kontrei-, werf- en ander los gedigte; “Gehuggie” is ‘n lang gedig, opgedra aan Dylan Thomas, waarin kleindorpse karakters en skandes met enkele vaardige kwashale geskets word; in “Broodlyn” lees ons van eet en drink, die stryd om oorlewing en doodgaan; “Korrelknape” het die oes van die druiwestok as tema; “Vanmelewe” bevat gedigte oor mense uit vergange jare, hul leefwyse en etiek; in “Swetterjoel” word onder meer die saambestaan in verskeidenheid uitgebeeld, dikwels aan die hand van kosmetafore; en die slotafdeling, “Snoer”, wat die bundeltitel oproep, word gewy aan gedigte oor die stad, met die fokus op steriele, liminale ruimtes waarin empatie en deernis skreiend afwesig is, ontheemding en onwaardigheid die bestaan kenmerk, met gevolglike disrespek vir alle lewe. Die “Woordelys” is ‘n nuttige afdeling waarin kontreiwoorde wat vir die moderne leser onbekend mag wees, verklaar word.

Die eerste, alleenstaande gedig aan die begin van die bundel, wat mens dalk ‘n motto-gedig sou kon noem, bewerkstellig ‘n aanknoping met Fourie se vorige bundel, Knapsekêrels, veral die slotafdeling (“los krale”). Dit en som veral één aspek van die tersaaklike bundel-tematiek op:

in ’n string

tussen voorvinger

en duim

gly sonder verset

dekades verby

in prewelgebed:

Die dubbelpunt ten slotte suggereer dat dit wat volg (die 8 afdelings van die bundel) ‘n uitbreiding op of verklaring van hierdie gedig is – dat die bundel ‘n soort herinneringskrif is wat kenmerke van die gebed vertoon. Volgens die Merriam-Websterwoordeboek beteken bid of gebed “to address God or a god with adoration, confession, supplication, or thanksgiving” – alles aspekte van die bidpraktyk wat die bundel Bidsnoer onderlê. In die loop van die bespreking sal ek enkele voorbeelde probeer aantoon. Wanneer die digter egter die laaste bundelafdeling “Snoer” noem, word die woord snoer ook in ‘n ander betekeniskonnotasie gebruik, naamlik vasbind of stilmaak:

.

snoer

.

flenterveer hoenderhaan

smeek

om hulp by sekelmaan:

.

“breekstemmetjie

in dagbreekkraai

kan dalk

my tong laat waai”

.

sekelmaan:

.

“wees slim

nes kraai

sorg dat hul

net die voorpuntjie

van jou tong afknip

.

duideliker kan

’n woord dan nie

by jou bek uitglip”

Hierdie metapoëtikale gedig lewer kommentaar op die aard van Fourie se poëtiese praktyk wat gekenmerk word deur woordekonomie (die “sekel” van “sekelmaan” dui op sny), suggestie en primordiale simbole eerder as argumentasie wat gedigte so dikwels laat sneuwel. In ‘n resensie soos hierdie kan daar ongelukkig nie volledig en eksplisiet van die hele bundel bestek opgeneem word nie. Daarvoor is ‘n hele artikel nodig, wat ek hoop iemand sal skryf. Ek gaan dus eksemplaries te werk, deur die klem op die eerste afdeling te laat val en slegs kortliks na gedigte in ander afdelings te verwys.

Die openingsgedig van die eerste afdeling vang veel vas van die speel-speel-ernstige toon wat die afdeling en groot dele van die bundel kenmerk:

.

aits-aits

.

op kalahariduin

klop-klop toktokkie

sy vrousoeksein

.

kamtig skaam

ses voetjies

kom sy suutjies

witlewer aan

Hierdie gedig is tipies van die kortgedig wat die betrokke bundel oorheers en waarin sketsmatig met woorde omgegaan word om ‘n situasie uit te beeld. Die titel (“aits-aits”) is ‘n uitdrukking/uitroep wat deesdae selde gehoor word, maar ek onthou dat my pa dit dikwels gebruik het wanneer ons opgetof uit die kamer gekom het … Die gedig gee die toon aan vir die bundel wat sterk steun op erotiese innuendo’s, maar veral lei dit ‘n afdeling liefdesgedigte in wat gekenmerk word deur beliggaming van die landskap. Die tweede gedig is ‘n kundige variasie op die insetgedig en funksioneer by wyse van dieselfde toktokkie-metafoor. ‘n Verrassende perspektiefwisseling verplaas dit na die ek-en-jy-modus.

.

duin

.

jou liggaam

word ’n duin

wit en kaal

.

toe jy

die grootwoord

woordeloos

met die ritme

van jou asem sê

het die duinwind

speels

op sy rug gaan lê

.

toe aarselend

die klik-aar

teen jou nek

begin te tril

word polsend

met toktokkie

se klop-klop

ons lyfhonger

en -dors

gestil

In hierdie gedig kom talle terugverwysings na die voorafgaande gedig voor: die “duin”, die “ritme” (ook “klik-aar”; “polsend”, “toktokkie”, “klop-klop”), die woord “speels” roep “kamtig skaam” in die vorige gedig op, terwyl “stil” terugverwys na “suutjies”. Die sterk kohesiekragte wat tussen die eerste twee gedigte aan die werk is, werk egter ook deur na die res van die afdeling. Trouens, die bundel as geheel word gekenmerk deur die interafhanklike aard van gedigte onderling en selfs oor afdelings heen – ‘n snoer waarin enkelgedigte deel is van ‘n groter geheel, die bidsnoer. Afdeling 1 se gedigte vertoon nie slegs ooreenkoms op grond van metafoorgebruik en ooreenstemmende betekenisvelde nie, maar veral op grond van tematiese aspekte, soos die spel met erotiek en seksuele inisiasie, soos in die gedig “moerbei”:

.

moerbei

.

wees wys, witrokkie

in moerbeiboom

met

klouterklim

en mikgesels

.

met afklim

dra

jy dalk vars

die ronde vlek

van luiperdpels

Afdeling 1 wemel van argetipiese inisiasiesimbole: die kleur wit word deurgaans gebruik, skaamheid en speelsheid word meermale geïmpliseer, die “pluk” van die vrug kom voor in die gedig “oulaas”, in die gedig “elf” word na die meisie verwys as “kafoefelgroentjie”. Die laaste gedig in die afdeling verwys deur sy titel, “toktokkie”, terug na die aanvangsgedig en rond sodoende die afdeling sinvol en bevredigend af. Verskillende aspekte van die erotiese spel tussen man en vrou word in dié gedig belig, onder andere die “inbreek”, die “uitlok”, die “troos” van liggaamlike kontak, die oorsteek van die grens ná inisiasie (“vervel”), die betaalde liefde en ten slotte die eksplisiete beskrywing wat verrassend na ‘n spirituele vlak gevoer word wanneer die “skulp” in die slotwoord “skeppingsmond” word. Hierdie gedig bou voort op die aanvangsgedig, maar plaas terselfdertyd die liefdespel wat met die toktokkie begin het, binne ‘n universele verband deur die uitbeelding van die verskillende aspekte van liefde as simfonie en as argetipiese ritueel wat die spesifieke (dikwels banale) enkelgeval oorskry wanneer dit deur die slotwoord ‘n mistieke dimensie verkry. Soos Christo van Rensburg oor Klipwerk oordeel, vier ook hierdie gedig (soos dit trouens wêreldwyd by egte volkskuns voorkom) die bestaan van die menslike spesie – die woord voortbestaan as “beswering van die verganklikheid” (soos Daniel Hugo dit in die agterbladteks beskryf) sou binne konteks wel ook van pas kon wees! T.T. Cloete verwys veral in sy later werk dikwels na die omskepping van soma in pleroma – die banale wat omskep word in die numineuse of die heilige. Dit sien ons meermale in die tersaaklike bundel.

Baie van die gedigte in Afdeling 2 is nie veel meer as blote enumerasies nie en word sodoende ikonies van Knapsekêrels se inleidingsgedig, “woordkrale”. ‘n Mens kan jou verstom hoe Fourie deur blote opeenstapeling van woorde (“die klou dui al die dier aan”!) ‘n skreiend-ironiese ekokritiese argument gevoer kry:

.

inventaris

.

ouvolk

ietermagog

salmander

namibtoktokkie

suurpootjie

koekmakranka

welwitsia

bergskilpad

sukkulent

akkedis

geitjie

likkewaan

krimpvarkie

nagapie

kousband

.

geteiken

gekaap

.

smokkelnet

kontant

vertrek

lear jet

Afdeling 3, wat aan Dylan Thomas opgedra word, illustreer Fourie se uitsonderlike talent wat hom as dramaturg beroemd gemaak het. Dié afdeling, wat herinner aan Dylan Thomas se Under Milkwood (sien ook René Bohnen se onderhoud met die digter op Versindaba) bevat karaktersketse, skinderstories en vuil wasgoed (a la Koöperasiestories) oor kleindorpse karakters uit die jare toet. Die possak lewer sy eie onbehoorlikhede op:

seilsak loodverseël geknoop

vlek ongehoord vonkwêreld oop

‘n playboy met kerkbode cover

so ook lady chatterly’s lover

Die (letterlike) vergrype van die dokter aan vrouepasiënte is ‘n storie wat “in fluisterstem” vertel word,

maar almal erken tesame

die man is darem behendig

Die afdeling “Vanmelewe” (Afdeling 6) bevat eweneens ‘n handvol roerende karakteriserings uit vanmelewe se dae en ‘n beskrywing van take wat aan die moderne leser onbekend is. Die bou van damme deur armblankes word in “dammakers” en “emma koelêma” gedenk, die brand en maal van koffie (“kombuis is al vir donkiejare / in ‘n dwelmsterk aroma tuis”), misvloergooi en die tuisvervaardiging van skoene word in hierdie afdeling beskryf. In nog ‘n inisiasiegedig word die mite dat doodmaak die manne van die seuns onderskei, ondergrawe:

.

inisiasie

.

in toorts se lig

steenbokkie

pas gelam

geskok

verstom

verblind

.

manword-inisiasie

herbesin

.

.22 beef

teen skouer

skiet sekuur

berekend

mis

Die bundel eindig met ‘n afdeling waarin bestek opgeneem word oor subkulture aan die rand van welgestelde gemeenskappe. Gedigte soos “stad”, “moerig”, “straatkinders”, “volmaan oor plakkerskamp” en “weiding” lewer skreiend verslag van ‘n geslag gesiglose mense wat dikwels “pynpens hul knoopdermkoliek / by kaias toegedraai in dik plastiek (…) vannag as dit stiller word / slaap in ‘n ou buswrak / by bokkapater (…)”. Dit is ontstellende gedigte waarin die speelse element wat die res van die bundel kenmerk, ontbreek en wat implisiet die belydenis, die mededoë, die voorbidding vir die medemens wat deur die titel gesuggereer word, gestalte gee.

Die bundel Bidsnoer is ‘n bundel wat stof tot nadenke bied, ‘n bundel met ‘n eie, sterk poëtiese karakter waaraan elke leser van Afrikaanse gedigte plesier behoort te hê. Ek sou geen beter opsomming van hierdie bundel kon bied as dié wat Daniel Hugo aan Pieter Fourie opdra in sy gedig Knapsekêrels nie:

.

in die telegraafkantoor

het jy as klerk veral dit

geleer: om woorde te tel

en hul waarde te weeg

.

want dit kos ‘n prys

om bondig te berig oor

die lewe sy vreugdes

en die durende ellende

.

jy het toe reeds geweet

waar om die woord stop

te plaas: dat jy elke sin

tot stilte moet dwing[.]