Posts Tagged ‘Resensie deur Heilna du Plooy’

Resensie: Chrisalis (Christo van der Westhuizen)

Tuesday, July 30th, 2019

Chrisalis
Christo van der Westhuizen
(Naledi, 2019)

Resensent: Heilna du Plooy

Dit bly ’n riskante onderneming om poësie te probeer tipeer omdat daar in elke relatief goeie gedig verskillende aksente onderskei kan word. Daarby kom dat in ’n werklik goeie gedig al die aksente en moontlikhede nie onmiddellik raakgesien of verstaan word nie, dat die digter self soms nie weet of bewus is van al die moontlikhede wat in die metaforiek, die klanke en die sinspatrone skuil nie omdat dit nie bewustelik in die verse ingeskryf is nie. Kreatiewe lesings kan gedigte verryk omdat die intuïtiewe passings en uitbreidings wat in ’n gedig voorkom sowel groter helderheid as versluiering bewerkstellig. Juis daarin lê die bekoring van die poësie. Miskien is alle poësielees in elk geval voorlopig, want by die herlees van sterk gedigte vind mens telkens weer iets anders, iets meer as wat jy tot in daardie stadium gedink het ’n voldoende verstaan was.
Die resensent wat dus ’n aanvanklike siening van ’n bundel moet aanbied (voordat daar deur herlesing en insinking en met verloop van tyd genoeg insig kan ontwikkel), ontvlug dan liefs in beskrywing en ontwyk die risiko van gewaagde en kategoriese stellings wat op indringende analise en interpretasie berus of daarop aanspraak kan maak. Die effens meer ervare leser (hetsy resensent of enige ander leser) kan egter wel verslag doen van aanvanklike indrukke met dien verstande dat dit voorlopig is.
Die titel van die bundel Chrisalis suggereer wording en ontwikkeling: uit die papie wat in die kokon genestel rus, kom iets gans anders te voorskyn. In die geval van die vlinder, wat hier ter sake is omdat daar ’n afbeelding van ’n vlinder op die voorblad van die bundel voorkom, is die verskyning uit die kokon nie ’n skielike of vinnige proses nie, maar ’n langsame ontvouing van pootjies, voelers en vlerke voordat die vlinder die vlerke oopsprei en vlieg of fladder. Hierdie titel suggereer reeds ’n bepaalde soort aanvoeling by die digter en dit word bevestig deur die opdraggedig voorin die bundel, waarin die digter homself onbeholpe noem, en die eerste gedig waarin daar gesê word “daar is ’n vlinder in elke digter se tuin”. Die digter praat dan ook van “God se liggeraaktes”, daardie geeste wat ’n soort broosheid ervaar, wat nie altyd presies seker is wat aangaan of wat moet gebeur nie, maar wat nogtans glo in sowel die ontvouende vlinder, in durende moontlikhede, as in die vonk wat die digter dryf, daardie ”klein helsem in sy blaker”.
Die bundel bestaan uit sewe afdelings wat ’n relatief wye spektrum van temas dek, van ’n bemoeienis met ander kunstenaars (Monet en Rembrandt), persoonlike herinneringe, eksplisiete besinning oor die digkuns as sodanig tot by betrokke idees en godsdiens. Onderliggend bly die nadenke oor spesifiek die artistieke weergawe van dinge egter saampraat: die “karakters” in die gedig vry met mekaar en dan is die vraag “wie staan op om die nabetragting te skilder” (p. 21). In afdeling drie , “Die kuns afvra” handel die gedigte oor die digkuns self, oor woorde en die skryf van verse, oor ander digters en selfs oor literêre terme. In “Papie-blues” gaan dit hoofsaaklik oor siekte en dood en herinneringe aan mense wat nie meer daar is nie, maar ook oor selfondersoek: alles is in wording, alles is soos ’n kokon waaruit iets anders voortkom. In “Geleende gebeente” is selfdood die duidelikste onderwerp en in die laaste afdeling “Môre is nog ’n dag” is daar verse wat subtiel na aktuele sake en die mens se sienings daaroor en gesindheid daarteenoor verwys.

Globaal beskou handel die bundel dus oor onderwerpe wat dikwels in die poësie voorkom, liefde en verhoudinge met vrou en kind en land en vriende, nadenke oor die sinvolheid van die lewe in die algemeen en spesifiek van dit waarmee die digter hom besig hou, asook ’n groot aantal gedigte waarin die gedig, die woord en die digteraktiwiteit self die onderwerp van die gedig is. Gedigte handel immers bykans altyd oor sulke universele kwessies: oor die moeilik beantwoordbare vrae, oor die ontglippende aspekte van die werklikheid wat juis moeilik onder woorde gebring kan word – dit is gewoon die aard van die poësie omdat die digter die een is wat nadink, wat onder die oppervlakte dink en aanvoel, wat ’n sensor het vir die ongewone kant van die gewone saak, wat met sy intuïsie dinge aftas en sonder om te probeer verklaar die diskrepansies en ongemaklikhede uitwys. Op sigself is loflike, interessante, boeiende en relevante temas egter nog nie poësie nie. Die poësie gebeur in die verwoording, in die vormgewing, in die gedagtegang en in die taal self.
Dit gebeur duidelik en sterk in hierdie bundel. Van der Westhuizen beskik oor ’n uitstekende aanvoeling vir taalspel en die moontlikhede daarvan. Daniel Hugo is die groot kenner van vernuf, van taalhantering in die poësie, van “geestigheid” in die sin van vaardigheid met die woord en hy het ook uitvoerig daaroor geskryf. Hy, en baie ander digters sien dit as ’n vorm van wat ek sou beskryf as “poëtiese intelligensie”. Dit is ook om hierdie vaardigheid dat digters soos N.P. van Wyk Louw en T.T. Cloete se verse oor ernstige onderwerpe ’n lugtigheid verkry wat dit leesbaar en toeganklik maak. En onthoubaar.
Christo van der Westhuizen se poësie vertoon hierdie woord- en taalvaardigheid in gedig na gedig. In die opdraggedig praat die digter van “my hoopvergieting in jou bodemlose opgaarhart”. Waar daar dikwels gepraat word van iets in ’n bodemlose put stort en waar dit dan ’n negatiewe betekenis het, word hier presies die teenoorgesetelde bereik deur die eggo van hierdie en ander bekende uitdrukkings op te roep, maar te verander en om te skuif en anders te kombineer: dan is ’n ”hoopvergieting” ’n oorvloed hoop wat uitgestort word in ’n hart waarin dit nie verdwyn soos in ’n bodemlose put nie, maar waarin dit opgegaar word. Die bodemloos dui dan op die oneindige ruimte en bereidwilligheid van hierdie hart om te ontvang en vas te hou en te bewaar.
Woordspelings, hetsy deur die gebruik van homofone, woorde wat dieselfde klink maar verskillende betekenisse kan hê, en sintaktiese parallelismes en strukturele patrone, binne die gedigte sowel as op grond van verwysing na bestaande bekende tekste (soos bv Psalm 23) en uitdrukkings, word in hierdie bundel uitgebuit met sukses.
In “Flapteks” skryf die digter ’n gedig oor die HAT, die woordeboek waaruit alle skrywers put, en dit is ’n “lyfdig”, nie ’n lykdig nie, sodat die digter in erotiese terme kan praat oor die woordeboek, oor hulle “onvoorwaardelike wederkerige omgang” (p. 31). Hierdie soort woordspel veronderstel en vereis van die leser ook kennis van die taal om na waarde geskat te kan word: met die woord “ontwykend”, ’n bekende uitdrukking vir groot geeste, in gedagte, word die uitdrukking “sy ontlykende groot gees” vir ’n afgestorwe digter betekenisvol (p. 37). Met die bekende Psalm 23 in die kop, kan mens die fyn spel in “Literariteit, ’n psalm van Šklovskij” waardeer:
.
al dig ek ook in die skadu van skyndood
ek sal geen beeldspraak vrees nie

nou blink my wonde in rym
in die raaisel van die poësie
sal ek met behae
tot in lengte van dae
tussen die lyne skryf

Wat in hierdie gedigte gebeur word eintlik goed beskryf in die vers “Instink I”. Die digter kan nie help om gedigte te maak nie, maar hy weet die gedig is “veerlig” en staan blootgestel aan die kritikus. Tog hoop hy die kritikus sal “broei aan die mirakel van die eier”. Hy bly dus binne die metaforiese raam van voëls as hy suggereer dat daar in die woorde onontginde moontlikhede bevat soos ’n onbebroeide eier:

hy hang al vroegoggend onderstebo in die appelkooslig
en vleg soos die eerste vink dié veerligte klein gedig
’n tabernakel wat sy kritikus ’n keer of wat sal weier
voor sy begin broei aan die mirakel van die eier. (p. 55)

Verse soos dié laat mens herbesin oor die plek van klank en rym en woordspelings (“puns”) in gedigte. Natuurlik mag daar nie gerym word ter wille van die rym nie, maar as die gedagte en die woorde mekaar vind en daardie woorde is klankryk en rymryk, ondersteun die gedagte en die taalvorm mekaar. Daar is altyd die kans dat woordvaardigheid “slimheid” kan word, dat dit te glad, doelbewus versin of bedag kan oorkom. Hugo (2011) haal André P. Brink aan wat oor gedigte oor die poësie self geskryf het: “… daar (is) digters wat die taal gebruik om oor die taal self iets te sê of om die werkinge van die taal self te onthul. Dit word ’n byna volledig ‘genoegsame’ situasie, waar die medium byna narcissisties oor homself inbuig in ’n proses van tonale, semantiese en grammatiese selfontginning” maar in die meeste gedigte in Chrisalis word hierdie slaggat omseil. In die gedig “Inkopie” word die vindingryke metaforiek en woordspel met ironie gekombineer om ’n onthutsende stelling te maak:

’n ongenotlike quicky sit Rosie op die paal
en nou lê sy oopgeskil voor die kil kwak
….
sonder om blom of botsel te verdoof
knak hy haar stingel soos beloof
….
klein Ongewens klou en skop vergeefs
sy hart stuipend gekneus
’n verwerpte psalm word apokrief
uitgeskeur

Sommige gedigte is juis besonder treffend omdat die vindingryke indirekte segging die patos verhoog, soos in die gedig oor ’n kind met kanker en sy ma wat die hoop bly behou:

jy weet hy verloor stoom
aan die oneindigheid
neuroblastoom

maar snags vergaap
jy jou aan dié wonder
’n wordende paap
(p. 74)

Dit is waarskynlik so dat enige skrywer moet nadink oor wat hy besig is om te doen. Terwyl ons weet dat baie in ’n gedig intuïtief gebeur, dat keuses gemaak word op grond van aanvoeling eerder as redenasie, is dit tog ook so dat mense wat beweer dat alles vanself gebeur of dat dit so moet gebeur, die saak te simplisties sien – alles in ’n gedig en in die digaktiwiteit kom nie so vanself nie. Die gees word geslyp om tot skryf te kom en die wat glo dit kom vanself, dink net nie daaroor waar die woorde en idees vandaan kom nie. Net soos diegene wat so “natuurlik” wil lees: hulle lees maar net volgens ’n benadering waarvan hulleself nie bewus is nie. En dis waar gehalte dalk net inkom: by diegene wat kan nadink oor ’n saak en dus selfkrities ingestel kan wees sonder om die spontaneïteit en vloei te belemmer, sonder om die gedig in sy eie ellende in te redigeer. As ’n digter kan regkry wat hier beskryf word, kan dit net tot sy voordeel wees:

kondig woordbeperkings af
draai ou krane styf vas
en lei net die opslagkwatryne
uit die vont van jou vulpen nat (p. 34)

Waar hierdie bundel inpas binne die huidige Afrikaanse literêre bestel, weet ek nie seker nie. Is dit vernufspoësie? Is dit filosofiese poësie? Is dit aktueel genoeg? Is dit vernuwend genoeg? Ek glo hierdie benoeminge, wat heeltemal te maklik vereistes word, moet liewer nie tersake wees nie. Ek weet nie hoe enige poëtiese domein behoort te lyk op ’n bepaalde tydstip in die geskiedenis nie, ook nie die Afrikaanse nie, en ek weet nie of daar hoegenaamd en enigsins ’n bestel met aanduibare eienskappe en vereistes behoort te wees nie. Waarskynlik nie. Want die huis van die poësie moet altyd baie wonings hê. Ek het hierdie bundel geniet, die gedigte is goed versorg, die gedagtegang is ryp en veelfasettig, die versifikasie is goed en effektief. Chrisalis is ’n goeie, vindingryke, klankryke, woordvaardige, hoogs leesbare en boeiende woning in die huis van die Afrikaanse poësie.

 

.

Hugo, Daniel. 2011.  N.P. Van Wyk Louw en die geestige vers in “Tristia”. N.P. van Wyk Louw-gedenklesing, gehou op 15 September 2011 by die Universiteit van Johannesburg. Versindaba, Blog Archive.

 

Van der Westhuizen, Christo. 2019. Chrisalis. Kaapstad: Naledi.

 

Heilna du Plooy

Jeffreysbaai, 30 Julie 2019