Posts Tagged ‘Resensie deur Marius Crous’

Resensie: Die Goddelike komedie (Cas Vos)

Friday, November 24th, 2017

Die Goddelike komedie: liefde laat die son en sterre sing

Cas Vos

(ISBN: 978 0 928316 858, Naledi, 2017)

Resensent: Marius Crous

Cas Vos se vertaling van gedeeltes uit Dante se Goddelike Komedie is die eerste Afrikaanse vertaling van Dante in digvorm. En gewis is dit ‘n uitdaging om hom in digvorm te vertaal, want Dante skryf deurgaans in tersinevorm en maak van die terza rima-rymskema gebruik, aba bcb cdc. Vergelyk die openingsreëls:

In die middel van ons lewensreis

het ek my in ‘n donker woud bevind –

ek het die regte pad van die hand gewys.

Oor die belang van Dante vir die wêreldletterkunde bestaan daar geen twyfel nie, soos Vos ook in sy inleiding aandui. Die Westerse letterkunde het sy ontstaan te danke aan Homeros se twee groot eposse, die Ilias en Odusseia, maar hiernaas is ook die werk van Vergilius en Dante – en laasgenoemde het sy stempel duidelik afgedruk selfs in Afrikaans in die werk van onder meer T.T.Cloete in sy bundel Driepas. So ook het Mrs Curran in Age of Iron van J M Coetzee haar eie Vergilius wat haar op haar ter helle neerdaling vergesel.

Vos kontekstualiseer nie net die teks in die wêreldletterkunde nie, maar gee ook vir ons ‘n oorsig van die onderskeie vertalings wat oor die teks bestaan; meestal prosavertalings. Hy verwys byvoorbeeld na Ciardi se opmerking dat daar eerder sprake is van “transposition” as “translation” as dit kom by die vertaling van Dante.  Vos maak ook die volgende stelling in sy inleiding:

Streng gesproke is die La Divinia Commedia onvertaalbaar. Dit kan ‘n rede wees waarom die Dante vertalings en omdigtings soos ‘n stroom sonder ophou is. Die polarisasie tussen vreeslose (soms roekelose) poëtiese vertalings en die meer versigtige “akademiese” vertalings beleef ‘n hoogbloei. (bl.41)

Een van die besluite wat die vertaler geneem het, word soos volg verwoord:

Die digter het keuses gemaak en sommige historiese figure weggelaat. Hiervoor aanvaar hy verantwoordelikheid … Die afstand tussen Dante se destyds en ons eietyds kom in die Purgatorio duidelik na vore. Dié deel is die skepping van die digter. Daar is ook ‘n reël wat na die titel van Breyten Breytenbach se bundel, vyf-en-veertig skemersange verwys. In die Purgatorio word reëls uit gedigte van Peter Blum, Ernst van Heerden, N P van Wyk Louw en Sheila Cussons aangewend. Dit word egter steeds in eietydse rymende tersines ingewerk.

Venuti (2013) is van mening dat intertekstuele verwysings in die bronteks dikwels vervang word met “analogous but ultimately different intertextual relations” in die doeltaal. Sodoende kan die vertaalde teks se lesers die teks begryp.  Is die intertekstuele spel, saam met die weglating van historiese figure geregverdig? Voel die leser na dese nie ‘n bietjie gekierang nie? Hierdie weglating kom myns insiens neer op ‘n tipe selfsensuur – en moet ons dit dan nie maar in ons era van dumbing down met al die klassieke tekste doen nie? Intertekstuele frases as vertaalfrases kan ek nog tot ‘n mate steun.

Fahrazad (2009) meen dat ons nie aan die vertaalde teks in terme van ekwivalensie moet dink nie, maar eerder tekste intertekstueel benader sonder om te veel te fokus op die oorsprong en die ooreenstemming tussen die teks in die doelteks en die teks in die bronteks.

Hierdie vertaling van Dante in Afrikaans is ‘n goeie illustrasie van Vermeer en Reiss se skoposteorie,  wat impliseer dat die funksie van die vertaalde produk die oorheersende faktor is wanneer die teks vertaal word, met die Afrikaanse poësieleser in ag genome.

Die rede vir Cas Vos se vertaling verwoord hy soos volg in die inleidende gedeelte oor die boek:

Alles in ag geneem, is Dante se La Divinia Commedia stellig die grootste Summa (esteties, teologies, filosofies,, wetenskaplik, algemeen-kultureel) van die Christelike Middeleeue. (bl. 21)

Die vertaling is aan verskeie klassici voorgelê vir hulle terugvoering en grepe uit hul verslae word agterop die teks aangehaal. Een van dié lesers, Kobus Kruger, het trouens ‘n prosavertaling van Dante se werk gedoen, terwyl Niek Schuman Dante in die oorspronklike Italiaans gelees het en Bill Henderson is ‘n kenner van Dante se werk. Oor die geslaagdheid al dan nie van ‘n vertaling, merk Vos soos volg op:

Elke vertaling/gedig moet op eie meriete beoordeel word. Solank die dolcezza en armonia van ‘n gedig, vrye vers of vertaling behoue bly, is dit haalbaar. In elke vertaling of gedig moet daar ‘n metaforiese uitstraling wees. Die ritme, beweging en metrum waarmee Dante ons voorafgegaan het, moet insoverre dit enigsins moontlik is, behoue bly. Soms, net soms, kan daar dalk ‘n vars briesie trek.(bl.41).

Aangesien ek nie Toskaans magtig is nie, sal dit sinneloos wees om te oordeel oor die geslaagdheid van Cas Vos se vertaling. Hy slaag wel daarin om die metrum, ritme en die terzima-rym vol te hou. Hy het ook deeglik kennis geneem van ander vertaalpogings, deur, onder meer, die Amerikaanse digter Robert Pinsky. Nes Vos (in sy inleidende gedeelte) verduidelik Pinsky hoekom dié teks hom so aangegryp het. Benewens die uitdaging om dié klassieke teks in Engels te verwerk, was dit ook die obsessie wat hom aangevuur het: “”It just gripped me, like a child with a new video game,” (New York Times, 31 Januarie 1995).

Vos blyk nie dieselfde probleme as Pinsky te ervaar in sy vertaling nie:

To write triple rhyme in English is not easy,” the poet said. “English has an immense vocabulary, larger than Italian. And one of the classic mistakes you can make is to draw on that huge wealth of synonyms to supply rhymes. If you do that, you have an extremely unnatural, unidiomatic language; you end up with phrases that no one would ever say.

In De groene Amsterdammer (2 Desember 2000) vra Rob Hartmans:

Want wie leest nog Dante? Honderd jaar geleden was hij erg in de mode.

Hierdie vraag sal ons miskien self kan antwoord – soos wat Hartmans ook tereg doen:

Het mooiste is het als het gedicht hardop wordt gelezen, als de lezer zich laat meeslepen op de cadans van die rustig vloeiende, ogenschijnlijk met zoveel gemak vertaalde verzen.

Toets dit aan hand van die volgende tersines uit die pen van Cas Vos:

My oë het hul aan Beatrice oorgegee,

Sy het so lieflik voor ander geskitter

Dat hul in haar lig se gloeisel ligsku meegee.

Of:

Beatrice sê: “Die liefde wat die hemel lei,

Verras die siele steeds met ‘n groet van lig

Om die waspit vir die vlamme voor te berei.”

***

 

(Dawid Minnaar se voorlesing uit Paradisio & Aleppo – Red.):

https://www.youtube.com/watch?v=OOACiJb0avQ&t=15s

https://www.youtube.com/watch?v=2Qh1qD8K8PE

Resensie: Sulamiet (Lina Spies)

Monday, November 28th, 2016

sulamiet

 

Sulamiet deur Lina Spies

Naledi, 2016; Slapband: bl 87; ISBN: 978 0 928316 47 6

Resensent: Marius Crous

 

In sy profiel oor Lina Spies in Perspektief en profiel beskryf E.C. Britz (2016: 690) haar poësie as synde gekenmerk deur “fraai en soms speelse poetiese (sic) segging”. Vergelyk hy haar werk met die sosiaalbewuste inslag van ’n tydgenoot soos Antjie Krog of met die postmodernistiese tendense by Joan Hambidge se werk, kom hy tot die volgende slotsom:

Lina Spies se poësie is nie onaangeraak deur hierdie woelinge nie, maar die oënskynlike vroomheid, estetiese ontroering en menslike kwesbaarheid wat uit haar poësie gestraal het, het haar altyd ietwat wêreldvreemd in die geselskap van haar tydgenote laat voorkom. Terselfdertyd het sy die sentimentele en menslike probleme van baie poësieliefhebbers – veral vroue – in haar werk tot uitdrukking gebring, sodat sy altyd ook ’n besonder gewilde en selfs geliefde digteres was. So het haar gedigte waaruit ’n pynlike verlange na ’n kind – en ’n fyn waarneming van die lewe van kinders – blyk, byvoorbeeld vroeg reeds aan haar ’n groot en meelewende publiek besorg (2016: 691).

Wat betref Spies se poësie na 1998 merk Annemarie van Niekerk (2016: 700) op dat Spies se werk deurlopend gerig [is] op dieselfde terugkerende temas. . . Bekende temas by Spies is byvoorbeeld katte, musiek, godsdiens, skilderkuns, verlange na ’n kind, ’n geliefde of ’n gestorwe vriend, Stellenbosch en Amsterdam, die holocaust, en spesifieke vroue, waaronder Emily Dickinson ’n gunsteling is.

 

I: Die titel

Op die omslag van dié bundel word die volgende Bybelteks uit Hooglied 6:11 en 13 aangehaal, ter verklaring van dié ongewone bundeltitel:

 

Ek het afgeloop na die neutetuin om te kyk na die uitspruitsels in die dal, om te kyk of die wingerdstok uitloop, die granate blom … Kom terug, kom terug, Sulammitiese, kom terug, kom terug, dat ons u kan aansien.

 

In die onderhoud met Andries Visagie op Versindaba (23 Oktober 2016) verklaar die digteres haar keuse van die bundeltitel soos volg:

 

Hooglied het wel ’n metaforiese betekenis: die mislukte Eden waaruit Adam en Eva verdryf is, word herskep deur die erotiese liefde van Salomo en sy Sulammitiese beminde tot ’n tuin van sensuele genot. Salomo en Sulamiet moet ook metafories verstaan word. . . Sy lui die lied in en sluit dit af en haar stem is heeltyd dominant. Sy bely haar liefde, verlange en soeke na haar geliefde, maar sy doen ook navraag na waar hy is, waarsku die dogters van Jerusalem om die liefde nie ontydig te wek nie, maar sy eie gang te laat gaan en sy verdedig haarself. . . Hierdie Sulamiet kry haar volle gestalte in seker die aangrypendste en beroemdste gedig uit die Holocaust, Paul Celan se “Todesfuge”. Sy word die metafoor vir die lydende Jode met haar “asvaal hare” in teenstelling met die “goudblonde hare” van “Margarete” as veronderstelde geliefde aan wie die kampowerste na Duitsland skryf waaruit die Dood daagliks kom om sy Jode te eis. . . Die insluiting van my vertaling van Celan se gedig as “Doodsfuga” intensiveer die oorkoepelende betekenis van Sulamiet as bundeltitel wat naas die liefdesverse ook skakel met my religieuse verse.

 

In aansluiting by die titel is daar die gedig “Belydenis van ’n Sulamiet” (41) waarin ’n aanklag gerig word teen die spreker se “Puriteise volksgenote” wat onemosioneel betrokke is by mekaar en wanneer hulle mekaar groet, is dit “’n kil ritueel”; in teenstelling met die sielsbeminde wat hartstogtelik is en in navolging van Hooglied, “kan soen met soene van sy mond”. Die spreker se nephesh smag na intieme aanraking van die beminde. Nepesh is ’n woord wat 754 keer in die Hebreeuse Ou Testament voorkom en meestal as soul vertaal word (ecclesia.org.):

 

It will be seen that the word “soul”, in its theological sense, does not cover all the ground, or properly represent the Hebrew word “nephesh”. The English word “soul” is from the Latin solus = alone or sole, because the maintenance of man as a living organism, and all that affects his health and well-being, is the one sole or main thing in common with every living thing which the LORD God has made.  The correct Latin word for the theological term “soul” (or nephesh) is anima; and this is from the Greek anemos = air or breath, because it is this which keeps the whole in life and in being.

 

Die hunkering na intimiteit, aanraking (die woord “huidhonger” (37) sluit hierby aan) en ’n tipe vergeestelike liefde word dus deur die titel geaktiveer, byna iets soortgelyks aan die minne-konsep wat in die gedig “Verjaardagpresent” (53) aangetref word.

Soos aangetoon in die onderhoud met Visagie, word die verwysing na Sulamiet met die “assige hare” in “Doodsfuga” (59) ook deur die titel geaktiveer. Soek ’n mens op die internet, word jy onder meer ook geneem na Anselm Kiefer se skilderye oor hierdie spesifieke gedeelte in Celan se gedig. Haar “assige hare” word gekontrasteer met die Ariese “gouige hare” van Margarete.

Spies se vertaling van Celan sluit aan by die deurlopende tema van die Jodevervolging wat in haar oeuvre voorkom en waarvan die bekendste seker is “Lied van die kinders” uit Dagreis (1976).

 

II:         “Himne aan die herfs”

Verskeie verse in Spies se oeuvre handel oor haar verset teen die somerhitte van haar vaderland en haar liefde vir die herfs. In “Besluiteloos” (14) verwys sy na die “somer en son en saffier” wat verveel sonder die ander drie seisoene. Vir haar gevoeligheid is die somer te langdurig en die winter hopeloos te kort. Ook “Herlewing” (27) begin met die volgende reëls:

 

Jaarliks kan ek my nog verwonder 

aan die herfs soos vir die eerste keer 

asof ná meer as driehonderd jaar 

die roes in die eike se blaredrag 

net die teken van verkleuring is 

en nie van die swam nie 

wat hulle stadig van binne-uit verteer.  

 

Die natuur en die bewondering vir die Bolandse berge is ’n deurlopende tema in Sulamiet en in “Estetika” (26) word die spreker gevra of die mense van Stellenbosch nie al gewoond geraak het aan die berge nie. Vir Spies verander die berge voortdurend van “aanblik tot aanblik”. Ook verskaf die “egte Bolandse winterreëns” aan haar ’n sussende vreugde.

 

III:        “Te min oor my land getreur”

Selfrefleksief begin “Treursang” (83) soos volg:

 

Te veel van my verse 

was pleisters op eie wonde,  

ek het te min oor my land getreur{.} 

 

Lina Spies was nog altyd – miskien nie so uitgesproke soos haar tydgenoot Krog nie – krities ingestel op die land en sy onregte jeens ander. Haar gedig “’n Paternoster vir Suid-Afrika” (27) is gekanoniseerd. Die verwysing na die “pleisters op eie wonde” roep ook binne oeuvreverband die gedig “Wond” uit Dagreis op.

Sy betrek Nelson Mandela in hierdie selfrefleksie en wonder of onverdraagsaamheid en wantroue jeens mekaar nie steeds heers nie. Dit verklaar hoekom sy nou ’n “versuimde treursang” sing en haar selfgerigte obsessie met haar eie probleme en die natuurskoon van Stellenbosch besweer en relativeer. In aansluting hierby is die gedig “Dekrete van deernis” (85); ’n gedig waarin Adam Small direk aangespreek word. Small se versoenende ingesteldheid en sy deernis met die lyding van ander (“die krematorium en die witkalk jou gespaar gebly.” ) verwonder haar. Die verwysing na die “kitaar” in die slotreël roep nie net Kitaar my kruis intertekstueel op nie, maar word ook voortgesit in die volgende gedig “Die man met die kitaar” (86) oor Randall Wicomb; eweneens ’n gedig oor kleurpolitiek en die vernedering van die individu.

“Die agtergeblewene” (79) lewer kommentaar op die tradisie van die landskapsvers in Afrikaans en die gulde draad word deurgetrek tot die hede waar die digter se waardering van die landskap versteur word deur rook uit ’n brandende plakkerskamp. Sy voel ontnugter deur die feit dat daar geen landskapsvers meer te maak is oor die land wat oral bevolk word deur mense “in shacks en onder sinkplate”.

’n Ander aspek wat Spies na aan die hart lê, is die  verguising van Afrikaans en die toenemende marginalisering van die taal in die land. In “Uitnodiging tot die dans” (82) spreek sy “die majeure digter, Breyten Breytenbach” aan en kom sy tot die besef dat Afrikaans “voorlopig / bly klink in die lae lande”. Haar waardering vir Breytenbach spreek uit die volgende deklamering:

 

Maar skrywend van agter na voor 

of van voor na agter 

is jou woord nog ’n oerkrag 

wat nie uitbars in lawa nie 

maar vloei in lawende waters 

sodat wat ook al oor die lot van ons taal 

in die sterre geskrywe staan,  

ons dit nie sleepvoetend en fluisterend 

maar singend uit volle bors in Afrikaans 

dansend tegemoet sal gaan.  

 

IV:       “Die vleuels gegee van die lied”

Musiek speel ’n belangrike rol in Spies se lewe en oeuvre – soos Heinrich van der Mescht reeds ondersoek het. Veral verwysings na die musiek van Mozart kom deurlopend voor en word in hierdie bundel ook aangetref. “Hemelpoort” (72), is gebaseer op ’n opmerking dat Cecilia Bartoli moet ophou om Mozart te sing, want

 

haar stem is te klein 

sy is gevange in die agtiende eeu 

sy moet ophou om Mozart te sing.  

 

Vir Spies is die musiek van Mozart haar “toegang tot die hemel” en sluit aan by haar gedig “Brief aan Mozart” uit die bundel Hiermaals (1992).

Ander komponiste oor wie se werk geskryf word, is Bruch (14, 69) en Mendelssohn (70,71). In “Sacrificium” (73) kyk Spies na die bisarre praktyk van castrati, wat die gevolg was van “die pouslike ban op die vrouestem”. In “Herrysenis” (69) lewer Spies weer kommentaar op die “asse van die Sjoa” en fokus op die eietydse Joodse violis Pinchas Zuckerman se vertolking van Bruch. Ten spyte van haar obsessie met die Jode spreek sy tog kritiek uit teen die besetting van Gasa. Hier herdig sy die bekende gegewe oor die gebrek aan sang by die riviere van Babel en verwys na die Joodse tradisie om viole saam te dra op hul swerftogte. Stern, Menuhin en Perlman is die voorsetters van hierdie tradisie.

 

V:        “My ander land”

Nederland was nogal ’n tweede tuiste vir Lina Spies en veral haar liefdesverhouding met die stad Amsterdam, wat sy “stad van my hart” noem. In “Vergesig” (31) met sy motto uit die Nobelpryswenner Bob Dylan se werk, word die kontras tussen die twee tuiste soos volg verwoord:

 

die herfs het gegloei in Holland 

en die lente het in die Boland gebloei.  

 

Ook die elegie vir Harry Brinkman (33) , sluit sy soos volg af:

 

En vlieg ek weer na my “ander land”          

sal by “Aankoms” agter die glasdeure van Schipol 

hy nie op my wag nie.  

 

VI:       “’n Laat liefde”

Gegewe die konteks en die titel van die bundel, verwag die leser dat sy oor die liefde sal skryf – soos dan ook die geval is in die tweede afdeling. Lina Spies sit hier die besinning oor die liefde in die laatherfsfase van die lewe voort, wat in Tydelose gety (2010) ook aan die bod gekom het.

Sterk beeldend is die gedig “Oorlewende” (37) waarin die man met sy afsweer van “alle lyflike hartstog” nie die vrou se “huidhonger” voed nie. Die vrou kom egter tot die besef dat sy dwaas was om haar te laat meesleur deur haar begeerte. Waar die vrou haarself hier as ’n dwase meermin bestempel, is sy in “Ooreenkoms” (39) “Aspoester” en die geliefde haar prins. Naas die twee sprokiesfigure is sy ook Eva in die gedig “In die begin” (40). Selfkrities en relativerend is ook haar aanslag in “Verwarring” (42) as sy wonder of dit lonend is om nog ’n liefdesvers te skryf.

“Hipotese” (45) verwoord, soos die titel aandui, die spreker se siening jeens ’n verhouding laat in haar lewe:

 

’n Laat liefde, is dalk altyd bedoel 

net vir onpaar maats:  

twee eensaamhede wat mekaar bewaak 

soos wat ’n halfmaan 

in ’n helder poel weerkaats.  

 

In die outobiografiese “Die brose boei” (54) – wat herinner aan Elisabeth Eybers se gedig oor haar ouers – konstateer sy dat “onder die skuldlas van versuimde liefde” haar kinderloosheid besef.

 

VII:      “Kringloop”

Lina Spies se jongste bundel is ’n intergedigtelike gesprek met haar vorige bundels en is ’n verdere verkenning van die deurlopende bekende temas in haar werk. Aangesien Spies se oeuvre so outobiografies persoonlik is, is ek huiwerig om die volgende kwellinge wat ek het oor die bundel te opper: (1) Dek die vlag die lading, met ander woorde, word die titel en die titelgegewe genoegsaam verken? (2) Is daar nie ’n tipe ouwêreldse mooiskrywery in van die verse nie? (3) Is hierdie bundel ’n verbetering op die voriges? Hoe vergelyk dit met vroeëre bundels soos Oorstaanson? (4) Word daar enigsins in die bundel eksperimenteer met tegnieke en versifikasie? (5) Is die stuk op die agterplat nie oordrewe en selfs misleidend nie, want Spies se hedendaagse belangstelling in Jesus as Joodse Rabbi kom, volgens my, nie uit die verse te voorskyn nie.

Diegene wat liefhebbers is van Spies se “ontroerende, meditatiewe of belydende betoë” gaan beslis van hierdie bundel hou. Ek, daarenteen, mis die persona van die meisie wat vuursteentjies kaalkop optel in die son.