Posts Tagged ‘Resensie deur Zandra Bezuidenhout’

Resensie: Die aarde is ’n eierblou ark (Susan Smith)

Friday, November 11th, 2016

Omslag

Die aarde is ʼn eierblou ark. Susan Smith. Protea Boekhuis. 2016. ISBN: 9781485307167  Prys: R160.00, Sagteband, 95 bladsye.

Resensent: Zandra Bezuidenhout

.

Groen reis deur ’n alomvattende heelomal

.

Ek, mens van mense

glo in een Materie-energie

wat eons gelede

voor alle wêrelde die alomvattende

heelomal van dreunende spirale

in werwelende ewewig gestel het;

 

Hierdie aanset tot die gedig “Credo van die vibrerende materie” sou ewe goed Susan Smith se tweede bundel kon open. Maar die knal word slim genoeg gebêre vir later.

Die bundel begin meer beskeie, sodat die leser met verdrag ingelyf word in iets van die “alomvattende heelomal” wat Smith onder woorde wil bring. Tree vir tree, vlug na vlug, neem die digter haar leser op ʼn natuurreis van weidse omvang en diepte. Land, see en vleiland, plant, dier en ster word van naby en van ver bekyk en deurgrond, waardeur Smith haar belangstelling in die natuur en die ekologie op ʼn verskeidenheid wyses illustreer. Hierdie tematiek word in 62 gedigte volgehou om ʼn kumulatiewe effek te bereik wanneer leser en digter – en die oriëntasiepunte sal verskil – verstom staan oor die wonder van lewe om ons, in ʼn skepping wat strek tot ver anderkant ons planeet, soos dit in “Patryspoort” verbeeld word. Inhoudsgewys is dit hierdie dialektiek van kenbaarheid-onkenbaarheid wat Smith se bundel so boeiend maak.

Getrou aan die tradisie, is die bundelmotto’s sprekende wegwysers: die rykheid en alomvattendheid van die “trajek” moet gekoester word, soos blyk uit die woorde van Pablo Neruda:

I have to remember everything,

keep track of blades of grass, the threads

of all untidy happenings

the resting places, inch by inch,

the infinite railroad tracks,

the surfaces of pain.

 

En soos David Abram dit stel:

Earth is not just the round sphere in its entirety but also – first and foremost – the humble ground beneath our feet, the winds gusting around us, and the local waters flowing through us.

Dít is die gedagtegoed wat Smith by wyse van die poëtiese woord laat uitdy. Haar aanbod wissel van direk en eenvoudig tot barok, van beskrywing en personifiëring tot vereenselwiging, en word onderbou deur wetenskaplikheid en belesenheid oor natuurverwante onderwerpe. Danksy die wye verwysingsveld, soos dit ook in die werk van T.T. Cloete en Johann Lodewyk Marais beslag kry wanneer hulle elk op hul eie manier “met die aarde praat”, of saam met ander digters “ons klein en silwerige planeet” in oënskou neem, lewer Smith se bundel hoogs interessante en verrassende poësie op. Uit ʼn vers getiteld “Die voëls van Neruda”, ʼn inspeling op die groot Chileense digter se “Bird”, word Smith se tweede strofe aangehaal:

afstand bied ʼn wyer blik

die arktiese stormvoël

wat met akkurate wete jaarliks

tot negentigduisend kilometer reis

sy donker oë gestaal

teen die onmoontlike saffier van lig

word tot relikwie gepreserveer:[.]

Opvallend hier is die pikante eggo’s tussen die “ark” in die bundeltitel en “arkties” in die fragment hierbo, afgesien van die innoverende klankverwantskap tussen “arktiese” en “akkurate” (daar is meer), en daarby nog die ryk betekenislading van die gedig as geheel.

Die versameling van 62 korter en langer gedigte bied ʼn vrugbare variasie en wissel van die vierreëlige “Vivipaar” (wat “lewendbarend” beteken) en die openingsgedig “Huls” met sy vyf versreëls, tot die gedig “Saad” wat ʼn volle sewe afdelings beslaan. “Vivipaar” tref deur ʼn bondige verpakking van ʼn ryk gegewe, gesteun deur kundige beeld- en klankgebruik met ʼn onverwagte eindrym:

Vivipaar

In ons saadskulp is ek en jy

soogvisse van die water

twee gesigte na mekaar:

ʼn konkawe vivipaar[.]

Daar is ʼn skat aan treffende beelde, waarvan die presentasie van die aarde as ʼn eierblou ark met groot sukses as bundeltitel gekies is. Nog ʼn vonds is die silwer woordspaan as metafoor vir die kreatiewe proses, wat in wese ook ʼn vaar-handeling is. In pas met die bundelkonteks keer die motief van “saad” telkens terug: in gedigtitels (“Saad” en “Kantblomsaad”) en in verskeie gevalle geplant in die inhoud, onder andere in “Huls”, “Tuin van mondings” en “Biogenese”. Dit dra by tot die konkretisering van denkbeelde en werk ook metafories: die saad is sprekend van die ontstaan en uitsaaiing van die digterlike woord om die natuur op te roep, selfs aan te roep deur “ʼn alfabet van sade”, maar saad dien ook as indeks van vrugbaarheid, siklisiteit en metamorfose. In “Knikkerneut” wys die digter byvoorbeeld op saad wat jare lank kan wag om weer tot lewe te kom, asook op die geheimenis van die bodem as moederskoot waarin die saad bewaar bly, en op die “droë boduinsand” as lokus van die hergeboorte. Dit is een van die gedigte waarvan nie slegs die inhoud aangryp nie, maar die vorm besonder geslaagd is. Die tweede strofe lui soos volg:

die sand het nie vergeet

hoe om vrugbodem te wees nie

die vreemdelingsade onthou

déúr sout van oseane en seestroomserpe

wat hulle roeping en belofte is[.]

Aansluitend hierby is daar ander deurlopende motiewe soos peule, water, blare en netwerke; die voorplat suggereer laasgenoemde, om voortgesit te word in passasies soos “die ultraligte vlerknetwerk/ van vliese en vlerkare” in “Rooinerfie-hangvlerknaaldekoker”. Lesers sal meer vertakkinge van hierdie en ander leitmotiewe in die bundel herken en by die digter se voorstelling hul eie AHA-oomblikke beleef. Die verwysings na ʼn onderwaterwêreld (“onderwater”, “onderwatertuin”, “onderwaterrimpels”, “onderwatersterre), insluitende “wat die water herhaal”, roep Louis Esterhuizen se bundels Die Onderwaterweg (1996) en Wat die water onthou (2010) in herinnering, soos Smith ook by wyse van woorde, frases en gedagtes sekere momente uit die werk van Sheila Cussons, T.T. Cloete, N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Ina Rousseau, Hennie Nortjé, S.P. Naudé en ander digters en skrywers aktiveer. ʼn Mens kan dit as intertekste lees, doelbewus deur die digter gehersirkuleer, of bloot as resonanse van voorgangerstemme wat die digter-dosent soos saad in haar geheue omdra tot dit onwillekeurig in haar eie gedigte ontkiem.

ʼn Ernstige voorbehoud ten opsigte van die verskonstruksie is dat ʼn groot aantal van hierdie gedigte, of gedeeltes daarvan, nie werklik soveel beskrywende elemente en klankspel benodig as dié wat wel aangewend word om ʼn bepaalde effek te verkry nie. Deur die woordseleksie en soms gesogte woordsamestellings te beperk en klankverbande, selfs beeldtaal, minder oorvloedig en opsigtelik in te voer, sou ʼn goeie gedig soos “Mangliet” met sy “druipende sterkandelaar” en “drifselbehangde houtkatedraal” nog sterker kon staan. Oortollighede en tekens van geforseerdheid bring onvermydelik mee dat van die gedigte aan hul potensiële verrassingswaarde inboet.

Dieselfde geld vir verse waar die digter waarskynlik die weligheid van die omgewing en plantegroei (“Tuin van mondings”, “Hortus conclusus”) of ʼn wemelende oseaan (“Wildekus”, “Oseaan”) by wyse van ewe welige taal en oorvloedige detail wil demonstreer. Eksesse kan as ʼn stilistiese truuk fungeer, maar oorkoepelend gesien sou hierdie digter tog haar ryk instrumentarium van idees, indrukke en poëtiese middele meer gedissiplineerd kon benut. “Landmeter” is nog so ʼn voorbeeld, waarvan slegs een strofe hier aangehaal word:

aan die ander kant word ek saamgedra

in die nerwatuur van ʼn duinebruidsbos se elliptiese blaar

aan die kartelrand van ʼn fonteingraspeul

in ʼn kinkelbos se viervlerkvrug

ingevou in die pluisklosspies van ʼn kwas silwergaargras[.]

 

Tegniek, styl en presentasie is ʼn persoonlike kwessie ten opsigte van sowel die digter se gekose aanpak as die lesersresepsie. Die eie stem en werkwyse van die digter moet gerespekteer word, maar uit ʼn literêr-kritiese oogpunt dra vele gedigte onnodig swaar aan woorde, veral aan nuutskeppings en soms ook aan vakwetenskaplike terminologie en stoffering wat, verstegnies gesproke, die opbou, vloei en vaart van die gedig ondermyn. Anders gestel: ʼn oormaat aan feitelike gegewens, uitgebreide beskrywings en persoonlike waarnemings staan soms die estetika van vormgewing in die weg. Die gevaar van die oorversadigde vers is dat dit ʼn eie swaartekrag ontwikkel wat dreig om die eindproduk uit sy baan te laat spring.

Die digter se soepel aanwending van strofebou en die behendige manier waarop daar sonder enige punktuasie en hoofletters met die teks omgegaan word, dui op ʼn geoefende hand. Maar steeds word die verse gerem deur woordherhalings en so ook deur die uitbou van ʼn gedagtegang wanneer daar reeds genoeg gesê is. Aansluitend hierby sou die digter met vrug kon sny aan reeds genoemde oormaat aan woordsamestellings wat effekbejag lyk en op die duur steurend raak. Enkele voorbeelde van hierdie stylhebbelikheid sluit in: waterdeurdronge, sondeurspieëlde, banneling-ysdiere, seestroomserpe, dodemars-kavalkade, bloedblomklokke en meester-seestroomnavigeerder. Hiervan sou die navorser en student ʼn lang lys kon maak om te redeneer oor die toepaslikheid of geslaagdheid van die onderskeie samestellings.

Daarenteen is dit ʼn wins dat die digter minder bekende woorde invoer of laat herleef. Voorbeelde hiervan is lamelle, vivipaar, platboomvlet, bomer, nerwatuur, sikloiëd, kurwatuur, diafane, ellipsoïed, kambries, ens., asook plante- en dierename soos makoro, kigelia en kormorant, en steenformasies soos tafoni, kwartsveld, skalie en glassmalt. Dit dra alles by tot die sfeer, outentisiteit en kleur, maar ook hierin skuil die gevaar dat veelheid kan oorloop in oordaad en selfs vertoon. Die relatiewe onbekendheid van sekere woorde en die verpligte verposings om kodes te ontsyfer, is deel van die leser se ontdekkingsreis, maar te veel strikke op die pad mag weerstand wek. In “Skulpgrysgruis” bestaan die hele gedig uit ʼn enumerasie van grys tinte, en in “Velddagboek” uit plantname – nie ʼn nuwe tegniek nie, maar in hierdie gevalle funksioneel in die lig van die bundeltitel wat die idee van ʼn ark vooropstel, en by implikasie ook die diverse en bonte inhoud daarvan.

Die aarde is ʼn eierblou ark is as bundeltitel besonder treffend en tersaaklik, deurdat dit die dobberende, beweeglike veelheid van die planeet oproep en die onderskeie gedigte saamsnoer. Tog gaan dit hier om meer as die aarde as objek, want direk of indirek vra die bundel ook aandag vir die mens in sy verhouding tot die aarde en die skepping. In etlike gedigte is daar ʼn kosmiese bewussyn wat herinner aan “De bruid” van die Nederlandse digter Hendrik Marsman, waar hy sy klein aardse bestaan relativeer. ʼn Fragment uit dié vers is sprekend:

nu smelt ik weg en voel mij openstroomen

naar alle velden van den horizon […]

de schaduwen van blinken witte wolken

bespelen mij en overzeilen mij

en scholen zilvren vissen bevolken

mijne diepte […]

de tranen die ik schreide en de zuchten

zie ik vervluchtigen tot regenbogen

die van mijn ogen springen naar de zon.

 

Dit is die soort ervaring wat in ʼn meer eietydse en eiesoortige idioom ook in Smith se werk sigbaar en voelbaar gemaak word: die spreker wat binne en uit ʼn beperkte, aardgebonde ruimte waarneem, maar tog een voel met die onmeetlike, die Mysterium tremendum, en terselfdertyd met die “sterrekaroo […] tot in haar skaamste haarlynkrake”. Dit is wat aan talle verse in hierdie versameling, gedagtig ook aan die simboliek van ʼn “eierblou” skakering van die bundeltitel en -omslag, tesame met ander blouerige tinte elders, ʼn mistieke karakter gee.

Om jou met die lees van Smith se nuwe gedigte in haar wêreld te verbeel, is nie moeilik nie. Haar keuse vir ʼn eenheidsbundel wat uitsluitlik op die natuur in sy vele fasette (en die invasie daarvan) fokus, is inhoudsgewys nie alleen aktueel nie, maar toon ʼn besondere sensitiwiteit vir die genialiteit en skoonheid van die skepping, meer as genoeg om die leser te prikkel en die bewussyn te verruim. Die toon is nie ekstaties en emosioneel nie, en by tye selfs saaklik en besinnend. Paradoksaal genoeg het die gedigte tog in ʼn sekere sin ʼn liriese ondertoon wat die leser intrek in die staat van verwondering. Waar Smith op haar beste is, in die meer getemperde gedigte, is dit asof sy in en deur die artefak ʼn derde oog laat oopgaan, asof digter en leser en stof mekaar in die oë kyk – ʼn ideale ontmoetingspunt in die genre van die poësie.

Die goed afgewerkte “Ghoenavy” word hierna in sy geheel aangehaal, as voorbeeld van ʼn gelaaide gedig wat nie ongebreideld wemel en sier nie, maar waar beeld, klank en vorm in balans gebring word:

Ghoenavy

 

blind en geel gestuif

reis Aristaeus se houtkapperby

deur die taai kroon

van die pers heelal

 

deurkruis ʼn sterrestelsel van stempels

en stampers waarheen hy onverpoosd

aan die koningspels van sy lyf

die oorlewing van die aarde dra[.]

“Missa Gaia: ʼn hooglied van die kompos” sluit die bundel op ʼn sinvolle wyse af en voeg ʼn welkome skeutjie ironie toe, want dit is onthutsend om te dink dat soveel skoonheid en betekenis in ʼn komposhoop skuil – die “fleurs du mal” van Baudelaire word verplaas na die verruklike verrotting, die molmwording van tuinreste in ʼn smeulende gat. Maar Smith lig haar vers in die fynste besonderhede toe met behulp van versreëls wat aan Bybelse taal herinner, en daarmee die “hooglied”-gedagte van die gedigtitel bevestig. Enkele reëls uit die gedig lui so:

[] Ons bemin

die onthegte blomme;

die geknakte stingels

is vir ons mooi. Kyk hoe lieflik

die molmwording van fyngesnaarde

blare; ons hoor die inleidende korale

van nagskoflarwes [].

In die geheel gesien is die beste verse in hierdie bundel tekenend van ʼn digter se ontwikkeling. Hier word ʼn nuwe terrein ontgin, anders as dié in die vrougerigte In die aanwesigheid van sin waarmee Smith in 2012 gedebuteer het nadat van haar verse reeds in die Nuwe Stemme-reeks en Groot Verseboek opgeneem is. Alle lesers, insluitende die natuurwetenskaplikes, sal deel word van die borrel en gis in hierdie versameling uit die oesjaar van 2016.

(Dr Zandra Bezuidenhout)

.

Resensie: Waar die oog van stil word. (Ilse van Staden)

Tuesday, July 19th, 2016
Omslag

Omslag

Ilse van Staden. Waar die oog van stil word. 2016. Protea boekhuis. ISBN: 978-1-4853-0605-4. 57 bladsye. Prys: R150.

Resensent: Zandra Bezuidenhout

 

STILTE WAT “GOËLEND ONTGOGEL”

In die bundeltitel op die omslag staan die woord “stil” uit in wit letterwerk; dit skep alreeds ’n bepaalde verwagting, soos ook die sagte, stil agtergrond in skakerings van blou. Die leser se oog word hierdeur “stilgesit” en die gees (en die sintuie) wil die begrip bedink en oordink; en vra na gewaarwordings en situasies wat daardeur wakkergemaak word.

Om hierdie gegewe voorlopig binne konteks van die Afrikaanse digkuns te plaas, dink mens aan enkele ander bundeltitels waarin die woord “stilte” voorkom – Pirow Bekker se Stillerlewe ( 2002); Ina Rousseau se Die stil middelpunt (2003); Johann de Lange se Stil punt van die aarde (2014) en Heilna du Plooy se Die stilte opgeskort (2014). Daarby doop Daniel Hugo sy vertaalde verse van die Vlaamse Miriam Van hee (by uitstek ‘n “stil” digter) In plaas van die stilte (2012). Dan is daar nog talle individuele gedigte soos Van Staden se eie “Stil” uit haar pryswennende debuut Watervlerk (2003), Breyten Breytenbach se “En skielik is dit stil” (Versindaba 2015), en om ’n terugwaartse sprong in die tyd te maak, Boerneef se ikoniese “Hoe stil kan dit word as sedoos gaan lê”; laasgenoemde met sy besondere “stil” beelding, gerugsteen deur trefseker klank- en taalgebruik – ’n toonbeeld van  inhoud en vorm wat versmelt om die stilte uit te beeld. En hoe “stil” is die toonsetting daarvan deur Hubert du Plessis ook nie. Die Boerneef-gedig word hier in sy geheel aangehaal omdat daar in sekere opsigte parallelle met Van Staden se nuwe korpus verse voorkom. Maar eers, Boerneef:

Hoe stil kan dit word as Sedoos gaan lê wie kan dit mooier as die tortel sê wie roerender assie bladstil bome assie skewe verwaaide damwalbome innie stil vroemôre as Sedoos gaan lê hoe om ‘n stilte in die hart te vind genadig soos wanneer Sedoos gaan lê”

Om die net nog wyer te gooi, en in ’n heel ander idioom, dink ’n mens buite die plaaslike konteks ook aan die gedig “Silence” van die Amerikaanse digter en eertydse “poet laureate” Billy Collins, met sy verwysings na o.a. “the silence of the orchid” en “the silence of a falling vase/ before it strikes the floor” – ’n gedig waarin die woord “silence” telkemale herhaal word (‘n procédé wat ook, soos dit later sal blyk, by Ilse van Staden nie vreemd is nie). En dan is daar nog Collins se onthutsende reëls uit “Picnic, lightning”: “the click/ of the sundial/ as one hour sweeps into the next”.

Wat is die leser se algemene gewaarwording as die aandag vir hierdie verskynsel of toestand gevra word? Dit mag meditasie wees, of doofheid, of die oomblikke van rus, verposing en afwagting wanneer gehoorimpulse met die eerste gedagte uitgesluit word, ongeag of die stilte verlossend, bevreemdend of onheilspellend is; die stralende stilte van ’n objek, of die stil misterie van die dood en die graf. Dit kan ook ’n beeld van die durende kyk of verwondering veronderstel, of die verstarring, “waar die oog van stil word” soos Ilse van Staden dit in haar nuwe versameling verse treffend benoem. Knap reeds, hierdie titel, met sy byna ouderwetse poëtiese woordinversie wat ’n mens ’n sfeer van stille verrukking laat vermoed.

Wat sou Ilse van Staden dus met hierdie bundel bring, ná haar waardige voorganger-digters, en as vervolg op haar bundel Fluisterklip van 2008 en Watervlerk van 2003?

By die inhoudsopgawe roep etlike van die gedigtitels moontlike situasies van stilte op, meer opvallend in “patrone van stilte” (30) en “stille oseaan” (43). Maar mens verstout jou om moontlik ook gedigte soos o.a “oggendgedig” (8), “middernag” (10), “berg” (12) en “gedig teen skemer” (41) hierby in te sluit, veral omdat hulle saam in bundelverband voorkom en ’n moontlike tematiese uitbou van die gegewe verklap. Daar is meer sulke titels, soos “pacificum oceanus” (45), “brief op die strand” (46), “minimalis” (50), “abstrakte skildery” (56), waarvan nie een noodwendig “stil” hoef te wees nie, maar wat jou tog verlei om, miskien voortydig, een of ander instansie van stilte te veronderstel. Die interessante is dan om met die lees van hierdie en ander tekste in die bundel te ontdek of die lesersverwagtings wel gerealiseer word. Want daar staan in die bundeltitel, soos ook in sommige gedigtitels en -inhoude, ook ander begrippe wat as skarnierpunte mag dien: “oog” “blou”, “lig”, “snags” en “oggend”.

Reeds met die inset (“oopmaakgedig”, 7) waar die digter na die skryfhandeling verwys as iets wat in die oomblik van “wakkerword” vervlugtig as “mompelings wat op die lippe stol”, word ’n situasie van stilte opgeroep – beide deur die genoemde beeld en die pertinente gebruik van die woord “stil”. Hier bieg die spreker oor die onvermoë om die impuls van die droom in ’n gedig te laat gestalte kry. Hierdie spesifiek selfrefleksiewe poëtikale uiting is weliswaar nie nuut of oorspronklik nie, maar gepas ten opsigte van die plasing in die bundel, te wete om die bundel te open as “’n stip stil oopmaakgedig” en tegelykertyd die tematiek van “stilte” aan die orde te stel.

Een vir een kom gedigte van stilte aan bod, enersyds deur die woordverwysing(s), en andersyds deur die oproep van situasies waardeur die stilte algaande getematiseer word. Die kwatryn “afspraak” (51) is een voorbeeld: kort, maar veelseggend, weereens met die woord “stil” as versterking van die gegewe deur die beeld van die gebedshandeling en daarmee saam die gevoude (stil) hande in die slotreël:

eendag, see,

sal ek stil word in jou

met my hande soos ’n vis s’n

in ’n gebed gevou.

Soos in vele ander gedigte, val in “sikloon” (52) die verwysing na die “oog”, die “kyk” en die “blik” op. Die bundeltitel Waar die oog van stil word verwys dus ook na die gesuspendeerde kyk-aksie. ’n Mens vra jou af of die bewuste herhaling (vyf maal) van “oog”, “kyk” (twee maal) en “blik” (twee maal) binne een gedig nie ’n oorbeklemtoning is nie – afgesien van die feit dat beide herhaling en beklemtoning twee tradisionele digterlike tegnieke is. Of is hierdie sirkulerende motiewe binne een gedig juis die krag daarvan? Om ’n antwoord hierop te kry, moet dit in samehang met die ander gedigte gelees word. Die vermoede ontstaan dat die digter doelbewus ’n patroon wil vestig, moontlik as ’n eenheidskeppende tegniek om die gedigte saam te bind, maar ook om as ’n soort sirkelgang van woord en gedagte te dien, ’n spiraal, labirint, of ‘n mantra selfs, om die stilte van die Groot Niet binne te gaan.

Maar interessant genoeg, bied Van Staden ook die teendeel. In “vier-en-twintig swart voëls” (53) kom sit die voëls o.a. “lawaaierig” (twee maal) en “lawaaiend”, “kakelend” , “skel” (drie maal), “skellend” (twee maal), “krakend” (twee maal”) en “luid”. Weer begin ’n mens wonder of die keuse van hierdie tegniek wys is, ten spyte daarvan dat die digter die geraas daardeur wil simuleer.

Dit bring ’n mens by die gedagte of die stilte self nie ook as ’n tipe geluid gehoor moet of kan word nie: soos daardie “sounds of silence” waarvan Simon en Garfunkel in die sewentigerjare gesing het, m.a.w. wanneer die stilte “hoorbaar” word, soos hierdie reeds geykte uitdrukking lui. Van Staden praat in dié verband van “die stilte eggo terug” (“as”, 11). Maar om na die saambestaan of selfs die eenheid van stilte en geluid terug te keer, word ook ‘n sikloon se oog by haar die vindplaas van die stilte, naas of binne die tierende, vernietigende geraas en die “ratel van die reën”. Kyk maar weer na die aangehaalde gedig van Boerneef: word die stilte nie ook hier verwerklik deur die roep van die tortel nie? Hierdie jukstaponering, voorspelbaar of nie, is sinvol en nodig in sy relativering. ’n Uitsluitlike fokus op die stilte sou eendimensioneel wees en maklik kon verveel as digters hul boustof nie op hierdie wyse verryk nie.

Maar om tot die kraai-motief terug te keer: die gedig wat volg (“Dertien kraaie”, 54) sit weer vol met die “kraai”-woord. Sommige lesers mag hierdie reïterasie funksioneel vind, of slim, soos die manier waarop Wallace Stevens se gedig “Thirteen ways of looking at a blackbird”, met van Staden se erkenning aan die digter, gehersirkuleer word. Tog hou mens asem op as jy hierdie beginsel herhaaldelik teëkom, omdat die effek oordoen of oorwerk kan voorkom. Bowendien is daar ook intratekstuele verbande, soos byvoorbeeld tussen die bogenoemde “dertien kraaie wat ook woord-, beeld- en klankgewys herinner aan die gedig “kraaie” (39) met hul “skellende tonge” wat “skel in ’n voëlvreemde taal”.

Ander voorbeelde van berekende herhaling kom voor in “vlieg die duiwe” (38) met sy terugkerende vlieg, duiwe, lig, skaduwees en wolke, tesame met die verwisseling van middag, laterige middag en laatmiddag. Dit alles binne ’n gedig van nege reëls kan sfeerskeppend wees, maar die poging tot konsentrasie dreig by die eerste lees om die verse te eenselwig te maak, en selfs die bundel te verongeluk. Hierdie tegniek is so opvallend dat dit mag veroorsaak die boustof, taal en tegniese hulpmiddels nie in balans is nie, afgesien daarvan dat die potensiële verrassingswaarde van die onderskeie gedigte ondermyn word. Wil die digter doelbewus hierdie truuk invoer? Is dit ’n spel, of ’n vergryp wat in ’n hebbelikheid ontaard? Hieroor sou mens kon ooreenkom om te verskil, of ’n finale oordeel voorlopig op te skort.
Nog ’n tersaaklike vraag wentel om die moontlikheid om ’n werklik “stil” gedig te skryf. Die digter raak self hierdie kwessie aan in haar slotgedig “Slotsom” (57):

die see probeer ek met woorde weergee

en die stilte ook

hoe pervers –

daar’s geen woorde in die see nie

en geen stilte in ’n vers!

Die uitroepteken waarmee hierdie gedig afsluit, aksentueer die anomalie, nl. die naasbestaan van stilte en (hier) die oorweldigende geluid, ’n knap stylgreep waardeur die skryf van ’n gedig oor die stilte deur ‘n leesteken geproblematiseer word. Want tereg vra die spreker by implikasie: hoe skep jy stilte deur taal?

Hierdie spel met teenstrydighede is ’n interessante oefening. Maar ook hierin lê die gevaar op loer: is ook ‘n bepaalde tegniek genoeg om, op die duur, die bundel boeiend te maak? Is die reikwydte van die boustof voldoende, en is die taalaanwending van so ’n aard dat dit die algemene segswyse deurbreek? Van die verbeeldingryke reëls met vindingryke taalgebruik staan in die slot van “abstrakte skildery” (51):

soos stillewes stil is, is landskappe

tasbaar soos land en landelik onabsurd

substans ’n substitusie vir stilte.

Dieselfde gedagte word uitgebrei in die gedig “Kraaie”, met sy verwysing na “die oumensblou vel van die lug”, wat weer op die skryfproses slaan as dit eindig met:

om te skel in ’n voëlvreemde taal

om die tong te verruil vir vlerke

en saans die snawel in swart vere te steek

en vir eers van woorde te vergeet.

My gunsteling in hierdie bundel is die tweeluik bestaande uit “die blink reis van slakke” en sy gelyknamige pendant wat daarop volg. Hierin bedink die digter die slak en die slakspoor – ook nie nuut in die poësie nie – dink maar aan Ernst van Heerden se woorde in “Slak”: “’n Slymspoor oor die grys verlate sandsee/wat swenk – enorm en aards vertraag –/’n mondinglose aar van dooie spraak”, of dié van Antjie Krog: “Soos ’n slak uitskedig besmeer jy my/met nattigheid en slym”. ’n Mens sou talle ander voorbeelde, ook uit die anderstalige literatuur, oor hierdie tema kon aanhaal, wat nie beteken dat Van Staden dit nie nuut kan aanwend nie, maar dat sy hierby aansluit en die tema verruim. Hier skryf sy in die eerste van die twee genoemde gedigte oor die “blink spoorloosheid van slakke […] maar dis die reisjoernaal van slakke/wat so skitterend oor my paadjies blink”.

Die teenhanger van die bogenoemde lui in die geheel soos volg (ook hier met die herbenutting van haar eie woorde uit die eerste gedeelte):

dit vat meer as ’n padkaart of ’n reisigersgids,

meer as ’n stuursatelliet of reisjoernalis

om die skitterende bane van slakke te dokumenteer,

die silwer slym teen mure of plaveisel

en die fyner, spoorlose verblyf tussen blare,

soos wanneer drome weer in hul dop kruip

die blink reis van slakke is soos tonge

wat struikel oor woorde,

geprisma, gespiraal, gedop

soos ’n heilige se hart so breekbaar

die slakke maak ’n skitterende parabool

’n helderblink reis

as jy hulle ver oor ’n heining gooi.

Is stilte ook hier ter sprake? Ek dink tog dat dit by implikasie en by wyse van suggestie ’n eiesoortige beeld van die stilte skep deur dit as ’t ware sigbaar te maak, meer treffend as om alles uit te spel of iets oor die stilte te konstateer. Lees gerus maar die volledige weergawes van beide gedigte, aangedui as I en II; vir my is dit wonderlik stil in hierdie “wêreld in silwer toegespin”, in hierdie silwer slymskrif wat in stilte geskryf word. Die toepassingsmoontlikhede hiervan is groot.

In die gedig “as” maak die ietwat voorspelbare kruisrym tesame met die vaste versvorm en metrum, anders as in die meeste ander gedigte, ’n enigsins ouderwetse indruk, maar tog kom daar ’n treffende beeld aan die einde, nl. “op die maag van die rivier/dryf die oggend stil soos as” – en daarbenewens word die woord “as” se dubbele betekenis uitgebuit. Maar ook hier is die woordherhaling van stil/stilte; oggend, water en lig ’n vooruitwysing na wat verder in die bundel gevind word. Lesers kan verskil hieroor, maar vir my was dit aanvanklik onduidelik waarom hierdie tegniek so mildelik ingespan word. Is dit funksioneel? ’n Stylgreep? Maar let op hoe die herhalingseffek in “wat weet die tong” (16) tog aanvaarbaar is, omdat dit presies is waarom die gedig (en bundel) gebou is – herhaling as spilpunt, dus. Dit mond uit in ‘n ironiese slotreël wat al die vorige gedagtes en identiese vorms van vraagstelling ophef met “daar’s niks wat die tong nie weet nie”, en met sy verlossende humor ook ’n ander tintjie aan die bundel gee.

Van Staden is ’n vernuftige eksponent van woordspel (“woestuin”, 13). In “ogiesdraad” (28) word “heelal” weer met “geheel en al” verbind; in “tyd as die oog van ’n naald” (29) staan “beginne” en “beginner” naas mekaar, en in die titelgedig “waar die oog van stil word” (31) word die klank- en woordspel heel vermaaklik tot ‘n uiterste gevoer, en suksesvol beëindig met die “stilgevriesde stilte”. Soms is die woordaanwending tog vir my gevoel te geforseerd, soos “sal ek/my oorvloedigheid laat poel”  (is “spoel” dalk bedoel?) en “drome, die fyn muskietnet van beloftes” (“kamers van die wind, 18), of is die alliterasie te bedag, bv. “knielende knieë (“psalm”, 15). Aan die ander kant is “miljoene trillende torre” fassinerend, hoewel die oordadige gebruik van die i-klank in die res van die gedig hinder. Oor die algemeen lyk dit egter of hierdie digter van haar mooi klankvondste, soos die oënskynlik terloopse assonansie, net te veel inspan en daardeur die gedig verswak. Een voorbeeld is “Borsharnas” (23): treffend ten opsigte van die inhoud, maar met die a-klank wat te ver gevoer word – asof “harnas” op sigself nie welluidend genoeg is nie, kom daar nog pantsers, harnasse, klank, karapakse, borskas, bladbene, ontsnap, blaartjies, saad, wanskapig, weer karapaks en harnas (alles binne elf reëls). Miskien is al die a’s bedoel om klankmatig die hardheid van die “harnas” te beklemtoon en te versterk, maar die slot bring ‘n gelukkige afwisseling, en wat inhoud betref ’n verrassende en roerende kontras wanneer die geharnaste spreker erken: “binne bloei dit/binne bloei dit spierspierwit”, waar die herhalingselement tog doeltreffend ingespan word.

Die slot van ’n gedig is in die meeste gevalle trefseker, soos “ek maak die hekkie toe/en trek die winterbaadjie dig om my” in die genoemde “Woestyn”, ’n gedig wat ook ’n geslaagde onreëlmatige ritme vertoon.

Betekenisvol is dat Van Staden agtien jaar lank ’n veearts was en dankbaar put uit hierdie denk- en ervaringsveld wanneer sy etlike kere ‘n diersoort as fokuspunt vir ’n gedig gebruik. Die slak-motief kom twee maal voor, en dan ook die selakant en verwysings na visse, voëls, honde, die reeds genoemde kraaie, duiwe en kraaie, en meer. In “bou jou skip” (27) verskyn ’n hele opstapeling van ander interessante dierename, selfs van ’n prehistoriese aard, met die mooi beeld “gerugte van eenhorings”. Baie raak ook is die reël wat ek lees as ‘n metafoor vir die digter en die gedig, naamlik “bou jou boot van beenwit woorde/ laat sak jou hoek vir die droomvis/ wat jy van nou af daagliks op moet dis”.

As ’n mens die gedig “patrone van stilte” (30) lees, word die vermoedens bevestig dat die digter parallelle wou trek tussen situasies van stiltes, en dat sy verbete (wil) volhou om sekere woorde binne een of meer gedigte te herhaal, om, soos reeds gesê, op sigself ’n patroon te word; die woordkunswerk as kolk wat die leser intrek, meevoer en laat stil word. Is dit nie wat goeie poësie doen nie?

Ek kan nie nalaat om nog een van my gunstelinge te noem nie, naamlik die filosofiese “die oog is onskuldig” (36), met die slotsom dat die oog slegs ’n lens is:

die oog is neutraal en objektief

dit vel geen oordeel, haat niks,

het niks lief behalwe die lig nie

selfs in die donker droom die oog nie

dit boekstaaf slegs weerkaatsings

vir die brein se brandende verbeelding.

Hierdie bundel gedigte is sonder opsmuk, sonder sentimentaliteit, sonder cliché-taal, sonder ’n oormatige ek-gerigtheid. Dit alleen getuig van ’n gevorderde digtershand. Die deurlopende stilte-tema waaier uit in ’n groot verskeidenheid subtemas, en die gedigte, hoofsaaklik in die vryeversvorm is goed gestileer en gestruktureer. Dit raak die leser op ‘n “stil” manier, en hoe meer jy lees en herlees, hoe meer verbaas jy jou aan die fyn maar seker aanslag. ’n Mens sou die werk as (oorwegend) natuurgedigte kon klassifiseer, maar soos dit by ’n goeie digter hoort, reik dit dieper, wyer as blote beskrywings. Dit gaan ook oor die mens as belewende, denkende, skrywende spikkel in die natuur, wat al digtende die uiteenlopende momente van stilte probeer omlyn en deurdring, en deur die poësie wil intensifieer. Hierdeur word die reikwydte vergroot, en besweer dit die leser se aanvanklike bedenkinge oor variasie en spanning.

Dit sal sowel die fynproewer as die algemene leser loon om self verder te ontdek, te verken en te geniet, nie alleen die inhoud nie, maar ook die boekontwerp met sy treffende, byna roerlose omslag en die ewe esteties bevredigende en duidelik leesbare tipografiese uitleg. Die eindproduk is ’n veer in die hoed van almal wat hierdie boek help maak het.

Resensie: Karnaval en Lent (TT Cloete)

Monday, March 17th, 2014

 

 

Karnaval en Lent. TT Cloete. Tafelberg. ISBN 978-0-624-06774-0. Prys: R150. 160 bladsye. Sagteband.

 

Resensent: Zandra Bezuidenhout

Is die mens in sy diepste wese die Groot Vraat? ’n Maaksel ingebuig op homself en sy drifte, en ’n bederwer van die aarde? Of is hy ‘n goddelike skepsel, skaars minder as die engele en beklee met heiligheid? Of albei?

Dit is die kernvraag wat op verskillende maniere in hierdie beskoulike en tegelyk sterk beeldende bundel na vore kom. Cloete bied ‘n veelkantige visie op die mens deur in gedig na gedig ‘n praktiese voorstelling te gee van hoe die mens hom gedra in sy verhouding tot God, die medemens en die Skepping. Die bundel word uiteindelik ‘n ryk prenteboek van homo sapiens in soveel fasette dat dit die leser laat met die eeue oue raaisel: Wat is die mens?

Ter illustrasie en as vertrekpunt gebruik die digter een van die groot werke van die laat-middeleeuse Vlaamse kunstenaar Brueghel de Oude, Die geveg tussen Karnaval en Lent – ‘n kleurvolle, lewendige uitbeelding waarin die tweedeling tussen Goed en Kwaad in ‘n menseskaar sigbaar gemaak word. Aan die linkerkant van die skilderdoek, met ‘n taverne op die agtergrond, wemel dit van aktiwiteite wat met die karnaval-gedagte verband hou: ‘n oorgawe aan vleeslikheid, bandeloosheid en genot. Regs verlaat ‘n stoet van nonne en ander gesuiwerdes van gees en vlees ʼn plek van aanbidding as toonbeeld van onthouding, net om op die stadsplein gekonfronteer te word met die sogenaamd aardse en goddelose en, wie weet, spoedig weer daaraan toe te gee. Vir my lê die sjarme van die gedigte in die wyse waarop die digter sy leser attent maak op hierdie wisselspel, waarby elkeen hom ʼn reeks klein lewende tablo’s uit eie ervaring sou kon verbeel.

Hoe diep en onpeilbaar hierdie grondgedagte ook al is, giet Cloete dit nie in moeilik verstaanbare poësie nie. Hy vermy filosofiese swewerigheid en noem ‘n ding op sy naam. Hy ken sy moedertaal tot in die fynste voutjies, en weet dat bekende volkse uitdrukkings soms hiervoor nommerpas is. Maar hy ken ook die taal se hoër registers, sy verwantskappe met antieke tale en die jargon van wetenskaplike vaktaal – uit dit alles put hy om aan sy digkuns reliëf te gee. Tog is die stelwyse meestal direk en konkreet, en met ‘n bietjie naslaanwerk kan jy ‘n vreemde woord jou eie te maak en maklik tot die kern van die gedigte deurdring. Hoewel hierdie digter, net soos Marlene van Niekerk,  Breyten Breytenbach en Wilma Stockenström, steeds die taal in sy menige moontlikhede ontgin, is sy jongste bundel nie so sterk gefokus op neologismes, taalspel en taalverwringing nie. Die taalgebruik is “natuurliker” en minder gestileerd, en oor die algemeen toegankliker.

Een van die fassinerende subtemas is die mens se waan dat hy deur sy tegnologiese deurbrake “gearriveer” het, terwyl dieselfde beginsels reeds sedert die oorspronge van die heelal in die natuur aan die werk was. Die “toe” van die voortyd word as’t ware deur die digtershand verbind met die “nou”. Vir Cloete gaan dit hier nie slegs om die ondeurgrondelike wonder en skoonheid van die natuur in al sy verskyningsvorme nie, maar veral om hoe die mens dit benader, gebruik en misbruik. Die omvang en detail waarmee Cloete hierdie gegewe as boustof aanwend, is indrukwekkend. Deur sy uitgebreide benoeming en beelding, tot in die mees onverwagse besonderhede, laat die digter die wisselwerking tussen mens en natuur in die gedagtewêreld van die leser ontplooi. Heel funksioneel is die digter se doelbewuste gedagtespronge wat aandui hoe magteloos die mens staan in sy pogings om tot enige gesinkroniseerde begrip van die mens as maaksel binne die Skepping te kom.

Aansluitend by die beginsel van “goed” teenoor “kwaad”, is die religieuse motief wat soos ‘n onderstroom deur die bundel loop. Dit gaan hier nie om spesifieke geloofsaspekte nie, maar om die omvattende begrip van die mens teenoor ‘n godheid of ‘n godsbewustheid, en die geïmpliseerde vraag of dit nog hoegenaamd ‘n rol speel in die postmoderne mens se belewing van die self en die wêreld om hom. Hierdie gedagtegang kom veral na vore in die tweede afdeling, “Die middelpunt en die teëwig”. Die digter plaas die hedendaagse teenoor die paradyslike van die voortyd, waar God by wyse van spreke nog as sentrum teenwoordig was. Cloete se aanhaling uit die werk van die 17de eeuse Nederlandse digter Vondel spreek van die geloof in ‘n bestaan wat gedrewe was “Om’t een en eenigh middelpunt.” Wat dus vir Cloete intrigeer, is die problematiek van ‘n goddelike kern teenoor die bedreiging van die “Teëwig van daar-Buite”, waar laasgenoemde as ʼn produk van die menslike selfstandigwording gelees kan word. By wyse van ‘n metafoor dig Cloete hierdie gegewe om tot “’n giftige velling buite om/ die heilige velling”, buite die “fluoressente Imperium waar God woon” (38). Die “stil veilige middelpunt” staan egter onder verdenking, en daar heers by die mens ‘n toenemende onrus, soeke en onsekerheid. Daarmee saam is die digter intens bewus van die dubbelheid van die mens as “homo duplex” wat “voor my in my en rondom my” kom staan. Die spreker bely in hierdie verband sy onwete, en die feit dat “die teengewig” ook sy persoonlike “skaal en ewewig/omvergooi” (42). Hy word heel tipies “gedryf tussen Karnaval en Lent” (45), en bestempel dit as ‘n “wrede uitputtende geskarrel”, terwyl die kwessie van die vrye wil (by hom reeds “papgedruk”), sy denke “laat … bollemakiese slaan”. Dit is maar een voorbeeld waar diepe besinning gerelativeer word deur lugtige, volkse uitdrukkings, waarby die voorplat se karnavaleske en tegelyk droewige figuur met sy dubbelkyk so goed inskakel.

Herinneringe uit die kindertyd en die verknogtheid aan eie bodem is nog ‘n bekende aspek uit Cloete se werk wat in hierdie bundel verder uitgebou word, dikwels in aansluiting by die religieuse motief: “maar ek kom uit die [Vredefortse] Koepel se groot oop vlaktes” (43), sê die die digter in ‘n lang persoonlike belydenisvers, waar alles by implikasie nog ongekompliseerd was, soos waarskynlik ook die denke oor God. Hy vervolg: “ek sien my ouerhuis van ver af/ die huis van koestering” (44), wat ook as die geestelike of goddelike tuiste vertolk kan word. Die herbesoek aan ‘n vroeëre tyd met sy vele verwysings na die eenvoud en geborgenheid van ‘n vergange plattelandse leefwêreld vorm by hierdie digter, nou reeds in sy negentigste jaar, ‘n gepaste terugblik op sy steeds groeiende oeuvre. Interessant genoeg kom hierdie sig op die verlede ook in jonger digters se werk voor, en sou dit as ʼn sirkulerende motief by plaaslike en buitelandse digters ondersoek kon word, of in samehang met die herinneringsliteratuur in ander genres.

‘n Mens kan jou ‘n Cloete-bundel nie voorstel sonder die omgaan met liggaamlikheid en sinnelike genot nie – ‘n denkveld wat in sekere opsigte saamval met dié van eet en oordaad, en so ook met die karnavalgegewe, wat konvensioneel gesien in teenstelling staan tot die gedagte van Lent as ‘n tyd van onthouding, suiwering en vergeesteliking. Vermoedelik sinspeel die digter op ‘n versoening van opposisies, of minstens die vervlegting daarvan wat met menswees ingegee is. Reeds uit die titel van die openingsafdeling, naamlik “Gedigte wat ek nie graag wou skryf nie”, word dit duidelik dat die digter hom met omsigtigheid waag aan die oopskryf van die menslike kondisie wat ook verwysings na die banale noodsaak. Die “ek” bly, soos vir A. Heschel wat in “the I” (14) aangehaal word, vir Cloete ‘n “obscure text to himself”. Die “onreine/ in [s]y pynlike peins” (15) laat hom egter nie doodswyg nie, en in “die drie stadia” (17) se tweede gedeelte, “eskatologie a”, beweer die spreker:

“ek staan verstom dat grond

vol minerale vol plante en diere

geheimsinnig in my omgelyf word in vleis

in my gebeente en spiere tot in my murg

dan ná die omlywing

          in ‘n raptus mentis

blom my maaltye van kool en ‘n stuk varkvleis

of van vis bo alle begrip uit

in ‘n tweede geheimsinnige onvleeslike omwentel

in eteriese ekstatiese musiek en in

skilderye en gedigte

en uiteindelik in geloof in God[.]

Dat die mens ‘n wese van drifte is, ‘n smulpaap in die wydste betekenis van die woord, en ‘n produk van liggaamsdele, liggaamsappe en hormone, is nie noodwendig iets afskuweliks nie. Ook in en deur die daad van verorbering, en in die gepaardegaande ekstase, styg hy uit bo die klei en reik hy na die sublieme. Nietemin is eksesse vir die digter problematies, soos wanneer skade aangerig word aan die natuur, die medemens of die self. Uit sy bemoeienis met oordaad vloei Cloete se gedigte met ‘n ekologiese strekking, onder andere “ekologie” (34) wat sentreer rondom die honger van die armes wat geëksploiteer word ter wille van die winste van die rykes. Dit laat die spreker met die tergende vraag of dit gaan om die oorlewing van die seeskilpad, of om dié van die mens “op ‘n aarde/ wat regeer word uit ‘n vol of leë spens”. Die verbruikersgemeenskap word meermale genadeloos aan die kaak gestel, soos in “dronk gedraai” (29), ‘n gedig wat oor vyf bladsye strek en waarin die groot gevreet geen einde ken nie, onder andere met verwysings na die jag op renosters vir “opgekikkerde ereksies” (31) en “ondernemende ontwikkelaars”/ [wat] die aarde konsumeer” (33).

Die eet-motief funksioneer as ‘n deurlopende metafoor. “[E]et was ons eerste sonde”, en “jy glo met jou maag” (17), herinner die digter ons. In “Brueghel bestry Descartes en Kant” (23) word hierdie gegewe verder beklemtoon. Veelseggend is Cloete se omsetting van Descartes se stelling: “Ek dink, daarom is ek” na die versreëls: “ek éét/ dáárom is ek”. Die spreker brei dit vervolgens uit na gulsigheid en vraatsug deur sy beskrywing van die genoemde Brueghel-skildery, en koppel dit onder andere aan Van Gogh se Aartappeleters en ander bekende elemente uit die geskiedenis. Steeds stoei Cloete met die idee van opposisionele kragte as hy skryf van “die eindelose onbesliste swaar/ Geveg tussen Karnaval en Lent”, ‘n gedagte wat ter beklemtoning teen die einde van die gedig in ‘n effens gewysigde vorm herhaal word.

Een van die vele vondste in die bundel is die eiesoortige wyse waarop die digter liggaamsdele en menslike optredes omskryf. Die skedel word ‘n “ivoorkissie” of “ivoorkoepel”, en die brein ‘n “gekoekte grys murg” of ‘n “mooi grys groeisel wat alles wil oopwring/ oopwrik oopwurg ooppeil/ oopvlam met sy weerlig”. In ‘n “verfynde versteekte kannibalisme eet/ die een mens die brood uit sy broer/ en suster se mond”, terwyl die libido beskryf as ‘n “hiperpotente mandator” wat van ons bedelaars maak wat “broodkorsies soek/ in vulliskonkas” (22). Hiervan sou mens ʼn uitgebreide lys kon opstel.

‘n Lang gedig met ‘n uitsonderlike aanslag, nagenoeg hilaries en terselfdertyd ontstellend, is “god lees koerant nadenkend” (81) in die afdeling “Die onbemande krag”. Hier word God, terwyl hy deur die koerant blaai, aan die woord gestel oor die mens, anders as in die gedigte waar die mens oor God praat. Op ‘n vindingryke manier word daar kommentaar gelewer op menslike onbesonnenhede, soos die individu se geneigdheid om sy eie God te maak:

[…] hulle sny my op

verdeel my soos die hongeriges ‘n karkas opsny

in die harslag karmenaadjie en kotelette

my ingewande voer hulle vir hulle honde[.]

Enkele reëls later volg die priemende reël: “hulle dink met ʼn afgeslote dink my dink vir my”, en dan die onverwagse verwysing na die eietydse: “hoe nader hulle aan my kom/ met selfone en satelliete/ hoe nader ek hulle aan my alwetendheid verdra// their impact will fade into nothingness. Die God-spreker het berou, want in skuinsdruk word benadruk: “die eiegeregtige vrate/ is te veel snoep klein happies/ van my geheime toegelaat”. As die klem verskuif na God se ander maaksels, word daar opnuut aangeknoop by een van die prominente temas in die bundel, naamlik die mens se beperkte insig in vergelyking met die altyd bestaande wysheid van die godsplan (84):

my walvisse sing soos kanaries vir mekaar

tussen die pole en ruik die ewenaar

van ver lank baie lank voor ek mense gemaak het

my insekte kan mekaar van ver roep

in die nag mekaar ruik

mekaar opspoor met feromoon

sonder radio of telefoon

van ver af in die donker

gloei die koue geel lig van vuurvliegies

en gloeiwurms morse vir mekaar . . .

Uiteindelik vou God die dagblad vol menslike “leuens” toe en laat hy die mens aan sy eie oor om die lewe sonder hom te geniet. Heel moedswillig lê Cloete die aangepaste woorde van F.W. Reitz se Klaas Geswind in die mond van God: “ek is soos ʼn jong komkommer/ sit my in die vrieskas van die werksweek/ dan verlep ek sommer”. By Cloete is alles inderdaad nie die ene erns nie; deur verrassende verbandleggings en absurdistiese oomblikke voer hy ʼn sekere lugtigheid in en demonstreer hy hoe naby groot en klein, of lig en swaar, aan mekaar verwant is.

Kritiek op die mens word uitgebrei in die vyfde afdeling, “Antroposeen”, ʼn wetenskaplike gonswoord vir die resente geologiese tydperk waarin die effek van menslike aktiwiteit steeds meer merkbaar word. In ooreenstemming daarmee word die afdelingstitel gerealiseer in gedigte wat sosio-maatskaplike kommentaar lewer. Aanvanklik word die kloof tussen ryk en arm konkreet gemaak deur verwysings na plakkerskampe, werkloosheid en vigs, en gestel teenoor die weelde van knus kombuise, duur “karretjies” en luukse kameras. Maar dit is in “vyf beelde van die mens” dat die mislukking en aftakeling van God se skepsels en sy skepping ʼn uitgesproke tragiese toon verkry – hulle wat eers “om ʼn vuur/ gedans het by die disko’s van die sterre/ het deur Sy sukses met ons ná korte duur/ heilige bitter ironie/ misluk” (93). Die natuur gaan tot niet, elande word verdring deur motors van rubber en metaal, en “uit hulle anusse van vlekkelose staal/ poep hulle sigbare giftige koolsuurgas” (“elande”, 95).

Dit is byna onvermydelik dat die luukse van ʼn vakansiehuis in so ʼn groep verse sal opduik. “Parool” (99) gee ʼn treffende beeld van die gegoede moderne mens wat vir ʼn wyle uit sy hipergeordende gevangeneskap ontsnap. Die raak titel, tronkmetafoor, kompakte versvorm en klankeffekte, saam met die inhoudelike seleksie en rangskikking, maak daarvan ʼn sterk vers waarby baie lesers aanklank behoort te vind. Die gedig “3 Januarie” (101) sluit tematies hierby aan ten opsigte van die bevoorregtes se kleinburgerlike verbruikersbestaan. Die beste vers in hierdie afdeling, en vir my ook een van die bestes in die bundel, is “kragonderbreking Tsjeljabinsk 15 Feb. 2013”. Die inhoud is verbeeldingryk en die gedig knap gekonstrueer. Een van die mees ontstellende, dog onthoubare strofes kom hierin voor (105):

ek wou nog sê ʼn kragtige wind

swaai die leë skoppelmaaie

en weef spinnerakke om poppe en driewiele

in Tsjernobil[.]

Cloete se genadelose blik op die mensdom kring steeds wyer uit as hy in “straffelose leunstoel-meedoeners” (107) verwys na die mens se vraatsug na verbode dinge soos “sekseskapades en wrede misdaad”. In die kompakte, maar suggestieryke “dryfhout” (108) met sy eenvoudige, sprekende slot word die afgooi van oortollighede netjies saamgevat. Kostelik, en in ʼn selfs snediger toonaard, is die vers “lewensafrigters” (114) waarin die digter onder andere sy bedenkinge uitspreek oor die nuwe gier om mense “soos honde en perde/ katte en papegaaie af te rig/ om te lewe”. ʼn Gedig van groot skoonheid (ondanks die “g” in “springkane”) is “onsydige vegetatiewe vrou” wat ʼn interessante perspektief op geslagtelikheid bied, en ʼn haas verdwene beeld van ʼn vrou in ʼn landelike omgewing oproep (122). Hierdie afdeling bevat ʼn gawe verskeidenheid verse wat almal skakel met die grondtema van die bundel, naamlik “so lyk die mens”, en “so is die goed en kwaad in hom verknoop”. Dit is ook die afdeling waarin die meeste gedigte vormlik deurdag en goed afgewerk is.

In die afdeling “Die onsigbare sprong” val die klem op die sprong van mens na mens, na die self, en na die natuur. ʼn Uitsonderlike gedig is die beknopte dog veelseggende “[S]arkofaag” (126) waar die spreker weer ʼn kind word wat in die donker skuur uitgestrek op ʼn lusernbaal lê, betower deur die “skerp spies van die sonlig/ wat netjies deur ʼn roesgaatjie/ in die sinkdak pas”. “Kunstenaars kan hulle kinderlikheid behou, hulle ontroering wat hulle gereed maak vir ontvoering uit hulle self”, skryf Cloete in Die ander een is ek (Pooka, 2013), ʼn boeiende prosawerk oor die digkuns, menswees en die kunste in die breë, waarvan etlike sleutelgedagtes in Karnaval en Lent tot poësie omgeskoei word. ʼn Ander treffende vers wat die kindertyd oproep, is die sintuiglike “Kaalgat” (127), waar ʼn bejaarde spreker sy krukke voor die ruit ophang, sy hande uitsteek na die “nat hemel” en onthou hoe hy as kind kaal uitgeloop het in die “nat sagte wind”. Deur die invoeging van ʼn strofe uit J.H. Leopold se gedig “Om mijn oud woonhuis peppels staan”, met sy ewe atmosferiese verwysings na ʼn woonhuis en die reën, skep Cloete ʼn skitterende dubbelbeeld van sy eie belewenis. Ook “priesterwerk” (142), ʼn meer tradisioneel gestruktureerde vers, vormvas en deels rymend, reflekteer die digter se intense bewustheid van reëlmaat in die natuur, waarvan een strofe lui:

die skoenlappers met hulle feillose kompas

en die Melkweg op hulle vlerke geteken kom

voor my venster met hulle ingeboude

horlosie elke jaar in Oktober na dieselfde blom[.]

Sowel die mens se ervaring van sy eie lyflikheid as sy betrokkenheid by die skryfhandeling bly vir Cloete ʼn bron van verwondering, en heel gepas word die twee versoen in die slotafdeling “The words will be its body”. Hy bieg in “hierdie sigbare gedig” (146) dat hy uit sy hele “pynlik gebakkelde lyf” skryf: uit sy “worsige ingewande”, “elektrochemiese polsings” en “kilometers/ vertakkings van [s]y senustelsel”. Hy betrek ook die dans van woorde (149), die gedig wat dikwels teen ons sin alles uitlap (150), en hoe die woord “kan vat aan die sagte/ borrel of bel van ʼn droom” (151). En hy skryf oor sy taal; dat hulle hom as digter gaan doodmaak “deur my woorde af/ te neem, as hulle my taal kafdraf” (153), totdat hy die moderne Milners waarsku: “mense met ʼn aptyt/ vir vuurvreet sal vonke skyt” (154). Tot slot word die oorkoepelende tema en die skildery van Brueghel saamgetrek in “Agteraf” (160):

die gedig wil die geveg tussen karnaval en lent

in ʼn onbesliste gewapende stilstand op die ou end

in taal besweer.

Met die lees van hierdie bundel kom ʼn mens weereens onder die indruk van van Cloete se begaafdheid as woordsmid, en van sy omvattende kennis en denke. Tog ontstaan die vermoede dat ʼn minder omvangryke bundel sy digterskap beter gestand sou doen, sodat die verrassingseffek nie taan omdat onderwerpe, gedagtes, woorde en beelde mekaar eggo nie. Daarby lyk dit of die digter hier, moontlik doelbewus, losser en woordryker skryf, wat geen belemmering hoef in te hou nie, behalwe dat mens soms die skerpte en presisie mis waarmee sy werk vroeër geassosieer is. Lesers moet ook nie die onderliggende patos en teerheid verwag wat hulle voorheen in verse oor die digter se eggenoot en naastes teëgekom het nie. Dit is ʼn bundel met ʼn nugter, beredeneerde en soms lakonieke aanslag wat op ontbloting en besinning ingestel is en wegstuur van emosie.

Alles in ag genome, vorm hierdie tiende digbundel van Cloete, met sy klinkende, gelade titel en briljante verweefdheid met Brueghel se visuele teks, ʼn belangrike toevoeging tot sy oeuvre. Die wins lê vir my hoofsaaklik aan die tematiese kant, te wete die wye optiek op die skepsel wat “mens” genoem word, en wat van oudsher af wentel tussen Karnaval en Lent. Eerlik en prikkelend, met as subteks die erkenning dat ons, van nature geneig tot die kwade, tog langer in die buurt van die karnaval vertoef; “ons gaan feesvierend op/ in die vals lig van ons geluk” (93). Word ons versinnebeeld deur die karnaval-voos wese op die voorplat met sy mosaïek van ʼn miljarde klein vergrype? Op weg na Lent, of omgekeerd?

Dié vraag bly uiteraard onbeantwoord, maar deur ʼn vernuftige samespel van teendele suggereer die digter ʼn ondeurgrondelike geheel: “Augustinus kon die Heilige in die heuning proe/ hier op die aarde” (54), maar “ons staan verleë met slym en skubbe/ in ons leë hande as ons dink ons het dit beet” (57). Só word die denke op hierdie markplein deur woorde versinnebeeld.

 Resensie geborg deur