Posts Tagged ‘Resensie: Die goeie vrou en ander mites (Corlia Fourie)’

Resensie: Die goeie vrou en ander mites (Corlia Fourie)

Wednesday, September 26th, 2018

Resensie: Die goeie vrou en ander mites (Corlia Fourie), Protea Boekhuis, 2018

Resensent: Gisela Ullyatt

 

Omslag

Corlia Fourie is geensins onbekend aan Afrikaanse lesers nie. Haar oeuvre span bykans dertig jaar en oor genres heen: kortverhale, romans, kinderverhale, drama, en tydskrifverhale.  Sy is ’n strydros van die joernalistiek en ook ’n deurwinterde tydskrifverhale-redakteur. Verder lewer sy oor die jare indringende artikels oor prominente vroue (soms oor minder-bekendes ook) en rubrieke vir Rooi Rose.

Fourie se oeuvre bestaan merendeels vanuit die vroulike perspektief en kan opgesom word deur die titel van haar 1991-kortverhaalbundel: Liefde en geweld.

Met Die goeie vrou en ander mites debuteer Fourie as digter. Die voorplat is ’n kunswerk, getiteld, Dreaming of elephants, deur Nina Torr (2016). Dis ’n aangrypende skildery wat onmiddellike aandag van die oog vereis vanweë die onrustigheid wat die enigmatiese vrouefiguur ontketen. Die blou palet amplifiseer hierdie gevoel van onrus; die swart einder voorspel moontlike onheil. Die enigste warm tinte kom voor in die gesigplaat (disc) van die vrou in blou. In ’n onderhoud met René Bohnen op Versindaba, verduidelik Fourie soos volg met betrekking tot dié kuns:

Die omslagkunswerk dui op verskeie tradisies: eerstens is daar die idee van Maria, kenmerkend in blou soos in Middeleeuse skilderye en die hand is ook dié wat in Christelike skilderye van daardie tyd gebruik is. Maar in sekere Oosterese [sic] lande is diepblou ook die kleur wat prominente Moslemmans se vroue dra. Die verskillende kleure vir haar gesigskerm dui op moderniteit – dit wil sê sy word ‘n universele vrou, ‘n metafoor vir alle vroue wat worstel om aan die samelewing se vereistes te voldoen.

Die bundel word soos volg verdeel: “Die goeie vrou”; “Tuis en uit”; “Die wye wêreld in”; “Bloeityd” en “Kierang en ander hebbelikhede”. In die eerste afdeling word die lewens van randfigure of outsiders soos Helen Martins en Frida Kahlo belig; Coco Chanel en Miriam Makeba kom ook aan bod. Vrouefigure uit die mitologie soos Medusa, en uit die antikwiteit soos Cleopatra, word geskets. Die belesenheid van die digter met betrekking tot ’n verskeidenheid van bekende vroue, strek tot voordeel van die bundel.

Daar word ook gedig oor onder andere die “onsienbare” vrou wat nooit haar kleinburgerlikheid kon ontsnap nie, behalwe deur haar leesgierigheid waardeur sy ten minste ’n alternatiewe ontvlugtingswêreld vir haarself kan konstrueer. ’n Voorbeeld hiervan is “Die oujongnooitante” (23) wat nogal herinner aan die tipe plattelandse oujongnooi-karakter wat in Mikro (die skrywersnaam van Fourie se vader) se Mattewis en Meraai of in PG du Plessis se Koöperasiestories voorkom:

Tannie Joe se ore is hoeka groot.

Haar neus ook.

Die rok van haar kussinglyf

kort by haar maag ’n knoop.

sy verloor haar bril, haar pille,

haar haarnet, haar sleutels,

om hulle in die yskas

of perdalks

in die wasgoedmandjie te kry.

Maar tannie Joe ken stories,

sy lees Die Burger,

die National Geographic,

reis op ver-ver paaie

na waar woorde haar onvoorwaardelik neem.

 

Ongelukkig het die bundel ’n gros mankemente wat ten beste aan hand van die volgende kategorieë verduidelik kan word:

  1. Enumerasie

Alhoewel enumerasie op sig self tot voordeel van ’n bundel kan strek (soos byvoorbeeld Walt Whitman se Leaves of Grass) of ’n individuele gedig soos Allen Ginsberg se Howl, kan dit geweldig eenselwig raak as die digter die verstegniek oorbenut. Voorbeelde hiervan loop regdeur die bundel met gedigte soos “Frida Kahlo” (16); “Coco Chanel” (18); “Siembamba” (22); “Johies” (33); “In die begin” (50); “Dankie” (58); “Van baie lag” (60); “Die pienk viooltjie” (67); “Kierang” (74), en “pad na wie weet waar” (75). ’n Gedig soos ‘Koop” (73) is ’n voorbeeld van hoekom enumerasie as tegniek nie hier aangepak moes word nie. Ook die oordrewe satire val plat:

Die politici is kak.

daar is drolle in die drinkwater.

Ek gaan winkel toe

en koop, koop, KOOP.

.

My baas is ’n poephol,

my kollegas babelaas.

Ek gaan winkel toe

en koop, koop, KOOP.

.

My gade is befoeter,

my kinders bederf.

Ek gaan winkel toe

en koop, koop, KOOP.

.

My huis is vol,

die buitekamers ook,

die karre staan buite,

nêrens meer plek,

maar ek koop, koop, KOOP.

Danie Marais se gedig, “Wat swak gedigte weet” (Solank verlange die sweep swaai) is ’n voorbeeld van hoe beide enumerasie en satire tot voordeel van ’n gedig kan strek. Fourie sou self kon skryf oor die hebbelikhede van aspirant-skrywers wat sy sekerlik oor die dekades teëgekom het.

Wat swak gedigte weet

Poetry makes nothing happy – W.H.Auden

.

Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?

.

Vroeër het ek gehoop

dis oor slegte gedigte leuens is

wat soos goue sandale

verlange obseen maak.

.

Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling

die Highveld Stereo-hartstog

die emosionele pornografie

die infantiele woordspel

die kreupel rymdwang en paraplegiese paarrym

die zombie-hallelujas

die grillerige intimiteite en nat klapsoene

die ongesofistikeerde teleurstelling

die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum

die onafgewerkte noodkrete

die selfmoordbriefies vols pelfoute

die onbelese arrogansie

die onbeholpe pretensie

die selfbewuste eerlikheid

die vervelige nagmerries

die macho selfbejammering

die loopmagiese realisme

die voorstedelike surrealisme

die voorstedelike surrealisme

die alewige gatkruip by die doofstom Muse

die arseen-poeticas

die aansitterige besorgdheid oor die natuur

die kleingeestige politieke prekerigheid…

.

Maar dis alles bysaak –

dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie

wat my moedeloos maak.

.

Die goeie gedig is die frats, die leuen,

want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak  –

die lewe is ’n heruitsending van ’n sepie

die dood bloot formaliteit

.

Goeie gedigte is die kopligte

wat jou fataal verblind,

want dis ’n moorddadige geykte uitdrukking

agter die stuur van dié twaalftoon-cliché

.

  1. Gebrek aan beelding

Beelding is een van die hoof-karaktertrekke wat poësie van prosa onderskei. Sommige digters se styl sluit meer beelding in as ander. Breyten Breytenbach, Sheila Cussons, Marlise Joubert, Melanie Grobler en Ilse van Staden (om maar ’n paar te noem) se styl is meer beeldryk as byvoorbeeld digters wat volgens ’n meer “praatpoësie”-agtige styl fungeer (Danie Marais en Gert Vlok Nel).

In Fourie se geval berus haar debuut meer op joernalistieke navorsing en -styl (meestal skryf sy bondig) en vertel (in plaas van dig) meeste van die gedigte opsommend. In sommige gevalle help dit wel die leser wanneer ’n agtergrond of twee verskaf word, maar ander kere toets dit die leser se geduld omdat dit op sigself niks nuut verskaf nie en nie noodwendig poësie is nie. Gedigte soos onder andere “Frida Kahlo” (16); “Coco Chanel” (18), “Siembamba” (22); “Medusa” (24) en gedigte soos “Kierang” (75) en “Pad na wie weet waar” toon hierdie tipe eenselwigheid. Nog ’n voorbeeld hiervan is “16 dae van aktivisme van geen geweld teen vroue en kinders” (21). Ironies genoeg kon die enumerasie-tegniek hier baie geslaagd gewees het as die digter meer beeldend en oorspronklik te werk gegaan het:

Dag 1 sê hy sy praat te veel.

Dag 2 wys hy sy vinger vir haar.

Dag 3 stamp hy haar toe sy iets sê.

Dag 4 sê hy sy moet haar bek hou.

Dag 5 slaan hy haar bruin oog blou.

Dag 6 koop hy vir haar blomme.

Dag 7 sê hy sy’s ’n fokken feeks.

Dag 8 slaan hy haar in die hospitaal.

Dag 9 maak sy ’n saak teen hom.

Dag 10 kry sy juwele en sjokolade.

Dag 11 soebat hy hy’t sy les geleer.

Dag 12 trek sy die saak terug.

Dag 13 sê jy sy het gif in haar bord.

Dag 14 skop, byt en donder hy haar.

Dag 15 sterf sy met ’n potblou mond.

Dag 16 huil hy bitterlik by haar graf.

Nog ’n mankement van hierdie gedig is die taalgebruik: aan die eenkant sou die leser verwag dat harde vloekwoorde gebruik sou word om so ’n brute vrouemishandelaar uit te beeld. Dit voel egter of Fourie hier dit probeer versag het: hoekom “fokken feeks” en nie fokken teef/bitch nie? “Sy moet haar bek hou” klink na sagter taalgebruik wat eerder dekades gelede in so ’n gewelddadige huishouding sou opklink.

.

  1. Onaf eindes/eindreëls

Die eindreël of -strofe kan ’n gedig maak of breek. ’n Voorbeeld waar Fourie ’n pragtige slot bewerkstellig het, is in die program-gedig, “Die goeie vrou” (7): “die onweer/ tegemoet geloop” en “Kinders op pad” (47) waarvan die eindstrofe soos volg lui:

Ook: Leipoldt se hand vol gruis,

Breyten se rooiborsduif,

Wyk Louw se beiteltjie,

Boerneef se berggans

en dié polfyntjie.

Ander geslaagde eindes is “Spoelklip” (49); “Nag” (51), en “Debutant” (59).

’n Voorbeeld waarvan die slot minder geslaagd is, is “4711”, gedig wat oor ’n ouma, genaamd Ouma Strand, handel. Die beskrywing van die ouma se lewe is paslik regdeur die gedig, maar die einde lui joernalisties en opsommend van wat reeds in die gedig vertel is. Die wending moes iets nuuts of onverwags aan die leser gebring het. Selfs romanlesers wil nie ’n opsomming van die roman as slot hê nie, maar ’n dénouement:

Ruik ek 4711, sien ek Ouma Strand,

bruilofte, begrafnisse en die Anglo-Boereoorlog.

.

  1. Clichés en sentimentaliteit

Omdat Fourie so ’n skerpsinnige joernalis, prosaskrywer en veral dan ’n redakteur is, is dit verbasend dat haar poësie nié van clichés en sentimentaliteit gestroop is nie. ’n Hebbelikheid wat hiermee verband hou is outydse taalgebruik of onaf neologismes wat uiteindelik as leesversperrings dien. Voorbeelde hiervan is “tjankjammer”, “giftige oë”, “welige kuif”(24); “wulps”, “eina, sjoe” (30); “gie-gie-gegiggel”; “wulpse”, “sissende sang”, “tril-tril”, “en bome bloei in my oë” (33); “rommelende tromme”, “op-op-opsweep”, “krinkelkronkels” (45); “Haar glimlag is vir môre”, “teen haar hart vasdruk” (56); “’n kind wat sy snot eet”, “Ag, sommer net gelag/omdat lag-lag is/en ek baie laf/kon hahahaha.”, “ontstellend mooi”, “sterre rinkelend” (60); “amperstamper” (62); “bang ruggie”, “snikke bedaar” (63); “ek weifel, ek twyfel” (74); “O nee/ Ag, toggie tog” (76), en “Verdor, verdroog” (77).

Gedigte oor haar ouers in “Dankie” is ’n voorbeeld van ’n digter wat nog nie genoegsaam haar emosie oor dié onderwerp verwerk het om dit in ’n gedig om te sit nie. Derek Walcott skryf immers:

What makes a poem is the discipline inherent in making a poem: trying to fit feelings in the requisite number of syllables and lines, disciplining one’s feelings.

“Dankie” maak stellings, maar kom nooit verder as dit nie. Dit lees meer soos ’n dagboekinskrywing wat na ’n gedig verwerk toe sou kon word.

’n Voorbeeld van hoe daar effektief oor ouers gedig kan word met die nodige afstand en beelding, is Elisabeth Eybers se “Erfenis” (32:Verbruikersverse):

Beide my moeder en vader

bestendig ek as ’t ware,

uit hóm stam my lang ledemate,

uit háár my ruie bos hare.

.

Hy was bedaard en nadenkend,

sy kon lig ongelowig staar,

niks was te eerbiedwaardig

vir haar om as vreemd te ervaar.

.

Hul onderlinge verskille

het allengs versoenbaar geraak:

in mý word onverminderd

hul strydighede gewraak.

.

Self ook reeds tydgetemper kan ek hulle

sonder meer duld;

dat man en muis tog moet verdwyn

is trouens geen sterfling se skuld.

.

Alleen: húlle bly nog so lewend,

lyk opdringender by die dag:

om steeds daarmee tred te hou

is wat ek al minder vermag.

.

In twee of drie gedigte kom die tema van siekte, in die vorm van kanker voor waarin chemoterapie en bestraling deel van hierdie siekte-ervaring uitmaak. Fourie het hierdie belangrike komponent onderspeel daardeur nie genoegsaam uit te brei in die bundel tot ten minste ’n afdeling nie. Hierdie leser sou meer oor hierdie tema wou lees in dié debuut.

Die gevoel wat by hierdie leser gewek is, is dat Fourie nog nie tuis genoeg voel om in die poësie-genre te skryf nie. In ’n onderhoud met A.J. Opperman (Beeld, 17 September 2018), word die volgende insig gebied wat hierby aansluit: “Tog beskou Fourie haarself nie as ’n digter nie. Dit was vir haar ’n eksperiment of ’n spel”.

Net tyd sal leer of Fourie wel haar dig-repertoire sal verbreed en haarself as ’n volwaardige digter sal begin sien en nie as ’n eendagvliegie nie, soos in haar gedig, “Dis al” (31):

Eendagvliegie met jou

ragfyn vlerkies

en slanke sleepstert:

Waarom het jy geen mond nie?

Waarom geen maag nie?

.

Ek leef net om te paar,

as my kinders gebore word,

is ek kapot.

My dood onaf

wend

baar.