Posts Tagged ‘Resensie Penseel twintig agtien’

Resensie: Penseel Twintig Agtien

Thursday, December 20th, 2018

Penseel Twintig Agtien. Ver[r]as. Sun Media, 2018

Resensent: Dewald Koen

omslag

Die woord “penseel” verwys volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) na “’n klein of fyn skilderkwassie”. Laasgenoemde is van belang aangesien Aletta Simpson se keurig en goed deurdenkte omslagontwerp ’n mengelmoes van kleure en kwaste bevat – pensele, kleiner kwassies asook groter kwaste. Die konsep waarmee die illustreerder hier werk is die kwas as metafoor vir individualiteit asook kreatiwiteit onder jong opkomende skrywers en digters.

Studentebundels was in die jare sewentig en tagtig besonder gewild aangesien die meeste Suid-Afrikaanse universiteite oor Afrikaansdepartemente met ruim studentegetalle beskik het. Een so bundel was Rhodes-universiteit se Aspersie wat in 1974 onder leiding van drs. W.F. Jonckheere en A.P. Brink ontstaan het. Twee name wat in die bundels uitstaan is die van skrywer Wilhelm Liebenberg en dramaturg Deon Opperman wat in Aspersie gedebuteer het. Op soortgelyk wyse het Penseel onder leiding van die Afrikaanse Studiekring (ASK) tans bekend as die Vereniging vir Afrikaansstudente (VER[r]AS) sedert 1969/70 amper jaarliks verskyn. Fanie Olivier en Danie Botha was die stigters van die bundel onder beskerming van die ASK. Talle bekende Afrikaanse digters en skrywers soos Zandra Bezuidenhout, Rachelle Greeff, Joan Hambidge, Daniel Hugo, André le Roux, Sonja Loots, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk (om maar enkeles te noem) se werk is oor die jare in die bundel opgeneem. Die noodsaaklikheid van studentebundels soos Penseel en Aspersie moet dus nie onderskat word nie. Laasgenoemde bundels is van besondere belang by die bevordering van Afrikaanse kreatiewe skryfwerk aan Suid-Afrikaanse universiteite om sodoende nuwe opkomende talent te ontgin.

Penseel Twintig Agtien bevat gedigte wat deur ’n paneel kundiges verbonde aan die US se Departement Afrikaans en Nederlands vir publikasie aanbeveel is. Die bundel as geheel bied ’n blik op kwessies wat menigte jong Suid-Afrikaners daagliks moet trotseer. Een van die aspekte wat hierdie bundel aanloklik maak is die wye verskeidenheid temas wat in die gedigte aan bod kom. Temas sluit in die soeke na identiteit, depressie, selfdood, verkragting, liefde, homoseksualiteit asook vriendskap en afwesige vaderfigure. Dit is verblydend om te sien dat studente nie huiwer om in Kaapse Afrikaans te skryf nie. Laasgenoemde is ’n duidelike boodskap dat daar stadig maar seker wegbeweeg word van Standaardafrikaans as die norm en dat Kaapse Afrikaans haar regmatige plek in die Afrikaanse letterkunde ingeneem het. Laasgenoemde kan toegeskryf word aan prominente digters soos Nathan Trantraal, Jolyn Phillips en Ronelda S Kamfer wat ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse literêre kanon in Kaapse Afrikaans lewer. Lucinda Arendse se gedig “Os Mense”, Anneline Arries se “Ek is still ’n coloured”, Chrystal Williams se “Wa’ issie mango of die soutvis” en Candice Francisca Jantjies se “Wat is Kaaps?” fokus tematies sterk op identiteit. In “Wat is Kaaps” skryf Jantjies:

Dis sophisticated geraas

Much soos die Klopse se geblaas

Dis ’n kultuur van blindemol, tol kap en kennetjie

Van Gatsby dite, paaper bites en slangetjies

Van nederige Christmas feasts

Met skaapkop en afvalpot as delicacies

Maar al is daai goed cheap

Kan geen appropriation die cultural flavour daavan cheat,

Want even Woolies se overpriced slangetjies

Kom nie naby die armmanspakkie wat vanaf die Bo-Kaap tot in Kraaifontein gecater word nie

[…]

Franco Bassi en Micaela Cloete se eg Suid-Afrikaanse weergawe (“Suid-Afrika”) van die Amerikaanse digter Alan Ginsberg se “America” (1956) is besonder treffend. Beide Bassi en Cloete slaag daarin om op kreatiewe en geslaagde wyse met Ginsberg in gesprek te tree. Bassi skryf soos volg:

Suid-Afrika ek het vir jou alles gegee en nou is ek niks.

Suid-Afrika R68 761,24 studieskuld 11 Julie 2018.

Ek kan myself nie verdra nie.

Suid-Afrika wanneer gaan ons die rasse-oorlog beëindig?

Vlieg in jou poes met jou VAT.

[…]

In “My Kersie is Dood” tree Leroy Jooste met Ronelda S Kamfer se gedig “Klein Cardo” in gesprek. Jooste plaas klem op die bendegeweld wat daagliks op die Kaapse vlakte afspeel en onskuldige kinders wat sodoende die slagoffers van geweld word. In teenstelling met Jooste lewer Anél Naudé in “Lente in Noordwes” ’n besonder klankryke ode aan lente in dié provinsie.

Lig

strepies in jou hare

hartjieblare,

fyn reuke deur slaapkamervensterrame

wyl die son warm oor jou bruin bed

parallelogram perfek.

Sonbrand skouerblad

water spat

koel-witwyn,

laat-jasmyn,

klein-konyn,

twee-twee tarentale

donderweer, blits en hale.

Reënboog!

Blou-oog.

Alida van der Merwe se gedig “What Would Jesus Do” gryp die leser aan die strot en tree op vernuftige wyse intertekstueel in gesprek met Bibi Slippers se bundel Fotostaatmasjien.  Zian Blignaut se humoristiese “Gay yellow pages”, Franco Bassi se “net vriende”, Francois du Plessis se “Chris” en Carina Rossouw se “Aan I.D. du Plessis” fokus tematies op aspekte van die gay gemeenskap.

 

Gay yellow pages

.

Voel jy skeef of alleen?

Stal jou enkel tot oksel

of diskresie uit in ’n raam

op die app met die bauta.

.

Blaai oor die skerm, ontmoet ’n minnaar:

’n silwer vos, otter, beer of iemand glad geskeer,

’n pappa, ’n bleeksiel, ’n sportmalle, boomomhelsers,

iemand queer in leer, selfs trans, ru of poz,

dalk ’n ander tipe poes:

’n twink.

.

Let your fingers do the walking

vir goedkoop of garansie.

Die mark is oop.

Giselle Botha se vernuftige woordspel in “Seeman” en Karen van der Merwe se “Dogters sonder pappas” plaas die fokus op verhoudings – hetsy romanties of tussen gesinslede. Hoogtepunte in die bundel sluit in Frederik van Dyk se “onderspit” en Igna Botha se “Hareknip”. Botha is ’n nuwe stem waarvan kennis geneem moet word. Deur middel van die vryeversvorm gee Botha gestalte aan gewigtige sosio-politieke temas wat Suid-Afrikaanse grense oorskry. Hier is ’n jong stem wat nie huiwer om die spreekwoordelike heilige koei onaangeraak te laat nie.

Hareknip

Fok, dit voel asof ek deur hierdie spieël gaan spring.

Yskoue tonge bou korf in die holte van my nek.

Die meisie vra: “Van waar af kom jy?”

.

haar huis was op die hoek tussen ouma en die kerk oorkant die veearts wat gereeld hul

honde uitgesit het die brakke wat kringe gepie het op haar ma se mat die ousie het hulle

gedra oor die pad

.

Daar is ’n puisie agter my oor wat deur die haarlyn wil boor.

Ek krap myself as ek stres.

Die meisie sê: “Dis seker beter as om naels te kou”.

 

waar sy vandaan kom is daar nie berge nie alles is plat kougom getrap stof onkruid sweet

hande vasgeplak bid vir reën kraak kneukels as die son sak donderweer

.

Daar is ’n spierwit hondjie in die vrou se arms:

“Jesus Christ, what are you doing?”

Die hond lek die foelieslierte in haar hare.

“My darling, you are making the biggest mistake of your life”

Ek glimlag.

Ek gril.

.

in klerksdorp ry al die vrouens hilux bakkies met bull bars sodat jy taxis kan stamp jy mag

middelvinger wys in klerksdorp is die spreekkamers vol boere van coligny bothaville en

hartbeesfontein wat sukkel om hulle penisse op te kry en skree op thandi in die ontvangs

slap wit en bitter kwaad vir wat sal ’n meid vir hom kom sê hy moet engels praat maar ek bly

nie meer daar nie ek sit nou in stellenbosch en skeer my kop kammetjie vier en bloos as ek

per ongeluk praat van my ousie ek bedoel dora dora het altyd die honde veearts toe gevat

ek stap oor die pad victoriastraat ek sukkel met my voet dit sleep kyk na die sool ’n stuk

kougom klou vas skielik kry die ding mond en spoeg klippe teen my kaak met die stem van

’n wolkbreuk spreek die kougom my aan:

Jou hare lyk kak.

.

As resensent (maar veral as letterkundedosent) was ek meegevoer deur die studente se kreatiewe vermoë en die individualiteit wat in elke gedig deurskemer. Die gedigte is ongeredigeer geplaas (met die uitsondering van enkele redaksionele wysigings van taal- en spelfoute). Die feit dat die oorgrote meerderheid van die gedigte wat in die bundel opgeneem is steeds geslaagd daarna uitsien, getuig van die hoë standaard en passie waarmee hierdie studentedigters hul liefde vir poësie uitleef. Penseel Twintig Agtien is ’n publikasie wat op elke poësieliefhebber se boekrak hoort.

Naskrif:

Alhoewel die bundel ook enkele kort-kortverhale bevat, is daar vir die doel van hierdie resensie slegs op die poësie-bydraes gefokus. Die bundel is beskikbaar via die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch.