oorblyfsel / voice over
Friday, September 25th, 2009
oorblyfsel / voice over.
Breyten Breytenbach.
Kaapstad: Human & Rousseau.
ISBN 978-0-7981-5071-2.
Prys: R150.
Breytenbach het al meer as een keer gedreig om op te hou skryf in die “dooie taal” Afrikaans. Derhalwe is dit telkens ’n dubbele vreugde om ’n nuwe bundel van hom te lese te kry.
So ook met die pas verskene oorblyfsel / voice over. Dié titel eggo twee vorige “oorblyfsel”-bundels uit sy oeuvre, te wete Oorblyfsels (1970) en Oorblyfsels: ’n Roudig (onder die skrywersnaam Jan Blom – 1998).
Die subtitel “(op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj) / (the nomadic conversation with Mahmoud Darwish)” verklap dat die 12 gedigte (in Afrikaanse sowel as Engelse weergawes) geïnspireer is deur die dood verlede jaar van die gevierde Palestynse digter, wat deur Breytenbach tot een van sy goeie vriende gereken kon word. Onmiddellik na die sterfte van Darwiesj tydens ’n opehartoperasie in die V.S.A., so verklaar Breytenbach in die “Nota” aan die einde van die bundel, het hy “hierdie reeks begin skryf as fragmente van ’n voortgesette gesprek met hom”.
Elkeen van die gedigte behels enersyds vertaalde gedeeltes van Darwiesj-gedigte (maar dan uit bestaande Franse en Engelse omwerkings van die oorspronklike Arabies, wat Breytenbach nie beheers nie). Soms gaan dit om die omsetting van ’n spesifieke gedig, ander kere om die betrek van fragmente uit verskillende verse. Daartussendeur het Breytenbach dan, andersyds, sy “eie stem [...] vervleg”.
“Die beelde, in ’n mate selfs die ritme en die vormgewing,” is Darwiesj s’n, maar dit behoort duidelik te wees dat die verse eintlik as Breytenbach-werke gesien kan word. “[G]etransformeerde ‘variasies’” noem hy hulle.
Die bundel verteenwoordig daarom ’n huldiging van Darwiesj, maar is ook ’n volbloed toevoeging tot die Breytenbach-oeuvre self (wat al voorheen vertalings ingesluit het).
Ook binne die bepaalde bundelopset word die transformerende variëring voortgesit. “Die Engelse weergawes hier het terugwerkend gespruit uit my Afrikaanse pogings, met die bedoeling om ’n gesprek tussen die twee tale te bemiddel. Hulle is dus nie woordelikse ‘vertalings’ nie. Soms het ’n eggo of ’n assosiasie in die Engelse segging weer ’n ander moontlikheid in Afrikaans oopgemaak.”
So geefsel verskillende betekenisse van die tweetalige bundeltitel op. Die oorspronklike gedigte is ‘oorblyfsels’ van Darwiesj, maar wat via die omsettings – die “voice overs” – hom (en sy stem) nou ook in Engels én Afrikaans laat ‘oorbly’ (= vertoef), of selfs ‘oor bly’ (= van voor af laat bly). By dit alles moet die “voice over” van Breytenbach se eie stem inbegryp word.
“Reis” en “gesprek” (op verskillende vlakke) is die twee sentrale motiewe in die bundel wat deur die subtitel uitgelig word. As Darwiesj in die V.S.A. sterf, verneem Breyten daarvan in Wes-Afrika, op Gorée-eiland. Die aangroeiende maan in gedig 1, totdat dit word “’n skip van been / jou skedel, Magmoed”, verbeeld ’n toenemende indiwiduele vereenselwiging van die “ek” met die “jy” in die bundel – ’n voortsetting van die voortdurende preokkupasie met identiteitsvorming en -omvorming in die Breytenbach-oeuvre. “[D]aar is geen identiteit,” word in gedig 2 verklaar. En dan, in ’n beeldopstapeling wat funksioneel ‘troebel’ is:
alleen ’n ruisende ruimte van bewing
alles is beweging totdat dit ophou beweeg
om te sing van die tyd
toe tyd nog tydsaam die minnaar in ’n minaret was
oor beeldpatrone van die lyf[.]
In die derde gedig, deur “ses, sewe, agt dae en nagte” as inset duidelik gemerk as ’n vervolg op die “drie, vier, vyf dae en nagte” waarna in gedig 1 verwys is, word gewag gemaak van ’n reis na Katalonië. As die “jy” dan “in ’n koma” langs die reisende “ek” kom sit, en ’n gesprek aanknoop, is dit onseker of dit ’n onthoude of verbeelde gesprek is, en wie dit is wat dood is, wie lewend; wie skrywer is, wie geskryfde. Vergelyk die slotreëls van die gedig:
miskien is ek iewers inktussen
en miskien is ek ’n afgetrede ontslapene
tydelik in die lewe met verlof[.]
In Engels:
perhaps I am somewhere in the ink-between
and perhaps I’m an aftertime corpse
temporarily on leave in this lewd life[.]
Die volledige identiteitsvervlegting word in gedig 4 herhaaldelik bevestig:
gegroet, hy wat met my ’n bewussyn deel
[...]
gegroet, hy wat my glas met my deel
[...]
want wie het dan gesterwe … wie?
Gedigte 5 en 6 het as basis twee treffende Darwiesj-verse waarin groepe mense aangespreek word. In 5 word die Israeli’s vermaan dat hul nie hul identiteit deur geweld en afsondering terug kan vind nie. Hul essensie is eerder in die universeel menslike geleë, iets wat hulle met die Palestyne wat deur hulle onderdruk word, deel:
kom, kom drink Arabiese koffie saam met ons
en julle sal sien dat julle mense is
net soos ons net soos ons ook ween
ook in doodskiste pas[.]
In 6 kom Darwiesj se Palestynse volksgenote aan die beurt, naamlik in ’n relaas oor hul nasionale identiteit. As indiwidualiteit erken word, as lewe, liefde, ensovoorts nie vernasionaliseer word nie – eers dan sal hulle waarlik ’n volk kan wees. Maar dat dié twee gedigte in wese ook oor Breytenbach se eie volk, die (Suid-) Afrikaners handel, word duidelik as daar later in 6 staan:
ons sal ’n volk wees wanneer dit die sanger toegestaan word
om ’n vers van die soerat van Rahman by ’n gemengde troue
in die Bo-Kaap te sing soos ’n kanarie
ons sal ’n volk wees wanneer die patriot sy vierkleur nog net hys
in sportstadions en by skoonheidskompetisies
en tydens herinneringe aan die Groot Vlug – net dit net dit[.]
Ook ’n kollektiewe vereenselwiging word dus in die bundel verwoord. Want (luidens die inset van gedig 7):
identiteit is ’n gesprek, Magmoed
wanneer jy soos in ’n droom hoor
wat die ander vertel
en jy jou verbeel jy het verstaan/bestaan
om te wees is om te beweeg[.]
In gedig 8 word gewag gemaak van die “verre noorde” en “die blinde sanger”, klaarblyklik onderskeidelik verwysend na Friesland en na die blinde Friese digter Tjêbbe Hettinga waarvan Breytenbach in die “Nota” vertel. Die “blinde sanger” spreek nou ook mee (gedig 9) – en die indiwiduele en kollektiewe identiteite eggo in al groter kringe uit. Daarby tree digterskap en poëtikale besinning al sterker op die voorgrond (gedigte 10 en 11). Trouens, so sterk is die identiteite van die drie genoemde digters vervleg in 10, dat dit haas onmoontlik word vir die leser om te onderskei wanneer Darwiesj of Breytenbach of Hettinga ‘praat’. Want:
die vers wat slegs ’n enkele digter onder die vlerke dra
het immers alle ritme verloor[.]
Of in Engels:
the poem that carries a sole poet under the wing
will spiral down in a loss of rhythm[.]
Dit is die lewe – met sy geweld, sy “onvolmaking” en al – wat die digter(s) luidens gedig 11 in die oog het. Die digkuns is sowel ’n spieël as ’n herskeppingsdaad:
[...] om deur die leë erwe van vergaan te dwaal
is om die heiligmaking van die niet te verkondig
soos die blinde digter van walvisse
as buitelende heuwels in die maanlig sing
skryf op: Arabier
skryf op: Palestyn
skryf op: Afrikaner
skryf op: ook mens[.]
Die bundel eindig hoopvol (gedig 12). ’n “[A]nder dag” van vrede, skoonheid en waarheid word selfs voorsien – met die kwalifikasie: “asof die tyd sluimerend met vakansie is”.
’n Komplekse en myns insiens boeiende spel van identifikasie, identiteitsbepaling en -spieëling deur middel van gesprekvoering vind dus in oorblyfsel / voice over plaas. Spieëls, die (aangroeiende, lig-reflekterende) maan en weerkaatsende waters (soos putte) is belangrike ondersteunende motiewe in die bundel in hierdie verband. Die vervlegting en ooreenskuiwing van digterlike stemme, en die gelaagdheid van (transformerende) vertaling op vertaling op vertaling, vergestalt dit verder. Dis heel funksioneel dat die bundel dubbeltalig aangebied word. “Vertaling, om oor te gaan van een taal in ’n ander, is ook ’n reis,” skryf Breytenbach in die “Nota”.
Na die verskyning van Breytenbach se A Veil of footsteps verlede jaar het ’n pennestryd losgebars oor die kwaliteite van die Engels wat hy gebruik. En al klaar is weer kritiek uitgespreek (deur Hans Pienaar in 20 September se Rapport Weekliks) oor die Engels in oorblyfsel / voice over. Ek moet ruiterlik erken dat my beheersing van Engels nie van so ’n aard is dat ek oor die meriete van die aanklag kan oordeel nie. Wat ek wel weet, is dat Breytenbach so kreatief beeldend, transformerend en spelend met taal te werk gaan dat die meetsnoere van die grammatika en die stilistiek in elk geval ernstig uitgedaag word daardeur.
[O]orblyfsel / voice over vertoon tematiese, stilistiese en vormlike eienskappe wat welbekend is uit Breytenbach se oeuvre. Die wyse waarop dit alles aanmekaargesit is in dié bundel, is egter uniek.
Ook die parallelstelling van ’n/die Afrikaner se posisie met die van ’n/die Palestyn is ongewoon, juis gesien teen die agtergrond van Afrikaners se tradisionele vereenselwiging met die lotgevalle van die Oudtestamentiese Israeliete, en wat in die tweede helfte van die twintigste eeu in ’n simpatieke houding jeens moderne Israel neerslag gevind het.
Bernard Odendaal




