Posts Tagged ‘Resensies deur Amanda Lourens’

Resensie: Op die vingerpunte van die heelal (René Bohnen)

Friday, October 6th, 2017

Op die vingerpunte van die heelal deur René Bohnen. (Naledi, 2017, ISBN: 978-0-928316-95-7, Formaat: Sagteband, 63p.)

Resensent: Amanda Lourens

In hierdie dae waarin daar soveel argumente gevoer word oor goeie en swak poësie, oor digters wat teen hulself beskerm moet word en resensente wat te gaaf is, is daar tog een stuiwer wat ek in die armbeurs wil gooi: Elke bundel (en kom ons praat nou maar oor dié wat dit tog wel tot by publikasie maak) het ʼn bepaalde hartklop, wat nou verbonde is aan die digter se mens- en digterwees. Bowendien kan die hartklop van verskillende bundels radikaal van mekaar verskil – selfs binne ʼn enkele oeuvre. Met jou vinger op hierdie hartklop kan jy as leser herken wat dit is wat die bundel probeer wees, en wat die digter daarmee wil bereik, asook uit watter soort drade die gedigte gespin of geweef is. En soos ons almal weet, kan jy nie ʼn syrok beoordeel wanneer jy onder die indruk is dat dit eintlik ʼn katoenrok is nie. Wat ek met hierdie ietwat lompe verstrengeling van metafore probeer sê, is dat ek reken dit is nodig om as resensent werklik die hartklop van ʼn bundel te probeer vind en jou oop te stel vir die spesifieke stem wat aan die woord is, alvorens jy aan die hand van watter kennis ook al ʼn billike oordeel kan uitspreek.

Op die vingerpunte van die heelal is die derde bundel uit die pen van René Bohnen. Ek het aanvanklik gesukkel om die polsslag van die bundel te vind, en het dus eers na moontlike leidrade gaan soek om my te help om die bundel te verstaan vir wat dit is. In die digter se onderhoud met Louis Esterhuizen op Versindaba vertel sy oor die verband tussen die vorige en die jongste bundel:

“Ons probeer immers binne versplintering heel koherent lewe – hiervan was ek as kind al bewus. Uiteindelik begin ek daaraan uiting gee, nadat ek in my vorige bundel ʼn plek van innerlike krag kon bereik, waarna ek in ʼn destydse onderhoud verwys het as “eilandjies van stilte”. In hierdie bundel ondersoek ek die lawaai tussen daardie eilandjies, dink ek.”

Dit was aanvanklik moeilik om te probeer peil presies wát die digter bedoel met “die lawaai tussen [die] eilandjies [van stilte]”, maar dit het mettertyd geblyk dat dit ʼn waardevolle sleutel tot die hart van die bundel is.

Hierdie derde bundel uit Bohnen se pen is nie soseer ʼn “samekoms van die alledaagse en die metafisiese”, aldus Marlies Taljard oor haar vorige bundel, nie. Die bundel open wel met gedigte (waaronder “Inkommers”, “jozi op ʼn riff” en “Jaar van die houtperd”) waarin veral die alledaagse aan die orde kom, en dan wel in die gedaante van besonder sintuiglike beskrywings van verskillende dinge in die materiële werklikheid – hetsy ’n skoenlapperinval in Johannesburg of verskeie Oosterse bestemmings.

Lees ʼn mens verder, is daar nog vele gedigte wat akkurate en dikwels kleurryke beskrywings bied van veral omgewings, maar dan is daar ook dié wat kritiek bevat teen die mens se vernieling van die natuur, soos byvoorbeeld in die uiters verdienstelike “Nieu-Bethesda 2020” (oor hidrobreking):

Radioaktiewe kraaie sit in klosse op Shell se torings,

hulle gekrys verdring deur bore se ra-ta-tat-tat, deur

vierhonderd tenkwaens wat druis op die dubbellaanpad.

’n Meermin se uitgestrekte handjies verweer

in die suurreën, haar bierbottel-oë bars,

rapat; breek die watertafel. Sien is glo –

protesplakkate tolbos soos orakels

oor fracking in die Oos-Karoo.

Moederaarde hoes ondergrondse gas, sy het gif in haar are.

Veelvermoedend blêr dragtige ooie sonder ophou in die gras.

Die vorige armes is nog armer, die lug is maalglas

bokant Helen se vaal jaart met krippe en kamele.

Deur die krake in Koos Malgas se gemesselde uile

glip ’n gladde tweekopakkedis. Sien is glo – hoofletter

protesplakkate verbleik langs magnate se beloftes

oor fracking in die Oos-Karoo.

In die broeines hoog teen Kompasberg lê ’n witkruisarend

haar eerste eier – dit is grof, dit gloei in die donker.

Bohnen se vermoë tot oortuigende en oorspronklike beskrywing blyk ook uit ʼn aantal gedigte oor kuns (“om kleur te kerf” en “Die omhelsing”). In laasgenoemde dig sy die werk van die Franse kunstenaar Séraphine Louis (wie se lewe terloops ook raakpunte het met dié van Helen Martins) om tot sonderlinge woordportrette:

Séraphine, jy swyg in ekstase,

dryf op jou spektrum van lig

en onttrekking

want hoe besoek ’n mens gekamde

magrietjies of vere soos vlamme,

suurlemoensonne of oë vir peule,

loodglaskleure in die gelaagde

boom van die lewe?

In die gedig (“Aan die hand van”, p.13) word die verband tussen visuele beeld en beskrywing en die skep van gedigte aan die orde gestel, en hierdie gedig raak dan ook ʼn belangrike leidraad tot die ontsluiting van die bundel:

Voëls kyk is ’n ander manier van gedigte skryf

mymer jy langs broodkrummels en piesangs

in die skemer met jou beker tee heuningsoet

in jou hand – neem nou maar

die kuifkophoutkapper of druppelvlek

wat bont gespat in rooi en geel en swart

uit Pollock se skilderdoek stap

en wat is Goya anders

as die mikstertbyevanger, die sirkuspapegaai Lautrec,

kyk hoe eggo kardinaalvinke Monet se papawerlande,

die kleurblokke uit Warhol se hande, sien Hopper se meeulose

strande teken kwatryne oor halfweghuise met dun gordyne

Kuns kyk is ’n manier van gedigte nader roep

Elke skildery is ’n spieël

en met jou dagboek verberg in die versreëls

van ’n sonnet, soek jy nóg refleksies aan die hand

van verwers en geveerdes

Voëls reis lig

van boom tot boom

of van skets tot see en meer

skryf jy laas nag in ’n droom

toe twee Pollocks tjirrr

in die Pierneef-ets

Hiervolgens is die waarneming van die alledaagse lewe nie ondergeskik aan die proses van kunsskepping nie, en ook bevind die verskillende kunsvorme hulle in ʼn soort organiese verband met mekaar. Waar die vorige bundel die spirituele domein via alledaagse belewenisse betree het, bevind hierdie bundel hom waarskynlik midde-in die uitbundigheid van die aardse lewe self – die “lawaai” waarna Bohnen verwys.

Lesers wat Bohnen se nuwe bundel gaan benader met spesifieke verwagtinge oor betekenis en struktuur gaan dit moeilik vind om ʼn vastrapplek in die bundel te kry. Die gedigte is organies binne die bundel gerangskik, en daar is geen formele afdelings nie. Die gedigte se “betekenis” word dan ook eerder gevind in die feit dat elke gedig ervaar behoort te word, eerder as kognitief uitgepluis te word. Wanneer laasgenoemde die leesstrategie is, is daar die gevaar dat die gedigte as inhoudelik redelik yl gesien kan word. Die hartklop van die bundel word waarskynlik daardeur gekenmerk dat die leser deel raak van die belewenis wat in die gedigte ingebed is, en behoort met daardie ingesteldheid benader te word. Ten beste is dit ʼn poëtiese in-die-oomblik-wees; ʼn diepe ervaring van bewustheid (by gebrek aan ʼn beter vertaling vir “mindfulness”) wat in taal weergegee word.

Aan die ander kant mag lesers ervaar dat die gedigte nie genoegsaam op ʼn inhoudelike substraat staatmaak nie, en moontlik te veel op indrukke berus wat nie altyd vir die leser tot sinmakende patrone saamgedig word nie – alhoewel die digter in die genoemde onderhoud juis wys op die rol van patrone en getalle.

Na patrone word daar heel dikwels in die bundel verwys, soos in die baie bevredigende “Afkopengele in die web” (p.42):

Die vrou

weet nie waar sy hoort nie

nie in die opgerolde duisendpoot

of in hierdie groot mandelbrot nie

Sy is ’n boompie in ’n blomkool se blomkoolboompie,

inderdaad is sy

’n snipperpers knip-en-plak vers

Plek van hiperbool en gebro/ke harte,

iewers is daar ’n nommer, ’n algoritme

vir raak en lukraak

die patrone van donker materie

die koningskandelare bloedrooi

in die veld ná die brand

vuurlelies in die sand

almal palimpses in ’n god se hand

Soms is roekeloosheid ’n noukeurige, toegespitste toewyding

ons plaas maar altyd ons gebede in die krake van ’n muur

; ; ;

is luidkeels op eilandjies van stilte ingeboek

Die “patrone van donker materie” waarna verwys word, tesame met die koningskandelare en vuurlelies, is almal herskryfbare teks in ʼn goddelike hand, oftewel, die natuur is die materiaal in ʼn groter sinmaakproses. Dit skakel weer met die bewussyn van ʼn groter orde in die heelal in die gedig “Luisteraars” (p.41) wat sy aan die bekende Elizabeth Klarer opdra:

Al tik jy deurmekaar is die orde altyd outomaties daar:

sneeu steen en sfeer grot en huis tuig en skrif

rots en tekening die eland en die ewening,

so is ons holografie in die vakuum se gedagte.

Selakante swem in die wolke, daar is ’n woestynvis

teen die rotswand van die ruimte – spieël en raaisel

versmelt in swart glas, hiërogliewe op Rosettas

Dit is met die lees van hierdie reëls dat die bundeltitel uiteindelik wel begin sin maak: Die heelal is die draer van ʼn groter orde wat op kosmiese skaal duidelik is, dus ʼn soort kennis wat die heelal letterlik op sy vingerpunte het.

Bohnen verduidelik ook in die onderhoud dat getalle, wiskunde en numerologie ʼn groot rol in haar poësie speel. Sy sê hieroor: “[As] wiskunde wel die poësie van die heelal is, word dit deur my inderdaad gevoel voordat dit verstaan word, à la T.S. Eliot!” Die neerslag en deurdigting van hierdie gedagtes in die bundel is vir my egter nog te veel van ʼn toevallig bygehaalde nagedagte. En soms raak die woordspel met konsepte uit die mistiek, mitologie en wetenskap darem net te veel van bolangse raaisels, soos juis in die tiende gedig in die reeks “spartikels”:

yskristalle plagieer mistieke getalle,

elke doudruppel is ’n kristalbal

ons is hipoteses in die heelal –

spartelende partikels,

duisendpootpixels

glaukus in ’n poel van lig,

ikarvis;

die weerlig vat dooierus

Hierdie gedig is moontlik een van dié waarin daar slegs ʼn spel met heen-en-weer-verwysings op tekstuele vlak gespeel word, sonder dat die leser regtig in staat is om by die koherente oomblik uit te kom. In tekslinguistiese terme is dit dalk ‘n geval van oppervlakkige kohesie, maar sonder die dieperliggende koherensie.

Die bundel is keurig uitgegee met ʼn omslagontwerp wat moontlik gesien kan word as ʼn grafiese interpretasie van konsepte in die moderne kosmologie.

Op die vingerpunte van die heelal is ʼn verdienstelike en baie genietbare bundel, maar met die voorwaarde dat die leser sy/haar vinger op die hartslag daarvan hou.

 

Resensie: Indeks (Joan Hambidge)

Tuesday, October 11th, 2016

Indeks

 

Indeks deur Joan Hambidge. (Human & Rousseau, 2016, ISBN: 978-0-7981-7296-7, Formaat: Sagteband, 129p.)

Resensent: dr Amanda Lourens

I

Indeks is Joan Hambidge se ses-en-twintigste bundel, en daarmee is haar status as die mees produktiewe digter in die Afrikaanse literêre wêreld stellig onbetwisbaar. Met hierdie feit in gedagte, is ’n leser se eerste vraag oor Indeks moontlik die volgende: Wat het ’n digter nog te sê ná soveel poëtiese produksie, en dit binne die bestek van ’n relatief kort 31 jaar?

Die leser se vrees dat Indeks dalk net ’n her-digting van bekende temas in die Hambidge-oeuvre mag wees en dat die digter se werk dalk besig is om te verval in ’n té gemaklike, selfs meganiese produksieproses, word egter vinnig besweer. Reeds die eerste paar gedigte in die bundel val op vanweë die tegniese afronding, die inhoudelike digtheid en die emosionele reikwydte daarvan. Alhoewel die nuwe bundel op ’n manier ’n bevestiging en terselfdertyd ’n heroorweging is van temas waaroor Hambidge reeds herhaaldelik gedig het – onder meer verlies op verskillende vlakke, die pyn van die liefde, nabye familie, die reismotief, populêre ikone en ars poëtikale besinning – neem Indeks die oeuvre na ’n nuwe harmonie wat in sowel die digterlike psige as die tegniek waarneembaar is. Wanneer die bundel neergesit word, is die leser deeglik bewus van die fyn balans wat op alle vlakke sigbaar is – dit is poësie wat van ’n ryk voedingsbodem van intertekste en ervarings getuig, maar wat terselfdertyd gewis nie ontoeganklik is nie.

Om die bundel teen die agtergrond van die hele oeuvre te lees, is ’n taak wat nie binne die bestek van ’n resensie afgehandel kan word nie. Ten spyte van die talle bewuste spore en tekens van die digter se vroeëre werk (reeds die eerste gedig verwys eksplisiet na vorige bundels), sal dit dalk vir voornemende lesers meer waardevol wees indien hierdie resensie eerder die tekens van “vernuwing” daarin probeer naspeur. Terselfdertyd is dit dalk eerder ’n taak vir ’n nagraadse student om die heen-en-weer-gesprek binne die oeuvre te probeer karteer en sistematiseer.

Die bundel spreek naamlik duidelik van ’n fase in die digter se lewe waar daar besin word oor hede en verlede; daar word op ’n manier bestek opgeneem en na ewewig gesoek. In “Drie maniere om die Andes te beleef” (p.19) orden die spreker die verskillende fases in haar lewe aan die hand van haar belewenis van die bergreeks: eers as jongmens vir wie die berg ’n gedagtebeeld aan die hand van ander tekste is, dan as toeris wie se belewenis minder persoonlik is, en daarna as nadenkende volwassene vir wie die berg ’n metafoor word vir die skeiding tussen die driftige jeugjare en middeljarige tempering:

Die Andes-gebergte nou die breuk

vir dit wat heers in my gemoed:

eens die najaag van liefde se belewing;

nou die sobere soeke na heling.

Dit is dan hierdie “sobere soeke na heling” wat die vernaamste dryfkrag in die bundel is. Ek wonder ook of die laaste van die vier motto’s (naamlik dié van Ibsen oor selfaflegging: “To be oneself is: to slay oneself”) nie ook met hierdie soeke verband hou nie: heling en sluiting noodsaak ook verlies, veral van dié dinge wat in die pad van heling staan. En in “Nadraai” (p.125) in die laaste afdeling wat op verskillende vlakke ’n bestekopname van Pablo Neruda en sy werk is, staan die wens om sluiting en harmonie sentraal. Alhoewel dit in die betrokke gedig veral handel oor die saamsnoer van twee wêrelde, onder meer deur die bemiddeling van vertaling, is die groter implikasies daarvan nie te ontken nie – Neruda se eie sterwe bring ook sluiting:

Nederig versoek jy dat jou kamerade

jou op die Isla Negra moet begrawe,

daar waar die aarde en die hemel sluit.

Om twee wêrelde, twee kontinente soomloos

saam te snoer: ’n Spaanse ode in Afrikaans.

 “Ars poetica” (p.11) is die openingsgedig. En ten spyte van die moontlike vooroordeel wat ’n leser teen so ’n redelik oorgebruikte titel kan hê, is dit ’n helder en eerlike aftasting van die eie digtersloopbaan. So, vertel die digter, was sy eens meester van verskeie digvorme en tegnieke wat moeiteloos uit haar pen gevloei het, maar was sy die slagoffer van ’n onvermoë om op onbevange wyse na die self te kyk:

Daar was ’n tyd

toe ek sonder slag of stoot

’n versreël of inval

netjies kon ómtower in ’n aanklag

of ’n neulerige neuriesang.

Dit was die tyd van palinodes

en verlore simbole

met matelose selfbedrog.

Ironies genoeg word juis hierdie verklaring in besonder knap versreëls verwoord. Die digter se belewenis van die skeppingsproses in die hede word vervolgens verwoord aan die hand van die gedig se motto “Thy words are like a cloud of winged snakes” (Shelley):

Nou is dit helaas beurtkrag

met die digterlike proses.

’n Gedig word onderbreek:

bly broeiend ónafgerond,

nes reptieleiers in ’n rivierbedding

waar mummelende mulvisse

eens vertoef het néffens muisvalke.

Dié gedwonge beelde stip alreeds

die onmag en frustrasie woordeloos aan.

Miskien, miskien sal my beelde

weer eendag helder skyn.

Soos ’n wolk van gevlerkte slange?

Weer eens val die knap versbou en vindingryke beelde (allermins “gedwonge”) op, sodat die leser moet wonder of die digter nie hier met ’n slinkse spel besig is nie – om ’n versugting oor verlore digterlike vaardighede in sulke vaardige reëls te verwoord, moet immers ’n vorm van bedrog wees? (Die leser vermoed later dieselfde soort ironiese spel in “Jamais”, p.102-103, met die lees van die versugting “o waar sal my gedig vandaan kom?” aan die einde van ’n knap gedig.)

Die reismotief en die digkuns word in die vaardig verwoorde “Die anatomie van reis” (p.17) aan mekaar geskakel, en met die titel in verband gebring:

Elke digter het ’n indeks,

’n plattegrond of kaart.

In elke stad is daar ’n katedraal,

’n kerkhof, bushaltes, soms ’n hawe,

hotelle – en ander merkers

vir die besoeker voor ’n monument

van ’n vryheidsvegter, insurgent

of ter-dood-veroordeelde, bekend.

Elke bundel het ’n inhoudsopgawe

met verse oor die liefde of die dood.

Selfs ongeskryfde verse, ’n stilpunt,

word die subte of die ondergrond

wat die reisiger nog mag neem;

vereers wagtend by ’n bushalte

of taxihalte op pad na ’n baken,

immer op pad tussen hier én daar.

Partykeer is die reis vooruit beplan

met koepons oorhandig aan ’n gids;

telkemale is dit die onverwagse koers

van Frost se the road less traveled

of ’n indraai na ’n holte vir die voet,

’n klein boetiekhotel of ’n kroeg

wat iets oopmaak, openbaar:

Mi gruwelt dat ic leve? Of eerder

Dank God ek is uiteindelik hier?

“Indeks” volgens die HAT is onder meer “’n opgawe van die inhoud van iets, ook die alfabetiese lys name/onderwerpe ens. agter in ’n boek met die nommers van die bladsye waar dit gevind kan word; register”. Indeks hier is veral die gids wat toegang gee en die roete aandui, soos ’n inhoudsopgawe ten opsigte van die teks; dus die gelykstelling aan ’n “plattegrond” of “kaart”. Vir elke digter is daar dus ’n kaart tot sy/haar digkuns: die fyn ingestelde leser kan die roete deur die oeuvre heen volg en die belangrike merkers oplet, en algaande daarmee vertroud raak. Maar terselfdertyd is daar ’n waarskuwing ingebou vir die lesers wat mag reken dat die digterlike roete geen verrassings meer sal oplewer nie. Soos werklike reise nie altyd deur planmatigheid beheer word nie, is dit die onbeplande koersafwyking wat soms tot die grootste winste lei, soos hier in die slot verwoord word: naas die wete van die ondraaglikheid van die lewe, is daar dankbaarheid by die moment van aankoms: “Dank God ek is uiteindelik hier”.

II

Op die stilistiese vlak word veral die eerste twee afdelings in die bundel (die ongemerkte eerste asook “Reiskaart: Tarjeta Embarque”) gekenmerk deur ’n nugter trant wat terselfdertyd ironies gelaai is, en vir van die beste verse in die bundel sorg.

Die twee gedigte onder die titel “Argentynse blik”(pp.22-23) werk onder meer met die kontras tussen hede en verlede – nie net ten opsigte van die manier waarop reise onderneem word nie, maar ook wat die digterlike werkswyse betref”. Waar reise (en by implikasie digwerk) vantevore sonder veel beplanning en voorbehoude onderneem is, is die digter in die hede meer nougeset; alles word “haarfyn beplan” en die reisgedigte self is die gevolg van ’n bewuste maakproses na aanleiding van versamelde indrukke. Tog kom die korrektief op hierdie versigtige proses (en gevolglik futlose gedig) in die slot, en wel in die stem van Johann de Lange, wanneer dié vra vir ’n gedig “as kladpapier wat die hele Iguassu / met een diep intrek van asem omskep tot ’n waterwoestyn”. In die tweede en ewe vaardige “Épater la bourgeoisie”, word die nagevolge van jeugdige misstappe teenoor die lewenslange worsteling met die ouerfiguur gestel, en daar word gevra waarom eersgenoemde soms ’n veel groter indruk maak as die durende pyn en poëtikale produksie wat die gevolg van laasgenoemde is:

Waarom, wonder ek, word ons onthou om die onbedoelde,

die jeugvergrype, die San Andreas-fout

van die lyf, die onvergeeflike vloek-in-die-vers

eerder as die onverwoordbare pyn wat voortslinger

in gebreekte sonnet na gebreekte sonnet?

Die “lykdigte” in die derde afdeling – na aanleiding van die dood van uiteenlopende figure soos die bejaarde digter T.T. Cloete en die jong akteur Heath Ledger – is oor die algemeen minder treffend as die gedigte in die eerste twee afdelings, alhoewel die openingsreël van “Inge Lotz” (p.27) die spesifieke soort verwonding in die afwesigheid van afsluiting haarfyn verwoord: “Tyd vermenigvuldig alle wonde in die indeks van verdriet.” Die woord indeks word dan hier ook in een van sy ander betekenismoontlikhede gebruik, naamlik ’n “verhouding afgelei van ’n reeks opnames, gebruik as aanduiding van ‘n bepaalde toestand; verhouding (of die formule of syfer wat ‘n sodanige verhouding weergee) van een meetbare tot ’n ander, moeiliker meetbare waarde” (vergelyk die WAT).

Die vierde afdeling (“Inventaris”) is ook nie so onthoubaar nie, alhoewel die laaste vyf reëls van “Silwervis” (p.38) ’n uiters vaardig berymde gesprek met die Eybers-teks is:

Eybers meen dat angs

tydelik kwel; dis berou

waaroor jy en ek

ewigdurend

kajuitraad hou.

Die vyfde afdeling (“Vinger in die lug”) aktiveer die betekenis van “indeks” as die wys- of voorvinger, en dit is ook in hierdie afdeling wat Hambidge se poëtiese aanvoeling sigbaar raak wanneer sy die bekende spel met “die weduwee Viljee / in swart geklee” verder voer. Sy wys die tipiese stilistiese kenmerke (en hebbelikhede) van verskeie bekende Afrikaanse digters vernuftig uit, soos byvoorbeeld in die volgende pastiche van Cloete (p.52):

Die honde en die weduwee

in jukstaposisie

met die see

.

twee honde een weduwee

die hoek van my oog in presisie

’n wiskundige boog.

In die sewende afdeling (“Tweede indeks”) is daar gedigte oor bekende vrouefigure uit die wêrelde van literatuur, filosofie en kuns, onder meer Simone de Beauvoir wie se bekende aanhaling “Jy word nie ’n vrou gebore nie; jy word een gemaak”, ironies saamklink wanneer daar oor die verwonding en aftakeling van onder meer Amy Winehouse en Ingrid Jonker gedig word. Veral die gedig oor Ingrid Jonker (p.75) – met sy verwysings na die onlangs verskene Vlam in die sneeu ­– bied ’n veel meer komplekse perspektief op Jonker as wat normaalweg gevind word, en word op ’n manier ’n vingerwysing na die Afrikaanse sisteem wat dikwels van die gestorwe digter ’n kommoditeit maak.

Die reismotief en die verband met die digkuns kom veral na vore in die negende afdeling “Woordelikse register”, met sterk gedigte soos “Jamais”, “Tyd” en “Andes” waarin die Suid-Amerikaanse reiservaring sterk figureer. “Jamais” werk met ’n element van vervreemding (na aanleiding van die term jamais vu wat op ’n ervaring van nie-herkenning van bekende dinge dui – ’n soort teenpool van deja vu), maar wat terselfdertyd tot die ontdekking van die nuwe in die bekende lei. In hierdie gedig vertel die digter hoe sy haar na die bestaande literatuur wend om inspirasie vir haar eie gedigte te vind – onder meer lees sy gedigte oor reise na eksotiese bestemmings, byna in ’n soort ironiese ontkenning van haar eie bekende reisgedigte. Die onverwagte insig meld hom aan in die gedaante van eenvoudige mense wie se lewens deur ’n wete van die groter harmonie van dinge bepaal word:

[…]

My drome pleeg winkeldiefstal

in al die bloemlesings oor reise

.

na verre, eksotiese plekke

’n sabbatsreis ver met name

.

soos Puerto Montt en Isla Negra

waar houthakkers en waterdraers

.

leef met ’n lewe vol nou

en geboorte en dood die siklus

.

wat alles voltooi en nooit

is daar verwyt oor wat kon wees

.

of verspeelde kanse of onmin

oor ’n verlore liefde of verbintenis

.

nooit nooit nooit onvergenoegd

nee tevree met die siesta

[…]

Aan die einde, nadat verskillende poëtikale invloede verwerk en mee in gesprek getree is, is daar ’n laaste afdeling met ’n reeks van twaalf gedigte oor Pablo Neruda en sy werk. In die “Neruda: Identikit” (p.124) word die Chileense digter gehuldig as die ware digterlike meester:

Dit is alles so:

in jou komplekse lewe

’n afgeskilde ui,

dat jy, Pablo Neruda,

gebore Neftalí Ricardo Reyes Basoalto,

die President is en bly

van hierdie okkupasie

genaamd, die Poësie.

Die aard van die digterlike lewe word veral verken, en dit is veral die verwonding van die digter – hetsy deur verlatenheid, teleurstelling of rugstekers – wat sentraal geplaas word.

Die bestekopname in hierdie afdeling bly egter nie vassteek in die gegewe van pyn nie, en in “El Cóndor Pasa”(p.123) word ook Indeks se basiese stellingname oor selfaflegging en die harmonie van dinge via Neruda verwoord:

Klim op, hoër na selfloosheid

– na stilte volledig.

Die kosmiese plan hier aanwesig,

argetipies in die roerlose rotse afgedruk – ontdaan

van nuttelose oordaad of menslike verdelging.

So ook die reis na die self: ’n smagting

na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.

Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.

Uiteindelik is Indeks dan die neerslag van die volwasse digterlike belewenis, en dit is die belangrikste wins van die bundel: om te sien hoe daar teruggekyk word op vorige gesprekke en reise, en die vernaamste reis – na die self – nou onderneem word. Die indeks-gegewe word geskakeerd verken en aangebied, en uiteindelik word van die leser verwag om self ’n roetekaart tot die bundel te teken en op die proef te stel.

Indeks is gewis meer as die moeite werd en behoort sy plek in die Hambidge-oeuvre in te neem as ’n bundel wat ’n goeie en selfs verrassende leeservaring waarborg.

*

Resensie: Rangeer (Clinton V. du Plessis)

Monday, May 6th, 2013

 

Clinton V. du Plessis. Rangeer. Ama-coloured Slowguns, 2013. (ISBN 978-0-620-55604-0, Sagteband, 142 pp. Prys R150, Ama-coloured Slowguns, 2013.

 Resensent: Dr Amanda Lourens

I

Rangeer is die sewende bundel uit die pen van Du Plessis, wie se debuut in 1984 by Perskor verskyn. (Sy debuut is dan ook die enigste van sy bundels wat by ’n hoofstroomuitgewer verskyn het.) Die digter se vorige bundel, talk show hosts & reality shows (wat in 2009 in beperkte oplaag verskyn het) is in Rangeer opgeneem en word vir die doeleindes van die resensie as deel van die bundel beskou.

Die jongste bundel bewys dat ’n selfpublikasie nie noodwendig ’n afgeskeepte produk met ’n vaal of sentimentele voorblad hoef te wees nie – Rangeer se omslag sien keurig daar uit met ’n aanskoulike foto van ’n treintrok en lokomotief behorende tot twee verskillende treine.  In die ruimte tussen die twee treine is ’n spoorweggeboutjie sigbaar, wat die gedagte van die sogenaamde liminale – die grens- of tussengebied – by die leser oproep. Dit is wel jammer dat kleiner redaksionele foute – wat maklik deur ’n bedrewe redigeerder reggestel sou kon word – deur die selfpublikasieproses geglip het: samestellings wat as twee woorde geskryf word (byvoorbeeld “minibus taxi’s” p.64, “speelgoed rewolwer” p.67 en “sonneblomolie kanne” p.69), aanhalings wat in kursief én tussen aanhalingstekens aangebied word, asook titels wat nie tipografies van die res van die teks onderskei word nie (p.25). Enkele tik- en kleiner tipografiese foute kom ook voor: ’n ontbrekende spasie na die dubbelpunt (p.43) en “hempde” (p.17).

Volgens die WAT beteken die werkwoord “rangeer” om “van een spoor na ‘n ander (te) beweeg of beweeg (te) word ten einde treinverkeer te laat vloei; om treinwaens in ‘n gewenste volgorde op te stel”. Maar ook het die woord die betekenis van “skuif of uitskuif in ‘n poging om van iemand of iets ontslae te raak of om iemand of iets minderwaardig te maak of ondergeskik te stel”. Hierdie twee betekenisse open dus verskillende moontlikhede vir die lesing van die bundel.  Eerstens word die spoorwegtema geaktiveer, wat aansluit by die temas van die gesprek met die gestorwe vader (’n spoorwegman) en die reis, maar ook spoedig geskakel word aan die gedagte van om uitgeskuif te word. 

Die reistema word aanvanklik aangebied as herinneringe aan fisiese treinreise.  In “Vrypas” (pp.10-12) vertel die spreker hoe hy en sy gesin in derde klas reis en hulle dus op die rand van die samelewing bevind, oftewel letterlik gerangeer is na ’n posisie van minderwaardigheid:

tot by die perron se gatkant moes ons loop,

 amper heel onder die dak uit, 

op die rand, weg soos lastige onkruid, 

om te kon mag sit, op die gemerkte 

nie-blanke banke

 

 Gou word dit duidelik dat dit hier oor veel meer gaan as die fisiese reis – die spreker is in werklikheid besig met ’n terugreis na die eie verlede wanneer hy hom tot sy gestorwe vader rig, aan wie hy die bundel opdra:

en nou maak ek vir jou ’n boek

probeer met woorde op jou spoor terugloop 

onthou jy nog die episode met die Groen Ghoen?

 

Uit bostaande aanhaling blyk dit ook dat die digter poog om ervarings van die verlede deur middel van taal te orden en op dié manier ’n psigiese reis na ’n posisie van ekwilibrium te onderneem, soos dit in “Uittog” (p.69) gesuggereer word: 

almal reis: 

met rolle ogiesdraad, yskas en bruin soetkys, 

goedkoop verf 

bedrukte hoenders in ’n hok vir die werf,

matrasse  en leë sonneblomolie kanne (sic)

om water op die kop mee aan te dra

swaar leer die lewe jou dié delikate balanseer

 

 Die tweede betekenismoontlikheid van “rangeer”  word, soos hierbo aangedui, nou aan die reistema geskakel.  Tog verdien die politieke tema van die rangering van bepaalde groepe in die apartheidsverlede ook aandag tydens ’n lesing van die bundel.  Luc Renders maak in ’n 1998-artikel in Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans (Cinton V. du Plessis 2008) die stelling dat Du Plessis se eerste bundels, alhoewel hulle ontstaan het in ’n tyd toe die stryd teen apartheid op sy hewigste was, nie as polities gereken kan word nie. Ook meen Renders dat Du Plessis “hom deurgaans afsydig” hou van die stryd teen apartheid en die ontwikkeling van selftrots in die bruin gemeenskap”. Alhoewel dit nooit ’n dominante tema raak nie, gaan ’n hele paar gedigte in Rangeer  wel om met die gerangeerde, oftewel grensposisie van die bruin persoon in die apartheidsjare, soos hierbo met verwysing na “Vrypas” gesien is. 

Die aangrypende en knap geskrewe “Smeul” (p.13) handel oor die gesin se stryd teen armoede tydens die apartheidsjare, en veral die opofferings wat die ouers moes maak.  Tog word daar nie vasgesteek in ’n uitsiglose uitbeelding van onderdrukking nie, en word ’n reis óór die grens tussen die wit en bruin wêreld, wat in der waarheid ’n omkeer van die institusionele rangeerhandelinge deur die  apartheidsbestel is, die boustof van “Die Groen Ghoen” (pp.24-5). Hierin vertel die digter die verhaal van sy pa se wit werkgewer wat die bekende skrywer P.H. Nortje se “Die groen ghoen” by die dorpsbiblioteek uitgeneem en aan die seun geleen het.  Sodoende het “dié boek […] gereis / uit sy bleek, bang, benoude bestaan / in ’n blanke, blonde, blou-oog biblioteek / tot in die vaal lokasies van ’n kind / se wilde verbeelding, grense oorgesteek, / hom heel tuis in die veronderstelde vreemde bevind …”.  Op hierdie manier word die persoonlike ook die politieke, soos blyk uit die refrein wat lui: “één man kan ’n verskil maak”. Terselfdertyd bied die gedig ’n blik op ’n kreatiewe liminale ruimte duskant die begrensinge van die apartheidsbestel, wat  ook ter sprake kom in ’n gedig soos “Amsterdam” (pp.32-3).  Die liminale raak op talle plekke in die bundel sigbaar, en ’n meer omvangryke bespreking sou met vrug kon wys op die digter se bewuswees van die kreatiewe potensiaal van die grensgebiede van menswees.

Die digter kyk wyer as die persoonlike geskiedenis en beeld ook die lot van ander misdeeldes in die tradisioneel verdeelde Suid-Afrikaanse samelewing uit,  byvoorbeeld in “Surplus” (p.77).  Die digter kyk fyn en raak die kwessie van die magteloosheid van die werklose man aan: “’n man sonder werk / is ’n arend sonder vlerk”, ’n beeld wat, ten spyte daarvan dat dit nie soseer vernuwend is nie, tog sekuur is in die blootlegging van ’n brandende sosiale kwessie.  Hier herinner Du Plessis aan Karin Brynard wat in Onse Vaders (2012) – volgens Kerneels Breytenbach (2012)“die beste betrokke roman in Afrikaans sedert John Miles se Kroniek uit die doofpot ” – via die karakter van Maaike die magteloosheid van mans as gevolg van die apartheidserfenis as een van die kernprobleme van die Suid-Afrikaanse samelewing blootlê (“Die wond van armoe … eeuen se geweld. Mensen van hen eer beroof. Tot hulle sélf geloven … glo … dat ze minderwaardig zijn.  Die frustrasie, die woede wat dit wek”).

Rangeer vertoon ’n sterk bewustheid van bundeleenheid. Die bundel bestaan uit vyf afdelings wat telkens ’n aspek van die spoorweg- of reistema as titel kies – “Spore”, “Haltes”, “Kruisings”, “Koffers” en “Seinwagter”. Eenheid word voorts bewerkstellig deur die Bruce Springsteen-aanhaling wat telkens aan die begin van elke afdeling aangebied word. 

Die afdelings is egter nie almal van dieselfde gehalte nie.  “Koffers”  bevat enkele knap verse, byvoorbeeld “Room with a view” (p.72), oor die moeder se verhuising na die aftreeoord.  Tegnies is Du Plessis hier op sy beste en bied hy ’n gestroopte vers wat juis deur die afwesigheid van berekende “tegniek” bekoor.  “Seinwagter” bevat egter ’n aantal verse wat nog afronding nodig het, waaronder “Teenspraak” (p.89) wat deur rymdwang ontsier word, “A defence of poetry” (p.93) wat as besinning oor die digterskap in geykte opvattings vasval asook “Stort” (p.92) en “Blye boodskap” (p. 96) wat beide swaar dra aan clichés.

II

Verskeie stemme in die literêre kritiek het alreeds verwys na Clinton V. du Plessis as ’n randfiguur binne die Afrikaanse literêre sisteem. Du Plessis self (2008) sê oor sy posisie op die marge: “Dis exciting op die rand. Jy kan van buite die sterkste stellings maak sonder toegewings aan enigiemand. My werk word grootliks geïgnoreer deur die letterkundige establishment. Dit is vir my ’n bewys dat ek my eie ding doen en nie inpas binne ’n bepaalde raamwerk nie.”

Die leser sou die fout kon maak om te dink dat Du Plessis ’n digkuns beoefen wat die sogenaamde hoofstroom heeltemal negeer, maar dit is nie die geval nie. Du Plessis se digkuns gee enersyds blyke van ’n vereenselwiging met ’n alternatiewe tradisie, soos blyk uit ’n gedig soos “Last Request” (p.91) waarin hy hom skaar by ’n tradisie van bruin digters wie se gebruik van Afrikaans “skerp is soos ’n oop mes in die gatsak”.  (Hierdie beeld  bewys dan ook dat Du Plessis op sy beste dig wanneer hy sy beelde letterlik op straat gaan haal.)  Andersyds is Du Plessis se werk desondanks sy aandrang op ’n randposisie ook ’n bewuste omgang met die hoofstroomtradisie, soms in die gedaante van ’n besinning oor die hoofstroom (“Digters incorporated”, pp.105-6), en soms met homself in die posisie van die “bruin basterbroer-“voyeur wat die “room van die afrikaanse kulturatti” beloer, maar uiteindelik “’n kamer […]deel  met ’n groot bekroonde digter” (“Twee nagte in Stellenbosch”, p.115). 

Volop intertekstuele verwysings, soms meer subtiel (“In stede”, pp.48-9) en soms meer direk en berekend (“Tarkastad”, pp.42-3) bewys ook dat Du Plessis wel deeglik van die Afrikaanse tradisie kennis neem en in sy gedigte verreken.  Hierin lê waarskynlik ’n belangrike les vir aspirant-digters wat verlei word om hulle op uitdagende wyse as anti-hoofstroom te tipeer, soms dalk juis vanweë ’n gebrekkige kennis van die hoofstroom:  Die digter wat die tradisie wil uitdaag, moet dit deeglik ken, as’t ware geïnternaliseer het.  Dít het Du Plessis kennelik gedoen, soos blyk uit die talle terloopse verwysings na die tradisie van die Afrikaanse digkuns, ouer en eietyds. 

III

Daar is reeds verwys na Du Plessis se sosiale kritiek wat spesifiek op apartheid en die gevolge daarvan fokus.  Alhoewel ’n gedig soos “Met woorde soos met bomme” (p. 110-111) met sy kaalvuis-beskrywing van Antjie Krog se optrede op Stellenbosch duidelik ’n kritiese uitbeelding van die Afrikaanse literêre “hoofstroomgemeenskap” ten doel het, is Du Plessis as sosiale kommentator in hierdie gedig nié op sy beste nie. Die gedig maak naamlik staat op stereotipering – opgedis deur die digter en met die gevaar om sonder bevraagtekening deur die lesers aanvaar te word – sodat die boodskap voorspelbaar en futloos raak. Nietemin sorg dit met vindingryke woordspel (wat weliswaar kennis van die tradisie veronderstel) vir ’n paar vermaaklike oomblikke: “sy het unladyannelike, voortgefok / soos ’n (k)aktivis van formaat / voortgevers […]”. 

Dit is waarskynlik ’n belangrike gebrek in Rangeer – die vassteek in die stereotipe en die onvermoë om werklik deur die oppervlakkige waarneming  te breek met ’n insig wat die leser in sy of haar spore laat vassteek.  ’n Ander problematiese aspek word gevind op die vlak van die retoriese struktuur van die individuele gedigte.  Die digter maak dikwels gebruik van ’n struktuur waar daar merendeels ’n raak beskrywing van ’n stuk realiteit aangebied word en wat dan gevolg word deur ’n slot wat kennelik streef om ’n “verdieping” aan te bied.  Ongelukkig is dit juis hierdie slotte wat dikwels teleurstel omdat daar op ’n cliché gesteun word of omdat die verdieping geforseerd aandoen – byvoorbeeld “Harlekyn” (pp.18-9), “Kookhuis” (pp.31) , “Blanco, 2012, ’n besoek” (pp.40-10), “Kuier” (pp.82-3) en “In stede”(p.48-9).  In veral laasgenoemde gedig word ’n gegewe met heelwat potensiaal om die moderne stadsbestaan te kritiseer, ongelukkig bederf deur die cliché waarmee  die goed gekonsipieerde metafore afgesluit word: “in stede is daar nie liefde nie; / slaap die mens nooit nie, /mier hy – / hoop vir hoop, onophoudelik op, /duif hy – /sonder kompas, doelloos heen en weer.”  Die digter kán hierop verbeter.  Tog is daar dié gedigte waar Du Plessis hierdie tegniek inspan en dit laat werk – soos die slot van “Route 69” (p.55): “sy is almal se halfweghalte, almal se stasie, / die beste hoer reis lig, sonder bagasie”.  Ook die slot van “Smalls” (pp. 65-6) ontkom aan die gevaar van ’n voorspelbare of afgewaterde slot.  

Gedigte soos “’n Nota aan Breyten” (p. 124) en “Die rewolusie begin op die plase” (p.126) slaag as sosiale kommentaar deurdat van die probleme van die eietydse Suid-Afrika – ook plaasmoorde – sonder verskonings as realiteit aangebied word, maar sonder dat enige party bloot eensydig as sondebok verklaar word.  ’n Skerpsinnige blik op die radikaal veranderde aard van menslike dryfvere word aangebied in “(Nie) almal wil ’n huisie by die see hê (nie)”, met die bekende Koos Kombuis-teks as ’n ironies gelade versugting in die agtergrond. In hierdie gedig word die eietydse materialistiese vervlakking en ekshibisionistiese fantasieë in die samelewing aan die kaak gestel: die leser verkry insig in elke Jap Rap en sy maat se begeerte om “[…] op ’n realityshow [te] wees”. 

Van Du Plessis se beste gedigte is inderdaad dié wat ’n problematiserende blik op die materialistiese samelewing verskaf – onder meer “Haard” (p.26) en “Kaapstad” (pp. 38-9). ’n Ander verdienstelike perspektief word gevind in die ars poetikale gedigte waar vanuit ’n seksueel-gelade gesigspunt oor die digkuns besin word (vergelyk “Maseru”, pp. 34-5 en “You can leave your hat on”, p.90).

Met Rangeer kry Du Plessis, ten spyte van die gebreke wat uitgewys is, dit nietemin reg om ’n bundel aan te bied wat wel op ’n posisie in die Afrikaanse sisteem kan aanspraak maak, al sou die digter dalk verkies om nie hierdie posisie in te neem nie. Dit is ook die soort bundel wat geniet sal word deur lesers wat ’n verteerbare soort poësie verkies, maar wat terselfdertyd nie deur “mooi” of soetsappige gedigte geteister wil word nie.  ’n Mens sou hoop dat aspirant-digters wat hulle eie werk wil uitgee, van Du Plessis se verdienstelike verse sal kennis neem en na daardie peil sal streef. Terselfdertyd beklemtoon die minder afgeronde verse in Rangeer dat geslypte gedigte ’n nie-onderhandelbare vereiste vir publikasie is. Gehalte is en bly die maatstaf, ook buite die sisteem.

Bronne

Breytenback, Kerneels.  2012.  Onse vaders deur Karin Brynard: ’n nuwe aangesig vir betrokke literatuur.  LitNet Akademies-resensie-essay [Internet]. Beskikbaar: http://www.litnet.co.za/Article/onse-vaders.  [2012, April 5].

Clinton V. du Plessis (1963 – ).  2008. LitNet [Internet].

Beskikbaar:http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=32852&cause_id=1270    [2012, April 23].

 

 Resensie geborg deur