Posts Tagged ‘resensies deur Bernard Odendaal’

Diorama

Monday, October 18th, 2010

Diorama. Deur Johann Lodewyk Marais. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-356-2. Prys: R140. 87 bladsye. Sagteband.

 

Diorama

Diorama

 

Met Diorama lewer Marais ‘n waardige voortbouing op sy vorige digwerk.

Temas en vormlike en stilistiese fasette bekend uit veral die vorige drie bundels van Marais, oorheers. Veral sy reputasie as voorste natuur- en omgewingsbesorgde digter in Afrikaans word versterk.

Soos ook in die uitgewersbrief aangedui, brei Marais met die fauna- en floraverse in hierdie sewende bundel van hom veral uit op sy “voëlboek” uit 2002, Aves - hoewel sulke gedigte ook in sy ander bundels ‘n belangrike rol gespeel het. ‘n Soort versmuseum van spesies word algaande opgebou. Of, lewendiger gesien, en soos dit in deel III van die openingsgedig lui:

 

 

 

Ek wil in my gedig ‘n wildtuin skep

en jou uitnooi om besoek te kom bring

aan sy goed ingerigte boskampe

en wildernisgebiede langs waters

en by koeltebome waar daar rus is.

Gedigte oor soogdiere is in afdeling II van die bundel versamel, voëlgedigte in afdeling III en gedigte oor inheemse plante in afdeling IV. 

Maar dit gaan nie net oor die diere en plante self nie. Dis ook, en miskien veral, die mens se verhouding en bedreigende omgaan met hierdie dinge wat dioramies belig word. (Luidens die HAT is ‘n diorama “‘n visuele voorstelling waardeur ‘n skildering deur deurvallende lig lewendig na vore kom”.)

Die genoemde sentrale bundelafdelings II-IV word byvoorbeeld voorafgegaan deur ‘n soort natuurbewaringskundige én digterlike oriëntering in afdeling I. ‘n Mens kan jou verbeel dat dit dié twee, die digter en die natuurbewaringskundige, is wat in “Die spore van Laetoli” saam die res van die bundel in stap:

Ons twee, die aasmense, is die eerstes

wat in die skaduwee van Sadiman

se aswolk tussen die fluitdorings deur

na die opkomende son toe kan stap

met ons twee rye spore weggesak

op die pad na dié wat voor ons wegkoes:

haas, tarentaal, olifant en giraf.

Soms word die (lots-)verbondenheid tussen die mens en die ander skeppingsdinge sterk aangevoel. Één voorbeeld:

Rooijakkals

Canis mesomelas

 

‘n Wilde, ongetemde roep

sny skerp deur die klowe

en sterf weg in die nag.

Iets tintel teen my rug

asof daar hare op my groei

en regop sou moes staan.

          Na Alda Orton

Ook sê sulke verse dikwels meer van die mens as van die natuurdinge wat uitgebeeld word. Dringend word die verhulde aanklag deur die vormgewing in die volgende gedig:

Wildehond

Lycaon pictus

 

Die wildehond gee nie sy woord nie.

 

Die wildehond toon nie berou nie.

 

Die wildehond het nie skaamte nie.

 

Die wildehond kan nie verstaan nie.

 

Die wildehond ken nie sy plek nie.

 

Die wildehond sal jou nie groet nie.

 

Die wildehond is nie ‘n vriend nie.

Ander kere staan die mens as (beskaamde) vyand van dier en plant geteken:

Ratel

Mellivora capensis

 

Ná al sy gromgeluide en draaie

was die doodmaak van die rateltaaie

regtig nie te moeilik nie - ek skaam my

daarvoor tussen hierdie boek se blaaie.

Soos tevore in Marais se oeuvre, neem hy sorg om sy uitbeeldings met wetenskaplike kennis te laat klop. Onderaan die volksname vir die fauna en flora in die gedigtitels, verskyn telkens ook die wetenskaplike name. Die digter wil ‘n optekenaar en bewaarder wees soos die natuurkundige.

Of is hy soms ook maar net ‘n soort trofeejagter?

Rooiduiker

Cephalophus natalensis

 

Nóg ‘n dier moet vrekgemaak word

en in my vers in die stof byt,

met wyd oopgesperde kake

die laaste asem uitroggel,

dalk jammerlik ‘n bietjie bloed

by sy neusgate laat uitloop

en met dowwe oё bly lê.

Kyk, dié keer het ‘n sku ooitjie

in die waai van die Lebombo

mooitjies in my vangstrik getrap!

In afdeling V word gefokus op “[g]rondsake” - om die titel van een van die gedigte daarin te leen - met ‘n oog vir veral die sosio-politieke spoke van grondbesit. (In meer as een gedig hier kom dwalende geeste voor.) Plaasaanvalle is ‘n verdere manifestasie van dié kwessie waaroor gedig word. Let op hoe suggesties in hierdie verband met die minimum aan middele opgeroep word in:

Afrikaanse haikoes

 

I

Toe die duif opvlieg,

was dit vir hom ‘n teken

om die deur te sluit.

 

II

Dis nag en die maan

se perdehoef trap ligweg

op die vensterbank.

 

III

Ná hulle weg is,

het die bloed op die kosyn

‘n bruin swam geword.

Afdelings VI behels potretterings, wat meestal ook huldigings word, van figure wat deur hulle natuurstudie en -optekenings uitgemunt het (François le Vaillant, Phillip V. Tobias, Thomas Baines, Richard E. Leaky, en derglike); of wat dit as hulle “taak” sien of gesien het “om ‘n vinger te verroer / om soos Atlas die aarde te kan dra” (”Friedrich Dürrenmatt”).  Ten slotte volg ‘n afdeling met drie gedigte waarin die digter se verhouding met die natuur en met “hierdie stof” waartoe hy sal “terugkeer” (”RIV”, die bundelslotgedig), uitgedruk word.

In die verband van dié bundel en van sy raakpunte met Marais se voriges, verkry die indiwiduele gedigte bykomende waarde, vorm hulle onderling-na-mekaar-toe kaatsende onderdele van ‘n groter geheel - skyn daar ook op hierdie vlak ‘n soort lig deur hulle ter verlewendiging van enkelverse wat andersins weinigseggend sou kon wees.

Vergelyk hoe die volgende enkele, haas metonimiese duiding van Jane Goodall se reddingswerk met sjimpansees sterker resoneer teen die agtergrond van die talle “groen” gedigte in Marais se oeuvre - d.w.s. bý die versterkende werking van die verwysing na die bekende Michelangelo-skildery in die eerste strofe van die gedig:

Jane Goodall

 

In die begin het God

met sy wysvinger

Adam s’n

liggies aangeraak.

 

Lank daarna het ‘n vrou

ook só deur tralies

‘n sjimpansee se vinger

liggies aangeraak.

Daar is ‘n gevaar dat sommige gedigte van Marais op sigself yl kan aandoen, in kwalik meer as mededeling of beskrywing kan vassteek; dat hulle naderhand té min bevat om poëties/esteties te boei - júís ook vanweë Marais se kenmerkend onderbeklemtonende, weinig demonstratiewe styl. Dit is inderdaad asof hy in hierdie bundel (veral in die afdelings met die diere- en plant-”portrette”) nog vollediger gehoor gee as voorheen aan die “sy” se raad in “Ex unguine leonem”, naamlik om as subjek te “leer terugtree uit die lig”.

Kortom, ek vrees dat die voortgesette aanpak van dieselfde soort onderwerp met dieselfde gestrooptheid op die duur eenselwigheid in die hand werk.

Gelukkig bring die digter op verskeie wyses variasie in hierdie gedigte teweeg, byvoorbeeld deurdat sommige gedigte beskrywend of sketsagtig geaard is, ander bespiegelend of besinnend; of deurdat in sommige die in die titel aangekondigde onderwerp die hele gedig oorheers, terwyl die benoemde dier of plant in ander eintlik net sydelings ter sprake is.

Ook: soms word spesies kennelik bewonder; ander kere gaan dit om menslike aantastings van dié spesies (se leefwêreld), of om die verhouding tussen mens en natuurding, soos aangetoon. En gedigte soos “Okapi” (’n eenwoordgedig: “Aha!”) en “Rietduiker” bring welkome stilistiese en tipografiese afwisseling.

         

Rietduiker

Phalacrocorax africanus

 

Hy het uit die kabbelende water

geglip

en op ‘n seepgladde klip

langs die rivier tussen die mopanies

gewip

e n  h o m  m e t  u i t g e s p r e i d e  v l e r k e

in die wit son

droog gedrup en gedrup.

 

Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Watermerke

Friday, December 18th, 2009

Watermerke. Deur Lucie Möller. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-312-6.

 

Watermerke. Lucie Möller
Watermerke. Lucie Möller

Lucie Möller is ‘n Suider-Afrikaanse naamkundige met talle vakpublikasies op haar naam.

Sy is kennelik, en waarskynlik vanweë haar wetenskaplike belangstellingsveld, ook ‘n liefhebber van die landskappe en natuurlewe van Suid-Afrika en Namibië.

In die Waterberge (’n naam wat in die klanke van die bundeltitel eggo) besit sy ‘n stukkie Bosveldplaas. Ook daardie wêreld vorm ‘n belangrike inspirasiebron van die gedigte in hierdie debuutbundel.

‘n Mens lees van Liefdood, Kombersbrand, Khowas, Beenderebaai, die Swartebbehoutvlakte en nog baie ander plekke wat waarskynlik aan min Afrikaanse poësielesers bekend is. En met onmiskenbare genot en gehegtheid word natuurdinge soos sôu-sôu-gras, abiekwabome, graafwatersgate, oumansbaarde, swerwermammoetbome en pylvlekkatlagters genoem en uitgebeeld. Dit behels ‘n natuurliefde wat met taalliefde gepaard gaan, met raaksê en lekkersê, meestal soos dit uit die volksmond kom.

Hierby sluit ‘n simpatieke betragting van tradisionele (en dikwels bedreigde) volksleefwyses aan. In Watermerke is dit veral die leefwêreld van die Boesman wat ter sprake kom (afdeling II), hoewel ook ‘n vlugtige besoek aan die kontrei van ‘n Amerikaanse Indianestam gebring word (”Sequoyah”).

Sodoende voeg Möller toe tot ‘n tematiese terrein wat alreeds ryklik ontgin is in die Afrikaanse poësie, deur voorgangers soos, om maar ‘n paar te noem, Eugène N. Marais, C. Louis Leipoldt, N.P. van Wyk Louw, Boerneef, George Weideman, Johann Lodewyk Marais, T.T. Cloete en Carina Stander.

Möller word aangegryp deur sowel die dorrer streke van ons kontinent (afdeling II, “Aan voetsole”) as die ruier omgewings (afdeling III, “Die oerbos in”). Dis trouens duidelik dat haar fassinasie uitgaan na skaars-bevolkte lands- en wêrelddele, waar relatief min tekens van menslike teenwoordigheid en aktiwiteit te vinde is. Van die treffendste gedigte in Watermerke ontspring aan hierdie gehegtheid.

 

Ongewone samesyn

 

Ligene sprei in woude

en woestyne ‘n bont tapyt

van nuwe lewe oop.

 

Oor takke, rotse en kranse

drapeer hul oumansbaarde,

motgevrete lap

 

en damesfyngoed, patrone

van filigreinse kant en hang

agter ‘n plantgordyn

 

slingerblink syerige serpe

waaragter glimlagte skuil

oor die versteekte samesyn.

 

Hiernaas word die ontwrigtende impak van menslike bedrywighede op die omgewing onder die loep geneem, byvoorbeeld in afdeling I waar vuur tot ‘n opvallende motief van vernietiging uitgebou word - maar ook van loutering en van voorbereiding op nuwe groei.

‘n Kort gedig soos “Verneukpan”, met sy funksionele sintaktiese onvoltooidhede en sy sentrering op die bladspieël om ‘n ‘swewende’ indruk te maak, is vermoedelik sinnebeeldig van meer as net die vervlieting van verskynsels:

waar ‘n blou voël opstyg

en nie weer land nie

 

waar sy skaduwee grys vlerkstrepe trek

oor Vaderlandspan[.]

Die slotwoord suggereer dat dit ook om spesifiek die verydeling van nasionale drome (byvoorbeeld deur die Afrikaner) kan handel. Is daar weerklanke van Leipoldt se alombekende “Sekretarisvoël” te verneem in die vreemd ongeïdentifiseerde, vertrekkende “blou voël” in dié gedig, waardeur laasgenoemde interpretasie versterk sou kon word?

Hoe dit ookal sy, dis opvallend hoeveel keer in die bundel van ‘n ongespesifiseerde “ons” gewag gemaak word - aanduidend van sowel ‘n kleiner as ‘n groter identifikasiegroep (byvoorbeeld die spreker se naaste geliefdes én die volksgroep waartoe sy behoort).

Die verganklikheidsgegewe word deur die bundeltitel gesinjaleer, hoewel dit in die bundelverband ook toespeel op die ‘sagte’ kragte in die bestaan, waaronder drome en heugenis (ter sprake in die gedig “Wildepeerblom”), maar wat dan ‘n radikale (her-)skeppende uitwerking kan hê. Van laasgenoemde sou gedigte soos “Bivakberg” en “Skeurkloof” aan die begin van afdeling III as metafories gesien kon word.

Tydelikheid, die nietige en vernietigbare van die aardse bestaan soos dit kontrasteer met die kosmiese dimensies, is die motiewekompleks wat in die eerste afdeling (”Met fynhout en sterrestof”) en die laaste (met die ewe sprekende titel “Tot alles vloei”) oorheers. Sodoende vorm hulle as ‘t ware ‘n strukturele vergestalting van die gegewe dat die verganklikheid die raamwerk is waarbinne die liefderyke betragting van die dinge geskied in die drie binne-afdelings van die bundel. Ook die bandontwerp deur Hanli Deysel (’n voorstelling van ‘n ontbindende herfsblaar) vang iets van dié motief van die ‘raam’ van die bundel op.

Veelal boeiende onderwerpsmateriaal en -ordening dus - maar wat, helaas, ‘n hoofsaaklik onsuiwer poëtiese neerslag vind in Watermerke.

Die hierbo aangehaalde gedigte is van die min in die bundel wat ‘n werklik onthoubare geheelindruk maak (ek sou ook “Woudvaring”, “Pylvlekkatlagters” en “Melkweg” wou byvoeg), hetsy op openbarende, nuutmakende of geslaagd verdiepende wyse. Te veel gedigte reik nie verby beskrywing of indrukskildering of selfs mededeling nie. Let maar net op hoe ‘n gedig soos die volgende in suggestiekrag en betekenisreikwydte afsteek by ander voorbeelde uit die Afrikaanse poësieskat wat soortgelyke materiaal tot onderwerp het (soos C.M. van den Heever se “”Voëls in die skemering” of “Die vertrekkende wildeganse”):

 

Vertrek van die kolgans

 

sirkels in die wier

sirkels in die wier

niemand het gesien

die kolgans sit nog hier

 

staan sy op een been

botstil op die rand

span sy nog haar vlerke

in die najaarsaand

 

sirkels in die wier

sirkels in die wier

iemand roep die kolgans

dis tyd vir trek van hier[.]

 

Bowendien is die bundel deurspek van beelding- en steltroebelhede. Die wilde beeldveldspronge in ‘n geval soos die volgende doen myns insiens uiteindelik ietwat komieklik aan:

 

Vlam

           

Ek is die vlam

en brand in jou

om vers te word:

 

Maak my die stroom

waardeur jou woorde

soos ligdrade gloei

 

dat ek soos Josefskleed

verweef kan raak,

‘n Moses-staf met woorde kerf

 

en waterdruppels slaan uit rots:

‘n spies wat vlymskerp tref

tot waar die Suiderkruis oopvonk.

 

Onthou my in jou gebede,

onthou my lig in jou vers

 

‘n Ander besondiging is aan beskrywende oordaad, byvoorbeeld in “Vuurproef”, “Wandelpaaie” en “Kortstondige kalligrafie” - sodat dit in laasgenoemde gedig ‘n bietjie ironies klink as die digter aan wyle Adolf Jentsch, suinig-beeldende skilder van onder meer die leegtes van Namibië, sê dat sy uit sy werk “skoon [wou] leer skryf”.

Ook wat die afdelingsamestellings betref, kry ek nie altyd die kloutjie by die oor nie. Dit lyk byvoorbeeld vir my of die reeds genoemde gedig oor die Indiaan (”Sequoya”), asook “Wildepeerboom”, wat primêr handel oor ‘n Europese besoek waarvan die spreker se “hartlief” per brief berig, dalk té weinig (of té onoortuigend) aanhaak by die Suider-Afrikaanse “oerbos”-gegewe wat in die res van die gedigte in afdeling III domineer.

En hoe pas die twee slotgedigte van afdeling IV (”Verspoelings” en “As die reën dan kom”) in by die “Diere sonder maskers”-gegewe van die betrokke afdelingtitel?

Dat met Watermerke nie die volle poëtiese potensiaal verwesenlik word wat in die rykdom aan onderwerpmateriaal en in die daarmee samehangende taalskat steek nie, is ‘n jammerte. Ewe jammer vir hierdie debuut is dat die vindingrykheid en vernuf waarmee voorgangers in die Afrikaanse digkunstradisie met soortgelyke sake omgegaan het, die dofhede daarin des te sterker laat uitstaan.

    

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat