Posts Tagged ‘Resensies deur Dewald Koen’

Resensie: Aantekeninge teen die skemeruur (Clinton V. du Plessis)

Monday, November 13th, 2017

 

Aantekeninge teen die skemeruur deur Clinton V. du Plessis. Cordis Trust Publikasies, 2017.

Resensent: Dewald Koen

 

Wat is dit omtrent die skemeruur wat mens en dier boei? Is dit die betowerende natuurspel wat deur die oog waargeneem word of is dit die inherente wete dat ’n siklus amper voltooi is? Vir my persoonlik word die skemeruur van elke dag met neerslagtigheid geassosieer. Vir baie jare het ek onder die indruk verkeer dat ek die enigste persoon was wat so gevoel het. Ek kon nooit verstaan waarom my gemoed skielik verander sodra die dag einde se kant toe staan nie. So lees ek tydens ’n Desembervakansie in my vroeë twintigerjare Leon Rousseau se biografie oor die lewe en werk van Eugène Nielen Marais. In Die groot verlange (1974) vind ek toe die antwoord op ’n gevoel wat ek nooit vantevore kon verwoord of verklaar nie:

Deur waarneming van sowel die bobbejane as ander wilde diere kom hy [Marais] tot die gevolgtrekking dat ’n bepaalde weemoed of ongedurigheid, ’n vae angs, gereeld teen skemeraand intree. Later, nadat hy ’n aantal mense ondervra het, ontwikkel hy die teorie van “hesperiese neerslagtigheid”, waaraan een uit elke twintig mense volgens hom onderhewig is.

Laasgenoemde teorie het my onmiddellik opgeval toe ek die titel van Clinton V. du Plessis se negende bundel Aantekeninge teen die skemeruur gelees het. Op die voorblad verskyn ’n monochromatiese foto geneem deur Du Plessis se skrywersvriend, Etienne van Heerden. Toevallig het ek die oorspronklike kleurfoto op Facebook gesien. Die besluit om die monochromatiese foto in plaas van die oorspronklike kleurfoto te gebruik, sluit simbolies aan by die titel van die bundel. Dié denimbaadjie wat aan ’n stutpaal van ’n draadheining opgehang is, skep ’n somber atmosfeer. Die oop verlate vlakte in die agtergrond met vlieswolke wat in die horison saambondel dra verder by tot ’n gevoel van eensaamheid en afskeid.

Die titel aktiveer ’n gevoel van bestekopname deur die digter by die leser. Figuurlik gesproke word die skemeruur met veroudering geassosieer en word die mens intens bewus van sy of haar verganklikheid. (Aldus die benaming van menigte aftreeoord as Huis Herfsblaar of iets dergeliks) Die literator, Helize van Vuuren, het in verskeie resensies en artikels na Breyten Breytenbach se “laatwerk” verwys. Alhoewel Du Plessis se bundel allermins as “laatwerk” beskou kan word, kry die leser die gevoel dat die digter in die proses is om bestekopname van sy lewe te maak. Laasgenoemde word ondersteun deur die sewe afdelings waarin die bundel opgedeel is naamlik “Prewelings”, “Littekens van landskappe”, “Kiekies”, “Restant”, “Plakboek”, “Wiegeliedjies” en “Nag!”. Die afdelings bevat gedigte wat verskeie temas aanspreek en fokus veral op herinnerings uit die verlede asook op hedendaagse sosio-politiese gebeure wat mense regoor die wêreld, maar spesifiek Suid-Afrika affekteer.

Du Plessis se gedigte kan as die ‘aantekeninge’ waarna die titel verwys beskou word. Hy maak hoofsaaklik van die vrye versvorm gebruik en die gedigte lees soos ’n persoon se lewensverhaal. Die gedigte is op geslaagde wyse georden om die sikliese metafoor van die menslike lewe te ondersteun. Die bundeltitel figureer reeds in die programgedig getiteld “Ou digter”:

Pen weifelend in die hand,

twyfelend op die rand van onthou

die blanko bladsy bleek

en ongeduldig op die swarthouttafelblad. […]

Niks sal duur, besef hy,

selfs nie sy verbete woordverset

teen die naderende skemeruur. (13)

Du Plessis as digter is bewus van sy eie verganklikheid as mens, maar ook as digter. Die motief word tot in die slotafdeling aangevoer met twee gedigte onderskeidelik getiteld “Helaas” (143) en “Nuusberig as lykdig” (144). Persoonlik sou ek die twee gedigte omgeruil het aangesien “Helaas” ’n beter keuse sou wees om die bundel mee af te sluit weens die meer intieme toon van die gedig.

Dit dan die relaas van ’n lewe:

geboekstaaf, berym,

die skryfskyn om die dood

doelgerig te probeer ondermyn.

.

Meermaal

tussenin

die twyfel, die weeklaag, die verlies

en geduld, Jobs van omvang.

.

Tussen die bladsye van ’n boek,

subtiel of minder subtiel,

skuil merkers, bakens, aanwysers,

maar tog nog die verdwaal.

.

Oorleef van boek na boek

en die slot

van hierdie lewe se verhaal,

soms bruut, soms banaal, soms broos,

bly geslote, toe, ’n rots

voor die graf in die grot

wat woorde nie kan wegrol nie. (143)

.

Die dood van bekendes soos die joernalis Suna Venter (“Nuusberig as lykdig”), die Nederlandse skrywer Joost Zwagerman se selfdood (“Bly te kenne”) asook Leonard Cohen kom aan bod. Ten spyte van die somber toon van die gedigte, skroom Du Plessis nie om ’n onderwerp soos die dood in woord te takel nie. Talle mense vrees die dood. Die dood is nie ’n onderwerp waaroor die mens wil gesels nie en tog word die mens daagliks deur die dood gekonfronteer – die mens se eie verganklikheid, maar ook die dood van ander deur middel van terreurdade of selfdood. In “Verloën” (69) bring Du Plessis hulde aan die onskuldige kerkgangers wat in Charleston in die Verenigde State van Amerika tydens ’n kerkdiens afgemaai is. In “Geografie” (71) word die lyding van die inwoners van Aleppo in Sirië uitgebeeld en word die leser intens bewus gemaak van die absolute futiliteit van oorlogvoering.

Aantekeninge teen die skemeruur bevat nie slegs gedigte vol hartseer en doodslag nie. Du Plessis lewer belangrike sosio-politiese kommentaar oor die uitdagings wat veral Suid-Afrikaners daagliks in die gesig staar. Armoede en die onregte van apartheid figureer in talle gedigte. Die menslike lyding word op eerlike en onpretensieuse wyse aangespreek. Die digter lewer ook kritiek op die Afrikaanse literêre establishment. In “Werkswinkel” (19) word die skryfproses ondersoek terwyl “Handleiding” op ’n meer humoristiese toon die ‘moets en moenies’ van die digkuns uitstippel. Opvallend is die invloed van veral Antjie Krog, Adam Small, D.J. Opperman en N.P. van Wyk Louw op Du Plessis se verse. In “Stelwerk” (18) tree die spreker intertekstueel met Krog en selfs die skrywer/digter Jeanne Goosen in gesprek. Liefhebbers van Krog se poësie sal die raakpunte tussen “Stelwerk” en Krog se gedig “Onderwyser” uit haar debuutbundel Dogter van Jefta (1970) raaklees.  In “Janfiskaal” (25) maak die digter op geslaagde wyse van die Janfiskaal as metafoor gebruik om die voorskriftelike Afrikaanse literêre establishment te verskeur (dit is dalk nodig!). Die gedig “In my kanon” (35) wat sinspeel op die literêre kanon, skryf Du Plessis soos volg:

Gebloemlees deur Olivier

voorgelees deur Hugo

op die versprogram sonder grense

’n versigtige, miskien ja-knik van Hambidge –

só, fluit-fluit

is ek my randfiguurstatus byna kwyt

maar ver sal ek bly sit van dáárdie Verseboek.

Een aspek waaroor ek gereeld wonder is waarom Du Plessis as digter nog deur talle Afrikaanse poësielesers as randfiguur beskou word? Tot dusver het slegs sy debuutbundel Geloofsbelydenis van ’n kluisenaar (1984) by ’n hoofstroom uitgewer verskyn. Du Plessis het wel die doelbewuste besluit geneem om homself van die literêre hekwagters te distansieer en het ook geweier dat sy gedigte deur André P. Brink in die Groot Verseboek (2000) opgeneem mag word. Is Du Plessis ’n rebel wat homself doelbewus eenkant hou of voel hy hom bloot nie tuis binne die Afrikaanse literêre establishment nie? Digters soos Nathan Trantraal, Ronelda S. Kamfer en Jolyn Phillips wat hoofsaaklik in Kaapse Afrikaans dig, geniet groot aansien binne die Afrikaanse literêre establishment. Tog word Du Plessis myns insiens misgekyk. Is dit omdat hy nie in Kaaps dig nie? (Is daar ’n ongeskrewe reël wat stipuleer dat bruin digters slegs in Kaaps moet dig om ‘kultusstatus’ te bereik?) Du Plessis is myns insiens ’n gevestigde digter wat talle geslaagde verse op sy kerfstok het, maar geniet bloot nie dieselfde erkenning as ander bruin of swart Afrikaanse digters nie. Na die lees van Aantekeninge teen die skemeruur het ek weereens tot die besef gekom dat Du Plessis kán dig en nie noodwendig altyd die erkenning wat hom toekom kry nie. Alhoewel nie al die gedigte in die bundel noodwendig ten volle afgerond is nie, is die oorgrote meerderheid gedigte poëties en stilisties geslaagd. Een so ’n voorbeeld is die gedig “Bekentenis” waarin die digter die slotreël kon weglaat aangesien die gedig op doeltreffende wyse met die tweede laaste strofe afgerond word. Ten spyte hiervan is die oorgrote meerderheid van die verse in dié bundel poësie waarmee die leser sal kan assosieer en sal geniet.

Aantekeninge teen die skemeruur is ’n welkome toevoeging tot Du Plessis se oeuvre. Hierdie bundel verdien om meer as een maal gelees te word. Met geslaagde metafore en beelde wat die verbeelding stimuleer, verleen Du Plessis konteks aan gevoelens en gedagtes waarmee menigte mense op daaglikse basis worstel. Hetsy bekommernisse oor die lewe of vrees vir die dood, sal die leser in dié bundel berusting vind vir daardie letterlike en figuurlike skemeruur-gevoelens wat Eugène Marais dekades gelede ondersoek het.

 

Resensie: Nuwe Stemme 6 (saamgestel deur Bibi Slippers & Charl-Pierre Naudé)

Sunday, September 17th, 2017

 

Nuwe stemme 6, saamgestel deur Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé. Tafelberg, 2017.

Resensie: Dewald Koen

 

Om gedigte te skryf sit nie in enige iemand se broek nie. (En nee, vroue dra ook broeke –  so ek is nie seksisties nie.) Die skryf van poësie is ’n lang proses van skryf en herskryf. Om beelde en metafore te laat werk, om clichés te vermy en terselfdertyd te poog om jou eie stem in die gedig te laat geld, is geen maklike taak nie. Boonop is dit ’n liefdestaak.

Geen Afrikaanse digter het nog ooit ryk geword en finansieel oorleef deur bloot gedigte te publiseer nie. (Nie eers N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman of Breyten Breytenbach nie.) Jan Publiek is salig onbewus van die skamele tantieme wat digters met gedigte in versamelbundels sowel as hul eie digbundels verdien. In Suid-Afrika hardloop die meeste uitgewers weg wanneer ’n manuskrip met gedigte vir publikasie voorgelê word. Slegs enkele bevoorregtes slaag daarin om die spreekwoordelike wa deur die drif te trek en ’n oplaag van 250-600 bundels gedruk te kry. Jou vyf minute van faam (tensy jy soos Bibi Slippers omtrent elke letterkundige prys vir digkuns met ’n enkele bundel wen) verdwyn soos mis voor die son met lastige resensente wat boonop jou harde werk verskeur in hul almagtige poging om byltjies te slyp en slimmer as die res daar uit te sien. Laasgenoemde is alles deel van die proses. Geluk. Jy het ’n gedig of bundel gepubliseer.

Dit is dus van kardinale belang dat ’n bundel soos Nuwe stemme gepubliseer moet word. Dit bied voornemende digters die geleentheid om hul gedigte gepubliseer te kry (hoekom anders skryf jy gedigte?) en nog nie oor genoeg gedigte beskik om hul bundel vir moontlike publikasie aan ’n uitgewer voor te lê nie. Terselfdertyd ontvang die gelukkiges wat gekies word die geleentheid om met gevestigde kenners en digters saam te werk om hul poësie te slyp, hul skryfvaardighede af te rond en die beste weergawe van hul gedig(te) gepubliseer te kry.

Onlangs verskyn Nuwe stemme 6 saamgestel deur Afrikaans se eie polkadot-in-die-bed Bibi Slippers en haar meer ernstige mededigter, Charl-Pierre Naudé. Aanvanklik was ek teleurgesteld toe ek die rooi boekie in my hande vashou. Hoekom so klein, het ek gewonder? Ek moet bieg dat ek die boekie gemeet het. Vergeleke met die vorige vyf bundels is die ‘rooi gevaar’ (my eie benaming) heelwat kleiner as haar voorgangers. Maar lékker dik, hoor! So liewe leser, moenie dat die grootte van die bundeltjie jou teleurstel nie. Kwaliteit is immers veel belangriker as kwantiteit. (En die grootte van die bundel.)

Wat opvallend is wanneer Nuwe stemme 6 met haar voorgangers vergelyk word, is die feit dat die voorplat sedert Nuwe stemme 1 heelwat verander het – meer minimalisties daarna uitsien. Anton Kannemeyer se ontwerp met Claudette Schreuders se kunswerk op Nuwe stemme 3 saamgestel deur Antjie Krog en Alfred Schaffer bly nog my gunsteling voorplat, maar ’n boek moet nooit op sy baadjie getakseer word nie. Dié bloedrooi Nuwe stemme 6 is tog ook fraai. Op Joan Hambidge se blog Woorde wat Weeg (http://joanhambidge.blogspot.co.za/) wys sy spesifiek op die navolging van die Franse filosoof Jacques Derrida se sous rature / under erasure wat op die voorplat uitgebeeld word. Die titels van Nuwe stemme 1-5 word deurgetrek en sluit dus aan by Derrida “waar die teken of woord behou word, maar ook uitgewis word” (Sien Hambidge). Ek vind laasgenoemde interessant aangesien dit myns insiens aansluit by die hele konsep van ‘nuwe stemme’. Deur die vorige titels ‘uit te wis’ wil die nuwe uitgawe haarself vestig as ’n ‘nuwe stem’ – onafhanklik van haar voorgangers. Dié bundel is dus nie slegs ’n voortsetting van haar voorgangers nie, maar bevat gedigte wat nuut, vars en opwindend is. ’n Nuwe generasie digters wat hopelik hul stemme in die toekoms deur middel van debuutbundels sal laat hoor.

Die Nuwe stemme-reeks is ryk aan belangrike data wat beide kwalitatief sowel as kwantitatief ondersoek moet word. Aangesien dit reeds die sesde uitgawe is wat verskyn het, voel ek my dit genoeë om agtergrondinligting oor die vorige bundels te verskaf om ’n kort oorsig te gee oor die publikasiegeskiedenis tot op datum. Laasgenoemde poog geensins om die vorm van ’n formele akademiese studie aan te neem nie, maar dien bloot as agtergrond ter inleiding tot my bespreking van Nuwe stemme 6.

Sedert 1997 het ses uitgawes van Nuwe stemme verskyn in onderskeidelik 1997, 2001, 2005, 2010, 2013 en 2017. Tot op hede het 59 manlike digters en 47 vroulike digters in Nuwe stemme gedebuteer. Opvallend is die feit dat minder vroulike as manlike digters in die reeks opgeneem is. Veral Nuwe stemme 5 is in dié opsig ongebalanseerd met slegs vyf vroulike digters teenoor dertien manlike digters wie se gedigte opgeneem is. Nuwe stemme 6 is meer gebalanseerd met 11 gedigte deur vroulike digters en 10 deur manlike digters. Swart Afrikaanse digters word nog grootliks onderverteenwoordig. Uit die ses uitgawes, het Nuwe stemme 2 die meeste debuutbundels opgelewer. Die volgende digters het debuutbundels gepubliseer nadat hul gedigte in Nuwe stemme verskyn het: Martjie Bosman, Susan Smith, Bernard Odendaal, Melt Myburgh, Johannes Prins, Gilbert Gibson, Ilse van Staden, Ronelda S Kamfer, Danie Marais, Loftus Marais, Jasper van Zyl, Fourie Botha, Corné Coetzee, Bibi Slippers en Hilda Smits. Tertius Kapp het dramatekste gepubliseer terwyl Tom Dreyer en Fanie Viljoen hulself op prosatekste toegespits het. (Hierdie lys bevat slegs enkele name.) Nuwe stemme 1, 2, 3 en 6 bevat biografiese besonderhede van die digters terwyl Nuwe stemme 3 en 4 nie biografiese besonderhede van die digters in die teks self bevat nie.

In die voorwoord tot Nuwe stemme 6 noem Bibi Slippers dat “daar niks nuuts onder die son [is] nie” (2017:8). Laasgenoemde is na aanleiding van die Prediker in Die Bybel. Slippers sê verder dat daar nie gevra moet word “Wat is nuut?” nie, maar eerder “Hóé is dinge nuut?” (2017:8). Die meeste digters poog om iets vernuwend te skep (resensente en literatore is gedurig op die uitkyk vir vernuwing in die poësie). Die oorgrote meerderheid digters skep egter selde ‘vernuwende’ poësie. Digters skryf immers oor menslike gevoelens wat al eeue teenwoordig is. Tematiek verander wel namate tye verander en dit word duidelik in Nuwe stemme 6 uitgebeeld.

Kreatiewe skryfwerk is oor die algemeen persoonlik van aard. Poësie is myns insiens nog meer persoonlik as prosa aangesien die digter-spreker diep in hom- of haarself delf en gevoelens, ervarings en gedagtes op poëtiese wyse verwoord wat die digter-spreker na aan die hart lê. Nuwe stemme 6 bevat gedigte ryk aan verskillende temas en ervarings. Intertekstuele verwysings, die liefde, misdaad, liggaamlikheid, seksualiteit, sosiale media, drome, hartseer en verlange is maar enkele temas wat in dié bundel voorkom.

Die bundel open met Annie Gallagher se gedigte. (Die gedigte word alfabeties volgens die digters se voorname gerangskik.) In die gedig “ek voel my net van die wêreld verwyder” (13) lewer Gallagher kommentaar op die uitwerking van misdaad op die individu in Suid-Afrika. (Sien ook Marcel Spaumer se gedigte.) Die wyse waarop talle Suid-Afrikaners hulself ‘afsonder’ van medelandsburgers deur hulself agter tralies in sekuriteitskomplekse ‘op te sluit’ is ’n relevante onderwerp.

ek voel my net van die wêreld verwyder

in die noordelike voorstede

vandat ek hierheen verhuis het […]

is ek houtgerus, selfs my huishulp moet inteken, ek is vry

van boewe weens skokdraad se toetrede

ek voel my net van die wêreld verwyder […]

In “vlerksleep 2.0” en “nagboer” fokus Gallagher op verhoudings. Een van die treffendste gedigte is myns insiens “nagboer” (16). Dié gedig kan beskou word as ’n uitstekende voorbeeld van die suksesvolle aanwending van die metafoor. Die woordspeling met die seksuele is puik.

            om oop te spalk, nét reg te vat

            langsamerhand in die bedding te woel

            klamte slaan op, die grond is nat

            vir kultiveer, maar sonder saad

            om eiehandig te dol

            die stuwing na die einde te laat

            ’n blos van nagloed met ’n snak

            soos rose teen die nek uitrank

            o, seisoenaal, die almanak

            van asters

            dié vrug is vrank

            dié lekker’s maak ’n vinger lank

Annami Mailovich se gedigte oor Kaapstad bied ’n nuwe beeld op die Moederstad. (Dit sal interessant wees om haar gedigte met Loftus Marais se Kaapstadse gedigte in sy bundel Kry my by die gewone plek aguur (2012) te vergelyk.) Die gedig “die familie skryf” (26) lewer belangrike sosio-politieke kommentaar op die klasverskille in Kaapstad, maar ook op die waternood wat tans in die Wes-Kaap, maar veral Kaapstad heers.

’n volgepakte Myciti-bus kronkel Kampsbaai binne

anderkant die berg brand Imizamo Yethu

in Victoriastraat vloei R70-cocktails

in Imizamo Yethu deel Gift of the Givers sop uit

Moerland toe

Maartmaand en die familie skryf

sal daar water wees vanjaar?

in Llandudno ja:

swembaddens glinsterend gereed

maar onthou die damme is leeg

almal moet maar vinnig stort

sal daar blomme wees vanjaar?

dalk aan die skadukant van die berg of in Kirstenbosch,

maar in Somerset-Wes is daar net roet

die kameras die zirr en klik

verwoesting

is die vooruitsigte goed of sleg?

in Oranjezicht Claremont en Fresnaye, ja,

in Khayelitsha Gugulethu en die Flats

daaroor vra die familie – of die familie se vriende – nie

oostewind

kom waai jou waai

beneuk

Moerland toe

Anton Döckel se gedig “Pas op” (32) sal menigte leser laat skaterlag oor die ouer-kind verhouding. Veral die slotstrofe is treffend: “Mag ’n pa maar skuins omval / voor skoonseun se braaiplek / terwyl sy kole nog gloei”. Churchill Naudé voer ’n vernuftige spel met woorde in Kaapse Afrikaans. In “onse vaders” sluit hy aan by digters soos Nathan Trantraal en Ronelda S Kamfer wat skryf oor die lewe op die Kaapse vlakte. Naudé se gedigte is egter nie ’n blote naskryf van Kamfer en Trantraal nie. Sy stem is uniek en sy gedigte treffend.

Die haikoe is ’n digvorm wat deur ’n beperkte aantal Afrikaanse digters beoefen word. Elmarie Viljoen-Massyn se “6 haikoes vir ’n Harding-tuin” (49) is dus ’n welkome verrassing in die bundel. (Die haikoe is immers ’n pragtige digvorm.)

            oergroot plataanboom

            ruspes dik soos duime knaag

            groen blaarhande krimp […]

            laatmiddag se grys

            in geheime gefluister

            reën is duifasem

In “Melk” (54-55) skryf Viljoen-Massyn ’n hartroerende gedig gebaseer op die ontvoering van een van die steeds vermiste jong meisies deur die pedofiel Gert van Rooyen.

In “dis 2017 en almal dra chokers” (72) skryf Elodi Troskie oor die jeug van vandag. Die vindingryke wyse waarop Troskie van teenstellings gebruik maak om onskuld en ervaring teenoor mekaar uit te beeld, maak van hierdie ’n besonder geslaagde gedig. Franco Colin se gedig “Pa aan outistiese seun” (85) verwoord Colin ’n vader se frustrasie en onbeholpenheid met sy outistiese seun, dog soos in die geval van Marlene van Niekerk se “troetelwoorde vir ogilvie douglas”, oorwin ’n ouer se liefde vir ’n kind enige situasie ongeag die uitdagings en of frustrasies wat die ouer in die gesig staar.

Deur middel van gedigte wat soos dagboekinskrywings lees, deel Hannes Visser intieme oomblikke oor die spreker se kinderdae. Alkoholmisbruik en die probleme wat daarmee gepaard gaan figureer sterk in die reeks gedigte. Die spreker se wanhoop bereik ’n hoogtepunt in “Sondag 3 September” (95) wanneer hy besluit om eerder sy dankoffer vir lekkergoed te gebruik – ’n  besluit wat sy misnoeë met die kerk en die situasie waarin hy homself bevind duidelik verwoord. Ingrid Penzhorn maak van personifikasie gebruik in “Drieankerbaai” met ’n definitiewe ekokritiese inslag wat in die gedig aan bod kom.

            Ons see is tamaai en kwaai vanaand sy pletter

            haarself teen die seemuur vas met die wind wat haar hits

            en por om iets van die spyskaart op die wal te gryp te mastikeer

            haar dieet van babadoek en plastiekdop vlesig te diversifiseer –

            maak ons riool haar dan nie vol nie?

            Môre lê sy net weer daar en glimlag skalks

            genoeg om die tande wat sy skoonpik

            met ’n skerpgemaakte seemeeubeen

            te verskans sodat figure

            vol bravade op haar rug

            Kampsbaai toe kan roei en terug.

            Maar vir nou is die filter afgeskakel en

            wys sy ons die vinger, die vinger wat sy later

            in haar keel af druk om al die kak wat ons

            daar af forseer resiproke te regurgiteer.

            Selfs haar eie word nie oorgesien nie:

            koeksels bamboes sal stinkend in die son

            hul sondes moet betrag.

            Vanaand spoeg sy met luide fanfare

            skuim uit haar are tuimelend

            op geduldige sand als wat ongewens

            oorbodig was.

Jaco van der Merwe se ekfrastiese gedigte in die vorm van die praatvers staan uit hoofsaaklik weens die visuele element, alhoewel nie al die verse op geslaagde wyse by die gepaardgaande foto’s aansluit nie. Die uitwerking van misdaad op Suid-Afrikaners word effektief verbeeld in Marcel Spaumer se gedig “’n nag ontwrig”. Sy beeldgebruik is geslaagd en selfs skokkend. In “Daardie somer (1976)” skryf Marthé Mc Loud oor ’n nagmerrie wat die leser aan die raai hou oor die spel tussen die werklikheid en die droombeeld. Remona Voges maak soos Jaco van der Merwe gebruik van die beeldgedig en fokus op die Meksikaanse skilder Frida Kahlo. Veral treffend is die gedig “By die aanskou van Frida Kahlo se wenkbroue” (145).

            Die Maestro se wenkbroue

            is aangestryk, dig en boogvormig

            soos kolibries, vlieënd bo

            monde geklas met karmosyn.

            Twee pare vlerke span oor voorhowe

            die kleur van oorryp plátano’s

            soos die Tehuana-kostuum

            testament van die verbintenis

            geknip in haar skoot

            dit drup tussen rooibruin blomme

            neer op ’n lentelose landskap.

Een van my gunsteling gedigte is die van Ryan Pedro getiteld “menskleur” aangesien dié gedig oneindig baie kommentaar lewer op die sosiaal-politiese kwessies wat Suid-Afrikaners (en sekerlik ander wêreldburgers) daagliks in die gesig staar.

            jy kleur vir liewe jesus verkeerd in

            sê ’n wit meisie aan ’n bruin seun

            op sy eerste dag by

            pikkiebult pre-primêr, kakamas.

            sy haal die bruin kryt uit

            sy hand en gee vir hom ’n ander

            kleur aan

            en sê

            daarsy.

“as kanye ’n digter was” (159) lewer tong-in-die-kies kommentaar op die Afrikaanse literêre establishment. Pedro is myns insiens een van die opkomende digters wat dopgehou moet word.

Nuwe stemme 6 bevat ’n ruim versameling gedigte uit alle uithoeke van Suid-Afrika. Wat veral opval is die verskeidenheid temas en style van die onderskeie digters. Alhoewel nie al die gedigte noodwendig die volgende uitgawe van die Groot Verseboek gaan haal nie, is daar ’n gros belowende nuwe stemme en gedigte in die bundel waaroor poësieliefhebbers beslis opgewonde kan raak. Hierdie bundel bevat iets vir elke poësieliefhebber – smaak verskil immers van persoon tot persoon. Die groot vraag wat egter gevra moet word is: wie gaan ons volgende Bibi Slippers, Gilbert Gibson, Ronelda S Kamfer of Loftus Marais wees? Ons sal maar geduldig moet wag en sien. Die nuwe stemme-projek is ’n waardevolle projek om jong talent onder opkomende digters te ontwikkel. Sodoende leef die Afrikaanse digkuns voort in ’n tydvak waar die Afrikaanse taal- en letterkunde onder sosiaal-politiese druk verkeer. Lank lewe nuwe stemme! Ons sien uit na die volgende uitgawe.