Posts Tagged ‘resensies Gisela Ullyatt’

Resensie: Alchemie van my muse (Pieter Hugo)

Tuesday, July 2nd, 2019

Alchemie van my muse, deur Pieter Hugo. (Naledi, 2019)

Resensie deur Gisela Ullyatt

Pieter Hugo, ’n bibliotekaris van beroep, debuteer in Nuwe Stemme 4 (2010) met vyf gedigte. Indertyd staan dié gerf gedigte reeds uit vanweë ’n gebrek aan poëtiese fieterjasies en ’n onderliggende Schmerz wat verband hou met Beaufort-Wes en Gert Vlok Nel.

Nege jaar later, in sy nege-en-vyftigste jaar, debuteer Hugo met sy solobundel, Alchemie van my muse. Die elemente op die voorplat neem die alchemiese proses in ag: die boonste derde van die gesigsveld is swart wat die Nigredo uitbeeld; dié vervloei tot ’n donkerder steenkoolgrys. Die “van my muse“-gedeelte in die titel staan in die Albedo– of wit gedeelte wat bietjie meer as ’n derde van die veld beslaan. Die kleinste gedeelte, ’n korrelrige steenkoolstreep wat wissel van lig tot donkerder, huisves die digter se naam en van.

Alhoewel Hugo nie op die oog af Jung se alchemistiese proses van integrasie en individuasie in sy gedigte aanstip nie (behalwe vir die program-gedig en “Ek en my skaduwee”:37), skakel die oorkoepelende atmosfeer van die bundel met die proses, veral deur die gebruik van die vaste versvorm neffens die meer ongestruktureerde verse. Daar is ook die gevoel dat die bundel ’n wisselwerking tussen heelheid, gebrokenheid en herhaling is; kortom ’n tipe persoonlike transformasie wat in ’n sirkelgang verkeer.

Die bundel word in nege afdelings ingedeel, waarvan die gelyknamige program-gedig op sy eie staan:

terwyl ek in loodstilte kwyn

daag jy uit die bloute op

.

my woord-elikser

wat drie protone laat verdwyn

.

Deur die loop van die debuut, tree Hugo in gesprek met verskeie digters, onder andere met NP van Wyk Louw, Wessel Pretorius; Elizabeth Barrett Browning en Shakespeare. Die digter se grootste gespreksgenoot word egter in die digter/troebadoer Gert Vlok Nel gevind.

Reeds in Nuwe Stemme 4 val die Vlok Nel-interteks op in meer as een gedig. Interessant genoeg is ook die gedig, “kom in gert kom in kom in” in hierdie bloemlesing dan die genesis van die eenlettergrepige “Gert” in Alchemie van my muse. Inderdaad kan laasgenoemde weergawe as soortgelyk beskryf word aan wat die HAT, 6de uitgawe, se voorblad beloof: “Omvattend herbewerk en uitgebrei”. Die 2010-weergawe van die gedig beslaan ’n bladsy teenoor die vier-en-’n-bietjie bladsye in Alchemie. Die oënskynlike woord-oorvloed van hierdie gedig was aanvanklik ’n lees-hindernis: die bladsye lyk digbevolk met lang, prosa-agtige reëls.

Die gedig verdien egter om nie nét herléés te word nie, maar in die onderbewuste te laat gis. Met die tweede lees van hierdie bewussynstroom-vers, kom patrone tot die oppervlak wat alles bydra tot die Gestalt van die gedig. Vanuit ’n ander hoek kan “Gert” ook beskou word as ’n gesprek met die digter-self soos gesien in onder meer die volgende reël: “likewise interweef jy postmodernistiese poems […]”. Vanuit ’n Jungiaanse perspektief, swaelstert die volgende reël met die alchemiese proses waarvan albedo (wit) en nigredo (donker/die skadu) twee prosesse daarstel: “hy sê gert jy’s donker & lig & lieg ineen gert”.

“Al die fasette” (50-53), ’n gedig wat ook steun op ’n tipe van bewussynstroomtegniek,  is egter minder geslaagd as “Gert”, omdat daar dele is waarin die herhaling net nie vlot nie:

[…] sluk

laat sluk my

verstiksluk die waarheid afsluk

af af verby

dis klaar met haar klaar klaar

klaar daar

hoor daar

kerm kermende viole soos elektriese kitare […]

my willieweet ek weet ek weet

ek slukweet en

tromme roffel roffel rof ek weet

dis rof rof dis kermklaar sugsnik

snik snotsnikkend

snik-snik […]

Vrye vers is egter nie al waarmee Hugo hom as digter besig nie: die bundel bevat deurgaans gedigte wat vormvastheid omarm, soos gesien in die villanelle-vorm van “Die koue front” (56). “Sal ek jou vergelyk met ’n herfsdag?” is ’n Italiaanse sonnet. Ook “Woordstof” (8) is ’n veelvlakkige gedig wat ’n tegniese woord of twee verdien:

Ek kuier lekker by my eerste broer

oor die droomdis van vis en baie wyn.

Ons gesels oor gedigte, boeke, pyn:

enkeldiep lê die woorde oor die vloer.

.

“Skryf ’n sonnet. Dan is jy ’n digter!”

daag hy my uit. Ek skryf die hele nag,

maar kry net kwatryne. So breek die dag:

kniediep lê die woorde, dronk, ontnugter.

.

Ons luister radionuus, ons lees koerant,

ons sink weg, verdrink in die alfabet!

Ek stofsuig alles op, van A tot Z,

die ganse woordgemors van hoek tot kant,

.

maar die suier verstop letterlik. Met

die pyp se skud verskyn daar dié sonnet.

Hugo se verstegniese vaardighede word ontplooi in hierdie jolige sonnet. Die vorm (3 sonnette en ’n koeplet) is Shakespeariaans of Elisabethaans, maar die rymskema in die eerste stanza (abba) is gelykstaande aan dié van die Italiaanse of Petrakaanse sonnet. Ook word ’n outobiografiese element aangebied: Hugo se “eerste broer” is die bekende digter en vertaler, Daniel Hugo, ’n digter wat veral bekend is vir sy getrouheid aan vorm.

Vervolgens is daar elf haikoes wat in die vier seisoene opgedeel word; ’n gunsteling hier is die intertekstuele haikoe wat onder die titel, “Somermomente” (27), ingedeel is:

Droë wit seisoen,

Gerugte van reën, maar jy

Brink somerseën

.

Nog ’n treffende haikoe, die keer onder “Herfsmomente” (28), is:

.

Herfswinde warrel

my voëlverskrikkergesig

vol droëwalmplooie

.

Hugo flankeer ook met konkrete poësie in “Stippeltjie” (2); in “Nine eleven eggo voort” eggo die konkrete vorm van die gedig die tragiese gebeure van agtien jaar gelede, alhoewel die inhoud ’n verrassende en geslaagde objektief-korrelatief rondom ’n by en byenes inkorporeer.  “rondo” (22), ’n sirkel wat uit sestien woorde bestaan, is miskien die gedig wat lesers die langste besig sal hou: die bundel moet fisies gedraai word om betekenis uit te maak. Hierdie gedig kan ook as die ouroboros gesien word, die slang wat sy eie stert insluk en dus speel met die mitiese en woord-implikasies daarvan. Ook speel die gedig in op die rondeau-vorm wat op refreine steun.

As bibliotekaris (assistent-direkteur van Biblioteekdienste in die Wes-Kaap) is Hugo uiteraard betrokke met gemeenskapsprojekte en kan ’n mens aflei dat hy die kloof tussen veral Afrikaanse gemeenskappe oor die jare moes ervaar (9):

Die stryd om ons geliefde taaltjie,

o, die stryd om ons geliefde taaltjie.

Wat sal ons tog sê?

Dis ’n aparte ou verhaaltjie.

“Kwatryne” speel met die stuitigheid van volksverse waarvan die vierde kwatryn die vorm ten beste beskryf:

Die lakens en komberse,

ja, die lakens en komberse.

Dit raak soms lekker warm

In hierdie volkse verse.

.

’n Punt van kritiek rakende die volkskwatryne is dat, alhoewel die inhoud pitkos vir die siel is, die herhaling van die tweede reël, “ja, die …” en die res van die eerste reël, na omtrent ’n bladsy, hinderlik inwerk dermate dat hierdie leser langtand aan die res van die reeks gekou het (daar is 46 kwatryne in geheel). Dit is ’n jammerte, want die uiteindelike boodskap van meeste van die kwatryne kom neer op baie meer as blote rympies.

Hugo se gedigte oor sy vader is van die sterkste gedigte in die bundel; hiervan is “Nie Pa se gedig nie” (33) ’n absolute hoogtepunt. “Hemel, Ma!”, ’n blik op die gestorwe moeder, is tegerlykertyd deernisvol en satiries.

Met Alchemie van my muse sal Hugo lesers op hulle tone hou en ook tone laat omkrul van leesplesier: die alchemie van die woord word ’n spel tussen lig en skadu, skerpskets en Schmerz; dit is ’n  bruilof met vorm, maar ook ’n gekafoefel buite hierdie huwelik. En wie is Hugo se digterlike muse? Lees maar self en word meegevoer…

 

 

 

Resensie: Arsenaal van klank (Anna Enquist) Vert. Zandra Bezuidenhout.

Monday, December 19th, 2016

omslag arsenaal ABF01 voorplat

Arsenaal van klank. Anna Enquist (Protea Boekhuis, 2016)

Vertaal deur Zandra Bezuidenhout.

Resensie deur Gisela Ullyatt

 

Anna Enquist is ’n welbekende Nederlandse digter en romansier wat eers op 46 haar digdebuut gemaak het met Soldatenliederen (1991). Insluitend haar debuut, het sy tot op hede agt digbundels gepubliseer. Anna Enquist is egter ’n pseudoniem vir Christa Widlund-Broer. Sy is nie algemeen bekend onder Afrikaanse lesers nie en daarom is hierdie versamelbundel van vertalings deur Zandra Bezuidenhout ’n nuttige asook belangrike bydra tot lesers se kennismaking met Enquist se oeuvre.

Die titel van die bundel, Arsenaal van klank, is ook nie om dowe neute gekies nie: Enquist het ’n musikale agtergrond as tjellis en violis. Die leser word ook met die voorplat ingelei tot ’n sonore wêreld van ritme en klank.

Bezuidenhout het gemiddeld sewe gedigte per bundel gekies wat die leser aan ’n netjies ingedeelde oeuvre bekendstel. Uit Enquist se nuutste bundel, Hoor de stad (2015), word tien gedigte vertaal.

Soos genoem in ’n kort inleiding deur Bezuidenhout is Enquist by uitstek ’n digter van ’n meer vormvaste vers, alhoewel haar gedigte geensins rymdwang dreunsing of stilistiese geykthede pleeg nie. Enquist gebruik dikwels ’n objektief-korrelatief in haar verse, soos gesien in “Die solder; huweliksneurologie” (19):

Laat ons oor verslete

rugwerwels klouter

na die korteks van die huis.

Onder die swaar skedelbak

lê albei hemisfere

so rustig langs mekaar in

isomorfe spieëling,

onwetend van mekaar

se funksionering, doof, onver-

skillig teenoor mekaar se taal […]

Enquist is ook opgelei as psigoanalis: ’n gedig soos “Om te dra” (113) se eerste drie reëls getuig hiervan:

Lig is dit om so ’n kindjie te dra, styf

aan jou bors, hartjie teen hart,

appelkosie van haar oor by jou mond.

Die oorspronklike gedig se eerste tersine, “Dragen”, lui soos volg:

Licht is zo’n kindje te dragen, dicht

aan je bors, klein hart tegen hart,

abrikoos van haar oor aan je mond.

Tog is Enquist se gedigte eerder ’n suggestie van die psigoanalise en dig sy nie pertinent daaroor nie: die gedigte word gekenmerk deur ’n fyn netwerk van menslike verhoudings, veral die ouer-kind verbintenis. In “Habanera” (51) uit Klaarlichte dag (1996) word die ars poëtikale element met die ouer-kind metafoor nougeset verweef. Verder word daar fyn met die digterlike oor geluister en ook gekyk: slegs ’n deurwinterde en gevoelige digter kan ars poetica, musiek, die elemente van sneeu en vuur binne een gedig suksesvol deurkomponeer:

Die verse is so woes uit die bodem

getrek dat hulle nog lank na-gekraak het.

Toe het die letters soos as in die sneeu gelê

en nie meer beweeg nie. As iemand hulle

aanblaas het hulle effens opgevlam: ou vuur.

Daar was ’n kind. Met haar het ek

deur die kamer gedans, ons het van hoek

tot kant galop, ons het luidkeels ’n lied gesing.

Sy het ’n warm gesig gehad. Sy was my dogter.

As ek asemhaal, vonk sy na in die gedig.

Aansluitend by die ars poetica is die digter se besinning oor taal, ’n proses wat soms ontsetting meebring soos gesien in “Taal” (59):

Taal, laat my met rus. Jy leer my niks

behalwe leuens nie, laat my raai oor

die rede vir jou reëls, bars

van liefde, stik as ek my hand sny

in die deur […]

Taal is soos “klein klitsgras” of in die Nederlands, “klein hoefblad”; ’n “slymerige vlot” waarop die digter “geesdriftig” geklim het maar ook van afgly “as die hande sat is van vasklou /as jy my loslaat, taal”.

Nog ’n deurlopende motief in die Enquist-oeuvre is weemoed en verganklikheid. Enquist het haar dogter in ’n fietsongeluk in 2001 aan die dood afgestaan toe dié ’n skrale 27 was. ’n Gedig soos “Nie” met die oorspronklike titel “Niet” wat op sigself vele betekenisvlakke insluit, is moontlik vir die digter se oorlede dogter geskryf. Die gedig word in De tussentijd (2004) aangetref. Die slotstrofe word in beide Afrikaans en Nederlands aangehaal ter illustrasie van hoe getrou Bezuidenhout as vertaler aan die oorspronklike vorm en klank gebly het:

Ontredderd sien ons haar oral, maar

ryp vorm ’n kors oor haar graf

en ’n masker van marmer bedek

ons dierlike gesig.

Geschrokken zien wij haar overal maar

vorst vormt een korst over haar graf

en een masker van marmer bedekt

ons beestachtig gezicht.

 

Uit Nieuws van nergens (2010) is die verwerking van haar dogter se tragiese dood baie meer opsigtelik in die tematiek. Die digsiklus, “Januarie” (92-95) getuig veral hiervan asook “Fantoom” (97).

Met “Versoek aan die skilder” (89) word dit duidelik waarom Bezuidenhout op Arsenaal van klank as titel besluit het. Die eerste twee reëls lui soos volg:

My arsenaal van klank en taal

Bestaan in tyd. Sy nie.

Arsenaal van klank is ’n geslaagde bundel vertaalde verse uit die Nederlands wat aan lesers, hetsy bekend of minder bekend met die Enquist-oeuvre, leesplesier sal verskaf. Literêre vertaling, veral van poësie is ’n fyn kuns, iets wat maklik kan ontaard in die verdraaiing van die oorspronklike bedoeling van die digter. Bezuidenhout het gevoelig met beide  versvorm sowel as inhoud omgegaan en daarom is die bundel ’n voorbeeld van wat Flaubert le mot juste genoem het: die juiste woord.

***