Posts Tagged ‘Riana Scheepers’

Carina van der Walt. Beelde en poësie in Oos-Vlaandere

Tuesday, August 9th, 2016

In Vlaandere

In Oos-Vlaandere is daar ’n klein dorpie met die naam Lebbeke. Dit lê in die sentrum van die driehoek Antwerpen – Brussel – Gent. Lebbeke is ook suid van Dendermonde. Gedurende Augustus 2016 word die nikserigheid van hierdie dorpie ’n bietjie opgehef deur die dubbel tentoonstelling van die beeldhouer en plastiese kunstenaar MaRf en die skilder André Callebaut. Die naam MaRf is ’n pseudoniem wat sedert sy studiejare saam met die kunstenaar kom. Sy beelde bestaan hoofsaaklik uit vrou-agtige figure in brons of keramiek. MaRf is behalwe kunstenaar ook ’n groot poësieleser. Dit is natuurlik iets waarvan elke digter droom: om gelees te word. By MaRf bly dit egter nie net by lees nie. Hy vra dikwels digters om gedigte by sy beeldhouwerk te skryf. Sy kontak met digters strek wyd.

Verlede jaar het die aand van 23 Oktober tot iets moois vir my gelei. Dit was na die bekendstelling van AMALGAAM aan die Universiteit van Gent. Ek het uitnodigings van twee bekende Belgiese kunstenaars gekry om saam met hulle te werk.

Eén projek was dié van die fotokunstenaar Marie-Thérèse de Clercq: ’n reeks wat uit tien abstrakte swart-wit foto’s bestaan het met die naam I will write peace. Daarby het ek (na baie heen en weer e-pos) tien Homeriese vergelykings geskryf. Dit is reeds in Eindhoven ten toon gestel saam met die Afrikaanse klankopnames van hierdie vergelykings. Die vergelykings is nog nie gepubliseer nie.

Die ander kunstenaar was MaRf. Hy het vir my gevra om ’n gedig by een van sy bronsbeelde – een heilige mislukking – te skryf. Die naam het my dadelik aangespreek. Ek moes egter eers die beeld sien om te kan besluit of ek iets daarmee kon doen. Dit was gelukkig wél die geval. Hierdie beeld sou saam met my gedig en saam met MaRf se ander beelde plus gedigte van verskeie ander digters ten toon gestel word in die tuin van Galerie de Fontein in Lebbeke. Sy vraag was dus vir tien maande vooruit bedoel. Goeie beplanning. Wat my verder verras het, is die deelname van twee ander Afrikaanse digteresse aan hierdie selfde tentoonstelling. Riana Scheepers. Christine Brakhuizen le Roux. Sonder die breë belang van Afrikaanse poësie op die Oos-Vlaamse platteland tydens die huidige Belgiese somer sou ek waarskynlik nie dié blog vir versindaba geskryf het nie.

Dit was heerlik om nie net my eie Afrikaanse gedig nie, maar ook die gedigte van Scheepers en Barkhuizen le Roux te kon voorlees. Daar was so ’n paar besoekers wat nader gestaan het om beter die vreemd bekende tongval van Afrikaans op te kon vang. Ek het ’n enkelstaande beeld gekry om oor te skryf, terwyl beide Scheepers en Barkhuizen le Roux se beelde uit ’n stel bestaan het. Ons benaderings, met ander woorde hóé ons na die beelde gekyk het, was baie uiteenlopend. Miskien het MaRf  ook soos Breytenbach gedink: “Soveel tale soos jy kan / Zoveel male ben je man” – veral as Afrikaanse digteresse so soet oor sy skeppings koer! By Scheepers se tweelingbeelde genaamd Absurde droom wys MaRf vir my op die sprong wat sy na haar gedig se titel toe gemaak het. Hy grinnik so bietjie daaroor. Is elke vrou nie immers elke man se absurde droom nie?

rsz_1marf-gedig_&_beeld_014

Vrou

 

Wie is sy?

Hierdie deurskouende vrou

wat so puntig paraat

trots getros

wind en weer

trotseer?

 

Ek.

 

’n Digter vra verwonderd:

Wie het die rondings van jou vlees

so soepel om jou been gedraai

en watter heuwels en vallei

die wit mis van jou tabberd toegewaai?

 

Wie kan haar keer?

Hierdie deurwinterde vrou

wat so digtend dromend

weerloos verwonderd

wind en weer

trotseer?

 

Alleenlik

Ek.

 

Dit lyk asof Scheepers met die vroulikheid van die beelde en wáár hulle in die buitelug staan, kon identifiseer. Ook ek het met my beeld geïdentifiseer, maar nie met betrekking tot die fisiek vroulike kant daarvan nie. Wat het met my beeld gebeur? Hoekom lyk sy soos sy lyk? Wat het met mý gebeur? In hierdie vroeë stadium van my eie ontwikkeling kan ek net skryf dat my gedig eintlik a-tipies is. Van alles wat daar bestaan om oor te dig, is ekself die minste interessant. Kennelik het MaRf se beeld tog iets by my losgemaak.

rsz_marf-gedig_&_beeld_031

’n heilige mislukking

 

onder die Voortrekkerkappie

was haar gedagtes altyd half leeg

– is ek ’n Martha of ’n Maria –

 

maar iets het haar soos ’n klapperhaar-

matras in haar slaap aanhou steek

iets het stukkies geskiedenis uit haar

liggaam laat val     ’n bars is geslaan

deur haar lyf – haar arms is afgekap

 

tot sy met ’n gepluimde helm

haar keel op ’n stemvurk af kon stem

& haar gedagtes half vol kon sing

 

Barkhuizen le Roux het MaRf se tweelingbeelde anders geïnterpreteer. Die eie ek of die vroulike kant het geen rol gespeel nie. Sy het in die kunstenaar se vel probeer kruip. Die aanleiding daarvoor was waarskynlik MaRf se aanhaling van Willem Kloos wat hy as titel vir sy tweelingbeelde gebruik het: “Ik ben een God in’t diepst van mijn gedachten”.

rsz_4marf-gedig_&_beeld_016

kunstenaar

 

met woord en daad en brein

kon hy dit seker beter klink

tot annerlike mens van stof

geskep deur alchemis en smid

iets beter as die sienlike en sin –

 

’n beeld waaraan hy beitel

’n vorm gaaf om te onthul

iets meerder as versinsels

raaisels in spieëls gedoem

verhul as grootsheid droom en hoop

 

sy hande kap knie prutsel skaaf

pogings geplet in rou metaal

ledemaatloos oë gespleet ore verdig

longe waarin sy eie asem faal

om slegs  één hart tot klop te bring

 

soggens neem hy die taak weer op

sy harsings brand en spook en dring

om metafisiese verbeeldings nuut

tot jy oplaas tot ewebeeld verwring

ontdaan van redding rus en roem

newels in skynglas sien rinkink

: ’n prul weerkaats bly prul helaas

 

Nou staan ons drie Afrikaanses tussen drie Belgiese vrouestemme en sing. Yerna Van Den Driessche (Zottegem) en Patricia Lasoen (Brugge) is tydgenote, maar Lasoen het al in 1968 gedebuteer met Ontwerp voor een Japanse houtgravure. Van Den Driessche het eers in 2010 met die bundel Reconstructie gedebuteer. Sy is tans nogal in aanvraag vir optredes en het gedurende Juliemaand haar stem by die poësiefees in die Poëziecentrum van Gent laat hoor. Patricia De Landtsheer kom uit Dendermonde in die direkte omgewing. Sy is eintlik ’n jeugboekskrywer. Haar gedig dra net soos myne dieselfde titel as die beeld. Sy het ook ’n tweelingbeeld gehad waaroor sy geskryf het net soos Scheepers en Barkhuizen le Roux.

Natuurlik ontbreek daar nie mannestemme bij MaRf se tentoonstelling nie. Benno Barnard. Willie Verhegghe. By die beeld Icarus het Victor Vroomkoning uit Nijmegen (Nederland) die gedig Vrije val geskryf. Dit is één van die min beelde wat nie borsies het nie, maar met uitstekende manlike genitalië onderstebo hang.  Die dubbelsinnigheid van ‘uitstekende’ ontgaan my natuurlik nie. Ek haal graag strofe een aan:

 

Vrije val

 

Als giervalk hing ik in de ijle lucht aan

de vlerken van mijn vindingrijke vader.

Ontstegen aan zijn dwaaltuin raakte ik

buite mijzelf. Al maar hoger vogel

kreeg ik weidser zich. Naar de hemel

streefde ik, naar het zonneklare licht.

Godzucht bracht me in extase, lang-

zaamaan smolt alles wat ik was.

 

Danksy die kunstenaar MaRf, ons “vindingrijke vader”, mag die digters ook saamspeel en in mekaar se woorde verdwaal in hierdie beeldetuintjie half weggesteek tussen baksteenmure en struike. En kom jy as digter ooit in Gent? Vergeet dan nie om by die Poëziecentrum te vra na die poësieroete nie. Gaan stap dit gerus. Dis permanent ingerig en ook een van die Gentenaar MaRf se breinbabas.

rsz_marf-gedig_&_beeld_006

 

Philip de Vos. TATAM TATTA TAM TATTA TAM

Monday, July 7th, 2014

(illustrasie: Piet Grobler)

Die ander dag kry ek ’n kopie van Riana Scheepers en Leti Kleyn se lywige Die Afrikaanse skryfgids present, en ek dink: A, nou kan ek my gebrekkige kennis van poësie aanvul. En daar was inderdaad ’n agttal artikels oor die skryf van poësie. En daar leer ek toe sommer ’n paar slim woorde ook wat ek sommerso terloops in ’n gesprek oor die poësie kan laat in glip: woorde soos Cinquain, Tanka, Pantoen, Rondeau en Triolet – al het ek g’n idee op aarde wat enige een hiervan beteken nie.

Die woord limerick ken ek wel, maar omdat hierdie skryfvorm seker nie slim genoeg is nie, word dit in hierdie boek totaal geïgnoreer seker omdat dit as skryfvorm minderwaardig beskou word.

Minderwaardig, miskien in party slimmes se boekies, maar vir my is dit die ideale manier om kinders (en ‘n paar gewillige grootmense) iets van die plesier van rym en metrum te leer.

Hoeveel keer het ek dit nie al raakgeloop nie. Almal praat van my limericke – of dit nou agtreëlig is of ‘n sage van 12 bladsye. En as ek so dan en wan by poësiekringe gaan gesels, en ek vra wat is ‘n limerick,  sal daar miskien een persoon wees wat huiwerig die hand opsteek en ‘n antwoord waag – en sê dat dit ‘n soort versie is. Ek het daarom al lankal die besluit geneem – ek gaan nooit, ooit weer limericke skryf nie, ligte versies miskien so nou en dan, maar limericke nooit weer nie.

Vandag gaan ek onderwyser speel, en verskoon my, want ek het selfs al  sogenaamde limericke van die “grotes” in ons letterkunde gesien wat dit gewaag het om een êrens op ‘n webblad te publiseer voordat dit weer gelukkig in die kuberruim verdwyn het om genadiglik nooit weer gesien te word nie, want as iets vrot is, is dit vrot.

‘n Limerick is plain en simple, die volgende: Dit is ‘n vyfreëlige versie met ‘n bepaalde rymskema en dit is altyd oor ‘n persoon of die plek waar hy woon en dit is gewoonlik stout met ‘n skop in die laaste reël en begin gewoonlik so:

‘n Dame van Somerset-oos

of

‘n Omie van Baardskeerdersbos

of

Die goeie nig Bettie Viljoen

of

Die lelike Gawie van Schoor

Die moontlikhede is eindeloos. Loer maar gerus in die Telefoongids vir dié wat nog steeds so-iets besit en nie net op hulle Blackberries staat maak nie.

Die ander is die Poskode-boekie – en dit is presies wat ek gedoen het toe ek my Die Worcester Asporcester, die eerste van my drie limerickbundels geskryf het.

(illustrasie: Cora Coetzee)

Daar is natuurlik ‘n bepaalde rymskema, wat alreeds deur Edward Lear in die Victoriaanse tydperk gebruik is:

 

There was an old man with a BEARD

who said, “It is just as I FEARED –

Two larks and a hen,

four larks and a wren

have all made their nests in my BEARD.

(illustrasie: Edward Lear)

Hierdie limerick is baie flou vergeleke wat daar vandag te lese is, byvoorbeeld in die boek Limericks – The famous Paris edition, met die een viesliker as die ander, en omdat ek ordentlik grootgemaak is, kan ek net twee van die meer onskuldiges aanhaal:

There was a young man of Cape Horn

who wished that he’d never been born.

And he wouldn’t have been

if his father had seen

that the end of the rubber was torn.

 

en

 

There was a young plumber of Lee

who was plumbing a girl by the sea.

She said: “Stop your plumbing!

There’s somebody coming!”

Said the plumber still plumbing, “It’s me!”

 

Dit is maklik genoeg om vulgêr te raak. Terloops ek ken al die woorde wat met P begin danksy die HAT, en ek probeer stout raak op ‘n ander manier, want by ‘n goeie limerick lê die skop in die laaste sin, of selfs by die laaste woord.

(illustrasie: Piet Grobler)

 

‘n Kerel van Onderstepoort

was glad nie ‘n man van sy woord.

Hy nooi Koeks Maree

vir koekies en tee,

maar eintlik vir onderste poort.

 

Die goeie tant Hentie Breda

se man het haar vreeslik gepla

en toe sê tant Hentie:

“Ag, los nou my pentie.

Hou op om my klere te dra!”

 

En die metrum – doodeenvoudig: Lees ‘n limerick  altyd  hardop: Lê klem op die TAM-gedeeltes – dié wat met hoofletters geskryf is en en dan is die metrum perfek:

ta TAM tattaTAM tattaTAM

ta TAM tattaTAM tattaTAM

taTAM tattaTAM

taTAM tattaTAM

ta TAM tattaTAM tattaTAM

 

‘n Meisie wat woon in Tzaneen

gesels met haar niggie Maureen:

“Ek hou van ‘n ou

met ‘n fris kabeljou

en nie ‘n verlepte sardien!”

 

‘n MEIsie wat WOON in TzaNEEN

geSELS met haar NIGgie MauREEN:

ek HOU van ‘n OU

met ‘n FRIS kabelJOU

en NIE ‘n verLEPte sarDIEN

 

En om dit nog makliker te maak, tik op die volgende onderstaande klanksnit en luister dan hoe dit werk.

LIMERICK KLANKSNIT

 

Skryf nou ‘n limerick, en as dit op hierdie wysie gesing kan word, is dit perfek en as dit nie gesing kan word nie, werp dit in die diepste duisternis en begin van vooraf

Makliker kan ek dit nie maak nie. Ek het hierdie selfde wysie vir ‘n baie belowende jong digter/onderwyser De Wet Hugo in Jeddah gestuur en hy het onmiddellik daarna vir my limericke met perfekte metrum gestuur.

 

Ek was vir 15 jaar onderwyser, en vanaand was ek dit weer.

(illustrasie: Cora Coetzee)

Louis Esterhuizen. Handeklaptyd vir ‘n besonderse publikasie

Friday, July 27th, 2012

Vanoggend wil ek met volle oorgawe handeklap vir ‘n uiters nodige en skitterende publikasie: Die Afrikaanse skryfgids wat deur Riana Scheepers en Leti Kleyn saamgestel en deur Penguin uitgegee is. Volgens die flapteks, die volgende: “Hierdie omvattende gids – die eerste in sy soort in Afrikaans – is gemik op almal wat meer van die skryfkuns, skryftegnieke en die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf wil weet. Die medewerkers, almal gerekende skrywers op hul onderskeie spesialiteitsgebiede, stel die inligting op ‘n toeganklike manier bekend. Hulle deel hul ‘fabrieksgeheime’, praktiese raad ten opsigte van die skryfproses wat oor lang jare van frustrasie en foute ontwikkel is, nou ruimskoots met voornemende skrywers. Niemand hoef in dieselfde slaggate te trap nie.”

En dit is presies wat hierdie boek bied: ‘n omvattende gids vir enige skrywer; apsirant-skrywer of nie. Insiggewend en onderhoudend van die eerste afdeling wat oor die skryfproses handel tot die laaste afdelings oor die wêreld van skryf en uitgewersake; met tussendeur uitgebreide afdelings oor verskillende prosa-genres, poësie, drama (ook vir TV en film), media en nie-fiksie.

Uiteraard interesseer die afdeling oor die digkuns ons en hier kan inleidende beskouings deur Hans du Plessis en die uwe gevind word, asook bydraes deur Gilbert Gibson (Elemente van die poësie), Marthinus Beukes (Digvorme), Bernard Odendaal (Vrye vers vs. tradisionele vorme), Leti Kleyn (Konkrete poësie), Andries Bezuidenhout (oor die kwessie van poësie as liriek) en Henning Pieterse oor poësievertaling. Nog ‘n besonderse bydrae is Leti Kleyn se tong-in-die-kies uiteensetting van wat jy nooit in óf aan ‘n gedig moet doen nie.

By wyse van lusmaker plaas ek graag die volgende kort aanhalings uit die onderskeie bydraes:

“Poësie, meer as prosa, is verder ook die woordkuns van beweging. Dit hou verband met patroonmatige herhaling. Metrum word geskep deur patroonmatige herhaling, byvoorbeeld die rymende “m” en “n”. Metrum word ook geskep deur ander soort herhalings, byvoorbeeld die beelding wat telkens met plante en reuk te make het. Metrum is soos die klippie wat ‘n mens in ʼn stil waterpoel laat val: Dit veroorsaak patroonmatige herhaling en metrum skep uiteindelik die ritme, waarsonder geen poësie kan klaarkom nie. Luister net na die ligtheid van die beweging in hierdie fragment en die sagtheid van die rymklanke, ook die rymende vokale (assonansie). So lig en lekker soos die gedagte.” (Hans du Plessis)

“Die punt is: poësie is nie verdun nie. Dit is gekonsentreer tot die absolute. Om presies hierdie rede word verse bewerk. Gepuur.  Oor en oor en oor geskryf, sodat dit van oordaad gestroop word. Die suksesvolle digter (wat die term ook al mag beteken) skryf verse talle male oor, bewerk en verander dit. Sodat die gedig tot stand kom as ‘n essensie, ‘n essensie nie net van taal nie, maar van waarheid. Die ware gedig is waarheid.  Al is daardie waarheid gelieg. Prosa is dikwels ook waarheid, maar daardie waarhede verskil. Die waarheid van prosa strek na buite. Die waarheid van poësie gaan na binne. Dit beteken:  in prosa gebeur die tersaaklike aksie buite die verhaal, soos op straat of in die bed of waar ook al. In poësie is die gebeure in die gedig, deel van die gedig self. Die buitewêreld word organies deel van die gedig self, en daarom is alles wat deel vorm van die gedig van belang. En dus ‘n onderdeel van ‘n nuwe waarheid.” (Gilbert Gibson)

“In digkuns is struktuur die gietvorm vir die digter se inspirasiestof. As in gedagte gehou word dat die woord “poësie” uit Grieks ontleen is en beteken “om te maak”, is dit vir digters maklik om aan die hand van ‘n plan, program of bloudruk ‘n gedig te “maak”. Die digter kan ook gesien word as “ambagsman van die woord”, of soos die titel van die hoofstuk formuleer, die gedigvorm as alkantbyl wat veelkantig kap, waardeur die meerdimensionele aard van die gediginhoud in spesifieke vorm, dinamiese waarde kry. Dit is natuurlik voor die hand liggend dat ‘n ambagsman sy instrumente moet ken om ‘n goeie produk te maak. Wanneer ‘n digter ‘n spesifieke vorm kies as voertuig vir sy boodskap, is kennis van die spesifieke digvorm deurslaggewend.” (Marthinus Beukes)

“In vrye vers kom elke “inhoud” uniek sáám met sy “vorm” tot stand. Vry beteken nie vormloos nie. Die vrye vers dwing selfs méér verantwoordelikheid aan die digter op: Elke reëlbreuk, verssnit, enjambement, strofe-indeling moet verantwoord kan word in terme van betekenisvergestalting. En omdat die tradisionele patroonvormingsmiddele prysgegee word, tree ander struktuurbeginsels op die voorgrond om tekseenheid te bewerkstellig: samehang van woordeskat- en beeldkeuses, sins- en versbouherhalingspatrone … Die vryeversvorm is aantreklik weens die uitdrukkingsoepelheid wat dit bied. Prysgawe van die rigsnoere van die vaste(r) vorme beteken egter dat die digter nou uitsluitlik op intuïsie en ervaring moet staatmaak. Oewerlose moontlikhede; ongekende uitdagings.” (Bernard Odendaal)

“Konkrete poësie is tekste waarin die wit ruimtes as stiltes selfs ‘n groter rol speel as die gedrukte woorde op die papier, en wil nie bloot gelees word nie, maar ook na gekyk word, want ‘n konkrete digter lê klem op die aanbieding en die oppervlak, eerder as die betekenis of die interpretasie van die gedig. “Hopefully, most of the sentences you make up, won’t mean much of anything, for your task is to work not for meaning but for intriguing combinations of words and phrases and a playful assemblage of sound,” verduidelik Steve Kowit in In the palm pf your hand die kruks van die snippergedig.” (Leti Kleyn)

“‘n Goeie riglyn is om van geykte uitdrukkings af weg te bly. As jou woorde jou aan iets herinner wat jy al voorheen gehoor het (al mag dit dalk ‘n treffer word), is dit ‘n teken dat jy in clichés verval. Vind ‘n onkonvensionele manier om die ding te beskryf. David Kramer se ‘Meisie sonder sokkies’ is immers slegs een keer vars.” (Andries Bezuidenhout)

“Die vertaling van poësie is dan hoogstens ‘n ‘benadering’ (approximation), ‘n tentatiewe punt in ‘n voortdurende proses wat selde afgesluit kan word. Dit is voorts ‘n selde opgeloste stryd tussen die twee “pole” van getrouheid aan en vryheid ten opsigte van die oorspronklike teks. Elke vertaalde gedig is net ‘n tydelike weergawe in ‘n sekere register, idioom en styl wat deur verskeie kultureel-, tyd-, en sosiopolities bepaalde faktore gestuur word; elke generasie moet opnuut vir homself vertaal.” (Henning Pieterse)

“Ken jou poëtiese verlede en jou hede. Weet in watter tradisie jy werk, en watter ander digters daar is wat dieselfde temas as jy ophaal. Kyk met ‘n arendsoog hoe hierdie digters die verse hanteer. Weet ook hoe lyk ‘n gedig en speel met tipografie net as dit nodig is – hoeveel bundels het jy al gelees waar die gedig soos ‘n galg in die middel van die bladsye hang of hoeveel Antjie Krog bundels is besmet van die raampies om die gedigte?” (Leti Kleyn)

Afgesien van die onderhoudende trant van die onderskeie bydraes, is dit veral die gevoel van verwondering wat die leser tref; die besef dat die digkuns inderdaad groter en belangriker is as enige individu. En die vreugde wat daarin opgesluit lê om op welke manier ook al daarmee gemoeid te kan (mag) wees.

Daarom, ‘n laaste aanhaling:

“In essensie het die digkuns met ons intuïtiewe belewenisse te make en as sodanig het dit geen rakleeftyd óf noodwendigheid nie. Jy lees ‘n vers vandag en dit laat jou koud; jy lees dieselfde vers oor ‘n paar weke (of maande) weer en meteens voel dit asof die boonste gedeelte van jou kop weggeblaas word. Dit is die poësie. Dit is die krag en die noodsaaklikheid daarvan. Iets om te geniet. En te koester as iets van uitsonderlike waarde. Soos Stanley Kunitz gesê het: ‘Poetry is language surprised in the act of changing into meaning.’ Inderdaad, met die hart van die mens as voedsel en duisende woorde as blare. En as sodanig is dit geen geringe prestasie nie.” (Louis Esterhuizen)

Ten slotte plaas ek ‘n uitnoding na die bekendstelling van dié publikasie hieronder. Kom woon gerus dié vreugde by indien jy jou op 8 Augustus in die omstreke van Stellenbosch bevind.

***