Posts Tagged ‘Riku Latti’

Andries Bezuidenhout. Bacchus Nel en die dobbelstene

Sunday, February 3rd, 2013

So op ʼn Sondagoggend, ʼn mooi stuk musiek uit die snare van Bacchus Nel. Ek hou van die verwysings na Adam Small in die liriek. Bacchus Nel sing en speel kitaar. Riku Lätti speel trekklavier. Dis deel van Riku se Wasgoedlynprojek, waartydens hy sangers se musiek sommer by hulle huise of in die buitelig opgeneem het – musiek soos dit aan die wasgoedlyn sou hang, nie die lywe van mannekyne nie. Mooi fotografie as video vir Bacchus se “Die dice val”. Gaan loer gerus hier in.

Hier’s die liriek:

Ek’s ʼn donker man onder die middernagmaan
deur die lewe ontnugter, deur die liefde dronkgeslaan
ek was al op daai stasie en ek was al op daai trein
in die storm onder die brug geskuil

en die meeste dinge kan ek bepaal
ja, behalwe die way wat die dice val

ek was al in seks en satyn se kloue
in die lam se kamp, in die leeu se kake
langs die duiwel se vuur, op die engel se spoor
ek was al in kerke, en ek was al in kroeë

en die meeste dinge kan ek bepaal
ja, behalwe die way wat die dice val

ek was al in die gutter, op die rooi tapyt
by die voordeur in en agter uit
saam met die konings en saam die slawe
ek het al gegee en ek het al gebedel

en die meeste dinge kan ek bepaal
ja, behalwe die way wat die dice val

Lees hier meer oor Riku se wasgoedlynprojek. Daar is ook ‘n nuwe toonsetting van Breyten Beytenbach se “Slaap klein beminde” deur Laurinda Hofmeyr.

Andries Bezuidenhout. Gedigte en musiek hierdie Saterdag

Tuesday, January 12th, 2010

Die opkomende digter en lid van die band Radio Suid-Afrika, Niel van Deventer, het ʼn program met poësie en musiek saamgestel wat eerskomende Saterdagaand (16 Januarie) by Steak & Ale in Bothalaan, Lyttelton, plaasvind.

Die volgende digters en musikante tree op: Andries Bezuidenhout, Rian Malan, Kabous Verwoed, Riku Lätti, John-Henry Opperman, Niel van Deventer, Karlien van der Merwe, Pieter de Jager (van die Tuin Dwergies), Melanie van As en Francois Brill.

Kom ons hoop Kabous is nie weer hierdie keer in ʼn motorongeluk betrokke nie en is in staat om op te daag vir die geleentheid.

Sien julle daar!

Andries Bezuidenhout. Twintig jaar na Voëlvry

Tuesday, October 13th, 2009

Groete uit die lieflike stad Windhoek. Ek luister musiek op my rekenaar. By Aardklop stop Angola Badprop my ʼn CD in die hand: “Twintig Jaar Later: Van Voëlvry tot Fokof.” Laasgenoemde verwys natuurlik na Fokofpolisiekar.

Angola, oor bekend as Jaco Nel, het veertig songs versamel om Afrikaanse rock die twintig jaar na die Voëlvrytoer te verteenwoordig. Ek skat hy is reg as hy Fokofpolisiekar as die grootste fenomeen ná Voëlvry beskryf. My eie projek – die Brixton Moord & Roof Orkes – kry ook darem ʼn plekkie in die geskiedenis.

Die kassie bevat twee CD’s. Die eerste een verteenwoordig die rock bands voor daar video’s op MK (aanvanklik MK89) was. Dit sluit mense soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Bacchus Nel, Karen Zoid, Beeskraal, Diff-olie, Trike, Riku Lätti, ens. in. My orkes word ook hier ingegooi. Op die tweede CD is die meer onlangse rebelle, soos Fokofpolisiekar, Straatligkinders, Zinkplaat, Foto Na Dans, Willim Welsyn en NuL. Sommige van die ouer en standhoudende bands, soos Battery 9 en Kobus!, is op albei CD’s verteenwoordig.

Dis natuurlik altyd moeilik met die samestelling van sulke versamelings. CD’s kan net ʼn beperkte massa data akkommodeer. Wie sluit jy in, wie laat jy uit? Van wie sluit jy meer as een song in? Ek hou nogal van die keuses – van my persoonlike gunstelinge is daar, soos Bacchus Nel se “Herfsman” en Piet Botha se “Goeienag Generaal.”

Ek wonder egter oor een ding. Soos Mr Mac and the Genuines destyds uit die Voëlvry-geskiedenis gelaat is, vind ons ook byvoorbeeld nie vir Prophets of da City, Brasse vannie Kaap, of Kallitz in die versameling nie.

Is dit omdat hip-hop nie as rock beskou word nie? Ek wonder maar net.

Gaan luister ʼn bietjie na Kallitz hier.

Andries Bezuidenhout. Bondige verslag oor gisteraand se poësievoorlesing

Friday, June 12th, 2009

Daar was nie dwerge met silwer skinkborde vol lyne kokaïen wat tussen skares met honger neuse rondloop nie. Daar was nie burleske dansers wat “allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” prewel nie. Daar was nie joernaliste van die smetpers om mense se indiskresies te boekstaaf nie. Daar was blykbaar van die jonger geslag sepiesterre, maar ek besit nie ʼn TV nie en kon hulle dus nie eien nie. Daar was ʼn hele paar stoele sonder boude. Ek weet nie eers of al die kopieë van In die begin was die woord eienaars met CD-spelers gekry het nie.

Maar dit was ʼn wonderlike aand met baie hoogtepunte. Ek is vanoggend (is dit nog oggend?) te moeg om alles neer te skryf. Ek het drieuur deur digte mis terug Johannesburg toe gery. Dalk was die hoogtepunt vir my toe Henning Pieterse soos ʼn monnik wat blasfeem sy gedigte deur die mikrofoon lees terwyl Riku Lätti met ʼn bierglas musiek op sy snare maak.

Ek dink dit was Niel van Deventer wat gisteraand vertel het van die blog wat hy vir homself skryf. Dis seker maar wat ʼn mens met ʼn blog doen – vir jouself skryf. Ek sal later, as ek meer energie het, vollediger vir myself verslaglewer.

Woensdag, 10 Junie 2009

Wednesday, June 10th, 2009
Steak & Ale, Lyttelton

Steak & Ale, Lyttelton

Op sy blog-inskrywing verlede Vrydag vertel Andries Bezuidenhout van ‘n wonderlike geleentheid môre-aand, 11 Junie, by die Steak & Ale in Lyttelton. ‘n Hele span digters en musikante gaan naamlik die koue aanvat en daarvan iets plesierigs maak. Die digters wat gaan optree, is: HJ Pieterse, Johannes Prins, Ronel Nel, René Bohnen, Braam Smit, Niel van Deventer en Kabous Verwoed (wat gedigte lees op die maat van musiek deur Dawie de Jager) en (dalk) Martjie Bosman. Die musikante is Andries Bezuidenhout, Brixton Barnard, Riku Lätti en Jon-Henry Opperman van Klopjag. Wat ‘n program! En dit alles net vir R60, met kaas en wyn ingesluit. (Kyk hier vir al die inligting.)

Terloops, ons sien uit na jou verslag hieroor, Andries, want hierdie ene gaan ‘n gróóte wees; inderdaad, ‘n bloubulgeleentheid soos min. Sterkte vir julle almal, en ja – ons beny julle dié vreugde; veral om Die Hertog weer in aksie te kan sien! Ai, ai, ai. (As lusmaker kan julle solank Carina Stander se skitterende artikel, Die Heelalburg van Hertog Bloubaard, hier lees.)

Mooi bly.

LE

Andries Bezuidenhout. Woorde teen die winter…

Friday, June 5th, 2009

Gautengers, kom tog Donderdagaand, 11 Junie Steak & Ale toe! Ek hou van hierdie kroeg en restaurant in Lyttelton deels omdat dit so ‘n onpretensieuse venue is. Dis in Bothalaan langs ‘n treinspoor. Toe Koos du Plessis nog gelewe het, het hy daar uitgehang, alhoewel die plek toe ‘n ander naam gehad het. Dis in ‘n tipiese voorstedelike winkelsentrum met ‘n swop shop en ‘n apteek. Agter die verhoog is ‘n groot skildery van James Phillips en teen die een muur is ‘n opgestopte koedoekop. Die plek binne het egter ongelooflike akoestiek, deels weens die grasdak bo die kroeg, en ‘n killer ingeboude klankstelsel.

Die foto hier bo is daar geneem tydens ‘n tribute show aan Johnny Cash. Van links na regs is Piet Botha, Kapelaan Pat Plank, Paul Riekert en Jim Neversink. Maar dit was ‘n vorige geleentheid. Kom geniet hierdie Donderdagaand ‘n aand met Afrikaanse gedigte en musiek om die koue uit die winter te haal. Die eerste 50 mense wat bespreek kry gratis ‘n CD – “in die begin was die woord”, met gedigte en musiek van mense soos Gert Vlok Nel, Charl-Pierre Naude, Ronel Nel, Danie Marais, Paul Riekert, Henning Pieterse en Riku Lätti.

Digters wat van hul gedigte gaan voorlees is HJ Pieterse, Johannes Prins, Ronel Nel, René Bohnen, Braam Smit, Niel van Deventer en Kabous Verwoed (wat gedigte lees op die maat van musiek deur Dawie de Jager). Ek probeer nog om vir Martjie Bosman te oortuig om ook te kom. Die musikante vir die aand is ek, Brixton Barnard, Riku Lätti en Jon-Henry Opperman van Klopjag.

Almal hier ken vir Hennig Pieterse, so dis nie nodig om hom voor te stel nie. Ek is veral opgewonde omdat beide hy en Riku daar gaan wees. Riku het baie mooi toonsettings van Henning se gedigte gedoen.

Jo Prins was verantwoordelik vir “Leketaal”, ‘n gewilde rubriek oor digkuns in By, en is in die Nuwe Stemme-reeks gepubliseer. Ons kan uitsien na sy debuutbundel wat later hierdie jaar gepubliseer word.

Kabous Verwoed is onder andere bekend vir sy CD “Beenkamers en Gange”, waarop hy gedigte saam met musiek voorlees. Hy en Dawie de Jager het al meer as 50 keer reg oor die land saam opgetree en in die proses hulle verhoog gedeel met mense soos Bacchus Nel, Gert Vlok Nel, Riku Latti en Albert de Vos.

Ronel Nel se gedigte is in verskeie versamelbundels gepubliseer en haar debuutbundel “[en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark]” het in 2002 by Protea Boekhuis verskyn. Sy is ook verantwoordelik vir die saamstel van die CD “In die begin was die woord”, wat digkuns en musiek kombineer.

René Bohnen debuteer in 2000 met die bundel “Spoorsny” (finalis vir Ingrid Jonker-prys in 2001). Haar gedigte word ook in verskeie bundels en opgeneem asook in Ian Raper se CD-verse “Klikspinger”. Haar werk figureer ook op die Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn (Haikoes – gebede vir die landskap, die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe se installasie) wat later in ‘n feesbundel verskyn.

Braam Smit is ‘n digter van Pretoria wat self betrokke is by die organisering van geleenthede waartydens gedigte voorgelees word, gereeld ook in kombinasie met musiek. Van sy gedigte is gepubliseer in versamelbundels in Suid-Afrika en Nederland.

Niel van Deventer het in 2006 as musikant begin naam maak as die frontman van die Afrikaanse folk-rock groep Radio Suid Afrika. Hulle musiek het veral vanweë sy sterk lirieke hard geslaan en weldra het hy ook as skrywer en digter die oog gevang.

Oor die musikante net die volgende: Brixton Barnard is ook bekend as Drikus van die voormalige Brixton Moord & Roof Orkes. Saam met Esmé Evakwaad, sy partner in crime in die duo Trike, het hy al ‘n hele paar CD’s vrygestel. Hy is op die oomblik besig om aan ‘n solo-CD te werk. Riku is al ‘n gevestigde naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Hy is ook besig om gehore in Nederland en België met sy musiek te bekoor. Sy eerste trippel-CD, “Tussen Kontinente”, is pas uitgereik. Dis ook Riku se verjaarsdag! Jon-Henry Opperman is natuurlik die front man van die immer gewilde Klopjag kom doen ‘n paar solo-tunes.

Datum: 11 Junie 2009; Tyd: 19h00 vir 19h30; Toegang: R60 per persoon, sluit kaas en wyn in. Wyne geborg deur Vrede en Lust wyne. Tafelbesprekings: (012) 664 5155

Aanwysings hier.