Posts Tagged ‘Robert Farrar Capon’

Johann Lodewyk Marais. Marthinus Versfeld (2)

Sunday, December 6th, 2009

Marthinus Versfeld is op 11 Augustus 1909 gebore. Hy het aan die South African College Schools (SACS) skoolgegaan, aan die Universiteit van Kaapstad studeer en in 1934 ‘n doktorsgraad aan die Universiteit van Glasgow behaal. Vanaf 1937 was hy verbonde aan die Departement Filosofie van die Universiteit van Kaapstad, waar hy in 1970 ‘n professor geword het. Hy het hom glo min aan administratiewe sake gesteur en nooit ‘n senaatsvergadering bygewoon nie. In 1974 het hy afgetree. Hy het eredoktorsgrade van die Universiteit van Kaapstad en die Randse Afrikaanse Universiteit (tans die Universiteit van Johannesburg) ontvang. Versfeld was getroud met Barbara (hy verwys meermale na haar as sy “Penelopeia”) en het nege kinders gehad. Op 18 April 1995 sterf hy in sy huis.

Oor die jare heen het Versfeld as deel van sy sowat dertig boeke en ander publikasies ‘n klompie essaybundels in Afrikaans en Engels die lig laat sien. As kenner van die Middeleeuse filosofie en die werk van Augustinus het hy internasionaal lof ingeoes. Met Food for thought: A philosopher’s cook-book (1983) het hy in die trant van Capon se The supper of the lamb ‘n klassieke werk vol verwondering oor kosmaak gelewer.

By Versfeld kry ‘n mens selde “droë filosofie” en boekhandelaars het nie altyd geweet op watter rak sy boeke hoort nie. Die essays in bundels soos Klip en klei (1968), Tyd en dae (1982) en Die neukery met die appelboom (1985) handel immers oor dinge soos huise, klippe, koskook, bergklim, hengel en jag. Hy het ook baie waarde aan vakmanskap geheg. Hy vertel byvoorbeeld trots hoe hy gehelp het om die berghut by Waaihoek in die Worcesterse berge te bou en self sy huisie in die Kouga aangepak het. Hierdie gerigtheid op die konkrete besorg aan sy werk ‘n minder verliteratuurde karakter as dié van sy tydgenote. Die meeste van sy boeke was nooit bedoel as handboeke vir studente nie; bergklimmers en natuurliefhebbers kan wel heelwat leer uit Berge van die Boland (1947 en 1965), wat hy saam met W.A. de Klerk geskryf het, en Die buitelewe (1970).

Die kwessie van mag en staatsfilosofie het Versfeld redelik koud gelaat. Hy bemoei hom ook nie direk met die eietydse filosofie nie, maar wel met eietydse vraagstukke wat hy dikwels toelig met verwysings na filosowe soos Sokrates, Augustinus en Thomas Aquinas. Opvallend is ook hoe die vraagstelling in sy werk voorop staan en hoedat die een onderwerp gemaklik uit die ander voortvloei. Dit maak sy essays minder gestruktureerd en oënskynlik nie tot in die vesels afgerond nie.

Hy vertaal ook Plato en die Chinese digter Lao-Tse in Afrikaans en verryk sy geskrifte met perspektiewe uit die werk van Oosterse denkers.

“Jan van Riebeeck het in die Kaap ‘n tuin kom aanlê vir die reisigers na die Ooste, maar ons het nog nie in die Ooste uitgekom nie,” het Versfeld by geleentheid vir my gesê.

Waarvoor Versfeld vandag baie erkenning moet kry, is die vroeë insig dat daar ‘n wanverhouding tussen die mens en die omgewing bestaan. Hy het venynige kritiek op die sewentiende-eeuse Franse filosoof van die Verligting, René Descartes, gelewer, omdat Descartes beweer het dat die mens met analitiese denke besit en beheer van die natuur kon kry. Versfeld het, soos Martin Heidegger, sy rug op die tegniek gekeer. Hy het nooit ‘n motor, ‘n tikmasjien of ‘n rekenaar besit nie.

Johann Lodewyk Marais. Marthinus Versfeld (1)

Thursday, December 3rd, 2009

In my studentedae was ek ‘n keer in Kaapstad as ‘t ware op Marthinus Versfeld se spoor. Ek het toe al Klip en klei (1968) gelees en was vasbeslote om meer uit te vind oor dié man, want ek het iewers gelees dat die skrywer Anna M. Louw hom “ons skitterendste denker” genoem het. 

By Nasboek in die Grootekerkgebou het ek nog van sy boeke in die hande gekry. Die verkoopsdame (waarskynlik die legendariese Ena Marais) het my ook vertel Versfeld se suster besoek die winkel gereeld en kan my met hom in aanraking bring.

Dit volgende dag was daar sowaar ‘n kaartjie van die suster met ‘n adres: Chapelweg 6, Rosebank. Ek het koers gekry soontoe en voor ‘n dubbelverdiepinghuis aangekom. Op die tuinhekkie was ‘n naam: “Blyde Huis”. Terwyl ek verby die groot magnolia na die voordeur gestap het, het ek my verwonder aan die voortuin waar heelwat onkruid tussen die rose en kruieplante te sien was.

Versfeld het oopgemaak. Asof hy my verwag het, het hy my na sy ruim studeerkamer links in die gang genooi. In ‘n hoek was ‘n enkelbed waarop hy voor die tyd in een van Margaret Roberts se kruieboeke lê en lees het. Hy het in ‘n leunstoel voor ‘n boekrakkie met Afrikaanse digbundels gaan sit. Ek het rondgekyk en soveel moontlik van die vertrek probeer inneem. In dié filosoof se werk speel huise en woon immers ‘n sleutelrol.

Toe hy hoor ek studeer in Pretoria het Versfeld gegrinnik: “Jy weet, toe die Voortrekkers by die Oranjerivier kom, was daar ‘n bordjie waarop geskryf is: ‘Moenie verder trek nie!’ Dié wat kon lees, het op die plek omgedraai en die res het verder getrek.” Hy het weer gelag en ook kort-kort in die gesprek so gemaak.

Een keer het Versfeld opgestaan en uit een van die rakke ‘n boek gehaal. Weer het hy op sy stoel gaan sit by die lig wat die magnolia voor die venster laat vervaag het. Hy het in die Amerikaanse priester en skrywer Robert Farrar Capon se The supper of the lamb: A culinary reflection (1967) geblaai, betekenisvol na my gekyk en gelees:

“[P]eel an orange. Do it lovingly – in perfect quarters like little boats, or in staggered exfoliations like a flat map of the round world, or in one long spiral, as my grandfather used to do. Nothing is more likely to become garbage than orange rind; but as long as anyone looks at it in delight, it stands a million triumphant miles from the trash heap.”

Ook by latere besoeke het Versfeld graag voorgelees uit een of ander boek of manuskrip waaraan hy in sy leunstoel met sy potlood aan die werk was. Byna sonder uitsondering het ons ook ‘n draai by die kruie voor en agter die huis gaan maak. Daar het ek ‘n hele klompie kruiesoorte vir die eerste keer gesien.

Versfeld het sy huis “die huis van die vier winde” genoem, want daar is graag saam gekuier en geёet. Ek kon met vrymoedigheid van my vriende aanmoedig om hom te gaan opsoek. Vir die onverwagse besoeker is daar selfs ‘n ekstra plek gedek. Vir dié wat nie beskore was om hom langs die viswaters, tydens bergklimtogte en op sy plasie in die Kouga te vergesel nie, was die besoeke aan “Blyde Huis” by dié man met sy wêreldse wysheid meer as genoeg vir ‘n leeftyd se verwondering.