Posts Tagged ‘Robert Pearce’

Onderhoud met Clinton V. du Plessis

Thursday, May 31st, 2012

 

  

‘n Kwerekwere in die Townships van die Taal?

Robert J Pearce (RJP) in gesprek met Clinton V du Plessis (CVdP) – 25 Mei 2012

 

Clinton V.  du Plessis – Biografiese Skets

Gebore op die destydse spoorwegdorpie, Cookhouse. Kom uit ‘n werkersklas-agtergrond, min aanvanklike blootstelling aan boeke, behalwe vir Republikeinse Pers se foto-verhale! Toe ek later  in dorpe kom met biblioteke het ek my voorliefde vir boeke, en dan veral die Afrikaanse letterkunde, ontdek. Ek het reeds ses dig- en twee kortverhaalbundels gepubliseer. Na die einde van die jaar verskyn Spoorloos – ek noem dit “Essays, mymeringe en kantaantekeninge.” As ek my nie met woorde besig hou nie, maak ek ‘n lewe uit syfers, as rekenmeester.

(RJP): Jou nuwe bundel – self uitgegee, getiteld: “Flitse“- hoekom juis die Titel? Vertel bietjie meer van die inhoud van Flitse

omslag

omslag

(CVdP): Flitse is ontleen aan D J Opperman se gedig, Man met flits. Die gaan oor die digter as Woordgod. Die skepper wat vergeefs probeer sin soek in ‘n samelewing waarin die aanbod van onbruikbare informasie en menings so oorweldigend is. Die gedigte is kort, in die trant van twitter-boodskappe. Die nuwe sosiale netwerkgenerasie se briewe in bottels wat miljoene per dag die kuber-oseaan ingestuur word.

(RJP): Self uitgee vs. die Gevestigde Uitgewers: Jy het al uitgegee onder “Gatsakgedigte”, en tans “Ama-Coloured Slowguns”. Is dit ‘n aanduiding van Clinton se eie rebelsheid en ‘n teken van: ek sal nie die Gevestigde Uitgewers soebat nie – ek is trots en sal hand in eie sak steek en my eie werk uitgee? Of is ek verkeerd, want jou werke is al uitgegee deur: Perskor (geloofsbelydenis van ‘n kluisenaar;1984) en saam met Peter Snyders: Brunch met Twee (2001)-Contentlot Uitgewers.

(CVdP): Perskor was my debuut, dus was dit op daardie tydstip goed om my debuutwerk deur ‘n gevestigde uitgewer gepubliseer te kry. Ek kan nie meer lekker onthou hoe ek en Peter by Contentlot uitgekom het nie, maar dit was iets nuuts om, veral Peter se fiksie in die Kaapse dialek , deur ‘n hoofstroom-uitgewer aanvaar te kry. Daarna het die “vervreemding” ingetree, dit was die tyd toe ek besef het dat daar ‘n meesternarratief in Afrikaans bestaan en dat daardie narratief wit is, dié letterkunde van “uitnemendheid” het (nog steeds) ‘n “reg van toegang streng voorbehou kennisgewing” by die deur. Die houding waarna Jensma verwys, in ‘n opset: “Where white is the colour/where black is the number.” Later raak jy net eenvoudig gatvol, en dan loop jy jou eie paadjie. Kyk veral na die manier waarop Floris Brown, en andere, net eenvoudig hul ding, in Afrikaans, doen. Dit bemoedig my. 

(RJP): Nou terug na die verlede: Ons ken mekaar al seker 20 jaar en het al deelgeneem aan die Swart Afrikaanse Skrywersimposia. Dink jy dit is nog nodig vir Swart/Bruin Skrywerssimposia, of het almal al aanbeweeg en dat ons in 2012 net kan praat van ‘n Afrikaanse Skrywerssimposium?

Clinton, Peter Snyders, Robert & Steward van Wyk

(CVdP): Die Paternosterberaad was opwindend en daar is vele verwagtinge geskep, die UWK een wat daarop gevolg het, het die “bindingsmateriaal” en energie van die vorige een gekort. Ek hoop ons kom eendag by die Afrikaanse Skrywerssimposium uit, maar skrywers is maar en sal altyd ‘n klomp dwarstrekkers en skeefneukers wees.

(RJP): Suid Afrikaners is behep met Rasseklassifikasie. Wat is jou gevoel rondom dit? Peter Snyders sê byvoorbeeld dat hy ‘n Kleurling is met ‘n Hoofletter “K”; Danny Titus sê hy is ‘n Bruinman, ensomeer. Hein Willemse sê hy is Swart. Wil jy na verwys word as Clinton V. du Plessis, Afrikaanse Skrywer, of moet daar “ras” en “kleur” aangeheg word. Ek weet ook dat Adam Small heftig gereageer het toe daar na hom verwys was as Bruin Sestiger, maar na Andrè P. Brink en Kie nie as Wit Sestigers nie, net Sestigers…?

(CVdP): Die kleurkwessie sit so diepgewortel in die samelewing. Daar was ‘n tyd toe ons almal wou glo dat ons verby die klassifikasies van die verlede sou kon beweeg, maar dit was helaas, ‘n pypdroom. Nie-rassigheid is iewers in ‘n donker hoekie ingerangeer. Dus is ek Bruin, in die amptelike dokumente van die land, staan die term Coloured nog steeds.

(RJP): In jou skrywes let ek op dat jy gedurig in gesprek is met musikante (bv Leonard Cohen), ander skrywers (ek sien in Flitse dat jy gedigte geskryf het oor Adam Small, Ronelda Kamfer en Peter Snyders) vorm dit deel van jou kollektiewe geheue?

(CVdP): Musiek het ‘n groot rol gespeel in my lewensbeskouing en -uitkyk. Die Bruce Springsteen-sentiment van: “We learned more from a three-minute record than we ever learned in school.” Ek het kleintyd Springsteen vir die eerste keer op kortgolfradio (Capital Radio) gehoor sy liedjie, Hungry Heart sing, en heimlik gewens ek kon ook net wegbreek uit ‘n beklemmende kleindorpse bestaan, vasgevang  op die flip-side van die apartheidsmunt: ” I went out for a ride and I never went back.” Maar jy kon nie uitkom nie, jy was vasgeverf ‘n hoek, met die verkeerde kleur.

(CVdP): My gedigte in Flitse (opgedra aan dié spesifieke skrywers) is ‘n kopknik en ‘n knie-buiging in hulle rigting – ‘n erkenning aan ‘n bestaan binne die Afrikaanse literêre dampkring, al word hul bydraes geringskat. Skrywers en tekste is gedurig onderling, oor tyds- en ander grense, heen, onwillekeurig, in gesprek met mekaar.

Clinton du Plessis

Clinton du Plessis

(RJP): Jy het al gepubliseer: geloofsbelydenis van ‘n kluisenaar (1984) , Curriculum Vitae (1988) Kort van Draad (1997), Brunch met Twee, met Peter Snyders:  (2001), gedigte, talk show, hosts & reality shows (2009) assook bydraes tot ander bundels, kongressreferate ensomeer-hoe het jy gegroei vanaf ‘n “angry young man” en “rebel with or without a cause” na Clinton V. du Plessis, die Skrywer op 50 jaar oud? Kortom, daar was ‘n era gedurende Apartheid toe jy geskryf het, en na die verlossing van 1994 van die Apartheidsjuk skryf jy nog steeds – wat het verander in jou skryfwerk?

(CVdP): Die gedigte in Flitse slaan ‘n total nuwe rigting in, as jy dit byvoorbeeld sou vergelyk met die vorige, gedigte, talk show hosts & reality shows of die pamfletaanslag van in god’s country:no 2-21. Ek wil graag glo jy beweeg vanaf ‘n stadium van kinderlike goedgelowigheid, na rebelse tiener idealisme, na twenty-something sinisme en verwerping tot by miskien berusting en ‘n krapperige aanvaarding.Ek word nog steeds kwaad vir vergrype, ek wil nooit my kapasiteit om outraged te wees oor dinge, verloor nie. Kyk die snert wat nog steeds in byvoorbeeld Die Burger aangevang word met hulle Boekmerk-gleuf, As ek reg onthou was daar nog net een of twee skrywers van kleur wat óók boeke lees en deur ander skrywers beinvloed is. Hoekom moet ons altyd eers oor dié ooglopende dinge moerig raak, voordat iemand dit opmerk. Jy sit met ‘n generasie wat nie altyd mooi die konteks van dinge en aksies kan verstaan nie.    

(RJP): Is daar enige iets wat so privaat is aan jouself wat jy nooit sal deel nie? Is jy baie privaat of is jy ‘n openbare figuur?

(CVdP): Ek is ‘n privaat persoon en aanvaar byvoorbeeld glad nie meer uitnodigings na feeste nie. Tog is daar iets wat ek van die skrywer, Jonathan Franzen in ‘n onderhoud oor sy boek, Freedom, gelees het:

To construct a story that will be sufficiently compelling, it is imperative, to draw from ‘the parts of yourself you least want to look at, the things that makes you the most anxious, the worst things you’ve done in your life, the most shameful parts of yourself’. That is where the living material is. 

Of ek vir dié uitdaging opgewasse is, weet ek regtig nie.  

(RJP): Die vraag wat ek die hele tyd probeer ontduik: hunker jy na die luukse om by ‘n gevestigde uitgewer soos Protea Boekehuis of Human & Rousseau uit te gee en al die bemarkingsmasjienerie tot jou beskikking te hê, of nie?

(CVdP): Glad nie. Oor die algemeen het die Afrikaanse media sy eie agenda, sy eie marknagevorste behoeftes wat  hy moet bevredig. En tot ‘n groot mate is daardie agenda nie noodwendig vriendelik teenoor die anderskleurige Afrikaansprekende komponent nie. Toe ek en Peter Snyders byvoorbeeld by Contentlot uitgegee is, is die bekendstelling op die laaste nippertjie gekanselleer en ons het ‘n ete (in baie goeie geselskap, moet ek toegee) in ‘n restaurant gehad waar die boek aan ons oorhandig is. Daarteenoor is ‘n formele bekendstelling vir ‘n ander skryfster van die uitgewery by die KKNK gehou. Ons bly maar die minor people in die major taal.

(RJP): Boesman Buitekamer – een van jou aliasse en persoonlikhede; jy is ook ‘n ywerige rubriekskrywer en Litnet-Blogger – hoeveel persoonlikhede het jy, en is hulle in harmonie of in botsing met mekaar?

(CVdP): Net waar pas ek in? Ek het onlangs, in respons tot ‘n rubriek deur Dana Snyman (oor die konsep Afrikaner), ‘n tot nou toe, ongepubliseerde artikel met die titel, Geloofsbriewe : the true confessions of a reluctant Afrikaner, geskryf. In die skrywe probeer ek vir myself uitwerk net hoe en tot watter mate ek (en moontlik ander Afrikaansprekendes van kleur van my ouderdom) met hierdie inherente skisofreniese Wopko Jensma-verskeurdheid vrede moet maak. Ek haal net kortliks daaruit aan:

Ek het die kultuur met groot eetlepels ingekry – Trompie in die Sondagkoerant,  die Uile en Keurboslaan, Sonja Heroldt, Gé Korsten en Groep Twee, Cobus Robinson en later  het Anneline Kriel met haar republikeinse puriteinse wit vel gewys ‘n boeremeisie kan met die beste ter wêreld meeding. Mej. Suid-Afrika vir die volk, vir ons Mej. Afrika-Suid. Soms was dit neustoedruk en sluk, onsmaaklik soos kasterolie, maar ondanks Apartheid en eie sake was daar vir ons, veral in die platteland, geen aparte Bruin kultuur (behalwe ‘n Ekstra-Rapport) om te verorber nie…Ons was die ander Afrikaners, agter die lanings bome, verkeerde treinspoorkant, buffer- en wegsteekmense, die grysgebied tussen die twee groot kleure van die land. Sulke mini-me’s van die opregte, Nasionalistiese Afrikaners met die korrekte uitspraak, die regte velkleur en haarstruktuur. Ek kyk die ander dag na foto’s van die bruin leiers uit daardie era, Mev. Alethea Jansen met haar hoed en Mnr. Tom Swartz en as ek die Belgiese digter, Willem Roggeman effe aangepas kan aanhaal, was hulle eintlik shaded mirror images of the masters in the sad riddle of Apartheid. 

Dit is teen die agtergrond, wat die persoonlikhede “gebore” is. Robert, ek dink jy, wat ook uit daardie era kom, sal dié versplinterdheid begryp. 

(RJP): Boesman Buitekamer “‘n Kulturele Aktivis” en die Genootskap vir Verontregte Afrikaanses wou in 2010  ‘n Boekebraai gehou het by die Fees op Richmond. Sou dit regtig plaasgevind het? Of was die verontwaardige reaksies van geswore konserwatiewe Afrikaners genoeg om jou van plan te laat verander?

(CVdP): Die Afrikaanse toneel was vir my so saai en dit was as ‘n grap bedoel, maar baie mense het vreeslik op loop gegaan daarmee. Ek het lekker in my mou gelag….

(RJP): Het Brink jou al vergewe oor jou weiering dat jou gedigte in Groot Verseboek opgeneem word?

Ek dink nie Brink het die weiering so ernstig opgeneem nie, hy is in elk geval nie ‘n kleinlike persoon nie.

(RJP): ‘n Persoonlike vraag: Is jy ‘n geswore Alleenloper?

(CVdP):  Dankie vir daardie vraag…

(RJP): Wil jy ‘n gekanoniseerde Afrikaanse Skrywer in die toekoms wees wie se werke op Skool en Universiteite voorgeskryf word?

(CVdP): Ek is al op skool voorgeskryf, maar die ironie is dat dit gebeur hier op ‘n tydstip wanneer Afrikaans besig is om ‘n al kleiner impak te hê, waar leerlinge nie noodwendig dit meer as vak hoef te neem nie, waar dit op universiteit afgeskaal word. My tantièmestaat uit die werke is om van te lag!  

(RJP): Kluisenaarskap: Adam Small en nou Peter Snyders het kluisenaars geword en hulle penne is droog en hul stemme is stil. Sal jy ooit so mismoedig raak dat jy ook hierdie pad sal volg?

(CVdP): Ek was al byna dáár – na my vorige bundel en my skrywe, Fokofafrikaans – ‘n swanesang, was ‘n eerste tree op pad na die groot stilte. Niemand het ‘n enkele resensie oor die bundel gedoen nie. Soos alreeds vermeld, vermy ek deesdae so ver moontlik openbare optredes by feeste. Ek hou van die  outsiderskap, die buitestaander. Iemand in Nederland het na my verwys as “een buitenbeentje.” Maar, soms wil jy tog net “geweet van wees.” Dit is egter ontsettend moeilik om stil te bly in Afrikaans, want dit is so ‘n opwindende, aanloklike hoer van ‘n taal.

(RJP): Dankie Clinton vir ‘n eerlike onderhoud

Hieronder volg twee verse uit Flitse:

*** 

Oes

 

Ek gerf vir jou verse om in jou hand te pas

ek pak warm woorde in jou reistas

sodat jy my kan onthou

as jy alleen aan die strooihalms van ons liefde klou.

 

***

 

Duskant

 

Die splinters van hierdie droewe land

se kruis, sit nog vas in die palm van my hand,

iewers anderkant kleur

moet ons weer die gedeelde taal van menswees leer.

 

© Clinton V. du Plessis (Uit: Flitse, 2012: Ama-Coloured Slowguns)

 

 

Clinton V du Plessis

Onderhoud. Robert Pearce

Tuesday, April 20th, 2010

“Flaaitaal vir’ie moegoes wat’ie weetie”

Robert Pearce in gesprek met Louis Esterhuizen

 

 

Robert Pearce

Robert Pearce

Robert Pearce, akademikus, dramaturg, digter en musikant,  is sedert April 2009  Direkteur Biblioteek-en-Inligtingsdienste van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in Port Elizabeth. Robert Pearce was tot einde Maart vanjaar verbonde aan die Universitieit van Suid-Afrika se Biblioteekdienste as Direkteur Kliëntedienste – ‘n pos wat hy vir 9 jaar beklee het. As Akademiese Bibliotekaris is hy goed toegerus vir sy taak by NMMU aangesien hy onder andere ‘n Meestersgraad in Biblioteekkunde en ‘n Diploma in Kliëntediens van Unisa het. Pearce is bekend vir sy dramas oor die lewe in die bruingemeenskap. In sy graad 11-skooljaar het hy saam met Philip Louw, sy eerste drama, From hippie to normal: the story of sinners and the birth of Jesus Christ, geskryf. In teenstelling met Shakespeare se Macbeth, waarin die bewussyn van trauma met die voorstelling van ‘n indiwiduele personasie verbind word, verbind Pearce die ervaring van trauma in sy tekste met die indiwidu as lid van ‘n gemeenskap. Sy mees onlangse toneelstuk was, The charter (in search of quality, culture and service excellence), wat in 2007 in die Z.K. Matthews saal van Unisa opgevoer is en wat ook op DVD opgeneem is. In Pearce se toneeltekste is daar ‘n sterk teenwoordigheid van ‘n gemeenskapsbewussyn. Dit sluit onder andere in ‘n sterk plaaslike sosiale bewussyn van die voorkoms van dwelmmisbruik, prostitusie en bendebedrywighede. Pearce het skouer geskuur met die grotes in Afrikaanse literatuur-wêreld. Mens dink aan skrywers soos wyle Patrick Petersen, Adam Small, Peter Snyders, Diana Ferrus en vele ander.

 

 

 

Robert, in ʼn persoonlike skrywe aan dr. Michael le Cordeur het jy jou kommer uitgespreek jeens die feit dat flaaitaal in die hele taaldebat wat tans in die media gevoer word, agterweë bly. Daarom, gesien in die lig dat jy reeds jare lank by navorsing oor dié taal (wat jy self as jou “vadertaal” beskou) betrokke is, die volgende vrae. Maar eers, ter wille van diegene wat nié vertroud is met flaaitaal nie – kan jy dalk vir ons kortliks ʼn aanduiding gee van die aard en voorkoms daarvan?

Louis, voordat ek antwoord op jou vrae, net ʼn paar  openingsaanmerkings:  Daar sal gevra word waarom ek nie hierdie onderhoud en die vrae in Tsotsitaal beantwoord nie? Waarom die gebruik van Standaard Afrikaans? Daar kan verskeie antwoorde wees, maar belangrik is dat die lexicon en grammatika van Tsotsitaal na al die jare nog steeds aan die ontwikkel is en dat die woordeskat beperk is tot ʼn vermenging van Afrikaans, Engels, Sotho, Zulu en Xhosa-‘n andersoortige Fanagalo. Nog ʼn rede, is dat Tsotsitaal onverstaanbaar is vir die geteikende leserskorps en soos ʼn vriend van my uit Vlaandere eenkeer vir my genoem het, as hy in ʼn Vlaamse dialek skryf bereik hy duisende, maar as hy in Nederlands skryf, bereik hy miljoene. Tsotsitaal is tot op hede nog steeds meer ʼn praattaal as ʼn skryftaal. Ek dink Kaaps het dieselfde dilemma. Dit is nie verskonings nie net feite.

Ek wil nie kopiereg op Tsotsitaal/Flaaitaal opeis nie en hoop dat toekomstige navorsers ten minste na die gesprek tussen ons sal verwys wanneer verdere navorsing oor Tsotsitaal gedoen word en hoofstukke in boeke daaroor opgedateer word. Nog ʼn observasie  van my kant, is dat Tsotsitaal “eie goed” is, eie aan die Townships van Suid Afrika, maar nou word daar in ons bos gekap en ander eis sommer goedsmoeds Tsotsitaal as hul eie ontdekkings. Hier verwys ek spesiaal na onkundiges wat op ʼn afstand die (Tsotsi) Taal aanskou en ʼn kommersiële geleentheid sien om op die wa te spring en die hele kwessie te kaap.

Hier verwys ek spesifiek na mense soos Lebo Motshegoa wat in  2005 ʼn powere poging aangewend het met sy  The A-Z Dictionary of South African Township Lingo, en Daniel Hugo se hoofstuk oor  Tsotsitaal in Halala Afrikaans wat in 2009 by Protea Boekhuis verskyn het. Ek weet dit is sterk stellings, maar in albei skrywers se werke ontbreek indiepte  navorsing.

Dit bring my by die punt dat Protea Boekehuis kenners soos Dennis Kekethi Makhudu kon genader het om so ʼn hoofstuk te skryf. Almal is gaande oor Louis Molamu se  Tsotsitaal, a dictionary of the language of Sophiatown, maar Makhudu se  Honneurs (1980) en MA  (1984) verhandelinge en ander geskrifte oor  Tsotsitaal (1995) , die werk van Willem Schurink  (1981; 1983), Peter Bekker (1974) en Sipho Sipamla  (1982) se werke was voorlopers. Ek het in my besit dokumente wat ek oor dertig jaar versamel het en kan dus ook ʼn bydrae lewer om meer omvattende navorsing  te doen. Nou kom die vraag op, hoekom is ek reaksionêr en kyk dat ander publiseer oor Tsotsitaal en dan soos ʼn klein keffertjie agterna daaroor blaf? Ek het gewoon net nie die tyd om dit nou neer te skryf nie, aangesien ek navorsing doen vir ʼn Doktorale studie in Biblioteekkunde. Ek sal in die toekoms aandag daaraan gee.

Aard, oorsprong en voorkoms:  Lees ʼn mens die werke van Makhudu, Molamu en Schurink word daar aangedui dat die eerste keer dat daar geskryf is oor Tsotistaal was so ver terug as 1916. In teenstelling met wat Molamu voorhou, dat dit die taal van Sophiatown (alleen) is, weerlê Makhudu dit deur aan te dui dat dit ook in die Swart en Bruinwoonbuurtes van Atteridgeville, Marabastad en Bantule in Pretoria gepraat is gedurende die 1950’s. Makhudu noem ook Soweto en Sophiatown as plekke waar die Taal gepraat word.

Tsotsitaal , die vermenging van tale soos Afrikaans, Engels en ander Swart tale het ʼn eie woordeskat wat altyd  aan die ontwikkel is. Daar is nie vaste spellingspatrone nie. So byvoorbeeld word die word vir “lekker”, “Mca” in Tsotsitaal ook gespel as “Nca”.

ʼn Tsotsi  verwys na die swakker kriminele elemente binne jou Swart en Bruin Township-gemeenskappe. Gewoonlik is dit jong mans met ʼn kriminele rekord. Waar die woord “Flaai” of “Fly” vandaan kom, is ʼn verwysing na die Tsotsi’s wat  vinnig praat, vinnig stap en vinnig dinge doen – asof hulle vlieg! Dit was ook in verlede na verwys as Bendetaal, Mynwerkerstaal en Shebeentaal.

In jou skrywe aan dr. Le Cordeur tref jy ʼn onderskeid tussen flaaitaal as “vaderstaal” en Afrikaans as “moederstaal”. Net so verwys Daniel Hugo in sy oorsig van flaaitaal in “Halala Afrikaans” (2009: Protea Boekhuis) daarna as synde ʼn “mannetaal” wat hoofsaaklik in tronke funksioneer. Bestaan daar inderdaad dié geslagsvoorkeur ten opsigte van flaaitaal?

Ja, daar bestaan ʼn geslagsvoorkeur. Ek het dit byvoorbeeld in die 1950’s  in Claremont en Marabastad in Pretoria by my pa en sy vriende geleer. My pa het die gewoonte gehad om my altyd saam te neem na sy vriende en daar kon ek my verlustig in die taal wat so anders was as die taal wat ek op die skoolbanke moes aanleer. My pa is al oorlede, maar ek praat dit nog steeds met my ooms wat nou in hulle 70s is. Ek en my vriende laat waai ook met die lingo! Vrouens het nog altyd die Tsotsitaal as onvroulik en nie juis as beskaafd gesien nie – selfs in ons huis het my ma ons probeer beskerm van die Tsotsitaal aangesien dit gekoppel was aan bendes. Maar, soos ek in my gedig “My Flaai-Tsotsitaal” sê: dit is ook die lingo van die township-intellectuals.

Om dit te staaf, het ʼn vriend van my David Ernest ʼn honneurs studie in Linguistiek gedoen en spesifiek Tsotsitaal-woorde voorgehou aan Manlike Onderwysers, Mediese Doktors en ander geleerdes binne die Eersterust (oorwegend Bruin) gemeenskap. Hulle het almal die woorde verstaan en kon ook Tsotsitaal praat. Ek en ʼn ander Taalnavorser aan Unisa, Doktor Elvis Saal, het aan ʼn artikel gewerk (gepubliseer in 2005) – “The persuasive effect of Tsotsitaal in HIV/AIDS material”. Bruin hoërskoolleerlinge is gevra om ʼn paragraaf oor HIV/VIGS in Standaard Afrikaans te lees. ʼn Sielkundige het getoets wat hulle verstaan. Ek het dieselfde paragraaf in Tsotsitaal vertaal en dit is weer aan dieselfde leerlinge gegee om te lees. Na dit is hulle weer getoets en daar is bewys dat die boodskap duideliker deurgekom het in Tsotsitaal.

Ek en my vriende praat Tsotsitaal en ons is nie Tsotsi’s nie. Van hulle sluit in akteurs, akademici, musikante en skrywers. Ons probeer ook hard om te help dat die stigma van die tsotsi iewers agter gelos moet word. Vriend David Ernest het verdere navorsing gedoen en in sy MA- verhandeling wat hy in 2004 aan Universiteit van Pretoria verwerf het, stel hy voor dat Tsotsitaal eerder herdoop moet word na Oorspronklike Afrikaans!

In die reeds genoemde artikel oor flaaitaal deur Daniel Hugo toon hy nog ʼn vreemde teenstrydigheid aan: dat flaaitaal enersyds ʼn “geheimtaal” is, dog andersyds ook “omgangstaal”. Bestaan dié teenstrydigheid ten opsigte van eksklusiwiteit vandag nog onder die sprekers daarvan, of is daar bepaalde inisiatiewe om daaraan ʼn breër gebruiksbasis te verskaf?

Dat Tsostitaal ʼn lekker taal is vir die “auties wat notch” (die manne wat die taal ken) is nie te betwyfel nie. Die ekwivalent daarvan is Kaaps, Moffietaal, Namakwalands ,Tienertaal, sms-taal – almal met hul  eie geheimsinnige gebruike sodat die “moegoes wat nie die Lingo kan weetie nie, swak gelos word”  (die dommes wat nie die taal kan praat nie, onnosel bly).

Daar is ongestaafde beweringe dat selfs die ANC, toe hulle in exile was, Tsotsitaal as kodetaal aangewend het. (Dit is iets wat dalk navorsingswaardig is.)

Robert, jy is die afgelope 30 jaar al betrokke by navorsing oor flaaitaal en het ook al verskeie lesings oor dié onderwerp moes lewer. Kan jy dalk vir ons ʼn meer spesifieke aanduiding gee van die belangrikste onderwerpe waaroor die gesprekke rondom die status en voortbestaan van flaaitaal tans handel?

Heel interessant dat daar ewe skielik groot belangstelling  in Tsotsi-/Flaaitaal is. Selfs op die Internet, by Google en Wikipedia is daar talle artikels oor Tsotsi/Flaaitaal. Met die aanwending van nuwe elektroniese middele word  die jonger geslag tegnologiese jongmense ook blootgestel aan Tsotsitaal.

Wanneer daar gekyk word na dié artikels is dit verblywend om te sien dat die onderwerpe wat aangeraak word, die volgende is:

– Definisie van Tsotsitaal

– Geskiedenis

– Struktuur

– Die Sosiale betekenis van Tsotsi/Flaaitaal en Iscamtho

Wat ook baie aangespreek word in die media, is die ontwikkeling van Kwaito-lirieke uit Tsotsi/Flaaitaal. Kunstenaars soos Arthur, Mandoza en TK Zee gebruik almal Tsotsi/Flaaitaal in hul lirieke en sodoende betrek hulle ʼn hele nuwe geslag jonger gebruikers by Tsotsi/Flaaitaal. Lebo Motshega se gebrekkige pogings moet ook nie geringskat word nie. Hy probeer ten minste met sy Township Lingo-woordeboekies om Tsotsi/Flaaitaal te verklaar. Hy het ook af-en-toe ʼn Woordeskatlys van Tsotsi/Flaaitaal woorde in die Daily Sun-dagblad. Selfs die Afrikaanse dagblad, Beeld publiseer af-en-toe artikels oor Tsotsitaal. Hier moet Stephanie Nieuwoudt se 2003 artikel in Beeld,Intellektuele Tsotsi’s: Nou kan moegoes ook Sophiatown se taal verstaan”, genoem word. Op Beeld se Webwerf kon  ek ook vier ander artikels oor Tsotsi/Flaaitaal opspoor. Vir die toekoms hoop ek dat PANSAT geld sal bewillig vir nog meer navorsing oor Tsotsi/Flaaitaal.

Is dit dalk moontlik om vir ons enkele voorbeelde van flaaitaal te gee?

Bushie (Boesman/Kleurling)

Tsafendas (as jy iemand met ʼn mes steek – Nav Tsafendas se moord op Verwoerd in 1966);

Scaberesh (ʼn Slegte vrou)

Groot Verkoue (HIV/VIGS)

Gwarra (Terg)

Zalties (Dood gaan)

Outie (Man gewoonlik in ʼn liefdesverhouding met ʼn vrou)

Ousie (Vrou gewoonlik in ʼn liefdesverhouding met ʼn man)

Ek en my Ousie verstaan (Ek en my meisie het ʼn verhouding)

Kan jy dalk nog voorbeelde byvoeg van ander digters wie se “flypoems” jy oor die jare versamel het?

Mattera, Don. 1991. Die Bushie is dood

Sepamla, Sipho. 1982. Baby Come Duze

Johennesse, Fhazel. 1979. 

– bra bizza dink according change

– bra bizza dink according die americans

– bra bizza dink according  kopstaan

Dankie vir die gesprek, Robert. Uiteraard is ons in die besonder geïnteresseerd in die poësie van flaaitaal; so dra ek kennis van ʼn wonderlike vers, “My Flaai-Tsotsitaal”, wat jy geskryf het. Met jou vergunning plaas ons dit dan ter afsluiting hieronder.

 

My Flaai-Tsotsitaal

 

Gebore uit fornifikasie

tussen Coloured-Afrikaans, Township-Sotho en Zulu

jy, Isicamtho, taal van die outies wat notch.

Jy het ge-survive,

al wou húlle jou soos ʼn mommage

reduce het tot Fanagalo.

 

Come Duze baby,  sê Ntate Sipamla

Original Afrikaans,  noem Uncle David jou

Onverstaanbaar,  sê die Moegoes wat hassal ken.

Onverstaanbaar vir wie majita?

 

Is dollie my bra dat jy my ʼn culture ge-gha het en by de way,

thanks my Flaai-bra dat jy ons allow om jou te chop-en-change.

Met daai permission  raak jy ʼn Ursus

en is jy nie net ʼn Tsotsitaal,

maar ook  lingo van die Township-intellectuals. 

 

Ooms Adam en Peter het hulle Kaaps,

Loit sy Goema-Afrikaans,

Links sy Nama-Afrikaans en

Du Plessis gegapsde Griekwa-Afrikaans,

maar ons hier in Gauteng                                          

 

het ons lekker Tsotsitaal-deng

daarom sal alle nasies in jou seng

en Flaai-Tsotsi-Isicamtho meng:

Come duze scaberesh, come duze…

Al sal alle lingos thleri

sal ek jou nog wietie,

vir jou, mca lingo van my M& Toppie.

 

© Robert Pearce

 

WOORDVERKLARINGS:

 

Gebore uit fornifikasie (Geslagsomgang/Seks)

tussen Coloured-Afrikaans, Township-Sotho en Zulu

jy, Isicamtho, taal van die outies wat notch. (ook genoem Iscamtho=’n vermenging van Zulu en Sotho wat gepraat was deur die AmaLaita Bende en gebruik was in die 1920’s)

Jy het ge-survive, (oorleef)

al wou húlle jou soos ʼn mommage (ook soms gespel moemmage of momish=iemand wat dom is en nie straatwys)

reduce het tot Fanagalo. (taal wat onstaan het op die Suid Afrikaanse Myne uit tale soos Afrikaans, Engels, Zulu, Xhosa, Sotho en SiSwati)

 

Come Duze baby, sê Ntate Sepamla (titel van gedig: Kom nader baba/meisie sê Oom Sepamla-verwysend na Sipho Sydney Sepamla)

Original Afrikaans,  noem Uncle David jou (Oorspronklike Afrikaans)

Onverstaanbaar,  sê die Moegoes wat hassal ken. (Dommes wat niks weet nie; sien ook mommage)

Onverstaanbaar vir wie majita?  (Man of jongman)

 

Is dollie my bra dat jy my ʼn culture ge-gha het en by de way, (dit is goed my vriend dat jy my ‘n kultuur gegee het en sommer so padlangs)

thanks my Flaai-bra dat jy ons allow om jou te chop-en-change. (dankie my vinnige-straatwysvriend dat jy ons toelaat om jou willens en wetens te verander)

Met daai permission  raak jy ʼn Ursus [Met daardie toestemming raak jy soos Ursus  die  Bruin Beer (Ursus  Arctos is ook gebruik deur die Grieke om ‘n sterk man te omskryf)]

en is jy nie net ʼn Tsotsitaal,  (Taal van die Bendes en Straatwys manne)

maar ook  lingo van die Township-intellectuals. (Taal van Slim/Intellektuele persone van die Woonbuurt)

 

Ooms Adam en Peter het hulle Kaaps, (Adam Small en Peter Snyders)

Loit sy Goema-Afrikaans, (Loit Sôls)

Links sy Nama-Afrikaans en  (Tony Links)

Du Plessis gegapsde Griekwa-Afrikaans, (Hans Du Plessis)

maar ons hier in Gauteng                                          

 

het ons lekker Tsotsitaal-deng (Taal van die Bendes en Straatwys manne se ding)

daarom sal alle nasies in jou seng (sing)

en Flaai-Tsotsi-Isicamtho meng: (vinnige-straatwystaal van Bendes en Straatwysmanne en vermenging van Zulu en Sotho)

Come duze scaberesh, come duze… (Kom nader slegte meisie, kom nader)

Al sal alle lingos thleri (Al sal alle tale doodgaan)

sal ek jou nog wietie, (sal ek jou nog praat)

vir jou, mca lingo van my M & Toppie. (vir jou, mooi taal van my Ma & Pa)

 

 

Peter Snyders. Praatjie gelewer by Woordfees 2010 deur Robert Pearce

Tuesday, March 9th, 2010

 

PETER SNYDERS

– nie ‘n Ordinary vriend-terugblik op 30 jaar van vriendskap

 deur Robert J Pearce

 

Praatjie gelewer ter viering van  Peter Snyders se 70ste verjaarsdag,

 Stellenbosch Woordfees 5 Maart 2010

 

 

Ek praat met U as vriend wat vir Peter al vir 30 Jaar ken. Van sy tyd as Christen tot nou as Boedhis. Ek sal probeer om chronolgies te wees, maar indien nie, vergewe maar.

Daar is die staaljie van die Blindes wat die Olifant bevoel het en elkeen het gedink dit is ‘n ander soort gedierte; net so met Peter. Wie ook na Peter verwys sal dit uit hul eie invalshoek doen. Francis, die Kinders en die Kleinkinders sal hom anders onthou as ons uit die Skrywers, Musiek en Teater wêreld sien hom anders-en so hoort dit. Hoe ons ookal vir Peter ervaar is subjektief en is onderhewe aan ons eie oordeel, maar niemand wat hier vanaand teenwoordig is kan nie sê dat Peter nie ons lewens geraak het nie. Vanuit Suid Afrika, tot in Nederland het Peter sy invloed laat geld. Baie van die mense wat vandag groot sterre is kan terug kyk en sê: ons het by Peter begin: Vinette Ebrahim, Solly Philander  en Denise Newman om maar net ‘n paar te noem.

Peter en sy Filosofie/Godsdiens

In 2002 in ‘n onderhoud met Anastacia de Vries van Rapport sê Peter oor sy  Filosofie en Godsdiens en sy ewige Jeug:

Ekkit op 17 Februarie 1971 ‘n expansion of consciousness beleef. My spiritual age is 31.  Ek verdiep my in Islam en  Boeddhisme. Ek loeppie kêkkie. My geestesbelewing is ‘n versoening tussen Christenskap, Islam en Boeddhisme.

 

Eerste Ontmoeting

1979 – Ek ontmoet Peter Snyders by die Belvillese Onderwys Kollege in 1979. Gerry Tertiens van Kleurlingsake het destyds Drama Akteur en Regie-kursusse georganiseer en mense vanuit alle wyke van die land het in die Kaap bymekaar gekom. Tertiens en Kie het ook die Streek Toneelfeeste en die Hooffees in die Joseph Stone, Athlone aangebied-Peter en Unison het nog nooit een gewennie, maar wel die Kellerprinz Fees kompetisie. Wat my bybly van die Dramakursus, wat deur Bill Curry aangebied is, is dat Peter die mees “challenging” vrae aan Bill Curry gevra het. Bill Curry kry swaar as hy probeer om ons te leer hoe om Regie te doen, want sien meeste van ons het al gevestigde drama groepe ne weet hoe om regie te doen. Peter het destyds al deur diep waters gegaan by die Space saam met Pieter Dirk-Uys (Tannie Evita) ensomeer. Peter se groep die Unison Players het hom ook harde bene laat kou en vergewe die pun, hulle het “Min Genade” vir hom gehad.

Ek en Peter ruil telefoonnommers en adresse uit en skryf aan mekaar en ruil tekste uit.

Peter leer my om Dagboek te hou en op elke moontlike ding te skryf waarop jy kan-soos Paul McCarthney van die Beatles wat “Yesterday” se lirieke op ‘n vuurhoutjie dosie geskryf het. Peter vertel my ook van al die liedjies wat hy al geskryf het en die pryse wat hy daarmee gewen het. Kaapse Bands soos Bloodshed het van sy liedjies opgeneem.

Peter wys my ook sy Gibson Semi-accoustic Jazz kitaar, en vir enige kitaarspeler is ‘n Gibson en ‘n Fender Stratocaster diè kitare wat jy eendag moet besit!

Fastforward na 1981- Brekfis met 4 (‘n voorloper vir ‘n Ordinary Mens) word gepubliseer en Peter laat weet my per brief. Nou ek soek nog iemand wat 20 bladsy briewe kan skryf op een slag-dit is ‘n gawe van Peter, selfs in hierdie dae van e-posse, sms en mixit, sal Peter nog vir jou ‘n brief skryf-hierdie briewe bewaar ek in my versamelings in die Unisa Argief en by NALN in Bloemfontein.

1982-Peter besoek vir Sylvia en myself in Eersterus om Chemie Prakties by Unisa te kom doen.

Ek skryf die volgende gedig vir Peter:

 

Kaapse Visitor

(Vir Peter Snyders tydens sy besoek aan Eersterust gedurende 1982)

 

Verlore kom hy in Pretoria aan

“Hallo”, ‘n skrywershandruk en die vriendskap is herbeklink.

“Wees my Gids vir ‘n week of wat, wys my Pretoria want my mission

  is serious

 

Anker my vir die tyd in Pretoria

Wie anker jou in die Kaap?

My vrou, my skryfwerk, my studies, my plek.

 

Ek wys:

Dis Pretoria Stasie

Daar is die Museum, die Voortrekker Monument, en Oom Paul se Square.

So klop Eersterust se hart.

Is dit al?

 

Ek wys:

Die rigting van die lewe,

praat kultuur, politiek, filosofie

praat oor lewe in die hiernamaals…

Is dit al?

 

Waar is Unisa?

Daar

Waar is die hemel?

Stilte

Waar is die hel?

Stilte

Wat is predestination?

Stilte.

 

Is jy uitgepraat?

Nee…maar het jy nie eie antwoorde, directions en landmarks?

 

25/11/82

Eersterust, Pretoria.

 

Pretoria middestad in 1982 is nog lelie-blank. Peter reis per trein vanaf ons huis in Eersterust na Unisa, want die busse is net vir wittes. Saans as Peter tuiskom na aandete vra hy dat ons hom net gou sal verskoon, dan verwdyn hy in die Gastekamer. Na twee dae van die patroon vra ek waarom? Nee, sê Peter, hy bring sy Dagboek op datum deur die dag se gebeure op te skryf. Ek leer ook hierdie gewoonte aan en tot vandag toe skryf ek of soggens of saans.

Ek en Peter se eie Deafiance Campaign: Ek neem Peter een dag na Kerklpein (waar oom Paul se Standbeeld is), die Voortrekker Monument en die Pretoriase Stadsaal waar Marthinus en Andries se Standbeelde is. By Kerkplein is daar die groot Bushalte. Op die busbankies staan geskrywe: slegs vir “blankes/europeans only”. Ek en Peter besluit om die wette te defy en gaan sit daarop. Onthou, destyds kon hulle jou opsluit onder enige van die “Acts” wat Peter in Political Joke noem: Terrorisme ensomeer en die straf was “detention without trial”. Daar was geen repurkussies nie en ek en Peter se protes aksie val plat. Maar dit was, dink ek, die voorloper vir Allan Hendrickse en sy Arbeiders se latere swemmery by Kings Beach, Port Elizabeth. Dan wil die comrades nou nog na liberation vra: wat het julle Bruines in die struggle gedoen? Ons het die wette deliberately oortree.

Gedurende die tyd stel ek vir Peter voor aan Anthony “Speedo” Wilson, Neville Nash en andere. Speedo doen toe ‘n poësie program “‘n dag innie lewe van Peter Snyders” wat in die destydse Staatsteater opgevoer is. Later neem Speedo ook ‘n Televisie program op “Skakerings” met Peter en Neville as gaste. Die boere by die SAUK hou nie van Skakerings as naam en Peter stel voor die titel: “Met ander woorde” wat aanvaar word. Dit was ‘n beter gesêls program as Dali Tambo s’n of die van Felecia Mabuza-Shuttle.

Terwyl Peter by ons kuier nooi ek hom na verskillende Drama aande, en die een naweek wil ek Pap-wors-tamatiesous en Atchaar naweek doop. Die Vrydag by ons huis (soos in enige ander Eersterust huis) eet ons Pap-wors-tamatiesous en Atchaar; Peter eet saam. Dieselfde aan gaan kyk ons na ‘n Drama in die Eersterust gemeenskap saal en soos gewoonlik is daar ‘n onthaal na die tyd en raai wat is oppie menu: Pap-wors-tamatiesous en Atchaar. Die Saterdag het ‘n vriend van ons ‘n verjaarsdag partytjie en ek en Peter woon by, die menu? Pap-wors-tamatiesous en Atchaar. Die vriend het darem ‘n Skaaptjoppie en ‘n stukkie steak ook bygevoeg. Teen Sondag kon Peter dit nie meer hou nie en skreeu dat hy darem nou lus het vir ‘n stukkie snoek! Tot vandag toe, as ek in die Kaap kom, koop ek snoek en chips-maar Peter is nou ‘n vegetariëer en eet net groente en soya.

 

1983- 22 jaar gelede besoek ek Sylvia en die Kinders vir Peter en Francis in Greenhaven vir ‘n week. Peter is elke aan by UWK en spook om sy BA graad in Afrikaans en Linguistiek klaar te maak. Elke aand moet ek luister hoe Peter gestry het met UWK se dosente oor Afrikaans (standaard?) en Kaaps-sien die saak staan so UWK se Taalpuriste kyk neer op Kaaps en Peter is Kaaps en bevorder dit-goeie spanning vir lekker drama-‘n ander storie wat ek na moes luister was die teorieë van Chomsky en Piaget oor die aanleer van twee verskillende Tale tegelyk (byvoorbeeld Engels en Afrikaans) en dat daar gaan “mixing of registers” wees. Peter besluit toe hy gaan Chomsky en Piaget verkeerd bewys. Peter praat met Angie net Engels en Francis met haar Kaaps/Afrikaans. Chomsky en Piaget sê dat Angie gaan verwaard groot work met die “mixing of registers” en Peter hou vol, hy sal die teendeel bewys. Angie is nie verwaard as jong dame, ook nie gemix nie-sy is Engels met Daddy en Afrikaans/Kaaps met Mammie!-Dankie Peter.

Endorphins-ons deel ons kennis daarmee oor “the runners high”-natuurlike opkikkers in jou eie brein.

 

1992 -‘n Waarskynlike Mens. Ek en Sylvia en die Kinders woon in Vendaland en Peter stuur die Bundel aan ons-self uitgegee. Tafelberg sit 10 jaar met ‘n Waarskynlike Mens, na die uitgee van ‘n Ordinary Mens. Toe Peter dit self uitgee vra Tafelberg: nou hoekom so haastig?

Ek skryf die volgende reëls vir Peter as troos:

Seën die angstige skrywer wat wil publiseer, maar seën meer vir geduldige Peter wat tien jaar moes wag vir tweede bundel publikasie.

Saam met Peter Snyders seën dan meer vir:

 

Arthur Nortjè

Bessie Head

Richard Rive

Don Mattera

Leonard Khoza

Ingrid Jonker

Dennis Brutus

Con Januarie O’ Shea

Anthony Wilson

Alex La Guma

James Matthews

David Ernest

Adam Small

Melvin Whitebooi

Ingrid Geldenhuys

Valda Jansen

Oorlede Roger Wastijn en sy vrou Suzanne

Oorlede Patrick Petersen, Elize, Amos, Renate, Antie Sarah en die Sondagdigters

laat ons nie vergeet van die Maandagdigters. 

 

Peter en Kaaps

Peter se Referaat: Die Skrywer as waghond – 2de Swart Afrikaanse simposium Paternoster 1995.

My kultuur het sy eie taal ontwikkel: Kaaps

3rde Swart Afrikaanse simposium 2005-UWK:

My moedertaal is Kaaps. Maar my taal word nie deur hierdie regering erken nie al praat min of meer vier miljoen mense hom op een of ander manier.

Kaaps is nie ‘n variant of dialek van Afrikaans nie. Kaaps was ook nog nooit Afrikaans nie.

Kaaps is ‘n taal uit eie reg.

 

OF HOE ?

 

                                    Moetie daai Gammataal gerykie

                                    dit issie mooi nie

dit degrade die Coloured mense

of Hoe ?

 

Wat try djy ?

Om ‘n Coloured culture te create

Of dink jy di’s snaaks om soe te skryf

Of hoe ?

 

Try om ôs liewerste op te lig

Ons praat mossie soe nie

Of Hoe ?

 

Van Kaaps gepraat. Peter het my persoonlik meegedeel dat Adam Small skryf meer Bo-Kaaps… die Distrik Ses Taal, terwyl hy (Snyders) meer die Kaapse Vlakte Kaaps skryf.

 

Peter as Kleurling

 

Paternoster 1995

Peter lewer die referaat: Die Skrywer as waghond

Daarin sê hy onder andere: Ek aanvaar ek is Kleurling, Bruin, Hotnot of wat ookal…die Khoi-khoi, die swart deel van my geskiedenis is ‘n groep op wie ek trots kan wees….

Uit Political Joke II (1999)

Spieëltjie , Spieëltjie aan die wand, is ek ‘n Swarte in die land?

Die Spieëltjie antwoord: Hy fokkòf Coloured

By die derde Swart Afrikaanse Skrywersverening in 2005 by UWK verklaar Peter ruiterlik:

Ek is ‘n Kleurling met ‘n capital “K”

 

Belangrik vir my op Paternoster, is dat ek die kans gekry het om ‘n foto wat ek al vir 30jaar gesmag het om te neem: een saam met Peter Snyders en Adam Small-drome word waar.

 

Peter se Selfportret

Petersê in “Deur ‘n bril” Ek is klein, dra bril en my hare verdun op ‘n

nie te mooi voorkop. Wat sal sy dink as sy my sien? Dat ek klein is, bril

dra en nie te sleg lyk nie.

 

Peter en die Kritici

Behalwe vir Jakes Gerwel, Vernon February, Hein Willemse, Richard Rive en Steward van Wyk. Petersen, Philander, en Small was hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik gekritiseer deur Die Dertigers, Veertigers en Sestigers en Snyders deur meer jonger kritici.Sinspeel jy daarop dat Wittes nie Bruines se skryfwerk kan kritiseer nie? Dat Wit kritici hul Digters soos Totius en Opperman en van Wyk Louw en I D Du Plessis as nie norm en standaard beskou waaraan die Bruin skrywers gemeet moet word?Die Wittes se ervaringswêreld is anders. Hulle meet gewoonlik Bruin Skrywers aan skrywers wat vir hulle bekend is soos Totius, DJ Opperman, of N.P. van wyk Louw. Hulle vergelyk nooit byvoorbeeld Small met ‘n Township digter soos Mzwake Mbuli of ander Swart Afrika Digters. As die Wit kritici net ‘n slag minder negatief wil wees en ophou om Bruin Digters paternalisties volgens Europese kriteria beoordeel .

Peter Snyders het ook al lekker deurgeloop onder die kritici. Ja, in 1981 het ene Elhaivo die volgende te sê gehad oor Snyders en sy gedigte nadat Snyders in Brekfis met Vier gedebuteer het: “Waar die mannetjie [Peter Snyders] aan die absurde gemors kom, sal net hy weet. ‘n Mens kan sy taal nie eens ‘n dialek noem nie. Dan het hy nog die vermetelheid om dit Kaapse Afrikaans te noem….Geen opgevoede mens praat so nie-‘n mens kry dit net by leke en skollie-elemente…Aan Snyders wil ek net sê: gaan studeer eers poësie woor jy weer gedigte skryf. Volgens my weet jy maar min van poësie.”

Daai is nog niks, hoor wat het die Gay digter/kritikus Johan De Lange te sê gehad na die verskyning van Peter se “‘n Ordinary Mens”: “Hierdie gedigte mis die integrasie en skryende ironie van Adam Small […] Die Kleurlingpoësie is simptomaties van ‘n geestelike armoede en stagnasie:in Maslow se hiërargie van behoeftes het hulle vasgesteek by die mees

elementêre behoeftes naamlik voedsel en sekuriteit, en dit lyk nie of hulle enige aspirasies of inisiatief het om verder te ontwikkel nie….”

‘n Growe veralgemening van ‘n Gay laaitie. As sy argument waarde oor die Kleurlinge, dan kan daar ook veralgemeen word en gesê word: Johan De Lange is ‘n Gay man, dus is alle mans Gay…!

‘n Mens moenie kwaad met kwaad vergeld nie. De Lange ken vandag ten dele maar hy sal eendag ten volle verstaan.

In die De Vries onderhoud 2002, nadat hy gevra is of die kritici nie dalk genoeg waardering  vir sy werk het nie  sê  ,Peter:  “Newwer,  ek skryffie ien vi’ hulle nie, soe ek liessie die goete wat hulle oo’ my wêk skryffie. Miskien loep lies ekkit in my toilet!”

 

Tekens van die tye

Titel klink vir my soos die Jehova Getuienes se traktaatjie. Ek dink die Bundel was oorspronklik getiteld: Gemiddelde Mens, maar Protea uitgewers het dit verander. Fanie Olivier sê daar is niks nuuts nie en Snyders speel maar op sy ou Raamkietjie voort…Fanie moes nog net bygevoeg het “Ou Ryperd”-dan was dit ‘n regte Dozi-boere resensie.

 

Gemiddelde Mens

Toe Peter my vra om te help keur uit al die gedigte, het ek so gedoen, maar ek vra ook vir Peter om ek  “Tighten your belt-revisited” kan publiseer in Nederland in die bundel Concept-uit vrees dat die gedig in sy oorspronklike vorm nooit gepubliseer gaan word nie. Peter gee toestemming en so verskyn die glorieryke oorsponklike woorde in die slot (soos wat Peter dit al in 1982 wou gehad het in ‘n Ordinary Mens): …en hier staan ek met geen kak in my mag en hulle vra my aanhoudend om te tighten, maar daar is niks meer om te tighten!

 

Brunch met twee

Peter en Clinton Du Plessis se bundel….

 

Political Joke II, [daais nou politics (1999)]

Peter woon gedurende die tyd in Kempton Park en hy nader vir my en Speedo om daarin te speel. Speedo speel Ralph, die rol wat Ivan Abrahams oorspronklik gespeel het en ek speel Sammy, die rol wat Solly Philander oorspronklik gespeel het. Daarin definieer Peter meeste van die Swartes (dit skemer ook deur in Tekens van die tye): tricameral blacks, aangenaaide swartes, pseudo-intellektuele swartes ensomeer. Al die swartes het Speedo so verwaar dat hy een aand by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees swetend van die verhoog gestorm het. Peter praat ook van Jakes Gewel se Literatuur en Apartheid, van Desmond Tutu, Advokaat Bizos ensomeer. Na een van die vertonings storm die joernalis Heinrich Wyngaard na my toe en sê: “Ek dink dit is tyd dat Peter Snyders reguit vir Jakes Gerwel in sy gesig sê wat hy van hom dink!” Ja-nee dink ek: die teater is die spieëlbeeld van die samelewing-does art imitate life or does life imitate art? Ek sê toe vir Heinrich dat Peter maar net teen UWK se Akademici was wat closset struggle politicians was-volgens wat Peter my meegedeel het het daai Akademici net ge-march as daar TV Kameras was en nooit traangas of persreën ervaar nie.Nevvermind om te sê, Heinrich het ‘n negatiewe resensie oor die play geskryf.

 

Fastforward Unisa 1999-2008

Elke jaar toe ek nog by Unisa gewerk het, het ek Takbesoek aan die Parow Takbiblioteek van Unisa gebring-dan surprise ek Peter met ‘n visit. Merkwaardig is, dat nadat ek en Peter gegroet het, hy ons gesprek van ‘n jaar tevore hervat oor Politiek, Kaaps, die Families ensomeer, asof ek net gou toilet toe gegaan het. Laas jaar (2008), weer ‘n surprise, maar Francis sê, Peter mediteer. Ek het maar gewag…daarna het ek en Peter lekker geargumenteer oor Katolisisme (my geloof) en Buddisme (Peter s’n). Uit ons gesprekke oorreed ek ook vir Peter om van sy oorspronklike geskrifte en dokumente aan  Unisa se Argief te skenk ter bewaring vir die nageslag. Dit doen hy en Unisa stel ‘n Inventaris op wat beskikbaar is.

 

2009

Ek en my vrou verhuis na Port Elizabeth. Een Saterdag is ons oppad na George. Toe ons op Plettenbergbaai stop, sê my Muse vir my: bel vir Peter, gee hom jou nuwe kontaknommers. Raai wat, Francis antwoord weer en sê: Peter mediteer. Gee maar alle kontaknommers vir Francis en hoor niks van Peter tot September vanjaar by die Gala Aand van die Northern Arts festival van Billy Paulsen: Hier is Willem Fransman, Peter, Francis, Monty en andere-sommer net so!-iemand daar bo sorg vir ons!

 

David Ernest:

Nog belangriker, is toe David Ernest, ‘n vriend van Peter en myself sy MA verhandeling in Engels gedurende 2004 voltooi met die titel: Meaning in Small, Snyders and Pearce: an application of Lotman’s Semiotics to “coloured” literature. Hierin dui hy aan hoe die kollektiewe geheue en bewussyn regdeur die drama loop. Al drie dramas handel oor verskuiwings van mense onder die Groepsgebiedewet en sluit plekke in soos die Kaap en Pretoria. Die dramas is: Joanie Galant-hulle (Adam Small), Political Joke (Peter Snyders) en die Laaste Supper in Marabastad (Robert Pearce). David se vergelykende studie  het my beker laat oorloop dat een van my dramas, die Laaste Supper in Marabastad vergelyk word met twee van my Gurus se dramas.

Samevattend

Peter het my en ander hier teenwoordig (of nie) geïnspireer, of soos Jimmy Swaggart sê: She…sorry He touched me…Nadat Peter jou ge-touch het, sal jy nooit weer dieselfde wees nie.  Peter het regtig die hele spektrum van temas aangeduf vanaf satire, godsdiens, politiek, sosiale euwels, kleurkwessie, sondes van Apartheid, die Kaapse Vlakte ensomeer….

Is die temas nie ‘n bietjie verouderd nie? Van hulle is, maar mens moet onthou Peter het begin skryf  nog voor die eerste maanlanding, of voor die Internet, voor Soweto ’76, voor die rekenaar uitgevind is, voor ons liberation van 1994, voor PAGAD…… en selfs voor Viagra…

Ek weet dat Peter lekker nuwe temas iewers in ‘n laai of op ‘n Rekenaar se hardeskyf het. Hy gaan ons nog suprise in die tweede fase van sy lewe.

Peter Snyders het my help vorm en geleer om alles obstinaat (lees hardegat) te bevraagteken. Wees altyd jou eie mens, al is jy die odd-person-out. Daarom is Peter Snyders nie vir my ‘n Ordinary Vriend vir my en andere nie.

Hêppie 70th Birthday en mag jou Gode jou vir nog baie jare spaar vir Francis, die Kinders, Kleinkinders en vir ons-Jou Pêl, Robert-namens Sylvie, myself enons Kinders en Kleinkinders.

Dankie!

 

 

Bibliografie:

De Lange, Johan. 1982. Geen vordering ná Merim-en-die-kaalgat-perskes.   Die Vaderland,p.36.

De Vries, Anastacia. 2002. Snyders toon ook tekens van tye. Die Burger, p.5.

Elhaivo. 1981. Gedigte is absurd. Rapport, 12 Maart

Olivier, Fanie. 2002. Op vertroude ramkietjie voortgespeel? Beeld,.

Snyders, Peter.  1982. ‘n Ordinary Mens. Kaapstad: Tafelberg

Snyders, Peter.  1985.  Swart Afrikaanse digters en hul ambag: in  Smith, J et al.  Swart Afrikaanse Skrywers, verslag van ‘n  simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville op 26-27 April 1985.

Snyders, Peter.  1992. ‘n Waarskynlike. Greenhaven: Unison

Snyders, Peter.  1995.  Die Skrywer as waghond. in   Willemse, Hein et al.  Swart Afrikaanse Skrywers, verslag van ‘n  simposium gehou op Paternoster  29 September tot 1 Oktober 1995.

Snyders, Peter. 2000. Political Joke 2: daais nou Politieks. Greenhaven: Unison

Snyders, Peter.  Tekens van die tye. 2002.  Pretoria. Protea Boekehuis

Snyders, Peter.  2005..Kaaps.  Referaat gelewer by die Swart Afrikaanse  simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville op  22 Oktober 2005.

 

Robert Pearce

University Librarian

Director: Library & Information Services

Nelson Mandela Metropolitan University

           

 

PETER SNYDERS

biografiese inligting 29 Junie 2005

PETER JAMES SNYDERS is gebore in WYNBERG, Kaap op 14 November 1939. Hy het grootgeword in WYNBERG (6-7 jaar), HAZENDAL (so 2 jaar) en die res van sy jeugjare in SILVERTOWN

Peter het skool begin in Wynberg by Palmerston Primer (1945), tot standerd een by Bokmakierie Primêr (1948), primêre skool voltooi by Silverlea (1952) en daarna is hy HOëRSKOOl – ATHLONE toe waar hy GEMATRIKULEER het in 1957.

Peter het eers B.Sc (Chem.) sowel as B.A. by UNISA studeer. Hy het egter sy B.A. by DIE UNIVERSITEIT VAN WES-KAAP voltooi in 1989. Van beroep was Snyders meestal n LABORATORIUM TEGNIKUS. Tans is hy ‘n afgetrede voltydse SKRYWER van professie. Hy het ‘n magister in skeppende kunste o.l.v. professor Etienne van Heerden by U.K. 2001 tot 2003 geloop maar moes die studies staak weens n gebrek aan geld.

Hy was gemotiveer om te skryf omdat sy familie baie arm was en hy kon as kind geld kry as hy vir n Junior Times skryf. Uiteindelik is n mens seker maar gebore met die talent want wie ander as n malmens wil hom met die harde werk van skryfwerk bemoei?

Snyders is veral bekend vir die MENS in sy gedigte, daarom is daar ook n sterk SOSIALE element in sy werk. Sy gedigte is uniek want hy skryf weg van homself. Hy gebruik die mense om hulself te verwoord. Andersyds is hy n stem vir die stemlose mens in die straat. Hy skep karakters daarom is sy gedigte al getipeer as STRAATGEDIGTE  en PRAATPOëSIE. Met n drama agtergrond het ene Coetzee gou opgelet dat hy skryf  ‘PERFORMANCE GEDIGTE’.

Snyders is gedurig besig om aan n verskeidenheid projekte te werk. Daar is nie n tyd wanneer iets gaan verskyn nie; hy herskryf en herskryf tot die skrifstuk reg is vir die volgende stap. Andersyds is hy ‘superstitious’ en glo nie dat n skrywer moet hom uitlaat oor waarmee hy besig is nie.

Die treffendste bundel van Snyders is ‘n ORDINARY MENS. Hy beskou die ordinary mense as sy grootste kritici want net hulle weet waaroor sy gedigte rêrig gaan. Kritiek uit ander oorde is vir hom interessanthede maar dis nie altyd relevant nie want die wereld van die skrywer is heeltemal anders as die van die kritikus. Hy koop weinig koerant of tydskrifte dus, tensy iemand hom vertel dat daar iets oor hom iewers verskyn het, is hy gewoonlik blissfully onbewus van ander mense se opinies en kommentaar oor hom of sy werk.

Snyders skryf meestal in sy moedertaal, KAAPS.  Hy ken al die reëls van sy eie taal en, al het hy gemajor in Afrikaans en Linguistiek (ook in Afrikaans geloop), is Afrikaans steeds vir hom n taal wat dikwels met sy eie taal bots. As hy in Kaaps skryf is hy nie onseker van homself nie. Onder die tale wat hy studeer het val Afrikaans, Engels, Kaaps, Nederlands, Duits, Xhosa, Zoeloe en Khoitaal.

Al wat Snyders graag wil bereik met sy gedigte is dat mense wat hom lees moet weet dat daar iemand is wat hulle lot verstaan en al kan hy nie veel help nie probeer hy tog troos.

Daar is geen behoeftes aan Snyders om enigiets meer te doen nie maar dit sal nogal nice wees as hy n novelle of  ‘n roman die lig kan laat sien. As sy gepubliseerde gedigte uit ‘n Ordinary mens en n Waarskynlike mens in South African English kan verskyn en as hy n CD kan uitbring van sy gedigte, met musiek en verwerkings wat hy self skep, sou dit ook ghrând wees. n Geestelike boek is ook n opsie maar dit seker na meer kontak met die innerlike Meester.

Snyders weet nie of hy n goeie digter is nie. Hy weet immers nie wat n goeie digter is nie. Al wat hy weet is dat hy steek baie skatte weg in sy werk. Miskien maak sy vernuf om mense weg te lei van sy skatte (d.m.v. humor, n taal wat geleerde mense verag, gewone karakters en alledaagse stof) van hom n goeie digter. Maar dit sal seker eers na sy dood op die proef gestel word.

PUBLIKASIES

POëSIE  

2005    Brekfis met vier (Human & Rousseau)

2002   Tekens van die tye (Protea Boekhuis)

1996    Verzachtende omstandigheden (Point)

1992     ‘n Waarskynlike mens (Unison)

1982     n Ordinary mens (Tafelberg)

1980     Brekfis met vier (Skoppensboer)

DRAMA 

2000    Political Joke II (Unison)

1983     Political Joke (Perskor)

KORT PROSA 

2001     Brunch met Twee met Clinton du Plessis

(Content lot)

 

Unisa Library Archives Manuscripts Collection 162

Peter Snyders Papers

 

1          Personal / Biographical

1.1        CV       2005

1.2        Correspondence            1978-2005

1.3        Copies of certificates     1976-1979

1.4        Finances: writer’s & composer’s expenses          1982-1995

1.5         Press cuttings              1974-1996

1.5.1    Printed poems & articles by Snyders

1.5.2    Reviews (theatre & literature)

1.6        Speeches

1.6.1      Protea Boekhuis           2002

1.6.2     Derde Swart Afrikaanse Skrywersimposium         2005

 

2          Notebooks and notes   1976 -1980; 2003-2005 and undated

 

3          Manuscripts / drafts

3.1        Brunch met twee            2001

Peter Snyders en Clinton v du Plessis

3.2        Beach games

3.3        Beloved inside me

3.4        Bones and Mina

3.5        Byklanke

3.6        Dankie my Baas

3.7        Daughter of Eve

3.8        Dr Olraait

3.9        Domastrant

3.10      Ek is oek important

3.11      Geestelike gedigte

3.12      God with no limits

3.13      Jou baadjie hang hier

3.14      Mirrored prayers

3.15      Negotiation

3.16      Paaie

3.17      Profile of so-called Aliens (ourselves)

3.18      Van alle kante Ektjoel-il diffrens betwien 6 en drie

3.19      Zen poems

3.20 – 3.21 Het ek “ons” gehoor;  Count out love;  Carrying a torch

                                                                     

4          Plays

4.1        The Birds and the Boys

4.2        Min genade

4.3        Violations 

       

5          Songs: words, music, chords and arrangements by

          Peter Snyders

5.1        Lists of submitted /  published titles       

5.2        Aching teenage heart

5.3        Adolessent /  Adolescent

5.4        Alles & almal

5.5        All right Baby

5.6        Altijd herinneringen /  Always remembering

5.7        Anything you want

5.8        Daai maakie saakie

5.9        Hoe

5.10      Hulle’t gesê

5.11      Jy in elke lyn

5.12    Kinderlike liefde

5.13      Komponeer jou lied

5.14      Kreet

5.15      Neem jou toevlug na binne

5.16      Roep van my hart

5.17      Sy laaiks my

5.18      Without you

5.19      Woman is made

 

6          Press cuttings  1979-1992

6.1        Afrikaans language & literature

6.2        Theatre reviews

6.3        “Brown” TV programmes

6.4        Labour Party

6.5        Black Afrikaans authors

6.6        Shrinking birth rate of Whites

 

7          Pamphlets & Brochures           1979-2004

7.1        Theatre programmes etc

List compiled: Marié Coetzee, Unisa Archives & Special Collections, Pretoria

February 2006