Posts Tagged ‘Ronél Johl’

Bekendstelling: Huldiging van NP van Wyk Louw 50 jaar later

Thursday, October 24th, 2019

VWL 50 jaar later 

Fyn net van ’n durende versgesprek

 

N.P. van Wyk Louw is al deur die literator Helize van Vuuren bestempel as die “heersende vors” van die Afrikaanse digkuns in die eerste helfte van die twigtigste eeu. Breyten Breytenbach sien sy as die “kroonprins”, en uiteindelike troonopvolger sedertdien.

Vroeër vanjaar is Breytenbach se tagtigste verjaarsdag hier op Versindaba met opwinding gevier, soos ook elders in die Afrikaanse kultuurwêreld. ’n Welige ruiker “Gedigte vir Breyten Breytenbach”, op uitnodiging geskryf deur ’n sewentiental eietydse digters, is onder meer op 16 September 2019 op Versindaba aan hom “oorhandig”.

Volgende jaar, meer presies op 18 Junie 2020, sal ’n halfeeu verloop het sedert Van Wyk Louw se afsterwe. Ons weet dat daar ook deur ander instellings beplan word om dié goue gedenkjaar vir die Afrikaanse letterkunde te vier. Tot dusdanige vieringe wil Versindaba bydra deur spesifiek sy digkunsnalatenskap in die kalklig te plaas.

Louise Viljoen, ’n ewe bekende Afrikaanse literator as Helize van Vuuren, en ’n gereelde inhoudbydraer van die Versindaba-webwerf, het elf jaar gelede in ’n vakwetenskaplike artikel uitgebrei oor die destyds bestaande “digterlike gesprekke” met Van Wyk Louw in Afrikaans. (Dié artikel is beskikbaar elders op hierdie webwerf. Kyk by http://versindaba.co.za/tag/louise-viljoen/.) Sy durende, steeds sterk gevoelde teenwoordigheid in die Afrikaanse poësielandskap blyk onses insiens ook uit digwerk wat die afgelope dekade verskyn het – en waarop ons hoop om ook die lig te laat val.

Intussen wil ons vroeg in 2020 afskop met weeklikse plasings van nuwe “digterlike gesprekke” met Van Wyk Louw, deurlopend tot op sy sterwensdatum.

In ooreenstemming met die bestaande praktyk op Versindaba, rig Versindaba, in samewerking met Ronél Johl en Bernard Odendaal, ’n uitnodiging aan reeds gepubliseerde digters by erkende uitgewers om nuutgeskepte gedigte aan ons te stuur ter huldiging van Van Wyk Louw en sy digterlike nalatenskap. In sulke verse moet hy en sy digwerk aangesny of in die herinnering geroep word, sy dit op huldigende of voortskrywende, maar ook op satiriserende, ironiserende of selfs teensprekende trant.

Die e-posadres waarheen sulke bydraes gestuur moet word, is marlies.taljard@nwu.ac.za

Hou ons kennisgewings en hierdie ruimte op ons webwerf dop vir die begin van ’n wederwoordonthaal van een van die allergrootste geeste wat ons taal opgelewer het.

 

NALN. NP v Wyk Louw uitstalkas

 

NP van Wyk Louw