Posts Tagged ‘Ruth First’

Andries Bezuidenhout. Besoek aan die swart stad

Tuesday, July 20th, 2010
Maputo se katedraal

Maputo se katedraal

Ek dink die hele naweek lank aan Breyten Breytenbach se gedig “Die swart stad” uit sy bundel Kouevuur:

weer jou veral teen die bitterheid, swart kind,
dit, en dat jy nie mag droom nie…

Ek probeer onthou hoe die res van die gedig gaan. Ek dink ook oor Johann Lodewyk Marais se boek Lae wolke oor Mosambiek, wat ek ʼn paar jaar gelede gelees het. En aan Ruth First se boek Black Gold, oor trekarbeiders van Mosambiek wat in Suid-Afrikaanse myne werk. Naby die plek waar Ruth First se kantoor was, by Eduardo Mondlane Universiteit, is nou ʼn gedenksteen.

My jongste broer Jan en sy vrou Lirette gaan Maputo toe vir die naweek. Hulle wil weet of ek wil saam. Natuurlik! Ons vriendin Erika spring ook in my broer se Jeep en ons slaan die snelweg oos. Die seil oor die kajuit wapper in die ysige Hoëveldwind. Maar dis okei, ons gaan somer toe.

“Kouevuur” is in 1969 gepubliseer. Dis die jaar toe ek gebore is. Maputo was toe nog Lorenco Marques. Dis waar die gedig geskryf is. LM Radio. Suid-Afrikaners sit op die Costa do Sol se stoep en eet kreef, kyk deur die palmbome vir die oseaan. Blou teëls op die vloer, die gebou se art deco lyne.

In 1975 het Mosambiek onafhanklik geword. Lorenco Marques se naam is na Maputo toe verander. Portugese is die keuse gegee om Mosambiekse burgers te word. Anders is hulle toegelaat om die land binne 24 uur te verlaat, met 20kg bagasie. Die huidige president, Armando Guebusa, het destyds daardie opdrag gegee. Vir lank het hulle hom “Mister 20/24” genoem. Van die 200 000 Portugese in Mosambiek het 180 000 die land binne ʼn bestek van ʼn paar dae verlaat. Alle eiendom is genasionaliseer.

knip en kam liewer gereeld jou papajaboom
en onthou die wolke tree op ook vir jou
en rotte eet vullis

Na onafhanklikheid het ʼn burgeroorlog uitgebreek. Frelimo teen Renamo. Frelimo met ʼn magsbasis in die suide, gesteun deur o.a. Rusland en Oos-Duitsland. Renamo in die noorde, gesteun deur o.a. Suid-Afrika.

Jan, my broer, het in die laat-negentigs vir twee jaar lank in Mosambiek gewoon. Hy praat gevolglik Portugees, wat dinge makliker maak – onderhandelinge by die grenspos, met verkeerspolisie – sulke dinge. Destyds met die vloed was Jan betrokke by hulpverlening aan die land. Doeanebeamptes wou omkoopgeld hê voor hulle noodvoorraad en voedsel deur die hawe sou toelaat. Ek weet nie of Jan die omkoopgeld betaal het nie.

Ons het destyds, in 1998, vir hom gaan kuier met die trein. By Ressano Garcia, op die grens, was daar nog koeëlgate in die mure. Maar nou was die oorlog was verby. Stilgehou in die Herbert Baker-stasiegebou. Dis turkoois geverf. Maputo is ʼn pragtige stad. Destyds, in 1998, het dinge reeds beter begin lyk. ʼn Burgeroorlog kan nogal onaangenaam wees.

Die Jeep kom in Maputo aan. Tot onlangs was dit nogal moeilik om van die buitewyke van die stad tot in die middestad te kom; geen straatligte nie, slaggate in die paaie, orals was verkeersknope. Nou is daar splinternuwe paaie, straatligte, dubbelbane in en uit die stad, verkeersligte wat die vloei reguleer. Dit voel soos ʼn nuwe stad. Ons boek ons by die backpackers in. Dis reeds laat en ons is honger. Soos soveel Suid-Afrikaners voor ons gaan sit ons op die Costa do Sol se stoep. MacMahon draught, kreef, garnale, barrakuda – op die kole gaargemaak.

Dis Saterdag. Skaars vyf ure van Johannesburg af is dit somer. Ek dra ʼn T-hemp. Stap in die strate rond, bewonder die argitektuur. Ek sal Sao Paolo en Lissabon moet besoek. Cobra-styl van argitektuur, Brasiliaans, as ek dit nie mis het nie. Ons neem die veerboot oor die rivier, wat ook die hawe se ingang is. ʼn Massiewe vragskip vaar verby. Gesels op die veerboot met twee mans van Swaziland wat vir die naweek see toe gekom het. Aan die oorkant, by Catembe, stap ons op die strand tot by ʼn restaurant onder casuarinabome. Eet garnale, drink witwyn.

Na 1975 is daar bitter min nuwe geboue in Maputo opgerig. Die stad het dus daardie aaklige postmoderne fase gemis wat lelike plekke soos Sandton in Suid-Afrika veroorsaak het. Dis elegante, modernistiese lyne. Parketvloere, houttrappe. Lieflik. Selfs die backpackers waar ons tuisgaan het houtvloere. Nou staan die stad vol hyskrane. Nuwe geboue word opgerig, oues weer geverf.

Ons besoek die katedraal in die middestad, langs die stadsaal. Toevallig is daar ʼn troue wat klaarmaak en ons kry ʼn kans om die gebou van binne te sien. Dis massief, ʼn katedraal wat vir ʼn wêreldstad bedoel is. Maputo is weer besig om ʼn wêreldstad te word.

waak veral teen die slymerige swart papaja
van bitterheid, swart kind –
hy wat daarvan eet sterf op bajonette
en in biblioteke,
sterf alleen in die mond

Op die laaste dag eet ons ontbyt langs die see. Dis ʼn bootklub. Idillies. Mense roei met kajakke op die stil oseaan. Op die strand voor die restaurant se stoep speel ʼn kleuter, haar ma en pa naby, asook ʼn oppasster in daardie kenmerkende bediende-uniform wat jy ook in Johannesburg sien.