Posts Tagged ‘Salvador Dali’

Francois en Francois Pienaar

Thursday, October 29th, 2009

Kan jy die verskil sien? Ek kan nie die verskil sien nie. Kan jy die verskil sien? Ek kan nie die verskil sien nie. Kan jy die verskil sien? Ek kan nie die verskil sien nie.

My ondigterlike grappie vir die dag. N.a.v. Melt Myburgh se foto van Lorca en Dali en die akteurs wat hulle speel. Ek lees toevallig op die oomblik Lorca se New York-gedigte.

Ek ry in spitsverkeer werk toe. Ek het my rekenaar by die huis vergeet. Ek ry terug huis toe. Die verkeer is rustiger. Daar is Casspirs in Hillbrow. My rekenaar is nie by die huis nie. Ek vind dit in die kar se kattebak. Ek ry terug werk toe. Die strate is nou heeltemal stil. Ek is al een wat oor is op die pad. Is dit die wegraping, of is almal in Lindela opgesluit?

Om te sterf in stadige aksie – Deel 1

Tuesday, October 27th, 2009

Dat die liefde ʼn duisend vorme aanneem, dié weet ons al te goed. Danksy I.D. du Plessis. Maar van die grootste en suiwerste liefdes in die geskiedenis het maar altyd tragies gehuiwer buite die konvensionele grense wat so algemeen aan dié lastige begrip toegedig word.

 

Die fiktiewe Lorca en Dali vs die regte-egte weergawe

Gistermiddag bel Hennie Aucamp my, meegevoer deur die film Little Ashes, waarin die liefdesverhouding tussen Salvador Dalí en Federico Gracía Lorca onder die vergrootglas geplaas word. Ek en Hennie is baie opgewonde oor die fliek, want ons wag al lank vir ʼn rolprent wat die komplekse emosies en feite rondom dié Spaanse digter se geskiedenis op ʼn sensitiewe wyse verken. Nie dat Little Ashes as bio-pic so akuraat is nie, daarvoor is die akteurs darem te mooi, en boonop word Lorca as student uitgebeeld waar hy seks met ʼn vrou het (heiligskennis!) terwyl onse Salvador masturberend toekyk. Maar soos Hennie tereg opmerk: hierdie prent is die eerlikste poging nóg om beslag te gee aan die omstrede geskiedenis van twee van Spanje se grootste seuns.

 

Saam met die res van die wêreld wag ons steeds op dié Lorca-film wat as ʼn universele verwysingspunt kan dien. Soos Richard Attenborough se Gandhi, byvoorbeeld.

 

As Salvador Dalí nie ʼn klein pielietjie gehad het en nie so angstig was oor anale seks nie, raai ek, sou hy en Lorca lewenslank aan mekaar kon rank, en sou die digter se lewe heel waarskynlik anders ontrafel het. Die kooie in Madrid se Residencia de Estudiantes en die beddens in die skilder se ouerhuis in Figueres sou beslis ánders gekraak het. Miskien sou Gala haar skrede nie hoef te gewend het tot die arms van sjarmante jong mans nie.

 

Maar dit daar gelaat. Die geskiedenis kan of wil nie verander word nie, allermins volgens die verbeeldingsvlug van ʼn rolprentregisseur. En dit bring my by ʼn ander aangrypende liefdesgeskiedenis wat die beperkinge van norme en verwagtinge oorstyg (maar nie oorleef) het.

 

Derek Jarman

Derek Jarman

Tot en met sy dood aan Vigs-verwante komplikasies, het Derek Jarman, die Britse skilder, filmregisseur, skrywer en teaterontwerper, sy gedagtes opgeteken in 33 leergebonde dagboekies. Die tydperk vanaf 11 Mei 1991 tot vroeg 1994, is deur Keith Collins geredigeer en saamgevat onder die titel Smiling in Slow Motion.

 

Een van die mooiste liefdesverhale – dié tussen Jarman en sy beeldskone minnaar HB – lê opgesluit tussen die bladsye van hierdie besondere boek.

 

Jarman het die jong man die eerste keer opgemerk toe hy saam met Artie Bressanen en Wieland Speck deelgeneem het aan ʼn paneelbespreking by ʼn gay-filmfees in Newcastle, en hy in die vraesessie nie sy oë kon afhou van ʼn kêrel in die voorste ry, geklee in ʼn “immaculate suit with a very sharp haircut and bright, intelligent eyes” nie.

 

Maande later het die regisseur, wat bekend is vir films soos Sebastiane, Jubilee, The Tempest, Caravaggio en Edward II, die moed bymekaargeskraap om vir HB te kontak en te nooi vir ʼn kuier by sy huis in Dungeness.

 

Dit was nie lank nie of HB trek by Jarman in en word sy laaste groot liefde.

 

Die twee had ʼn oop verhouding. Toe Jarman die jonge HB uit Middlesbrough met sy aankoms in Dungeness inlig dat hy HIV+ is, het die jong man ongeërg aangekondig: “That doesn’t worry me, I’m not here for sex.”

 

Een van die aangrypendste foto’s in Smiling in Slow Motion is van die skone HB wat liefderyk met sy arm lê om die sterwende Jarman.

 

 (Vervolg)

 

Bron van Little Ashes-foto.

Bron van Jarman-foto.