Posts Tagged ‘Sandra Laing’

Carina van der Walt. Toonleer-oefeninge op die tema Swart (1)

Friday, October 29th, 2010
Skin
Skin

Ras as tema duik reëlmatig op in die Nederlandse samelewing. Dit is asof die eksotiese sfeer wat saamhang met swartwees hier in ‘n byna deurskynende, wit samelewing opnuut ontdek word. Die volgende twee aanbiedinge op kultuurgebied einde 2008 en begin 2009 het my aandag getrek. Dit was die film Skin van Anthony Fabian en die tentoonstelling Black is Beautiful in die Nieuwe Kerk in Amsterdam. Daarop het ek spontaan reageer.

Met die première van Skin (2009) in Amsterdam, was ek gevra om as tolk op te tree tussen joernaliste van verskillende Nederlandse dagblaaie en die Afrikaanstalige Sandra Laing, die vrou wie se lewensverhaal in Skin verfilm is. Sy was besonder ingetoë. Veral was sy bly en dankbaar dat haar lewensstryd met velkleur en rasse indeling onder apartheid soveel aandag kry. Juis haar ongemak met die pers het my nuuskierig gemaak oor die film. Ek het die feite van haar lewe uit die onderhoude geken, maar nie hoe dit verfilm is nie.

Regisseur Anthony Fabian het die potensiaal van haar dramatiese lewensverhaal, ingebed in ‘n politieke sisteem, goed raakgesien. Uit ‘n blanke egpaar, gespeel deur Alice Krige en Sam Neill, word ‘n dogtertjie met ‘n donker velkleur en kroeserige haartjies gebore. Sy ken liefde en geluk, totdat sy moet skool toe gaan. Die apartheidsmonster slaan toe op klein Sandra, gespeel deur Ella Ramangwane. Sy word met agterdog bejeën. Haar pa se stryd om haar as blank geklassifiseer te kry, begin. Intussen word op skool teen Sandra gediskrimineer – blatant en subtiel. Haar ma troos haar waar sy kan: “your skin is perfect”. Adam Small fluister in my oor terwyl ek na die mooi, onskuldige gesiggie sit en kyk:

 

Bushy head

so they call you

to insult you

bushy head

but bushy head

birds can nest in you

daily fly from you

and return to you

carrying home to you

in their wings for you

heaven;

have their young in you

hold their young in you

 

Hierdie trooswoorde kom uit die gedig O kroeskop!. As Sandra tydens haar jongmeisiejare (gespeel deur Sophie Okonedo) verlief raak op ‘n swartman, is die hel los in haar familie. Dis eintlik ‘n spontane reaksie op haar onderdrukkende omgewing. Al haar pa se moeite om haar as blank te laat opgroei, was verniet. So voel haar ouers. Hulle verwerp haar. Die apartheidsisteem kry die oorhand oor hulle gewone, ouerlike liefde. En weer tart Small se stem uit die gedig What abou’ de lô:

 

Diana was ‘n wit nôi

Martin was ‘n bryn boy

 

dey fell in love

dey fell in love

dey fell in love

 

sê Diana se mense

what abou’ de lô

sê Martin se mense

what abou’ de lô

sê almal se mense

what abou’ de lô

 

Skin het in 2009 minstens twaalf internasionale pryse gewen, onder andere in Dallas, Santa Barbara, Los Angeles, Bari (Italië) en Bordeaux (Frankryk). 

Tentoonstelling

Tentoonstelling in De Nieuwe Kerk, Amsterdam

In die somer van 2008 was die tentoonstelling Black is Beautiful in De Nieuwe Kerk in Amsterdam. Dit krap aan my dat iets soos velkleur ook hiér nie en stééds nie ‘n natuurlike plek gegun word nie. Al staan dit los van die onderdrukkende apartheidsbestel. Nee, velkleur hoort in ‘n tentoonstelling! In die afdeling Bijbelse verhalen leer ek dat Pieter Paul Rubens in sy skildery Aanbidding van die Koningskind (1618), die swart koning in die sentrum plaas as verteenwoordiger van Afrika. Ander skilders gebruik soms ‘n swart figuur om ‘n skadu in te vul. Die liefde tussen koning Salomo en die donkere koningin van Skeba word ook op skilderye in hierdie afdeling uitgebeeld. Hooglied verwys blykbaar na hulle liefdesverhaal. Volgens sommige verhale is daar nege maande na koningin Skeba se besoek aan koning Salomo ‘n seun gebore. Hy is Menelik I, die eerste koning van Ethiopië.

In die afdeling Hofcultuur en pages word onder ander gefokus op Zwarte kinderen aan het hof. Op baie skilderye is die tienjarige swart slafies van ryk Nederlandse families in die agtergrond op familieportrette (bv. van die familie Friesheim) uitgebeeld. Agter hulle meester of meesteres (bv. Margaretha van Raephorst) is hulle altyd dienend. Asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is! Die boek De zwarte met het witte huid van Arthur Japin kry natuurlik ook ‘n spesiale plekkie in die tentoonstelling. Dit vertel die geskiedenis van die twee Afrikaanse prinsies, Kwame en Kwasi, wat in 1837 aan Koning Willem I geskenk is. Die begin met:

 

“De eerste tien jaar van mijn leven was ik niet zwart.

Ik was op veel manieren anders dan de mensen om mij

heen, maar donker was ik niet. Dat weet ik. …” 

 

Dit was omdat die “ek” die eerste tien jaar van sy lewe in Afrika tussen sy eie mense was. Hy het geen kleuronderskeid gesien nie. Dieselfde, maar dan omgekeerd, geld vir Bram Vermeulen. Hy was die vorige verslaggewer van die NRC-Handelblad in Suid-Afrika. In  sy boek Help, ik ben blank geworden vertel hy hoe hy die eerste keer bewus word van sy wit velkleur deur die steeds sluimerende newe-effekte van apartheid.

Tussen al hierdie vanselfsprekendhede oor ras en klas in Black is Beautiful, verkneukel ek my tog in die woorde van SV Petersen as hy alles omkeer. Hy ontmasker die luiheid en wantrou en hekel die posisie van die hoër, sosiale klasse in Suid-Afrika in sy gedig Kamee:

 

Sy kom haar dagtaak toegetree

van vooraf skugter en verleë,

en vryf die vloere blink van dié

wat nie wil weet van arbeid nie.

 

Teenoor die werkgewer voer die skoonmaakster in die gedig ‘n harde, maar eerlike bestaan. Petersen eindig met:

 

‘n Deur wat oopklap soos ‘n hek,

en aan ‘n muur ‘n ereplek

sit prinses Margaret, – opgewek!

 

Skielik wonder ek maar net in die gees van Petersen, sal daar nie dalk in die verre toekoms ‘n tentoonstelling in Johannesburg – White is Beautiful – gereël word nie? 

 

Sien hier ‘n resensie & video oor Skin.

Kyk ook na die webblad van die tentoonstelling, Black is Beautiful,  hieronder:  

Filmpjes & Kijktest  Wilt u meer weten? Hier vindt u filmpjes met achtergronden, persoonlijke verhalen, bijzonder archief en meer kunstwerken. Bovendien kunt u testen hoe goed u kijkt…

O kroeskop! en What abou’ de lô kom uit die bundel Kitaar my Kruis (1962).

Kamee kom uit die bundel Die kinders van Kian (1960).

 

Andries Bezuidenhout. ID du Plessis se politieke rol?

Monday, January 25th, 2010

Ek dink vanoggend aan daardie gedig van ID du Plessis oor Katrina van die Bo-Kaap: “Katrina haat die lewe, Katrina vrees die dood, Katrina gaan haar slentergang, verdien haar bitter brood.” Of so iets.

Hierdie naweek ʼn uitstekende artikel deur Wilmot James in die Saturday Star gelees oor die bevolkingsregistrasiewette van die 1950s. Die artikel is geskryf in reaksie op die fliek Skin wat op die lewe van Sandra Laing (in die foto hier bo, saam met haar ouers) gebaseer is. James noem daarin die rol wat die Afrikaanse digter ID du Plessis gespeel het in die “beskerming” van mense wat as “Cape Malays” geklassifiseer is, asook die feit dat mense van die Bo-Kaap (toe Distrik Twee) nie aan gedwonge verskuiwings onderwerp is soos mense van Distrik Ses nie.

Ek kom toe op ʼn artikel af wat die historikus Nigel Worden geskryf het oor hoe mense slawerny in Suid-Afrika onthou. Hy noem ook die rol van ID du Plessis, wat op ʼn stadium die Kommisaris van Kleurlingsake was. Ek haal daaruit aan:

When apartheid was instituted in the 1950s, public awareness of slave heritage was well buried. At the Van Riebeeck Festival of 1952 (the tercentennial of the founding of the Dutch colony and a spectacle celebrating white South Africa), the slave past did not feature at all. Several days after the main pageant, a ‘parallel’ event marking ‘Coloured’ history took place. This event displayed the arrival of Sheikh Yusuf, the Islamic opponent of the Dutch, who had been exiled to the Cape in the 1670s, here portrayed as the founding father of the ‘coloured people’, the ‘coloured Van Riebeeck’. No mention was made of the slave trade, and the retinue of personal slaves that Sheikh Yusuf had brought with him was politely referred to as his ‘servants’. The event, like the rest of the Festival, was boycotted by most ‘non-white’ Capetonians and photographs show rows of empty seats. The Sheikh Yusuf pageant was part of the apartheid state’s support for a distinctive ‘Malay’ identity for Cape Town’s Muslims with Islamic and South-East Asian origins. This had been given a particular boost in the 1940s and 1950s by the state’s Coloured Affairs Department under the Afrikaner academic and poet I. D. du Plessis, who promoted a specific ‘Malay’ culture with competition choir singing, a distinctive cuisine and the demarcation of a specific ‘Malay Quarter’ on the slopes of Signal Hill overlooking the town. Under the Population Registration Act (1950), ‘Cape Malay’ was declared a distinct racial category, while the Malay Quarter was proclaimed an area for Malay segregation under the Group Areas Act of the same year. In this ethnic and cultural construction, little or nothing was said about slavery. The roots of the community lay rather in the exile of Islamic leaders and ‘princes’ whose past was romanticized and glorified.

Hy haal ʼn boek aan wat deur ID du Plessis geskryf is, met die titel The Cape Malays (1944). Nou wonder ek maar net; het iemand al ʼn deeglike stuk navorsing gedoen oor die politieke rol van ID du Plessis?

Aanhaling uit: Nigel Worden. “The Changing Politics of Slave Heritage in the Western Cape, South Africa.” Journal of African History, 50 (2009), pp. 23-40.

Politieke satires van Wilhelm Knobel

Monday, October 12th, 2009

Deon Knobel  (Bel Monte  Kaapstad)

 

Wilhelm Knobel

Wilhelm Knobel

Dit  was met groot belangtelling dat ek in Rapport van 13 September 2009 die verhaal van Sandra Laing weer kon lees en foto’s van die gesin en haarself as volwassene kon sien.

          Enkele maande gelede het ek, ter voorbereiding van ʼn bydrae tot die mini-seminaar van Litnet, “Afrikaanse Skrywers van die Struggle”, ʼn goeie kennis van my, Mnr Mannie Brown van Tamboerskloof gevra om op die internet te gaan soek na die voorval. Hy het toe met Sandra se geskiedenis vorendag gekom. My broer, die digter Wilhelm Knobel,  het enkele politieke satiriese gedigte geskryf, wat nooit tydens sy lewe gepubliseer is nie, maar wel na sy  dood in Nagelate gedigte (Perskor 1976) . Prof. Louise Viljoen, in ʼn waardeartikel oor sy werk (2005), verwys inderdaad na dié feit:                                                     

“Sy sosiaal-kritiese verse sluit ook aan by die politiese betrokkenheid wat kenmerkend is van Sestigers se werk (dit is wel opmerklik dat die meer uitgesproke verse in sy Nagelate gedigte eerder as in Bloedsteen en Mure van mos verskyn).  Met die speelse element in sy werk staan hy – soos ander Sestiger-digters – in ’n lyn in die Afrikaanse letterkunde wat loop vanaf Visser, Leipoldt, Krige, Blum, Toerien en Breytenbach eerder as via die tradisie van Dertigers soos N.P. van Wyk Louw en Opperman.  As beeld van ’n digter wat hom in ’n oorgangstydperk in die Afrikaanse letterkunde bevind en verstegnies sowel as tematies worstel met die spanning tussen die tradisionele en die vernuwende is Knobel se oeuvre ’n besonder boeiende een wat met vrug heruitgegee sou kon word in ‘n versamelband.” 

 

Volgens Knobel se tydgenoot en goeie vriend, Jeanne Goosen, was die groep digters van die Digtersgroep van Pretoria, gestig op 21 Februarie 1966, onder leiding eers van Coenie Rudolph, later De Waal Venter en uiteindelik Ted Bonaventure Hinwood, erg bevrees vir die Veiligheidspolisie. ‘n Ander stigterslid van die Digtersgroep en groot vriend van Wilhelm, Joan Lötter, het geglo die bewering was dalk effens oordrewe, en moontlik gelyk aan ‘n voorstedelike legende. Die Nasionale Party Regering het inderdaad  nie ooghare vir hulle gehad nie, omdat hulle die Apartheidsbeleid gekritiseer het. Koot Vorster, destyds  Moderator van die NG Kerk en broer van die destydse Eerste Minister van Suid Afrika, Ben Vorster, het die Sestigers as “Vuilspuite” uitgekryt. (Die Burger 11 Junie 2008)

Wilhelm Knobel was tydens sy lewe baie bewus van die regte van alle mense, ongeag kleur en etniese afkoms, godsdiens, politieke verwantskap en geslagsoriëntasie.  Hy het dit soms selfs gewaag om aan die etenstafel met sy vader, destyds LV vir die Nasionale Party, en ondersteuner van Verwoerd en sy Apartheidsbeleid hieroor in gesprek te tree. Dit het meestal tot vuurwarm en kwaai argumente gelei, met versteuring van die andersins gemoedelike gesinsatmosfeer.

Drie van Knobel se vier Politieke satires het ’n fiktiewe karakter, Mnr X, as persoonlikheid gehad. “Mnr X” verteenwoordig inderdaad almal wat deel was, en die beleid van Apartheid, óf stilswyend, óf deur woorde en dade, ondersteun en onderskryf het.

So was daar “Toe mnr X by die Poort kom” (1969) en op voorkeur-behandeling aandring; “Elegie vir drie pasdraers – Mnr X het ʼn nuwe speletjie versin “– (1970), wat handel oor die drie swart mense wat saam met ʼn groep, omdat versuim is om ’n pas te dra,  gearresteer was en saam met heelwat ander in die vangwa gestop is. Drie is dood weens versmoring en verdrukking  en die minister het wel iets gesê soos “Dit laat my koud.”  Die gedig oor Sandra Laing “Mnr X se donker dag” (20/03/69), is die mees skreiende van die drie gedigte.

In bogenoemde  Rapport-artikel  word die tragiese verhaal van Sandra Laing vertel. Sy is weens haar velkleur en voorkoms eers uit die wit skool gesit, en het daarna vir twee jaar by die huis gebly. Op 15-jarige leeftyd het sy op ʼn swart man verlief geraak en die huis saam met hom verlaat. Sy is hierna deur  haar ouers verwerp en het by swart mense aanvaarding en ʼn tuiste gesoek en in ʼn mate gevind.  Tans is sy in Nederland vir die première van die Amerikaans/Suid-Afrikaanse dokumentêre film, Skin wat handel oor haar lewe.  Met haar bejaarde moeder, reeds nie meer ten volle bewus van haar omgewing nie, het sy wel in ʼn mate versoening gedeel, maar haar biologiese pa is oorlede voordat hulle weer kontak gemaak het. Haar twee broers, wat skynbaar albei nog lewe, wil volgens die artikel nie met haar kontak maak nie.

Die geval van Sandra Laing is op Vrydag 18 September 2009 op Beaufort Wes gebruik in ʼn lesing deur my, Deon Knobel, waar ek op uitnodiging van Emeritus Professor Henning Snyman, gepraat het oor Dood, verlies en die rouproses. Haar verlies was beklemtoon as anders, en waarskynlik erger as die dood.

Indien sy haarself, soos in die gedig voorgestel, wel vergif het, sou haar lyding geëindig het. Die verlies van haar hele familie, haar identiteit, geborgenheid, gesinsverband, en gemeenskapsverbintenis, is inderdaad erger as die dood, wat finaal is, terwyl hierdie verlies tot met haar dood sal voortduur.   In die onderhoud in Rapport word beklemtoon dat aanvaarding nog ver lê. Dit is sekerlik een van die mees tragiese voorbeelde van ‘n “Gekompliseerde rouproses” en vergifnis en aanvaarding sal waarskynlik nooit ten volle kan geskied nie.   

 

 

 

MNR. X SE DONKER DAG

 

Ontmoet Mnr. X

         ʼn man uit een stuk

ʼn man na Gods hart      

ʼn Ware Afrikaner

mnr.  X is ʼn gekwelde man vandag

dis nie dat

een van sy seuns met ʼn oorgeplante nier sit nie

wat nie aldag so mooi meer fungeer nie

(ʼn ander skenker kan immers altyd gevind word)

of dat sy broer vir ʼn hartoorplanting oorweeg word nie

(Barnard ken sy slag

en buitendien, Janneman het sy lewe tog gehad)

die probleem wat hom vandag getref het is Veel Groter:

een van sy kleinkinders is aangesê

op aandring van gebelgde ouers

om summier te trap uit die skool:

haar gelaatstrekke is onmiskenbaar Negroïed

                                                                                                                                                                                    vir watter sonde het God hom so geslaan

en hy met sy heimlike voorneme

nog nie eers met sy vrou gedeel nie

om homself as kandidaat te laat benoem in diens van sy volk

… sý volk?

rus op sy ras vir ewig die vloek van die Bloed:

dat ʼn voorsaat sonder inbors in ʼn donker verlede

die wet van die Volk en God se Gebod oortree het?

         (ʼn man is ʼn man

en ʼn meid is ’n meid

and never the twain shall mate)  

 

ʼn ander uitweg is daar nie

voor die Sondagkoerante

simpatiek of verkramp

van dié geurige happie die snuf kry

moet hy bedank

uit die Kerkraad

uit die Skoolraad

en die Volksraad … nie dit ook nog nie, goddank!

en die Plaaslike Komitee vir die Behoud van ʼn Suiwer Volk

 

kepe kerf mnr. X se voorkop                        

rook borrel in heftige dampe by dik wange verby

hy Dink                                        

destyds … voor die Swartes hom uitgeboer het

het Pietman mos in Tanzanië geboer

wie sal dit betwis as hulle sê

         sy’s ʼn aangenome kind

         van onbekende ouers

en geen produk van die Familiebloed nie?

maar dan bring die vrou met nog ʼn koppie koffie die tyding

Saartjie had haar self vergif

dis hard

                − so ʼn goeie kind                

byna soos een van ons –

maar God se weë is wonderlik …

die kepe ontspan

die rook lig

mnr. X sit sy stoel weer met vertroue vol

 

Wilhelm Knobel (20/3/69; hersien 5/6/73)

 

 

ELEGIE VIR 3 PASDRAERS

 

Mnr. X het ʼn nuwe speletjie versin

− nie-amptelik natuurlik                            

sulke dinge gebeur altyd nie-amptelik

dis juis die sports −                                 

en u sal verheug wees om te weet

dit vereis geen inspanning nie

verlig of andersins

soos trouens uit die naam steeds blyk:

Sardientjies-pak-in-‘n-Blik

die resep is eenvoudig

en die bestanddele maklik te bekom

dus geen rede waarom almal nie kan meedoen nie:

tien of wat sardientjies méér           

as die voorgeskrewe getal

(l.w. die pasdraersoort                    

dis al spesifikasie),

ʼn blik met geen ventilasie nie

(lug laat sardientjies bederf

soos almal weet

− in ʼn onlangse proef is wel                

ʼn mate van ventilasie voorsien

maar die resultate was

soos te wagte

teleurstellend)

en nou vir die volmaakproses

wat eintlik ʼn inpropproses is

as ʼn mens dit fyn ontleed

dit behoort geen probleme op te lewer nie:

almal weet tog

sardientjies het nie arms of bene nie

ʼn mens sou amper kon sê hulle is spesiaal

       gemaak

om maklik in ʼn blik te pas

en wat so gerieflik is

anders as wat by mense die geval sou wees

kan hulle sonder waardigheid

(dié begrip is vreemd aan ʼn vis)

kop by stert gelê word

om so min moontlik spasie te mors

aan die eerste dosyn is glad geen kuns nie       

en vir die kenner is dit duidelik                  

dat sardientjies vanuit ʼn teleologiese oogpunt  

tog maar hoort in ʼn blik                                                    

hierna word die eintlike bedrewenheid eers

     duidelik

… maar presies hoe dit gedoen word

verswyg ons

om u pret nie te bederf nie

ons mag net noem

− want self sou u nooit                                                     

dié diplomatiese kunsie  bedink nie

daarvoor is jare se ervaring nodig –

dat u beslis nie moet nalaat om

as die spel verby is

gepas u leedwese oor te dra aan die

   naasbestaandes nie

(anders as wat algemeen geglo word

het sardientjies wél familie)

eers dan kan u die bevrediging smaak 

van ʼn spel wat behoorlik   

volgens al die reëls gespeel is                                           (1970)

 

Dit is reeds duidelik in die voorafgaande twee gedigte dat Wilhelm Knobel groot weersin gehad het in die huigelagtige optrede van die sogenaamde bevoorregtes, wat selfs op godsdiens wou terugval  vir hulle eie wandade en  eise. Mnr X, met sy aankoms by die Poort, is inderdaad streng tereg gewys dat “almal se kleur hier dieselfde is/  – om die waarheid te sê kom dit neer op ʼn betreurenswaardige  gebrek aan kleur – dat niemand hier voorkeur geniet nie/selfs nie Calviniste nie.

 

 

TOE MNR. X BY DIE POORT KOM

                                            

toe mnr. X by die poort kom was daar ʼn effense gedrang

maar selfs sy posisie en status het niks gebaat

om vir hom ʼn plekkie voor in die ry te konkel nie

toe hy uiteindelik aan die beurt kom het hy aangedring op ʼn verklaring

Petrus was apologeties en hulpvaardig soos altyd                      

maar het hom verseker daar kan niks aan gedoen  word nie:   

omdat almal se kleur hier dieselfde is

 – om die waarheid te sê kom dit neer op ʼn betreurenswaardige gebrek aan kleur –

   is dit nutteloos om op die kosyn die kennisgewing aan te bring

Net vir Blankes

dus neem dit ʼn tydjie om vir elke nuweling die rekords na te slaan

om seker te maak of hy nie dalk ʼn pas moes dra nie         

en om vir diegene soos hy, mnr. X, te verduidelik

dat niemand hier voorkeur geniet nie

selfs nie Calviniste nie

(1969)

 

Knobel het van die dood van Ingrid Jonker met groot ontsteltenis verneem. Gedurende sy jare van verblyf in Kaapstad en besoeke aan die Jan Rabie/Marjorie Wallace en Uys Krige vriendekring, het hy Ingrid goed leer ken.  Met haar brose gemoedstoestand en haar hunkering na aanvaarding deur haar vader, die politikus, Abraham Jonker, het hy sterk geïdentifiseer. Hy het inderdaad haar digbundel en foto gekies om in die publisiteitsfoto ter bekendstelling van sy debuutbundel, Bloedsteen, (H&R 1966) gebruik te word.

 Knobel deel haar weersin in politieke ongeregtighede en in sy gedig “Limehill”, (Mure van mos, H&R 1970) opgedra aan Ingrid Jonker, word haar dood in die see by Drieankerbaai roerend beskryf. Met sterk politieke  ondertone word dan Intertekstueel verwys na “Die bloedlose  dood van één kind/ staan geskryf in bloed teen die Vaderlandslug.

 

Limehill

ter nagedagtenis aan Ingrid Jonker

 

Vreedsaam

in iedere kerk in die Republiek

in Pretoria in Postmasburg in Kaapstad

gedenk gelowiges die dood van Christus.

 

Maar uit vuilgroen waters van Drieankerbaai

kla die stem van ‘n vrou

of is dit ‘n sirene in die mis?

Die bloedlose dood van één kind

staan geskryf in bloed teen die Vaderlandslug.

 

In die son by Limehill

teken ‘n kind ‘n laer in die sand

en rustig vee hy dit

met ‘n enkele beweging van sy palm dood.

 

 

[Oorspronklik in Standpunte no 83, Jaargang XXII no 5, Junie 1969, met addisionele aanvangsvers:

 

Vir ‘n gemeenskap van daardie grootte

is so ‘n sterfte syfer slegs normaal

en toe dit nie langer klop nie …

− u het dit al geraai −

vergeleke met ander state in Afrika …