Posts Tagged ‘Sandra Nortjé’

Sandra Nortjé. Dis nogal wat

Sunday, January 10th, 2010

Blogfokus

Die regte vraag op die goeie oomblik  - dis nogal wat.

Soos poësie kan so ‘n vraag mens lei tot insig en ontroering.

Wanneer, is gevra, wanneer is ek bekeer tot die poësie? - dié blogvraag het my aan die dink gesit. En só het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ek nie soseer tot die poësie bekeer geraak het nie; ek is waarskynlik in die geloof gebore.

Ek het my brief  ‘n paar keer van voor begin. Elke keer met ‘n ander invalshoek op dié onderwerp en met aanhalings uit ‘n klomp bundels en boeke. Ook met ‘n hele lys name van mense wat ‘n belangrike rol gespeel het in dié bewuswording in my lewe.

Ek wou noem dat die eerste digbundel waarvan ek bewus geword die bundel “Die Purper Iris en ander Nagelate Gedigte” van A.G. Visser was (in 1932 uitgegegee deur Nasionale Pers). Ek wou sê dat dit so ‘n geeloker boek met ‘n geskeurde linnerugkant was. Dat dit my pa se boek was toe hy nog geleef het en dat dit destyds vir hom in sy matriekjaar in Kirkwood voorgeskryf is. Daaruit, onthou ek, het iemand (dalk was dit my ma) vir my “Amakeia” voorgelees toe ek in graad 2 was.  Ja, en ek wou ook vertel dat ek die bundel nou nog het.

Omtrent in standerd twee het hulle my van die aard van rymwoorde geleer. Ek het maandelank alles in rym bedink, maar iewers het dit tot my deurgedring dat dit hier sekerlik oor iets meer as net die klank moes gaan, dat dit nie só eenvoudig kon wees nie, en my belangstelling het net daar vir eers tot ‘n einde gekom.

Later was ek besonder bevoorreg om Kerneels Esterhuyse as onderwyser vir Afrikaans te hê en van die gedigte in “Groot Verseboek” het bietjie-vir-bietjie vir my betekenis gekry. (Ek moes die boek aan die einde van matriek natuurlik teruggee, maar ‘n kêrel uit dié tyd het my gemis raakgesien en vir my negentiende verjaarsdag “Groot Verseboek” vir my persent gegee - maar dis ‘n anner storie.) Veral die herinnering aan die dae waarop oom Essie vir ons “De kleine Johannes” voorgelees het - besonder omdat dit ‘n boek was wat nie vir ons jaar voorgeskryf was nie - dra ek nounog dankbaar met my saam. Tsja, mens handel nie oom Essie se bydrae in jou lewe in een of twee sinne af nie, maar tog.

Ek wou ook die onderwyser wat vir my van Shakespeare geleer het,  Johann Odendaal, noem. Engelse letterkunde was danksy hom vir lank vir my ‘n eerste liefde.

Ek was op die punt om te vertel van my latere blootstelling aan die literatuurteorie; hoe ek die lesings van John Lye van Kanada op die Internet raakgeloop het en dat hy later vir my die aanhaling van ‘n Tom Waits-liriek gestuur het: We’re chained to the world and we all gotta pull

In daardie dae het ek ook ‘n gedig van Robert Frost raakgeloop wat my besonder getref het:

Fire and Ice

Some say the world will end in fire,
Some say in ice.
From what I’ve tasted of desire
I hold with those who favor fire.
But if it had to perish twice,
I think I know enough of hate
To say that for destruction ice
Is also great
And would suffice.

Alles saam het my laat besef dat as poësie só ook kan klink, wel, dan sien ek weer daarvoor kans.

Ek het toe pas die internet ontdek. Dit het my die geleentheid gegee om gedigte in Afrikaans op ‘n Nederlandse webwerf te plaas. Daar het ek baie geleer oor gedigte, en dalk net soveel geleer oor digters. Die jonge Danny Degenaar het later gedebuteer. Daphne Buter het gepubliseer. En een van die ander digters (Gerard Dupree) het dié gedig geskryf:

Alexandrijnse blues

Het zal het eerste en het laatste wezen dat ik bouw,
die veranda aan het oudste roze van de zon,
‘n blauwe vogel fluit ‘ron’ sjoe bie doe wa, ‘ron’
sjoe bie doe wa; zo hoor je dat ik van je houd.
En jij draagt riet, nee fancy linnen, maar wel blauw,
terwijl je naast me zit op ‘t blond gelakt balkon
rinklen belletjes van ‘ron’ sjoe bie doe wa, ‘ron’
sjoe bie doe wa; yup, zo trillen ze alleen voor jou.
En hup, als een oude held pluk ik om een zucht
de zon, de maan en sterren voor je uit de lucht
helder hemellicht dansend in een lampion
kristallen sferen zoemen sjoe bie doe wa ‘ron’.
Ik tuur uren naar die zon, jij zegt iets over ogen,
daarvoor mijn lieve dank; ze mogen nu wel drogen.

Ek het eers ook oorweeg om te vertel hoe ek later op ‘n dag myself in my eie gedigte raakgelees het, en toe soos daardie T-hempie wat mens hier op die mark in Hermanus kan koop, gedink het: genoeg is genoeg. Maar dié storie verveel my nou.

Meteens weet ek toe - ja, so was dit, so is dit, maar so is dit ook nie.
Ek was erg verras om vir die eerste keer in te sien - dis by my ma wat ek vir die eerste keer van gedigte geleer het. Dié ma wat, as sy op ‘n dag besluit het om die huis deeglik op te ruim, so maklik en oënskynlik sonder enige gevoel dinge wat vir ons kosbaar was, kon weggooi. Maar dit was ook sy wat “Die Purper Iris” tóg op die boekrak laat bly het.

My ma het ‘n versie vir elke ding geken. Afhangende van haar bui sou sy haar versies plesierig vir ons opsê. Engels én Afrikaans, want sy was in ‘n dubbelmediumskool en ek wens ek kon Engels praat soos my ma. Méér nog, ek wens ek kon Afrikaans praat soos sy. Ongelukkig onthou ek baie min van haar versies. Dis nie van die dinge wat mens nodig ag om te memoriseer nie. Om die waarheid te sê - ek kan nou net aan twee van my ma se versies dink. Jammer.

Daniël in die leeukuil
Sy hemp is skoon
Maar sy broek is vuil

***

Gat vra vir jou ma ‘n sikspens
Om die nuwe giraffe te sien
Hy’t kolletjies op sy maanhare
En kolletjies op sy

Gat vra vir jou ma ‘n sikspens…

Sandra Nortje