Posts Tagged ‘selfportrette; Louis Jansen van Vuuren’

Louis Jansen van Vuuren. Nabyskote in Woord en Beeld

Sunday, May 24th, 2015

Nabyskote in Woord en Beeld

There are mirrors for the body, but there are no mirrors for the soul.

Baltasar Gracian

 

Vir die Woordfees 2015 stel ek, in samewerking met die Distell Stigting, ’n tentoonstelling saam met die titel: Portretteer: Nabyskote in woord en beeld.

My betrokkenheid met die jaarlikse projek is grotendeels om ’n nagraadse beursfonds vir die Departement Beeldende Kunste van die Universiteit Stellenbosch tot stand te bring. Ons kon reeds vier beurse in die verlede toeken. Sewentig kunstenaars en skrywers is gevra om ’n selfportret te skep. Skrywers kon ’n storie bou of ’n gedig komponeer. Daar was nie beperkings ten opsigte van medium en inhoud nie – behalwe dat die deelnemers iets van hulle self moes reflekteer.

Die selfportret is een van die oudste kunstemas in die kunsgeskiedenis. Aweregse kunshistorici meen dat die prehistoriese palmdrukke op die rotswande in die grotte van Lascaux in Frankryk en Altamira in Spanje, die eerste konseptuele selfportrette van die mens is. Die idee was ook om ’n bundel te maak van die selfportrette. En voilà, hier is ’n paar uittreksels.

Hanneke Benade. Untitled self. Pastel on cotton paper

GEDIG VIR MYSELF

.

dis jou storie

wat my huis toe bring

dis jou boek

wat ek wil lees

dis jou liedjie

wat ek nou wil sing

dis jou ek

wat ek wil wees

jy’s die skrywer

van my lewe

jy’s die storie

van my reis

ek wil lê

hier in jou skaduwee

ek wil kook

in jou kombuis

ek wil stap

en praat en luister

na die woorde

wat jy skryf

ek wil liefhê

ek wil fluister

en eindelik tuiskom

in jou lyf

.

Koos Kombuis

Carina Stander. Skets 1. Ink en gouache op papier

ek is gebore met die vloed


ek is gebore met die vloed van 1976

ek onthou nie my geboorte in November nie

 

om as doofgeborene in die lewe te kom

is om onderaards stil te luister:

hoe ritsel die rietsanger, singende grys wond

hoe klouter die syselbos al blouer

teen die watermassa uit

 

struike struikel

waar ‘n vlakvark kniediep kniel

saam met Pa en Ma vra

dat die bulkende berge om skemertyd

die moddersnuif van seekoeie

dat die brood wat aan tafel

gebreek word

soos ‘n doodgewone wóórd

my nie sal verbygaan nie


een aand rank ‘n beaarde hand

deur die venster digby my kot

 

en ek kon hóór toe hulle sê:

sy is geskryf deur die Wilde God

.

Carina Stander

Lien Botha. Selfie in Karoo.

 

Nie mooi nie en ook nie slim nie

Met my geboorte is ek, as tweede dogter, na my ouma aan vaderskant vernoem: Adriana Wilhelmina.  Goddank is ouma Willemien se derde naam – Petrusina – nie vir my aangegee nie, ek sou my ouers nooit vergewe het nie.

Ek het nóg ‘n naam, my Zoeloenaam wat ek as kind gekry het. In die Zoeloe-kultuur kry jy nie net sommer ‘n naam nie, jou naam is dit wat jy is. Of dit wat jy hopelik sal word.  My Zoeloenaam, ‘n naam waarop ek baie trots is, is Ntonbenhle.  “Mooi meisie”, beteken dit.

Helaas, ek het nog altyd geweet dat ek nie té vreeslik mooi is nie. Dit het nie saak gemaak nie, want ek geweet ek is slim, en slim is vir my belangriker as mooi. Maar êrens in my agterkop het ek tog geweet ek is bietjie mooi, al is dit net in Zoeloe.

Op die plaas waar ek ná my troue ingetrek het, is ‘n bekkige vrou met die naam van Katryntjie Kruger. Sy is my huishoudster.  Haar man, Basjan, is my tuinier. Omdat ek baie meer hou van tuinwerk as huiswerk, bring ek nogal baie tyd saam met Basjan deur.

Op ‘n keer kom ek terug uit die olienhoutbos waar ek en Basjan die hele oggend braambos en ander wilde dinge uitgekap het. Ek probeer slim wees en sê vir Katryntjie:

“Katryntjie, is jy nie bekommerd dat ek so alleen saam met jou man in die bos werk nie?”

Sonder om eers ‘n sekonde na te dink, sê sy vir my: “Nee, wat, Mevrou, so mooi is jy ook nou nie.”

Nou ja, daar het jy dit. Nie mooi nie. En ook nie slim nie.

Riana Scheepers

Linda Weaver. Bendita ilusion. Oil on canvas.

Die koms van die biblioteekbus

.

Die omgedolwe rooigrond agter die ploeg is heerlik koel.

Ek en my sussie lê plat op ons mae en luister na die gedreun van die trekker. En ons wag.

Meteens sien ons die stofstreep aan die anderkant van die lande aangeslinger kom. Die

biblioteekbus! Hy kom! Hy kom!

My sussie is eerste op. Sy is ouer, maar ek is vinniger. By die suikerrietbos het ek haar lankal

verbygevat. Ek hardloop dat my boksterte styf agtertoe punt. My oë skreef teen die wind. Ek hoor

hoe my voete plof op die grondpad en my asem pomp.

Dis eers toe die bus lewensgroot voor die winkel opdoem, dat ek effens hokaai. ’n Mens kan nie soos

’n hygende hond dáár ingaan nie.

By die deur vat ek diep happe lug en vee my stofhande aan my blou-en-wit blommetjiesrok af.

“’n juffie!” groet die tannie van die biblioteekbus vriendelik. “Is jou hande skoon?”

“’n tannie, ek het hulle nou-nou-net gewas,” lieg ek.

Die biblioteekbus ruik soos drome. Soos opstyg. Soos wegvlieg na plekke waar daar Kersfees-sneeu,

koalabere en Bengaalse tiere is. Dit ruik na woorde soos keiser en nagtegaal en troebadoer.

Ek loop versigtig na die rak met die kinderboeke en soek met my oë en vingers na die een oor die

vlieër wat nie aan ’n tou wou vas wees nie. Die vlieër wat vry wou wees om saam met die voëls

en die son en die wind te baljaar.

My hart word ’n klein blou wolkie toe ek die groot, geel buiteblad herken.

.

Keina Swart

Heilna du Plooy. Waterverf en gouache op papier.

Die binneblik

 

Met skemer en vroeg soggens kan sy glo,

deur stof en mis, ougoud en perlemoen,

deur die gelaagde strale gloed en lig,

dat daar ’n waardigheid in dinge is,

dat die verhale deursypel en saam

vloei tot ’n gety in tydelose tyd.

 

Die ongenade van die middeldag

laat elke dorp so weerloos oop en bloot,

verkwansel aan verglyding en verweer

voor elke blik wat ongenaakbaar kyk.

Hoe sou die ou verhale nuut kon word

as die welbehae uit die oë wyk?

 

Radeloos oor ’n ramp wat ruim beskou

geen ware ramp is nie, staan sy nogtans

gans leeg, geluideloos verlam, en wens

vir nuwe oë, vir ’n ander blik,

omdat die kyk wat tot herkenning lei,

meer verg as wat twee oë registreer.

 

Daar is ’n buitelyn en ’n fatsoen,

’n vorm, formaat en die kontoere,

daar is die plasing en die samehang,

maar fynkyk wys die breuke in die beeld:

die koue onderstroom spoel sterk en kalf

belangeloos bekende walle weg.

 

Sou sy dalk tog met hierdie onpaar oë

in streke van groot onwaarskynlikheid

’n buitetydse duursaamheid kon saamraap?

Sou sy in donkerte, nagblind, kon roep

dat uit skakeringe van swart ’n dorp asof

voor skoongewaste vensters sou kom staan?

 

Sou sy aan rommelwinkels van vreemdes

wat taalloos kommunikeer, aan klinies

gekloonde koopsentrums, aan vergane

slaggatbedolwe strate, aan sieklik

stowwerige bome en slordige

sypaadjies sin kon gee deur hoe sy kyk?

 

Die huise meer as bousels bloot van steen,

omdat die mure numineuse aarde is,

die vensters en die deure oopgeskreef

op die menslikste mistiek van menswees

en die strate nuutherstelde roetes

wat lewens met lewens ryklik verbind?

 

Al hoe meer, al hoe meer lê al dieper

ágter die oë, lewensonthalwe.

Op die onpaar oë aangewese

vir die binneblik om sagter te kyk,

kies sy die goue ure van min lig

en die genadige blou van die nag.

.

Heilna du Plooy

Marlise Joubert. lied .Waterverf.

lied

.

dis ‘n bergterras

wat ek my verbeel:

ʼn boweland geplavei

met struike en sering

waar die vrou alleen staan

en ‘n lied van Sviridov

as versugting sing

met die teensang

van ʼn waterval

en alle klank

simuleer ander klank

vleg soepel

soos linte

deur water

porseleinwit

breekbaar

al hoe verder

deur rankende

sproei –

spoorsny dan oor

maanblom en klip

al hoe stiller

die tinte

van haar stem

in ʼn rivier

wat kloof

na die ruspunt toe

en lank daarna

steeds eggo

in die leegte

van my

oor

.

marlise joubert

Sandra Hanekom.Hoogmoed kom tot ‘n val. Olie op linnebord.

Selfie

No one is exempt
and everyone’s pain has a different smell.

Craig Raine

.

‘n Steelfoto geneem

net toe die oggendson

breek deur die blindings:

onvermeld die naam

van die fotograaf,

‘n Zapruder,

betrap die objek,

presies geplaas teen

‘n wit agtergrond:

hoeveel klieks was daar?

Was daar ander footage?

Uitgewis of dalk bewaar?

Sou die fotograaf

dalk die res verklap?

‘n Digter besig

om sonder klere en weerloos

‘n gedig te skryf

net ná sonsopkoms

oor haar voormalige geliefde

wat stiekem ‘n foto neem

oor ‘n digter sonder klere

wat besig is om ‘n gedig te skryf

oor ‘n geliefde wat haar Zapruder

teen die blindings en oggendson.

 .

Joan Hambidge uit Matriks

JP Meyer. Selfportrait. Oil on canvas


Die digter as ronkedoor

 

Borde, bekers & eetgerei stapel op

in die wasbak, wasgoedmandjie volgestop.

 

Vervaldatums kom en gaan in die yskas,

die sitkamer sien nooit ’n kuiergas.

 

Dra van klere opsioneel, onoopgemaak

hoop briewe & vensterkoeverte op. Gestaak

 

kontak met medemens, selfs die natuur

vervang met hoë definisie uur na uur.

 

Elke boekrak is tjok & blok & ongelese vol

& onpaar kouse teel aan in ‘n bol.

 

Wasdag breek aan met die laaste skoon

hemp & onderbroek, ongestopte kouse vertoon

 

kleiner & groter gate. Met die ys- & koskas leeg

word hy uitgedryf om tussen rakke te beweeg,

maar die inkoop loop sonder plan of lys

& die trollie vul met kitskos & kouevleis.

Macbook, iPad & iPhone versadig elke lus.

Met webcam & Grindr wat alles opdis,

ervaar hy selde die gemis wat omgestook

moet word, of die stank van offerrook.

 

Maar behoed die siel wat ontydig bel

as hy verdiep is in sy sepies, of op sy sel

 

‘n ingewing of droomvers intik in die nanag.

’n Slaaf van sy aptyte beteken: Níks kan wag.

 

Johann de Lange

 

Elna Venter. Verlange na die begin. Olie op doek.

Woorde vs. Water

 

(‘n deurmekaar magstryd opgedis in los idees)

 

‘n geboorte sonder vrugwater is ‘n idee sonder ‘n woord

vloek en skel bly gif nét vir die hel sonder speeksel in die bek

die een vloei deur ‘n klip en die ander oor ‘n blad

‘n boom se eerste sien is ná die reën

‘n boom se laaste sien is wit papier

een koppie water kan my vrek maak

‘n halwe sin kan my wêreld verwoes

aan die begin was die woord

op die derde dag – die see

die een gee lewe, hou die are gesond

die ander een laat jou lewe, peuter met die brein

om dors te wees is meer as een ding

en om dit te les, soveel meer

 

God het water gemaak, die mens die woord

in mý wêreld is ek ‘n god want ek kan nuwe wesens skep

ek is ‘n god want ek kan lewens skep

In mý wêreld waar woorde leef is water net ‘n mite

In mý wêreld waar mites werklik is, is woorde DNA

In mý  wêreld kan ek bomme plant wat die aarde oopruk

In mý wêreld  bly ek in ‘n moerse huis met flatscreens en ‘n bar fridge

In mý wêreld is ek koning tot iets my pla, my krap, my tong laat vasplak, my krapperig maak, my oë laat jeuk, my stem laat verdwyn…

 

Ok,Ok. God, jy wen

ek het tóg jou water nodig

 

na ek skaam by die wasbak gestaan het met ‘n glas in my hand

laai ek die bad vol boeke

want…

 

ek kan bad nét waarin ek wil

 

Wilkin Calitz

 

Adriaan Diedericks. Know Thy Selfie (after Narcissus) wax to be cast in resin or bronz

VOORTVLUGTENDE

Kaapstad. Skemeraand. Lughawe. Hoe lank het ek staan en wonder oor hoe ek in só ʼn wegvlug-vliegtuig kan kom, waarheen dit my sou neem? Ek is ʼn banneling, moet ontsnap van myself, vlug na ʼn ander kontinent.

Geruisloos beweeg ek na die Boeing 747. Hy skud sy vere. Ek is ʼn verstekeling onder een van die 16 wiele, klouter teen hulle op om in die holte weg te kruip.

Aitsa, so ʼn parmantige kolos van ʼn enjin, die gebrul toe die passasierstraler opstyg oorverdowend. Die buik van die groot voël in die lug rammel en skud. Petrol se verstikkende reuke oral, my oë traan. Ek kyk af, ek is op pad!

Terwyl die masjien die swartheid inklim, lugwaarts, kry ek kouer. Onder my skitter die laaste ligte van die metropolis, verdoof soos ons oor Afrika vlieg. ʼn Hele vasteland kreun en suis, klein katogies knipoog van onder in die duister.

Bo my, maak 345 mense reg vir aandete en skemerkelkies. ʼn Baba huil, ʼn ma soen haar kind op die voorkop. Hoe hoër ons vlieg, hoe minder die suurstof, ek bibber.

Geen mens kan dié koue asem van die donkerte so hoog oorleef nie. Daar word bespiegel ek het doodgevries, versmoor, twee ure ná my vertrek.

Terwyl die lompe dier stil oor alles sweef, het ek, ʼn verkluimde, ontheemde kadawer, opgekrul gelê in die handpalm van die nag, het ek soos ʼn weeskind gewieg, gewieg oor ʼn kontinent waar ek sonder naam of liefde deur die duisternis ingesluk is.

Herman Lategan

Portretteer. Saam met Keina Swart

Die bundel is beskikbaar by Protea Boekwinkel Stellenboch en by die Oude Libertas Galery.

.

Louis Jansen van Vuuren. Geportretteer

Tuesday, June 10th, 2014

 Chuck Close. Big Self Portrait 1967 –1968 acrylic on gessoed canvas 273.1 x 212.1 cm

up close and personal

 

Die skandaal rondom Taylor en Burton se frisson tydens die verfilming van Cleopatra in 1963 roep vir my duidelike beelde op – ’n tipe retinale-replay- anamnese wat in my geestes oog terug speel so die epic’s uit die sestigerjare. – ek lees die beelde soos ’n teekoppie: ek sien ’n paar portrette, die een is van Elizabeth as die regentes van die Nyl en dié een van haar as vlugtige muse vir die kwaaijong pop-kunstenaar Andy Warhol. Beide laat my sidder. Eersgenoemde, omdat ek goed kan onthou wat ek en my maters in 1963 as dertienjariges met die kleur bylae uit die Vaderland en die, in ons huis, verbode, Personality gedoen het. Laasgenoemde, omdat Warhol se portret, Blue Liz as Cleopatra, steeds in sy skokkende eenvoud , geweldig krag uitstraal.

Terug na die land van die van Cleo en Tut. Toet ? As eerstejaar in Stellenbosch se kunsdepartement  is ek verstom om te leer dat daar duisende jare gelede in Egipte reeds geverfde portrette bestaan het. Maar wat sal ek dan weet, vars uit Middelburg met sy stofpaaie. Die enigste portrette wat ons daar ken, is afkomstig uit ’n donker ruimtetjie langs Fakkel -winkel: Studio Stella Nova. Die inwoners is almal daar verewig – in glans-of suède-karton. Almal se ooghare is met ’n fyn kwassie by-geverf. Miskien is dit juis hier waar my brandende passie vir kwassies begin het. Ek dwaal af. Die legendariese Egiptiese Fayum portrette is besonderse kunswerke wat ons deur die eeue bly bekoor. Sommige geskiedkundiges meen dat die Koptiese( rofweg tussen die 3de en 9de eeu n.C.) portrette direk van die lewendes geskilder is en nie, soos ander argeoloë dink, dat dit eers na-doods geskep is nie. Hoe dit ook al sy, dis van die mees aangrypende portretkuns uit ons geskiedenis. Die kunswerke, wat op hout panele geskilder word, word as mummie-portrette op die oorskot aangebring. Die eerste ID Kaarte.( Hulle word meestal in enkoustiek of eier-tempera uitgevoer.)

Wat is so aardig aan ’n portret en wat presies is ’n portret? Daar word soveel geskryf en gesê oor die ontwykende konsep. Met hierdie skryfsel tas ek slegs na ’n paar hoeke . Dalk kyk ons ’n paar mooi  dinge raak. Dis so half en half die idee van die hele idee.

Vir jare was die Venus van Willendorf die oudste portret… dis ‘’n uitbeelding/afbeelding  van ’n vrugbaarheids- godin of Venus. Argeoloë plaas haar geboortedatum om-en –by 28000 jaar gelede. Onlangs word daar in Duitsland ’n ouer Venus ontdek – die Venus van Hohle Fels, sy is glo reeds 35000 jaar oud. Party mense is van die mening dat ’n ‘werklike’ portret die afbeelding van ’n lewende wese is, een met eiesoortige en unieke eienskappe- en natuurlik, gelaatstrekke – nie ’n geïdealiseerde fantasie-vlug oor ’n goddelike nie. Die British Museum bied in 2013 ’n tentoonstelling getiteld: Ice Age: Arrival of the Modern Mind aan. Die lok-stuk van die tentoonstelling is, volgens die organiseerders, die oudste portret in die geskiedenis van die mens. Die portret is dié van ’n vrou wat 26000 jaar gelede gelewe het. Wat die portret uniek  maak is die feit dat die beeldhouwerk spesifieke gelaatstrekke  en persoonlikheid het. Die kuratrise van die tentoonstelling sê:  “The reason we say it is a portrait is because she has absolutely individual characteristics. She has one beautifully engraved eye; on the other, the lid comes over and there’s just a slit. Perhaps she had a stroke, or a palsy, or was injured in some way. In any case, she had a dodgy eye. And she has a little dimple in her chin: this is an image of a real, living woman.”

 

Wat is dan ’n goeie definisie van ’n portret?

Oxford aanlyn definisie:

  1. 1.     A painting, drawing, photograph, or engraving of a person, especially one depicting only the face or head and shoulders: a portrait of George III
  1. 2.     A representation or impression of someone or something in language or on film or television: the writer builds up a fascinating portrait of a community

Digter, Lina Spies stuur aan my die onderstaande gedig met die kunswerk/selfportret wat haar niggie gemaak het.

 

Buitestander   

Jy noem jou selfportret “Buitestander”

maar jy het jou geteken

binnenshuis voor ’n ruit

en jy kyk nie uit na wat sigbaar is

anderkant die glas nie

maar hou jou oë neergeslaan

sodat net wie jou in lewende lywe ken,

weet dat jou kykers

glansende kristaldruifkorrels is.

En wat het van jou lugtige aard geword?

Het jy jou soos ’n skoenlapper

misgis met die grootte van die lentetuin

asof jy nie meer daarin hoort

noudat dit oorvol kleur

oor sy kante stoot nie

en het jy jou vasgevlieg

onder teen die spannet oor die stoep

waarteen jy fladder

om boontoe te styg

en weer jou vrye vlug voort te sit

van blom tot blom?

Jou wimpers lê

onder jou halfmas ooglede

houtskool vlerkies skaduwee.

© Lina Spies

Corlie de Kock. Buitestander. Houtskool op papier

Die selfportret is op sigself  ’n perd met vlerke. Of iets wat wil/kan vlieg.

Ruan Huisamen is ’n kunstenaar wat sy onderwerp, in die geval, die self, stip betrag…hier is sy selfportret in ‘n half-voltooide hoedanigheid. Sy werkmetode is sistematies en akkuraat; elke haar en huidmondjie word betrag en noukeurig in houtskool weer gegee.

Ruan se selfie hier….

Ruan Huisamen. Selfportret (onklaar) Houtskool op katoen papier 2014

 

Self-portrait

The stamina of an old long-noble race

in the eyebrows’ heavy arches. In the mild

blue eyes the solemn anguish of a child

and here and there humility-not a fool’s

but feminine: the look of one who serves.

The mouth quite ordinary large and straight

composed yet not willing to speak out

when necessary. The forehead still na?ve

most comfortable in shadows looking down.

This as a whole just hazily foreseen-

never in any joy of suffering

collected for a firm accomplishment;

and yet as though from far off with scattered Things

a serious true work were being planned.

Rainer Maria Rilke 1906    

*

(more…)