Posts Tagged ‘Sin van die hut Gilbert Gibson’

Onderhoud met Gilbert Gibson (Die sin van die hut)

Sunday, November 26th, 2017

Gilbert Gibson in gesprek oor sy nuwe bundel, Die sin van die hut,

met Louis Esterhuizen.

 

LE: Gilbert, ten eerste wil ek jou van harte gelukwens met ʼn uiters indrukwekkende bundel. Dit was inderdaad vir my ʼn enorme leeservaring. Die sin van die hut is reeds jou sesde digbundel sedert jy in 2005 gedebuteer het met Boomplaats (Tafelberg), wat met die Protea Boekhuisprys vir poësie bekroon was. Daarna het jy nie net talle toekennings ontvang vir volgende bundels nie, maar jou gevestig as een van die min hermetiese digters in Afrikaans.

Tog wil ek ons gesprek met ʼn sywaartse stap begin. In Riana Scheepers en Leti Kleyn se Die Afrikaanse Skryfgids (2012: Penguin) het jy een van die belangrikste bydraes oor die digkuns gelewer met ʼn essay getiteld “Die gedig as Laingsburg”. Jy begin jou argument met die volgende stelling: “Die eerste en heel belangrikste element van digkuns is om koelbloedig en met voorbedagte rade ʼn aanslag te maak op die emosionele, op die tonus van die leser se gevoel.”  (Die Afrikaanse Skryfgids, p.165)

Uiteraard verwag ek nie van jou om die hele relaas van jou essay hier te herhaal nie, maar ek beskou hierdie stelling as een van die mees akkurate taakstellings van die digter; sal jy daarom asseblief hierdie siening by wyse van aanloop tot ons gesprek kortliks in perspektief stel?

 

GG: ʼn Gedig is een van die maniere waarop teks onderskei tussen ʼn narratiewe mededeling en ʼn emosionele mededeling.

Gedigte is nie ʼn in-wêreld soos musiek nie, maar ʼn nie-in wêreld, ʼn fiksionele ruimte van en na buite. Die emosionele gevolg wat hierdie ‘nie-in’ ruimte in ʼn mens bewerk is afhanklik van die empatie wat  ʼn mens met ander het. En daarin lê dan die leser se konstante beelding en hipotese-vorming oor daardie empatie, en die voortdurende ontwikkeling van die interaksies wat  ʼn mens met ander mense rondom jou het.

Op daardie manier het gedigte nie eintlik ʼn storie nie, maar ʼn emosionele opwekking. Gedigte het natuurlik ook hulle gewone fonetiese en sintaktiese struktuur, hulle gewone semantiese betekenis, maar poësie besit ook ʼn semiotiek wat bietjie ʼn verwysing met die eksterne wêreld verloor in hierdie betoog dat dit meer gemik is daarop om emosie by die leser op te wek as wat ander teks noodwendig sou (wou) doen. Hierdie emosionaliteit van gedigte is nie afhanklik van die klassieke retoriese oordrag van feite nie (wat aan teks eintlik ʼn forensiese of gemaakte inhoud sou gee). Gedigte gaan hoofsaaklik om die emosionele mededeling, met of sonder ʼn narratief. Sodat jy (die leser) dan anders dink as wat jy intuïtief sou dink.

Die gedig moet jou herinner aan wat jy alreeds vergeet het. Dit moet jou herinner aan wat jy nog nie weet nie.

Die leser en die digter bereik onderskeie sukses in die lees en in die skryf van ʼn gedig in direkte verhouding met dit wat hulle met of in empatie deel.

LE: Dankie, Gilbert. Ek wens só dat ek jou kon vra presies hóé jy hierdie ontroering bewerkstellig, maar dit sou nou wees om iemand na sy fabrieksgeheime te vra … Nietemin, dit slaag, want in hierdie bundel van jou – soos in al jou voriges – is daar talle verse wat die leser nie net emosioneel ontroer nie, maar as sodanig onvergeetlik is.

Aan die hand van jou vorige publikasies het ons jou leer ken as ʼn digter waar hoegenaamd niks lukraak of ongemotiveerd gebruik word nie. Kom ons begin dus by die titel Die sin van die hut. As motto gebruik jy ʼn wonderlike aanhaling, geneem uit Gaston Bachelard se La Poétique de l’Espace (1957). In die Engelse vertaling van Maria Jolas: “The house./ From cellar to garret./ The significance of the hut.” Kan jy hierdie aanhaling – en daarvolgens ook die titel – vir ons kontekstualiseer ten opsigte van hierdie bundel? (Volgens bepaalde gedigte is die “hut”, oftewel “huis”, byvoorbeeld nie net ʼn plek van toevlug nie, maar ook slagveld. Is ek reg?)

GG:  Bachelard se boek ondersoek die filosofiese ruimte in argitektuur (topoanalise). In sy werk is die as van (dig)kuns en die as van wetenskap simmetries en opponerend tot mekaar, en poog hy om hierdie uiteenlopende pole te versoen deur die een tot die ander te komplementeer – hy redeneer dat die “huis” sy kosmetiese effek verloor en dat spasie in en om die huis (die hut) ʼn baie kunsmatige verhouding koester met die inwoners van daardie huis. Die intieme ruimte van die “hut” word eintlik ʼn ander tipe ruimte, ʼn ruimte van krisis en afwyking en uitsluiting en illusie wat die huis in ʼn ander wêreld kontekstualiseer.

LE: Die omslag vind ek besonder interessant, in hoofsaak omrede dit basies ʼn tipografiese ontwerp is met die titel en outeursnaam in groot blokletters soos bakstene wat in ʼn muur gemessel is. En tog – agter die outeursnaam is ʼn swerm duiwe in ʼn tipiese sirkelvlug om ʼn geïmpliseerde huis se dak. Dié suggestie word verder versterk vanaf die eerste gedig, (tuin), se openingsreëls en verder na gedigte soos (bodrumpel) (p.16) en die aangrypende (geute) (p.57) – my gunsteling gedig in die bundel! Ter wille van die leser haal ek aan:

 

Uit die ooste kom die lig wat soos lig of

bloed deur die tuin spoel dat voëls opvlieg nes oorlewendes

na ’n ramp van onherstelbare verwoesting

***

Op die dak loop wolke hul valse toenadering

laat ons in koue sweet agter as hul voete

op die sink om teen die skuinste op na die nok hul

vlerke bonatuurlik grys te keep teen die lyf

waaronder heupe nes meerderwaardigheid

die middeljare verspil in liefdestories.

.

Op die dak loop wolke langs geute hulle

.

Ontstig jou oë blink sirkone ywerig en skoon

soos woorde wat in stilbly girts

as die dreigende voëls op die dak

die bodrumpel met amper raak beloon

***

As dit eendag genoeg Laingsburg reën

deur die drif van leë leivore tot

lopende water enkeldiep op paaie staan

veërs wat verstreep en versigtige

motors deur uitlaatgasse soos

roofvoëls voor wolke verby

.

As dit eendag genoeg Laingsburg reën

sal vol geute ons sypaadjies

gronddamme wat oor-

loop en welige spaansriet op die

banke en daaronder verspoel

sodat jy soos ’n duif pleit om hierdie

ark te verlaat

***

In al drie die aanhalings vind ons die duif (of voëls) as simbool van sowel oorlewing as bedreiging weens die verwysings na “ramp” en “verwoesting” (tuin), “dreigende voëls” (bodrumpel) en “roofvoëls” (geute). Ook dít hou verband met die teenstelling tussen die huis as ruimte van geborgenheid én slagveld.

Kan jy hierop uitbrei, asseblief?

GG: Soms is daar hierdie stil oomblik.

Soos. As jy terugry huis toe: jy hou stil in die motorhuis, die garagedeur gaan toe, jy sit nog steeds geëlektrifiseer in die bakkie, te uitgeput om te beweeg, en jy visualiseer hoe jy uitklim en opstap huis toe, in die voorkamer instap, ʼn rol vervul van iets wat die huis vul en daardie stil oomblik om jou kop voel soos ʼn orakel, op ʼn manier bekend maar ook onbekend – net soos ʼn droom wat ʼn mens net halfpad gedroom het.

Dit is in hierdie gaping waarin die voëls bokant die huis vlieg. Die gaping tussen die een lewe en die ander, die gaping tussen die een ruimte en die ander. In die stil oomblik.

 

LE: Nog ʼn gedig wat direk met die titel verband hou, is (skuiling) op p.31. Ek haal aan:

 

Ek sit nie my hart in jou hande nie

maar druk dit in jou bors waar dit soos

asemrige verligting elke sug in jou

slaak. Dan sal jy weet my hart bly

waar jy dit sal moet bewaar

in die skuiling wat drome in jou are

plaak. So klop ek in jou bloed. So

stuur jy my in die rigting van die hut

Hierdie vers, dog ook ander, laat die vermoede ontstaan dat die “hut”, oftewel “huis”, nie noodwendig ʼn fisiese entiteit is nie, maar ʼn abstrakte konstruk soos die taal, byvoorbeeld. Lees ek skeef, of kan die titel, Die sin van die hut, ook na die taal as huisvesting én slagveld verwys? Met ander woorde: die hut (gedig) as sin (taal)?

GG: Om hierdie rede is die hut vandag nie noodwendig die veilige toevlug nie, maar ʼn spasie van opponerende emosie: in hierdie faling van ons veilige ruimtes ondersoek ons die sin (betekenis) van die hut, asook die sin (sentence) van die hut.

LE: In aansluiting tot bogenoemde is dit ook so dat talle gedigte – die hele eerste groepering (pp.7-20), byvoorbeeld – na die “hut” oftewel “huis”, as iets liggaamliks verwys. Daarvolgens bevat hierdie versameling besonderse mooi, dog ongewone, liefdesverse; asof die maak van ʼn gedig terselfdertyd is soos om “liefde te maak”. Of oorlog te verklaar. Jou kommentaar?

GG: Liefde is so “isoleerbaar” deel van die sosiale en kulturele wêreld waarin jy leef. Dit is onmoontlik om dit te ignoreer as ʼn mens praat oor vertroue en empatie en gesin en kinders en respek en vertroue en geluk. Binne in al hierdie dinge lê daar die morele wêreld van liefde, wat dan per definisie vatbaar is vir jaloesie en naywer en blaam en wraak en woede en diesulke.

Dit is presies hoe oorlog ook is.

As jy jouself in die geveg van liefde of oorlog begewe, dan weet jy dat krag jou laaste toevlug gaan wees. En dat daar geen limiet is nie, net die limiet van hoeveel krag tot jou beskikking is.

Daardie twee (die liefde en die veldslag) is nader aan mekaar as ʼn road less travelled.

LE: Nog ʼn verwysing wat reeds met die openingsgedig, (tuin), geaktiveer en deurlopend as tematiese motief behou word, is die kwessie van stilte. Ek haal die slotreëls aan:

Uit die ooste kom die lig tot waar

.

Woorde soggens lig soos bloed op die bed

wegraak en hoe die geblaf buite sal bepaal

dat die donker net tot herinnering dreineer

.

En deur die huis tot stilte.

Buite. Die honde asemhaal

.

Wat is die belang van hierdie prominente (tematiese) teenwoordigheid van “stilte” te midde van taal en deklamasie?

GG: As ʼn mens ʼn geluid hoor en die geluid raak weg, word dit opgevolg deur ʼn ander geluid. Hierdie tweede geluid kan nie ʼn geluid van niks wees nie: dan is dit ʼn non-geluid. Tussen hierdie twee geluide is die oomblik van stilte. Wallace Stevens:

The house was quiet and the word was calm.

The reader became the book; and summer night

 

Was like the conscious being of the book.

The house was quiet and the world was calm.

 

The words were spoken as if there was no book,

Except that the reader leaned above the page,

 

Wanted to lean, wanted much most to be

The scholar to whom his book is true, to whom

 

The summer night is like a perfection of thought. 

The house was quiet because it had to be.

 

The quiet was part of the meaning, part of the mind:

The access of perfection to the page.

 

And the world was calm.  The truth in a calm world,

In which there is no other meaning, itself

 

Is calm, itself is summer and night, itself

Is the reader leaning late and reading there. 

LE: Gilbert, waarskynlik is Die sin van die hut jou mees toeganklike bundel sedert Boomplaats; in hoofsaak weens die mindere gebruik van tipografie en punktuasie as elemente van betekenisverdigting. Twee tegnieke wat jy egter deurgaans gebruik, is die titels in hakies en die afwesigheid van punte aan die einde van die gedigte. Is daar ʼn spesifieke rede hiervoor?

GG: Daar is niks wat so doodstop soos ʼn trein wat ʼn vlieg tref nie. Daar is niks wat so doodstop soos ʼn koppie wat ʼn mens neersit in ʼn piering dat die teelepel rinkel nie. Daar is niks wat so doodstop soos ʼn deur wat klap nie. Niks wat so dodelik stop soos ʼn punt aan die einde van ʼn gedig nie. Soos ʼn hol kol op jou maag. Wat jou laat besef soms is dit goed om te stop. Andere kere nie.

LE: Wat ʼn treffende antwoord. Nietemin, nog ʼn treffende gedig in hierdie bundel is (lintel) op p.69 met sy direkte verwysing na Christus se kruisdood. Veral die slotreël vind ek besonders weens die dubbelsinnigheid daarvan. Ook in jou vorige publikasies was Bybelse verwysings ʼn sterk teenwoordigheid; dog selde op ʼn direkte, eenduidige wyse. Mag ek vra wat die belang hiervan vir jou is, verwysende na Cas Vos se ietwat kontroversiële bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017: Lux Verbi)? Bestaan daar vir jou, bv., iets soos ʼn “Christelike” gedig? Moet hierdie gedig as sulks beskou word?

 

Ter wille van die leser haal ek die betrokke gedig aan:

.

Ek’t met ’n passer

pleks van ’n spies

 

’n Gat in jou sy gesny

die naaste suur ’n

 

Droë nartjieskil ingeskuif

onder die bank.

 

Die klere wasgoedmandjie

met bloed van die skerp

 

En eendag Turyn ons

deurgeskeurde gordyn

 

Opgerol sodat dit

styf oor die lintel pas.

 

Voordat die slaap weer voordat

my hande in onskuld was

GG: Daar bestaan nie vir my iets soos ʼn Christelike gedig nie.  Wat sou dit tog beteken? Sou dit bedoel dat daar sekere morele of moralistiese gewig in die gedig is? Of verwysings bevat van en na die Judaïese God of drie-eenheid? Sou dit beteken dat daar ʼn morele interpretasie volg op die gedig wat jou ʼn beter mens sou maak? Daar is sekerlik nie regtig onchristelike of christelike gedigte nie.

Daar is net gedigte en nie-gedigte.

LE: Gilbert, ten slotte kan ek jou net nogmaals gelukwens met ʼn uitsonderlike publikasie. Mag hierdie huis wat jy op so ʼn indrukwekkende wyse tot stand gebring het, toegang en skuiling bied aan alle liefhebbers van die digkuns.

Kan jy dalk, by wyse v groet, een van die gedigte hieronder plaas en dan sommer ook kortliks verduidelik waarom jy juis dié betrokke gedig kies?

(beddinglaag)

.

Bo my hond se voete riviere van lang treë voor sy

arms en skouers met kronkelende waardering

van gras die gras gepraat soos halms in die mond

wat my neiging tot drome ontruim met potloodbene

en praktiese wenke oor jakkalsjag die lyf behang

met ’n pels soos katoen die kraag wat soos twee

mane op nate oor die nek buig en daarbo die geboë oë

versier met stof waarin oplaas soos goggas kom lê.

Nou’s my hond dood ’n beddinglaag vorentoe in die donker.

Sy ore wat hang in swart as en okkerneut die

sagte skans van blaf met bitsige gal nog soet uit

sy mond en ek is lief vir hom terug

met my hart en alles wat in riviere van

lang treë met die sin van die hut

vorentoe vloed

.

(c) Gilbert Gibson (Uit: die sin van die hut, 2017: Human & Rousseau)