Posts Tagged ‘sokker’

Joan Hambidge. Sokker

Saturday, June 26th, 2010

Vir weke luister ons al na die aankondiging. “Feel it, it is here”. Eers met ʼn geknoopte Afrikaanse tong en toe later ʼn gladder tong wat die dae aftel.

Uiteindelik.

Soos ʼn bruilof. Die afwagting, die beplanning, die vrese, die uitsien. Ek en ʼn vriend kyk met ʼn toegetrekte keel na die aangrypende openingseremonie. En vir dae daarna is ons sokker-entoesiaste.

Van die subtiele reëls leer hy my gou. Dit is wat onkant beteken. Dis wat die skeidsregter hier bedoel. Daar is die hoekskop so. En ja, ons  is besete van vreugde oor Bafana Bafana se eerste doel.

Deur die jare het sokker deel geword van my bestaan. In vreemde hotelkamers, in vreemde lande laatnag, alleen, was sokker ʼn vertroosting. Dit was soos dood in die familie toe Engeland verslaan is deur Portugal ʼn paar jaar gelede en die hele reis lank kon jy die Engelse se argwaan aanvoel. Die vlae wat halfmas hang, by wyse van spreke. In Plymouth ʼn Portugese restaurant met wapperende vlae wat die oorwinning uitbasuin.

Jacques Derrida
Jacques Derrida

Jacques Derrida was op sy ʼn dag ʼn sokkerspeler. Umberto Eco hou nie van sokker nie, want dit het hom as kind uitgesluit van ʼn bepaalde orde.

By Incredible Connection ʼn paar maande gelede speel ek en die een instrukteur sokker op die playstation en die kind is  in  my meegesleur, hoewel my span (wat eg lyk) die loef afgesteek word.

Daar is een studie oor sokker wat die moeite werd is om te lees. Desmond Morris se The soccer tribe (Jonathan Cape, 1981). Hierin word die mitologie róndom sokker vir die leser uitgespeel.

Soos dat ʼn sokkerveld se grootte nét by benadering dieselfde is. Hierom het die tuisspan altyd ʼn voorsprong bó hul besoekers (33).  Die bekende ikone of tekens word eweneens verduidelik: die einde van die wedstryd is die twee gekruiste arms na bo. Was dit nie wonderlik hoe Bafana Bafana se dansie na ʼn doel geskiet is, inspeel op al hierdie tekens nie? Semiotici van die wêreld kyk weer!

Diego Maradona, effens swaarder, moedig sy span nou aan. Wanneer ons na hom kyk, verteenwoordig hy ʼn simbool.

Nie net van die groot sokkerspeler (soos Pelé) nie, maar iemand wie se lewe in die teken van ʼn “professional foul” gestaan het (61).

Morris sien die spel as ʼn ritueel. Ofskoon dit op die oppervlakte mag lyk na ʼn oorlog (hy gebruik die woord “battle”), is daar volgens hom nie ʼn poging om mekaar werklik te vernietig nie. Dit gebeur net op ʼn simboliese vlak wanneer daardie bal in die doelhok geskiet gaan word (15)!

Die geskiedenis word terug gevoer na die ou Romeine en ander bloedsporte soos bulgevegte en Pamplona dui op ons versugting na rituele.

Derrida het as ʼn jong kind vir ʼn jaar weggebly van skool, net sokker gespeel en filosofie gelees. Sien ons hier ʼn verband tussen sokker en filosofie? Hoe jy tog jou opponent moet uitoorlê en steeds by die reëls van die spel hou? Sou ons die grammé en différance nou anders beoordeel?

Desmond Morris het sy PhD aan Oxford behaal en sy ander beroemde boek is The naked ape (1967).

Die sokker-ritueel is vir ons in Suid-Afrika van uiterse belang. Skielik is wit mense wat vantevore nie in sokker belang gestel het nie, deel van die spel en vind daar ʼn versoening plaas. Nou onlangs op die Oliver Tambo bedien ʼn swart kelner my. Op sy kop is twee blou horinkies Hy is ʼn blou bul-ondersteuner, verseker hy my.

Hoe wonderlik, dink ek.

Blaas jou Vuvuzela vir ons span.

Morris wys ook op al die bygelowe wat sokker deur die jare vergesel het.

Sokker is ʼn macho-spel ja, maar persoonlik vind ek dit ongelooflik sierlik.

En ʼn belangrike ritueel.

David Beckham. Foto:Antonio Calanni
David Beckham. Foto:Antonio Calanni

Onthou David Beckham is al ʼn kunsobjek. In die Tate is daar ʼn video geneem van hom waar hy vir 24-uur slaap en die huidige poet laureate Carol Ann Duffy het ʼn vermaaklike en slim gedig geskryf oor ons moderne Achilles na ʼn besering:

 

Achilles

Myth’s river – where his mother
dipped him, fished him, a
slippery golden boy flowed on,
his name on its lips.

Without him, it was prophesied,
they would not take Troy.

Women hid him, concealed him
in girls’ sarongs; days of
sweetmeats, spices, silver songs …

But when Odysseus came, with an
athlete’s build, a sword and a shield,
he followed him to the battlefield,
the crowd’s roar,

And it was sport, not war,
his charmed foot on the ball …

But then his heel, his heel, his heel …

 

http://www.nowpublic.com/sports/david-beckham-poem-achilles-carol-ann-duffy-poet-laureate

Marcelle Olivier. Somer (i)

Friday, June 11th, 2010

Gedagtes uit Brittanje: Somer (i)

Blykbaar is dit somer in Engeland. Dis nou volgens die seisoenale kalender, maar hier reën dit konstant en dis koud genoeg vir jas dra as jy uitgaan. So drie weke gelede was daar wel ‘n naweek van sonskyn toe die Britse gepeupel hulle skouers en neuse flenters verbrand het, en almal instant barbeques gekoop en hulle varkworsies gaan braai het langs die Diana, Princess of Wales Memorial Fountain in Hyde Park.

Vir dié wat nie weet nie, ‘n ‘instant barbeque’ is ‘n vierkantige, A4-grote pannetjie van harde foelie gemaak, met kitskole onderin en ‘n draad-roostertjie bo-oor; jy kan dit by elke supermark vir so R60 koop. ‘n ‘Varkworsie’ is wat mense hier op hulle braai sit – in sy mees bekende gewaad ‘n om-en-by 12cm-lange silinder van pulperige pienk vleis (binne) en bros swartverbrande vel (buite). Dis amper soos regte wors, maar glad nie. Die ‘Memorial Fountain’ is ‘n vlak, ovaalvormrige granietvoor op ‘n mooi stuk gras in London, gebou ter herinnering van Prinses Diana. Daar is polisie om te sorg dat jy nie in die stroompie loop nie, want soos met baie dinge in Engeland is die gevaar dat jy sal omval en nat word veels te groot; partykeer kan jy darem jou voete in die water rus as jy veilig op die rand sit. Ek weet nie of Prinses Diana van varkworsies gehou het nie, en instant barbeques was seker na haar tyd, maar ek’s seker sy sou baie bly wees om te weet dat mense haar oor somernaweke met ‘n braaivleis en ‘n bier in die son eer.

Somer langs die Diana, Princess of Wales Memorial Fountain

Somer langs die Diana, Princess of Wales Memorial Fountain

Alhoewel dit op die oomblik buitekant my venster sous, sal dit volgens die weervoorspelling Saterdag-middag vir ‘n paar minute ophou reën en effens warmer word, so verkope van instant barbeques sal weereens die hoogte inskiet. Dit is ook goeie nuus vir Diana se skoonma, Koningin Elizabeth, wat vanjaar haar offisiële verjaarsdag op Saterdag die 12de Junie vier (haar regte verjaarsdag is eintlik in April, maar nou ja, as jy monarg is…) en dus nie ‘n sambreel na die tuinpartytjie hoef saam te sleep nie. Die Britse pers meen dat daar vanjaar minder mense langs die pad gaan staan om die perde en baniere, die koets en die klein handjie wat statig uit ‘n goudgeraamde venster waai, te kom sien: iets van ‘n voetbalwedstryd of drie waarna mense op die televisie sal wil kyk? In elk geval, Elizabeth sal soos gewoonlik ook hierdie Saterdag nuwe ridderskappe en ander rojale titels aan diegene wat dit verdien, uitdeel. Tydens verlede jaar se Birthday Honours is ‘n ridderskap aan Andrew Motion, ons vorige Poet Laureate, toegeken, onder meer in ruil vir die agt koninklike gedigte wat hy gedurende sy tien jaar in Haar Majesteit se diens geskryf het. Volgens hom was die taak van komponeer vir die Koningin sy moeilikste ooit, en sy opvolger, Carol Ann Duffy, het alreeds ontdek hoe maklik dit is om kritiek op te gaar as jy so ‘n publieke amp beklee. En aangesien ons nou alreeds die sokker genoem het, hier is haar gedig oor David Beckham se arme enkel, wat gemengde reaksies van die literati ontlok het:

Achilles

(for David Beckham)

Myth’s river – where his mother
dipped him, fished him, a
slippery golden boy flowed on,
his name on its lips.

Without him, it was prophesied,
they would not take Troy.

Women hid him, concealed him
in girls’ sarongs; days of
sweetmeats, spices, silver songs …

But when Odysseus came, with an
athlete’s build, a sword and a shield,
he followed him to the battlefield,
the crowd’s roar,

And it was sport, not war,
his charmed foot on the ball …

But then his heel, his heel, his heel …

Duffy se pa was bestuurder van Stafford Rangers en sy is ‘n groot aanhanger van die sport. Ek neem aan sy gaan Saterdagaand die Beckham-lose Engelse span ondersteun, en het dus vroegtydig ‘nee’ gesê vir verjaarsdagkoek saam met Elizabeth II, ten spyte van haar Laureate-verpligtings. Ek self verwag natuurlik nie ‘n uitnodiging na die Koningin se partytjie nie. Ek het haar in 2003 ontmoet en dinge het nie glad verloop nie. Om die waarheid te sê, ‘ontmoet’ is nie heeltemal die regte woord nie. ‘Beledig’ sou meer akkuraat wees. Nie aspris nie, moet ek haastig byvoeg, maar ek is seker dat as dit die jaar 1674 was, is ek vir hoogverraad in die tronk gestop. In Maart van 2003 is ek uitgenooi na die Britse Statebond Dag seremonie in Westminster, en is saam met ‘n paar ander beurshouers langs die Koningin se roete deur die katedraal gestasioneer; Tony Blair en sy blink hare het so skuins oorkant my gesit. Toe die Koningin voor my stop om ‘hallo’ te sê het ek my so verkyk omrede die feit dat sy nes my ouma lyk dat ek geensins aandag gegee het aan haar vraag nie. Selfs erger – ek het hopeloos vergeet om te curtsy! En toe ek uiteindelik onthou het, het Tant Bettie al moed verloor dat ‘n antwoord ooit sou kom en aanbeweeg na ‘n volgende onderdaan, en my knieknik was outomaties vir ‘n glurende man in ‘n swart pak wat, ek is seker, gedink het ek maak ‘n erg-onvanpaste anti-koloniale verklaring teen die geskiedenis en/of die monargie. Maar dit was net haar oulike, piepklein tweestuk-pakkie wat my in vervoering gehad het! Soos my ouma s’n. Somerson-geel, as ek reg onthou.

Ag, ja – die somer tog. Hier moet ek dan ook bely dat ek al self ‘n instant barbeque gekoop het (maar ter verdediging was dit vir ‘n egte vleisbraai op ‘n leë strand en ‘n visbraai op ‘n verlate heuwel vol heide, doer in die noordweste van ‘n herfserige Skotland waar ons eenmaal gekampeer het). En ook dat ek self drie weke gelede ontdek het dat my vel aan die effe rooi kant van bruin verhit is na daardie naweek in die son, en verdwaas op die internet moes soek vir ‘n tuisgemaakte remedie vir die vreemde on-Afrika-tipe seer van my skouers. Ek blameer natuurlik die voorafgaande agt maande van serpe en langmoutruie dra, maar dalk het my oordeel al so ver-Engels dat ek, soos almal hier, heeltemal kop verloor as die son uitkom. Wie weet, oor vyf jaar sien jy my dalk selfs my bierblikkie in Prinses Diana se watervoortjie afstuur soos ‘n doodgewone Brit. En miskien, net miskien sal die Koningin my dan vergewe vir my misstap – blykbaar was sy nie ‘n groot Diana-fan nie.

Hierdie Koningin-storie herinner my ten slotte aan ‘n veel beter staaltjie wat die Ierse digter en kenner van Middeleeuse Engelse literatuur, Bernard O’Donoghue (‘n aktiewe ondersteuner van Manchester City se voetbalklub, as iemand daar buite belangstel in ‘n bietjie (ir)relevante trivia) verdig het:

Bernard O'Donoghue

Bernard O'Donoghue

History

Then they talked together until Dunstan spoke about St Edmund, as Edmund’s sword-bearer told the story to King Æthelstan, when Dunstan was a young man and the sword-bearer was a very old man.’ – Ælfric’s preface to ‘The Life of King Edmund

Magie Din Beag, aged four in 1865,

was lifted on to her father’s shoulders

at Abraham Lincoln’s funeral.

Her father said to her: ‘Never forget

that you were at Abraham Lincoln’s funeral!’

He said it at the time, she told me, and again

at intervals throughout the rest of this life.

She told it to me in 1956

when I was ten, and said: ‘Never forget

that you once knew an old woman

who had been at Abraham Lincoln’s funeral

when she was four.’ Fifty years ago now;

so what I say to you is: never forget

that you once read something by someone

who said they had known when they were young

someone who said their father told them

they had been to Abraham Lincoln’s funeral,

or something. Which they probably hadn’t.