Posts Tagged ‘Spoorvat’

Louis Esterhuizen. Wanneer digters spoor vat na die verlede

Thursday, September 12th, 2013

‘n Besonder interessante publikasie wat hierdie naweek aan die handel beskikbaar gestel word, is Spoorvat – Skrywers en herinneringe wat deur Riana Scheepers en Leti Kleyn saamgestel en deur Lapa uitgegee word.  Met dié pretloop is daar sommer ‘n hele trop digters wat die wandeling meemaak, te wete Andries Bezuidenhout,  Zandra Bezuidenhout, Clinton V. du Plessis, Hans du Plessis, Heilna du Plooy, Louis Esterhuizen,  Joan Hambidge, Louis Jansen van Vuuren, Marlise Joubert, Trienke Laurie, Henning Pieterse, en Wium van Zyl.  Daarom dat ek dié publikasie graag onder jul aandag bring.

Volgens die inligtingstuk wat ontvang is, die volgende: “As skrywers het hulle reeds naam gemaak; hulle het literêre pryse gewen, die harte van lesers verower, diep spore getrap in die Afrikaanse kultuurwêreld … Ons ken hulle as openbare figure, as skeppers van verhale en romans en rubrieke, maar wat is die intiemste, mooiste en selfs pynlikste jeug herinneringe van ons bekendste Afrikaanse skrywers? Was hulle as kinders reeds sensitiewe waarnemers, kunstenaars in wording? Hoe het hulle hul jeug beleef? En hoe word hierdie jeug herinneringe verwerk in hul tekste as gesofistikeerde skrywers?”

Riana Scheepers en Leti Kleyn (samestellers van die trefferboek Die Afrikaanse Skryfgids) het skrywers gevra om hul kinder- of jeug ervarings te woord te stel. Daar was geen beperkings of voorskrifte nie, maar slegs gepubliseerde skrywers is om bydraes gevra.

Die resultaat is ‘n unieke bloemlesing van 36 skrywers . Saam met hierdie skrywers vat ons die spoor terug na die verlede; ‘n verlede wat net so kleurvol, vrolik, hartseer, innig en uiteenlopend is soos die mense van hierdie land.

“Spoorvat is ‘n belangrike bloemlesing, nie net omdat dit voortreflike tekste bevat van skrywers wat reeds hul kleim afgesteek het nie, maar omdat dit terselfdertyd ook unieke outobiografiese sketse is. Die leser kry ‘n intieme en eerlike blik op die leefwêreld van ‘n jong kind wat later in sy/haar lewe groot hoogtes bereik het.”

By wyse van lusmaker volg enkele snitte uit die betrokke digters se bydraes.

*

Zandra Bezuidenhout

Partykeer moes ek vir Pollie ’n pakkie Cavalla King gaan koop. Die kleingeld was myne, net genoeg vir ’n pakkie lekkergoedsigarette wat ek op die stoel onder­kant die teksie soos ’n groot vrou sit en “rook” het. Pol­lie het nooit vir my gelag nie. Net soms uit die bloute laat val “Jou ma sê jy’s ’n probleemkind” en die laaste woord so half tergerig uitgerek. Ek was te skaam om te vra wat dit beteken, gedink dit was seker maar ’n naam vir die oudste of die alleenste, want ek was albei.

 ———

Andries Bezuidenhout

In die Hoërskool Silverton se klaskamers beskryf kinders van weerskante Pretoriastraat mekaar onderskeide­lik as “snobs” en “krims”. Snobs en krims voer soms hul gesprek ná skool verder met vuiste by die voetganger­brug oor die Moreletaspruit. Die krims is meesal beter met die taal van vuiste as snobs. Soms het krims selfs ouer broers in die polisie. Vir snobs is dit half vreemd dat die ergste krims in die polisie beland, maar mens weet nie of mens hierdie morele vraagstuk aan dominee Wan­nenburg in die katkisasieklas kan stel nie.

Ons Silvertonners is bewus van die feit dat die kinders van Menlopark en Waterkloof ons woonbuurt “Slither­ton” noem. Gegoede mense soos Laetitia-hulle is egter nie van Slitherton nie. Hul tydslotte is bo dit alles ver­hewe. Hoeveel huise in Waterkloof en Menlopark kan met tydslotte spog?

———

Joan Hambidge

Die nag kan ek nie slaap nie. “Oh Mamy, Oh Mamy . . . Oh Mamy blue,” huil die radio. Ek weet die kind is dood en Sara hou my die hele nag vas teen haar bors. En ek sien weer en weer die motor wat die kinders tref. Skoene wat deur die lug trek in stadige beweging.

En ek wonder wie sal háár vannag vashou?

O, roos van my hof

Wat was haar naam nou weer?

Daardie kind wat onder ’n motor beland

het saam met drie en twintig ander

in ’n Lenteloop toe ons moes geld insamel.

Jy weet mos, daardie kind, wat rég voor

ons oë opgelig en neergegooi is?

Reg voor die robot waar ’n Valiant beheer

oor sy remme verloor het. Malus, -a, -um.

Alles het in slow motion gebeur

met skoene soos swaarde deur die lug.

Die een onder ’n vaal kombers,

met haar voet na binne gedraai.

Ons almal by haar begrafnis:

“Wat ’n vriend het ons in Jesus . . .”

Daardie kind wie se dood later

uitgebloei het in ’n Latynse toets:

Timidi estis en Puella pulchra est.

En vertaal: “Die rose in die tuin is mooi.”

Verdomp, wát was haar naam nou weer?

——–

Louis Jansen van Vuuren

Die swart-en-wit reghoekie het ’n skerp gekartelde randjie. Dit is ’n monochroomoomblik wat met die dwaling van tyd veraf en dof geword het. Dis nie dat mens aspris vergeet nie, maar die lewe gaan onoplettend sy gang. Die foto’tjie is met deurskynende driehoekies op die album se blaai geplak. Om die kiekie van naderby te bekyk moet ek dit uit sy rusplek lig. Die glansoppervlak­te word ’n spieëltjie in my hand waarin aspekte van my studeerkamer weerkaats: die plafonroos met die kande­laar en die venster wat uitkyk oor die tuin. Onderaan die kiekie is daar met wit Indiese ink in sierskrif geskryf: Ifafa Beach 1951.

“Inyoka! Inyoka!”

———

Marlise joubert

Die terugblik na jeugjare is een met verwondering, met nostalgie, en terselfdertyd een van vervreemding. Jy weet instinktief dat dit nooit geheel en al getrou jou eie “verlede” reflekteer nie. Daar is altyd verwarring tussen feit en ervaring. Dis ’n bewegende poel water waarin gestaltes vervorm, rondskuif en wegraak. Jou interpre­tasie word beïnvloed deur allerlei ander belewenisse, bykomende verledes tussenin, en deur jou onmiddel­like werklikheid. Gestolde oomblikke in vensters word lewend gemaak deur jou dialoog, jou eie klankbaan.

dis ’n taal wat niemand anders verstaan

wat snitte uit hibiskus speel

uit die vlamboom se tuite rooi trompet

wat krap soos witdoringnaalde in diep gleuwe –

die grammofoonkas van geheue

Wat oorbly in die magdom lae van die geheue, is dikwels net ’n gevoel, afhanklik van die tydgleuf waardeur die lig speel op die klein bloeisel wat oopgaan, wat veel meer beteken vir jouself as wat dit miskien was in ’n groter konteks.

Daar was twee plekke wat ’n rol gespeel het in my jeugjare, Levubu naby Louis Trichardt en Warmbad in die Waterberge (vandag bekend as Bela-Bela).

———–

Trienke Laurie

As baba is ek glo wild gewieg

op ’n vrolike soldatelied

en toe ek begin opskiet

trap ek hoog op sy steltevoete

“Walking on the green grass”.

Die opgeskote meisie leer

met ’n aardige hoppie ’n wals.

Die klein Griekse vaas

is deur Vader gekoop vir my

 

 

dat ek vir hom ’n roeskleur blaar

as najaarsteken daarin plaas . . .

 

Eendag het ek met my jonger sussie see toe geloop. Die vierjarige bokstertjies het haar tassie gepak met nartjies. Ons het met die blaartjiepad geloop en toe het ons ver­sigtig oor die hoofpad geloop om by die swaaie naby die see te kom. Heila was gouer verveeld en ek het haar teruggehelp oor die grootpad by die verkeerslig en self weer see toe gegaan en skulpies in die tassie gegooi. Hoe dit gekom het, weet ek nie meer nie, maar ek het later saam met ’n polisieman gestap wat sy fiets gestoot het tot by ons huis. Ons is gewiks met ’n leerband, maar erger nog: Ons moes tot twaalfuur die oggend stil lê op ons bed­dens!

———-

Clinton du Plessis

Maar, soos ek sê, dit was die tyd van Apollo 13. Die maan was hopeloos te ver om enige invloed op my lewe uit te oefen. Soms het ek saans op die stoep gesit en kyk na die affêre daar ver weg.

“Wat gaan soek hulle daar?” was my gevoel dan.

“Hulle krap in die Here se kaggel,” het Ma gewaar­sku en “Ek het julle mos gesê,” het sy vol genoegdoening gespog toe die nuus kom van die ontploffing van die suurstoftenks aan boord. Daardie aand het ek met vrees en bewing gebid dat ek nooit met die Here se kole moes bodder nie, nooit in sy rooi konka moes krap nie.

Die gedeelte van die dorp waar ons gewoon het, was gemeng. Bantoe en kleurling. Dit is hoe mense toe genoem is.

———

Hans du Plessis

Sonder ’n kettie om jou nek was jy onbehoorlik aan­getrek, eintlik ’n bietjie kaal – of jy was ’n meisiekind. Kettieklippe was volop in die berg, net partykeer as Pa by ’n bouery moes laat dak opsit, kon ons loodwassers steel en dit vierkantig kap om duiwe mee te skiet.

Meisiekinders was iewers ver op Mars of op die maan. Ook maar goed, want wat het hulle nou van ’n kettie ver­staan? Hulle kon ook nie met ’n ghoen skiet of ’n pylpunt uit ’n drieduimspyker plet nie. Van poppe en goed het ons niks geweet nie, want daar was nie meisiekinders in ons huis of in ons bende nie. Die enigste meisiekinders wat ons geken het, was die niggies wat Sondae ná kerk kom kuier het. Sondag was stilsitdag met skoene en ’n pak en ’n das – dit was sulke oneindige lang geel dae.

———–

Heilna du Plooy

Hierdie meisie met haar musieksak in die sandpad was eintlik ’n gelukkige kind. Daar was natuurlik die klein opstootjies en tienerreaksies soos in enige nor­male huis, maar die soort ontwrigting en donker weer­sin in ouers waarvan jong skrywers tans skryf, was vir haar onbekend. Sy het nie gedink sy was buitengewoon bevoorreg nie, maar in breër verband beskou, was sy natuurlik. Haar ouers wat albei onderwysers was, het hulle drie dogters aangemoedig en hoewel hulle streng was oor dinge soos selfdissipline en verantwoorde­likheid, was daar ook baie pret en vrolikheid in die huis. Dit was nie ’n lewe van luukshede of geskenke nie, want daar was nooit baie geld nie, maar daar was be­trokkenheid en sorg. Waar die pa soms geneig was om nogal streng te wees (later sou sy weet hy was gewoon oorangstig oor sy dogters se welsyn), was hy nogtans ’n ernstige en sensitiewe man en hulle ma was mooi en gemaklik en toeganklik. En die wêreld was eenvoudig: Hierdie jong meisie het soos baie van haar tydgenote min van politiek en ekonomie en sosiale problematiek geweet.

————

Louis Esterhuizen

En die dorpsirene elke aand om agtuur. O, hoe goed onthou ek die weemoedige geskal wat aandui dat alle nieblankes uit die dorp moet wees! Dit was die vroeë 1960’s en dié sirene was algemene praktyk in bykans alle plattelandse dorpe. Eers later sou ek die werklike betekenis – en implikasie – hiervan snap. Op dié tyd­stip was ek normaalweg al in my bed terwyl die sirene deur die leë strate huil en kyk ek na die ouwêreldse straatlampe wat in sulke eweredige strepe deur die Ve­netian blinds oor my bed val.

Ook Ouma se erf het ’n windpomp gehad en drie wa­tertenks op drie hoeke van die huis waar die water versamel is. Daar was nie ’n grasperk nie, maar grond wat elke oggend met ’n besembos netjies skoongevee moes word. En die breë plankstellasies waar sy haar perskes gedroog het wanneer dit persketyd was.

En die bessieboom voor die garagedeur.

———–

Henning Pieterse

Ek onthou hoe ons saam met die werkers sakke soja­bone uitslaan totdat jou hande vol blase is. Hoe ’n haan, afkop en met vlerkgeklap, oor die werf hardloop terwyl ’n dun vlies oor sy oë trek in sy afgekapte kop, eenkant. Ek onthou hoe ’n skaap spartel en skop en sy oë glasig word nadat die ergste bloed uitgespuit het, net nadat sy keel afgesny is. Ek onthou die geskree van die lammers wan­neer hulle gekastreer word en dol van pyn in die kamp rondhol, tot teen die drade in. Ek onthou hoe oom Piet, my ma se tweelingbroer, sy haelgeweer lig en ’n paar skote in ’n reusagtig hoë bloekomboom afvuur en hoe honderde vinke soos geel reën uit die takke neerdaal.

VRYSTAATSE ELEGIE

Vir A.M. Fouché 1902–1975

 

Herinnerings vergeel. Gras

verkleur in Vrystaatse winters.

Ek moes jou nie teen die einde gesien het nie,

op ’n helder middag in ’n warm stad.

Eerder ’n foto: ’n jong meisie

met rybroek, of ’n bruid met lang hare

wat jy saans uitgekam en uitgekam het.

Jy staan by ’n dennelaning, dae is vol

verhale, oor ’n oumagrootjie

wat haar ring by ’n fontein verloor het.

Ek onthou: jy is op ’n wa gebore,

in ’n brandende nag in laatwinter,

opstalle in puin soos die land

wat julle deurkruis het.

Aletta was die laaste plaas,

jou naam, Aletta, waar wind

uit die holkranse altyd waai

en sandsteen digter om vloere vou.

Op sestien, moes ek belowe,

sou ek ’n klipstapel in die middel

van die plaasdam pak. Dit is nooit

gebou nie en staan sonder offer

in herinnering. Jou foto met die tweeling

is dof. ’n Jong vrou wat deur die raam

na buite staar. Ek kyk weg.

Die ring kon ek nooit vind nie;

die wind vee alles skoon, waai

gedagtes ver en naby.

Ek het langs die denne gestap,

langs die leë dam,

en die dou het die hele dag

op die gras bly lê.

 

1 Jare later sou ek ’n gedig oor ouma Lettie skryf (uit: Alruin, HAUM-Literêr, 1989.)

 

———

Wium van Zyl

Hierdie kontrei rivierop van die dorpie Heidelberg (Kaap) is my geboorteplek, grootwordplek, staan ewig in my hart gebrand. Op ’n September-nag het ek aangekom en ná die dokter se vertrek het tant Mêggie opgedaag om vir die sekerheid ’n ou Kaapse pennie op my naeltjie te sit. Dat die werf songeel was met tulpe, van die aandblom in volle geur, skaamrosies wat bloos in die môredou, het ek toe nog nie geweet nie. Ten minste nie bewustelik nie.

My eerste skerp herinnering is van my blou-en-wit driewieletjie op die skuinserige werf. En veral dit: Op­draande is moeiliker as afdraande. Dit is ’n kwessie wat nooit weer uit my lewe sou verdwyn nie.

 ——–

Uit: Spoorvat, 2013: Lapa Uitgewers.

Saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn.