Posts Tagged ‘Stephen King’

Nini Bennett. Die maanblom kantel.

Wednesday, July 12th, 2017

Karakters en gebeure is fiktief.

 

           Vir tien jaar reeds ken sy die vrees; en met elke moordsaak waarin sy konsulteer ly die skuldigbevinding net tot ’n tydelike verligting vir PTSS. Haar lewensmaat, F, se onopgeloste moord – die koue saak – sal by haar bly spook.

                Die foto’s. Drie resensente is reeds vermoor, een gemiddeld elke tien dae.

            Doktor Johnnie September, 36, ‘n Afrikaans dosent verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

            Mevrou Anina Oosterlig, 49, ‘n Linguistiek-dosent verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

         Professor Cobus du Plessis, 68, afgetrede hoogleraar aan die Universiteit van Kaapstad. Du Plessis was die eienaar van ’n koffiewinkel op die dromerige kusdorpie, Witsand. September en Du Plessis se lyke is onderskeidelik in hulle huise in Bellville en Witsand gevind, en Oosterlig s’n in haar meenthuis in Hatfield, Gauteng.

            Sy rol ingedagte tussen die nuusberigte en die forensiese verslae, ken in die een hand. Die volgende moord op ’n resensent is na alle waarskynlikheid op pad. “Dit lyk asof ons hier met ’n reeksmoordenaar te doen het,” het kolonel Buks Badenhorst, wat haar klandestien genader het, opgemerk. “Petru, die enigste ooreenkoms tussen die slagoffers is dat hulle onlangs geresenseer het, dat hulle resensente is…en toevallig: al drie het gedigteboeke geresenseer. In alle geval, ou matie…”

            “Digbundels,” het sy hom reggehelp, en verby Buks se steurende aanwensel geluister.

            “En dis waarom ek jou nodig het: ’n kriminoloog met ’n literêre agtergrond. Dis nogal skaars. In alle geval, ou matie,” het hy voortgedreun, en Petru kon hom in haar geestesoog sien: die kort, kordate speurder met die bonkige macho stappie. Die gesig met die vriendelike sekelmaanbaard; die wenkbroue vol spriete soos ’n Schnauzer. Die miniatuurkroontjies tussen sy oë trek saam as hy frons.

            “Sal jy kan konsulteer?”

           Sy het gedink; die selfoon gekantel en vir ’n oomblik gehuiwer, na die sweetdruppels op die streelpaneel gekyk. “Stuur vir my alles.”

            Vir dae reeds het sy die debakel op die sosiale media gevolg – Jan Publiek se woedende aanvalle jeens kritici: die leedvermaak, en die geskokte uitsprake van literêre puriste.

Die onlangse moorde op drie vooraanstaande resensente is ’n gevoelige slag vir die Afrikaanse literêre landskap.

Ek weet resensente is soms onregverdig, maar is dit nodig om hulle dood te skiet? (Kwaai emotikon)

Ja-né? My lip is gezip.

Die pers het die vermeende reeksmoordenaar “Skoppensboer” gedoop – en nie om dowe neute nie. ’n Fragment uit Eugène Marais se gelyknamige gedig is met ’n skêr uit die jongste Groot Verseboek geknip en op ’n vel tikpapier geplak, waarna die moordenaar dit in ’n deurskynende A4-plastiekkoevert verseël het. Ná twee skote in die agterkop (kort vuurafstand; teregstellingstyl) is dié bisarre offer onder doktor September se kop geplaas. Bestaan daar iets soos ’n Ars poetica van moord? Petru het ’n sigaret opgesteek en weifelend na die vergrote beelde van die versfragment gestaar. Deur die eetkamer se venster kon sy troebel rookwolke sien hang.

Die heerlikheid van vlees en bloed;

die hare wat die sonlig vang

en weergee in ’n goue gloed:

die dagbreek op elk’ sagte wang

en oge vol van sterreprag

is weerloos teen sy groter mag.

Alreeds begint die rimpel sny;

oor alles hou die wurm wag

en stof en as is al wat bly:

Want swart en droef,

die hoogste troef

oor ál wat roer,

is Skoppensboer.

Die Kaap is aan die brand. Kilometers bo seespieël het wolke soos lugwerpers ontplof. Die flakkerende Noordwester het deur berg en fynbos sy spoor van vernietiging gelaat. Aanvanklik het die wind lig gewaai; die laatsomer se versugting, vinnig aangehits tot ’n verterende blaasvlam.

          Sy het skuldig gevoel. Die verwoesting was vir haar mooi. Mense het foto’s van die brande op Facebook geplaas, die smeerspoed van die vlamme uit fokus gekiek. Nuusnetwerke het al om die uur berig. In haar verbeelding kon sy die nuwejaarsklappers soos sproeivuur as kind herroep: die kosmiese blomme en fonteine wat karnavalesk deur die nagruim geblits het.

            Sy het haar aandag teruggedwing na die moordsaak op hande.

        Skoppensboer se bebloede gedig aan Anina Oosterlig is op soortgelyke wyse verseël onder haar kop gevind, hierdie keer ’n fragment uit ’n gedig, Die geheue van water deur die digter Tom Gouws. Die moordenaar het dit goed gedink om ’n bekende Stephen King-aanhaling uit te tik en bo-aan die gedig op die vel tikpapier te plak.

Kill your darlings, kill your darlings, even when it breaks your egocentric little scribbler’s heart, kill your darlings.

*

snags in my digdossier word jy ’n ligtende brug

’n gevaarlik hoë gang bo grondelose verwildering

oor die swart stil water van my desperate geheue

jou hare vir my vingers ’n bose strik wat nie wýk

jou asem jou asem ’n snik

 

die digteroog kiek onseremonieel die misdaadtoneel

hy probeer met moeë hand vergeefs die laaste houe weer

onthou presies wat enkele gekondenseerde druppels onthou

die sponsbeen splyt en uit my skedelkruim vloei jy

soos teks soos weeïge wywater

Die koning van moordverhale se siening is in Times New Roman 12-punt getik en gedruk op ’n Canon MG 3500, aldus ’n kenner by die SAPD se rekenaareenheid. ’n Vreemde onreëlmatigheid, en opvallend aan al die knipsels, is die oneweredige rante, asof die moordenaar gesukkel het om ’n skêr te hanteer.

Die gedig onder die derde oorledene – professor du Plessis – se kop was meer uitdagend, direk: ’n fragment uit Martina Klopper se bundel, Nadoodse ondersoek:

 

Ek is ’n reeksmoordenaar,

verslaaf aan die verloedering

van die fyn beplande skryfdaad.

Die bloudruk van my gedigte

lyk soos my slagoffers

se verminkte gesigte –

elke letsel is ’n leidraad.

 

Ek staan jou by in die taak

om ’n patologieprofiel te maak.

Ek is die Seun van Sam

en hierdie my briewe

aan die pers en owerheid

waarmee ek daag:

vang my uit.

 

Kon dit wees dat Skoppensboer gaandeweg meer aggressief, met uitgesproke selfvertroue begin optree het, en met die polisie uittartende speletjies wou speel? In die gedig is die spreker David Berkowitz, die Seun van Sam. Tolk die moordenaar deur Berkowitz? Sy het vir Buks gesê: “Ons moet die moordenaar aan die praat kry. Ons weet niks, ook nie of hy ’n digter of bloot ’n leser is nie – laat hy praat, in sy eie tong, met al die aberrasies wat eie is aan ’n individu se unieke manier van praat. Ek wil sy stem hoor, sy idiolek, nie dié van iemand wat skuil agter ander se gedigte nie.” Buks het saamgestem. “In alle gevalle, ou matie – já. Ons weet nie of dit ’n man of vrou is nie – waarskynlik ‘n man – maar daar is vroulike reeksmoordenaars, onthou, al is hulle in die minderheid. Dink aan Nannie Doss, Jane Toppan, Miyuki Ishikawa…en om ’n vuurwapen te gebruik, vereis nie krag nie.”

            Sy het afwesig geluister. Elke slagoffer is identies geskiet – teregstellingstyl: twee skote deur die agterkop. ’n Kleinkalibervuurwapen. Die ontstekingsresidu dui daarop dat die skote op ’n kort afstand afgevuur is. ’n Morsekode van koeëls.

            Die vorige Sondag het daar geen resensies in die Sondagkoerant se boekeblad verskyn nie, slegs ’n volblad-grafika van die mantelman met ’n sens. ’n Kort beriggie met die nodige huldeblyke aan die oorledenes, en dat die polisie-ondersoek tans in ’n sensitiewe stadium is.

            “Sensitief” beteken hulle vorder nie veel met die ondersoek nie, dink sy wrang. Die enigste resensie wat sedert Skoppensboer se toetrede tot die literêre toneel verskyn het, is dié van ’n literator in Pole (wat huiwerig vanaf die .pdf-meesterkopie geresenseer het.) Die resensie is op die aanlynwebwerf, WebWoord, gepubliseer.

Verdagtes het gekom en gegaan.

       Die talentvolle eendagsvlieg, Tjaart van der Watt wat in die negentigerjare opslae gemaak het met sy debuutdigbundel, Woknakwyf, het aangemeld vir ’n skulderkenning. Badenhorst het dié boemelaar-digter ingeneem vir ondervraging, en hy het vurig bely: hý is die gevreesde en berugte reeksmoordenaar, Skoppensboer. Met ’n wilde glinstering in sy oë en in grafiese detail het Van der Watt begin vertel hoe hy die drie resensente eers gemartel het voor hy hulle “soos honde afgemaai het.” “Want geregtigheid sal daar wees”, het hy gesis en sy bolip gelig, speekselborrels in die een vermiste voortand. Die resensent, Anne Waterwitch wat hom so afgeransel het oor Woknakwyf… háár dag sal ook kom.

            Badenhorst en sy manne het geduldig na die onsamehangende betoog geluister en Van der Watt simpatiek laat verstaan dat hy onmoontlik die gesoekte reeksmoordenaar kon wees. Na wat die polisie kon vasstel het die digter drie maande vantevore weggeloop uit Weskoppies-hospitaal en ’n boemelbestaan in Sunnyside begin voer. Toe Badenhorst vir Van der Watt –  gebad en skoongeklee – terugbesorg aan die psigiatriese personeel by sy permanente tuiste, het hy bly skreeu “God slaap nie!” tot sy stem gebreek het.

            Nóg ’n vals alarm was die naamlose oproep wat kolonel Badenhorst ontvang het waarin daar vingers gewys word na die eienaar van die mediagroep, South African Books. Die gesiglose inbeller met die geartikuleerde stem het beweer dat die uitgewers van die drie digbundels ter sprake in die moordondersoek onder die houermaatskappy Southern Books ressorteer; en die eienaar van dié magtige organisasie, Cornel Hansen, sou kwansuis ’n motief gehad het om wraak te neem op die resensente, aangesien die bundels sterk deurgeloop het onder kritiek. Vyf minute later is Hansen se naam geskrap van die lys verdagtes: hy was in die buiteland ten tye van die moorde.

            Die bekende skrywer van misdaadfiksie, Frans Verster, het ook in die spervuur beland. Skynbaar het Verster ’n jaar gelede ’n resensent – ’n akademikus verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, doktor Gerhard Cronjé – begin terroriseer ná ’n ongunstige ontvangs van sy speurroman, Blits. Doktor Cronjé het ’n saak van teistering by die polisie aanhangig gemaak nadat hy ’n dooie rot en drie Tarot-kaarte – Die Tien van Swaarde, Die Dood, en Die Toring – in ’n verseëlde koevert tussen die rommelpos in sy straatposbus ontdek het. Dié grusame vonds is vergesel van ’n paar naamlose SMS’e wat doodsdreigemente bevat het. Verster het alle bewerings ontken, maar ná ’n polisiewaarskuwing het die viktimisasie opgehou. Badenhorst het die wenk opgevolg, maar omstandigheidsgetuienis het daarop gedui dat Verster nie ’n verdagte in die saak kon wees nie.

             Petru staan op. Daar is ’n manier om Skoppensboer aan die praat te kry, en dit is: lok hom uit. Sy bravade sal wel toeneem. Kry ’n vreeslose resensent, en stel vir hom ’n lokval. Hy geniet die aandag in die pers en op die sosiale media en is heel waarskynlik lankal reeds knus deel van die literêre netwerk op Facebook. Hierdie is nie die een of ander fiksie op ’n skrywer of leser se muur nie – hier word werklik mense op grusame wyse vermoor.

            Haar sefoon doof swart en wys BUKS BADENHORST.

            “Buks”. Sy praat vinnig. “Ek het ’n plan.”

Sy onthou dat sy nie ’n vuurwapen besit nie, want sy glo dat dit die noodlot antisipeer. Haar verweer teen gevaar was nog altyd besweringsgebede. Verder vertrou sy op die gode van Justica, en glo dat die sinkronisasie van gebeure nie toevallig is nie – sy is bedag op elke moontlike prikkel: drome, veranderende bewussynstoestande, intuïsie, kodes, soos simbole op die lewenspad…die motto op iemand se T-hemp voor haar in die straat, die liedjie wat onverwags oor die radio speel. Sy moet wakker wees, haar sintuie in hoogalarm soos tien jaar gelede toe sy geleer het om sin te maak uit trauma. F se moordenaar het vrygekom nadat hy haar lewensmaat se liggaam langs die N3-Alexandra Edenvale-afrit geslinger het, en dit maak haar vasberade.

            Sy druk die foon dood. Met ’n los rokershoesie het Buks ingestem om die resensent in Pretoria te gaan sien. Die genomineerde kandidaat, ’n oud-Recce en vryskut-skrywer, Hendrik Struwig, sal ’n oorsigtelike boekbespreking doen om Skoppensboer tot aksie te dwing. Die boek: ’n bundel kontreiverse deur ’n Namibiese digter. Sonsnedes. Veilige natuurverse. Gemoedelike sonbesie-poësie. Dis ’n derde bundel, ’n lae risiko-resensie.

            Sy loop na die kombuis en maak ’n beker sterk Nescafé; loop dan na die buitedeur en maak dit oop, maar rookmis sluik in ’n fyn laag roet oor die leersitkamerstel en sy trek die deur weer dig.

            Nuus24: brandbestryders sukkel om wegholbrande, wat intussen na die Wellington- en die Bainskloof-area versprei het, onder beheer te kry.  Twee Allergex, en sy skuif agter haar skootrekenaar in.

            Die skrywer-resensent Hendrik Struwig is ’n robuuste karakter, ’n traak-my-nie-agtige alleenloper. Anders as die meeste skrywers het Struwig werklik nie ’n bang haar op sy kop nie; hy projekteer ook nie ’n geromantiseerde beeld van ’n Hemingway of ’n verloopte siniese grensvegter nie. Petru glimlag. Laat kolonel Badenhorst die fynskrif met die oudsoldaat uitsorteer, en sy sal vir die aanvoerwerk met die aanlynredakteur van WebWoord sorg.

            Teen skemer skakel sy die skootrekenaar af en besluit om aandete by die superette op die hoek te koop. Die estetika van geweld, loop sy en peins, is volkome versoenbaar. Tarantino het geweld as kunsvorm verestetiseer. En die geskiedenis het sy kwota kunstenaars met anti-sosiale gedrag opgelewer: Hitler was ’n skilder, asook die reeksmoordenaar, Peter Sutcliffe. Stalin en François Villon was digters, en die markies de Sade ’n skrywer. Selfs die moordenaar Charles Manson het hartstogtelike poësie geskryf. Sy moet die moorde tot in die fynste vesel probeer visualiseer tot sy die gebeure kan rekonstrueer in haar geestesoog: die diaboliese teaterstelle wat die reeksmoordenaar agterlaat, die muwwe simboliek, die rekwisiete en makabere rollespel rondom die een of ander fiksasie. Is Skoppensboer self ’n digter wat te na gekom is deur ’n resensent, al was dit lank gelede? Peter Senge se Vyfde Dissipline: Cause and effect are not closely related in time and space. Haar oë traan, en sy kyk na die son, spookblink tussen die wolke. Daar woed nou altesaam negentien brande in die Kaap.

           Die drie gekose gedigte is selektief, selfs keurig uitgesoek, gegewe die feit dat daar min moordpoësie in Afrikaans bestaan. Beskik Skoppensboer oor ’n superieure kennis van poësie – en elimineer sy keuse van gedigte hom tot ’n kleiner groep elite-lesers van poësie? En: is daar ’n groter narratief betrokke by die moordtonele as die blote willekeurige plaas van die gedigte onder die slagoffers se koppe? Dui dit op die een of ander bloedige – of selfs bloedskandelike – intertekstuele spel, weliswaar ’n fatale een, waarmee die moordenaar die polisie en literêre gemeenskap uitdaag? Sy kners op haar tande by dié gedagte. Die moordenaar het ook Stephen King se aanhaling gebruik, en nie dié van die oorspronklike skepper, William Faulkner nie; die suggesties en dreigende ondertone van die moordverhaalmeester is doelbewus gekies. Kill your darlings: ’n frase waarmee menige skrywer, keurder of uitgewer bekend is. Daar is iets inherent gewelddadig aan die skryfproses en die brute wis van dierbare woorde.

                By die superette koop sy twee pasteie, ’n Coke, ’n Bar One, en sigarette.

Buite is dit vuilskemer. Dae lank het die gloor van ou vure oor alles gehang. By tye was dit onseker watter tyd van die dag of nag dit is – ’n troostelose grys kruisdoof. Uit oop konkas het bloedvlamme gelek en brandweermanne bly stry; hulle silhoeëtte spookagtig afgeëts teen die natuur se swart slagvelde.

            Af en toe neem ’n verbyganger selfoonfoto’s van die son, ’n pêreloog tussen die stroewe wolke. En skielik onthou sy: die ou, bekende angst. As jy so lank in die skadu’s bly beweeg, kan jy later die blindekolle óm jou sien.

            Sy loop vinniger, haar rug trek hol. Sy kan dit beheer. F se kaping tien jaar gelede. Sy lewelose liggaam is uit sy BMW geslinger, op die skouer van N3-Alexandra Edenvale-afrit, ’n enkele koeëlwond in die bors.

            Asemhaling. Sy dwing haarself. Sy voel die groeiende onrus op haar rug: haar voete klap op die teer. Vinniger. Die skaduwees loop agter haar aan. Moenie omkyk nie. Haar keel begin te brand; reuse spinnekoppe skarrel in die vloeibare donker in. Spinnekoppe is bang vir lig. Die straatlampe flits aan: spookasem.

            Dan hoor sy iemand lag, lank en dun soos ’n oktaaf, maar sy hét die dissonante klank in die lag gehoor.

            Binne sekondes is hy by haar. Sy herken hom: David Berkowitz, die Seun van Sam.

        Met uiterste wilsinspanning ruk sy uit die geestesvervoering los. Die moordenaar het uit die Klopper-moordgedig gestap en voor haar oë vervlees.

            Asem; dink; ontleed.

           Sy herwin beheer en stap vinnig deur die bleek straat na haar huis in Somerset-Wes. Glimlag vir die donker voordeur. Dit is terug, die angswekkende dissosiasie, die gevoel van roofdier-wees, die verhoogde bewussyn, die teer spiere en ’n verstand wat in die hoogste versnelling werk.

            Vir die eerste keer sedert sy begin konsulteer het in die Skoppensboer-saak voel sy gereed om die moord op te los.

            Die volgende oggend skrik sy om vieruur wakker. Sy vlieg regop en skakel die ketel aan vir koffie.

           Dis feitlik ’n uitgemaakte saak dat Skoppensboer op die internet rondsluip. Fynkam die sosiale media, gee sy opdrag aan haarself. En: ondersoek die moontlikheid dat hy spore kan laat in koerante en webwerwe se kommentaarkolomme. Intuïsie. Die horlosie tik, angswekkend en sterflik, die hol geluid van grotwater. Haar sintuie verskerp. Sy wag vir Buks om haar te bel oor Hendrik Struwig, en sy wag vir die aanlynredakteur van WebWoord. Sy wag. Al wat sy het, is die haperende, onvolledige verslae oor drie resensente wat doodlê in hulle huise nadat hulle hulle plig as literêre kritici gedoen het. Verder het sy die ontsagwekkende firmament van die internet tot haar beskikking. Haar sin vir detail. Alle moordenaars maak foute, sy gaan hom vastrek, in die brandpunt van ’n mikroskoop, weglaatbaar en mikrografies klein, dáár sal sy hom inwag. Die stiplees van ’n literêre teks en ’n misdaadtoneel verskil nie veel nie: kriminologie en letterkunde deel beide in die narratiewe van die lewe. Patrone, verhaallyne, allegorieë, die dekonstruksie en rekonstruksie van woordtonele. Simboliek.

            Sy sluk aan haar koffie. Drie jaar gelede het sy self ’n moordboek, Motief uitgegee: ’n knewel met dertig ware gebundelde moordverhale, soortgelyk aan die werk van John Dunning. Die hardeband was vertroostend; het haar herinner aan die grein van grofgepleisterde mure rondom die gru-inhoud. Sy het die bekende borg en beskermheer van die kunste, Hans Kooij genader om ’n borgskap, wat hy sonder  teëstribbeling toegestaan het. Die boek was ‘n groot sukses: moordverhale is gewild, want dit laat mense altyd beter voel oor hulle self. Dit relativeer eksistensiële angs en pyn tot blote trivialiteite.

            Hans Kooij…sy steek ’n sigaret op en kyk na die rookrafels. Wat wás dit wat haar gepla het omtrent die man? Sy kon nooit haar vinger daarop lê nie – maar onthou dat sy jammer gevoel het vir hom nadat hy aangesterk het na ’n beroerte. Dat hy op 65 skielik linkshandige vaardighede moes aanleer ná senuskade aan sy regterhand.

            Sy dwing haar aandag terug na die rekenaarskerm. Die baie ure skermtyd wat sy vrugteloos gewaak het op soek na nuwe leidrade. Geen vingerafdrukke nie. Geen hare, velskraapsels, liggaamsvloeistowwe nie; geen biologiese of verdagte anorganiese stowwe wat aan die moordenaar verbind kan word, is op die misdaadtonele gevind nie. Die Zodiak-moordenaar het weggekom, onthou sy met ’n beklemming. Asook Jack the Ripper. As Patricia Cornwell se teorie korrek is, is die skilder Walter Sickert die reeksmoordenaar wat prostitute afgemaai het in Whitechapel in die laat 1800’s. Sickert was beide links- en regshandig en het met albei hande briewe geskryf aan Scotland Yard – iets wat die polisie gereken het nie moontlik kon wees nie. En Sickert was hoogs intelligent; die verwydering van sy slagoffers se organe het hy nageboots uit mediese handboeke, en om sekuur te werk met ’n skalpel, kon nie moeilik gewees het vir ’n kunstenaar wat gewoond is aan dun mm-kwassies nie. Sickert het gereeld toegeslaan in die agterstrate van Londen, telkens geklee in ’n ander uniform wat hy as skilder vir sy manlike modelle se portretstudies kon huur. Eers jare ná sy dood, en op grond van moderne DNS-vergelykingsmetodes is sy oorskot geïdentifiseer as dié van Jack the Ripper. Sommiges glo steeds dat die moorde die werk van ’n dokter was en daar bestaan ’n legio samesweringsteorieë, maar mense klou graag aan hulle mites en legendes – en wie wil nou ’n goeie storie met feite bederf?

          Skoppensboer. Sy sit agteroor; vluglees kommentare oor die taaldebat, en volg profiele soos ’n virtuele spoorsnyer: netwerke, vriende, klieks, regses, liberales, verloopte lefties, verwardes, Facebook-digters, versteurdes, alleenlopers, trolle. Die lingua franca van die sosiale media se bibliofiele: shelfie. Hierdie boek is ’n moet-hê / moet-lees. Dit is ’n grensverskuiwende boek. Aspirant-skrywers is daar baie; en dié skrywendes se manuskripte lê iewers in ’n onderste laai. My passie is…almal het deesdae ’n passie, dink sy geïrriteerd.

            Elfuur maak sy die buitedeur en vensters oop en kyk gelate na die roet wat ondertussen soos geheimsinnige swart fluweel oor die tuinmeubels gesif het.

            Sy loop na die yskas, sny ’n stuk kaas en Weense worsies in blokkies en rangskik dit tussen piekeluitjies op ’n bord. Sy gaan sit voor die televisie en rig die afstandbeheer op kanaal 181, National Geographic. Die beeld van ’n laksman wat sy flenterprooi aan lang dorings ryg om later te geniet, verskyn.

            Sy trek die tandestokkie agterdogtig uit haar mond: skakel oor na History Channel. ’n Dokumentêr oor Idi Amin.

               Sy swets. Die waansin is nooit ver nie.

            Die sekondes tik broos. Fraktale van die lewe. Met ’n stram bolyf sak sy weer op haar stoel neer. Waneer bel Buks? En – sy moet daadwerklik iets doen, maar wat? Sy dink. Sy kan ’n blog op die poësiewebwerf, Interdig plaas, iets oor die verband tussen moord en poësie. As Skoppensboer wil speel, dan hou sy hierdie rondte die aas na hom uit.

            Sy werk vinnig: ’n kort essay oor Edgar Allan Poe en die nekrofiliese sigbaarmakling van die dood in sy werk. Doodserotiek. Die donker enigma rondom sy dood. Sy kettingrook en plaas die blog eindelik en met ’n gesukkel in WordPress. Te oordeel aan Skoppensboer se keuse van gedigte is hy waarskynlik ’n ingeligte leser van poësie, en met ’n bietjie geluk reageer hy in die kommentaarkolom. En as dit gebeur, dink sy opgewonde, verskyn sy IP-adres ook in ’n e-poskommentaar wat direk na haar as blogger versend word. En met ’n IP-adres is daar daadwerklik iets om mee te werk.

            Teen vyfuur gaan lê sy op haar bed. ’n Moegheid oorval haar, gevolg deur onrustige drome.

Daar is ’n klop teen haar spieël. Sy staan op. Dit is donker; net die blindings ril, soos werwels in die Kaapse wind.

            Die geklop raak dringender. Die geluid van hol glas. Haar ruggraat krimp. Vir ’n oomblik verstaan sy waarom mense kranksinnig kan raak van vrees, want wie is die dynserige silhoeët wat vanuit die spieël na haar staar? Dit is nie sý nie – sy staan te ver van die spieëlkas af om ’n weerkaatsing te gooi. Tok-tak-tok. Die gesig beweeg.

            Sy sluk, branderig en droog, en gee ’n tree nader. ’n Tree. Nog een.

            Nader. Dan gil sy – dink ironies dat dit ’n geluid is wat glas sal laat bars, wat deur die klankgrens kan breek, ’n gil waarop Günter Grass se karakter, Oskar Matzerath in Die Blechtrommel jaloers sou wees.

            Vanuit die raam kyk Fred West na haar. (Hy het sy slagoffers onder sy huis toegemessel.)

            West glimlag, en die gleuf tussen sy voortande verskyn, net soos sy dit van die foto’s onthou.

            Sy vlieg om en klap met haar plat hand teen die ligskakelaar.

            Die beeld is weg. Drie hangende moordondersoeke en die delikate psigologiese grense waarop sy steier. F se moord tien jaar gelede.

            Fokus, dwing sy haarself, en gaan sit bewerig op die rand van die bed.

Die kriminoloog, ’n bejaarde vrou betrokke by Fred en Rose West se ondersoek in Gloucestershire, het daarop aangedring dat die huis in Cornwell Street gesloop word: sy het gewéét die slagoffers is onder die fondamente begrawe, en sy was reg. Intuïsie. Dikwels is een van die gevaarlikste persone tydens ’n ondersoek die kriminoloog, nie die polisieman wat met ’n vuurwapen rondry nie. Dit is die vrou met die gemanikuurde hande op die sleutelbord, besig om die raaisel op te los, die een wat voel, wat vermoed. Die beste kriminoloë is nie om dowe neute vroue nie.

            As student was sy ’n boheem, lid van esoteriese kultus kunsstudente. Deel van die inisiasie was om vir dae lank geblinddoek oor die weg te kom: om volkome uitgelewer te wees aan die teater van die verbeelding, om uit sensoriese deprivasie te leer visualiseer, om te luister na die stem van monologue intérieur.

             Sy maak ’n beker Nescafé en sit al die ligte in die huis aan.

Vroeg die volgende oggend bel Buks Badenhorst. Hendrik Struwig werk aan sy resensie vir WebWoord, en is, soos te wagte, min gekwel oor Skoppensboer. “Ons het lank laas ’n bietjie literêre opwinding gehad, die taaldebat raak nou afgesaag,” het sy droog opgemerk, en Buks het sy woord gegee dat hy alles in sy vermoë sou doen om die mantelman in Struwig se huis te ontvang. Die teenwoordigheid van polisieversterkings is bevestig, en Badenhorst self sou in die spensie agter die kombuis wegkruip. Die resensie van 550 woorde is amper gereed, en die aanlynredakteur van WebWoord het onderneem om dit te plaas, maar wou haar nie op enige wyse kompromitteer nie.

             “Die virtuele wêreld is mos veilig, of hoe?” Die speurder het gelag. “Julle boekmense is gevaarlik, my ou girl, o alle geval, ou matie…” Sy kon in haar geestesoog sien hoe hy hom verkneukel en sy Schnauzer-wenkbroue soos tenktakels roer.

             Dag 37. Die brande het ondertussen na die Paarl-omgewing versprei.

            Petru en Buks sinkroniseer die tydsberekening. Skoppensboer sluimer iewers, hy wag vir ’n skuif. Sy voel hoe haar maagspiere begin styftrek. Haar solar plexus waarsku. Die lokaas is uit. En sý wag; vir reaksie op haar Poe-blog op Interdig, en later, vir moontlike kommentare op Struwig se resensie op WebWoord.

            Sy loop bekommerd op en af in haar huis, selfoon in die hand, voorbereid op enige nuwe verwikkeling. Die slimfoon se pedometer registreer die rustelose meters wat sy loop, en die meters rek tot kilometers.

            Eenuur ril die foon – vibreerfunksie – in haar palm. Sy lees die kommentaar:

           Ek het dit al voor jou gesê, maar ek geniet jou blogs baie. Dankie. En dit waarop sy gehoop het, lewensgroot op die streelpaneel, onder die skuilnaam “Realis”: IP-adres 182.16.254.1 10. Haar hart klop vinniger. “…voor jou gesê…vir jou gesê: is hier ’n Nederlander aan die woord? En: beteken die kommentaar enigsins iets, of is dit bloot ’n waarderende leser? Is die persoonlike stelwyse, die idiolek van die persoon heeltemal onverwant aan Skoppensboer?

            Intuïsie.

          Sy vluglees deur soveel moontlik kommentare op Interdig, doen gekombineerde soekwoord-soektogte, en spoor die kommentator, Realis, se repliek op by ’n ouer blog wat sy oor Elisabeth Eybers gedoen het. Dit was ’n jaar gelede. Sy frons oor die terugvoer: Lekker gelees, dankie. Ek dink steeds Cussons is ’n groter digter dan Eybers…groter digter dan…is ’n groter digter as…dit ís waarskynlik ‘n Nederlander wat leer Afrikaans praat het en sy moedertaalgebruik van voorsetsels skemer deur. Sy bid stilweg dat die ou e-pos waarin Realis se IP-adres verskyn, nog bestaan.

            Sy vee oor haar klam voorkop; sug verlig, en skryf die adres neer.

      Vervolgens fynkam sy WebWoord. Daar is plasings van Nederlanders en Belge, maar geen geradbraakte Afrikaans-Nederlands nie.

           Laatmiddag skink sy ’n konjak en sak neer op die sagte sitkamerstoel. Sy merk die ligte tremor in haar hand, maar besluit om dit te ignoreer.

            Sy gaan slaap vroeg.

Petru droom van reuse vure en swart kasarms wat in duie stort. Dan verander die droominhoud, soos ’n regisseur wat die toneelkleding met die klap van ’n vinger verander: sy sien haar moordpublikasie, Motief, duidelik voor haar. Sy loop, alleen deur die straat wat voor haar huis verbykruis, haar boek beskermend voor haar bors vasgeklem. En in haar droom weet sy: al is dit die laaste – of enigste – besitting waarmee sy sal vlug, dit sal haar moordboek wees.

            Sy kyk om: daar is iemand op haar spoor.

            Sy het haar misgis.

            Dan kyk sy af. ’n Foksterriër storm krysend nader. Die hond se stembande is verwyder en hy blaf verwoed in ’n fluisterstem soos ’n growler in ’n Death Metal Band. Sy weet die hond is nie gevaarlik nie, inteendeel; sy kry hom jammer, ’n absurde gewaarwording wat haar laat lag. Die Foksie lig sy lip, en sy staar verstom na die sproete op sy tandvleis.

           Die hond retireer ’n paar treë; storm dan weer vorentoe met ’n gryns soos ’n verbete glimlag. Sy herken die vlammende oë van ’n predatoor.

            Die hond se gesig verander, vervorm tot dié van ’n Basset, ’n treurige afdraande gesig.

            ’n Mens se gesig. Die gesig

            morf en verander in die gesig van die borg, Hans Kooij.

Haar hart klop en sy ruk regop, raak aan haar T-hemp se kraag, klam van die sweet.

Drome. In die badkamer was sy haar gesig met koue water; skuif dan voor die skootrekenaar in die eetkamer in en stuur die merker na Hans Kooij se Facebook-bladsy. Dit is makliker om ’n naald in ’n hooimied op te spoor as om ’n vermeende moordenaar op die internet vas te trek, dink sy moedeloos.

            Sy begin te lees. Haar indeksvinger rol die muis terug in tyd.

            Sy sit regop: begin kriptiese aantekeninge te maak.

            Kooij se profiel verskil van dié van die deursnee-borg van literêre projekte. Uit sy plasings blyk dit dat hy ambivalent is – hy sal met ’n groot fanfare aankondig hoeveel hy vir Die Taal doen, net om dit skynbaar te berou in opvolgplasings. Emosioneel labiel, stip sy in haar notaboek.

            Sy flitslees deur die monotone, selfbejammerende opdaterings. Persoonlike anekdotes. Hy kry geen erkenning vir sy (skynbaar miskende) rol in Afrikaans nie. (Nota: grandiose neigings). Die hoofstroom se deure bly vir hom geslote. Hy sukkel ná die gevolge van ’n beroerte; sukkel met depressie. En hy is alleen, lewenslank, en nooit getroud nie – boeke is sy enigste vriende.

            Ensovoort, ensovoort, dink Petru, en haar ken gly laer af in haar hand.

          Die toekoms van Afrikaans lê in selfpublikasie, lees sy. Kooij reken hy is ’n belangrike meningsvormer. Hy sanik oor sy hulpbehoewende kinderdae in Nederland en spog openlik oor sy fortuin wat hy danksy sy PSG-portefeulje gemaak het. Maar die pylvak van sy lewe, peins hy, laat hom onvervul: die enkele boeke wat sy literêre trust uitgegee het, die talle Afrikaanse projekte waarvoor hy pa gestaan het…hopelik sal die skenking van fondse vir formele transnasionele literatuurstudie beter dividende oplewer.

             Sy het Kooij net een maal ontmoet, vlugtig in ’n koffiewinkel in Faerie Glen. Die beskermheer van die kunste was ’n kort, gesette man met ronde skouers en ’n blink bles: ’n man van min woorde (maar baie dade). Sy het haar manuskrip, Motief, aan hom oorhandig, en hy het beloof om haar sou gou moontlik te laat weet van sy besluit om dit te publiseer, al dan nie. Hy sou na sy strandhuis in Hermanus reis om ’n wegbreek te vat om die moordteks na behore deur te lees. Sy het hom jammer gekry: hy het afgetrokke voorgekom ná die beroerte; gesoek na die regte woorde en tee gestort met sy linkerhand, wat lomp op nuwe opdragte moes reageer. Hy is een van daardie mense wat sukkel om sy weerloosheid weg te steek, het sy gedink, en in haar geestesoog kon sy ’n brein vol neurale weë sien wat geheimsinnig bly vertak soos droë rivierlope; wat bly vertak en reik na alles; reik na niks.

            Kooij skryf in ’n argaïese motbol-Afrikaans. Hy salueer Die Taal: deel in die bloedige mentaliteit van menige taalstryder – dié wat sal lewe en sal sterwe vir Afrikaans. Die melodrama van kultuurerfenisse wat losgely is, gevolg deur ’n oordrewe trots.

            Maande later het Motief verskyn; ’n groot sukses, ’n omnibus van dertig ware moorde verpak in joernalistieke styl maar omgeef met die aura van die magies realitiese. Ná alles; kortverhale, geskryf vir die leser om te geniet. Dieselfde dag wat Motief se bekendstelling in die Kunstekaap gevier is, het die debuutdigter, Herman Uys (ook uit die Kooij-stal) selfmoord gepleeg ná ’n vernietigende resensie van sy bundel, Fuga. Uys se bebloede lyk is in sy slaapkamer langs sy bed aangetref. Hy het die slagaar in sy keel met ’n matmes oopgekloof.

            Hans Kooij het nie gedeel in haar sukses nie. Sy het ’n eienaardige e-pos van hom ontvang waarin hy haar beskuldigend gewys het op die uitleg- en drukkoste verbonde aan Motief. Sy antagonisme was tasbaar, en sý, verward.

            Kooij het nooit na Uys se dood verwys nie.

          Wat se gratifikasie sou hy put uit sy welwillendheidsprojekte? het sy gewonder, en stilweg kontak met hom verbreek.

            Petru kyk vir laas na die ouman-profielfoto, die weemoedige gesig en die diep inhamme langs sy mond, die suggestie van bitterheid. ’n Twintig-voor-vier-mond. Soos Maria Groesbeeck, Andrei Chikatilo, Ian Brady, Aileen Wuornos…

            Sy ruk by dié gedagte.

            Kooij kry min reaksie van sy Facebook-vriende op sy plasings. Sy anekdotes is ’n innerlike monoloog wat hy met homself voer, gesprekke wat geamplifeer word deur die kaal ruimtes van die sosiale media. Sy taalgebruik is vaag; en hy vermy die gebruik van eiename, asof hy gesigloos met sy gehoor kommunikeer. Sy maak ’n laaste nota: Obsessiewe neigings + lae frustrasietoleransie.

Die Yorkshire Ripper en die Happy Face Killer was beide vragmotorbestuurders: hulle het die polisie ’n geruime tyd verwar met hulle moorde wat volgens modus operandi ooreenstem, maar wat honderde kilometer uitmekaar gepleeg is. Skoppensboer is bedrywig in Gauteng, spesifiek Pretoria, asook die Weskaap. Al waarop dit dui, is dat die moordenaar mobiel is. Of moontlik oor twee wonings beskik, een in Pretoria en een in die Kaap.

            Petru skuif haar notaboek en skootrekenaar weg en rus met haar kop in die halfmaan van een arm. Die afgelope week begin sy tol eis: sy voel die lamheid in haar bo-arms, die bewing in haar hande. ’n Skril botoon laat haar opkyk.

            ’n E-pos van Realis: nog ‘n kommentaar by die Poe-blog op Interdig.

 Kill your darlings, kill your darlings, even when it breaks your egocentric little scribbler’s heart, kill your darlings.

            Sy spring op uit die stoel. Dit is Stephen King se aanhaling – nie William Faulkner s’n nie – en dit is identies aan die tiksel wat bo-aan die Gouws-gedig geplak is.

            Sy krabbel haastig die IP-adres neer: stuur dan ’n dringende e-pos aan haar hacker-vriend, Gecko, en heg die drie skakels waarin Realis se Interdig-kommentare verskyn, daarby aan: Hi Gecko, i.v.m die Skoppensboer-moordsaak (jy’t seker gelees daarvan?) Sien skakels. Info oor IP’s asb. Dankie…Sy kan hom duidelik voor haar sien, dié bloedjong kuberkraker, sy gespanne, manoreksiese lyf agter ’n rekenaar besig om Minecraft te speel. Ek kry ’n klein klein beiteltjie, ek tik hom en hy klink…Sy hand vryf oor sy syagtige wange en ken, die poging tot ‘n baard; dan vlieg sy vingers oor die sleutelbord.

            Sy merk dat die aanlynredakteur intussen Struwig se resensie op WebWoord geplaas het, maar daar is nog geen leserskommentaar nie.

            Die tergende vraag wat aan haar bly knaag, is: hoeveel mense weet dat sy betrokke is by die Skoppensboer-moordondersoek? Buks. Gecko. Haar ma. Een vriendin. En sy praat nie, sy is ’n kluisenaar. ’n Kluis. Die ander praat ook nie, nooit.

            Haar kaakspiere pyn. Dit is inligting wat sy baie selektief met enkeles in haar intieme binnekring deel. Dis riskant. En privaat.

            Behalwe…en sy voel die onweer van ’n swaar frons op haar voorkop groei – behálwe: sy het drie jaar gelede voor die publikasie van Motief aan Hans Kooij genoem dat sy as privaat konsultant vir die polisie werk en dat haar spesialisveld moord is. Sy kyk ongelowig op in die lug, na die plafon se goue nikotienhoeke.

            Sy voel ’n ou geduld soos lewensmoegheid van haar besit neem; blaai weer metodies terug na Kooij se Facebook-blad.

            ’n Maand gelede, merk Petru, het Kooij se deelname aan kerkaktiwiteite begin toeneem. Hy verskyn met ’n vroom, gepoleerde glimlag aan die sy van sy plaaslike NG-gemeente se bobaas-baksters: kerkbasaars, boeresport, kerkjeugaksies. Die foto’s word afgewissel deur ’n rits geblomde Christelike plakkaatboodskappies

          Toe Donovan Moodley se kerkaktiwiteite toegeneem het, het Piet Byleveld se suspisie verskerp dat hy die hoofverdagte in die Leigh Matthews-moordsaak is. Want ’n gewete eis sy afkoopboetes.

            By tye neem sy skermfoto’s van die grafika. Sy skreef haar oë; rol terug. Sy lees.

            Lees.

            En dan, by ’n skakel oor vetplante: het jy soms vir my die naam van ’n goeie boek oor vetplante? Het jy soms. Het jy dalk. Die Nederlandse tongval, die idiolek skemer deur! Die web rondom Hans Kooij, Realis, en Skoppenboer spin al nouer. Sy neem ’n skermfoto van die plasing en maak die nodige aantekeninge. Dink dan terleurgesteld dat sy nie ’n formele forensies-linguistiese analise met Wordsmith Tools kan uitvoer om die idiolektiese stylkenmerke tussen Skoppensboer, Kooij en Realis te bepaal nie: die data is beperk, en Skoppensboer se idiolek ontbreek – hy tolk deur ander digters.

            Haar skootrekenaar bons: ’n e-pos van Gecko. Sy vryf oor haar oë. Twee van Realis se IP-adresse op Interdig is geskommel, waarskynlik deur ’n VPN-program wat van ’n Torrent-program afgelaai is. Die IP-adresse gee die naam van verskaffers in China aan. Die jongste kommentaar – die King-aanhaling – se IP-adres se wifi-sein kan teruggespoor word na die luukse landgoed, Summer Heights in Waterkloof. Waarom het Realis drie IP-adresse? Waarom het die Waterkloof-IP deurgeglip, as hy moeite gedoen het om sy adres in die verlede te skommel? Want moordenaars maak foute. Hans Kooij woon in ’n landgoed in Waterkloof, onthou sy; maar hy het nooit die naam aan haar genoem nie.

            Buks bel: rapporteer dat hy op gereedheidsgrondslag is. Struwig se huis word strategies al om die uur deur polisiemanne in siviele klere bewaak. Sy doen kortliks verslag aan Buks: oor haar vermoedens, oor die Nederlandse moedertaalgoggas, oor die verdagte IP-adresse op Interdig.

            “Fyn werk, ou girl, maar kom ons toets jou teorie aan ons lokaas. Wat my pla, is dat daar maar ’n yl motief is, alle geval, ou matie…”

            Sy het geweet Buks had reg en sy aanwensel het haar meer as normaalweg geïrriteer.

Die motief. Hoe verduidelik sy aan Buks – ’n nugtere, plat-op-die-aarde poliesman hoe teergevoelig skrywers en uitgewers se ego’s is? Die hoofmotiewe vir alle moord is seks, geld of wraak. Dit is eintlik vreemd hoe min resensente vermoor word, dink sy ironies, gegewe ’n verterende wraakmotief wat ’n skrywer mag koester: ná ’n swak resensie is die ego broos; ’n jare lange droom aan’t skerwe; ’n toekomstige reputasie in die weegskaal.

           Hans Kooij het ’n beroerte gehad. Sy patologie is duister. Te oordeel aan sy Facebook-plasings het hy met toenemende aggressie jeens kritici begin reageer. Hy word inderdaad al vir jare misken deur die kanon ten spyte van ruim befondsings, maar waarskynlik as gevolg van sy irrasionele uitsprake. Hy voel verwerp. Maar vestig dit ’n motief vir moord, en die koue, berekende simboliek rondom Skoppensboer se fyn georkestreerde moorde?

Dag 38. Nuus24: die lugmag het talle Oryx-helikopters ontplooi as deel van ’n aksie om brandbestryders by te staan in hernude pogings om wegholbrande te blus.

Sy staan swaar op; maak ’n Ensure-melkskommel met ’n elektriese handklitser. Die yskas is leeg, behalwe vir drie eiers en ’n paar eensame wortels wat stertkant begin blomme maak.

            Sy gooi dit in die vullisblik.

Skakel die skootrekenaar aan. ‘n Lêer met die naam MAANBLOM trek haar aandag. Sy het dit tien jaar gelede geskryf, onthou sy, en voel hoe haar slape begin klop.

DIE MAANBLOM KANTEL

Sy het die klerk verantwoordelik vir die sterftevorms gevolg deur die lykshuis na ’n klein, skemer vertek, F se suster soos ’n skaduwee agter haar, hulle oë wydgerek in die onnatuurlike stilte.

            Op ’n smal bed met ’n dun matras het die liggaam gelê. Onder ’n stormkombers. Was dit regtig hy? Die kadawer was klein en vervalle tussen die grys kreukels; ’n ingesinkte liggaam. Nie die groot en forse man wat sy geken het nie.

            Die klerk het nadergetree en die kombers gelig. Maar niks kon haar voorberei nie. Sy gesig was pers en opgehewe en die oë oop. ’n Donker snymerk onder die linkerwangbeen.

            Wie het hom laat val? het sy gevra. Sy kon die vrou agter haar hoor snak. Sy oë was altyd blou, maar nou, gestol in die dood, is dit swart. Die klerk het apologeties geknik en die oë toegedruk.

            Sy het haar bene wyer geplant teen die duiseling wat besit wou neem van haar en bly staar; die koeëlwond genadiglik onsigbaar onder die kombers. En sy het begin wegdryf, al verder weggedryf. Gedink: ek is ’n valk. ’n Valk sweef hoog bo ’n slagveld en sy oë sny deur die verwoesting onder hom. Blou oë word swart.

            As kriminoloog het sy tog lykskouings geken: sy kon haar vingers deur ou polisiefoto’s sien flits. Maar die ontydige dood van ’n geliefde is ’n misdryf teen die lewe, en onnatuurlike doodsoorsaak ruk jou met geweld terug in die geboortekanaal van die lewe.

            Die vrou agter haar het begin ween soos ’n hoeksnyer en sy het verbaas geluister, want sy het nie geweet ’n mens se lyf kan sulke pyngeluide voortbring nie. Omgedraai na die sidderende skouers, die toegeswelde oë, soos dobberende punte in die dik bril. Sy het in stadige aksie gesien hoe die vrou val; en steeds val; in die arms van Morfeus bly val; en van nêrens het ’n frase “die maanblom kantel” deur haar gedagtes geskiet.

            Lyding vra nie vir die ekshibisionisme van die wond nie. Dit keer na binne, soos erosie of bloeding, en bewerk sy eie diepgang.

            Blou oë word swart. Ek is ’n valk.

            Sy het die verlossing van dissosiasie leer ken.

Sy klik op die kruis regs bo en maak die lêer toe. Sy is gemaneuvreer tot hier: oor jare het onsigbare weë haar gelei tot ’n kritieke punt. Skoppensboer. Sy kyk op na die plafon en rek haar oë in ’n traanlose huil. Sy staal haarself, loop na die groot sitkamervenster en kyk hoe die buurvrou, Tannie Havenga, haar potplante water gee. Die ou vrou met die grys krulhare draai om, en haar gesig verander in dié van Dorothea Puente, die Death House Lady.

            Petru draai haar kop skuins en kyk onbegrypend. Puente het tussen 1982-1988 vyftien mense vermoor wat sy eiehandig in haar tuin begrawe het. ’n Persiese kat met ’n weelderige pels kom miaauend nader, die stert ’n uitroepteken. Petru druk teen die venterraam.

            Dorothea Puente buk en tel die kat op. // Tannie Havenga buk en tel die kat op.

           Puente was ’n saggeaarde bejaarde reeksmoordenaar. Tienermoordenaars swig maklik onder druk en breek oop in belydenis – maar ’n bejaarde moordenaar? Het die snykante van die lewe die persoon al broos gestem, of is dit ’n deurwinterde, uitgeslape krimineel wat die krag van tyd – en stamina – goed verstaan? Hans Kooij is nou 68.

Die boeing is oor en sy skink ’n sopie konjak. Gaan sit by die eetkamertafel en verander Hendrik Struwig en Hans Kooij se Facebook-instellings na sien eerste sodat sy onmiddellik alle nuwe kennisgewings ontvang.

            Sy teug diep aan die glas. Sy sou graag eendag haar eie moordfiksie wou skryf. Dit is dieselfde verbeelding wat na die moordenaar soek wat ook deur die afbraak van gebeure sif en leidrade ontbondel; dieselfde verbeelding wat die gebeure sloop en bou, sloop en bou in die hoop om die neerlaag van die leser te plot. Elke dood soek na sy oorsprong, die ontsetting van sy eie verhaal.

            Haar selfoon ril – vibreerfunksie – en seil ’n paar sentimeter oor die koue glasblad. Sy kyk na die Gotiese horlosie teen die oorkantste muur. Vyf voor twaalf. ’n SMS van Buks: Kooij beweeg by sydeur in. Ons is gereed.

            Sy vat ’n groot sluk en staar na haar flikkerende sigaretkool, asof gehipnotiseer.

Voor die groot tafelrekenaar sit ’n breedgeskouerde man: Hendrik Struwig.

            ‘n Burleske skaduwee huiwer in die deurkosyn; ’n barbiermes in die linkerhand, ’n pistool in die regterhand. Die kort, mollige gestalte van Hans Kooij.

            Struwig kyk nie om nie. “Ek het jou verwag.”

            “Nou doen jy wat ek sê.” Die pistool teen sy agterkop.

            “Anders..?” Struwig is kalm. Doodkalm.

            “Anders – ” Kooij lig die barbiermes en druk dit teen die oud-Recce se kraag. Sy keukels verkleur wit om die hef in sy linkerhand, wat met een rukbeweging die keel van regs na links kan oopkloof. ” –  anders sterf jy soos Herman Uys. Nou: gaan in op jou Facebook-profiel. Dan soek jy The Ballad of Reading Gaol van Oscar Wilde, jy sal die gedig maklik kry, en kopieer strofe sewe, agt en nege teen jou muur. Ek wil hê jy moet ’n selfmoordnota bo dit plaas. Dat jy moeg is vir die lewe. Een of twee sinne.”

            “Goed.” Struwig se hande lig en knetter oor die sleutelbord.

Petru se skootrekenaar begin soos ’n outydse kasregister te sing. Struwig se jongste plasing: Ek is werklik jammer. Ek sien nie meer kans nie. Die lewe is futiel.

            Struwig se aanlyn-vriende reageer onmiddellik.

            Asseblief, Hendrik, moet dit nie doen nie, ons is lief vir jou!

            Dierbare Jesus, ek smeek dat u u hand van beskerming oor Hendrik sal hou in dié donker uur, asseblief Here, stuur u engele voor dit te laat is…

            WTF???

            Weet enige iemand wat aangaan? Hendrik?

’n Skoot klap.

            Hans Kooij steier ’n paar sekondes en die mes en pistool kletter op die teëls.

            Badenhorst laat sak sy wapen. Hy kyk af na die bloedkol op Kooij se kuit.

         Diep in die huis se maag begin ’n telefoon dringend te lui. Struwig vlieg regop uit sy stoel, grinnik, en sy oë ontmoet dié van Skoppensboer, bleekblou en verdwaas. Die ou man steier vorentoe en agtertoe en val dan, die koddige beweging van ’n hanswors wat sy balans verloor het. Hy val op sy rug met sy handpalms na bo, ’n finale poging tot oorgawe en verweer.

Petru het die leë glas neergesit en by die venster gaan staan. Tussen die wolke het ’n koorsige son gehang. Die brande het begin opklaar en sy het die buitedeur oopgemaak.

            Struwig het uiteraard méér bekendheid verwerf vir sy rol in die Skoppensboer-sage as wat hy ooit as skrywer van grensverhale kon vermag. Vir maande aaneen het Facebook-digters sy lof as kultus-figuur in onbeholpe verse besing, en binne dae ná die arres is ’n sappige bywerking op Struwig se Wikipedia-blad deur ’n anonieme outeur gedoen. Kolonel Buks Badenhorst sou ook erkenning gekry het vir sy aandeel in die saak, want dit hét deur sy gedagtes geflits om die gewonde uit die pad te stoot met sy stewel en onder Struwig se selfmoorddreigement te tik: HALLO. KOLONEL BADENHORST HIER. SKOPPENSBOER GEARRESTEER. HENDRIK STRUWIG VEILIG. Maar hy het nie. In stede daarvan het hy vorentoe geleun en sonder sy leesbril die gedig, wat Struwig onder dwang moes plaas, gelees. Die rekenaar is ’n bewysstuk met ’n geskiedkundige rekord. Daar sou ook beslag gelê word op Kooij se rekenaars in sy huise in Waterkloof en Hermanus; en as Petru Adendorff se voorspelling korrek sou wees, het Skoppensboer virtuele artefakte soos gedigte, resensies en ander bloedige trofeë iewers in die kelders van die web geberg, in die Cloud, dalk: die skermtyd van ’n moderne reeksmoordenaar.

Yet each man kills the thing he loves

  By each let this be heard,

Some do it with a bitter look,

  Some with a flattering word,

The coward does it with a kiss,

  The brave man with a sword!

 

Some kill their love when they are young,

  And some when they are old;

Some strangle with the hands of Lust,

  Some with the hands of Gold:

The kindest use a knife, because

  The dead so soon grow cold.

 

Some love too little, some too long,

  Some sell, and others buy;

Some do the deed with many tears,

  And some without a sigh:

For each man kills the thing he loves,

  Yet each man does not die.

 

Verwysings:

  1. Gouws, T. Stigmata. Human & Rousseau: Kaapstad.
  2. Groot Verseboek, deel I. Samesteller André P. Brink. Tafelberg: Kaapstad.
  3. King, S. On writing. A memoir of the craft. Hodder & Stoughton: Londen.
  4. Klopper, M. Nadoodse ondersoek. Human & Rousseau: Kaapstad.

https://www.poets.org/poetsorg/poem/ballad-reading-gaol

 

 

 

 

Andrew Motion in plagiaat-herrie

Wednesday, November 11th, 2009
Andrew Motion

Andrew Motion

Volgens ‘n berig in The Guardian het ene Ben Shepard, ‘n militêre historikus en skrywer van ‘n boek oor soldate wat aan bomskok lei, Andrew Motion van plagiaat beskuldig na Motion se gedig “An equal voice” verlede Saterdag in die koerant verskyn het. Volgens Shepard het die voormalige poet laureate vrylik gebruik gemaak van sy boek, “A war of nerves” , sonder om erkenning te gee aan die soldate wie se kommentare in die gedig betrek is. Hy beskuldig Motion byvoorbeeld daarvan dat 16 reëls direk uit die boek oorgeneem is.

Dié aantyging kom ietwat vreemd voor, want Motion het sy werkswyse immers baie duidelik gestel in die meegaande teks by die gedig: “Doctors, historians and other experts have documented the effects of shellshock – thanks to them, we know that the term covers a multitude of ailments, and is the result of far more than just shells going off. But, as Ben Shephard wrote in his history of medical psychiatry, the people who have suffered from it have often been too ill to speak. They have been left out of the record. I wanted to hear from them. This is a “found” poem, a stitching together of the voices of shellshocked people … Together, they give a sense of moving through time to establish what is horribly recurrent about this affliction. It is a poem by them, orchestrated by me.”

Andrew Motion se verweer is dat die gebruik van “optelverse” (found poetry) ‘n baie ou tradisie is, wat onder andere TS Eliot se “The Waste Land”en Ruth Padel se poëtiese biografie van Charles Darwin insluit. “It goes right back to Shakespeare,” het hy gesê. “It’s very well established.”

Terloops, hy is glo tans besig om met die Departement vir Verdediging te onderhandel ten einde onderhoude met oorlogsveterane te mag voer oor hul oorlogservarings aangesien hy van voorneme is om sy volgende digbundel aan dié onderwerp te wei. “I’ve written about 25 or 30 pages, with one or two entirely by me, about my father who fought in the second world war and my grandfather who fought in the first world war,” het hy gesê. “The subject has always interested me very much. The thing which is the most depressing of all, apart from the individual stories of suffering, is that nothing changes. The reasons for killing each other become more terrible, but the human feelings in it all are the same.”

Nou ja, toe. Wat my van Andrew Motion se gedig getref het, is dat dit nogals herinner aan die eksperiment waarmee Charl-Pierre Naudé en ander op sy blog mee besig is. Die vraag bly natuurlik staan: Is dit (goeie) poësie? Tans probeer ek wel nog om die hekke van my kop nie hierteen te sluit nie, maar ek moet erken: die drade hang slap. Ter illustrasie plaas ek onder aan vandag se Nuuswekker die voorlaaste strofe uit Andrew Motion se gedig; na my mening die enigste strofe met ‘n mate van poëtiese resonansie. Die volledige gedig kan hier gelees word. Lees ook sommer Stephen King se gedig, “The bone church” wat op Playboy se webblad geplaas is. In soverre dit versvorm en aanslag betref, is daar nogal heelwat ooreenstemming, myns insiens.

***

Dan kan Andries Bezuidenhout se stuk oor ‘n woonstelblok in Yeoville gelees word, asook Ilse van Staden se poëtiese besinning oor ‘n haelstorm en die verwoesting wat daarmee gepaard gaan.

Ten slotte hoop ek dat die struikrowers jou vandag met rus sal laat; die week is immers halfpad daarmee heen.

Mooi bly.

LE

 

An equal voice

 

Naturally it can save a good deal of time if men,

before battle, have pictures from the Hate Room hung

in their minds of things the enemy has already done,

waiting to be remembered. Starving people for instance

and sick people, and dead people in ones and in heaps.

If that proves ineffective, then treatment is post facto.

Compulsory mourning is no longer recommended

whereby the hospital confines a man for three days

alone in a darkened room and orders him to grieve

for dead comrades. But other cures must be attempted,

and in some cases men wish to return to do their duty.

See, your eyes are already heavier. Heavier and heavier.

You are going into a deep, deep sleep. A deep, far sleep.

You are far asleep. You are fast sleep. You have no fear.

 

© Andrew Motion (Uit: “An equal voice”)