Posts Tagged ‘Stof en ster Pieter Fourie’

Resensie: Stof en ster (Pieter Fourie)

Wednesday, June 5th, 2019

Stof en ster, deur Pieter Fourie. Naledi, 2019; 978-1-928426-70-7

Resensent: Amanda Lourens

ʼn Mens begin al byna té gewoond raak aan uitstekende poësie deur Pieter Fourie, sowel as aan artistiek keurig versorgde digbundels uit Naledi se stal. Stof en ster, die derde bundel uit Fourie se pen nadat Afrikaans se voorste dramaturg se digterlike wal in 2017 met Knapsekêrels gebreek het en in 2018 met Bidsnoer opgevolg is, sluit tematies en tegnies naatloos by sy voorgangers aan, sonder dat daar enige dalende lyn in terme van gehalte te bespeur is.

Fourie se poëtiese styl en aanslag is teen dié tyd kenmerkend, en die bundel bevat ongetitelde verse wat die leser se middelklas- verstedelikte gemaksone deur die eerlikheid en gestrooptheid daarvan uitdaag. Hierdie digter skroom nie om deur te dring tot in die diepste kern van die menslike psige met sy primordiale drifte nie, maar nêrens word dit met grootdoenerigheid of vertoon aangebied nie – trouens, Fourie is die meester van die nugter en eenvoudige, maar altyd gelade en meerlagige gedig. Soos in die vorige bundels lei die volkse taalgebruik tot besondere klankeffekte, maar skep dit ook die eiesoortige aardse en lokaal realistiese tekstuur van Fourie se poësie. (Fourie self bestempel sy werk as “folk”-realisme, en verskaf voor in die bundel ’n aanhaling van David Barnett wat hierdie kunsrigting soos volg omskryf: “Folk realism is the new genre as literary work, reminding us that under our veneer of sophistication we are of the soil that still breathes and remembers the old ways onder the layers of tarmac and concrete that we hide it beneath.”)

Die bundel het sy oorsprong in die lang gedig “gehuggie” in Bidsnoer (geïnspireer deur Dylan Thomas se bekende Under Milk Wood), volgens ʼn nota van die digter voor in die nuwe bundel.

Die lieflike kunswerk op die voorblad deur Maletta Fourie is ʼn soort impressionistiese beeld van ʼn landskap, sonder té veel realisme of detail. Eerder skep dit die indruk van ʼn vloeibaarheid of ’n vormingsproses, wat sterk aansluit by die “swerfsand” binne ’n groter kosmiese opset, soos wat in die eerste gedig  aan die orde gestel word:

 

die oerknal sper

sy heelal af

mens plant insek dier

leef hier stil deurdag

verken hul al

kortom

swerfsand

strawasie

vervlietend

onder

ster en son:

 

Op ʼn manier kan die titel “Stof en ster” geïnterpreteer word as ʼn deel-geheelverhouding, veral wanneer die kosmiese situering van die bundel in gedagte gehou word. Stof is ’n relatief klein vorm van materie, en ook die samestelling van die twee naamwoorde (“sterstof”) aktiveer die moontlikheid van stof as die boustof van sterre, oftewel aansienlik groter konglomerate van materie, alhoewel hulle op hul beurt weer dele van die veel meer komplekse sterrestelsels is. En wat in die bundel voorgehou word, is ook niks ander nie as ʼn deel-geheelverhouding: Die bundel gaan naamlik oor ʼn landelike gemeenskap, maar word saamgestel uit bepaalde karakters en hulle individuele wel en wee.

Terselfdertyd stel die insetgedig die aardse lewe, hetsy menslik of dierlik, as ’n maar vervlietende aspek binne die groter opset van “ster en son”, en die dubbelpunt aan die einde van die vers suggereer dat die tydelike lewe, met sy vervloeiings (“swerfsand”) en moeilikhede (“strawasie”) die boustof is van die verse wat gaan volg.

Fourie verken die spektrum van lewe binne  ’n gemeenskap op meesterlike wyse, en ontbloot met humor en deernis die tragiek van individuele menselewens, maar skroom ook nie om die skadukant van die gemeenskap aan die kaak te stel nie.

Daar is die netjiese klein gedig oor die  koeksisterbakkende Tant Breggie, wat kos as substituut vir seksuele onvervuldheid gebruik:

 

vir tant breggie koesisterkoningin

(nie sleg met kaas- en pannekoek)

ook toornaar in die melktertkring

was daar nie tyd om man te soek

 

maar nooit gebed, het sy gestoel

om pik-sluk-pik by basaar te woel

.

’n Verhaal van onbegrip vir en verwerping van ’n individu met ’n eie traumatiese geskiedenis is die tema van die fyn onderspeelde vertelling oor Stil Sarel:

stil sarel kan net ná middernag

sluip-sluip deur die strate stap

bedags sal die dorp hom stenig

tot hul verraaierbloed sien spat

 

net hy en drieka uit sy kinderjare

wis waarom hy moes joiner word

met volmaan kan hy dofweg sien

haar malvas bloei gewonde hande

in bruin roeskanne van paraffien

 

nooit ooit sal een van hul vergeet:

ma’s, dogters ontklee soos hoere

die kakies dreig verkraggereed

twee kinders magteloos afgepers

verklap oornagplek van die boere

 

kry natwang koers na eie huis

klim in sy bed met seer berou

hier gekoester nooit verguis

in arms van mina, sy barolongvrou

 

Hoe die kat ook in kerklike kringe in die donker geknyp word, word met verkwiklike woordspel vertel:

orrelis raak opgewonde

die nuwe proponent

is nie so ongeskonde

sy energie pols penorent

 

as sy ná kerkkoor-uitvoering

agterbly vir nog ’n oefening

proponent die blaasbalk pomp

weet sy hy’s warmbloedig jonk

 

In die bodorp, weer, is daar “koos hoë-kringe”se sleutelpartytjies:

in die bodorp bou

koos hoë-kringe

kleinkind van jan blink

met vreemde dinge

 

’n yslike glaskasarm verrys

ware garden and home-paradys

 

in spogwit garderobe en skoenateljee

200 hangers aan relings van chroom

50 skoenskedes se leerkondoom

die swembad is olimpiese standaard

die biljartkamer ’n manne-hemelvaart

 

sagte porno word trompop blou

deftige bene nie meer kuisgevou

 

die motorsleutels in ’n pluiskeilhoed

in die ligrooi skrik-vir-niks-dameskroeg

almal geblinddoek niemand kan kroek

ploeg katoolsvingers in hul lotingsoek

 

die getrekte sleutel kom met vrou inkluis

(as bonus die kamersleutel van haar huis)

in sjampanjekaskades word almal omgeruil

vir ’n kroonwild-orgasme op kakebeenskuil

 

Tog is al hierdie aardse besigwees uiteindelik aan die sterflikheid onderworpe, soos die deernisvolle maar steeds nugter tweede laaste vers in die bundel van vertel:

 

oupa praat nou sag aldag al temer

die aandster kom so net ná skemer

 

tyd vir lang witjurk en slaapmussie

’n laaste lopie na die parlement

vroetel rond in medisynekissie

aha! ’n hoesstropie en pipperment

 

vannag kom ’n uil op daknok roep

weet oupa worstel met die kroep

kis staan blinkvernis op die solder reg

vir leeftydstapper van die smalle weg

 

daar kom hoe-hoeeee die engelkoor

ouma trek dig die kantgordyntjie

’n vlugsoutjie ’n proppie rooi jerepiko

speel met respek op trapserfyntjie

 

sing pianissimo:

 

“uit diep van donker nagte

roep ek, die here hoor …”

 

In die slotgedig keer Fourie terug na die kosmiese opset wat in die eerste vers opgeroep is, en verklaar dat alhoewel “die verband / tussen /ster / en korreltjie sand”duister is, dit “helder” is dat alle oënskynlik onverwante komponente in die heelal in ’n groter spel aan mekaar verbonde is:

[…]

 

helder:

onversoen afgesper

’n soekmekaar

triljoen ná triljoen

in duin in hemelruim

vir heelalspel

albaster en ghoen

 

Stof en ster is in alle opsigte ’n merkwaardige bundel deur ’n digter wat hom in ’n kort tyd as ’n belangrike rolspeler binne die Afrikaanse poësiesisteem gevestig het.

 

Nuwe publikasie: Stof en ster (Pieter Fourie)

Wednesday, April 17th, 2019

Stof en ster

Pieter Fourie

Deernisvol verken die digter in hierdie bundel ʼn denkbeeldige gemeenskap met herkenbare karakters. Die gedigte verbeeld samehorigheid en verlies in ʼn spektrum van komiese en dramatiese emosies.  Polsend van liefde en die lewe, deurspek met legendes en mites, word die dorpie in sy tydlose volheid vertoon. Uiteindelik vind die leser in die karakters se universaliteit sy of haar eie kleurvolle menswees terug.

Oor die outeur:

Die skrywer is ‘n Hertzogpryswenner, asook een van die mees bekroonde en bekendste dramaturge in Afrikaans. Benewens skrywer is hy ook ‘n ervare akteur, regisseur en toneelorganiseerder. Hy ontvang sy ere-doktorsgraad in 2011 (dieselfde jaar as Desmond Tutu) aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy vorige twee digbundels is Knapsekêrels (2017) en Bidsnoer (2018).

Hierdie bundel word ywerig ingewag deur gewone lesers sowel as akademici.  [Naledi, 2019, R220, Sagteband, ISBN 978-1-928426-70-7]

*
smiddae sit willem stoepsluimer
knip ’n uiltjie en wag die skemer in
die leë bed laat hom snags koud
sy liewe bet was net dertig jaar oud

vannag kyk hy sterre en mymer

triljoene korrels kalkskerfiegruis
sleep breed ’n wit uitspansel oop
hang dynswit ’n spikkelwindseil
wat deur alle eeue die dag in loop

(Uit: Stof en ster. Pieter Fourie. Naledi, 2019)

 

.