Posts Tagged ‘T. S. Eliot’

Nini Bennett. Desiderata en die populêre kultuur

Tuesday, February 27th, 2018

 

As kind het ek ’n Desiderata-plakkaat begeer. Kompleet in kalligrafie, met die eerste twee woorde “go placidly” in swierige hoofletters geskilder. Nes my vriendin, Michelle teen haar kamermuur gehad het, met A-ha en Duran Duran as bure. Jare later kan ek lag hieroor – maar vir ’n vyftienjarige was dit groot kuns… of lewenswysheid. Dit hang af hoe ’n mens daarna kyk. Vir sommiges is Desiderata ’n cliché wat in dieselfde asem genoem word as The Invitation van Oriah Mountain Dreamer, of Footprints in the Sand van Margaret Fishback Powers. Morele pedanterie in groetekaartstyl. Desiderata word oorhandig aan ’n jongeling saam met ’n silwer plastieksleutel tydens ’n mondigwordingspartytjie. Die populêre kultuur het die vers opgeraap en tot vervelens toe gereproduseer op stortgordyne, in kinderboeke, ’n tatoe op kaptein Jack Sparrow se rug, en vir dekades lank het refreine daarvan weerklink by monde van staatsmanne, hippies, sangers, en Hollywood-akteurs. In ’n artikel oor hierdie bekende vers beweer die skrywer, Daniel Nester: “Alongside rock lyrics, it was one of the first non-biblical texts I took as Bible truth.”

Onlangse soekresultate toon dat dit steeds een van die gewildste verse van ons tyd is. Die titelwoord Desiderata word méér in internetsoekmasjiene getik as The Waste Land van T.S. Eliot, of Robert Frost se The Road Not Taken – dit bly een van die verse wat die heel meeste nagespeur, gelees en aangehaal word. Gelukkig (of ongelukkig) het Desiderata sy wegholsukses aan die mite rondom die gedig te danke.

Die digter, Max Ehrmann het die vers in 1927 geskryf, waarna hy dit as getekende kerskaartjies na vriende uitgestuur het. In 1933 het die vers in die New York Times verskyn. Dis egter eers in 1956 wat die koors posgevat het – Eerwaarde Frederick Kates van die St. Paul’s Episcopal Church in Baltimore het die vers opgeneem in ’n kerkblad as deel van ’n reeks inspirerende skrywes vir Lent. Die drukkersduiwel het sy opwagting gemaak, en in stede van die digter se naam, het “Old St. Paul’s Church A.D. 1692” onder aan die vers verskyn. Duisende kopieë van die kerkblad is versprei, en mense het begeesterd begin verwys na die vers as “found in Old St. Paul’s Church, Baltimore, dated 1692.” Die mite is gebore, en dis hoe die mensdom nou eenmaal is: moenie ’n goeie storie met feite bederf nie. Volgens ‘n berig in die Washington Post het die kerk tot veertig oproepe ‘n week van Jan Publiek ontvang: hulle wou bitter graag die oorspronklike Desiderata sien. Soos oorlewering dit het, was die magiese gedig deur ’n naamlose digter uitgekerf teen die kerk se muur in 1692. Nodeloos om te noem dat die kerk in 1692 nog nie eens bestaan het nie.

14 Julie 1965 kom Adlai Stevenson, voormalige demokratiese presidensiële kandidaat en ambassadeur van die VN, tot sterwe. Die joernalis, Betty Beale, wat in dieselfde gastehuis as Stevenson tuisgegaan het, vind ’n kopie van Desiderata op sy bedkassie. En Beale se eksklusiewe storie is gereed: in ’n huldigingsartikel oor Stevenson skryf sy dat die staatsman dié vers in ’n 1965-kerskaart wou insluit, en dat dit in 1692 in ’n kerk in Baltimore gevind is. In ’n opvolgartikel het die erratum – dat die digter Max Ehrmann is – verskyn, maar die verwarring rondom die magiese gedig is nog lank nie die nek ingeslaan nie. Mense wou glo dat dit ’n sewentiende eeuse Amerikaanse wysheid is. Herdenkingsbylae met Stevenson se Desiderata-weergawe is met die ambassadeur se onderstreepte gedeeltes en al herdruk, en die geld het begin instroom. In die sestiger- en sewentigerjare is duisende plakkate van Desiderata wêreldwyd versprei.

Nie lank nie, of Hollywood het begin inkoop op Desiderata; die vers met die grootste verkoopsyfers nóg, al klink dit vreemd. Leonard Nimoy het laasgenoemde voorgelees en dit “Spock thoughts” genoem op sy 1968-album, Two Sides of Leonard Nimoy. 8 Januarie 1970 het die aktrise, Joan Crawford tydens ’n onderhoud met David Frost aangehaal uit Desiderata. In 1971 het Les Crane ’n oudio-weergawe van die vers vrygestel op ’n langspeelplaat. Die Duitse akteur, Friedrich Schütter het ’n Duitse klankweergawe van die vers die lig laat sien, terwyl ’n Spaanse plaat van die akteur, Arturo Benavides, in 1972 vrygestel is. National Lampoon het egter genoeg gehad van Desiderata, en in 1972 ’n parodie, Deteriorata uitgereik, waarin die reël “you are a fluke of the universe; you have no right to be here” in stede van “you are a child of the universe no less than the trees and the stars; you have a right to be here” gesing word. Maar, soos Tony Hendra in sy 2005-memoir, Father Joe tereg opmerk: “Parody is also a way of owning and containing what you were once in awe of.” In 1972 het minister Pierre Trudeau die Kanadese algemene verkiesing verloor, en in sy toespraak uit Desiderata aangehaal: “The universe is unfolding as it should.” Die Britse popgroep In the Nursery het Desiderata verwerk as ’n liedjie vir hulle album, Duality (1992); en Brian Davison se psigedeliese groep, Every Which Way, het die vers opgeneem met die titel “Glo Placidy”. Die vers is tot satwordens toe voorgelees tydens geselsprogramme – byvoorbeeld ’n Johnny Cash Show (1990); en, soos ’n mens kan verwag, het Desiderata ook vanuit Oprah Winfrey se kletssitkamer weerklink. Gospel-verwerkings (met gevoelige hapsichord-begeleiding) het van die rakke afgevlieg. Terre Haute! Die vers het stratosferiese afmetings begin aanneem. Die lys gebruike en verwerkings binne die populêre kultuur is lank: hierdie is net enkele voorbeelde.

Die digter Max Ehrmann was die seun van Duitse emigrante. Max senior, vader van vyf en oorspronklik van Bavaria, het sy gesin hervestig in Terre Haute, waar die digter die grootse deel van sy lewe woonagtig was. Ehrmann het in die Reg en Filosofie studeer, en tydens ’n onderhoud geborrel: “I contracted a disease which I have never shaken off. The disease was Idealism.” Volgens dagboekinskrywings wou die digter nooit ryk word nie – net “mooi boeke skryf.” (En hy hét, maar dit was sy weduwee wat skatryk geword het uit die royalties en ánder desideratas wat met die outeursreg van haar man se werk verband gehou het.) Ehrmann, ’n sentimentalis, het later jare sy werk as adjunk-staatsaanklaer bedank om voltyds te skryf, en sy broers, almal vermoënde sakemanne, het hom hierin ondersteun. In sy dagboek het hy genoem hoe hy soms tydens werksure al die vensters van sy kantoor oopgemaak en wierook gebrand het, en Emerson, Amiel, en Maurice de Guérin gelees het…of “some other books of sweeter air.” Ehrmann, ’n stoere oujongkêrel, is eers op die ouderdom van 72 getroud. Hy is egter drie maande na sy troue onverwags oorlede in 1945; en sy weduwee, Bertha Pratt King, het die outeursregte en opbrengs uit sy oeuvre geërf. Sy het die res van die lewe daaraan gewy om haar man se digterlike beeld en nalatenskap lewend te hou, maar die bittere twis en hofsake rondom die kopiereg van Desiderata het ook begin. Hierdie reël in die vers lees besonder ironies: “Exercise caution in your business affairs, for the world is full of trickery.” Miljoene dollar se regskoste later het Robert L. Bell in 2009 die kopiereg op Desiderata uitgekoop.

Doen mens ‘n Afrikaanse internetsoektog na Desiderata, duik die mite onmiddellik weer op. Om een blogger op ’n onbekende webblad aan te haal: “Julle moet almal hierdie mooi gedig lees. Dit is in die 1600’s in ’n kerk gevind.” En Facebook-resultate? Daar bestaan ’n legio Desiderata-groepe met duisende volgelinge – asook ’n gelyknamige charismatiese sekte. Vandag nog genees duisende soldate, Desiderata-traktaatjie in die hand. En om nuwe vuur in die mite te blaas, verskyn kaptein Jack Sparrow kaal bolyf in The Pirates of the Carribean – met die hele Desiderata op sy rug getatoeëer. Die minireeks speel af tydens die 1700’s, met ander woorde die seerower het definitief nie die Ehrmann-vers hier beet nie, maar die magiese ene, uitgekrap deur ’n gesiglose digter teen ’n kerkmuur in die 1600’s. Die nuwe generasie bewonderaars het gearriveer; en die populêre kultuur se aanvraag na die “tydlose meesterstuk” duur voort. Iewers het die meeste van ons ’n bittersoet Desiderata agtergelaat. Dinge verander, maar bly tegerlykertyd dieselfde. Heilsame woorde wat mens help om die lewe reg te lei en karakter te bou gaan seker nooit uit die mode nie.

*

Desiderata

Go placidly amid the noise and the haste, and remember what peace there may be in silence. As far as possible, without surrender, be on good terms with all persons.

Speak your truth quietly and clearly; and listen to others, even to the dull and the ignorant; they too have their story.

Avoid loud and aggressive persons; they are vexatious to the spirit. If you compare yourself with others, you may become vain or bitter, for always there will be greater and lesser persons than yourself.

Enjoy your achievements as well as your plans. Keep interested in your own career, however humble; it is a real possession in the changing fortunes of time.

Exercise caution in your business affairs, for the world is full of trickery. But let this not blind you to what virtue there is; many persons strive for high ideals, and everywhere life is full of heroism.

Be yourself. Especially, do not feign affection. Neither be cynical about love; for in the face of all aridity and disenchantment it is as perennial as the grass.

Take kindly the counsel of the years, gracefully surrendering the things of youth.

Nurture strength of spirit to shield you in sudden misfortune. But do not distress yourself with dark imaginings. Many fears are born of fatigue and loneliness.

Beyond a wholesome discipline, be gentle with yourself. You are a child of the universe no less than the trees and the stars; you have a right to be here.

And whether or not it is clear to you, no doubt the universe is unfolding as it should. Therefore be at peace with God, whatever you conceive Him to be. And whatever your labors and aspirations, in the noisy confusion of life, keep peace in your soul. With all its sham, drudgery and broken dreams, it is still a beautiful world. Be cheerful. Strive to be happy.

 

Verwysings: 

 

Grafika: Jack Sparrow/Johnny Depp. https://buckwriter.wordpress.com/2014/10/14/a-legendary-poem-on-the-back-of-legendary-captain-jack-sparrow/

https://en.wikipedia.org/wiki/Max_Ehrmann

https://en.wikipedia.org/wiki/Desiderata

https://www.poetryfoundation.org/articles/70274/in-search-of-desiderata

https://www.desiderata.com/desiderata-history.html

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gisela Ullyatt. Wanneer die Klankman begin droom.

Sunday, December 13th, 2015

recording studio

Deel een en twee van die vierluik oor Meyer van Rensburg, wat in 1983 met Klankmanwoordboom
debuteer, het op die herbekendstelling van die digter gesentreer:

http://versindaba.co.za/2015/09/11/gisela-ullyatt-wat-het-van-meyer-van-rensburg-geword/

http://versindaba.co.za/2015/09/16/gisela-ullyatt-meyer-van-rensburg-foto-album-en-enkele-gedigte-2/

Deel drie poog om die ‘klank’-gedeelte van die bundel van naderby te beskou en vir die leser ’n paar klankingenieursterme te ontsluit. Hierdie terme/beelde word sentrale metafore in die bundel wat met temas soos byvoorbeeld die soeke na God skakel. Die sinne wat in kursief aangehaal word, is Meyer se verbatim woorde, soos verskyn in ons e-pos kommunikasie.

Vanweë my uiters beperkte kennis van klankmeganika en klanktoerusting, moes ek allereers by Meyer kersopsteek. Uiteraard het die wêreld van die klankoperateur/-ingenieur in so ’n mate verander vandat die bundel verskyn het, dat bandmasjiene, byvoorbeeld, in onbruik verval het. Die digitale era het die klankateljee radikaal verander.

Die volgende twee gedigte is voorbeelde van hoe die digter ‘klank’ met die ‘boom’ verweef;
“Klankboom” (43) sluit aan by die program-gedig, “Woordboom 1” se laaste ses reëls:

Daar, tussen rotse aan die rand,
verstaal in ’n kilohertzland,
begin desibels Boerwees die doring dryf
om meters klank neer te skryf:
klink en kopuleer nou hier en daar
die klankboomwortels aanmekaar.

Klankboom

Die chroomboom is driewiel
vol katrolle
met net een dwarstak
wat met teenwig-vrugte plankwip
of teleskopeer

’n woordboom
wat die verskil maak
tussen verwringing
of hoë klankgetrouheid
kwaad of goed
my boom van kennis.

Soos reeds verduidelik in Blog 1, was Meyer werksaam as onder andere klankmenger/-operateur by die destydse SAUK. Later jare is hy werksaam (15 jaar) by Radio Kansel. Die ‘klankboom’ verwys na die chroom- of staalboom wat deur middel van katrolle beheer word. Hierdie ‘boom’ word byvoorbeeld in televisieopnames aangetref. Dus word woorde of musiek so ‘klinkklaar as moontlik vas[ge]lê’. Sodoende word ‘die eggo’ uitgesluit. Klank word ‘deur die klankmengbak [mixing desk] na die opnamemasjien gelei’. Voor dit na die opnamemasjien gelei word, kloof, ondersoek en rangskik die klankmenger die klank.

Klankboom met mikrofoon.

Klankboom met mikrofoon.

Volgens die digter verwys die ‘dwarstak’ wat by die klankboom gevind word, direk na die simbool van die Kruis, wat terselfdertyd terugspeel na Genesis se Boom van Kennis van Goed en Kwaad. Hierdie boom/kruis help die gelowige om tussen ‘verwringing’ of ‘hoë klankgetrouheid’ te onderskei en die regte keuses te maak.

Klankboom as 'dwarstak' en kruis.

Klankboom as ‘dwarstak’ en kruis.

Nog ’n betekenismoontlikheid ten opsigte van die ‘boom’ is die Kosmiese Boom (of Boom van die Wêreld) van ander wêreldfilosofieë soos die Kabbala, en die Noorse kosmologie. Die Boom van die Lewe is ’n motief wat neerslag vind in verskeie teologieë, mitologieë en filosofieë. Enersyds word die Boom van Kennis verbind met die hemel en onderwêreld, andersyds, word die Boom van die Lewe die simbool van kosmiese interkonneksie. Daar is dus, soos met die kruis, ’n horisontale asook vertikale dimensie:

World tree, is also called ‘cosmic tree’, the centre of the world, a widespread motive in many myths and folktales among various preliterate peoples, especially in Asia, Australia, and North America, by which they understand the human and profane condition in relation to the divine and sacred realm. Two main forms are known and both employ the notion of the world tree as centre. In the one, the tree is the vertical centre binding together heaven and earth; in the other, the tree is the source of life at the horizontal centre of the earth (Encyclopaedia Britannica online [World Tree]).

Boom van die Lewe

Keltiese ontwerp van die Boom van die Lewe.

Meesterbandmasjien: Drie-in-een (52)

Drie koppe waar die band oorspeel
kan magneties
klein deeltjies met nuwe lewe bedeel
en dit dan luid as toonbeeld weergee
of die opname vir ewig uitvee.

Die destydse bandmasjien bestaan uit drie koppe (heads). Tydens ’n opname word alles wat tevore op die band was deur die eerste kop uitgevee. Die tweede kop neem nuwe klanke op en die speel die nuwe opname terug. Die ‘Drie-in-een’ aktiveer ook die Christelike konsep van die Drie-Eenheid, iets wat persoonlike resonansie vir die digter het. Hy skryf só hieroor: ‘’n Mens se vorige lewe word vir ewig uitgevee as jy weergebore word en dan word jou gees met nuwe lewe bedeel. Hierdie nuwe lewe behoort as voorbeeld vir ander te dien’.

Bandmasjien met drie koppe/'heads'.

Bandmasjien met drie koppe/’heads’.

Slagwerk (42)

Ek sny die ritme op in stukke,
rantsoeneer dit streng:
perkussie, bas of tromme
lewer maer of vet en ronde note,
maar net soveel per maat;
druk die snaar vas, slaan die trommelvel,
laat dit in my kopstukke dreun,
in my oordromme,
pynig, maar nie te veel nie,
moenie oordaad pleeg nie:
die balans moet tref.

Hierdie gedig verwys na die ritme-afdeling van ’n orkes wat die klankman moet balanseer. Terselfdertyd het die titel ook ’n ander betekenis: die slag van diere wat gekoppel word aan beelde in die bundel soos die janfiskaal wat in blog 4 geëksploreer sal word. Metafories vervul die klankman dus die rol van die slagter (of selfs chirurg): die klank word gedissekteer en opgesny:

In die ateljee kry elke trom, simbaal en ander ritme-instrument sy eie mikrofoon en ek poog om elkeen se klank so suiwer as moontlik te hou sodat ek met elke klank apart kan werk om dit te vereffen of te begrens. Die effenaar (‘equaliser’) kan die klank se gehalte heeltemal verander deur die hoër, middel of laer frekwensies óf te aksentueer óf sagter te maak óf heeltemal te sny (‘tops’ en ‘bass’). Die bastrom (‘bass drum’) of snaartrom (‘snare drum’) of ‘hi-hat’ [‘cymbals’] kan dus individueel vereffen word. Hiermee word die klank gesuiwer, want een instrument ‘lek’ nie oor na ’n ander nie: [aldus die] ‘maer’, ‘vet’, ‘ronde’ note.

Hi-hats simbale

Hi-hats simbale

Die vereffening en begrensing kan op twee vlakke beskou word: vanuit die Christelike etos is God die Groot Klankman wat die ritmes van die mens begrens of verruim om balans, veral op geestelike vlak te voorsien. Die mens as individu, soos gesien vanuit ’n Jungiaanse perspektief vind hierdie balans deur onder andere die ‘vereffening’ van sy/haar anima en animus, ’n individuele reis wat na individuasie lei.

Voorts kan gedigte soos ‘Klankfiskaal’ (46); ‘Operateur’, (47) en ‘Klankmenger’ (48) ook gelees word as die goddelike wat balans in die individu skep. Laasgenoemde gedig utiliseer die wêreld van die klankateljee deur optimaal met die dubbelsinnigheid van klank en betekenis te werk te gaan: (‘Groot Geheul’) en ‘bi(e)d’. ‘Hangstokmikrofoon’ dui byvoorbeeld nie slegs op die klankapparaat nie, maar ontgin ook die fallosentrisme van die klankman en sy wêreld van manlike (of selfs goddelike) beheer (‘wees gehoorsaam’; ‘klankwettig’ en ‘finale meng’):

(i)
Dis jou taak
om klank te kloof,

dit onder jou vingers aan te voel,
party splinters vas te druk,
saam te pers,
dikker te maak,
te laat uitbot
en nader te bring;

terselfdertyd
(rooi pynkrete van ’n viool of sanger)
herhaalde kere te laat weerklink;
die eggo’s te lei
deur verskeie kanale
en dan al die klein strome
van die helder lewe

te laat saamloop
en te meng
tot een Groot Geheul.

(ii)

Maar hier, god luisterryk,
wys ek my hangstokmikrofoon
na willekeur,
regeer klankwettig
en besluit verhewe
wie se klank weerklank sal word:

wees gehoorsaam,
bi(e)d jou woorde weer en weer,
miskien sal jou stem
met die finale meng
my luidspreker sag laat vibreer.

Insgelyks word die woordspel voortgesit in ‘Begrens’ (51) waarin die digter die gesegde ‘stoksielalleen’ letterlik begrens of besnoei deur die ‘siel’ uit te laat. Ook word die idioom ‘hoog in die takke’ se betekenis verruim deur dit in een versreël te isoleer, met ‘takke’ in die eindposisie, wat terugspeel na ‘boom’ en ‘dwarstak’. ‘Deur die blare’ en ‘draadloos’ word ook vernuwend gebruik. ‘Die klankryke dop’ word ook veelvoudig aangewend: dit kan na ’n eierdop verwys maar kan ook inspeel op die woord ‘dophou’:

Waar ek graag god wil speel
sit ek stokalleen
hoog in die takke,
’n waterfiskaal oor die stroom.

Ek hou deur die blare die klankryke dop:
kanale hol my klankbord leeg
en dol jaag ek aan,
probeer myself deur die klankgrens kry,
wil draadloos wees,
maar ek word klankdig afgesny.

Die begrenser of ‘compressor’ word gebruik om ‘die klankpeil te handhaaf sodat dit nie te hoog op die klankmeter sal gaan en verwringing veroorsaak nie’.

Begrenser

Begrenser/’compressor’, oud-modiese styl.

Laastens sluit ‘Solusklankman’ (60) aan by die klank-tematiek wat regdeur bespreek is. ‘Solus’ is die Latynse oorsprong van die Italiaanse ‘solo’. Meyer kontekstualiseer die gedig soos volg: ‘ek het opnames gemaak wat baie populêr geword het en wat ’n mens oral kon hoor, totdat dit my byna mal gemak het. ‘Gruesome’ verwys hier na ‘Gruesome Gresh’: David Gresham wat die Top 20 aangebied het. My harde werk is suksesvol op aarde, maar is dit ’n seën of ’n vloek?’:

Ek wil niemand my beste opnames laat hoor nie
ek wil elke desibel bêre
in ’n nes van stilte iewers
soos ’n hand vol weglê-eiers

anders word dit
middelpuntvliedend gedruk
en alles klink vals
in donkerige speelhole geskend
jillend luid oor lawaaisprekers geskree
(van te klein tot te groot)

om te klim
tot bo-aan die gruesome tref-en-trap-parade

dan word dit subtieler lugbesoedeling
want elke nuwe restourant
hyser
of
hipermark
het verwringend agtergrond nodig

music to buy the better by
music the better to buy by

totdat ek
my oorskulpe soos krimpvarkies
probeer oprol
en probeer uitvlug
uit die weergalmende gange van die binne-oor
en beenderige vingers
brein en bandmasjien
vervloek

oor die seën
wat hulle oor dié land uitgespreek het.

En óórverdowend is die lewe wel. Tog kan ‘middelpuntvliedend’ ook die stil middelpunt van die Al word, in elkeen van ons:

At the still point of the turning world. Neither flesh nor
fleshless;
Neither from nor towards; at the still point, there the dance
is,
But neither arrest nor movement. And do not call it fixity,
Where past. And future are gathered. Neither movement
from nor towards,
Neither ascent nor decline. Except for the point, the still
point […]

-T.S. Eliot, ‘Burnt Norton, ii’, Four Quartets (15)

Gettyimages.in

Deel vier van Klankmanwoordboom eksploreer die digter se ontworteling van die Afrika-kontinent deur onder andere motiewe soos die janfiskaal, stamboom, Afrikaans en geboortegrond. Drie meer resente gedigte van Meyer sal ook geplaas word.

Bibliografie

Eliot, T.S. (1972).Four Quartets. Londen: Faber.
Encylopaedia Britannica Online [Worldtree]. (Besoek: 10/12/2015).
Van Rensburg, M. 1983. Klankmanwoordboom. Kaapstad: Human & Rousseau.

T. S. Eliot – vertaling in Afrikaans

Friday, November 20th, 2009

T. S. Eliot – vertaal deur Andries Wessels

 

 

Dorsland

T. S. Eliot

 

‘Nam Sibyllam quidem Cumis ego ipse oculis meis

vidi in ampulla pendere,  et cum illi pueri dicerent:

Σιβυλλα τι Θελεζ; respondebat illa; απ Θανετν Θελω.’

 

 

I. Teraardebestelling

 

   April is steeds die wreedste maand, as

Lilas uit die droogland dring, as

Begeerte syfer deur herinnering, as

Lentereën die trae wortels dwing.

Die winter het ons gekoester, die aarde knus

Bedek met vergetelheidsneeu, ’n sprankie lewe knap

gevoed met droë knolle.

Die somer het ons verras met ’n bui oor die

Starnbergersee: ons het in die suilegang vertoef,

Toe die sonlig ingetree, tot in die Hofgarten,

Bin gar keine Russin, stamm’ aus Litauen, echt deutsch.

En toe ons kinders was, en by die aartshertog, my neef,

kuier, het hy my op ’n slee uitgeneem,

En ek was bang. Marie, roep hy,

Marie, hou vas! En daar trek ons.

In die berge, ja daar voel ek vry.

Ek lees, soms heelnag lank, en trek suid in die winter.

 

    Watter wortels reik, watter takke groei

Uit hierdie klippepuin? Seun van die mens,

Jy kan nóg antwoord, nóg selfs raai, want al wat jy ken

Is ’n stapel gebreekte beelde, waar die son neerskroei,

En die dooie boom geen skuiling bied, die kriek ook geen verligting,

En die droë klip geen waterklank. Tog

Is daar skadu onder hierdie rooi rots

(Kom in onder die skadu van hierdie rooi rots)

En ek wys jou iets in die halflig stuif,

nié jou skadu wat jou soggens volg,

nóg jou skadu wat jou saans ontmoet,

Ek wys jou vrees in ’n hand vol stof.

    Frisch weht der Wind

    Der Heimat zu

    Mein Irisch Kind,

    Wo weilest du?

‘Jy het my ook ’n jaar gelede hiasinte gegee;

‘Hulle noem my die hiasintenooi.’

– Tog, toe ons terugkeer, laat uit die hiasintetuin,

Jou arms vol, en jou hare nat, was ek

Sprakeloos, en my oë verblind, was ek

Nóg lewend, nóg dood, en onwetend kon ek

Slegs die hart van lig, die stilte in staar.

Oed’ und leer das Meer.

 

    Madame Sosostris, die beroemde waarsegster,

Het swaar verkoue, maar is steeds vermaard;

Sy’s bekend as die wysste vrou in Europa,

het ’n duiwelse slag met ’n kaart. Hier sê sy

Is jóu kaart, die drenkeling-matroos,

(Kyk, daar is pêrels waar sy oë eens was!)

Hier’s die Belladonna, Onse Vrou van die Gesteente,

die vrou van situasies.

Hier is die man met drie strawwe, en hier die Wiel,

En hier is die eenoog-koopman, en dié kaart,

Wat blanko is, is iets wat hy op sy rug karwei,

Wat ek nie mag sien nie. Ek kan

Die Gehangde Man nie vind nie. Vrees ’n waterdood.

Ek sien skares mense, wat in ’n kring rondmaal.

Dankie. As jy dalk vir Mevrou Equitone raakloop,

Sê vir haar, ek bring self die horoskoop.

’n Mens moet deesdae só versigtig loop.

 

    Onwenslike Stad,

In die bruin mis van ’n winterdaeraad

Vloei ’n skare oor Londen-brug, soveel –

Ek sou nie kon dink dat die dood soveel sou maai,

Sugte word nou en dan kortweg geslaak,

En elke man se blik bly oor sy eie voetstap waak.

Die stroom vloei heuwel-op, en af na King Williamstraat,

Tot waar St Mary Woolnoth die ure laat weergalm

En met ’n dooie klank op die nege-uurslag bly talm.

Daar tref ek ’n bekende aan, en roep hom: ‘Stetson!

‘Jy wat met my in die seeslag by Mylae beland het,

‘Het die lyk wat jy laasjaar in jou tuin geplant het,

‘Begin bot? Gaan hy hierdie jaar blom?

Of het die skielike ryp die bedding versteur?

‘O, die Hond, die mensevriend, moet jy vér weghou,

‘Of met sy naels sal hy dit weer uitgrou!

‘Jy! hypocrite lecteur! – mon semblable, – mon frère!

 

 

II. Skaakspel

 

    Die Stoel waarop sy sit, gloei op die marmer

Soos ’n glimmende troon, en die spieël,

Tussen pilare omrank met wingerdblare

waardeur ’n goue engeltjie loer

(Nog een skuil skaam agter ’n vlerk)

Verdubbel die vlamme van sewe-kerskandelare

En weerkaats die lig op die tafelblad

waarop skitter-juwele reik na die lig,

Ryklik peul uit satyngevoerde kiste.

In oopgelate flessies van ivoor en glas in kleure

lê haar vreemde, vals parfuum verskuil

In poeier, salf of sap – en kwel, verwar,

Verdrink die neus in geure; die vars lug

Deur die venster druk stygend dié na bo,

Verdik verlengde vlamme,

Slinger rook in die laquearia,

Laat vervloei die beeld in die plafonvernis.

Groot stompe opgestop met koper,

Brand groen-oranje; daarnaas in helder klip

Se droewe lig swem ’n gekerfde dolfyn.

Bo die kaggelrak antiek, pryk –

Soos ’n vensterblik op woud en plant –

Die treurmare van Philomel, wreed aangerand

Deur die koning, die barbaar; tog spoel

die nagtegaal se lied onaantasbaar deur woestyn,

Vertolk steeds haar pyn, en steeds verkies die wêreld

Die vuil ‘neuk, neuk’-refrein.

En ander uitgedorde tydsoorblyfsels

Versier verslae die muur; starende gedaantes

Beur uit, leun uit, verstom omsingelend die vertrek.

Voetstappe skuifel op die trap.

In die gloed van die vuur, onder haar borsel

Vertak haar hare in punte wat gloei,

Ontbrand in woorde wat spoedig tot woedende stilte verskroei.

 

    ‘My senuwees is gedaan. Gedaan! Bly by my.

Praat met my. Hoekom praat jy nooit nie? Praat.

    Waaraan dink jy? Wat dink jy? Wat?

Ek weet nooit wat jy dink nie. Dink.’

 

    Ek dink ons is in rotsteeg

Waar dooies hul beendere laat bly het.

 

    ‘Watse geluid is dit?’

                    Die wind onder die deur.

‘Watse geluid is dit nou? Wat maak die wind?’

                    Niks nie, steeds niks nie.

                                        ‘Weet

Jy niks nie? Sien jy niks nie? Onthou jy

‘Niks nie?’

 

    Ek onthou

Daar is pêrels waar sy oë eens was.

‘Is jy lewendig of dood? Gaan daar niks in jou kop aan nie?’

 

                                        Maar

O O O O die Shakespeheriese sinkopasie –

Dis elegant,

Intelligent

‘Wat moet ek nou doen? Wat moet ek doen?

Ek gaan uithardloop soos ek is, en in die straat loop

Met my hare los, só. Wat gaan ons môre doen?

Wat gaan ons ooit weer doen?’

                    Warm water om tienuur.

En as dit reën, ’n motorrit om vier.

En ons sal skaak speel,

En ledelose oë knip terwyl ons wag vir ’n klop aan die deur.

 

Toe Lil se man uit die army kom, het ek gesê –

Ek het nie doekies omgedraai nie, ek het self vir haar gesê

LAASTE RONDTE ASSEBLIEF

Jong, Albert is op pad terug, maak jouself ’n bietjie smart.

Hy sal wil weet wat van die geld geword het

Wat hy vir jou nuwe tande gestuur het. Hy het, ek was by.

Laat die hele lot trek, Lil; jy kan vir jou ’n nice stel kry,

Sê hy nog, ek sweer, ek kan nie eers vir jou kyk nie,

En ek ôk nie, sê ek, en dink tog aan die arme ou,

Hy was vier jaar in die army, hy wil ’n lekker tyd hê,

En as jy dit nie wil gee nie, sê ek vir haar, ander sal wel,

Dan sal ek weet wie om te bedank, sê sy toe, en kyk my beskuldigend aan.

LAASTE RONDTE ASSEBLIEF

Kyk, as jy nie daarvan hou nie, kan jy dit los,

Party van ons kan pick en choose al kan jy nie.

Maar as Albert jou los, moenie sê ek het nie gepraat nie.

Jy behoort jou te skaam, sê ek nog, jy lyk stokoud.

(Sy’s nog maar een-en-dertig.)

Ek kan nie help nie, sê sy toe, en begin tjank,

Dis daai pille wat ek gedrink het, om dit af te bring, sê sy,

(Sy’t al vyf gehad, en is byna dood met die laaste een)

Die apteker het gesê dit behoort ôraait te wees, maar ek was nooit weer dieselle nie.

Jy is wragtigwaar onnosel, sê ek.

Wel, as Albert jou nie kan uitlos nie, dan gaan dit maar so, sê ek.

Hoekom trou jy as jy nie kinders wil hê nie? Waarvoor?

LAASTE RONDTE ASSEBLIEF

Wel, toe Albert die Sondag by die huis was, het hulle ’n heerlike varkboud gebraai,

toe vra hulle my vir ete, en ek’s mos mal daaroor –

LAASTE RONDTE ASSEBLIEF

LAASTE RONDTE ASSEBLIEF

Goeienag Bill. Goeienag Lou. Goeienag May. Goeienag.

Ta-ta. Goeienag. Goeienag.

Goeienag dames, goeienag my liewe dames, goeienag, goeienag.

 

 

III. Vuurpredikasie

 

    Die rivier se tent is stukkend; die laaste blarevingers

Gryp en sink weg in die deurdrenkte wal; die wind

Deurkruis die bruin land ongehoor. Die nimfe het vertrek.

Soete Theems, vloei saggies tot ek ophou sing.

Die rivier lewer geen leë bottels of servette,

Geen sysakdoeke, kartondose, stompiesigarette,

Of ander getuienis van somernagte. Die nimfe het vertrek,

En hul vriende, die dralende seuns van maatskappydirekteure,

is weg sonder om ’n adres te verstrek.

By die waters van Leman het ek gesit en geween …

Soete Theems, vloei saggies tot ek ophou sing,

Soete Theems, vloei saggies want my stem is sag en woorde min.

Maar agter my in ’n rukwind kan ek hoor

Hoe bene ratel, en ’n grynslag strek van oor tot oor.

 

’n Rot kruip saggies deur die plantekors

En sleep slymerig sy pens voort oor die wal

Waar ek visvang in die sloom kanaal

Een winteraand, agter die kragstasie,

Terwyl ek peins oor die skipbreuk van my broer, die vors,

En die dood van my vader, die vors, daarvoor.

Wit lyke nakend op die lae nat grond

En bene gewerp in ’n klein droë solder,

Wat jaar vir jaar deur die rot versteur word.

Maar agter my kan ek nou en dan hoor

Hoe die motors toet en kling

En Sweeney na mevrou Porter toe bring.

O die maan skyn hoe later al hoe kwater

Op die Porter-dogter en haar mater

Wat hul voete was in sodawater.

Et O ces voix d’enfants, chantant dans la coupole!

 

Twiet twiet twiet

Neuk neuk neuk neuk neuk neuk

Wreed aangerand.

Tereu.

 

    Onwesenlike stad

Onder die bruin mis van ’n winterdag

het mnr. Eugenides, die koopman uit Smirna,

ongeskeerd, met ’n sak vol korente,

k.v.v. Londen: ter-hand-dokumente,

my uitgenooi in vulgêre Frans,

om hom na ’n ete by die Cannonstraat-hotel

en ’n naweek by die Metropole te vergesel.

 

    In die skemerpers-uur, as die oë en rug

Hul uit die lessenaar lig, as die mensmasjien hyg,

soos ’n huurmotor luierend wag,

Kan ek, Tiresias, dog blind, waar ek tussen twee lewens luier,

Ou man met verrimpelde vroueborste, kan ek tog

In die skemerpers-uur, die aanduur wat tuiswaarts neig,

En die seeman tuis van die see besorg,

En die tikster tuis vir tee, sien hoe sy tafel afdek,

Vuur in die stoof aansteek, en kos uit blikkies skep.

Gevaarlik ver by die venster uit hang

Haar onderklere, om die son se laaste strale te vang;

En uitgestrek oor die divan (saans haar bed)

Lê kouse, pantoffels, onderrok, korset.

Ek, Tiresias, ou man met verrimpelde pramme,

Het die toneel gesien, die res voorspel –

Ek het ook die sekondes tot sy koms afgetel.

Hy arriveer, die jong man met puisies, voor op die wa.

’n klerk wat by ’n kleinskaalse huisagent werk,

met die vertroue van die laer klas aan sy bas,

Soos ’n Bedford-miljoenêr wat ’n syhoed dra.

Die tyd is nou gunstig, besluit hy verlig

Die maaltyd verby, sy verveeld en vermoeid,

Hy probeer haar liefkoos;

word nóg begeer, nóg betig.

Aangevuur, vasbeslote, val hy onmiddellik aan,

Verkennende hande kom voor geen teenstand te staan;

Sy eiewaan vereis geen toegeneentheid,

Gebruik die gaping van onverskilligheid.

(En ek, Tiresias, het alles vooruit gely,

Afgespeel op dieselfde divan of bed,

Ek wat by Thebes onder die muur gesit

En saam met die laagste dooies gewandel het.)

Hy gee haar ’n laaste neerbuigende kus,

En strompel voel-voel teen die donker trap af…

 

    Sy draai na die spieël en betrag haar beeld,

Skaars bewus van haar minnaar wat ry;

Half-bewustelik dink sy verveeld:

‘Wel, nou’s dit klaar en ek’s bly dis verby.’

As ’n lieflike vrou haar met stommiteit ophou,

Stap sy weer alleen deur haar kamer,

Druk sy haar kapsel reg met haar mou

En laat ’n plaat deur die kamer dawer.

 

    ‘Dié musiek sluip om my oor die water’

Al langs die Strand, met Queen Victoriastraat op.

O my Stad, my stad, soms hoor ek –

Langs ’n kroeg in Onder-Theemsstraat –

hoe ’n mandolien heerlik huil

En hoe die gekletter en gesels binne skuil

Waar vistermanne smiddae kuier: die mure

Van Magnus Martyr verskans

Ioniese wit en goud, onverklaarbare glans.

 

    Die rivier sweet

    Olie en teer

    Die bote drywe

    As die gety draai

    Rooi seile

    Swaai

    Aan die swaar mas, lywaarts.

    Die bote dryf

    Stompe wat gly

    Al langs die bo-loop by Greenwich

    By die Eiland van Honde verby.

        Weialala leia

        Wallala leialala

 

    Elizabeth en Leicester

    Spane wat roei

    Die agterstewe

    ’n Vergulde skulp

    Goud en rooi

    Die snelle deining

    Kabbel teen beide walle

    Die suidwestewind

    Dra die gebeier van klokke

    Stroomaf

    Wit torings

        Weialala leia

        Wallala leialala

 

‘Busse en bome onder die stof.

Highbury het my gedra. Richmond en Kew

was my ondergang. By Richmond lig ek my bene

Op die vloer van ’n nou kano.’

 

‘My voete is by Moorgate, en my hart

Is onder my voete. Na die insident

Huil hy, maak beloftes heel verward.

Ek sou dit daar wou laat. Wat sou wrewel baat?’

‘Op Margate-strand

kan ek niks met niks

Verbind.

Gebreekte naels – ’n vuil hand.

My volk, beskeie volk wat

Niks verwag.’

    la la

 

Na Karthago het ek toe gekom

 

Brandend brandend brandend brandend

O Heer U pluk my daaruit

O Heer U pluk

 

brandend

 

 

IV. Waterdood

 

Phlebas, die Feniciër, veertien dae dood,

Vergeet die skreeu van meeue, die deining van die diepsee

En wins en verlies.

                    ’n Ondersese stroom

Vreet fluisterend sy bene af. Terwyl hy dein en val

Deurreis hy weer die fases van ouderdom en jeug

Tot die draaikolk met hom maal.

                    Vreemdeling of Jood

O jy wat aan die roer staan en loefwaarts staar,

Onthou vir Phlebas, soos jy, eens skoon en rysig daar.

 

 

V. Die Woorde van die Donder

 

Na die rooi glans van fakkels op sweet

Na die koue stilte in die tuin

Na die doodsangs en klipplek-leed,

Die geskreeu en die geween

Tronk en paleis en die galm

Van lentedonder oor verre berge

Is hy wat geleef het nou dood

Ons wat geleef het nou sterwend

Met ’n bietjie geduld.

 

Hier is geen water slegs klip

Klip en geen water en die sandpad

Die pad wat slinger tussen hoë berge

Berge van klip sonder water

As daar water was kon ons stop en drink

Tussen die klip kan jy nie stop en dink

Sweet is droog en voete in die sand

As daar net water was tussen die klip

Dooie bergmond met vrot tande waar geen spoegkrag bestaan

Hier kan jy nóg lê nóg staan

Tussen die berge is daar selfs nie eens stilte

Maar droë dorre donder sonder reën

Tussen die berge is daar selfs nie eens eensaamte

Maar nors rooi gesigte snou en hoon

Uit deure van moddergekraakte wonings

                    As daar water was

En geen klip

As daar klip was

En ook water

En water

’n Fontein

’n Kuil tussen klippe

As daar maar net die klank van water was

Nie die sonbesie

En die droë gras wat sing nie

Maar die klank van water oor klip

Waar die lyster sing in die dennebome

Drip drup drip drup drup drup drup

Maar daar is geen water

 

    Wie is die derde wat langs jou bly loop?

As ek tel, is dit maar ek en jy

Maar as ek in die wit pad vorentoe tuur

Is daar ’n ander wat langs jou bly loop

In ’n bruin mantel en mus bly gly

’n Man of ’n vrou dis vir my onbekend

– Maar wie is dit dié aan jou anderkant?

 

    Wat is die klank hoog in die lug

Geklaag van moeders wat ween

Wie is die hordes wat swerm verskuil

Oor eindelose vlaktes, wat strompel deur slote

Omsingel deur slegs die horisonlyn

Wat is die stad oor die berge

Wat kraak en vervorm en in die pers lug ontplof

torings wat val

Jerusalem Athene Alexandrië

Wene Londen

Onwesenlik

 

    Styf span ’n vrou haar lang swart hare

En stryk fluistermusiek op dié snare

En vlermuise wat na babas in die pers lig lyk

Fluit en laat hul vlerke fladderend reik

En kruip onderstebo af teen ’n swart muur

En onderstebo in die lug hang torings

wat herinneringsklokke lui op die uur

En stemme sing uit droë bakke en uitgeputte putte.

 

    In hierdie vervalle oopte tussen die berge

In die dowwe maanlig, is die gras aan ’t sing

Oor die gebuitelde grafte, rondom die kapel

Daar is die leë kapel waar net die wind woon

Dit het geen vensters en die deur hel,

Droë bene kan niemand verloën.

Slegs ’n haan staan op die nok

Koe-ke-le-koe-koe-ke-le-koe                        

In ’n bliksemstraal. Dan bring ’n klam vlaag

Reën.

 

    Ganga’s versonke, en die slap blare

Wag vir reën, terwyl die swart wolke

Veraf vergader, oor die Himavant

Die oerwoud hurk, in stilte geboë.

Dan spreek die donder

DA

Datta:   wat het ons gegee?

My vriend, bloed wat die hart ruk

Die ontsettende waagmoed van ’n oomblik se oorgee

Wat ’n ewigheidswysheid nooit kan herroep

Hierdeur en hierdeur alleen het ons bestaan

Wat nie in ons doodsberigte gevind sal word

Of in herinnerings deur die weldadige spinnekop bedek

Of onder seëls deur die maer prokureur gebreek

In ons leë kamers nie

DA

Dayadhvam: Ek hoor die sleutel

Eenmaal in die deur draai, net eenmaal

Ons bedink die sleutel, elkeen in sy sel

Denkend aan die sleutel, bevestig elk sy sel

Slegs sawens, herleef ’n gebroke Coriolanus

Vir ’n wyle in vlugtige gerugte.

DA

Damyata: Die boot antwoord

Vrolik op hand en seil en spaan

Die see is kalm, jou hart sou ook

Vrolik antwoord, klop, uitgenooi

Deur hande wat beherend maan.

 

                    Ek sit op die strand

en visvang, met die droë vlakte agter my

Sal ek ten minste my lande in orde kry?

Londen-brug is aan die val aan die val aan die val

Poi s’ascose nel foco che gli affina

Quando fiam uit chelidon – O swawel swawel

Le Prince d’Aquitaine à la tour abolie

Hierdie brokke dam ek teen my ondergang op

Goed dan pas ek julle maar in. Hieronymo is al weer mal.

Datta. Dayadhvam. Damyata.

                    Shantih   shantih   shantih

 

 

 

(Vertaal deur Andries Wessels)

 

[Ter viering van die sewentigste herdenking van die publikasie van T.S. Elliot se The Waste Land in 1922, ’n vertaling van die gedig in Afrikaans.]