Posts Tagged ‘T.T Cloete’

Marlies Taljard: T.T. Cloete Huldigingslesing, 20 Oktober 2017

Monday, October 16th, 2017

Wêreld en ruim heelal in ʼn trilkristal bevat: digterlike beheer en herinterpretasie van enkele ingebedde temas in T.T. Cloete se transkripsies van antieke tekste

Lesing gelewer tydens die T.T. Cloete Huldigingsgeleentheid in die Senaatsaal, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. Gereël deur die Vakgroep Afrikaans van die NWU-Potchefstroomkampus

.

Inleiding

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie

as in die letterkunde en baie meer poësie

in die miskruier in die toktokkie

in die meteorologie en entomologie

in die môremis en in die bergpiek

die horison wat in die hemel wegraak

in die rooswolk is daar baie meer liriek

die aarde is deur ʼn digter gemaak

(“God die digter” uit Driepas)

 

En weer Cloete:

Agter al hierdie dinge: Verwondering, gedigte, woorde, die besit neem van ander mense of dinge, en die liefde, die wrok, lê ʼn onontsyferbare geheim: die heelal waarin alles met alles saamhang. Gedigte wys hierdie samehang uit, stuksgewys, brok vir brok, nooit heeltemal en nooit volledig nie.

Die literatuurkundiges wat so graag hokkies en hoekies maak, moet daarvan leer.

(Die ander een is ek, pp10&11).

 

Steeds in die boek Die ander een is ek sê Cloete: Deur middel van selftransendering, gedaantewisseling en kollektiewe transendente kan “… ander digters … vir my praat … Omgekeerd kan ek vir en deur ander praat.”

Sedert sy vroegste werk maak verwysings na en gesprekke met ander tekste ʼn inherente deel van T.T. Cloete se gedigtekste uit. Hy self beskou dié soort intertekstualiteit as een van sy kenmerkendste styleienskappe. In Die ander een is ek toon hy by herhaling aan hoe sy gedigte uit ander gedigte, verhale, wetenskaplike artikels, mites, filosofieë en wat nie nog alles nie, ontstaan het en daarna heenwys of krities daarmee in gesprek tree.

Dit is dan ook waarop ek my gaan toespits: Die doel van hierdie lesing is om twee verwante gedigte uit die bundel onversadig (2011), naamlik “swerwende verse” en “Achilles se skild” te ontleed met die doel om aan te toon hoe die digter gebruik maak van die werk van digters wat duisende jare voor hom geleef het om namens hom te praat en hoe hy hulle werk toelig, herinterpreteer, ondermyn en herskryf ten einde nog ʼn laag op die palimpseste van die antieke tekste te lê, tekste wat deur die eeue reeds meervoudig gekodeer geraak het, sodat hulle ook vir die moderne leser nuut en betekenisvol word. Wat meer is: die twee tersaaklike gedigte, wat teen die einde van sy digterloopbaan geskryf is, bevat ook ʼn kortbegrip van die belangrikste temas wat in die digter T.T. Cloete se werk voorkom.

Teoretiese verantwoording

Cloete se werk word – dalk meer as enigiets anders – deur jukstaposisie gekenmerk. Dié term word in die letterkunde meestal verstaan as die byeenbring van en verbandlegging tussen uiteenlopende of ooreenstemmende temas; maar veral by Cloete óók die byeenbring van en verbandlegging tussen tekste wat die digter op een of ander manier met mekaar in gesprek laat tree. Die feit dat sy bundels titels het soos Jukstaposisie of Idiolek, maak die leser boonop daarop attent dat die outeur, benewens digter, ook literator is en oor spesialiskennis van die letterkunde en die literêre teorie beskik. Geen wonder dus dat daar in die kritiese werk oor die digter T.T. Cloete dikwels gefokus word op die metatekstuele aard en die wetenskaplike toonaard van sy digterskap nie.

In die afdelings “toepassings”, “transkripsie” en “perifrase” in die bundel Idiolek lê die digter-literator, volgens Ena Jooste, klem op verskillende vorme van intertekstualiteit  in sy werk. Ek gaan my hier slegs toespits op die praktyk van transkripsie wat woordelikse oorname uit ander tekste impliseer. Jooste bring die term “transkripsie” soos dit in die bundel Idiolek gebruik word, in verband met die term imitatio: volgens Van Dale beteken imitatio “navolging met herskeppende pretensie” … “ʼn waarderende aanvaarding van dit wat oorgelewer is”, maar “wat nie beskou moet word as ʼn bewys van geestesarmoede of gebrek aan inspirasie nie”. Jooste beweer oor Cloete se transkripsie-gedigte: “Dit wat eie is aan die mens, die digter, God selfs, dit word deur Cloete getranskribeer” met die oog daarop die tydlose te vind en te soek na immanente vorme en waarhede, waarin die semiotiese funksie van die tekens en simbole dieselde bly, met behoud van die kenmerkende trekke van die oorspronklike artefak.

Die afdeling “transkripsies” in Idiolek bevat gedigte wat verwant is aan dié wat staan in Afdeling 5 van onversadig wat Cloete “saamsing” noem, maar waarin hy op baie meer blatante wyse “roof” uit ander digters se werk. Dié afdeling bestaan uit tien gedigte waarvan ʼn groot persentasie van die Cloete-gedig bestaan uit woordeliks “afgeskryfde” materiaal. In dié verband meld Cloete se bekende kortverhaal Dr. Diedericks leer om te lag sigself onmiddellik aan. Dié verhaal sluit byna blatant inhoudelik én struktureel, aan by Jan van Melle se verhaal Oom Diederik leer om te huil. Heilna du Plooy bespreek die verhouding tussen hierdie twee verhale en wys daarop dat hoewel Cloete se verhaal op die stramien van Van Melle sʼn gebou is, dit eintlik ʼn herinterpretasie van die oorspronklike verhaal is en nie slegs ʼn modernisering nie. Sy skryf:

Die byna onbeskaamde toe-eiening van die struktuur en “storie” van Van Melle se verhaal word gebruik om ʼn geheel ander en veel meer gesofistikeerde problematiek aan die orde te stel. Om sy alternatiewe siening te stel, het Cloete die verhaal van Van Melle nodig, maar Van Melle se verhaal word aangevul deur die Cloete-verhaal sodat ʼn mens inderdaad van ʼn simbiotiese verhouding kan praat.

 

Hierdie soort tekste is nie – soos dit soms oppervlakkig lyk – oop, deursigtige tekste nie – dit is egte postmodernistiese tekste soos Julia Kristeva dit in The bounded text beskryf. Tekste wat saamgestel is uit reeds bestaande tekste sodat die resulterende teks uiteindelik “a permutation of texts” word, ʼn mosaïek van sitate uit ʼn onbeperkte aantal tekste wat op mekaar repliek lewer. Worton en Still (1990:1-2) verwys na die immateriële aard van die teks en na die diskoerse wat sowel die skrywer as die leser na die teks toe bring. Hierdie insig ondermyn die siening van die teks as afgeslote, outonome eenheid met eenduidige betekenis en finale sluiting. Dergelike tekste nooi die leser uit om deel te neem aan die signifikasieproses, onder andere deur direkte of verskuilde verwysing na die werk van ander kunstenaars.

Dit sou egter ʼn eng benadering wees om in tekste soos hierdie slegs te soek na ooreenkomste en verskille met ander tekste. So ʼn suiwer ontologiese benadering kan wel die bestaanswyse van tekste beskryf, maar het nie ten doel om as analitiese instrument te dien nie. Uit Joan Hambidge se verklaring van intertekstualiteit blyk een van die belangrikste fasette van postmodernistiese tekste, naamlik dat ʼn teks ʼn ou storie kan oorvertel, die bekende weer kan aanbied, die gesêde weer sê. Maar met ʼn klemverskil: dat dit terselfdertyd kritiese of intellektuele kommentaar ook word (Hambidge, 1995:41). Hierdie vorm van tekstuele saambestaan noem Genette hipertekstualiteit (Genette, 1997:5-8). Dit is daardie verhouding tussen tekste wat die klem vestig op die palimpseste, die verskillende lae van die teks en wat doelbewus inter-tekstueel wil wees en so gelees wil word.

swerwende verse

Die wyse waarop Cloete in Dr. Diedericks leer om te lag met intertekste omgaan, werp ook lig op die werkwyse wat die digter in die afdeling “saamsing” in die bundel onversadig volg. Soos in die verhaal van Dokter Diedericks, maak die digter in hierdie gedigte ook ryklik gebruik van transkripsies uit die brontekste, wat sodanig deur hom gemanipuleer en getransformeer word dat dit binne die huidige tydsgewrig steeds relevant bly. Vervolgens bespreek ek die eerste gedig in die afdeling “saamsing”, naamlik “swerwende verse” wat ooglopend op vier antieke tekste gebaseer is.

Benewens eksplisiete verwysings na brontekste, maak Cloete (in sy rol as akademikus) in die bundel onversadig meermale van voetnote gebruik om addisionele verklarings en inligting by bepaalde gedigte te verskaf. By die titel van “swerwende verse” verskyn ʼn lang voetnoot waarin die outeur verklarend en selfrefleksief kommentaar lewer. Hy wys op die eksplisiete ooreenkomste tussen die Egiptiese farao Achnaton se Himne aan die son (Aton: die son) en Psalms 19 en 104, en ook tussen die Himne aan die son en Sint Franciskus se Canticle of the sun van 1224. Hy skryf:

Die ooreenkomste tussen hierdie skeppingsgedigte is maar by benadering deur my gekursiveer om die identifisering van die interdigterlike te probeer vergemaklik. Ons het weliswaar hier met vertalings te make, maar die oorkoepelende ooreenkomste is onmiskenbaar, en dat die ooreenkomste selfs woordeliks ondanks die vertaling deurskemer, maak dit soveel merkwaardiger.

Dit is duidelik dat die literatuurwetenskaplike, prof. T.T. Cloete, in hierdie voetnoot aan die woord is. Dit dui ook op die komplekse wyse waarop Cloete digter is en sy digterskap sien: hy is sowel geleerde wat klem lê op struktuur en digterlike werkwyse, leermeester wat die leser tot ʼn mate lei (en soms om die bos lei) én digter.

Die betrokke gedig bestaan tot by die 14de deel hoofsaaklik uit sitate, geneem uit Akhenaton: Hymn to the Sun, Psalm 19, Psalm 104 en Sint Franciskus se Canticle of the sun om ooreenkomste tussen dié tekste in kursief aan te toon, soos in die voetnoot verduidelik word. ʼn Mens kan met reg vra waarom ʼn digter ʼn teks waarin bladsye en bladsye woordeliks uit ander digters se werk gedupliseer word, as sy eie werk in ʼn gepubliseerde digbundel laat verskyn.

Eers in die 15de deel blyk die ware simfoniese aard van die gedig. Hier word ʼn nuwe stem as’t ware in die antieke tekste ingebed – dié van ene “Vagebond”. Die Vagebond is ʼn figuur wat dikwels met kunstenaars geassosieer word, soos in Arthur Compton-Rickett se boek The Vagabond in Literature. Sowel A. Roland Holst as J. Slauerhof het gedigte geskryf getiteld “De Vagebond” waarin besin word oor die aard van digterskap. Slauerhoff se gedig eindig soos volg:

Ik leef. Ik vrees alleen dat t web van wegen

Dat zich al nauwer om de wereld spant,

Mij niet meer doorlaat naar het ver gelegen,

Steeds wenkend en steeds wijkend wonderland.

 

Wie bekend is met Cloete se teks-eksterne uitsprake, sal weet dat hy veel klem lê op selftransendering of die terugtrek van die digter na ʼn droomwêreld (soos Slauerhof se “wonderland”) as belangrike aspek van kunsskepping (Die ander een is ek, p.72). Hy skryf byvoorbeeld daaroor in sy opstel “J.H. Leopold oor die dromende denke” in die bundel Kaneel. Ons kan dus hipoteties die stelling maak dat Vagebond ʼn persona is van die digter; en ek wil verder gaan deur te beweer dat die kommentaar wat Vagebond lewer, inderdaad metatekstuele kommentaar is, of kommentaar wat die digter op sy eie digwerk – op sy hele poëtiese oeuvre – lewer.

Antieke tekste

Maar eers iets oor die 4 tekste wat die grootste deel van die betrokke gedig uitmaak. Die blote feit dat die ordenende instansie byna een twintigste van die bundel, wat 190 bladsye beslaan, in een enkele gedig aan woordelikse transkripsies uit brontekste afstaan, moét veelseggend wees. Waarom juis hierdie tekste?

In sy voetnoot by “swerwende verse” wys Cloete eksplisiet op die ooreenkoms tussen ʼn oerteks wat aan die songod Aton opgedra is en twee Psalms waarin dieselfde eienskappe aan El (=Eel, een van God se name) of Jahwe (wat die verbondsnaam van God is) toegeskryf word. Die implikasie is dat daar sekere waarhede en godsbegrippe is wat deel uitmaak van alle geloofsoortuigings en nie spesifiek is aan die Christelike geloof nie. Die digter stel sy siening hieroor later in die gedig eksplisiet by monde van Vagebond:

Achnaton en Franciscus is op ʼn interdigterlike plek

binne die fanakalo se poëtiese taal

skoon glansend bonasionaal

buite tydruimte onder die son saamgetrek

 

Dié reëls is heel goed te rym met Cloete se religieuse opvatting soos dit uit sy werk as geheel spreek, maar verwys eweneens na ʼn aspek van die poësie as sodanig, naamlik dat gedigte transendentale en universele waarde besit en tyd en ruimte oorskry. In “Shifting Identity” uit die bundel Uit die hoek van my oog sê die digter immers: “Van daardie pynlike naelstring om te behoort / aan ʼn volk of ʼn familie het ek my ontstoot.” En transendentaal, bonasionaal en immergeldend is die gesiteerde dele van die Himne, die Canticle en die Psalms wel. Die digter T.T. Cloete praat deur hulle én laat hulle namens hom praat.

Dit behoort duidelik te wees dat die tekste wat Cloete in hierdie gedig weer tot lewe roep, ook nog ʼn verdere belangrike aspek van sy idiolek belig, naamlik die verwondering aan die Skepping wat van die begin af enduit in sy werk teenwoordig is en wat so onvolprese uit die antieke tekste spreek. In sy uitvoerige bespreking van die Psalms (2014) beskryf Johannes Schnocks die Achenaton Himne en Psalm 104 as die waarneming en duiding van die wêreld met sy verskillende ruimtes, samehange en ritmes deur middel van ʼn lofprysende gesprek met die Skepper self. Die menslike houding beskryf hy as “eine Haltung des Staunens und des lobenden Einstimmens” (p.135) – ʼn houding van verwondering en lofryke instemming. Hierdie soeke na ekologiese samehang en die konstante verwondering aan dit wat deur God tot stand gebring is en deur hom onderhou word, is waarskynlik dié belangrikste kenmerk van die Cloete-oeuvre. Dáárom die uitvoerige aanhaling van tekste wat met die digter se eie digterstem resoneer in harmonie met al sy vorige bundels. So illustreer die kwatryn “Tristetrahedronis” uit Driepas byvoorbeeld sowel die digter se insig dat God in wese onbegryplik en onkenbaar is, as sy verwondering aan die Skepping:

Onse Vader, omdat ons U wil begryp, beperk

ons U tot ons afgekoepelde hemel, U wat ook woon

buite u holte oral waar u werke is en U wat werk

 

oral waar U woon, u die getripleerde trigoon

 

My insig is dan dat die doel van die transkripsie uit antieke tekste eerstens wil klem lê op ʼn allesomvattende religieuse oerwaarheid; tweedens demonstreer dit die teorie van die Omvattende Gedig wat daarop neerkom dat alle waarhede waaroor digters dig, reeds iewers transendentaal of konkreet teenwoordig is en reeds deur ander digters/skrywers gesê is. In hierdie geval is dit die tema van verwondering aan die skepping. In sy selfrefleksiewe werk Die ander een is ek skryf Cloete: “Ek verstom my my hele lewe lank hoe ʼn mens in alles wat jy lees ander skrywers se stemme hoor. As ek Psalm 19 en 104 lees, hoor ek tegelykertyd Franciscus se “Cantico di Frate Sole” en Achnaton se “Himne aan die son”. ʼn Mens sou dus in die derde plek ook kon beweer dat die transkripsie van die antieke tekste klem lê op een van die belangrikste aspekte van die digter se digpraktyk, naamlik voortdurende gesprekvoering met sy eie oeuvre én tekste van ander skrywers. Vierdens lyk dit asof Cloete in hierdie gedig ʼn kortbegrip van sy oeuvre wil aanbied – die essensie van sy kreatiewe werk – en intensioneel aansluit by sy mees ontginde temas en die tekste van ander digters wat daarmee resoneer.

Vagebond-dele

Maar om nou terug te kom na die Vagebond. In die eerste 14 dele van die gedigteks het die ordenende instansie op wetenskaplike wyse eksplisiete ooreenkomste tussen reeds bestaande bronne aangetoon. Die Vagebond-dele, daarenteen, het die geaardheid van kantaantekeninge van ʼn krities ingestelde leser by ʼn teks wat hy aan die lees is. Daar word tipies vrae gevra en parallelle oor millennia heen getrek tussen die ou tekste en die lewens- en wêreldbeskouing van die digter soos dit uit sy korpus gepubliseerde kreatiewe werk afgelei kan word. Dit lyk asof die ordenende instansie wat die gedig beheer moeite doen om aan te toon hoedat die vier antieke tekste inderdaad ʼn konsentraat is van die digter T.T. Cloete se digterlike oeuvre, onder andere deur gebruik te maak van ʼn kommentator.

Dit is nie verbasend nie dat die eerste tema wat in die repliek-tekste voorkom, inderdaad verwondering is. Soos reeds gesê, stem kritici saam dat verwondering met reg beskou kan word as die sleutelwoord en hooftema van Cloete se poëtiese werk. Vagebond sê in sy eerste verskyning:

15 (Vagebond 1)

van verwondering vervul

dink ek aan my vrugbestaan

in my Ma se skoot verhul

 

al die bene van my lyf

elke dag van my bestaan

was toe reeds volledig opgeskryf

 

Verwondering en bestaan of lewe word dikwels in samehang met mekaar in Cloete se werk aangetref. Hierdie strofes verwys na nog twee antieke tekste, naamlik Jeremia 1 en Psalm 139. Aan Jeremia sê die Here: “Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het ek jou geken” (Jer.1:5, OV) en Psalm 139 in die Ou Vertaling stel: “… U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef … My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde” (Ps. 139:13,15). Hier het ons dus weer eens met ʼn gedeeltelike transkripsie te make uit tekste waarna nie eksplisiet verwys word nie.

Dit was vir my interessant toe ek die Bybelverse weer lees om te sien dat die Psalmdigter stel dat hy “in die dieptes van die aarde” gemaak is. Verbondenheid met die aarde en die heelal en die fassinasie met ontstaan en bestaan kom van die begin af by Cloete in gedig na gedig aan die orde. Die tweede reeks Vagebond-strofes wat hierop kommentaar lewer, volg direk na die pas gesiteerde “Vagebond 1”:

 16 (Vagebond 2)

eeue daarvóór was ek lankal daar

in die donker slaap

 

toe breek die lig en ek in haar

gedroom     die tyd wat roer roteer

 

nou word ek weer en weer

gebore     elke oggend staan ek op en elke keer

is dit ʼn avontuur

 

tienduisend kilometer en derduisend jaar

skei my van die digter-koning van die Jode

en nog verder terug die digter-farao

van die Egiptenare

 

tog is dit steeds dieselfde bruidegom

wat uit die Ooste se slaapkamer

soggens met opstaantyd na my in Afrika toe kom

 

dit is dieselfde mense wat dan ontwaak

en land toe gaan

en rou aarde braak

 

en wat die son se lig

in hul gesig laat straal

en in dieselfde suurstof

en atome asemhaal

 

Dat die digter beweer hy was eeue voor sy geboorte al teenwoordig, dat dieselfde mense weer en weer hulle verskyning maak soos die son en dat ons dieselfde suurstof en atome tot die oneindige hersirkuleer, dui op ʼn bepaalde wêreldbeeld waarop Cloete ook in Die ander een is ek (79) selfrefleksief kommentaar lewer: “Dit is nie ʼn nuwerwetse opvatting dat alles saamhang en die een ding in die ander kan oorgaan nie, dit is ʼn ou insig.” In sy poëtiese werk kom telkens die opvatting van die samehang van alle dinge voor: die heelal is een entiteit en alle geskape dinge is deel van dié geheel. In Die ander een is ek haal hy die digter J.H. Leopold aan wat oor die reëndruppel skryf:

wereld en ruim heelal:

het is bevat in dit klein trilkristal.

 

In sy eie werk word dit onder andere soos volg poëties vergestalt:

toe

was die protomens nog

in die akkedis

saam met die beer en sog

in die vis

(“plant- en dierkunde” – Heilige nuuskierigheid)

 

ʼn Sikliese tydsbesef word ook gesuggereer in “Herbenutting” uit Angelliera waarin dit gaan oor die dooie pikkewyn wat in die see dryf:

Iewers ooit word alles weer saamgestel

uit haar tot eenmalige sel en sel

en sel word elke deel

deeltyds heel in alle gedaantes van die ewige geheel

 

Ewige teenwoordigheid en gedaanteverwisseling word ook in die Vagebond-dele van die gedig “swerwende verse” eksplisiet verwoord. Die eerste keer in Deel 17 van die gedig wat, hoewel dit aan Achnaton en St Franciscus toegeskryf word, beslis deel is van die Vagebond-teks:

17 (Akhenaton: Hymne to Aton en Sint Franciscus: Canticle of the Sun)

met geringskatting van die nasies word

onmerkbaar langsaam en sag

fluisteringe van die een dag in die ander dag

millennium ná millennium uitgestort

 

Achnaton en Franciscus is op ʼn intergedigtelike plek

binne die fanakalo se poëtiese taal

skoon glansend bonasionaal

buite tydruimte onder die son saamgetrek

 

waar waters is wat in borrelende wolke vry

en minagtend oor ons kwansuise grense

hoog oor ons klein aarde ry

 

Dat die digter in hierdie deel van die gedig sy bronne oënskynlik “verkeerd” vermeld, hang saam met sy bewuswees van die hersirkulasie van tekste as digterlike praktyk– en trouens ook as grondbeginsel van alle tekskonstruksie – waarop ek vroeër reeds gewys het, maar veral ook met sy konsep van die sogenaamde “versamelde gedig” wat reeds in Driepas sy verskyning maak:

die gedig is ʼn refleks

in ʼn enkele woord

en in dié woord hoor

die oor ineen ineens die teks

 

van die versamelde gedig

(…)

(“die gedig is ʼn refleks”)

 

Die konsep van die “versamelde gedig” veronderstel ʼn “intergedigtelike plek” – ek stel my iets soos Jung se Kollektiewe Onbewuste voor – waartoe digters toegang het en waaruit hulle put. Dit veronderstel dat alle gedigte eintlik sedert onheuglike tye reeds as metafisiese konsepte iewers teenwoordig is. Julia Kristeva se insig is dat betekenis nie deur een skrywer gegenereer word nie, maar wel deur taaluitinge binne intertekstuele verband te plaas en te interpreteer aan die hand van wat voorheen reeds gesê of geskryf is – soos Cloete se intertekste. Wanneer Cloete in Vagebond se 2e diskoers intertekstueel gebruik maak Afrikaanse skrywers se werk, o.a. sy eie, veronderstel dit sy verbondenheid met die Afrikaanse literêre tradisie. Hoewel tyd en ruimte verskil – soms die Middellandse Seegebied, soms die suidpunt van Afrika – bly die basisgegewe oor tyd en ruimte heen dieselfde. So gesien is die “verwysingsfout” waarna ek vroeër verwys het, dan eintlik ʼn kopknik in die rigting van Roland Barthes se bekende uitspraak dat die digter dood is. Die bestaan van ʼn “versamelde gedig” of die “omvattende gedig” soos hy dit ook in “swerwende verse” noem, plaas inderdaad ʼn vraagteken agter die konsepte van digterskap en eienaarskap; agter grense van ʼn literêre werk en agter iets soos ʼn sluitende geheel. Ook die laaste kommentaar van Vagebond brei op hierdie insig uit:

die een dag roep die ander dag op met lig

met mense en bome gevul, met diere en water     die een gedig

roep die ander op oor tyd en afstand

met minagting vir mense se taal en afgegrensde land

 

Volgens my beskeie mening is die gedig “swerwende verse” ʼn uitgebreide Ars Poëtika waarin die digter besin en verslag doen oor een van die vernaamste temas in sy kreatiewe werk, naamlik die bemoeienis met en verwondering aan die bestaanswyse van alles wat geskape is – ook sogenaamd nie-lewende dinge soos dit eksplisiet uit die antieke tekste spreek – ingeslote spesifiek ook die bestaanswyse van kreatiewe tekste. Hy manipuleer die oertekste deur selektief daaruit aan te haal wat op sy eie lewens- en wêreldbeskouing en sy kreatiewe werk van toepassing is en bevrug dit met moderne insigte wat eksplisiet met die antieke gedigte in gesprek tree, dit bevestig en besinnend daarop uitbrei. As akademikus wat vertroud is met postmodernistiese teorie lê Cloete doelbewus klem op die proses van tekskonstruksie en die gemaakte aard van sy teks. Uit die fragmente van die oertekste abstraheer hy die essensie en maak daarvan ʼn nuwe teks wat die digter se eie interpretasie van die brongegewe verteenwoordig. Op hierdie wyse heraktiveer die digter die ou tekste vir die moderne leser. Hy diep hulle as’t ware uit die puin van vergetelheid op, stof hulle af en maak hulle relevant en stimulerend vir ons wat nou lees.

Achilles se skild

ʼn Gedig wat struktureel en tematies sterk by “swerwende verse” aansluit en daarop uitbrei, is die laaste gedig van die afdeling “saam sing”, naamlik “Achilles se skild” waarna ek slegs kortliks gaan verwys. Cloete self trek by herhaling verbande tussen Achnaton se himne en Achilles se skild. Die gedig “astronout” (Heilige nuuskierigheid) vergestalt bv. poëties wat Cloete selftransendering noem en wat hy as een van die belangrikste aspekte van die kreatiewe proses beskou. In dié gedig teken die digter homself as “ruimtereisiger … van die tuisbly”, “belaai met ʼn swaar vrag gedigte van digters / oues uit Israel uit Egipte en Griekeland …”:

ek het Achnaton hoor sing van die son

en saam met die gewasse en sy mense opgestaan

en:

ek het deur ʼn Griek se lieflike hand

deel geword van ʼn volle lewe

binne die lewe op Achilles se skild

 

Soos by “swerwende verse”, bestaan ongeveer ʼn kwart van die gedig “Achilles se skild” uit verbatim aanhalings uit J.P.J. Van Rensburg se letterlike vertaling van Homeros se Ilias met subtiele weglatings, herskrywings, en ingebedde teksdele wat nie in die bronteks voorkom nie.

Achilles se skild

Een van die bekendste dele van Homeros se Ilias wat iewers na 750vC neergeskryf is, is die beskrywing van hoe Hefaistos, die goddelike smid en god van vuur en metaal, die Griekse held Achilles se skild maak voordat hy die geveg teen die Trojaanse held Hektor aandurf. Die tonele wat op die skild uitgebeeld word, word tradisioneel beskou as ʼn metafoor van die kosmologie van die Homeriese tyd. Daarvolgens is die aarde ʼn plat, ronde skyf met die hemelkoepel wat daaroor gespan is en die koepelvormige onderwêreld daaronder. Verskeie sirkels kom op die skild voor, waarvan die belangrikste die Okeanosrivier is wat in ʼn sirkel reg rondom die aarde vloei en die grens vorm tussen die lewendes en die dooies, asook die konkrete en spirituele domeine. Dit is die rivier wat volgens die Ilias “as die wording van alles gemaak is” – dus ook ʼn skepper. Die simboliek op die skild is deur die Grieke verstaan as konsep daarvan dat die makrokosmos in die mikrokosmos weerspieël word en andersom.

Homeros begin die vertelling van hoe Hefaistos die skild gemaak het, só: “Die aarde het hy daarop uitgebeeld, en die hemel, asook die see, die onvermoeide son en die volmaan; ook al die sterre waarmee die hemel bekrans is …” Die ooreenkoms met die Achnaton himne, Psalms 19 & 104 en die Canticle is onmiskenbaar.

Cloete se Achilles-skild

Ook Cloete se gedig “Achilles se skild” beeld ʼn skeppingsverhaal binne ʼn bepaalde lewens- en wêreldbeskouing uit wat in sommige opsigte ooreenstem met Homeros sʼn. Die feit dat so ʼn groot gedeelte van sy gedig woordeliks uit Van Rensburg se vertaling van die Ilias kom, sou op vereenselwiging met ʼn sekere deel van die Homeriese kosmologie kon dui – ʼn siening wat gebaseer is op ʼn bepaalde lewens- en wêreldbeskouing wat deurgaans in die Cloete-oeuvre teenwoordig is. Grootskaalse toe-eiening van die Homeros-teks laat afwykings daarvan natuurlik soveel duideliker uitstaan. Skepping en lewe is in hierdie gedig, soos ook in die Ilias-fragment én in “swerwende verse”, ʼn belangrike tema. In die Ilias en in Cloete se transkripsie val die klem sowel op die kunstenaar as skeppende wese as op die skepping van lewe op aarde soos dit op die skild uitgebeeld word. Ook die konsep van die hologram, naamlik dat die makro-kosmos en die mikro-kosmos wedersyds in mekaar ingebed is, kom dikwels by Cloete voor. In die gedig “Fyn vrugbare essensie” (Jukstaposisie) beskryf die spreker bv. hoe hy na die sterrehemel kyk:

IV HEMELSE WANDELING

ek lê op my rug

in die nag en kyk stadig

téén die rasende stralende reis van die lig

ín miljoene jare in die oerverlede terug

 

na waar die spiraal van die nautilus

en van die alikreukel, die pou

se stert en die rolvarkie toegevou

in sy eie sirkel galakties nagedoen is

 

Ook die konsep van sikliese tyd en selfs tydloosheid is nie vreemd aan Cloete nie. Ek het in die vorige gedigbespreking verskeie voorbeelde daarvan aangehaal. Tot sover dan die ooreenkomste tussen die Ilias en die Cloete-gedig.

Vervolgens kyk ek vlugtig na Cloete se subtiele ondermynings, her- en inskrywings by die Ilias-teks en veral na die metatekstuele aard daarvan. Die mees voor- die-hand liggende verskil tussen die antieke en die moderne tekste is waarskynlik die intensie. Uit die Ilias-gegewe is dit duidelik dat die digter ʼn ideaalbeeld skep van die fisiese wêreld soos dit destyds veronderstel is: ʼn representasie van ʼn gebalanseerde samelewing of polis binne die raam van die hemel en die Okeanosrivier, sodat die siel van die gevalle held hierdeur geïnspireer word om na die hoër, goddelike sfere te vertrek. In teenstelling daarmee meld die Cloete-gedig dat dit die doel is van die kunstenaar “om ons ontglippende dubbele menslikheid / in een stuk te smee” en om “die onverklaarbare geheimsinnige mens” op die skild uit te beeld. Hierdie intensie van die digter sluit aan by die idee van pluralisme en ongrypbaarheid van ʼn agterhaalbare waarheid wat die postmodernistiese Zeitgeist kenmerk en resoneer weer eens met die digter se verwondering aan die skepping en die werke van God.

ʼn Verdere belangrike verskil tussen die Ilias en Cloete se herskrywing, het betrekking op die raam van die verhaal. Nadat Hefaistos die kosmos en die menslike aktiwiteite op aarde uitgebeeld het, het hy “ook die groot krag van Okeanos se rivier daarop uitgebeeld al langs die buitenste rand van die stewiggemaakte skild”. Cloete maak op dié plek van sy teks egter geen melding van die Okeanosrivier nie, maar beskryf die wrede geveg tussen Hektor en Achilles, wat in die Ilias eers heelwat later verskyn. Okeanos is ʼn mistieke rivier, die oorsprong van alle dinge en dus ʼn sterk spirituele merker. Dit is veelseggend dat Cloete dié merker verontagsaam en in die plek daarvan “die wreedste geveg, saam met mooi dinge / wesensgetrou ingesmee in die buitenste kring van die nes / van konsentriese sirkels …” uitbeeld. Klemlegging op gevegte tesame met mooi dinge suggereer natuurlik ook die mens se “dubbele menslikheid”.

Raming is ʼn belangrike faset van die antieke Griekse kuns en is nooit onskuldig nie. Die raam plaas die verhaal binne die ordenende beginsel waarvolgens die digter sy kosmologie konstrueer – in Homeros se geval onder andere klemlegging op die siel se lewe na die dood. Indien dieselfde vir Cloete se gedig sou geld, beteken dit dat hy sy lewensbeskouing plaas binne die raam van geweld en wreedheid – in aansluiting by eietydse (Suid-Afrikaanse) toestande dalk? Getrou aan die aard van die “ontglippende” en “dubbele” aard van die mens, verskyn die woord “mooi” (eenkeer vervang deur “fraai”) egter sewe maal in dié gedeelte van die teks: ʼn ikoniese illustrasie dus van die digter se lewens- en wêreldbeskouing waarin uiterstes met mekaar verweef is.

Ten slotte wil ek kortliks wys op die Hefaistos-figuur. Cloete begin sy gedig met ʼn verwysing na “die hinkende horrelvoet Hefaistos”. Ook in die volgende strofe word na hom verwys as “die kunstenaar met die behendige hande / die krom kreupele”, daar word gesê “hy staan op sy tenger hoepelbene” en wanneer die wapenrusting klaar is, tree hy “hinkend ver terug”. Cloete lê heelwat meer klem op die gebreklikheid van die Vuurgod as Homeros. Gebreklikheid word in antieke Griekse tye dikwels met kunsskepping geassosieer. Volgens Hubbard: “… Hephaistus’ crooked gait is a physical manifestation of his artistic cunning: in Greek thought, the path of twists and turns is proverbially the clever road of ruses and deceits, the path of the wolf and the fox.” Ook Cloete vereenselwig hom daarmee. In Die ander een is ek skryf hy:

In die kunswêreld is daar ʼn vreemde saamgaan van genialiteit en artistieke begaafdheid in ʼn liggaam wat lyk of dit ʼn belemmering is … onbeholpe, verpotte, geskonde of verminkte liggame wat ryklik (self-) transenderend is.

en:

Achnaton, die Egiptiese farao, was besonderlik lelik, nie alleen sy gesig nie, maar ook sy liggaamsbou … Tog was hy die skrywer van een van die allermooiste transendente van alle tye, die “Himne aan die son”

en:

Wat ʼn ironie: Die liggaamlik onvolmaakte Hefaistos maak die wapens wat die liggaamlik superfiks Achilles weerbaar maak! … sy bynaam in die Ilias is “die beroemde kreupele”. ʼn Krom Joggom Konterdans.

Die kreupel mens wat dikwels ook kunstenaar is, duik by herhaling in Cloete se kreatiewe werk op. Die sprekende ek beskryf homself as “ek getrapte sprinkaan” hy praat van sy “gekraakte gebeente” en sê: “ek groei aarde toe krom ek hel lewendig / skuins (…) ek moet sekondegetrou / onthou om (…) te beweeg krapskeef / en aaphinkende ….” Elders beskryf hy homself as “sonder harnas, gebukkel” en met ʼn “boontjiegeboë rug”.

… En as ʼn mens dan terugdink aan Theunis Cloete self, die reële outeur, dan sien jy hom met sy kruk, jy onthou hom in sy rolstoel en jy hoor hom sê in die gedig “ek is”: “ek is my artritis / brein / poliomiëlitis …”

En dan besef ʼn mens dat die digter nie slegs sy lewens- en wêreldbeskouing, sy kunsbeskouing en die belangrikste temas uit sy oeuvre in hierdie gedig ingeskryf het nie, maar ook … homself. Homself as weerlose mens én as kunstenaar. Die grense tussen smid en kunstenaar, tussen die Griek Hefaistos, die digter T.T. Cloete en die mens Theunis Cloete, tussen gedig en werklikheid vervaag, soos ook die grense tussen gedig en gedig in hierdie “interdigterlike plek … buite tydruimte onder die son saamgetrek”.

Opsomming

In hierdie lesing het ek aan die hand van twee skeppingsgedigte uit T.T. Cloete se tweede laaste bundel, onversadig, ʼn klein venster probeer oopmaak na die ongelooflike kompleksiteit wat sy poëtiese tekste kenmerk.

Ek het probeer wys op die simbiotiese saambestaan binne die Cloete-gedigte van talryke gedigtekste wat almal deel uitmaak van die “Omvattende Gedig”, op hoe die ordenende instansie wat agter die skerms werksaam is, fyn beheer oor sy intertekste uitoefen deur hulle vir sy eie doel te ontgin, hulle vanuit ʼn nuwe paradigma te interpreteer en as’t ware “sgraffito” of graffiti aanbring op die reeds meervoudig gekodeerde liggame van die tekste wat hom geïnspireer het, máár terselfdertyd nuwe kreatiewe tekste skep waarin die DNS van sy digterlike korpus vervat is.

Hannalie Taute. Tussen die son en die maan vind ek woorde.

Sunday, May 4th, 2014

trugtaal – TT Cloete

 die taal is altyd ʼn seisoen en meer agter

die toestand waaruit die woorde

ontstaan het

die son is sagter

as hy afgekoel sit in die noorde

en verste tot sy keerpunt gegaan het

Ek open met hierdie gedig omdat ek so lanklaas iets vir Versindaba geskryf het.  Terloops baie geluk met die 5de verjaarsdag.  Ek voel nogsteeds ge-eerd om deel te wees van hierdie blad, maar wonder soms wat doen ek nou eintlik hier?  Het ek werklik iets om te bied?  Wat ek wel weet is danksy hierdie geleentheid het ek alreeds so baie geleer en ontdek.  Dit het my innerlike swerftog op soek na woorde verbreed. Dankie Marlise vir die geleentheid.

Die soeke en muse vir iets om met julle te deel het my vir n ruk verlaat, tot ek haar weer gevind het in Jeanette Winterson se boek: “Why be happy when you could be normal?  Daar lees ek van die eerste “recorded poem in the English language”:

“The more I read the more I fought against the assumption that literature is for the minority – of a particular education or class.  Books were my birthright too.  I will not forget my excitement at discovering that the earliest recorded poem in the English language was composed by a herdsman in Whitby around AD 680 (‘Caedmon’s Hymn’) when St Hilda was the abbess of Whitby Abbey.

Imagine it…a woman in charge and an illiterate cowhand making a poem of such great beauty that educated monks wrote it down and told it to visitors and pilgrims.

It is a lovely story – Caedmon would rather be with the cows than with people, and he doesn’t know any poetry or songs, and so at the end of the feasts in abbey, when all are invited to sing or recite, Caedmon always rushes back to the cows where he can be on his own.  But that night, an angel comes and tells him to sing – if he can sing to the cows, he can sing to the angel.  Caedmon says sadly that he doesn’t know any songs, but the angel tells him to sing one anyway – about the creation of the world.  And Caedmon opens his mouth and there is the song.  (Have a look at an early account of this in Bede:  History of the English Church and Peoples.)” Bladsy 143 uit die boek “Why be happy when you could be normal” Deur Jeanette Winterson

Ek het nooit erg gehad aan geskiedenis, maar deesdae verloor ek myself in die geskiedenis oor borduurwerk.  Die boek: The Subversive Stitch deur Roszika Parker, is skerelik die mees insig-gewende boek wat ek tot dusver gelees het oor die onderwerp.   Een kunstenaar wat kuns, borduurwerk en poesië kombineer is Jean Arp.

“Jean Arp’s contribution to the first issue of the magazine Dada in July 1917 was an embroidery, but a poem Arp wrote reveals that he valued embroidery not for its qualities as an artistic medium but for its stereotypical associations with intuition, feeling and above all with nature.  The long poem called The Spider Embroiders ends with these lines:

“Embroidery is more natural than oil painting, the swallows are embroidering the sky for thousands of centuries, there is no such thing as applied art.” (Bladsy 191 uit die boek: “The Subversive Stitch” deur Rozsika Parker.)

“Orde: Arachnae” Borduurwerk op rubber/binneband en doillie 2013

Ek leer ook van Sonia Trek Delaunay se werk.  Sy het ondermeer ‘robe poeme’ gemaak.  Dit klink so mooi! “Poem-dresses”. Gedig-rokke. Rok gedigte.

III KUNSTENAARS – T.T Cloete

Party is toegelaat om dieper

af te luister, dieper te kyk en te sien,

dieper te tas, Sophokles die Griek,

Job die Jood en Dawid in ʼn klein uithoekie

van ʼn afgeleë streek, Dante wat slegs drie

vlakke van ʼn oneindige aantal verdiepings

mog loop, Michelangelo, Rembrandt, ander genieë,

Milton; in ʼn roman, in ʼn gedig, ʼn tragedie

Of klug – Hy lag nie openbarend hardop nie –

fragmentaries in keramiekskerwe tref ons Hom hier

En daar, in ʼn haikoe, in ʼn vers, ʼn sonate of lied,

groter en kleiner beelde, stukkies fresco, stukkie vir

stukkie, in ʼn mosaïek;  meestal glad nie.

Om dieper te kyk? Hoe diep wil mens kyk? Ons kyk deesdae baie na die maan en die sterre.

“The medieval mind loved the idea of mutability and everything happening chaotic and misunderstood under the sphere of the moon.  When we look up at the sky and the stars we imagine we are looking out at the universe.  The medieval mind imagined itself as looking in – that Earth was a seedy outpost, Mrs Winterson’s cosmic dustbin – and that the centre was – well, at the centre – the nucleus of God’s order proceeding from love.

I like that order should proceed from love.”

(Bladsy 145 uit Jeanette Winterson se boek: “Why be happy when you could be normal”)

“A match made in heaven” Borduurwerk op rubber/binneband en gevonde foto.