Posts Tagged ‘Tankwa-karoo’

Robert Schall. Tikfout innie Tankwa

Tuesday, November 6th, 2012

Tikfout innie tankwa (… én in BOERNEEF se versamelde poësie)

Omtrent elke skoolvakansie ry ons vanaf Bloemfontein Ceres-Karoo toe – na ons plaas daar, “Karooruggens”. Ons hou nie daarvan om op die N1 te ry nie en gebruik dus graag die geleentheid om die plattelandse paaie tussen die Vrystaat en die Kaap te verken. Een van ons roetes loop oor Carnarvon, Williston en Middelpos, en dan met die Gannaga-pas af tot in die Tankwa-Karoo Nasionale Park. Ons loer dan gewoonlik by die Parkeraad se kantoor op Roodewerf in. Sowat twee jaar gelede het die kantoor se kennisgewingbord ’n Boerneef-vers vertoon en ons seun Paul het die foto hierbo daarvan geneem:

 

Dit is en bly nou emal so

die Kro is selle nat en dikwels dro

janee dit is nou emal so

was hy nie so nie was hy nie meer die Kro

was Ceres sonder Seressekaro

en wag my ghaap en my kambro

 

(uit: “Versamelde Poësie”, Tafelberg, 1977)

 

Ons het toe nogal gewonder (maar ongelukkig nie gevra nie) wie van die Park se personeel die blink gedagte gehad het om die Boerneef-vers ten toon te stel[1].

Openbare vertonings van poësie kry ’n mens immers nie elke dag en op elke plek nie, hoeveel minder in die dorre Karoo. Die gebruik van die vers is natuurlik heeltemal gepas, want eerstens – en inderdaad – “is en bly dit nou emal so” dat die “Kro selle nat en dikwels dro” is, en tweedens het Boerneef ’n nou verbintenis met die Ceres- of Tankwa-Karoo gehad, met talle verwysings na die streek in sy verhale en in sy verse.

Boerneef het op Boplaas in die Koue-Bokkeveld grootgeword, maar die Van der Merwes van Boplaas het ook ’n sogenaamde “legplaas” (vir winterweiding) in die Ceres-Karoo gehad. As kind het Boerneef die jaarlikse tog “Karoo toe” beleef en het hy dus die streek goed leer ken. Die Van der Merwes se legplaas se naam was “Kafferskraal”; díe naam is ’n paar jaar gelede na “Karooruggens” verander – en dit is nou ons plaas in vennootskap met ons vriende Renate en Jürgen.

 Ek het sowat agt of nege jaar gelede begin om Afrikaanse gedigte in Duits te vertaal, o.a. ’n paar Boerneef-verse[2]. Dat ons later, sowat drie jaar gelede, ’n aandeel in die “Boerneef-plaas” gekoop het was heel toevallig, maar beslis ’n gelukkige toeval[3]. Toe ek nog later die vers in die Tankwa-Karoo Nasionale Park se kantoor sien, wou ek díe ook vertaal. Ek werk met die teks soos hy in Boerneef se Versamelde Poësie (bladsy 96) en ook op die foto verskyn, spring goed weg met die vertaling, maar by die laaste reël haak ek vas:

 en wag my ghaap en my kambro

 Wat sou hierdie “wag” wees? Is daar ’n betekenis van “wag” wat ek nie ken nie? Ek slaan na in al wat woordeboek is … Is dit ’n streeksuitdrukking? Niks te kry in AF Prinsloo se “Annerlike Afrikaans” nie. Of is dit miskien ’n Boerneef-neologisme? Ook niks te kry in Chris van der Merwe se woordelys in “Tromboniusdagboekenkaart” nie. En die WAT is nog nie naby die “W” nie! Raadop besluit ek om die vers in die oorspronklike bundel, “Palissandryne”, te kontroleer. Dáár (bladsy 19) lui die laaste reel:

 en weg my ghaap en my kambro

 Nou ja, “dommie van domland!”, soos my oorlede skoonpa – soms ook vir my – gesê het. Vanselfsprekend! Ek moes dit seker al vroeër uitgepluis het, maar miskien kan ek tot my verskoning aanvoer dat díe tik- of setfout, “wag” i.p.v. “weg”, sedert 1977 in Boerneef se Versamelde Poësie – onopgemerk? – voorkom en onlangs selfs tot die Tankwa-Karoo versprei het.

 Noudat die raaisel opgelos is, hiermee die vers se Duitse vertaling en, ter illustrasie, ’n foto in die Tankwa-Karoo Nasionale Park geneem toe dit redelik “dro” was:

 

So ist’s und bleibt’s nun einmal hier

die Kro ist selten nass und öfters dürr

ja, so ist das nun einmal hier

wär sie nicht so wär sie nicht mehr die Kro

wär Ceres ohne Seressekaro

und weg mein Ghaap und mein Kambro

 

 

Naskrif: Met die oog op hierdie blog-inskrywing wou ek onlangs weer ’n foto van die vers by die Parkeraad se kantoor op Roodewerf neem, maar die vers was wag, ek bedoel weg. Die dame by ontvangs kon nie sê hoekom dit verwyder is nie. (Miskien weens die tikfout?) Daar hang nou ’n collage van parkfoto’s en van enkele ander toepaslike verse teen die muur, o.a. ’n vers deur Leipoldt.



[1]Ek vermoed sterk dit is dieselfde poësieliefhebber onder die Park se personeel wat Andries Bezuidenhout vir Hennie Aucamp (in die vorm van drie van díe se gedigte) in die Tankwa-Karoo laat raakloop het, sien http://versindaba.co.za/2010/12/24/ek-loop-vir-hennie-aucamp-in-die-tankwa-karoo-raak/

Andries Bezuidenhout. Ek loop vir Hennie Aucamp in die Tankwa-Karoo raak

Friday, December 24th, 2010

Bly in die Tankwa-Karoo Nasionale Park oor. Dis een van Suid-Afrika se nuutste natuurreservate. Huur ʼn ou plaashuis wat alleen op die vlakte staan. Dis doodstil. Skryf iets wat in my kop kom draai neer:

jy’t vir stilte gevra
s
ê die stilte
hoe dan nou
as die stilte jou pla?

Teen sononder pluk ek my kamera uit.

Mooi lig. Later die aand, met ʼn paraffienlamp as lig, lees ek deur die inligtingbrosjures. Dit het die tipiese instruksies wat die bestuurders van sulke reservate insluit: “Dear Guest… We do hope that you enjoy your stay… If you have accidentally broken anything, please be so kind as to report the item at the office and make a payment for replacement…” Ensovoorts.

Maar teen die einde van die inligtingstukke, wat in ʼn plastiekomhulsel is, kom ek op die volgende af:

Drie stemmings in die Tankwa

ʼn Herfsboom staan asof gevoed
Diep, worteldiep, deur grond en bloed
Blaar na blaar ʼn goue vlam
In sidderende Pinkstergroet.

Nagwind

Die nagwind span sy wurgkoord
Om hoeke van my huis
Maar ek sing “Ruwe stormen…”
Hoog bo die swart gedruis

Winterboom

Vlermuise is in blinde vlug deur boom gestuit
En hang nou swart en lapperig,
ʼn laaste najaarsbuit.

Dis natuurlik Hennie Aucamp. Toe ons die sleutel teruggee by die kantoor, vra ek oor die gedigte in die inligtingsbrosjure uit. “Ek het dit ingesit,” sê die vrou agter die toonbank, “sodat mense kan sien dat daar darem al gedigte oor ons verlate plek geskryf is.”

Andries Bezuidenhout. Die Roggeveld se eskarp

Monday, January 4th, 2010

Johannesburg lyk groen, groen, groen, ná ʼn paar weke in die Karoo. By Sutherland met Ouberg se pas afgery, van die Roggeveld na die Tankwa-karoo, met die pad wat generasies reeds gebruik word om skape af te jaag tydens die winter, na die warmer dele in die vallei. Dele van die Tankwa-karoo is seker die naaste wat ons aan die Namib sal kom. ʼn Mens kan verstaan hoekom ʼn boerdery met skape hier nie op sy eie sal uitwerk nie. Nicol en Marina van der Merwe boer steeds met hulle dorpers op hierdie trekboermanier. Hulle plaas grens aan die eskarp. Teen sononder het ons hier oor die vallei gekyk, die Cederberge doer op die horison gesien. Baie gedink aan Hierdie lewe, Karel Schoeman se boek wat hier afspeel. Ook aan NP van Wyk Louw gedink, weer Antjie Krog se lesing oor sy “beautiful woorde” gelees. ʼn Aantal plase behoort aan ʼn ene NP van Wyk. Neem aan dis die ma se kant; kan nie nou onthou nie, al het ek jare gelede Steyn se dubbelloopbiografie gelees. Hier is my tentatiewe kommentaar op die wêreld van Louw:

 

TELESKOOP BUITE SUTHERLAND

Vreemd hoe die sterre prut vannag,
kaal deur die oog beskou, ʼn donker brousel,
maar as jy hiér – op die Roggeveld se skurwe eskarp,
ver van fabriek en brandende stad –
in die duisternis roer met lens en silinder,
kan jy Sirius aanstip, daardie witwarm son,
selfs die mane geslingervel om Jupiter, die reus,
nóg wêrelde wat swerk in die wolk van Magellaan
en in elke ster wat uitbrand ontkiem ontelbaar meer.

Ja, ʼn sterrewag moet skerp kan kyk,
want alles bars in skille na buite,
vanaf ʼn pit iewers, een of ander tyd,
lank voor die woord.
Eeue reeds, maar steeds te laat,
volg ons dié trajek met passer en teleskoop.

Ek swaai die buis te na aan die maan,
die sekel blits, my pupille ʼn seeroos,
kramp toe, en kyk ek meteens na binne,
na ʼn stomme heelal wat in my oogbal ontplof.

21 Desember 2009