Posts Tagged ‘Tempermes’

Tempermes

Sunday, April 3rd, 2011

Tempermes, deur Louis Jansen van Vuuren. Queillerie, ISBN 9780795800214, 2010

Resensent: Heilna du Plooy

 

Tempermes

Tempermes

‘n Titel soos Tempermes vir ‘n digbundel is ‘n duidelike aanwysing: hierdie bundel gaan iets met skilder te make hê. ‘n Tempermes is ‘n paletmes, nie die een wat soos ‘n troffeltjie lyk nie, maar die een met langer ovaalvormige slap lem. Die onmiddellike betekenisassosiasie van die titel word verder versterk deur die buiteblad van die bundel. Die diep akwamarynblou en kobaltblou bolangs word effens koeler laer af op die blad en in die voorgrond is die figuur van ‘n man in skakeringe van groen. ‘n Vertikale rank waaraan ‘n ruikertjie blomme hang, voltooi die buiteblad.

Die digter van hierdie bundel is inderdaad ‘n skilder, soos duidelik word uit die bekendstellingsnotas en berigte oor die bekendstelling van die bundel wat gepaardgegaan het met ‘n kunsuitstalling. Die visuele sintuiglikheid wat op die buiteblad so duidelik is, ‘n helder, uitbundige gebruik van kleur, word in die bundel egter ‘n algemene eienskap: in elke enkele gedig staan die sintuiglike aspekte van belewenis voorop:

 

Beheks deur purper kruike

koue ambrosyn

sweer ons gierig trou  (p.9)

 

Of soos in die volgende strofe:

 

In die breekblou van die winternag,

in die skitterglans van ‘n lentedag

noem ek jou naam (p. 13)

 

Wat kleur betref, lei die digter se kleursensitiwiteit hom om kleure noukeurig te spesifiseer. In die gedig “Plaas”  is die huis se dak “oksied” geverf, die mure se “smeerwitkalk” word nat en die kerkhof se muur is  “doodswit”. In die gedig “Vincent” word Van Gogh se bekende skilderye opgeroep deur ‘n opstapeling van kleure:

 

Skitter, skitter sterrenag
huilblou hemelruim
koorsblou
loodwit en vermiljoen
son en maan wat wankeldraai

Honderd spuwende sterre
bergblou
beenwit en oksiedrooi…

 

 

geeloker
rooioker en omber
sonbesiekoor sing in die olyftakarms
skitter, skitter sterrenag  (p.50)

 

En in die gedig “Narkissos”  (p.49)  word die selfliefhebbende mens langs die waterpoel se einde soos volg beskryf in ‘n baie mooi strofe:

 

Tussen klippe en bleek brokke been
groei daar ‘n rare blou blom:
botsel van ‘n vreemde liefde,
kleur wat net van kobalt kom.

 

Dit gaan egter ook dikwels om smaak (“Kaneel en suiker, soet die nag” , p. 18;  “dek ek tafel swierig / met pienang en komyn”, p.34), of om klank, hetsy in die verwysing na liedere soos ‘n serenade en ‘n aubade, die “Elizabeth-serenade” (p. 20) of “My hartjie, my liefie/ die son sak weg” (p. 32) of in gewone beskrywings waar die klank meespeel soos in  “Sonbesiepraatkoor met die vink” (p. 25) en “Bokbaaivygie, disseldoring/ hoor jy ook die roofmeeu roep?” (p. 33). In “Die jagter se dogter” (p.47) word die hele vroegoggendse jagatmosfeer opgeroep in die eerste strofe, spesifiek deur na geluide te verwys:

 

Jaghoring krul ‘n hoë noot,
miswit skoorsteenrook.
Koperklanke rasper die klipmuur op,
hoog, tot by die dak se hoogste nok.
‘n Nes vol kuikens piep.

 

Die bundel is deurtrek van sintuiglikheid, meer nog daar is ‘n lewensdrif en ‘n sterk drang tot lewensgenieting wat uit vele gedigte spreek. Dit is selfs asof die liefdesmart waaroor in baie gedigte geskryf word, met ‘n soort energie beleef word. Dis inderdaad  byna ‘n gierigheid wat in die gedigte beskryf word, soos die eerste gedig dit self noem. Die gedigte vloei dan ook vlot voort met ‘n soort vaart en baldadigheid waarin ‘n groot energie opgesluit sit.

In geheel beskou is dit ‘n bundel wat spreek van ‘n soort dekadensie, nie as ‘n werklike lewensstyl nie, maar die lewensgenietende dekadensie van  daardie  estetiese ingesteldheid wat ‘n mens ook by Hennie Aucamp kry.  Die energie en vloei, die sensuele aard van die temas en van die gedigte self onderskryf hierdie waarneming.

Tog is die tematiese skopus van die bundel beperk. Daar is ‘n paar gedigte oor jeugherinneringe, ‘n paar stemmingsgedigte, ‘n paar verse oor kunstenaars, (Van Gogh en Sylvia Plath as metafoor), maar die meeste gedigte gaan oor die liefde en liefdeservarings. Daar is mooi wendinge in die gedigte soos blyk uit die aanhalings hierbo en ook soms verrassende metafore. Die verse vlot ook gemaklik en val ritmies sag op die oor.

Die bundel as geheel verloop vir my gevoel net te gemaklik en te glad, asof die keuse van woorde en reëls en strofes en gedagtes net te gou en te voorspoedig gemaak is. Dit is asof daar werklike diepgang ontbreek – wat miskien nie erg is nie, want waarom kan gedigte nie oop en duidelik en by-die-eerste-aansig-mooi wees nie? By herlees begin mens egter die baie geykte frases opmerk, die clichés, die soms te voorspelbare retoriese wendinge en ook soms die geforseerde klankpatrone en woordkeuses. Op die eerste vlak is hierdie bundel ‘n kleurvolle, klankryke en smaaklike leeservaring, soms uitbundig en soms weemoedig, maar altyd op vaart. By ‘n herlees word dit yler en voorspelbaarder, woordvaardig maar waarskynlik net te moeiteloos. 

 

@ Heilna du Plooy

 

Louis Jansen van Vuuren. Die handeling van draai…

Sunday, March 13th, 2011

 

First day of spring

First day of spring–
I keep thinking about
the end of autumn

 – Matsuo Basho –

Die ou eikebome staan nog steeds met kaal arms omhoog, maar daar is  ‘n verandering in die lug, die boere hier meen dat die seisoen gedraai het. Die eerste sprake van lente in die tuin is die plate psalmwit sneeuklokkies (Galanthus nivalis) wat in die Maartsonnetjie  skitter.  Dis ‘n spesiale ritueel om ‘n eerste bossie wit kelkies in ‘n glaspotjie (sommer ‘n ou pruimkonfytflessie) op die kombuistafel staan te maak. Dit is asof die onopgesmukte stillewe in sy eenvoud simbool word vir die ‘draaiende‘ seisoen.

Daar is plasse krokusblommetjies (Crocus laevigatus) oral onder die bome en hulle groei oordadig wit en pers tussen klam kolle mos op die grasperke.  Alles wat kan bot en blom is afwagtend, oorgehaal, daar’s botsels en swelsels aan elke lewende loot. Die kroon van hierdie voor-lenteskouspel is die klossies wilde irisse (Iris recticulata) wat vol durf en bravade fluweelblou blom.

 

‘n Groot helder wolklose hemel word hier Le grande Bleu genoem Die groot blou.  Op sulke dae, wat nou die orde van die dag is, kom alles in die dorpie na die winterdut weer aan die gang.  Oompies in blou overalls spit en hark en grawe in hul potagers .  Markdag is weer vol heerlikhede soos die eerste rosige ruhbarberstele. Boussac, die dorpie waarin ons woon het tydens die Romeinse as Boussacum bekend gestaan. Die omgewing is argeologies  goed bedeeld en het o.a. prehistoriese sites en ook Romeinse, Romaanse en Renaissance boustrukture. Die Franse skryfster, Georges Sand (1804-1876) het lang periodes in Boussac deur gebring en ‘n boek, Jean, hier geskryf. Frédèric Chopin(1810-1849) haar minnaar het van sy mooiste werke tydens sy verbintenis met Sand gekomponeer. Sy was ook goed bevriend met Franz Liszt (1811-1886) en Gustave Flaubert (1821-1880).

 

Die seisoenale siklusse beklemtoon ‘n onderliggende reeks patrone. ‘n Soort bloudruk vir die looptyd van die lewe. Sirkelvormige ritmes wat ons instinktief herken en  wat tot in ewigheid herhaal word.  Die kringloop van dag en nag, van die son en die maan …

 

Circle Theory

 

there are four extremes

in nature

here there then now

we know these via symbol

day night dusk dawn

summer winter fall spring

 

Ilexa  Yardley

06.21.2010

 

Ons word letterlik deur sirkels omsirkel. Dink aan die sierlike ring waarmee ons so ywerig trou belowe, die verkeersirkel waarom ons behendig stuur, die ronde tafel van koning Artur, die wiel van fortuin, die bose kringloop, ‘n ronde getal, ‘n rondawel, Rinke Ranke Rose (Ring a Ring o Roses), die  Doni Tondo van Michelangelo, die vergulde stralekranse om die Heiliges se hoofde en die lieflike gebrandskilderde loodvensters van die Notre Dame de Paris.

 

In die Franse digkuns kom een van die sirkelpatrone sterk na vore wat tot vandag toe nog digters en liedjieskrywers begeester. Ek vind die ou Franse digvorme boeiend en kan my verkyk aan al die moontlikhede en moontlike gebruike en aanpassings.

Die Rondeel (Rondelle, Rondeau, Rondelet wat ‘n korter weergawe is)

(rŏn’dəl, rŏn-dĕl’) 

 

Die  Rondeel is ‘n Franse liriese digvorm ( formes fixes ). Daar bestaan etlike variasies en verbouings van die digvorm, maar gewoonlik bestaan die rondeel uit dertien of veertien reëls. Dit word ingedeel in twee kwatryne  gevolg met ‘n kwintet (13 reëls in totaal) of ‘n sestet (12 reëls in totaal).

 

Die eerste twee reëls van die eerste stansa is ‘n refrein, wat herhaal word as die laaste twee reëls van die tweede stansa en die derde stansa. Daar is slegs twee rymklanke .

 

Rondeel deur Charles D’Orlean 1395-1465

 

Le temps a laissé son manteau 

De vent, de froideur et de pluie,

Et s’est vêtu de broderie

De soleil rayant, clair et beau.

Il n’y a bête ni oiseau

Qu’en son jargon ne chante ou crie:

Le temps a laissé son manteau

De vent, de froideur et de pluie.

Rivière, fontaine et ruisseau

Portent en livrée jolie

Gouttes d’argent, d’orfèvrerie;

Chacun s’habille de nouveau:

Le temps a laissé son manteau

De vent, de froideur et de pluie.

The weather has cast off its mantle 

Of wind, of cold and of rain,

And is clad in embroidery

Of radiant sunlight, clear and fine.,

There is neither beast nor bird

Which in its language does not sing or cry:

The weather has cast off its mantle

Of wind, of cold and of rain.

River, spring and stream

Wear a pretty livery

Drops of silver and jewellery;

Each dresses itself anew:

The weather has cast off its mantle

Of wind, of cold and of rain

 

Daar is  baie variasies van die rondeel . Byvoorbeeld, soms word slegs die eerste reël van die gedig aan die einde herhaal, of: die tweede refrein word aan die einde van die laaste stansa geplaas.

 

 

The Wanderer

 

Love comes back to his vacant dwelling,
The old, old Love that we knew of yore!
We see him stand by the open door,
With his great eyes sad, and his bosom swelling.

He makes as though in our arms repelling
He fain would lie as he lay before;
Love comes back to his vacant dwelling,
The old, old Love that we knew of yore!

Ah! who shall help us from over-spelling
That sweet, forgotten, forbidden lore?
E’en as we doubt, in our hearts once more,
With a rush of tears to our eyelids welling,
Love comes back to his vacant dwelling,
The old, old Love that we knew of yore!

 

Henry Austin Dobson(1840-1921)

 

Ander toevallige sirkelvorms wat my nou opval  is  die van verlate  leë neste. Gewrong uit al  wat spriet- en grassoort is. Sommige uit takkies en tou. Na die winter word die vakante neste oop en bloot gelaat in die blaarlose takke.  Die raserige swart kraai is nou baie opvallend in die tuin en die neste sit soos kladkolle in die boomskelette.

 

Dis asof die maand Maart aan die kraai behoort. Die ander voëls is minder openbaar in die blaarlose bome, of dalk elders doenig waar dit nog warmer is. Kort voor lank verander die ganse ruimte en dan word kraai een van ‘n groot gemeenskap. Maar altyd  met ‘n sterk teenwoordigheid.

Kraaie, leë neste en die veranderende natuur laat my dink aan soel somers in St. Remey de Provence. Ook aan Vincent en die skildery vol fladderende swart voëls. Hoe die tuin sawens verdonker en die kraai vir oulaas die dag vaarwel roep….dag nag skemer dagbreek

 

Skemer

 

Voëls fladder in die boomkruin rond;

laaste lig sak somber weg.

Rooi gekwas die skemer ruim,

blou sedimentfantoom,

neste en holtes vaag die donker takke in.

Als verdof in damas van aand –

eerste ster wat skugter sprokkel.

Waar voel jy die skemers aan

op jou wandelsweë ver van my?

Roek skrou die dag vaarwel,

waarsku sluimerende mens

teen bakoorjakkals en sjamaan.

Donker nou die hele tuin;

aand se eerste roep

die honger toringuil.

 

LJVV Tempermes

 

‘n Laaste  vers waarin die blink swart raaf ‘n rolverdeling het, vir nou:

 

The Door

 

Out under the sun stands a body.

It is growth of the solid world.

 

It is part of the world’s earthen wall.

The earth’s plants-such as the genitals

And the flowerless navel

Live in its crevices.

Also, some of earth creatures-such as the mouth.

All are rooted in earth,or eat earth, earthy,

Thickening the wall.

 

Only there is a doorway in the wall-

A black doorway:

The eye’s pupil.

 

Through that doorway came Crow.

 

Flying from sun to sun, he found this home.

 

(Ted Hughes.  From the Life and Songs of the Crow)

 

Louis Jansen van Vuuren

Louis Jansen van Vuuren

Louis Jansen van Vuuren is in Middelburg, Mpumalanga gebore. In standerd sewe skryf hy in by Hoërskool Middelburg se kunsklas.  Sy eerste kunsuitstalling vind op 17-jarige ouderdom in die Metodiste-Kerksaal in Middelburg plaas. Die uitstalling trek die aandag en The Rand Daily Mail en Vaderland skryf oor die jong man met belowende talent. Louis studeer later in die kunste en behaal ‘n BA Honneurs by die Universiteit van Stellenbosch. Vele uitstallings van sy kunswerke volg, plaaslik sowel as internasionaal. In 2010 publiseer Jansen van Vuuren sy eerste digbundel, Tempermes, wat goed ontvang word. Volgens Dr Riana Scheepers is hy ‘n digter wat dit regkry om sy lesers te beheks, om soos ‘n wilde, jong wolf die hekke van digterlike konvensies oop te huil, en dit boonop in oeroue digvorme soos die sestina, die aubade en die hooglied. Louis werk en woon in Frankryk op ‘n landgoed naby Boussac.