Posts Tagged ‘Terry Pratchett’

Gisela Ullyatt. Om te vergeet.

Thursday, June 19th, 2014

Ek wonder of ek in die minderheid sal wees as ek bieg dat ek soms erg bekommerd raak oor my geheuefunksies. Dis byvoorbeeld ver bo my vuurmaakplek (ek sal meer as net vingers verbrand) om enige gedig voor te dra, omdat ek bang is ek laat ’n essensiële woord uit. Of versreël. Of strofe. Ek kan nie begin om myself in te dink hóé Sandra Prinsloo al haar woorde vir Die Naaimasjien onthou het of hoe enige akteur P.G. du Plessis se dialoog in hul breinkaste stoor en weergee nie. Dus het die redelik onlangse bekendmaking van Wilna Snyman wat in die aanvangsfase van Alzheimer se siekte is, my erg ontstem. As iemand van haar statuur en jare se toneelspel (ook die duisende ure van sepie-dialoog) begin vergeet het, waar laat dit my in die toekoms? Waar laat ons dit dan almal?

Onrusbarend is die hoë voorkoms van demensie en Alzheimer se siekte deesdae. Dalk voel dit net so vir my, omdat ek soveel kennisse en vriende het wie se ouers tekens daarvan begin toon of reeds in ’n gevorderde stadium daarvan is. ’n Ander rede is dalk dat meeste mense bloot geen kennis besit het oor demensie of Alzheimer se siekte nie en dus kon niemand in elk geval openlik daaroor praat nie. My oumagrootjie, byvoorbeeld, het volgens oorlewering mense aan tafel se borde begin gaps terwyl hulle nog besig was om te eet, oortuig daarvan dat hulle ‘opgewas’ moet word. Sy het ook alle liefde vir haar geliefde Woord verloor en haar skooltassie met traktaatjies wat sy met sorg versamel en uitgedeel is later onaangeraak gelaat. Die familie het egter maar gepraat oor ouma se “verkalkte are”.

Deesdae is dit ’n geheel en ander storie: maak ek ’n tydskrif oop is daar ’n artikel wat lesers inlig oor die siekte en gevallestudies daarvan. Lyk my hy bekruip jou vir jare en wanneer hy hiert! skree, is dit te laat vir die persoon en vir sy/haar familie. Ons het ’n kennis wie se ma en pa in verskillende stadia van demensie én Alzheimer is. En omdat hy soms al om vyf in die oggend by die werk is en meer oortyd werk as wat meeste van ons in ’n leeftyd sal kan hanteer, het hy nie die energie of tyd om die kwessie aan te spreek nie. Self kan hy onmoontlik na sy ouers kyk. Hulle is nog nie eens op ’n waglys vir fragile care nie. Die logistiek van versorging van die huis af is ’n nagmerrie vir die meeste mense, hoe goed hulle dit ook al bedoel.

Ek haal my hoed af vir neurologiese navorsing wat op hierdie area fokus. Maar daar is net te veel teenstrydige navorsing wat gepubliseer word. Die een artikel sal byvoorbeeld bevind dat ’n dieet hoog in vetsure demensie kan beveg, terwyl ’n ander weer fokus op breingimnastiek, geheuespeletjies en soduku. So, ’n goeie salmon steak en visolie behoort die ding te doen…Of dalk nie? Ek wil sommer by voorbaat begin vergeet wanneer ek die fascis van vitamien-aanvullings, Patrick Holford, probeer lees. Dis nou bo en behalwe die feit dat ek nie die duisende ponde kan bekostig om by sy eksklusiewe instituut in Engeland getoets te kan word nie.

Die feit dat jy jou brein besig moet hou sodat demensie of Alzheimer jou nie kan bekruip nie, is beslis nie ’n versekeringspolis teen die Groot Vergeet nie. Iris Murdoch is ’n voorbeeld hiervan. In die fliek-weergawe van haar lewe, Iris, word dié dame deur Dame Judi Dench vertolk en as jong vrou, Kate Winslet. (Die klankbaan is gekomponeer deur James Horner en die solo-violis wat deurgaans optree en verruk is niemand anders as Joshua Bell nie).

Die fliek stel die twee Irisse briljant teenoor mekaar: Vroeër kon sy lang literêre gesprekke oor haar boeke voer of is sy gevra om toesprake oor literêre kwessies te hou. Maar later dool sy rond in die strate (hulle huis was so deurmekaar, die strate-invaar was dalk ’n beter alternatief) en verval sy in katatoniese geluk wanneer Teletubbies op die tv verskyn. Dit nou vir ’n vrou aan wie die Booker-prys toegeken is. John Bayley, haar professor-man (en so erg verstrooid, jy sou dink dat hy die een met Alzheimer se siekte sou wees) karteer onder meer die verloop van haar tragiese siekte in drie boeke: Iris: A memoir of Iris Murdoch (1998); Iris and her friends: A memoir of memory and desire (1999), en Elegy for Iris (1999). Gelukkig vier hy terselfdertyd ook haar lewe en boeke daarmee. Peter Conradi, ’n Murdoch-foendi en persoonlike vriend van die egpaar, se publikasie, Iris Murdoch: A life (2001) werp nog ’n blik hierop en is ’n boek wat ek beslis aanbeveel.

Nog ’n voorbeeld van iemand in die skrywerswêreld wat beslis nog nooit op sy literêre louere gerus het nie, is Terry Pratchett. Sy produktiwiteit verstom; hy is ongetwyfeld (wat produktiwiteit aanbetref) die Stephen King van die fantasie-genre. Sy Discworld-reeks het nie minder as 55 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop. Dié man hou homself dus besig. Blykbaar was dit egter nie genoeg nie. Die dokumentêre fliek, Living with Alzheimer’s, (2009) is ’n aangrypende rekenskap van sy spesifieke tipe Alzheimersiekte (Posterior Cortical Atrophy of PCA) en hoe dit hom aantas. Ondenkbaar vir ’n man met ses rekenaarskerms. Nou kan hy skaars sy eie das knoop.

Tematies is daar talle voorbeelde van hierdie slopende siekte in die digkuns, soos gesien in Billy Collins se “Forgetfulness” (Astley:214-215). Dis veral briljante insig omdat hy die gesegde “losing the plot” met soveel deernis (sonder druppende sentimentaliteit) skets in die vaktaal van ’n roman in die eerste strofe:

 

The name of the author is the first to go

followed obediently by the title, the plot,

the heartbreaking conclusion, the entire novel

which suddenly becomes one you have never read, never even

             heard of.

 

Die laaste strofe verwys na die vergeet van ’n liefdesgedig; iets wat daarop dui dat die persoon wat vergeet gelykgestel word aan daardie idee van “the missing link”, wat in hierdie geval die maan is wat nou in die liefdesgedig ontbreek. Die persoon wat vergeet word egter verder verontmenslik deur die siekte, omdat hy nou ’n liefdesgedig vergeet wat hy “by heart” geken het. Die liefdesgedig staan as tragiese simbool van die emosionele stroping wat die lyer begin ervaar –  hy het oplaas selfs begin vergeet om lief te hê:

 

No wonder you rise in the middle of the night

to look up the date of a famous battle in a book on war.

No wonder the moon in the window seems to have drifted

out of  a love poem that you used to know by heart.

 

Susan Smith se bundel, In die afwesigheid van sin, wakker die tema aan van die toenemende isolasie waarin die demensielyer haarself bevind in ’n “ou huis” (31) waarin die persoon “asemalleen” bly. Die gewigtigheid van hierdie proses wat die lyer omvou word veral effektief gebruik deur die “oorvol en swaar” stinkhoutmeubels en “toegewakste sediment”. In teenstelling hiermee word die “ligte kop”, die brein se neurale weë wat ophou kommunikeer en ironies genoeg die donker gedeeltes insluit wat op breinskanderings wys, treffend as metafoor gebruik in die laaste strofe. “Lig” verkry ook ’n dubbelsinnige betekenis deur die plasing aan die einde van die betrokke versreël:

want jou kop het lig

geword en knik waar jy sit

ligter selfs jou onthou.

Smith dig ook oor afasie, ’n spesifieke tipe demensie wat die Wernicke-area van die brein wat spraak beheer, aantas (“afasie”:88):

en iewers tussen die oog se kyk

en die klank op die lip

word van die neuronpaadjie afgeglip

word in die omstreke van Wernicke die spoor verloor

word die dobbelsteentjie geskommel

 

In “woordslaai” word die toenemende gapings in woordvermoë van die afasielyer uitgebeeld deur letterlike gapings in die tipografie en in “laaste taal” (90) word tydens ’n breinskandering uitgewys dat “bykans alle taal” nou uitgewis is, iets wat die laaste skakel met geliefdes wreed afbreek:

 

net die essensiële bly oor

 

my ma sê

my kind

 

só sê sy:

 

my

liewe

liewe

kind

 

dis al wat sy nog sê

 

Izak du Plessis, wat in Nuwe Stemme 5 debuteer, bied ’n unieke blik op Alzheimer se siekte. In “Alzheimer” (123) skryf hy oor sy oupa Jaap en gebruik hy deurentyd plaas-metaforiek. Die term “drukgang” verkry nuwe betekenis in hierdie konteks vir die leser:

 

In oupa Jaap se kop het stories tougestaan

om deur die drukgang van sy mond te stap.

As die dag uitgemelk en uitgevreet op stal was

het hy hul deurgejaag tot by die enemmeltafel

op die bloedrooi stoep. My hart het tiet getrek

vir hierdie hanslammers van Oupa.

 

Die dag toe groot vergeet die hek ooplos

het hulle met die grootpad weggedwaal.

 

 

Ek sluit af met die idee dat Alzheimerpasiënte ’n natuurlike Zen-begrip van die oomblik begin ontwikkel en handhaaf en nie meer in die verlede of toekoms lewe nie, maar wel slegs in die hier-en-nou. In Living with Alzheimer’s word ’n 88-jarige man met Alzheimer se siekte van Kalifornië, wat eens ’n vlieënier in die Tweede Wêreldoorlog was, gevra in watter Amerikaanse staat hy op die oomblik is:

 

Are we in New York?

 

I don’t think so.

 

Then where are we?

 

I guess we’re here.

 

Where is here?

 

Right here.

 

 

Bibliografie

 

Astley, N. ed. 2011. Staying Alive. Real poems for unreal times. Tarset: Bloodaxe.

Marais, L., du Plooy, H. eds. 2013. Nuwe stemme 5. Kaapstad: Tafelberg.

Smith, S. 2012. In die afwesigheid van sin. Pretoria: Protea.

Pleidooi vir genadedood

Wednesday, February 10th, 2010
Sir Terry Pratchett

Sir Terry Pratchett

Genadedood is reeds ‘n algemene gebruik in sommige Europese lande, soos België byvoorbeeld. ‘n Persoon doen formeel aansoek daarvoor, dit dien voor ‘n regter en ‘n hofbevel vir “doodsbegeleiding” word toegestaan. So het Hugo Claus – wat Alzheimers onder lede gehad het – verlede jaar suksesvol aansoek gedoen en is daar op 21 Maart aan sy versoek om genade voldoen.

Die afgelope weke is daar nou egter ook verskeie aksies in Engeland om ook dáár genadedood gewettig te kry. Martin Amis was enkele weke gelede voluit in die nuus met sy oproep om “euthanasia booths” in Britse woonbuurtes. Daardie tyd is dit afgemaak as ‘n reklamefoefie vir sy pasverskene roman, The pregnant widow, wat in hoofsaak oor sy “pathologically promiscuous” suster handel.  

Nietemin, ook Sir Terry Pratchett het hom nou by dié aksie gevoeg. Pratchett, wat selwers aan ‘n vroeë vorm van Alzheimers lei, het dié kwessie aangespreek in sy Dimbleby-lesing. Sy pleidooi is vir ‘n regbank wat bestaan uit ‘n regter wat in familie-aangeleenthede spesialiseer, asook  ‘n geneesheer met ervaring in langdurige siektes. “If granny walks up to the tribunal and bangs her walking stick on the table and says ‘Look, I’ve really had enough, I hate this bloody disease, and I’d like to die thank you very much young man’, I don’t see why anyone should stand in her way,” het hy gesê en bygevoeg: “Choice is very important in this matter. But there will be some probably older, probably wiser GPs, who will understand. The tribunal would be acting for the good of society as well as that of the applicant – and ensure they are of sound and informed mind, firm in their purpose, suffering from a life-threatening and incurable disease and not under the influence of a third party. “If I knew that I could die, I would live. My life, my death, my choice.”

Oor sy eie siektetoestand het hy hom soos volg uitgelaat: “It is not nice and I do not wish to be there for the endgame.” Pratchett is ‘n ondersteuner van die Alzheimer’s Research Trust en het reeds ‘n bedrag van £500,000 ten gunste van navorsing geskenk.

Die volledige berig kan op The Guardian se webblad gelees word.

Na aanleiding van ons Blogfokus vandeesmaand plaas ek as huldeblyk aan Hugo Claus enkele strofes uit sy bekende liefdesgedig “Nu nog” onder aan vanoggend se Nuuswekker. (Die volledige vers kan hier gelees word.)

***

Op Wisselkaarten verwelkom ons vanoggend vir Alfred Schaffer wat sy eerste aflewering geplaas het. Lees gerus ook die onderhoud wat in die vroeë dae van hierdie webblad se bestaan met Alfred gevoer is. Dan het ons ook vanoggend nuwe inskrywings deur drie van ons gereelde bloggers: Carina Stander, Ilse van Staden en Johann Lodewyk Marais.

Sommer ‘n héle klomp nuwe leesstof om die skok van hierdie middel-in-die-week-dag te versag.

Mooi bly.

LE

 

Uit: Nu nog

 

I
Nu nog, aan de galg vandaag, met een vod in de mond,
zij die wakker wordt met gezwollen lippen, ogen toe,
zij was iets dat ik wist en toen verloren heb, en hoe,
maar hoe ben ik haar kwijt, hoe blaft een dronken hond?

VII
Nu nog knoop ik haar gitzwarte haren in hanige
kammen en sprieten en stekels en verheerlijk haar als
totem en kruis in mijn huis dat onhandig en haastig
verandert in een tempel voor Minne, de steelse godin.

VIII
Nu nog al die kamers en nachten en roomkleurig naakt
en al die slaap erna en ervoor en de geur van hei.
Hoe ze snurkte toen ik vroeg of ze nu gelukkig was
en hoe ze de peluw aaide plompverloren naast mij.

XIII
Nu nog vergeet ik weer de goden en hun ministers,
zij is het die mij versplintert, veroordeelt en vergeet,
zij van alle seizoenen maar vooral van de winter
want zij wordt mooier, kouder naarmate ik verder sterf.

XXVIII
Nu nog terwijl ik in haar verstrengeld en geknoopt zit
is de Verwoester bezig en verschroeit Hij de mensen.
Mensen van enige standing zijn hun weg verloren
als na een gevecht zonder wapens en zonder winnaars.

XXIX
Nu nog in haar boeien geklonken en met de bloedneus
van minnaars zeg ik, van haar bloeiende lente vervuld:
‘Dood, folter niet langer de aarde, wacht niet, lieve dood,
tot ik klaargekomen ben, maar doe zoals zij en sla toe!’

 

(c) Hugo Claus (Uit: “Nu nog”)