Posts Tagged ‘Tertius Kapp’

Tertius Kapp. Goeiemôre Suid-Afrika

Wednesday, October 20th, 2010

Goeiemôre Suid-Afrika

 

Suid-Afrika, jy raas.

Ek slaap, voor die TV, ek droom ek is ‘n cowboy, iewers tussen verlede en toekoms,

maar jou nuuslesers se leuens maak my wakker. 

Vanuit my strokiesprent-huis salueer ek jou, Suid-Afrika, en knip sorgvuldig elke

oggend my ooglede af in jou stowwerige spieël.

Ek kak munte en note, en ek weet dis wat jy wil hê, die bloeding is normaal:

Moet jou nie oor my bekommer nie, Suid-Afrika.

Alles gaan OK wees.

(Ek is lief vir jou, Suid-Afrika)

(Ek lieg vir jou, Suid-Afrika)

 

Ek sien myself stylvol depressief in ‘n Hong Kong woonstel.

‘n Nag in Berlin Ostbahnhof, my paspoort in my onderbroek.

Slaapliedjies in Krk, maar wag, ek wys jou eksoties,

my vriende lieg vir oliesjieks, en ek goël met ‘n nuwe alfabet.

(Suid-Afrika, ek’s nêrens heen op pad nie)

(As jy gewonder het)

 

Ek wil nog bou aan jou strip club van waarheid, jou peep show van versoening,

sweterige R200-note in die G-string van jou geskiedenis stop.

Ek wil weet wat val val tussen jou gapings deur.

Uit jou mond kruip gewonde skrywers met hul letterlywe die paal uit, ter wille van

perspektief en die voorvaders.

(En wat ek seker probeer sê is:

dit maak seer om te skryf. En:

hier kan ek nie myself uitdink nie.)

 

Die mango’s ontbind my logika verpulp tot uh tot uh tot ‘n stotter en

tot ek verlang

na hoe dit ook al sy

desondanks, dus en met dien verstande

maar, desnieteenstaande en ten spyte daarvan

(Ek mis my twyfel, Suid-Afrika. Ek mis my ooglede.)

 

Ek vind myself in die gedagtes van erdwurms wat wag op ewolusie of apokalips

iewers tussen die verlede en die toekoms ek oorweeg die stand van die stande en die

staat van die staat ‘n vader wat leer kniel die verleiding van die effektebeurs die kreun van die

drukpers die kranse wat antwoord gee onder die voete van die

multinasionale maatskappy rys die stem van ons geliefde van ons land Zhōngguó

god seën die towernaars en gee woorde of valhelms vir die res van ons en dis seker

nou tyd

tyd dat ek stilbly

tyd dat jy vir my sê

wat (indien enigiets) is agter die gordyn?

 

Gee vir die Khoisan ‘n kernbom, Suid-Afrika.

Gee vir die onderwysers UZIs.

Gee sampioene vir die ANC

En laat die mynwerkers sing:

hande, voete, arms en elmboë,

Ek wil jou produkte koop, en my belasting betaal.

En alles omtrent jou sê

dat dit al is wat jy van my wil hê.

(Moenie my besteel nie, Suid-Afrika, kyk

Ek haal my hand uit my baadjiesak soos ‘n pofadder na jou.)

 

Iewers tussen die waarheid en biologie het ons mekaar verloor, Suid-Afrika.

Ek raak nie meer ontsteld nie. Net dronk.

Ek begrawe my ooglede om ‘n man te word, en dans nog steeds in jou neonwonde.

Suid-Afrika, ek is wakker, en bang.

 

Jy is snaaks soos ‘n plakkerskamp.

Jy pols in die nag, soos ‘n lem in die vlees.

Jy ontbind in ons arms,

Ek kou aan jou bene.

Ek lek jou neoliberale inflammasie.

Ek sit my skewe sewerandnoot in jou spaarvark.

 

 

© Tertius Kapp, 2010

Waar is ons Lasith Malinga’s?

Tuesday, September 29th, 2009
Lasith Malinga

Lasith Malinga

Goed, laat ek dit nou maar vanoggend erken. Naas my passie vir die poësie is ’n vergelykbare passie wat ek het, krieket. So sit ek verlede Vrydagaand en kyk na die wedstryd tussen Engeland en Sri Lanka. Meteens vra die kommentator ‘n vraag wat my laat regop sit: is Engeland ‘n span wat óór-afgerig word, want hoekom het hulle nie die unieke, eiesoortige spelers wat spanne soos Sri Lanka en Pakistan byvoorbeeld het nie? Ek meen, spelers soos Lasith Malinga, Muttiah Muralitharan en Ajantha Mendis voldoen hoegenaamd nie aan die norm vir “algemeen beskaafde krieketspelers” nie. Hul styl en aanslag is só willewragtig uniek dat geen afrigtershandleiding hul manier van doen sal aanbeveel nie. En tog - hulle is wedstrydwenners.

Vergewe my dus as ek vanoggend duiwelsadvokaat speel, maar die vraag kom onwillekeurig by my op: Waar is óns Malinga’s in die digkuns?! Is ons digkuns nie dalk self besig om soos die Engelse span oor-afgerig te word nie? Die een na die ander bundel verskyn met “veilige, super-afgeronde poësie”, maar waar is die Gert Vlok Nels en Breyten Breytenbachs van ons digkuns? Goed, Loftus Marais en Ronelda Kamfer is seer sekerlik opwindende debute, júís met bogenoemde in ag geneem, maar waar is digters soos Toast Coetzer, Erns Grundling, Annie Klopper en Tertius Kapp? Stel hulle gewoon nie belang nie, of kan hulle nie uitgewers vind nie? O, ja, en dan is daar nog iemand soos Kabous Verwoed ook … Wanneer gaan hulle ‘n bundel aanmekaar sit en die hele boksemdais op sy kop draai?

En sal ons keurders / resensente / uitgewers in staat wees om dié super-ónafgerigte digters te hanteer?! Of wat praat ek alles? Ons het immers almal en alle style nodig, is dit nie? (Terloops, indien dit jou interesseer: Engeland het met sy konvensionele, verbeeldinglose spelers die wedstryd teen Sri Lanka met 6 paaltjies gewen en daarna, in ‘n wedstryd Sondag, ons eie veelgeroemde Protea-span uitgeskakel. Boonop wil dit lyk asof Sri Lanka óók nie die uitdunrondtes gaan oorleef nie … Mmm, is daar dalk ‘n les hierin opgesluit vir ons? Ai, ai. Maar ek moet darem sê dat die kolfblad en atmosferiese toestande - lees: keurders / resensente / uitgewers - die Engelse span sowel Vrydag as Sondag bevoordeel het.)

Nietemin, vir jou leesprikkel vanoggend, die volgende gedig deur The Buckfever Underground, alias “Toast Coetzer se band”. Besluit self of dit die ware jakob is en of dit straks net prentendeer tot gedig wees. (Gaan lees gerus ook die onderhoud wat met hom gevoer is op LitNet.)

***

Ten slotte, ons het ‘n huldeblyk van Joan Hambidge ontvang na aanleiding van I.L. de Villiers se afsterwe die afgelope naweek. Gaan lees hierdie roerende besinning oor die gestorwe digter as vriend en die poëtiese krag wat hy was. Die huldeblyk is hier in die Brieweboks geplaas.

Geniet alles wat nuut is op die webblad vandag. En onthou: koes vir die opslagballe en speel tog (altyd) met ‘n reguit kolf.

Mooi bly.

LE

 

“Die Woord”

(deur The Buckfever Underground)

elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond elke woord is ‘n magneet wat die waansin kom opvreet elke woord is ‘n wapen warm teen jou sy elke woord trek water uit die diepste grond elke woord skep lug soos voëls wat vlug met kenne in die lug elke woord is ‘n wurm wat stil verorber aan elke blaar wat val soos ‘n druppel bloed

elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond uit die tong van ‘n mespunt kom moord uit die oorde van die hemel kom die vrugte van die hel en die plukkers is die punte wat verlief is op kommas die glans van die woord is die ronding van ‘n koeël die loodboot wat seil soos ‘n brief op die see jy’t jou lewe se tyd om in blind te verdwaal die gif in jou wond is skaars ‘n kwaal want die woord kom genees al die siektes van die vlees die woord is die agteros wat verbrand die kraal en speke steek deur die koppe van die kinders ‘n foon wat lui is blomme in jou ore elke sin wat klap is ‘n vars pan vol goud elke sprong van jou lippe is plesier in die klippe die kapkapkap van die lepels en die vurke en die messe en die borde wat skree koopkoopkoop

elke woord draai die rat in jou oog net stywer die drukgang word nouer en nie wyer nie elke woord is die kraak in die rand van jou kop die woord vir weeskind die gom wat vassit die spyker wat buig die pos in die pakkie met die rekkie om elke woord is ‘n sambreel wat oopvou en vertel elke storie uit die maag is ‘n slang wat vervel elke woord dra die grein van die eeue oue pyn die sement en die stene die stof en die puin die uitbasuin die binnehou die inkerker die uitblaker die woord haal die hoek uit sy mond en steek dit in die grond die woord staan halflyf in die water en roep om hulp

die woord was buite toe die wind gaan lê het toe die mis verdwyn het toe die nag verseker ‘n warm dag beloof het elke woord gooi duim in die uitgewiste pad van die vulkane se strepe oor die stomme leë landskap wat traanbevlek en oorbewei teen die kosmos se roetine wil stry

elke woord se hande ruik na die olie van die pistool onder die kussing daar gebêre vir wanneer die waansin te veel raak en die boewe en die vrese en die aansteeklike siektes met gemak deur die tralies voor die venster invloei soos die son in die oggend wanneer voëls teen die dak kom krap

elke woord is ‘n pot met kos in ‘n skerm aan’t kook, elke woord is geraam in ys elke woord herlaai koeëls by die huis elke woord is ‘n wekroep om terug te baklei elke woord is ‘n pleister vir die steekwond in die hart wat bly bloei want die bloed is te dun om rowe te maak elke woord is ‘n tafelgebed in ‘n huis van winter weemoed en worshonde skeur jou in twee vanaand maar die rivier vloei aaneen is jy ook so alleen as jy sê “ek”?

(c) Toast Coetzer / Buckfever Underground