Posts Tagged ‘The Pink Ladies Organization.’

Nini Bennett. Vermiste mense

Sunday, November 25th, 2018

 

 

1.

 

Jou naam kom nooit na vore

Nie in grou geregskantore

Nie in lêers oor verhore nie

Jou diepste, verste spore loop ook dood

 

Ek kan dit nie verduur nie

Daar’s geen saak en geen dossier nie

Geen deure wat nog skanier nie

En die wete: Jy’s nie hier nie

Voel soos lood

 

Ek bly opsoek na lank vermiste mense

Maar almal bly my oninhaalbaar voor

Die jare skif tot newels voor die lense

En die hart verloor maar mettertyd die spoor

 

Die stad bars uit sy nate

En die rustelose strate

Sonder jou is leeg verlate

En ek weet in watter mate ek jou mis

Ons praat soms soos tevore

En ’n droom word weer gebore

Maar ’n wêreld lê verlore

In die leegheid van die woorde

Wat daar is

 

Ek soek vergeefs na lank vermiste mense

Wat om my is, maar onbereikbaar ver

Wat langsaam uitgekring het oor my grense

Nog lokkend, maar afsydig, soos ’n ster

 

Koos du Plessis

 

Volgens kenners is daar oorkoepelend vier hoofoorsake waarom mense as vermis aangegee word. (1) Die persoon het doelbewus weggeloop vanaf die huis. (2) Die persoon was van plan om selfmoord te pleeg, en die weglooppoging ’n manier om eerder in absentia deur naasbestaandes onthou te word as om met die verdoemende tyding van selfdood gekonfronteer te word. (3) Die persoon het vermis geraak as gevolg van vuilspel soos ontvoering of moord. (4) Die persoon was ’n slagoffer van ’n ongeluk soos ’n natuurramp, ’n motorongeluk of ’n siektetoestand. Redes vir verdwynings kan verder in subklassifikasies geressorteer word, byvoorbeeld: die persoon verdwyn omdat hy voortvlugtend is vir die gereg (versuim om in die hof te verskyn); of as gevolg van geestesstoornisse soos bipolariteit, skisofrenie en demensie; die persoon verdwyn om ’n nuwe begin te maak onder ’n ander identiteit; óf om verantwoordelikhede te ontduik; dan speel verslawingstoestande, werkloosheid en huishoudelike konflik ’n rol. Uiteraard word die individu se potensiële betrokkenheid by misdaad, of selfs ’n fabrikasie van ’n eie dood vir versekeringsdoeleindes, soms ondersoek. Hoe dit ook al sy: om ’n verslag van ’n versmiste persoon saam te stel, is nooit goeie nuus nie.

Tussen Januarie en Desember 2015 is daar op nasionale vlak 941 mense as vermis aangegee. Die Weskaap het die meeste verdwynings gerapporteer (499) teenoor Gauteng se 380, terwyl die ander provinsies se statistiek relatief laag is (Grafika 24). Ongeveer 90% van hierdie individue is lewend (maar nie noodwendig ongedeerd) gevind nie. Die meeste verdwynings haal nooit die hoofstroommedia nie en is volledig aangewese op gemeenskapskoerante en -organisasies vir bewusmakingsveldtogte rondom vermiste mense. In hierdie verband is The Pink Ladies, ’n Artikel 21-maatskappy, van onskatbare waarde. Kriminoloë, sielkundiges en ander gedragskenners beywer hulself daagliks (in samewerking met die SAPD) om die vermistes op te spoor en die publiek te betrek by wyse van biljette, plakkate en die sosiale media. Daar word toegesien dat diegene wat teruggevind word, die nodige mediese bystand en berading ontvang. Die opspoor en behoud van verlore individue hang meer as ooit van Jan Publiek af, alhoewel daar nog polisiebeamptes is wat toegewyd is aan hierdie taak.

Agter elke verdwyning skuil ’n intrige en talle tergende vrae. 2 Februarie 2018 is Dylan de Beer (18) van Herculus, Pretoria as vermis aangegee. Sy voertuig is enkele ure later opgespoor in Mountain View – reeds te laat; die jong man het homself vergas. Op 25 September 2018 verdwyn ’n Chileense ingenieur en toeris, Slavko Yaksic (29) in KwaZulu-Natal. Dié goedgelowige rugsakpakker het ’n tent opgeslaan langs ’n straat in Bergville en ’n plaaslike pastoor het hom gewaarsku dit is Suid-Afrika dié: dit is gevaarlik, waarop hy geantwoord het dat hy al op gevaarliker plekke in Chili was, en dat vriendelikheid ’n mens ver bring. Yaksic se liggaam is op 28 September in ’n slaapsak aangetref. Hy is aan steekwonde dood. Alle verhale eindig gelukkig nie op ’n treurige noot nie. Op 2 Mei 2018 verdwyn die 13 maande oue Eden Laird van Brackendowns saam met die huiswerker. ’n Spesiale ondersoekspan is op die been gebring nadat ’n losprys van R6 miljoen op klein Eden se lewe geëis is – en die huiswerker is saam met vier Zimbabwiërs en ’n Suid-Afrikaanse man aangekeer. Die seuntjie is ongedeerd terugbesorg aan sy ouers.

Daar is geen wagperiode om ’n vermiste persoon in Suid-Afrika aan te meld nie. Hoe vinniger die nodige vorms by die naaste polisiestasie ingevul word, hoe beter. Die eerste 24-48 uur is van kritieke belang om iemand lewend terug te vind.

2.

Ek blaai deur die honderde plakkate van vermiste persone. Die anatomie van verdwyning vereis ’n baie noukeurige persoonsbeskrywing: die genadelose tentoonstelling van die liggaamlike idiosinkrasie. Die sigbare is nou onsigbaar; en die onsigbare word dwingend sigbaar gemaak. Die detail rondom jou tatoes en littekens (waar; hoeveel): wáárdevolle inligting. Liggaamsbou: swaar, medium, petite. Jou gewig in kilogram. Lengte. Die toestand van jou tande (jou eie; ’n kunsgebit; onegalige tande; vermiste tande – waar en hoeveel). Die kleur van jou hare, oë. Klerasie – tot jou skoene (die handelsmerk: Nike; Addidas). Alle detail kom onder die soeklig. Jou hele bestaan konvergeer tot een fokale punt, jou voorkoms en bewegings vóór die verdwyning. Dan word die plakkaat saamgestel en versprei, teen lamppale opgesit vir die publiek se honger oë en saam met gemorspos in voorstedelike posbusse gedruk. Jou laaste foto word ’n spookbeeld. Daar is min dinge juis so aanwesig as die plakkaat van ’n verdwene persoon. Dit word die beliggaming van eksistensiële angs.

Die naasbestaandes wat wag en agterbly, bly weifel tussen hoop en wanhoop, die digotomie van hulle bestaan. Vermiste kinders se kamers word vir jare onaangeraak gelaat. Die tyd het gaan staan. Maar in die grysland van die verbeelding is enige iets moontlik. Sommiges glo hulle geliefdes is weggeraap – dit staan immers in die Bybel – en dalk is dit genadiger só.

Ek het die afgelope paar maande van vermiste mense begin droom. In die kanon van drome is temas van verdwaal en vervreemding welbekend en dui dit waarskynlik op uitdagings of veranderende lewensomstandighede. Baie drome beland in die rommelhoop van die onderbewussyn; tog geluk dit mens soms om ’n fragment uit ’n ou droom te onderskep.

Die verlooptes

Wat oorbly, is dan die koffer met die dom hoeke, afgestomp deur reise, soos vrae sonder antwoorde. Ek droom van hekke wat bly toeskuif agter my, ek het die afstandkontroles lank gelede reeds verloor; en taxi’s met toeters, sketterend, die rugkante van mense met wapperende klere. Die wind is ongeduldig. Ek spaar suinig aan herinneringe, maar die nalatenskap is min, dog ryk: dis verlies wat nuwe leemtes opsoek en uiteindelik volkome word. Die gaping tussen onthou en gebeur word groter en die verweer is dun. Slotte swyg, toegeroes in die vagevuur van tyd. Die dooie sleutels word weggegooi. Ook die strate het wyer geword en die loopgang ontwykend. Die laaste skaduloop het begin. Lywe vloei weg sonder buitelyn of silhoeët, soos astrale wesens of diere wat in hulle digste kamoeflering sluimer. Teen die lamppaal pryk ’n plakkaat met ’n foto van ’n vermiste vrou en ek staar na die mense wat oopmond bly rondkyk en draai my gesig weg want dis ék wat in vakante ruimtes teen lang, dun pale skuil. Vermis is nie incognito nie. Dan is ek oral en die mis word swaarder en alles raak amorf soos ’n ou verdriet. Onuitgesproke. Die wit duisternis van mis.

Verwysings:

 

Morewitz. S.J. 2018. Handbook of Missing Persons. Switzerland: Springer International Organization.

Missing Children South Africa. Graphics 24.

Missing Minors. The Pink Ladies Organization NGO 2007. Facebook.