Kaart na 20ste-eeuse musiekskatte
Thursday, February 4th, 2010Ek het laasjaar baie boeke gelees, en dit sou sekerlik onmoontlik wees om te sê: hierdie een was die beste, of: daardie een het ek die meeste geniet. Maar tog dink ek die boek wat die mees onmiddelike, en dalk selfs meetbare impak op my gehad het, was Alex Ross se The Rest is Noise: Listening to the Twentieth Century.
Ross se boek is ‘n meesleurende inleiding tot twintigste-eeuse kunsmusiek (of ‘klassieke’ musiek, soos dit in die volksmond bekend staan, al gee Ross ook by tye aandag aan jazz en progressiewe rock) en behoort regtig deur almal gelees te word wat in die musiek, of sommer net die kunste in die algemeen, belangstel. Dit is deeglik, intelligent en inspirerend – sonder om onnodig in musikologiese vaktaal te verval.
Wanneer ek sê The Rest is Noise het ‘n ‘meetbare’ invloed op my gehad, verwys ek na die drastiese groei van my CD-versameling die afgelope jaar – en, natuurlik, na die inverse effek wat daardie groei op my spaarrekening gehad het! Danksy Ross loop my musiekervaring nie meer dood by die vroeë twintigste-eeuse reuse Debussy en Stravinski nie, maar het ek ook komponiste soos Britten, Ligeti, Messiaen en Adés ontdek. Dit was en bly ‘n avontuur wat ek nie eers vir ‘n gerehabiliteerde spaarrekening sou verruil nie!
Ross, musiekresensent by die New Yorker, het ‘n uitsonderlike vermoë om musiek evokatief en sonder onnodige musikologiese kompleksiteit onder woorde te bring. Sy musiekbeskrywings is trouens by tye bykans ‘n literêre belewenis, en dit laat die oor hunker na onontdekte, dikwels vreemde klanke. Sy kennis van die twintigste-eeuse musiek is ensiklopedies, maar meer indrukwekkend selfs is sy vermoë om daardie musiek in etstetiese, maatskaplike en politieke kontekste te situeer.
Die biografiese gedeeltes oor spesifieke komponiste, soos Sibelius, Britten en Sjostakowitsj, is ook uitstekend: eerlik, ewewigtig en vol begrip. Gaan lees maar sy hantering van die komplekse kat-en-muis verhouding tussen Stalin en Sjostakowitsj, of van Benjamin Britten se beweerde seksuele betrokkenheid by jong seuns. En dan is daar die menige brokkies prettige skinder, soos Stravinski se buite-egtelike verhouding met Coco Chanel, of Schoenberg se pogings om groot geld te maak in Hollywood…
Heelparty vroeë twintigste-eeuse komponiste is natuurlik vandag huishoudelike name: Mahler, Strauss, Stravinski, Debussy, Prokofiev, Sjostakovitsj, en ander. Meer onlangse komponiste is egter die stiefkinders van die globale kultuurindustrie. Ross se boek is dan ook ‘n uitstekende inleiding tot fassinerende hedendaagse komponiste, soos die Amerikaners Steve Reich en John Adams, of die jong Brit, Thomas Adés. Laat ek dit so stel: Ross maak dit duidelik dat daar meer huidige komponiste is om te ontdek as die alomteenwoordige Arvo Pärt en Henryk Gorecki.
Ek kan hierdie boek nie sterk genoeg aanbeveel nie. Dit is ‘n reisgids vir diegene wat die landskappe van die twintigste-eeuse kunsmusiek nog moet ontdek, maar sal ook groot genot verskaf aan reeds ingelyfdes. Jy sal Ross se musiekbeskrywings en soms eiesinnige oordele met jou eie ervaring en kennis kan vergelyk.
Self het ek die boek soos ‘n roman verslind, en gebruik dit sedertdien as ‘n gids wanneer ek nuwe musiek eksploreer.





