Posts Tagged ‘Timboektoe’

Johann Lodewyk Marais. François Mitterand se biblioteek

Monday, June 14th, 2010

Bewaringsaksies kan skouspelagtig wees, soos dié wat gespruit het uit die visie van François Mitterand, ‘n voormalige Franse president, met die bou van Parys se Bibliothèque Nationale de France. Die biblioteek is in 1995 ingewy, en bevat elke boek en tydskrif wat sedert 1537 in Frans gepubliseer is. Met hierdie kolossale en moderne projek het Mitterand ‘n grootse argitektoniese nalatenskap vir hom en sy tyd geskep. Die bewaringsaksie kan ook minder skouspelagtig wees, soos dié van een van die eienaars van ‘n oorgelewerde Arabiese manuskrip in Timboektoe wat ‘n stryd teen die opdringerige sand van die Sahara voer deur voortdurend sand van die blaaie van sy boek weg te blaas. Of iemand wat nie oor die vermoë beskik om sy of haar gedagtes neer te skryf nie wat ‘n wonderlike storie êrens in die groot Afrikaanse nag aan belangstellendes oorvertel. Ja, die versameling, bewaring en benutting van dié skatte is belangrik en kan baie tot die prestige en trots van ‘n nasie bydra.

Johann Lodewyk Marais. Timboektoe se antieke manuskripte

Tuesday, February 16th, 2010

Afrika het met verloop van tyd belangrike manuskripversamelings opgebou. Hierdie dekade was daar tewens ‘n inisiatief waarby Suid-Afrika ten nouste betrokke is wat my net so opgewonde maak soos die herlewing van die Bibliotheca Alexandrina. Ek praat van die ooreenkoms tussen die regerings van Suid-Afrika en Mali wat in 2002 onderteken is om die antieke manuskripte in die Ahmed Baba-instituut vir Hoёr Onderwys en Islamitiese Navorsing in Timboektoe aan die Nigerrivier in daardie Wes-Afrikaanse land te help bewaar.

Timboektoe was lank bekend as ‘n sentrum vir navorsing op die gebied van die wiskunde, sterrekunde, chemie, medisyne, weerkunde en godsdiens. Sowat 18 000 Arabiese tekste op delikate papier wat uit die dertiende eeu dateer, het behoue gebly, baie in privaat versamelings in geboue en wonings van modder en hout. In die tyd toe Mali ‘n belangrike trans-Sahara-handelsroete (onder meer danksy die goud-, sout- en slawehandel) was, het talle kunstenaars, digters, akademici, politici en godgeleerdes daarheen gegaan. Die nagedagtenis aan Timboektoe se ekonomiese, intellektuele en geestelike glorie het voortbestaan lank nadat die handelsroete oor land veral as gevolg van Europese skeepsvaart langs die Weskus van Afrika hoofsaaklik net maar nog nomade met soutblokke op hulle kamele bedien het (kyk Shamil Jeppie & Souleymane Bachir Diagne, The meanings of Timbuktu, 2008).

‘n Insamelingsdinee vir die trustfonds wat deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika bestuur word, is op 1 Oktober 2005 vir Suid-Afrikaanse besighede en privaat skenkers gehou. Die fonds beoog om die manuskripte in die Ahmed Baba-instituut te bewaar, ‘n nuwe gebou vir die versameling op te rig en die bestudering van die versameling te bevorder. In sy toespraak by die dinee het oudpresident Thabo Mbeki onder meer die volgende oor die versameling gesê: “These manuscripts debunk the myth that the tradition in Africa was always and only an oral tradition. The manuscripts point to the significance of the written tradition – a tradition that long predates the arrival of European colonisers on the soil of Africa.”

Die Timboektoe-manuskripte, wat reeds toerisme na Mali ‘n hupstoot gegee het, het in Suid-Afrika ‘n hoё status aangesien dit die eerste amptelike kultuurprojek is van die Nuwe Vennootskap vir Afrika-ontwikkeling (of NEPAD), die sosio-ekonomiese herlewingsplan van die Afrika-unie. Die manuskripte is ook ‘n Suid-Afrikaanse Presidensiёle projek, wat deur die Presidensie en die Departement van Kuns en Kultuur, deur die Nasionale Argief in Pretoria, gekoördineer word. ‘n Beraamde R36 miljoen is nodig vir hierdie projek wat oor vyf jaar strek.