Posts Tagged ‘Toast Coetzer’

Andries Bezuidenhout. Toast se vlug Johannesburg toe

Thursday, January 31st, 2013


The Buckfever Underground se derde plaat Verkeerdevlei is nou al ʼn rukkie beskikbaar, maar nie in die CNA nie. Buckfever se woorde word deur Toast Coetzer geskryf, ʼn Oos-Kapenaar wat as digter en liriekskrywer ewe tuis in Engels as Afrikaans is. Vroeër vandag het hulle ʼn nuwe video vir een van Verkeerdevlei se tracks op YouTube gelaai – “Flight to Joburg”. Gaan luister & kyk gerus hier en lees meer oor Verkeerdevlei en Buckfever se ander plate hier.

René Bohnen. 2012 Melville gedigte

Monday, October 15th, 2012

En daar spring Andries Bezuidenhout my voor! Net toe ek klaar geskryf het aan my verslaggie en dit wou plaas, sien ek sy lekker fotobeeld (http://versindaba.co.za/2012/10/15/andries-bezuidenhout-melville-poesiefees-fotobeeld/) van die fees. Laat ek dus liewer net aansluit by sy beelde.

Die gees was daar, Vrydag was die strate nat, die wolke donker en ons was bevrees dat dit meer Woodstock as Melville gaan wees. Maar toe Hennie Meyer Saterdagoggend nege-uur die mieliepitte begin pak op die tennisbaan, was dit droog – soos vere.

Die duiwe het dalk nou al die hele gedig opgepik, ek weet nie.

Ek het baie sessies bygewoon, Afrikaans en Engels, voorlees en performance, stigtelik en dansend – oral het ek iets interessant gehoor. Op die sypaadjies is vriendskappe gesmee of sommer hervat of losweg teen die vensters uitgeasem om drywend daar te wag tot volgende keer, volgende jaar.

Bekende, minder bekende en heeltemal onbekende digters het gemaklik skouers geskuur en in gemengde groepe voorgelees. Daar was ook twee Oopmond bekgevegte, waar ek Toast Coetzer en Danie Marais sien kragte meet het.

Doodmoeg het ons Sondagmiddag om en by halfses klaargemaak. Daar was digters van Kaapstad en Durban, kruis en dwars het hulle gekom, gewapen met bundels en CD’s. Bontspul, was ons. Heeeerlik!

Ongelukkig het ek die twee belangrike paneelbesprekings nie kon bywoon nie, ek het egter straatpraatjies gehoor wat die “lojale verset”-onderwerp voortsit. Die digter as “sexual shapeshifter” is net-net buite my gehoorveld ernstig bespreek oor snye pizza, oor bottels water. Kuier-kuier die aand in. Nouja, volgende jaar maak ons weer so.

Andries Bezuidenhout. Melville se poësiefees, 2011 – fotobeeld

Monday, October 17th, 2011

Dis nie met groot fanfare afgekondig nie. Die fees se baniere het ʼn underground kwaliteit gehad – dit is nie dwars oor strate opgehang nie, maar tussen die pilare van Melville se 1930s-geboue. Die Facebook-bladsy is eers ʼn week of wat voor die fees opgesit, die program selfs later. Maar nuwe bundels is die wêreld ingestuur (een van Gail Dendy), gesprekke is gevoer (een oor die nalatenskap van Wopko Jensma), gedigte is in binnehowe en restaurante voorgelees, weefwerk tussen beeldende kuns en woordkuns is teen mure opgehang (deur Hans Pienaar en Charl-Pierre Naudé), musiek is in teaters opgevoer, ʼn imbongi het van Melville se dakke af geroep (darem deur luidsprekers, spookagtig in die kalklig), gedigte is sommer op straathoeke voorgelees – enigiemand kon kom luister.

Ek wil nie veel hier sê nie, laat die foto’s eerder praat. Ek wil egter twee punte maak, oor wat die fees vir my besonders gemaak het:

Eerstens, die intieme skaal en aard van die voorlesings. Daar was twee geleenthede vir Afrikaanse gedigte – die een in ʼn restaurant se binnehof (“Melon Courtyard”) en die ander in ʼn aardige kroeg/restaurant (“Love & Revolution”). Daar was nie mikrofone en luidsprekers nie. Hans Pienaar het elke digter op sy rustige manier voorgestel en dan het mense sommer opgestaan waar hulle sit en hul gedigte voorgelees. In Love & Revolution het ek sommer op die vloer gesit, dalk die beste plek in tye van liefdeloosheid en revolusies wat skeef loop. Die spanning tussen van die digters het die geleentheid ʼn vreemde tipe energie gegee.

Tweedens, die ware Johannesburgstyl. Dit was ʼn Suid-Afrikaanse fees, waarin Afrikaans ook verteenwoordig was, as een van baie tale. Op ʼn persoonlike noot was dit vir my lekker om my musiek aan mense te kon voorstel wat nie andersins daarna sou luister nie. Ek het gepraat oor Voëlvry se verbintenis met Johannesburg en die vertoning met Kerkorrel se “Gee jou hart vir Hillbrow” afgeskop; dinge van daar af verder geneem. Al kon sommige van die mense in die gehoor – waarskynlik die meerderheid – nie Afrikaans verstaan nie, was die ontvangs tegemoetkomend en het ek welkom gevoel.

Gee jou gedigte vir Hillbrow...

Banier tussen pilare

Gedigte op straathoeke

Christo van Staden, ook bekend as Johannes van Jerusalem

Corné Coetzee lees voor, Hans Pienaar luister

Toast Coetzer lees: "Die Here is my herderspastei..."

Loftus Marais lees, Harry Kalmer heel links

Charl-Pierre Naude lees, Johann Lodewyk Marais in die gehoor

Rene Bohnen lees

En Cornel Judels

Heidi Papadopoulos

Johann Lodewyk Marais, oor Livingstone en Lamu

Andries Bezuidenhout. Dis Maandag en dis Toast Coetzer se verjaarsdag

Monday, September 12th, 2011

En net daarom plaas ek ʼn ou Toast-liriek, van The Buckfever Underground se plaat Survival is Personal. Die liriek se naam is “teen maandag is ons dood”:

met verbysterende vaart snel die seisoene deur die senterpaar van skoonheid en skoon jagsheid by die kroeg waar almal so half vooroor leun om of iemand se cleavage te check, of die barman se aandag te probeer kry of bloot net om te kots tussen die kakhuis en die klein sirkels van jou vriende (geheg in die nag, aanvegbaar in die dag) wat die hekke vir jou oopmaak, die lyne vir jou trek, die bloed so skaam-skaam druk uit die hoeke van jou verstarde oë.

want deur die weke soek ons na woensdae, gewond maar gelukkig, getrek maar dapper. en teen vrydag soek ons saterdag en teen sondag soek ons sportkanale en warm maaltye, want teen maandag, teen maandag is ons dood.

en dis soos ‘n ou flou flat sikloon dat ek weer hier staan, gemaak gemaklik geleun teen die trappe, nonchalant selfs, met my tiere onderwater, my hare onder ‘n sambreel, my hart fyngekou en weggebêre tussen my kiestande en ander vastelande. want ek’t niks hier te bewys nie, net drank om te drink, smalltalk om te eggo en te herhaal en weer en weer te sê. cool. what’s up. sure.

ja, ons soek na woensdae, gewond maar gelukkig, getrek maar dapper. en teen vrydag soek ons saterdag en teen sondag soek ons sportkanale en warm maaltye, want teen maandag, teen maandag is ons dood.

kyk, daar kom nou iemand. sal ons haar van bra-strap tot oulikgeid bespreek en bestreel, sal ons haar hare soos ‘n timotei ad sien wapper in die vroegdag, watervalle reg langs jou bed, kondoom-bedekte bankrowers met budgets vir duur shooters en cheap frills en deur die kak pick-up lines. ons kry tog waarvoor ons vra. of hoe?

maar deur die weke soek ons na woensdae, gewond maar gelukkig, getrek maar dapper. en teen vrydag soek ons saterdag en teen saterdag soek ons sondag en teen sondag soek ons sportkanale en warm maaltye, want teen maandag, teen maandag is ons dood.

iemand kom in en bars deur die donker vistenk waarin ons sit en iemand rol ‘n joint vol ou kak dagga en die kers in die middel voel vasgehalter tussen al die bottels en niks en wil-wil brandsteek, kwaaddoen, roosblom en ontplof maar sover as wat ek kan sien is daar niks, niks wat nog ‘n vrydag nie net nog ‘n vrydag gaan los nie.

ja, want deur die weke soek ons na woensdae, gewond maar gelukkig, getrek maar dapper. en teen vrydag soek ons saterdag en teen sondag soek ons sportkanale en warm maaltye, want teen maandag, teen maandag is ons dood (maar gelukkig).

ja ons soek na woensdae. getrek maar dapper. lusteloos. teen vrydag, krieket op die tv. teen sondag, gekookte maaltye. en candice hillebrand se boobs. weer eens. ag fok. want teen maandag is die stasies op, luister, dis nie oor trein nie, hoor. iemand kom in en bars deur die donker vistenk. getrek maar dapper, verlore maar nie weg nie.

Gaan luister hier na The Buckfever Underground se musiek.

Andries Bezuidenhout. Toast en Erns op Bush Radio

Thursday, June 9th, 2011

Ek het al ʼn slag of wat vantevore hier oor die Unhappy Hour geskryf (“The Unhappy Hour, where you can cry if you want to…”) – ʼn left field program wat Sondagaande op Bush Radio uitgesaai word, van 18:00 tot 20:00. Vriende en kollegas in die Kolonie kan dit op die lug luister – op 89.5. Mense wat nie anderkant die Hexriviervallei bly nie, kan dit wel op die web hoor – dit stream hier. Sondagaand is Toast Coetzer en Erns Grundling se beurt.

Dankie tog hiervoor, in tye van generiese musiek, generiese nuus, generiese opinies en generiese siektes.

Digstring

Thursday, February 10th, 2011

Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.

Digstring

Digstring

 

 

Inhoud

 

A-B 

Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010

Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010

René Bohnen. Brief aan Ebba. Mei 2012

Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011

Aniel Botha. Rooikappie en die wolf. Mei 2012

C, D, E

TT Cloete. Swerwende verse

Toast Coetzer. geluk

Marius Crous. Die ander man

Anne-Ghrett ErasmusSkilder 

Sydda Essop. Ek lewe in stilswye

Louis Esterhuizen. Melopee

F, G

Gilbert Gibson. Another roadside attraction

Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.

H, I, J

Joan Hambidge. “The drama of being a child”

Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010

Joan Hambidge. Parys

Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010

Pieter Hugo. Honde

Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010

K, L

Ronelda KamferStof. Junie 2010

Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht

Martine Klopper. Kwatryn

Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010

Karen Kuhn. Taalles. Mei 2012

Kobus Lombard. Kameeldoring

M, N

Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey 

Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie

Melt Myburgh. Toeval

Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010

O, P, Q

Pieter Odendaal. die eerste steen.

Johannes Prins. Man diesel

R, S

Andries Samuel. All god’s children took their toll

Carina Stander. Lima

Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010

T, U

V, W

Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite

Ilse van Staden. Fluistering

Cas Vos. Kersrook

Cas Vos. Uitkyk. Mei 2012

Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com

 

 

Toast Coetzer. Suid-Afrika

Monday, September 27th, 2010

Suid-Afrika  

 

Vir jou Suid-Afrika alles en niks; asemhaal.

Vir my, twee resepte, R87, mediese fonds- en bankkaart

18 Augustus 2010.

My kop is ‘n platgetrapte brood

Suid-Afrika, die oorlog, waarom die oorlog teen jouself?

Sny jou vingers af met jou los hand.

Ek voel g’n goed, voertsek!

Ek bloei in my pen in, opgeswel soos ballon.

Suid-Afrika, wanneer maak jy my trots?

Behalwe vir wanneer jy sokkerdoele skiet?

Wanneer gaan jy jou voete sien, aan vodde?

Waardig wees, ‘n held, ‘n heldin, vir jou miljoene werkers?

Suid-Afrika, hoekom kan jy nie lees nie?

Suid-Afrika, jou mielies gaan als Zimbabwe toe?

Ek’s gatvol vir alles wat jy vra.

Wanneer kan ek iets terugkry vir al my Big Issues, die bedelaars,

die sakke klere?

Suid-Afrika, ja, dis net jy en ek hier, en Precious maak nie

eers ordentlik skoon nie.

Jou geharwar maak my moeg.

Jy wou my wat maak, wát?

Ons kan nie eers hieroor armdruk nie, dis sinneloos.

Die dokters is in Toronto ek glo nie hulle gaan terugkom nie

dis te verstane.

Verstaan jy of hoor jy of probeer jy hoor of is jy dronk iewers by

‘n partytjie?

Ek wil by die punt kom.

Ek weier om te glo jy’s verlore.

Suid-Afrika, sit, ontspan, ek betaal my belasting.

Suid-Afrika die kokerbome blom reeds in April.

Vandag in die koerant op die internet gelees, drie mense

beroof en toe gestoor in die vrieskas van hul roomyswinkel.

Suid-Afrika ek dink ek gaan aansluit by COSATU.

Suid-Afrika ek was nog altyd ‘n werker maar ek was wit.

Ek’s nie jammer daaroor nie.

Ek drink en my oë sloer op knieë.

Ek sit hier met koue vingers bokant Helen Zille

se huis.

Hulle sê sy koop No Name Brand produkte.

En drink sommer kitskoffie.

Ek glo nie noodwendig in rewolusie nie.

My kop sê vir my hou wat jy het.

Ek bid soms, vir ingeval.

Ek voel die hartklop van bome, weerlig maak my jags.

Suid-Afrika, ek sê vir jou, die mense hier kom van oral

Jy moet dit onthou, jy is almal.

Ek praat met jou.

Gaan jy jou hart laat lei deur dit wat gebeur op

DSTV?

DSTV is my herder.

Ek kyk daarna wanneer ek kan, in kroeë en hotelle.

Dis aan in almal se huise waar ek kuier, dit loer na my op

die sypaadjies van die stad.

Ek kyk daarna wanneer ek koffie koop.

Dit voer my inligting wat my aandag aftrek van die wêreld.

Die wêreld was eens doodernstig. Televisie was ernstig.

Alles behalwe ek was ernstig.

Ek weet nou: ek is Suid-Afrika.

Ek praat alweer met myself.

 

Aasvoëls sirkel bo my rond.

My kanse op oorlewing is skraal.

Tensy ek my Leatherman styf vashou, met een oog oop slaap.

Ek het ook tot my beskikking ‘n kar ‘n brein ‘n beperkte bankbalans

nege paar skoene twee voete en ‘n voël en

een duisend vyfhonderd en agt Facebook vriende

Oor die haweloses in my parkeerterrein swyg ek

ek reverse oor hulle toilet en beddegoed

en dan glimlag hulle nog vriendelik terug ook.

Ek’s klaar met die hoerhuis op die televisie, volgende

is die internet.

Ek wil staatspresident word al is ek wit

Suid-Afrika hoe kan ek jou waardig prysdig

as jy in jou eie kots lê en snork?

Ek wil die wiele laat aanhou rol soos BP my verse

maal spekvet in die kraal tollies elke laaste een
Suid-Afrika ‘n vers is joune vir R5000

VAT uitgesluit

Suid-Afrika hou vir Selebi vir lank in die tronk

Suid-Afrika red die ietermagog

Suid-Afrika lank lewe Jaco + Z-Dog

Suid-Afrika jou verkragters groei aan bome

Suid-Afrika ek het grootgeword met vrees

ek het mondig geword met vrees ek het dertig geword met vrees

dis goedkoop dit kos die klank van ‘n voetstap in die tuin

‘n brandende band om die nek kettings en tralies en slotte

oor die skouer kyk en beursie styf vashou as ek dit nou

so skryf klink dit seker nie so erg nie maar tog
Sê nou maar Jan Hendrik Hofmeyr het ‘n lang en vol

lewe gehad sê nou maar Ruth First se pos het weggeraak

eenmaal het ek vir Madiba bo ‘n skare sien uittroon. As hy weer kom,

kom haal hy sy pêrels.

Suid-Afrika dink mooi oor wat jy doen.,

Suid-Afrika dis nie hulle nie dis jy.

Jy en jou ma en jou pa en jou vrou.

En jou kinders.

Hebsug sal jou lewendig opvreet. Hebsug kan nie

genoeg kry nie. Hebsug sit en wag vir jou in ‘n toe

garage met die motor wat luier.

Sy wil die Vrystaat verorber. Haar hol afvee met

‘n Noseweek. Sand laat ophoop in die klinieke.

Hy grawe langwerpige gate vir die lyke.

Spyt kom altyd te laat. Ai. Hy deel grond uit soos ‘n pak kaarte.

Dan kom die wind op. Gmf. Sy slaan die sweep oor

ons rûe. Help.
Suid-Afrika dinge raak ernstig.

Suid-Afrika dis hoe dit vir my lyk van waar ek sit.

Suid-Afrika kan dit reg wees?

Ek beter my pen opspoor en skryf.

Dis nou as ek die boeie om my gewrigte kan loswikkel

die muilband uit my mond kan spoeg, fok dit, anders praat ek

Morse-kode met my oë

Suid-Afrika ek sit ieder geval my skouer teen die wiel.

 

Kaapstad, 18 Augustus 2010

 

 

[© Toast Coetzer. Voorlesing by die US Kollokwium in die SASOL Kunsmuseum op Stellenbosch, op 17 September 2010]

Rockers en digters, vervolg…

Thursday, July 22nd, 2010

ʼn Rukkie gelede het ek ʼn paar eiers gelê oor rockers wat digters wil word. Dis nou nadat Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar, aKing, Die Heuwels Fantasties) as digter in Nuwe Stemme gepubliseer is. Dit lyk asof Antjie Krog nie meer bekommerd hoef te wees oor die feit dat digters nou eerder rockers wil wees nie. Woorde vloei in die ander rigting ook.

En nou kom Opppikoppi met grofgeskut om poësie heeltemal op die voorgrond te plaas by hulle jaarlikse rock festival. In plaas van advertensies, gaan die speaker towers wat weerskante van die verhoë staan met gedigte opgevrolik word. Mense wie se gedigte op die torings gaan pryk is, Lesego Rampolokeng, Danie Marais, Gabeba Baderoon, Mbongeni Khumalo, Nadine Botha, Siphiwe Ka Ngwenya, Richard Fox, Donald Parenzee, Ingrid de Kok en ekke.

Hoe’s daai?

In ʼn persverklaring sê die mense van Oppikoppi: “Instead of just staring at the wall of sound: we thought you might as well read something.” ‘n Mens sou dit seker “wall of words” kon noem.

Maar dis nie al nie. Die musiekkanaal MK op DSTV het ʼn aantal “picture poems” gemaak, wat op die skerms agter die verhoë gewys gaan word, met kunswerke van mense soos Ronelda Kamfer, Toast Coetzer se The Buckfever Underground, Jax Panik, Straatligkinders, Sean Brand, Fokofpolisiekar, Tamara Dey, Liam Lynch en ʼn paar ander.

Ek het die mense van Oppikoppi gevra of ek ʼn voorskou hier kan plaas, so hier is twee van die panele wat teen die speaker towers gaan hang.

Klik op die prente om dit vergroot. Ek hoop dit werk.

Ja, dis reg, die gulsige Danie Marais kry sowaar sy eie toring!

Besoek Oppikoppi hier. Daar’s baie meer inligting oor die festival – die naweek van 6-8 Augustus. Hierdie jaar se plakkaat is deur Anton Kannemeyer ontwerp.

Toast Coetzer. geluk

Sunday, June 6th, 2010

Digstring

 

 geluk

 

hier in die onvanpaste wêreld

van verrookte stukke veld

blom die ongewone liefdes

as skaaphompe per kim

 

soms dwaal my gedagtes

slaap ek agter stuur

strompel boekaspaai

bladloos oor die kaart

 

elke nuwe brug

bly rif roep oor rivier

waterbloed in karpkieu

suurstofbobbelbed

 

maar snags in vreemde dorpe

neon stasies petrolpense

baddens stoom soos woorde

om somer bid die reënval

 

rol die spoelklip van my gedagtes

vonke in die lospad los

tong my neus jou môre-oor

rol die teesakkie lek-lek om

 

elke eendag reëndag

hou die hoop gepoets

mensbloed per kruiwavrag

geluk geluk geluk

 

 

(c) Toast Coetzer (Die Burger, 31 Mei 2010)

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Toast? Hoe het dit ontstaan?

2007, heel moontlik iewers in die wintermaande, kom ons sê Juliemaand. As ek reg onthou was ek besig om deur die binneland te reis, daar by Leeudoringstad, Wolmaransstad en Schweizer-Reneke rond. Wolmaransstad se hoofstraat het definitief “neon stasies petrolpense”.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Ek dink dis redelik vinnig geskryf. Ek sal soms ‘n nota of drie maak as ‘n reël by my opkom soos ek bestuur (ek sal aftrek en gou in my boekie neerskryf) en dan later voor my rekenaar sit en die idee uitskryf tot sy logiese einde. Ek sal selde teruggaan na iets en verder daaraan torring.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Gegee, soos die strepe in Aquafresh.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Nee, geen ordeningsbeginsel nie. Ek ken nie die “reëls” van digkuns nie. Ek probeer ‘n ritme in my kop volg, iets wat werk as jy dit hardop lees (omdat byna alles wat ek skryf eintlik bedoel is as materiaal vir my band, The Buckfever Underground).

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Nee.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek dink die onlangse publikasie daarvan in Die Burger was die eerste keer.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Nie eintlik nie, deur te veel te sê verdwyn die onvatbare uit die woorde, nes die Reader’s Digest-boek wat die geheim agter die Aquafresh-strepe verklap het en daardeur jou verstomheid daaroor laat taan. Verduidelikings verdoof verbeeldings.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Reis-indrukke en verlange.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Nee, net die wintertonele van daai geweste waardeur ek gery het.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nee, ek lê op die grond en gooi klippies in ‘n boorgat af. Wie weet wie woon daar onder?

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Ek dink dis redelik tipies.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ja, ek dink die beelde is herkenbaar as Suid-Afrikaanse landskappe.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

As mens baie krities daarna kyk – soos ek nou op ‘n manier deur hierdie vraag/antwoord-proses gedwing word – dan sien ek eintlik baie fout daarmee. Dis maar altyd so met iets wat jy jare gelede (of weke selfs) geskryf het. Ek sal dit seker “beter” kan maak, maar dis ook nie altyd nodig nie. As jy die elf beste sokkerspelers in die wêreld saam in een span sou sit, beteken dit nie noodwendig dat hulle vir Ghana gaan klop nie.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek het nog nie veel reaksie gekry nie, maar dit maak ook nie saak nie. Komplimente word waardeer, maar kritiek maak mens beter.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Jeepers, nee.

 

Toast Coetzer

Toast Coetzer

Toast Coetzer is in 1977 in Cradock gebore, het in Somerset-Oos skoolgegaan, in Grahamstad studeer en woon nou in Kaapstad. Sy eerste gedigte is in Nuwe Stemme 2 gepubliseer (2001) en sedertdien ook in ander joernale en zines. Sy debuut-novelle, Naweek, het in 2009 by Tafelberg verskyn. Hy werk as joernalis by Weg en Go! reistydskrifte.

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Jo’burgers: Buckfever Underground Saterdag in die Bo

Friday, April 23rd, 2010

Beste Johannesburgers. Geliewe notisie te neem van die volgende skrywe deur Toast Coetzer:

hello almal/ everyone/ ash cloud/ randomised nude pic of far right man placed here but then removed again maybe,
 
we have missed you all, so ons kom nou Noorde toe met die Touch Me On My Funky Far Right Studio Tour of the North and more specifically the densely populated Gauteng province Tour.
 
Ons speel Donderdag 22 April by die Steak & Ale (Bothalaan 66, Lyttelton) saam met die mal Jaco + Z-Dog en ons ou maat Inspector Ras.
Aksie: vanaf 8pm
Skade: R50
 
And then again on Saturday 24 April at the The Bohemian (Richmond, Joburg) with the same acts, Jaco + Z-Dog and Inspector Ras.
Action: from 8pm onwards
Ash for cash: R50
 
This all special vibe is because we’ve neglected to launch our now near-mouldy new live album Limbs Gone Batty or the Role of the Anterior-Posterior Patterning Signal, Sonic Hedgehog, in the Development of the Unique Bat Limb Live.
 
As jy op Facebook is, tik net ons group in – The Buckfever Underground – en jy sal details oor die event sien en mos kan click as jy wil dan weet ons jy kom en ons hou dan die bier vir jou warm nes jy daarvan hou.
 
On sale sal baie van ons albums wees, ook Righard se solo stuff en Stephen se solo stuff en my boek, Naweek. Once.
 
Na die tyd druk ons arm en boks en stoei.
 
Dink aan ons op die N1.
 
Groete
 
Toast

Pick up all the deadends, I’d wake up with two lead ends

Tuesday, February 16th, 2010

Chris Letcher en Matthew van der Want. Foto: Toast Coetzer

Matthew van der Want en Chris Letcher se album Bignity is seker een van die beste musiekopnames wat nog in Suid-Afrika gemaak is. Dis deels weens die goeie produksie deur Lloyd Ross en die uitstekende ensemble musikante wat hulle ingespan het; van Ian Herman op perkussie (voorheen van Mr Mac and the Genuines, maar ook van Tananas, en te hore op Koos Kombuis se seminale Niemandsland), tot Warrick Sony op elektroniese effekte (van die Kalahari Surfers). Maar dis ook ʼn uitstekende CD omdat die twee musikante briljante songwriters is. Ek vind dat ek die CD weer en weer uithaal om na te luister.

Hier is een van hulle lirieke, Deadends:

Pick up all the deadends
I’d wake up with two lead ends
Sister if I could
Sister oh I would
Coz I’m pressed up to a door closed
And your future with a searchlight glows
Colder
Here
If you only knew
I’ve got a big heart
It’s bigger than you
It’s big enough for
Too many insults and
So much shame I’d
Fill up this silence
Just tell me what to say
Left me just a deadend
Now I’m broke but then I was mended
Sister if I could
Sister oh I would
Contempt I feel for their sense of justice this
Kangaroo court got caught in the headlights and
Your sense of punishment outweighs the crime
I’m charged much too highly by
A jury of my fears.

Gaan besoek gerus hulle webwerf.

The Highveld is a shit place to be in spring

Wednesday, September 30th, 2009

“Noag net ʼn storie,” sê Prof. Dís nou een van Beeld se lokplakkate vanoggend. Wat word volgende as nasionale nuus aangebied?

“Die Paashaas bestaan nie,” beweer navorser.

Wilde stelling in Parlement: “Vader Kersfees net ʼn mite.”

Soms wil ek vir altyd ophou om Afrikaans te praat. Dit gebeur gewoonlik tydens, of pas na kunsfeeste. Maar dan onthou ek dat die hele mensdom stapelgek is. Dink byvoorbeeld aan George W. Bush. En gaan kyk hoe die Daily Sun oor heksery verslaglewer.

Is dít die rede waarom Gert Vlok Nel se een tune in my kop draai vanoggend? “Moenie vir my alleen agterlaat in hierdie land waar hulle nog hekse verbrand nie, hierdie aaklige, aaklige land nie…” Ook ‘n tune van The Buckfever Underground.

Waarom my slegte bui vanoggend? Vreemd hier in Johannesburg as die stofwolke so begin waai en dan kom die eerste druppels reën. Daar’s modderspatsels teen die woonstel se vensters. Die eerste behoorlike donderbui sal dit afwas. Die jasmyn ruik lekker, maar ek is altyd hartseer aan die einde van die winter. Ek hou van winter op die Hoëveld, anders as Toast Coetzer, alhoewel sy liriek hier onder daaroor nogal oortuigend is.

THE HIGHVELD IS A SHIT PLACE TO BE IN WINTER
(The Buckfever Underground, liriek deur Toast Coetzer)

the Highveld is a big road flanked by roads and towns and cities and smoking chimneys and empty grasslands which are always burnt for our pleasure I’m always in a car hands stuck in a cubby-hole fingers in a tape deck clothes to my seat dust and smoke the endless flavour of winter frozen dogshit in the suburbs where the mornings start white and frosty and the afternoons end white and crusty with streetlamps and Egoli I panic when I can’t see the stars I panic when the sun is a central smog and my direction is a stoned pigeon wrapped in a map there’s tea and milktart from relatives in cages good people who sigh in their homes and lock their toilets and hide their doormats under their keys in the flat parts of the Free State the weavers flock aimlessly under dimmed lights build their nests dangling from concrete silos and steel pylons even in the marshes the reeds bend and break on their own under a heavy low sky waiting for the slime dam to sweep them into definition farming here is an endless wait for December rains an endless locking of gates to keep the cattle in and the locusts out and the violence in the paper little kids buy ice-cream and Niknaks from the One Stop and their stuffed cheeks full of sharp teeth clatter and glisten and laugh at roadkill Florida and Philadelphia and Virginia are in the states Monte Video the capital of Paraguay or Uruguay so why the fuck also on the Highveld the people here are ugly in their cars and pretty in their bars where hands are for counting money hanging gears throwing signs and clenching fists life becomes a fiddling for frequencies in between disruptive factories for foreigners and the retracing of daily steps to AllBran Flakes and uncomfortable sex you’re never on solid ground there are people everywhere digging out gold and hiding places and finding bad lungs and unexpected sinkholes in bathtubs people think of murder when they eat in restaurants consider rape when they go for a jog while Golden Retrievers lounge in Northcliff and think of Alaska the city is littered with untidy people who look at hands on the corners of tables and buildings with the reflection of a cloud framed by a neon triangle the open veld is rare and littered with derelict pigfarms and sootfilled sunflower fields with only remote aspirations of becoming Floro margarine the cement is a passive smoker with filters growing on it like disorganised ticks and the red dust mixes with smoke at sunset to become sentimental gravel I’m never here because I want to I’m a co-pilot a navigator a shotgun-sitter measuring the miles between historical sites and toilets for my mom if you sit still for long enough they’ll steal your kidneys and while a friendly nod can kill you a playful wink can cost you a weekend if I stay here for too long I’ll become an active abuser a topflight loser a successful gimmick or a professional skunk with labels and a mean piss

the Highveld is a shit place to be in winter

As ek vanmiddag Potchefstroom toe ry vir Aardklop, verby die myne, verlede seisoen se mieliestoppels, betraliede drankwinkels, slap drade, sal ek Toast se woorde probeer memoriseer.

Waar is ons Lasith Malinga’s?

Tuesday, September 29th, 2009
Lasith Malinga

Lasith Malinga

Goed, laat ek dit nou maar vanoggend erken. Naas my passie vir die poësie is ’n vergelykbare passie wat ek het, krieket. So sit ek verlede Vrydagaand en kyk na die wedstryd tussen Engeland en Sri Lanka. Meteens vra die kommentator ‘n vraag wat my laat regop sit: is Engeland ‘n span wat óór-afgerig word, want hoekom het hulle nie die unieke, eiesoortige spelers wat spanne soos Sri Lanka en Pakistan byvoorbeeld het nie? Ek meen, spelers soos Lasith Malinga, Muttiah Muralitharan en Ajantha Mendis voldoen hoegenaamd nie aan die norm vir “algemeen beskaafde krieketspelers” nie. Hul styl en aanslag is só willewragtig uniek dat geen afrigtershandleiding hul manier van doen sal aanbeveel nie. En tog – hulle is wedstrydwenners.

Vergewe my dus as ek vanoggend duiwelsadvokaat speel, maar die vraag kom onwillekeurig by my op: Waar is óns Malinga’s in die digkuns?! Is ons digkuns nie dalk self besig om soos die Engelse span oor-afgerig te word nie? Die een na die ander bundel verskyn met “veilige, super-afgeronde poësie”, maar waar is die Gert Vlok Nels en Breyten Breytenbachs van ons digkuns? Goed, Loftus Marais en Ronelda Kamfer is seer sekerlik opwindende debute, júís met bogenoemde in ag geneem, maar waar is digters soos Toast Coetzer, Erns Grundling, Annie Klopper en Tertius Kapp? Stel hulle gewoon nie belang nie, of kan hulle nie uitgewers vind nie? O, ja, en dan is daar nog iemand soos Kabous Verwoed ook … Wanneer gaan hulle ‘n bundel aanmekaar sit en die hele boksemdais op sy kop draai?

En sal ons keurders / resensente / uitgewers in staat wees om dié super-ónafgerigte digters te hanteer?! Of wat praat ek alles? Ons het immers almal en alle style nodig, is dit nie? (Terloops, indien dit jou interesseer: Engeland het met sy konvensionele, verbeeldinglose spelers die wedstryd teen Sri Lanka met 6 paaltjies gewen en daarna, in ‘n wedstryd Sondag, ons eie veelgeroemde Protea-span uitgeskakel. Boonop wil dit lyk asof Sri Lanka óók nie die uitdunrondtes gaan oorleef nie … Mmm, is daar dalk ‘n les hierin opgesluit vir ons? Ai, ai. Maar ek moet darem sê dat die kolfblad en atmosferiese toestande – lees: keurders / resensente / uitgewers - die Engelse span sowel Vrydag as Sondag bevoordeel het.)

Nietemin, vir jou leesprikkel vanoggend, die volgende gedig deur The Buckfever Underground, alias “Toast Coetzer se band”. Besluit self of dit die ware jakob is en of dit straks net prentendeer tot gedig wees. (Gaan lees gerus ook die onderhoud wat met hom gevoer is op LitNet.)

***

Ten slotte, ons het ‘n huldeblyk van Joan Hambidge ontvang na aanleiding van I.L. de Villiers se afsterwe die afgelope naweek. Gaan lees hierdie roerende besinning oor die gestorwe digter as vriend en die poëtiese krag wat hy was. Die huldeblyk is hier in die Brieweboks geplaas.

Geniet alles wat nuut is op die webblad vandag. En onthou: koes vir die opslagballe en speel tog (altyd) met ‘n reguit kolf.

Mooi bly.

LE

 

“Die Woord”

(deur The Buckfever Underground)

elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond elke woord is ‘n magneet wat die waansin kom opvreet elke woord is ‘n wapen warm teen jou sy elke woord trek water uit die diepste grond elke woord skep lug soos voëls wat vlug met kenne in die lug elke woord is ‘n wurm wat stil verorber aan elke blaar wat val soos ‘n druppel bloed

elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond uit die tong van ‘n mespunt kom moord uit die oorde van die hemel kom die vrugte van die hel en die plukkers is die punte wat verlief is op kommas die glans van die woord is die ronding van ‘n koeël die loodboot wat seil soos ‘n brief op die see jy’t jou lewe se tyd om in blind te verdwaal die gif in jou wond is skaars ‘n kwaal want die woord kom genees al die siektes van die vlees die woord is die agteros wat verbrand die kraal en speke steek deur die koppe van die kinders ‘n foon wat lui is blomme in jou ore elke sin wat klap is ‘n vars pan vol goud elke sprong van jou lippe is plesier in die klippe die kapkapkap van die lepels en die vurke en die messe en die borde wat skree koopkoopkoop

elke woord draai die rat in jou oog net stywer die drukgang word nouer en nie wyer nie elke woord is die kraak in die rand van jou kop die woord vir weeskind die gom wat vassit die spyker wat buig die pos in die pakkie met die rekkie om elke woord is ‘n sambreel wat oopvou en vertel elke storie uit die maag is ‘n slang wat vervel elke woord dra die grein van die eeue oue pyn die sement en die stene die stof en die puin die uitbasuin die binnehou die inkerker die uitblaker die woord haal die hoek uit sy mond en steek dit in die grond die woord staan halflyf in die water en roep om hulp

die woord was buite toe die wind gaan lê het toe die mis verdwyn het toe die nag verseker ‘n warm dag beloof het elke woord gooi duim in die uitgewiste pad van die vulkane se strepe oor die stomme leë landskap wat traanbevlek en oorbewei teen die kosmos se roetine wil stry

elke woord se hande ruik na die olie van die pistool onder die kussing daar gebêre vir wanneer die waansin te veel raak en die boewe en die vrese en die aansteeklike siektes met gemak deur die tralies voor die venster invloei soos die son in die oggend wanneer voëls teen die dak kom krap

elke woord is ‘n pot met kos in ‘n skerm aan’t kook, elke woord is geraam in ys elke woord herlaai koeëls by die huis elke woord is ‘n wekroep om terug te baklei elke woord is ‘n pleister vir die steekwond in die hart wat bly bloei want die bloed is te dun om rowe te maak elke woord is ‘n tafelgebed in ‘n huis van winter weemoed en worshonde skeur jou in twee vanaand maar die rivier vloei aaneen is jy ook so alleen as jy sê “ek”?

(c) Toast Coetzer / Buckfever Underground

As almal ver is… by Boeke-oase, Aardklop

Wednesday, September 23rd, 2009
Ronel Nel
As Almal Ver Is Suid-Afrikaners Skryf Huis Toe saamgestel deur Danie Marais. Bespreking by Rapport Boeke-oase, Aardklop. 30 Sept. 16:00. Gratis.
Met Danie Marais (samesteller) en van die bydraers: Toast Coetzer, Hunter Kennedy, Andries Bezuidenhout, Erns Grundling en Ronel Nel 
So skyf Johan Hugo oor die boek: Wyd en syd het digter en joernalis Danie Marais gesoek na stukke vir hierdie voortreflike versameling oor die heinde en die verre. Met globalisering en die sogenaamde Afrika-diaspora, wil dit somtyds voorkom of almal wat mens ken, òf oorsee is, òf al ‘n ruk daar vertoef het. Tog is daar tot dusver weinig daaroor in Suid-Afrika geskryf.

so kosmopolitaans soos die mense wat daarin verskyn; so eklekties soos die wye wêreld waarmee dit te make het gaan ‘n lang ent om dié gebrek aan te vul. Hier is dagboeke en poskaarte, strippe en kort stories, gedigte en essays – van bekendes en onbekendes – wat almal verskillende wedervaringe in verskillende plekke weergee. Skrywers soos Achmat Dangor, Sindiwe Magona en Marita van der Vyver se beplakkerde koffers vol herinneringe lê op die voerband langs dié van digters soos Marais, Antjie Krog en Gabeba Baderoon; strip kunstenaars soos Joe Dog, Lorcan White en Karlien de Villiers deel die doeane-tou met figure soos Hunter Kennedy, Toast Coetzer en Dana Snyman. En oral, deur die fassinasie of die ongemak met die verre, skemer daar ‘n duidelike liefde vir die tuiste wat agtergelaat is: op die oppervlak is hierdie ‘n versameling oor die buiteland, maar vlak onder die vel skuil daar eintlik ‘n love-song vir ‘n Suid-Afrika wat nooit haar kinders ophou terugroep nie.