Posts Tagged ‘Toast Coetzer’

Toast Coetzer. Suid-Afrika

Monday, September 27th, 2010

Suid-Afrika  

 

Vir jou Suid-Afrika alles en niks; asemhaal.

Vir my, twee resepte, R87, mediese fonds- en bankkaart

18 Augustus 2010.

My kop is ‘n platgetrapte brood

Suid-Afrika, die oorlog, waarom die oorlog teen jouself?

Sny jou vingers af met jou los hand.

Ek voel g’n goed, voertsek!

Ek bloei in my pen in, opgeswel soos ballon.

Suid-Afrika, wanneer maak jy my trots?

Behalwe vir wanneer jy sokkerdoele skiet?

Wanneer gaan jy jou voete sien, aan vodde?

Waardig wees, ‘n held, ‘n heldin, vir jou miljoene werkers?

Suid-Afrika, hoekom kan jy nie lees nie?

Suid-Afrika, jou mielies gaan als Zimbabwe toe?

Ek’s gatvol vir alles wat jy vra.

Wanneer kan ek iets terugkry vir al my Big Issues, die bedelaars,

die sakke klere?

Suid-Afrika, ja, dis net jy en ek hier, en Precious maak nie

eers ordentlik skoon nie.

Jou geharwar maak my moeg.

Jy wou my wat maak, wát?

Ons kan nie eers hieroor armdruk nie, dis sinneloos.

Die dokters is in Toronto ek glo nie hulle gaan terugkom nie

dis te verstane.

Verstaan jy of hoor jy of probeer jy hoor of is jy dronk iewers by

‘n partytjie?

Ek wil by die punt kom.

Ek weier om te glo jy’s verlore.

Suid-Afrika, sit, ontspan, ek betaal my belasting.

Suid-Afrika die kokerbome blom reeds in April.

Vandag in die koerant op die internet gelees, drie mense

beroof en toe gestoor in die vrieskas van hul roomyswinkel.

Suid-Afrika ek dink ek gaan aansluit by COSATU.

Suid-Afrika ek was nog altyd ‘n werker maar ek was wit.

Ek’s nie jammer daaroor nie.

Ek drink en my oë sloer op knieë.

Ek sit hier met koue vingers bokant Helen Zille

se huis.

Hulle sê sy koop No Name Brand produkte.

En drink sommer kitskoffie.

Ek glo nie noodwendig in rewolusie nie.

My kop sê vir my hou wat jy het.

Ek bid soms, vir ingeval.

Ek voel die hartklop van bome, weerlig maak my jags.

Suid-Afrika, ek sê vir jou, die mense hier kom van oral

Jy moet dit onthou, jy is almal.

Ek praat met jou.

Gaan jy jou hart laat lei deur dit wat gebeur op

DSTV?

DSTV is my herder.

Ek kyk daarna wanneer ek kan, in kroeë en hotelle.

Dis aan in almal se huise waar ek kuier, dit loer na my op

die sypaadjies van die stad.

Ek kyk daarna wanneer ek koffie koop.

Dit voer my inligting wat my aandag aftrek van die wêreld.

Die wêreld was eens doodernstig. Televisie was ernstig.

Alles behalwe ek was ernstig.

Ek weet nou: ek is Suid-Afrika.

Ek praat alweer met myself.

 

Aasvoëls sirkel bo my rond.

My kanse op oorlewing is skraal.

Tensy ek my Leatherman styf vashou, met een oog oop slaap.

Ek het ook tot my beskikking ‘n kar ‘n brein ‘n beperkte bankbalans

nege paar skoene twee voete en ‘n voël en

een duisend vyfhonderd en agt Facebook vriende

Oor die haweloses in my parkeerterrein swyg ek

ek reverse oor hulle toilet en beddegoed

en dan glimlag hulle nog vriendelik terug ook.

Ek’s klaar met die hoerhuis op die televisie, volgende

is die internet.

Ek wil staatspresident word al is ek wit

Suid-Afrika hoe kan ek jou waardig prysdig

as jy in jou eie kots lê en snork?

Ek wil die wiele laat aanhou rol soos BP my verse

maal spekvet in die kraal tollies elke laaste een
Suid-Afrika ‘n vers is joune vir R5000

VAT uitgesluit

Suid-Afrika hou vir Selebi vir lank in die tronk

Suid-Afrika red die ietermagog

Suid-Afrika lank lewe Jaco + Z-Dog

Suid-Afrika jou verkragters groei aan bome

Suid-Afrika ek het grootgeword met vrees

ek het mondig geword met vrees ek het dertig geword met vrees

dis goedkoop dit kos die klank van ‘n voetstap in die tuin

‘n brandende band om die nek kettings en tralies en slotte

oor die skouer kyk en beursie styf vashou as ek dit nou

so skryf klink dit seker nie so erg nie maar tog
Sê nou maar Jan Hendrik Hofmeyr het ‘n lang en vol

lewe gehad sê nou maar Ruth First se pos het weggeraak

eenmaal het ek vir Madiba bo ‘n skare sien uittroon. As hy weer kom,

kom haal hy sy pêrels.

Suid-Afrika dink mooi oor wat jy doen.,

Suid-Afrika dis nie hulle nie dis jy.

Jy en jou ma en jou pa en jou vrou.

En jou kinders.

Hebsug sal jou lewendig opvreet. Hebsug kan nie

genoeg kry nie. Hebsug sit en wag vir jou in ‘n toe

garage met die motor wat luier.

Sy wil die Vrystaat verorber. Haar hol afvee met

‘n Noseweek. Sand laat ophoop in die klinieke.

Hy grawe langwerpige gate vir die lyke.

Spyt kom altyd te laat. Ai. Hy deel grond uit soos ‘n pak kaarte.

Dan kom die wind op. Gmf. Sy slaan die sweep oor

ons rûe. Help.
Suid-Afrika dinge raak ernstig.

Suid-Afrika dis hoe dit vir my lyk van waar ek sit.

Suid-Afrika kan dit reg wees?

Ek beter my pen opspoor en skryf.

Dis nou as ek die boeie om my gewrigte kan loswikkel

die muilband uit my mond kan spoeg, fok dit, anders praat ek

Morse-kode met my oë

Suid-Afrika ek sit ieder geval my skouer teen die wiel.

 

Kaapstad, 18 Augustus 2010

 

 

[© Toast Coetzer. Voorlesing by die US Kollokwium in die SASOL Kunsmuseum op Stellenbosch, op 17 September 2010]

Andries Bezuidenhout. Rockers en digters, vervolg…

Thursday, July 22nd, 2010

ʼn Rukkie gelede het ek ʼn paar eiers gelê oor rockers wat digters wil word. Dis nou nadat Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar, aKing, Die Heuwels Fantasties) as digter in Nuwe Stemme gepubliseer is. Dit lyk asof Antjie Krog nie meer bekommerd hoef te wees oor die feit dat digters nou eerder rockers wil wees nie. Woorde vloei in die ander rigting ook.

En nou kom Opppikoppi met grofgeskut om poësie heeltemal op die voorgrond te plaas by hulle jaarlikse rock festival. In plaas van advertensies, gaan die speaker towers wat weerskante van die verhoë staan met gedigte opgevrolik word. Mense wie se gedigte op die torings gaan pryk is, Lesego Rampolokeng, Danie Marais, Gabeba Baderoon, Mbongeni Khumalo, Nadine Botha, Siphiwe Ka Ngwenya, Richard Fox, Donald Parenzee, Ingrid de Kok en ekke.

Hoe’s daai?

In ʼn persverklaring sê die mense van Oppikoppi: “Instead of just staring at the wall of sound: we thought you might as well read something.” ‘n Mens sou dit seker “wall of words” kon noem.

Maar dis nie al nie. Die musiekkanaal MK op DSTV het ʼn aantal “picture poems” gemaak, wat op die skerms agter die verhoë gewys gaan word, met kunswerke van mense soos Ronelda Kamfer, Toast Coetzer se The Buckfever Underground, Jax Panik, Straatligkinders, Sean Brand, Fokofpolisiekar, Tamara Dey, Liam Lynch en ʼn paar ander.

Ek het die mense van Oppikoppi gevra of ek ʼn voorskou hier kan plaas, so hier is twee van die panele wat teen die speaker towers gaan hang.

Klik op die prente om dit vergroot. Ek hoop dit werk.

Ja, dis reg, die gulsige Danie Marais kry sowaar sy eie toring!

Besoek Oppikoppi hier. Daar’s baie meer inligting oor die festival – die naweek van 6-8 Augustus. Hierdie jaar se plakkaat is deur Anton Kannemeyer ontwerp.

Digstring: Toast Coetzer. geluk

Sunday, June 6th, 2010

Digstring

 

 geluk

 

hier in die onvanpaste wêreld

van verrookte stukke veld

blom die ongewone liefdes

as skaaphompe per kim

 

soms dwaal my gedagtes

slaap ek agter stuur

strompel boekaspaai

bladloos oor die kaart

 

elke nuwe brug

bly rif roep oor rivier

waterbloed in karpkieu

suurstofbobbelbed

 

maar snags in vreemde dorpe

neon stasies petrolpense

baddens stoom soos woorde

om somer bid die reënval

 

rol die spoelklip van my gedagtes

vonke in die lospad los

tong my neus jou môre-oor

rol die teesakkie lek-lek om

 

elke eendag reëndag

hou die hoop gepoets

mensbloed per kruiwavrag

geluk geluk geluk

 

 

(c) Toast Coetzer (Die Burger, 31 Mei 2010)

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Toast? Hoe het dit ontstaan?

2007, heel moontlik iewers in die wintermaande, kom ons sê Juliemaand. As ek reg onthou was ek besig om deur die binneland te reis, daar by Leeudoringstad, Wolmaransstad en Schweizer-Reneke rond. Wolmaransstad se hoofstraat het definitief “neon stasies petrolpense”.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Ek dink dis redelik vinnig geskryf. Ek sal soms ‘n nota of drie maak as ‘n reël by my opkom soos ek bestuur (ek sal aftrek en gou in my boekie neerskryf) en dan later voor my rekenaar sit en die idee uitskryf tot sy logiese einde. Ek sal selde teruggaan na iets en verder daaraan torring.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Gegee, soos die strepe in Aquafresh.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Nee, geen ordeningsbeginsel nie. Ek ken nie die “reëls” van digkuns nie. Ek probeer ‘n ritme in my kop volg, iets wat werk as jy dit hardop lees (omdat byna alles wat ek skryf eintlik bedoel is as materiaal vir my band, The Buckfever Underground).

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Nee.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek dink die onlangse publikasie daarvan in Die Burger was die eerste keer.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Nie eintlik nie, deur te veel te sê verdwyn die onvatbare uit die woorde, nes die Reader’s Digest-boek wat die geheim agter die Aquafresh-strepe verklap het en daardeur jou verstomheid daaroor laat taan. Verduidelikings verdoof verbeeldings.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Reis-indrukke en verlange.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Nee, net die wintertonele van daai geweste waardeur ek gery het.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nee, ek lê op die grond en gooi klippies in ‘n boorgat af. Wie weet wie woon daar onder?

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Ek dink dis redelik tipies.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ja, ek dink die beelde is herkenbaar as Suid-Afrikaanse landskappe.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

As mens baie krities daarna kyk – soos ek nou op ‘n manier deur hierdie vraag/antwoord-proses gedwing word – dan sien ek eintlik baie fout daarmee. Dis maar altyd so met iets wat jy jare gelede (of weke selfs) geskryf het. Ek sal dit seker “beter” kan maak, maar dis ook nie altyd nodig nie. As jy die elf beste sokkerspelers in die wêreld saam in een span sou sit, beteken dit nie noodwendig dat hulle vir Ghana gaan klop nie.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek het nog nie veel reaksie gekry nie, maar dit maak ook nie saak nie. Komplimente word waardeer, maar kritiek maak mens beter.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Jeepers, nee.

 

Toast Coetzer

Toast Coetzer

Toast Coetzer is in 1977 in Cradock gebore, het in Somerset-Oos skoolgegaan, in Grahamstad studeer en woon nou in Kaapstad. Sy eerste gedigte is in Nuwe Stemme 2 gepubliseer (2001) en sedertdien ook in ander joernale en zines. Sy debuut-novelle, Naweek, het in 2009 by Tafelberg verskyn. Hy werk as joernalis by Weg en Go! reistydskrifte.

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Andries Bezuidenhout. Jo’burgers: Buckfever Underground Saterdag in die Bo

Friday, April 23rd, 2010

Beste Johannesburgers. Geliewe notisie te neem van die volgende skrywe deur Toast Coetzer:

hello almal/ everyone/ ash cloud/ randomised nude pic of far right man placed here but then removed again maybe,
 
we have missed you all, so ons kom nou Noorde toe met die Touch Me On My Funky Far Right Studio Tour of the North and more specifically the densely populated Gauteng province Tour.
 
Ons speel Donderdag 22 April by die Steak & Ale (Bothalaan 66, Lyttelton) saam met die mal Jaco + Z-Dog en ons ou maat Inspector Ras.
Aksie: vanaf 8pm
Skade: R50
 
And then again on Saturday 24 April at the The Bohemian (Richmond, Joburg) with the same acts, Jaco + Z-Dog and Inspector Ras.
Action: from 8pm onwards
Ash for cash: R50
 
This all special vibe is because we’ve neglected to launch our now near-mouldy new live album Limbs Gone Batty or the Role of the Anterior-Posterior Patterning Signal, Sonic Hedgehog, in the Development of the Unique Bat Limb Live.
 
As jy op Facebook is, tik net ons group in – The Buckfever Underground – en jy sal details oor die event sien en mos kan click as jy wil dan weet ons jy kom en ons hou dan die bier vir jou warm nes jy daarvan hou.
 
On sale sal baie van ons albums wees, ook Righard se solo stuff en Stephen se solo stuff en my boek, Naweek. Once.
 
Na die tyd druk ons arm en boks en stoei.
 
Dink aan ons op die N1.
 
Groete
 
Toast

Andries Bezuidenhout. Pick up all the deadends, I’d wake up with two lead ends

Tuesday, February 16th, 2010

Chris Letcher en Matthew van der Want. Foto: Toast Coetzer

Matthew van der Want en Chris Letcher se album Bignity is seker een van die beste musiekopnames wat nog in Suid-Afrika gemaak is. Dis deels weens die goeie produksie deur Lloyd Ross en die uitstekende ensemble musikante wat hulle ingespan het; van Ian Herman op perkussie (voorheen van Mr Mac and the Genuines, maar ook van Tananas, en te hore op Koos Kombuis se seminale Niemandsland), tot Warrick Sony op elektroniese effekte (van die Kalahari Surfers). Maar dis ook ʼn uitstekende CD omdat die twee musikante briljante songwriters is. Ek vind dat ek die CD weer en weer uithaal om na te luister.

Hier is een van hulle lirieke, Deadends:

Pick up all the deadends
I’d wake up with two lead ends
Sister if I could
Sister oh I would
Coz I’m pressed up to a door closed
And your future with a searchlight glows
Colder
Here
If you only knew
I’ve got a big heart
It’s bigger than you
It’s big enough for
Too many insults and
So much shame I’d
Fill up this silence
Just tell me what to say
Left me just a deadend
Now I’m broke but then I was mended
Sister if I could
Sister oh I would
Contempt I feel for their sense of justice this
Kangaroo court got caught in the headlights and
Your sense of punishment outweighs the crime
I’m charged much too highly by
A jury of my fears.

Gaan besoek gerus hulle webwerf.

Andries Bezuidenhout. The Highveld is a shit place to be in spring

Wednesday, September 30th, 2009

“Noag net ʼn storie,” sê Prof. Dís nou een van Beeld se lokplakkate vanoggend. Wat word volgende as nasionale nuus aangebied?

“Die Paashaas bestaan nie,” beweer navorser.

Wilde stelling in Parlement: “Vader Kersfees net ʼn mite.”

Soms wil ek vir altyd ophou om Afrikaans te praat. Dit gebeur gewoonlik tydens, of pas na kunsfeeste. Maar dan onthou ek dat die hele mensdom stapelgek is. Dink byvoorbeeld aan George W. Bush. En gaan kyk hoe die Daily Sun oor heksery verslaglewer.

Is dít die rede waarom Gert Vlok Nel se een tune in my kop draai vanoggend? “Moenie vir my alleen agterlaat in hierdie land waar hulle nog hekse verbrand nie, hierdie aaklige, aaklige land nie…” Ook ‘n tune van The Buckfever Underground.

Waarom my slegte bui vanoggend? Vreemd hier in Johannesburg as die stofwolke so begin waai en dan kom die eerste druppels reën. Daar’s modderspatsels teen die woonstel se vensters. Die eerste behoorlike donderbui sal dit afwas. Die jasmyn ruik lekker, maar ek is altyd hartseer aan die einde van die winter. Ek hou van winter op die Hoëveld, anders as Toast Coetzer, alhoewel sy liriek hier onder daaroor nogal oortuigend is.

THE HIGHVELD IS A SHIT PLACE TO BE IN WINTER
(The Buckfever Underground, liriek deur Toast Coetzer)

the Highveld is a big road flanked by roads and towns and cities and smoking chimneys and empty grasslands which are always burnt for our pleasure I’m always in a car hands stuck in a cubby-hole fingers in a tape deck clothes to my seat dust and smoke the endless flavour of winter frozen dogshit in the suburbs where the mornings start white and frosty and the afternoons end white and crusty with streetlamps and Egoli I panic when I can’t see the stars I panic when the sun is a central smog and my direction is a stoned pigeon wrapped in a map there’s tea and milktart from relatives in cages good people who sigh in their homes and lock their toilets and hide their doormats under their keys in the flat parts of the Free State the weavers flock aimlessly under dimmed lights build their nests dangling from concrete silos and steel pylons even in the marshes the reeds bend and break on their own under a heavy low sky waiting for the slime dam to sweep them into definition farming here is an endless wait for December rains an endless locking of gates to keep the cattle in and the locusts out and the violence in the paper little kids buy ice-cream and Niknaks from the One Stop and their stuffed cheeks full of sharp teeth clatter and glisten and laugh at roadkill Florida and Philadelphia and Virginia are in the states Monte Video the capital of Paraguay or Uruguay so why the fuck also on the Highveld the people here are ugly in their cars and pretty in their bars where hands are for counting money hanging gears throwing signs and clenching fists life becomes a fiddling for frequencies in between disruptive factories for foreigners and the retracing of daily steps to AllBran Flakes and uncomfortable sex you’re never on solid ground there are people everywhere digging out gold and hiding places and finding bad lungs and unexpected sinkholes in bathtubs people think of murder when they eat in restaurants consider rape when they go for a jog while Golden Retrievers lounge in Northcliff and think of Alaska the city is littered with untidy people who look at hands on the corners of tables and buildings with the reflection of a cloud framed by a neon triangle the open veld is rare and littered with derelict pigfarms and sootfilled sunflower fields with only remote aspirations of becoming Floro margarine the cement is a passive smoker with filters growing on it like disorganised ticks and the red dust mixes with smoke at sunset to become sentimental gravel I’m never here because I want to I’m a co-pilot a navigator a shotgun-sitter measuring the miles between historical sites and toilets for my mom if you sit still for long enough they’ll steal your kidneys and while a friendly nod can kill you a playful wink can cost you a weekend if I stay here for too long I’ll become an active abuser a topflight loser a successful gimmick or a professional skunk with labels and a mean piss

the Highveld is a shit place to be in winter

As ek vanmiddag Potchefstroom toe ry vir Aardklop, verby die myne, verlede seisoen se mieliestoppels, betraliede drankwinkels, slap drade, sal ek Toast se woorde probeer memoriseer.

Waar is ons Lasith Malinga’s?

Tuesday, September 29th, 2009
Lasith Malinga

Lasith Malinga

Goed, laat ek dit nou maar vanoggend erken. Naas my passie vir die poësie is ‘n vergelykbare passie wat ek het, krieket. So sit ek verlede Vrydagaand en kyk na die wedstryd tussen Engeland en Sri Lanka. Meteens vra die kommentator ‘n vraag wat my laat regop sit: is Engeland ‘n span wat óór-afgerig word, want hoekom het hulle nie die unieke, eiesoortige spelers wat spanne soos Sri Lanka en Pakistan byvoorbeeld het nie? Ek meen, spelers soos Lasith Malinga, Muttiah Muralitharan en Ajantha Mendis voldoen hoegenaamd nie aan die norm vir “algemeen beskaafde krieketspelers” nie. Hul styl en aanslag is só willewragtig uniek dat geen afrigtershandleiding hul manier van doen sal aanbeveel nie. En tog – hulle is wedstrydwenners.

Vergewe my dus as ek vanoggend duiwelsadvokaat speel, maar die vraag kom onwillekeurig by my op: Waar is óns Malinga’s in die digkuns?! Is ons digkuns nie dalk self besig om soos die Engelse span oor-afgerig te word nie? Die een na die ander bundel verskyn met “veilige, super-afgeronde poësie”, maar waar is die Gert Vlok Nels en Breyten Breytenbachs van ons digkuns? Goed, Loftus Marais en Ronelda Kamfer is seer sekerlik opwindende debute, júís met bogenoemde in ag geneem, maar waar is digters soos Toast Coetzer, Erns Grundling, Annie Klopper en Tertius Kapp? Stel hulle gewoon nie belang nie, of kan hulle nie uitgewers vind nie? O, ja, en dan is daar nog iemand soos Kabous Verwoed ook … Wanneer gaan hulle ‘n bundel aanmekaar sit en die hele boksemdais op sy kop draai?

En sal ons keurders / resensente / uitgewers in staat wees om dié super-ónafgerigte digters te hanteer?! Of wat praat ek alles? Ons het immers almal en alle style nodig, is dit nie? (Terloops, indien dit jou interesseer: Engeland het met sy konvensionele, verbeeldinglose spelers die wedstryd teen Sri Lanka met 6 paaltjies gewen en daarna, in ‘n wedstryd Sondag, ons eie veelgeroemde Protea-span uitgeskakel. Boonop wil dit lyk asof Sri Lanka óók nie die uitdunrondtes gaan oorleef nie … Mmm, is daar dalk ‘n les hierin opgesluit vir ons? Ai, ai. Maar ek moet darem sê dat die kolfblad en atmosferiese toestande – lees: keurders / resensente / uitgewers – die Engelse span sowel Vrydag as Sondag bevoordeel het.)

Nietemin, vir jou leesprikkel vanoggend, die volgende gedig deur The Buckfever Underground, alias “Toast Coetzer se band”. Besluit self of dit die ware jakob is en of dit straks net prentendeer tot gedig wees. (Gaan lees gerus ook die onderhoud wat met hom gevoer is op LitNet.)

***

Ten slotte, ons het ‘n huldeblyk van Joan Hambidge ontvang na aanleiding van I.L. de Villiers se afsterwe die afgelope naweek. Gaan lees hierdie roerende besinning oor die gestorwe digter as vriend en die poëtiese krag wat hy was. Die huldeblyk is hier in die Brieweboks geplaas.

Geniet alles wat nuut is op die webblad vandag. En onthou: koes vir die opslagballe en speel tog (altyd) met ‘n reguit kolf.

Mooi bly.

LE

 

“Die Woord”

(deur The Buckfever Underground)

elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond elke woord is ‘n magneet wat die waansin kom opvreet elke woord is ‘n wapen warm teen jou sy elke woord trek water uit die diepste grond elke woord skep lug soos voëls wat vlug met kenne in die lug elke woord is ‘n wurm wat stil verorber aan elke blaar wat val soos ‘n druppel bloed

elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond uit die tong van ‘n mespunt kom moord uit die oorde van die hemel kom die vrugte van die hel en die plukkers is die punte wat verlief is op kommas die glans van die woord is die ronding van ‘n koeël die loodboot wat seil soos ‘n brief op die see jy’t jou lewe se tyd om in blind te verdwaal die gif in jou wond is skaars ‘n kwaal want die woord kom genees al die siektes van die vlees die woord is die agteros wat verbrand die kraal en speke steek deur die koppe van die kinders ‘n foon wat lui is blomme in jou ore elke sin wat klap is ‘n vars pan vol goud elke sprong van jou lippe is plesier in die klippe die kapkapkap van die lepels en die vurke en die messe en die borde wat skree koopkoopkoop

elke woord draai die rat in jou oog net stywer die drukgang word nouer en nie wyer nie elke woord is die kraak in die rand van jou kop die woord vir weeskind die gom wat vassit die spyker wat buig die pos in die pakkie met die rekkie om elke woord is ‘n sambreel wat oopvou en vertel elke storie uit die maag is ‘n slang wat vervel elke woord dra die grein van die eeue oue pyn die sement en die stene die stof en die puin die uitbasuin die binnehou die inkerker die uitblaker die woord haal die hoek uit sy mond en steek dit in die grond die woord staan halflyf in die water en roep om hulp

die woord was buite toe die wind gaan lê het toe die mis verdwyn het toe die nag verseker ‘n warm dag beloof het elke woord gooi duim in die uitgewiste pad van die vulkane se strepe oor die stomme leë landskap wat traanbevlek en oorbewei teen die kosmos se roetine wil stry

elke woord se hande ruik na die olie van die pistool onder die kussing daar gebêre vir wanneer die waansin te veel raak en die boewe en die vrese en die aansteeklike siektes met gemak deur die tralies voor die venster invloei soos die son in die oggend wanneer voëls teen die dak kom krap

elke woord is ‘n pot met kos in ‘n skerm aan’t kook, elke woord is geraam in ys elke woord herlaai koeëls by die huis elke woord is ‘n wekroep om terug te baklei elke woord is ‘n pleister vir die steekwond in die hart wat bly bloei want die bloed is te dun om rowe te maak elke woord is ‘n tafelgebed in ‘n huis van winter weemoed en worshonde skeur jou in twee vanaand maar die rivier vloei aaneen is jy ook so alleen as jy sê “ek”?

(c) Toast Coetzer / Buckfever Underground

Andries Bezuidenhout. Rit deur koorsige Hoëveld

Tuesday, August 11th, 2009

Nou ja toe. Ek moes verlede week Ladysmith toe ry, verby Warden, Harrismith, Drakensberge met sneeu regs. Ek luister Radiohead se “Hail to the Thief” kliphard in die huurkar, voel bevoorreg omdat my eie kar se radio nou al vir meer as ʼn jaar stukkend is:

In pitch dark I go walking in your landscape
Broken branches trip me as I speak
Just cos you feel it doesn’t mean it’s there
Just cos you feel it doesn’t mean it’s there…

In Ladysmith se Royal Hotel oorgeslaap. Darem tyd gekry vir ʼn paar honderd bladsye uit Titaan voor ek aan die slaap raak. Die volgende oggend weer terug Johannesburg toe gekom. Luister Leonard Cohen, sy plaat “New Skin for the Old Ceremony”:

There is a war between the rich and poor,
a war between the man and the woman.
There is a war between the left and right,
a war between the black and white,
a war between the odd and the even.

Why don’t you come on back to the war, pick up your tiny burden,
why don’t you come on back to the war, let’s all get even,
why don’t you come on back to the war, can’t you hear me speaking?

Die stuk hier onder is my eerste poging om van die dinge langs die pad en in die nuus vas te probeer vat. Dalk ook maar na ek Toast Coetzer se donker boek gelees het. Nog steeds besig met Titaan. Kommentaar baie welkom!

KOORSIGE LAND
(Winter 2009, naby Harrismith of Piet Retief)

Die Grootrivier is elders groot,
hier’s dit bloot ʼn sloot met gal
wat koud die grond in sypel.
Iemand brand ʼn bondel blare,
rook wat eenbeen regop staan
word deur wind geamputeer
en bloei dan uit die truspieëlraam.
Kaal drom populiere saam
om by are onderaards in te naald,
bloekoms krukke vir die koorsige lug,
mielielande swere wat skurf uitskif.
Deur die township se dampe is sneeu
hospitaallakens smerig op die berg se eelt.
In fondamente smeul kliniek en biblioteek.
Iemand soebat in Frans en Lingala.
Koolstowe, motorbande, brandende plastiek.
Hou hierdie landskap wat agtertoe verdwyn
vir nog ʼn ruk in kwarantyn –
dit het winter onderlede en is siek siek siek.