Posts Tagged ‘Toen met een lijst van nu errond. Herman de Coninck. Biografie deur Thomas Eyskens.’

Resensie: Herman de Coninck. Biografie deur Thomas Eyskens.

Wednesday, July 18th, 2018

Toen met een lijst van nu errond. Herman de Coninck. Biografie deur Thomas Eyskens. (Uitgeverij De Arbeiderspers, 2017, ISBN: 978 90 295 1140 7, Formaat: Hardeband met omslag, 587pp.)

  • Resensent: Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

 

Suid-Afrikaanse poësieliefhebbers ken die Vlaamse essayis en digter Herman de Coninck veral vanweë 4 besoeke wat hy tussen 1994 en 1996 aan ons land gebring het. Die laaste keer was dit om die publikasie van ’n (deur Daniel Hugo in Afrikaans) vertaalde keur uit sy gedigte, Liefde, miskien, bekend te stel. Hy het die toer in die geselskap van nog ’n Vlaamse skrywer wat bekendheid in die (Suid-) Afrikaanse letterkundewêreld sou verwerf, Tom Lanoye, meegemaak.

Hugo het later ook die vertaalwerk gedoen vir ’n meer uitgebreide keur uit De Coninck se digwerk, wat in 2009 in Suid-Afrika verskyn het. Dié keer is die vertaalde titel van sy digdebuut as bundelopskrif benut: Die lenige liefde.

Suid-Afrikaanse belangstellendes in die letterkunde van die Lae Lande sal voorts weet dat De Coninck in 1983 die oprigter en – tot sy alte vroeë oorlye op 53-jarige leeftyd in 1997 – die stuurman was van die internasionaal invloedryke kunsteblad Nieuw Wereldtijdschrift. Ook werk van Suid-Afrikaanse woordkunstenaars het in dié tydskrif tereg gekom. Onder meer die eerste verwoordings van Antjie Krog se verslaggewersbelewing van die onthullings en gebeure tydens sittings van die Waarheid- en Versoeningskommissie, later byeengebring in haar boek The Country of my Skull, het, op uitnodiging van De Coninck, vanaf 1996 as “Briewe uit Kaapstad” in Nieuw Wereldtijdschrift verskyn.

De Coninck is ongetwyfeld die mees gelese digter in die geskiedenis van die Vlaamse letterkunde. Van die geheelversameling van sy gepubliseerde gedigte het byvoorbeeld tot verlede jaar toe reeds sowat 50 000 eksemplare verkoop. Dit nadat sy werk aanvanklik herhaaldelik deur tydskrifte en uitgewers afgewys was.

Sy aansien as rubriekskrywer en essayïs blyk uit die feit dat sy joernalistieke skryfwerk, oorwegend met die lees en skryf van digkuns gemoeid, in 7 bundels versamel is. Hy was voorts die neerpenner van sowat 15 000 dikwels boeiende briewe van literêre belang, sodat ’n keur hieruit in 2004 gebundel sou word onder die opskrif Een aangename postumiteit.

G’n wonder nie dat hy al beskryf is as “de man die zijn volk poëzie leerde lezen”.

Twintig jaar na sy oorlye was daar egter nog geen omvattende en gesaghebbende optekening van sy gebeurtegewys kwalik opspraakwekkende, maar literêr-histories en -sistemies besonder belangrike lewe nie. In dié behoefte voorsien Thomas Eyskens met Toen met een lijst van nu errond op onderhoudende wyse.

Eyskens is woonagtig in De Coninck se geboortestad, Mechelen. Sowat 10 jaar gelede het hy daar ’n biografiese rondleiding vir letterkundebelangstellers oor De Coninck se grootwordjare ontwikkel – juis omdat De Coninck volgens hom as ’n outobiografiese skrywer gesien kan word. Van laasgenoemde getuig byvoorbeeld die verssiklus wat De Coninck oor sy familie geskryf het, asook gedigte oor die pedofilie van sy vader, oor die tragiese motorongelukdood van sy eerste vrou en die moeilike verhouding wat hy met sy “preutse, harde schoolmeesterjuffrouw” van ’n moeder gehad het (De Coninck se aangehaalde tipering van haar).

Vandaar Eyskens se titelkeuse vir die biografie oor De Coninck, ’n frase gehaal uit die volgende strofe uit De Coninck se gedig “Foto” (uit sy 1979-bundel Met een klank van hobo):

Weemoed is een foto van voor 20 jaar.

Familie, nog samen, nog gezond.

Is toen. Met een lijst van nu errond.

Het nu houdt het verleden bij elkaar.

Eyskens wou die gegewens wat hy vir dié Mechelse wandeling nagevors het, te boek stel en met foto’s verlewendig. Dít het uitgegroei tot ’n biografie van oor die 500 bladsye.

In die proloog verduidelik Eyskens dat hy derhalwe gekies het om De Coninck sover moontlik self, deur middel van aanhalings uit sy briewe, onderhoude, essays en digbundels, aan die woord te stel, naamlik “als ijkpunten om zijn levensverhaal te vertellen”. Dié primêre bronne is dan aangevul en genuanseer uit onderhoude gevoer met familielede, vriende en skrywerskollegas.

Eyskens bely in die proloog ook die betreklikheid van die beeld wat hy van De Coninck se lewensverhaal kon gee:

              Er zal heel wat ontsnappen, onuitgesproken en onbeschreven blijven. Een biografie schrijven betekent keuzes maken, selecteren, de ene verhaallijn in het licht plaatsen, de andere in de schaduw laten.

Die twee verhaallyne wat sterk in die kollig geplaas word is, in die eerste plek, die ontstaan en groei van De Coninck se joernalistieke en literêre bemoeiinge; daarnaas dié van sy verhoudings met vroue – “want zonder vrouwen kreeg Herman maar moeilijk poëzie uit zijn pen”. In die lewe van De Coninck het dié twee verhaallyne soms in spanning met mekaar verkeer. Aangesien joernalistieke werk De Coninck se dagligtyd grootliks ingesluk het, moes hy veral snags – met heelwat alkoholverbruik ter hopelike begeestering – sy digterskap beoefen. Dit alles het teweeggebring dat hy “niet altijd de echtgenoot of de vader kon zijn naar wie er thuis werd verlangd” (soos Eyskens dit stel).

Soortgelyk aan wat Eyskens doen, toon Daniel Hugo in die inleiding tot Die lenige liefde aan dat die werklikheidsdomeine soos dit in De Coninck se digwerk neerslag vind, grootliks bestaan uit die liefde, die natuur, die dood en die poësie – temas wat intiem vervlegd daarin verwoord staan. Trouens, poësie en “werklikhede” soos die natuur, die liefde en die doodsbelewenis tree heel dikwels as vergelykingsmateriaal vir mekaar op in sy verse. Hugo noem De Coninck derhalwe “die onvergelyklike digter van die vergelyking” en toon aan dat nie minder nie as 18 gedigte in De Coninck se versamelde poësie met die woord “zoals” begin.

In sy gedig “Bas-Oha 5” (uit die 1985-bundel De hectaren van het geheugen) lui dit soos volg oor dié beeldspraakvorm:

              Ach, de troost van een vergelijking,

het helpt bijna. Zodra ik nog maar “zoals”

hoor, wordt alles minder alleen.

Hugo meen dat De Coninck se voorkeur vir die vergelyking deels instrumenteel is in die gewildheid wat sy digkuns bereik het. Dit is ’n veel toegankliker beeldspraakvorm as die metafoor en ander vorme wat op assosiatiewe verbandleggings deur die leser staatmaak. Eyskens noem voorts De Coninck se voorkeur vir die alledaagse werklikheid en vir spreektaligheid (dikwels van elliptiese sinsbouaard) in hierdie verband – sodat die digkuns as ’n “democratische spiegel voor iedereen” kan funksioneer (soos Eyskens vir De Coninck self aanhaal). Voeg hierby die ironies getinte humor wat feitlik deurgaans in De Coninck se skryfwerk opklink. (Hy was glo in die omgang ook ’n bobaasgrapverteller.) Dié geestigheid het onder meer in die benutting van woordspel en verletterliking van idiomatiese uitdrukkings in sy verskuns gestalte gekry.

By die lees van Toen met een lijst van nu errond kom ’n mens onder die indruk van hoe De Coninck digterlik, dit wil sê bewustelik ás digter, geleef het. Hy het as ’t ware voortdurend geweet dat hy eintlik met die skryf van gedigte, en in sy essays en briewe met skryf óór poësie, besig was. Vandaar dat hy byvoorbeeld gereeld met sy digtersvriend Benno Barnard na stil oorde uitgewyk het om te dig – en onmiddellike, gevoelig-eerlike terugvoer daarop te ontvang.

In die skeiding tussen gedig en werklikheid het De Coninck kwalik geglo.

Poëzie 

Een schilderij heeft een lijst nodig,

zoals geluk doodsangst.

Wind bladert in tuin

en ineens slaat een bladzij

zich om. Zoals ik door je haren ga,

en zo anders als ze dan liggen.

Eindelijk is alles hetzelfde.

Kijk eens, zegt geluk, en toont ons het nu.

Het beeft een beetje in zijn hand.

Nog terwyl hy lewend was, was daar duidelike tekens van die aansien wat hy as digter en digkunskenner in die Nederlandstalige wêreld, maar ook wyer (by wyse van vertalings van sy werk) aan ’t verwerf was. Hy het prestigeryke pryse vir sommige van sy bundels ontvang en op ’n aantal prysbeoordelingskomitees gedien; voorts was hy die vestiger van die op popularisering van nuwe digkuns gerigte reeks jaarbloemlesings De 100 beste gedichten van (…).

Nadoods sou die ereposisie wat hy in die Vlaamse en groter Nederlandstalige poësiewêreld beklee, selfs kenbaarder word – soos ook sy gewildheid onder ’n breë kultuurpubliek. Eyskens illustreer dit met talle voorbeelde in die epiloog van sy biografie.

Afrikaanse poësieliefhebbers kan tereg dankbaar voel dat De Coninck se besonder onderhoudende en “demokratiese” digwerk via Daniel Hugo se vertalings ook vir ons toeganklik is. Één illustrasie hiervan ter afsluiting: Die gedig wat, in die groeiend multikulturele Europese grootstadsomgewing, De Coninck se heel bekendste gedig geword het, het ’n sanerende woord te spreek te midde van die identiteitsomstredenhede wat ons hier in Suid-Afrika beleef:

TRAM 11

Tram heen. Tram terug. Heen: jonge Zaïrese
heeft met baby hees geneurie, veel tijd,
intimiteit, elkaar, openbaar
en toch alleen van haar. Tram kijkt ernaar.

Tram terug: Marokkaanse probeert jengelend zoontje,
zootje, zotje stil te krijgen. Hoe meer ze hem door elkaar
schudt, hoe meer letters er uit hem vallen.
Tot Antwerpse volksmadam hem met tatata

tot zichzelf brengt. En tot ons allen.
Tingeling, tingeling door de stad.
Het openbaar vervoer doet aan beschaving,
aan feestelijkheid, aan wanordehandhaving.